BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Dwalings. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Dwalings. Wys alle plasings

Sondag 06 Oktober 2019

SATANSWERK

van die teologiese fakulteite!

Is dit te sterk gestel? Wel, wat anders kan mens die opleiding wat aan ons teologiese fakulteite (waaronder andere) ook NG studente vir die bediening studeer noem?

Ferdie Mulder vertel waar hierdie afval sterk begin stoom optel het, met spesifieke verwysing na die Teologiese Fakulteit van Pretoria. Dis natuurlik 'n proses van agteruitgang wat reeds in die tagtigerjare aan die gang was toe ekself nog daar 'n student was.

Luister self na Ferdie deur HIER te kliek!


Hoekom het dit sover gevorder sodat daar menslik gesproke geen hoop meer is vir die koers wat die Algemene Sinode en fakulteite vir die kerk aanwys nie?

Goeie evangeliese mense het bloot net stilgebly of hoogstens saggies beswaar gemaak...


Ferdie Mulder


Valse lering vernietig die geloof van sommige, maar vir God se kinders is daar Goeie Nuus binne in hierdie situasie!  Kliek op FONDAMENT

Sondag 23 Junie 2019

GOD SORG VIR SY KERK

OOK DEURDAT ONS BUITE DIE “BOKS” BEGELEI WORD! 


Die Here sal sy kerk nooit in die steek laat nie. Dit het ons nou weer opnuut ondervind. Juis nou in ‘n tyd van afvalligheid, dwaalleer, valse teologie en ‘n tekort aan getroue Woordbedienaars. Op Sondagoggend 23 Junie 2019 is twee ouderling broers van die NGK Tsumeb, Andries Gous en Herman Fuls amptelik as gemeentebedienaars (met die reg tot Woord en sakramentsbediening onder die toesig van die kerkraad) deur dr. De Wet Strauss van die Kuratorium van die NGKN bevestig. Dit was ‘n heuglike en historiese geleentheid! Nuwe grense is oorgesteek. Dis leraars wat in die hart van die gemeente gegroei en hulle roeping ontvang het. Hulle het binne 'n gemeentekonteks as dienende ouderlinge hulle opleiding ontvang deur ander persone wat in die praktyk van die bediening staan. Ons beleef hierin iets van die besondere leiding van die Heilige Gees waarvan Jesus self gepraat het in Johannes 16. De Wet het hierdie hoofstuk gebruik om op ‘n onderhoudende manier die Woord aan die woord te laat kom en ook op sy eie vars wyse van dinge doen die hele kerkraad en gemeente te betrek. Die twee broers het op die kansel self hulle legitimasie eed onderteken. Die hele kerkraad was betrokke by die handoplegging. In werklikheid is ons hele kerkverband, die NGKN betrokke, want dis nie iets wat ons in Tsumeb bloot op eie houtjie aangepak het nie. Aan God alleen die eer! 




Andries deel iets van die pad wat die Here deur middel van sy kerk met hom geloop het: 

“In Julie van 2012 verplaas die maatskappy vir wie ek werk my na hulle Tsumeb operasies. 

Ons skakel in by die Tsumeb gemeente van 2013 af nadat my familie ook by my aangesluit. Ds. Johannes de Koning besoek ons aan huis en kort daarna ontvang ons huisbesoek van die ouderling verantwoordelik vir die wyk. 

Roelf van Wyk het as ouderling sommer kom koffie drink en het begin gesels oor die bediening onder die San mense en die Wildevy gemeente. Hy prikkel my belangstelling soveel so dat ek daaraan begin dink om betrokke te raak by die San bediening. 

Op die 13de Julie 2014 tydens die oggenddiens hoor ek dat ds. Johannes de Koning iets vertel van die Tsumeb gemeente se betrokkenheid by die Wildevy gemeente op Tsintsabis en ek besluit dat dit sommer die geleentheid is om met hom te gaan praat, en om betrokke te raak. 

Daardie aand gaan woon ek die eerste keer in Tsumeb die aand Bybelstudie geleentheid by en ek gesels met ds. Johannes oor die San bediening en dadelik nooi hy my om die daaropvolgende Woensdag saam met hom te gaan wanneer hy ’n Bybelstudie geleentheid by die Tsintsabis gemeente gaan lei. Dit raak daarna ‘n gereelde instelling om elke tweede Woensdag saam met hom uit te gaan Tsintsabis toe. 

My betrokkenheid by Tsintsabis het dus begin nadat twee broers my bewus gemaak het van die werk en die Heilige Gees my aangemoedig het om my hand op te steek om betrokke te raak. Soos met alles in die koninkryk moes hierdie twee broers die hout aandra deur te getuig en uit te nooi totdat daar genoeg hout was vir die Heilige Gees om die vuur aan die brand te steek binne-in my. 

In die tussentyd oortuig een van die ouderlinge van Wildevy gemeente by name Karl Ganseb my om saam met hom die Woord te begin bring onder gemeenskappe binne die Wildevy gemeente se bedienings area wat nie bereik word deur ds. Josef Gevers op Tsintsabis nie. 

Die bediening saam met Karl groei oor die volgende paar jaar tot 4 bedieningspunte waar die Woord gebring word aan om en by 100 kinders en 120 volwassenes op ’n gereelde basis. 

Die een ding lei tot die ander en ek word saam met Roelf van Wyk afgevaardig om Tsumeb gemeente by DEGNOS se jaarvergadering te gaan verteenwoordig in 2015. Tydens my betrokkenheid by DEGNOS kom ek al meer onder die besef hoe belangrik die rol van toerusting van gemeenteleiers is. Ek kom al meer onder die indruk dat ons die vermenigvuldigings effek ( 1-2-4-8-16-32-64-128-256....ens) benodig as ons regtig effektief diensbaar in die koninkryk wil wees en dit kan slegs behaal word indien daar genoegsame gelowiges toegerus word om verantwoordelik diensbaar te wees in elke gemeente. Dieselfde beginsel geld binne-in gemeentes, waar dit onmoontlik is vir die predikant om alleen die gemeente te versorg as die res van die gemeente nie betrokke is by die versorging van die liggaam nie. 

Ek kom in hierdie tyd agter dat daar min dinge so gevaarlik is soos om mense los te laat om te preek wat nie goeie lering (toerusting) ontvang het nie. Ek sien immers daagliks saam met Karl wat die impak van verkeerde lering is onder die San mense en watse groot verwarring dit veroorsaak. Die situasie lyk ook nie veel beter onder die mense in my direkte omgewing nie. 

Iewers tydens die baie gesprekke van DEGNOS raak ek bewus dat ons as NG Kerk Namibië met ‘n groot probleem sit in die vorm van gemeentes wat nie meer voltydse professionele predikante kan bekostig nie, asook die gebrek aan Namibiese burgers wat opgelei is as predikante. Verder dra die ouer wordende predikantekorps in Namibië ook by tot ‘n krisis wat net wag om te gebeur. Ook sien ek al meer dat daar so ‘n groot braakland bestaan waar mense nie die Woord hoor nie en nie altyd toegang het tot plekke van aanbidding nie. Niemand kan dit beter stel as on Here Jesus self nie, soos opgeteken in Matteus 9:37: “Die oes is groot, maar die arbeiders is min” 

Die besef sink in dat daar ’n groot nood is vir opgeleide bedienaars van die Woord, nie net in kleiner plattelandse gemeentes nie, maar ook in die bedienings areas rondom gemeentes, die gebiede wat braak lê waar daar geploeg en gesaai moet word. 

Iewers in die gange kom ek te hore van die versoek dat ds. Hendrik van Zyl van DEGNOS moet begin met lidmaatbemagtigingsopleiding in Otavi vir die Otavi gemeente juis as gevolg van die bedienings situasie daar waar nie meer ’n voltydse leraar beskikbaar is nie. Hierdie opleiding is dieselfde opleiding as wat die inheemse predikante van die Wildevy, Tsumkwe en Luhebu-Noord gemeentes ondergaan het. 

Na ‘n gesprek met Hendrik waar hy aandui dat dit goed sal wees as Tsumeb ook inskakel, word die uitnodiging gerig aan die gemeentelede van Tsumeb. 

Op die 11de Februarie 2017 meld ons aan saam met lede van Otavi en Grootfontein aan saam met ons lektore, di. Hendrik van Zyl, Dirk de Vos, Lucas van Vuuren en mev. Jeanette Lubbe, wat ons die volgende 30 maande toerus om meer bruikbare instrumente in die hand van die Here te wees. 

Tesame met die amptelike opleiding is daar ook konstante interaksie met ds. Johannes de Koning wat as mentor aktief betrokke is op ’n informele basis met die slyp van my denke en help met die ontwikkeling van my bedienings vaardighede en die groei van my eie teologiese begrip. 

Ons doen onder die vaandel van DEGNOS die Gemeentebou, Prediking en Pastorale sorg programme wat deur DEGNOS ontwikkel is in samewerking met die Departement van Kontekstuele Teologie van die Universiteit van Pretoria, sowel as die Veritas College se vier fondasie modules wat soos volg opgedeel is: Module 1 Uitleg en Vermaning : Paulus se briewe, Module 2 Narratiewe literatuur – Pentateug en Ou-Testamentiese Geskiedkundige boeke, Module 3 Poësie, Wysheidsliteratuur en profete en Module 4 Die Sinoptiese evangelies, Johannes, Handelinge en Openbaring. 

Die klaskamer opleiding was baie belangrik maar sonder die mentorskap van die vier dosente(Hendrik, Dirk, Lucas en Jeanette) en Johannes sou dit nie moontlik gewees het om ’n goed toegeruste bedienaar van die Woord te word nie. Hulle bydra tot my groei en ontwikkeling was van onskatbare waarde en ek dank die Here vir hulle betrokkenheid in my lewe. 

Hierdie is die begin van ’n opwindende en baie interessante nuwe veld in die bedienings beursie van die NG Kerk en dit is met groot opgewondenheid dat ons uitsien na die pad vorentoe.” 

Ons ander ouderling bedienaar, Herman Fuls beskryf sy pad so: 

“Ek het op 'n stadium in my lewe baie ver van die Here afgedwaal. Dit was grotendeels omdat ek nie betrokke was by 'n groep gelowiges / kerk van die Here nie. Die Here was my baie genadig en het my kom red uit 'n diep verlorenheid. Ek het op 'n harde manier uitgevind wat die waarde van kerkwees is en wat die implikasies is as mens nie deel raak van Christus se 'liggaam' hier op aarde nie. Dis inderdaad net baie gevaarlik om 'n 'randfiguur' te wees en nie voluit betrokke te wees en te leef vir Christus nie. God het my geplaas in 'n klein, wonderlike dorpie - Rosh Pinah. Daar het ek die stryd beleef van 'n gemeente wat geworstel het om 'n voltydse leraar te beroep en te kan bekostig. Vir jare het die NG Kerk Lüderitz (bestaande uit Lüderitz, Rosh Pinah en Aus) deur fases gegaan waar daar een maal 'n maand 'n leraar was wat die Woord kon verkondig en vir lang tye (soms ‘n jaar of twee) waartydens daar glad nie 'n leraar was nie. Die gemeente was aangewese op die kerkraad en gelowiges om eredienste te lei en na gelowiges om te sien. Daar het ek bewus geraak van my eie tekorte (en van gelowiges in die algemeen) om in sulke omstandighede te kan volhard. (Christus was goed en het in daardie moeilike omstandighede die gemeente versorg). Die Here het my en my gesin gelei na Tsumeb. Ons het ons pas in Tsumeb gevestig toe die geleentheid opduik om opleiding te ontvang wat ek met beide hande aangegryp het. Alle lof aan ons Skepper! Ek stap nog 'n pad saam met God om te sien en hoor waar en hoe Hy my wil gebruik vir Sy werk hier. Ek besef vandag dat daar baie gemeentes en gelowiges in Namibië is onder dieselfde omstandighede. Hierdie is 'n geleentheid om ons kerkrade op te lei en toe te rus vir diens aan Christus. Ek nooi ander gelowiges en kerkraadslede uit, wat die roepstem van God gehoor het, om verder toegerus te word vir diens in Sy Koninkryk en na God se kudde om te sien.” 

Die Here Jesus het beloof dat die Gees ons sal lei. Inderdaad het ons hier op Tsumeb sy leiding in hierdie tyd op besondere manier ervaar en ons sien nederig, dankbaar en afhanklik uit na die pad verder wat Hy met ons gaan stap!  Ja, ons weet ons moet nog so baie leer. Daar is soveel dinge waarmee ons sukkel. En tog, wat ‘n voorreg om deel te wees van die liggaam van Jesus! Mag God ons almal maar in besonder hierdie broers bewaar van die Bose sodat daar groot vrug op hulle arbeid mag wees tot eer van God!


De Wet Strauss, Andries Gous, Herman Fuls, Johannes de Koning (Foto's -  Ida Irvine)

Dinsdag 16 Oktober 2018

TAFELBERG GEMEENTE

SAL NÍÉ DIE KNIE VOOR BAÄL BUIG NIE! 

AL KOS DIT BLOED & TRANE! 

Post-moderne liberalistiese godsdiensfilosowe is doelgerig besig om die ware geloof in die NG Kerk - geskoei op die Skrif as onfeilbare Woord van God en die Drie Formuliere van Eenheid - af te breek en talle niksvermoedende lidmate besef nie hoe hulle geliefde kerk onder hulle neuse op sleeptou geneem word nie - die afgrond in. 'n Afgrond waar die Heilige Skrif afgegradeer word tot 'n feilbare menslike boek vol foute en teenstrydighede. 'n Boek van menslike woorde oor God. ‘n Boek van “belangrike antieke dokumente”. En nie meer God se onfeilbare openbaring aan die mens nie. Nou word diegene wat die historiese Christelike Geloof omhels en die Skrif - op voetspoor van Nederlandse Geloofsbelydenis Artt 3-7 - as God se Woord bely, as “fundamentaliste” en “godsdiensregses” afgemaak. Geen kerk kan op hierdie glybaan voortgaan en steeds ware kerk van Christus wees nie. 

MAAR TAFELBERG GEMEENTE SAL NÍÉ BUIG NIE ! 


Dr Chris Saayman - leraar












[Bostaande brief is aan die Kerkbode gestuur en word geplaas met toestemming van dr. Saayman. Mag die Here dr. Saayman sy kerkraad begenadig om aan te hou stry vir die waarheid van die evangelie! Diegene wat in die Kaap woon kan hulle gerus kontak en bemoedig!]

Maandag 25 Junie 2018

THE SHACK

- beslis 'n tranetrekker, maar gaan dit my nader na die waarheid trek?

Die blitsverkoperboek se boodskap doen nou weer die rondte nadat dit as ‘n film in 2017 uitgereik is. Baie mense getuig van ‘n positiewe impak op hulle lewens... 

Geskryf deur William P. Young, wat op die sendingveld grootgeword het, is die boek en film (geredigeer deur Stuart Hazeldine) waarskynlik ‘n eerlike poging om antwoorde te probeer gee oor die vraag na “onregverdige lyding” in hierdie gebroke wêreld van ons. “Waar is God in ‘n wêreld van onbeskryflike pyn?” Die verhaalvorm waarin die boek geskryf word is maar net die voertuig om teologie op ‘n verstaanbare manier aan die gewone man oor te dra. Die bedoeling van die boek en film is dus teologie en nie fiksie nie. Die kwessie is dus nie of dit ‘n oulike storie is nie. Hierdie werk moet teologies beoordeel word in die lig van die Skrif. 

Die vraag voor ons is of The Shack, Bybelse teologie of menslike spekulasie en verdraaiing is? 

Young se argumente in die bespreking van lyding word min of meer soos volg deur die uiters bekwame evangeliese teoloog en kerkplanter van New York, Tim Keller opgesom : 

Die ellende in die wêreld is die gevolg van die mens se misbruik van sy vrye wil. God het nie die kwaad gekeer nie sodat Hy ‘n groter en heerliker doel kan bereik, ‘n doel wat vir ons menslike verstand onverstaanbaar is. As mens verbitterd bly teenoor God weens ‘n bepaalde tragedie, dan plaas ons onsself in die plek van die Regter van die aarde. Dis ‘n taak waarvoor ons as nietige mense uiteraard nie opgewasse is nie! Daarom moet ons liewers ‘n ewige perspektief probeer kry waarin ons God se mense vol vreugde in sy heerlike teenwoordigheid sien. Dis wat met Mack die bedroefde vader van die vermoorde dogtertjie, Missy gebeur, as hy sy oorlede dogtertjie sien in die vreugdevolle teenwoordigheid van Jesus. So word sy hartseer genees. Hierdie is alles basiese waarhede van standaard pastorale teologie, alhoewel daar dalk te veel gemaak word van die vrye wil begrip. Tog soos Keller dan verder uitwys is daar ernstige vrae en probleme rondom hierdie storie van Young... 

Wat regtig pla is dat daar deurgaans in Young se verhaal elemente* is wat basiese Bybelse waarhede oor God ondermyn. 

Die God van die Bybel vind jy nie in die Shack nie! 

Die god van die Shack en die Drie-enige God van die Bybel kan moeilik met mekaar versoen word. In Young se storie word God die Vader deur ‘n Afro-Amerikaanse vrou, Papa uitgebeeld, Jesus bly (meer realisties) Jesus, ‘n Midde Oosterse skrynwerker en die Heilige Gees is ‘n Asiatiese vrou, Sarayu. Dis om die minste te sê, ‘n vreemde en selfs bisarre uitbeelding van die Drie-eenheid! Waarskynlik is dit Young se manier om te sê dat ons moet pasop om nie vooropgestelde idees oor God te koester nie. Mens sou net wou vra, wat het geword van die tweede gebod? Verbied dit nie juis alle spekulasie en selfgemaakte uitbeeldings van God nie? Moet ons nie maar eerder by die Skrif bly nie?

Te min Skrif en te veel filosofiese spekulasie! 

Die Bybel vertel vir ons immers duidelik genoeg wie God is en hoe Hy “lyk.” Jesus Christus, die vleesgeworde Woord is die beeld van die onsienlike God, die God wat Gees is! Jesus vertoon die heerlikheid van God aan ons, ‘n heerlikheid wat vol genade en waarheid is! (Johannes 1:1,14; Johannes 14:9,10; Kolossense 1:15-20) 

Om maar net een aspek van Young se uitbeelding van God te noem wat krap. Dis opvallend en steurend dat God die Vader uitgebeeld word as ‘n vrou. Ja, ek weet, inderdaad word daar by verskeie geleenthede in die Skrif moederlike en sagte eienskappe aan God toegedig, maar deurgaans in Sy amptelike titels gebruik God manlike titels : vader en nie moeder nie, koning en nie koningin nie!**  Jesus praat met sy Vader in die Hemel, nie met sy Moeder in die hemel nie! Die misleiding oor God gaan egter veel meer as oor ‘n metafoor wat vir sommige aan Godslastering mag grens. 

Die Shack swyg oor Goddelike toorn en straf. 

Die basiese Bybelse waarhede rondom sonde en verlossing is in gedrang en dit lei weereens tot ‘n skeeftrekking van God se karakter. So is die boodskap van die profete duidelik dat God sonde haat en straf, maar in The Shack word die indruk geskep dat sonde God glad nie meer pla nie! Dit blyk ook dat Young die totale verdorwenheid van die mens ontken en die skeiding wat sonde tussen God en mens veroorsaak ignoreer. 

"Papa" sê in die verhaal : “I am not who you think I am Mackenzie. I don’t need to punish people for sin. Sin is its own punishment, devouring from the inside. It is not my purpose to punish; it is my joy to cure it.” Dit terwyl die hele Bybel daarvan vol is dat God sonde straf! Wat dan van die sondvloed, die vernietiging van Sodom en Gomorra, die verwoesting van Jerusalem en die ballingskap, wonder mens? En vir diegene wat verder wonder, dis nie net in die Ou Testament dat God se toorn teenoor sondaars ontbrand nie! 

Ja, die Nuwe Testament leer nog steeds dat God sonde haat en dat elkeen wat die offer van Jesus verwerp die ewige straf tegemoet gaan. Van offer gepraat, dis juis as dit by die betekenis van die kruis kom dat die valse teologie van Young die duidelikste ontbloot word! In Young se onlangse boek, “Lies we believe about God” raak Hy skokkende bewerings kwyt oor die kruis. As God die oorsprong is van die kruis is, is Hy volgens Young ‘n “cosmic abuser” wat “cruel and monstrous” is! Mens sou wou vra, wat maak Young met die Bybelse gegewens oor God se beskikking van die kruis soos in Jesaja 53:10 en Handelinge 2:23.*** 

Die Shack is 'n aantasting van die kruisboodskap!

In ag genome Young se verdraaide beeld van God se heiligheid en die noodsaak van ‘n kruisoffer is dit ook te verstane dat The Shack se boodskap grens aan die leer van die universalisme, die teorie dat alle mense uiteindelik gered sal word. Natuurlik het die universalisme baie variasies. Young noem homself ‘n “hopeful universalist” en glo dat God sy Seun vir elke enkele sondaar gestuur het en dat die oordeel daarop sal uitloop dat elke sondaar Christus sal aanvaar en so met God versoen word. In “Lies we believe about God” is Young egter baie meer eksplisiet en gevaarlik as hy openlik verklaar: “Are you suggesting that everyone is saved? That you believe in universal salvation? That is exactly what I am saying!” En nog verder die skokkende kettery : “Every human being you meet . . . is a child of God” Dis nie hoe die Bybel oor kindskap van God praat nie!

Deur menslike verdorwenheid, sonde en skuld te herdefinieer word ‘n valse evangelie omhels wat dalk baie gewild gaan wees in ons dag, maar wat nie meer die krag van God is tot redding vir elkeen wat glo nie! 

The Shack, hoe goed ook al bedoel is nie waarheidsteologie nie! Ons gaan nie antwoorde kry vir ons vrae deur aan God se karakter en wese te torring nie! Ons kry die antwoorde in die Skrif!**** Ons gaan nie genesing vir ons sonde en pyn vind deur fiksie verhale nie. Die Woord is duidelik, ons almal word uitgenooi na die evangelie, God se oplossing vir die sonde en lyding van die wêreld, die kruisevangelie. Hierdie oplossing vereis geloof en lei tot bekering. Wie hierdie “groot verlossing” verwerp bly sonder hoop en sal nie die wraak van God kan ontvlug nie! (Hebreërs 2:3) 

Wie God wil ontmoet moet maar liefs wegbly van Young se kasarmte en gaan skuiling soek by die kruis! Daar kom God se liefde vir die mens en sy toorn oor sonde bymekaar. Dis waar die onbegryplike groot liefde van God vir sondaars aan ons bekend word en vrede, vergifnis en vreugde ons harte vervul! 

Die Shack is dalk gewild, maar dis gevaarlik! Dis in my opinie maar net nog ‘n voorbeeld van die sogenaamde Progressiewe Christendom wat eintlik maar 'n terugkeer na ou en gevaarlike dwalings is!

*Die bedoeling van hierdie kort kritiek op The Shack is nie om alle moontlike dwalinge hierin uit te wys nie. Daar is vele en baie ander teoloë het dit reeds elders aangespreek. 

**Hierdie dwaling om God te probeer “vervroulik” of skimpe in daardie rigting te maak, het lankal reeds ook in ons eie teologiese opleiding begin kop uitsteek. Prof. Johan Heyns het al tydens ons studiejare gesê dat God Homself as Moeder kon openbaar het en sy enigste dogter na die wêreld kon gestuur het. Natuurlik God kan enigiets doen. Die punt is, Hy het nie! Hy het Homself as Vader openbaar en Sy enigste Seun gestuur. In die teologie en lewenspraktyk moet ons ons met die Woord besig hou en nie met spekulasie nie! 

*** Jesaja 53:10 “Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy ‘n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.” 

Handelinge 2:23 “God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.”

**** Moet jy dus gaan kyk? Goeie raad van David Mathis:
"We do not need a wilderness shack to hear from God. He gave us his word, through his appointed prophets and apostles in the Great Book, and he gave us the Spirit to illumine and apply our hearing. In short, the voices in your head are not God; they are you. If you want to hear God audibly, then read the Bible out loud." Ek sou hiermee graag wou saamstem!


Saterdag 14 Oktober 2017

ISRAELVISIE EN DIE GEMEENTES VAN DIE VERBONDSVOLK

- ‘n sameflansing van verbeelding, onkunde en dwaling.

Hulle is/was onder verskeie name bekend soos Die Ekklesia-Evangeliegroep, Gemeentes van die Verbondsvolk,  Orde van die Verbondsvolk, Karmelbediening en wie weet wat nog. ‘n Mens voel eintlik verleë om op die onsinnighede wat hulle kwytraak te reageer, aangesien daar dan ‘n mate van legitimiteit aan die groep(e) verleen word en die Bybel ons duidelik waarsku om nie ‘n dwaas na sy sotheid te antwoord nie!

[Wat sê Jesus oor die Torah?  Kliek op Yashua en die Torah]

Tog is dit dalk nodig om iets oor hierdie groep en hulle afgryslike dwalings te sê. Ekself kom al ‘n lang pad “saam” met hulle. Reeds in my kinderdae was een van die boeke van pastoor FWC Neser wat oor die sogenaamde verlore tien stamme van Israel handel al in Windhoek bekend waar dit toe al verwarring by Christene veroorsaak was. Dit was so ‘n rooi boek as ek reg onthou... Later as student het ek ‘n kamer in die Jeugtuiste in Pretoria gedeel met ‘n familielid van ds. Gert Steenkamp wat een van die groot voorbokke van die beweging was. Ons het soos dit studente betaam, lang gesprekke gevoer... En dis juis hier op Tsumeb, waar ek tans die voorreg het om die Woord te bedien, waar die einste ds. Steenkamp vir ‘n tyd leraar in die NG Kerk was voordat hy by hierdie vreemde leringe betrokke geraak en na Kuruman verhuis het. Tsumeb het dalk dus ‘n ereplig om te help om kosbare broers en susters wat mislei is weer vriendelik terug te roep en ander wat na hierdie dwalinge begin luister, baie ernstig te waarsku.

Hierdie Israel groepe toon geweldig baie ooreenkomste met ander gevaarlike sektes soos die Sewendedaagse Adventiste, die Jehova getuies en veral die Hebrew Roots Movement.* Oor laasgenoemde het ek reeds breedvoerig geskryf en onder andere die naamkwessie en die voedsel debat aangeraak. (Kliek op HRM en Maankykers) As jy meer oor die sabbatkwessie wil weet, kliek op SABBAT.

Wat is dan eiesoortig aan die Israelvisie?** Hulle glo dat die blanke volkere van die wêreld die verlore tien stamme van Israel is. Dit sluit dan veral ook die blanke Afrikanervolk in. Die wortels van hierdie denke kom van ‘n beweging bekend as British Israelism en is geïnspireer deur Engelse geskrifte van die 19 de eeu waaronder John Wilson se Our Israelitish Origin (1840). Ten spyte daarvan dat daar geen argeologiese, etnologiese, genetiese en linguistiese wetenskaplike gronde is vir hulle basiese vertrekpunte nie, volhard hulle in hulle dwalinge. Die vraag is nou, hoekom? En die antwoord is eenvoudig. Hierdie denkwyse pas goed in by baie Afrikaners se diepste rasse gevoelens veral in die huidige omstandighede in Suider Afrika waar baie van ons volksgenote tans bedreig en verontreg voel. 

Volgens hierdie bewegings is die Adamiete (nageslag van Adam) slegs blankes (Kaukasiërs). Slegs blankes kan volgens hulle dus toegang tot die koninkryk van God verkry. Hulle is baie gou om vir jou te vertel dat al die nasies waarvan Openbaring praat, slegs blanke nasies is! 'n Mens wonder of hierdie mense regtig kan lees? Openbaring 5:9 kan dit tog nie duideliker stel nie! "Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,"  Wat beteken ELKE dan? Hierdie dwaalleraars is so vasgevang in hulle blanke meerderwaardigheidsgvoelens dat die duidelik boodskap van die Skrif maar net gesystap word as dit nie by hulle denke pas nie.*** So is dit vir hulle ongemaklik om te erken dat God reeds in die Ou Testament ook alreeds heidene buite Israel begenadig en in die verbondsvolk opgeneem het. Dink aan Ragab en Rut. Wees maar seker vir hierdie voorbeelde sal hulle wel ook hulle gefabriseerde teenargumente gereed hê!

Blank wees is vir hulle die deursslaggewende saak. Die ander volkere is vir hulle sogenaamde "boknasies" en die sendingopdrag van Jesus geld nie vir hulle nie!**** Net hier sal elke kind van God alreeds die gevaarligte sien aangaan. Die basiese boodskap van die Bybel is dat sondaars uit genade op grond van Christus se verdienste aan die kruis gered word en nie vanweë etniese afkoms nie. Fisiese geboorte is nie die bepalende faktor vir my saligheid nie, maar wedergeboorte! (Johannes 3) En nou wonder ek sommer net waar pas mense met (effens) gemengde bloed in, diegene wat wel as blankes deurgaan, maar wie se voorgeslagte nie heeltemal so suiwer geleef het nie...?

Dis baie moeilik en eintlik nutteloos om met hierdie mense op ‘n nugtere manier te probeer redeneer, aangesien basiese taalkundige en teologiese insig grootliks by hulle ontbreek. Hulle gebruik ‘n tipe van op-die-klankaf teologie en taalkunde. Byvoorbeeld : Hulle beweer dat die woord British afgelei is van die Hebreeuse woorde “berit” (verbond) en “ish” (man). Dan word beweer dat al die lede van die verbondsras, al die nasies wat afstam van Israel, gevind word onder die “Berith-ish” of te wel “British”. (Dis natuurlik nou uitgebrei tot alle blanke volke) Verder word gesê dat die Angele, die Saksers en die Kelte, wat die basiese samestelling van die nasie van die Britse eilande vorm, die direkte afstamming van Israel is, deur wie God beloof het dat Hy sy koninkryk op aarde sou vestig.

En as jy wonder, wel hier is die “bewys” - die Engelse woord vir Saksers is “Saxon” en hierdie woord is ‘n verbastering van die begrip “Isaac-sons”. Dus begryplik dat mens met sulke skyn redenasies letterlik enigiets kan bewys. So sou ek kon bewys dat die eerste kar op Karasburg vervaardig is en dat mal mense van Maltahöhe afkomstig is!

Hulle lukrake en bedenklike Skrifgebruik (eintlik misbruik) skreeu ten hemele. Volgens (ten minste sommige van) hulle is swart mense net diere. Hoe kom hulle by so ‘n drogredenasie uit? Hulle sal byvoorbeeld na ‘n teks soos Esegiël 36:32 verwys: “Skaam julle en bloos oor julle weë, o huis van Israel”. Dan word daar soos volg geredeneer: Israel was en is mense wat kan bloos, met ‘n blanke vel en blosende rooi wange en lippe. Dan word ‘n skrikwekkende gevolgtrekking gemaak: “Israel van die Bybel was blankes net soos u en ek terwyl die kinders van die Bose, die krom en verdraaide geslag, anderskleuriges was”. Daar is nog baie ander voorbeelde van uiters belaglike eksegese, wat maar liewer hier verswyg moet word... Hierdie mense se Bybelkennis is uiters gebrekkig, maar hulle beïndruk die eenvoudiges met lang aanhalings uit veral Strongs wat baie indrukwekkend klink en lyk vir mense wat nie taalkundig geskoold is nie.

Hierdie wit teologie en rou rassisme van die Israelbeweging is ‘n ernstige dwaling wat mense wegvoer buite die histories Christelike kerk van alle eeue! (net soos die sogenaamde Swart Teologie van die Marxistiese bevrydingsbewegings) Dit skreeu ook teen die kerk se sendingwerk van twee duisend jaar! Hoe kan mens so blind wees? Wat weet hulle van die menigtes gekleurde Christene wat deur die loop van die eeue hulle getuienis van hulle geloof in ons Here Jesus met hulle bloed verseël het? Erger nog dit is ‘n ontkenning van die Nuwe Verbond en die evangelie self! Dit kom neer op ‘n minagting van Jesus ons Verlosser!

*Hulle geskrifte wemel dan ook van wolhaarstories en verdagmakery. Een so 'n bewering lui dat Calvyn se van eintlik Cohen was en dus is hy eintlik net ’n Jood wat die blankes vir eeue deur sy Institusie mislei het. 

**Hulle gebruik gewoonlik nie hierdie naam vir hulle self nie.


***Prof Malan het hierdie dwaling ook sterk aangevat :

Die volgende teks verskaf aan die Israelvisie groot hoofbrekens omdat dit hulle dogma ondubbelsinnig  weerlê:

“Die Edomiet moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want hy is jou broer; die Egiptenaar moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want jy was ‘n vreemdeling in sy land. Kinders wat vir hulle in die derde geslag gebore word, mag in die vergadering van die HERE kom” (Deut. 23:7-8).

Ds. Steenkamp voel verplig om hierdie gedeelte as verkeerd te beskou en gevolglik te verwerp:

“Die onmoontlike van die bestaande teks is dat dit bots met die res van die Skrif. Jahweh is onveranderlik, konsekwent. Hy sal nie die een oomblik dít sê en die volgende oomblik iets anders bedoel nie. Die Egiptenare was vyande, en uit dié slawehuis is Israel uitgelei. Die Edomiete word genoem ‘n volk op wie God vertoorn is tot in ewigheid (Mal. 1:1-4). Ek sou ook graag wou weet hoe en waar die derde geslag bepaal kon word in die praktyk van die lewe. En as die derde geslag dan kon inkom, waarom dan nie die tweede of die eerste nie? Nee, dié teksgedeelte het geen sin nie. Moses het die Egiptenare ook nie as sy naaste behandel nie (Ex. 2:12-13). Ons het hier met ‘n foutiewe teks te doen.”   (Soos aangehaal deur Prof. Johan Malan)

**** Dit lees mens in 'n sekere PJJ van Rensburg van die Orde van die Verbondsvolk se geskrif.  In hierdie uiters rasbehepte geskrif gee hy onder andere erkenning aan Neser en Steenkamp.




[ 'n Stukkie geskiedenis: Dominee Gert Steenkamp was van 1969 tot 1973 in die bediening op Tsumeb.]

Vir meer duidelikheid en Skrifuitleg kliek op HONDE

Donderdag 21 April 2016

HIERMAALS én HIERNAMAALS

Ja, daar is inderdaad ook ‘n hiernamaals, want God is almagtig en Sy Woord is waar!

Mense spot deesdae baie graag met die hiernamaals, dis amper asof sommige ‘n lewe anderkant die graf minag. “Ag, glo jy regtig in ‘n pie in the sky when you die?”, koggel hulle. By ander mense hoor mens amper ‘n fatalistiese houding :"Jong, ons moet maar net nou vir mekaar goed wees, laat ons maar nou ‘n dop saam drink, daar is nie ‘n eendag nie, daar is nie ‘n ewigheid nie! Kyk maar wat jy uit die lewe kan kry en vergeet van ‘n lewe na die dood.” En asof hulle nie genoeg doppe gedrink het nie, word gestorwe vriende en voormalige drinkebroers se lewe soms herdenk met ‘n harde kuier in ‘n kroeg... Dis die tipe van houding waarna Paulus verwys : “Laat ons eet en drink, want môre sterf ons!” 



Natuurlik is dit inderdaad ‘n Bybelse boodskap dat hierdie lewe belangrik is, dat ons nou ten volle moet leef, dat ons nou moet liefde bewys, nou iets moet doen aan armes en hongeriges... Goeie werke is immers iets wat nou op hierdie aarde gedoen moet word! Maar ons moet nooit vergeet dat die heerlike opstanding uit die dood nog altyd deel was van die kern van die Christelike boodskap van hoop nie. As jy die opstanding wegvat, vat jy die hart van die evangelie weg en bly daar niks evangelie oor nie! Hieroor is die apostel baie duidelik : “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.” (1 Kor. 15:19) Die Bybelse boodskap (in teenstelling met wat Joel Osteen leer) maak dit duidelik, die BESTE is nie nou nie (al ontvang ons nou reeds baie seën) dit kom nog!

‘n Spottery met die hiernamaals en met die opstanding is eintlik ‘n aanval op die almag van God en die evangelie van Jesus Christus. 

UITGEBOUL?

Sulke aanvalle is ook niks nuuts nie. Dis presies wat die Sadduseërs doen in Markus 12:18-27. Die Sadduseërs was destyds een van die twee hoof Joodse groeperinge (die ander groep was die Fariseërs). Hulle het net die eerste vyf boeke van Moses as bron van gesag erken en volgens hulle het daar niks gestaan van ‘n opstanding nie en het hulle nie aan ‘n opstanding en ook nie aan engele geglo nie. (Hand 23:6-8) Die Sadduseërs kom nou met ‘n strikvraag na Jesus toe en dink hulle gaan hom uitboul en in die verleentheid stel. Die agtergrond van hulle vraag is die Mosaïese bepaling oor die leviraatshuwelik. (swaershuwelik) Dit was ‘n wet wat voorsiening gemaak het dat ‘n man ‘n verantwoordelikheid het as sy broer kinderloos sou sterwe om met die gestorwe broer se vrou te trou en so ‘n nageslag vir die broer te verseker. (Deut 25:5) Nou gebruik die vraagstellers hierdie wet in ‘n hipotetiese verhaal van ‘n vrou wie se man kinderloos gesterf het, die proses het homself herhaal en so was sy uiteindelik met sewe broers getroud. Nou in die tyd van die opstanding, in die hiernamaals, wie se vrou gaan sy nou wees? Dis die dilemma wat hulle voorhou. So probeer die Sadduseërs die waarheid van die opstanding belaglik maak. Gaan sy dan nou dalk sewe mans gelyk moet hê is die implikasie van hulle vraag? Mense kan vandag nog allerhande hipotetiese probleme uitdink om die opstanding en die lewe hierna te probeer belaglik en onmoontlik voorstel. Wat van iemand wat as baba gesterf het, sal hy in die opstanding ook ‘n baba wees en vir altyd ‘n baba bly? Wat as ‘n haai jou opgeëet het, hoe gaan jou liggaam weer bymekaargevoeg word?

Jesus reageer baie skerp en duidelik. “Julle dwaal! En die rede hoekom julle dwaal is tweeledig : Julle ken nie die Bybel nie en julle ken ook nie die krag van God nie!”

Dan lyk dit of Jesus eers iets sê oor God se krag. God se krag en sy werkinge is nie aan ons aardse begrip gebonde nie. Ons moet dit nie probeer beperk met ons aardse verstaan nie. Die huwelik is ‘n tydelike aardse instelling en gaan nie ewig voortbestaan of ‘n funksie hê nie. (Terloops, dis dalk ‘n groot troos vir die wat baie swaarkry in die huwelikJ of aan die anderkant, dis ook ‘n troos vir diegene wat om een of ander rede nooit ‘n huweliksmaat kon vind nie, hulle gaan nie vir ewig iets misloop nie!) In die opstanding gaan ons soos engele wees wat nie trou nie, maar dit sal niks van ons volheid en vreugde wegneem nie. Die doel en funksie van die aardse huwelik (hoe kosbaar nou ook al) gaan uitgedien wees! Omdat God se almag onbeperk is, gaan die opstandingslewe ook groter en heerliker wees as wat ons onsself ooit kan indink.*

SKOON GEBOUL MET GOD SE HEERLIKE  VERBONDSGETROUHEID!!

En dan val Jesus die Sadduseërs voluit aan uit die Skrif. Opvallend, Hy kies juis ‘n gedeelte uit die Pentateug wat hulle beweer om te glo. En bewys hulle daaruit verkeerd. Jesus haal aan uit Eksodus 3:6 waar God Homself aan Moses bekend maak as “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abram,die God van Isak, die God van Jakob.” God sê daardeur omdat Hy die God van hulle voorvaders is, Hy nog steeds vir Moses en die Israeliete sal lei en beskerm soos Hy hulle gelei en beskerm het. Dit gaan dus oor God se verbondsgetrouheid. Jesus impliseer dat as Gód getrou is, die dood nie die laaste sê kan hê nie. God se verbondsgetrouheid is sterker as selfs die dood en daarom is daar beslis iets soos ‘n opstanding. God IS hulle God, nog steeds en dit impliseer dat hulle leef in sy teenwoordigheid. Nou is dit Jesus wat die Sadduseërs skoonboul, hulle middelpen spat en hulle kan Hom nie antwoord nie. 

Ons het natuurlik nog minder verskoning om die opstanding te betwyfel as die Sadduseërs. (Inderdaad praat die Ou Testament nie so duidelik daaroor soos die Nuwe Testament nie.) Maar intussen het Jesus self uit die dood opgestaan, liggaamlik! Dit het alles onteenseglik en onbetwisbaar duidelik gemaak! Die dood is finaal oorwin en daar sal ‘n opstanding wees. (Kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE)

Geliefdes, daar is ‘n opstanding om na uit te sien, daar is ‘n heerlike hiernamaals om te verwag wat sal aanbreek vir God se kinders. 

Ons glo dit omdat die Bybel so sê, ons glo dit omdat God se skeppings en herskeppingskrag onbeperk is. Hier is ook ‘n dieper stuk raad: Hoe word ons bewaar van dwaling? Leer ken die Skrifte (die Bybel), Leer ken God se krag! As jy na Jesus kom en voor Hom as jou Verlosser buig sal jy sy Goddelike krag eerstehands, proefondervindelik ervaar! God se kinders word immers verseker dat dieselfde krag waardeur Jesus uit die dood opgewek is, in ons werksaam is! (Ef 1:18-20)

Vir 'n merkwaardige getuienis oor 'n nadoodse ervaring lees, die verhaal van ds. de Kock. Kliek op GRENSE VAN DIE EWIGHEID

*Die idee van Moslem jihadi’s wat as martelare sterf dat hulle in die hiernamaals met die geselskap van maagde beloon sal word, wys net weereens dat Islam ‘n mensuitgedinkte mengelgodsdiens is wat niks begryp van God se almagtige heerlikheid nie.

Vrydag 06 Maart 2015

BLY BY DIE BYBEL

- en hou koers in moeilike tye!


Ons almal het al moeilike of swaar tye beleef. Ons beleef nou weer ‘n moeilike tyd met ‘n groot droogte. (kliek op DROOGTE) Natuurlik het elkeen sy eie idee wat moeilike tye behels... As daar finansiële druk is, as daar spanning by die werk is, vir sommige as dit eksamen tyd is, of as die meisie in wie jy belangstel, nie in jou belangstel nie... Paulus skryf ‘n brief aan die jongman Timoteus. Hy waarsku hom teen swaar tye, moeilike tye... Waaroor het hierdie moeilike tye gegaan? Wat was so swaar en sleg? Ons lees daarvan in 2 Timoteus 3:1ev “Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie;hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God. Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.” (2 Timoteus 3:1-5)

Dit kom daarop neer, mense sal al meer goddeloos en vals wees! ‘n Totaal verkeerde waardesisteem wat eerder op genot as God fokus! Mense sal nog lyk en praat soos Christene (deel wees van die kerk), maar daar sal geen krag in hulle lewens wees nie. Geen krag om heilig te lewe en sonde te oorwin nie.

Hierdie moeilike tye sal gevaarlik wees vir God se kinders. Hoekom?

Dis ‘n tyd van vervolging. “Watter vervolging moes ek nie alles verduur nie! Maar die Here het my uit almal gered. Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word.” (11,12)

Dis ‘n tyd van valse lering, misleiding en afdwaling. “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle mislei ander en word self mislei.” (13) Ander mense sal self die pad byster raak maar ook ons probeer wegtrek van God se pad af en vir ons valse dinge in ons koppe inprent.(Kliek op ABEL)

Die moeilike tye beteken dat ons die gevaar loop om die hemelse prys mis te loop. Dit dreig om ons geestelik te laat verdwaal en koers te laat verloor. 

Nou gee Paulus praktiese raad aan Timoteus (en aan ons) hoe om seker te maak dat ons nie koers sal verloor nie. Advies oor hoe om veilig ons hemelse bestemming te bereik. Hy sê vir Timoteus, jy moet hou by wat jy geleer het, want jy weet mos by wie jy dit geleer het! Maar dan gaan Paulus verder. En sy groot raad is : Bly by die Bybel, wat jy al van kleins af ken! (Terloops ouers, hier is vir julle ‘n belangrike boodskap... Die fondasie van verlossing word reeds van jongs af gelê by jou kinders. Gereelde huisgodsdiens! Wee, die arme kinders wat dit moet ontbeer...)

Kom ons kyk vinnig na 2 Timoteus 3:14-17.

“Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.
Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”

Hoekom is die Bybel so belangrik? 

Opsommend kan ons sê : Die Bybel gee vir ons die regte kennis/inligting, sodat ons in Jesus kan glo, sodat ons gered kan word. Die Bybel vertel van Jesus en net Hy kan ons verlos. Belangrik, die Bybel self red ons nie, maar vertel ons hoe ons deur Jesus gered kan word. (‘n Bybel op jou bedkassie gaan jou dus nie in die hemel bring nie.) Die groot punt wat Paulus maak is dat ons maar die Bybel kan glo, want dis deur God geïnspireer. God self het deur sy Gees in die harte van die Bybelskrywers gewerk sodat hulle vir ons die ware en suiwere boodskap oor Jesus kon neerskryf.* Hy onderstreep die kosbaarheid, belangrikheid en onmisbaarheid van die Woord – om dit te ken en natuurlik te gehoorsaam.

PRAKTIES

Dan raak Paulus baie prakties en verduidelik mooi waarmee die Bybel ons help.

Die Bybel onderrig (leer) ons die waarheid. Die Bybel is soos ‘n padteken of ‘n GPS. Die waarheid is die waarheid van Jesus. Oor sy kruis en sy opstanding en dat ons net deur Hom gered word en deur niemand anders nie.

Die Bybel bestry dwaling. Dwaling is al die valse leringe, al die misleiding wat ons hoor. Dis soos ‘n siekte. Paulus beskryf dwaling as ‘n vretende kanker! (2 Timoteus 2:17) Die Bybel is die regte medisyne, die regte inspuiting vir die siekte van valse lering. As jy moedeloos en deurmekaar raak deur mense se stories en leuens, gaan terug met ‘n kinderlike gemoed en verwagting na die Bybel en jy sal weer geestelik gesond word.

Die Bybel help ons om verkeerdhede reg stel. Die Bybel is soos ‘n stel "spanners" wat my geloofskarretjie weer aan die loop kry! Dit help ons om weer reg te dink, waar ons begin verkeerd dink het. Om weer opreg te glo en te volhard.

Die Bybel kweek by ons die regte lewenswyse. Die Bybel is soos ‘n “gym” waar ons geoefen word om gesond en reg te leef. Die Bybel oefen my om die regte leefstyl te hê, die regte keuse en besluite te maak. Die Bybel maak my sterk om die regte lewe te leef al sien en hoor ek elke dag ‘n klomp verkeerde dinge.

Die Bybel oefen ons om reg te dink en reg te doen! Leer en lewe!

Sonder die Bybel sal ons nie die moeilike tye van dwaling, afvalligheid en valsheid kan oorleef nie. Sonder die Bybel sal ons wegdwaal van God se pad en nie by ons hemelse bestemming aankom nie.

Positief gestel, die Bybel berei ons voor om ‘n lewe te leef wat God gelukkig maak. (17) Is jy ernstig om vir God te leef? Wel dan sal jy erns met die Bybel maak. Jy sal erns maak met kerk toe gaan, erns maak met stiltetyd, erns maak met gehoorsaamheid. Ons leef in moeilike tye, moenie moed verloor nie, maak net erns met die Woord van God!

BLY WEG VAN VERKEERDE MENSE EN BLY BY DIE BYBEL!

*Dis baie eenvoudig gestel, maar hierdie is nie die plek om ingewikkelde inspirasie teorieë te bespreek nie.


VRAAG : HOE MOET ONS DIE BYBEL LEES? DIE KORT ANTWOORD IS : MET JESUS AS VERTEKPUNT IN SY GEHEELKONTEKS. (Kliek op KONTEKS en ook op LUGFOTO)

Vrydag 28 Desember 2012

KASTREER JULLESELF

-  “snydende” sarkasme van ‘n liefdevolle apostel.

Die apostel Paulus het seker die wêreld se bekendste lofrede op die liefde geskryf. Ons almal ken die aangrypend wonderskone 1 Korintiërs 13 en het altyd maar weer nodig om daarna terug te keer en onsself opnuut met hierdie tydlose waarhede te verfris!  En nou is dit juis hierdie apostel, ‘n kenner van die liefde wat met amper ‘n skurwe en  skokkende stuk sarkasme die Galasiese dwaalleraars bykom.   Die Judaïseerder  valse leraars wat gemeentelede wou omhaal om weer die tora voorskrifte oor die besnydenis te onderhou,  kry ‘n bitsige teregwysing van Paulus se kant af : “Ek wens die mense wat díe verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!” (Galasiërs 5:12)  Dis asof Paulus byna in desperaatheid oor hierdie vernietigende onkunde smalend raak en sê : “Laat julle misleiers dan nou maar hulle waansin tot die uiterste volhou en hulle dan nou maar sommer self kastreer!” * Harde woorde!

Waarom haal ek nou hierdie sterk woorde van Paulus op? Dit gebeur so dikwels dat iemand  wat vir die waarheid opkom van liefdeloosheid en onverdraagsaamheid beskuldig word. Dis ‘n beskuldiging wat vir elkeen na wie dit kom tot ernstige nadenke en selfondersoek behoort te stem. Ja, want ons weet mos dat die liefde die grootste gebod is, maar juis ook die een wat ons as selfgesentreerde mense die maklikste oortree. (en wie van ons is nooit hieraan skuldig nie?)

En tog moet ons ook met nugterheid  kennis neem van ‘n  buite  konteks verabsolutering van ‘n normlose liefde wat kwistig deur die media gepropageer en selfs deur teoloë nagepraat  word. Liefde sonder die konteks en merkers van die waarheid  verval maklik in ‘n sentimentele onsinnigheid. Kom ek probeer verduidelik : Ons moet God liefhê, maar hierdie God is nie sommer enige god nie! Hy is byvoorbeeld  nie Boeddha nie, en Hy is ook nie die innerlike self-mensgod of kosmiese energie van die New Age nie! Die punt is : om God te kan liefhê is waarheidsonderskeiding gegrond op die Bybel  nodig! Want daar is sekere gode wat ek juis nie mag liefhê nie. Dieselfde geld die gebod om ons medemens lief te hê. Slegs die Woord van God kan vir ons inhoud aan hierdie liefde gee. Van Zuma (wat ons daarin herinner om nie honde bo mense te stel nie!!!) tot goddelose Hollywood sterre  gebruik  die begrippe ubuntu, liefde en verdraagsaamheid... maar  hulle is heel gemaklik as dit selfgesentreerde losbandigheid en sedeloosheid insluit.  Hierteenoor het Bybelse liefde duidelike norme. Liefde is nie maar net om  altyd te probeer “nice” wees nie, liefde is harde werk en ‘n duidelik uitgestippelde leefstyl volgens die opdragte en grense van die Skrif.

Bybelse liefde beteken nie om ten alle koste “nice” te wees nie, veral nie met dwaalleraars wat Bybelse waarhede ondergrawe nie.

Die groot drie van 1 Korintiërs 13 (Geloof, Hoop en Liefde) kan nie van die evangelie waarheid losgemaak word nie.  Alleenlik omdat Jesus Christus histories ligaamlik gesterf  en weer opgestaan het, kan ek geloof, hoop en liefde beoefen.  My geloof het ‘n inhoud : Jesus die enigste Middelaar met sy saligmakende sterwe en opstanding. My hoop het ‘n vaste grond en waarborg : sy genoegsame heilswerk wat vir my ‘n ewige  toekoms verseker.  Die liefde wat my dring om liefde te bewys is juis die liefde wat histories aan die kruis gestalte gevind het – die enigste norm vir ware liefde!

Is dit dan liefdeloos om hierdie evangelie waarhede kompromisloos te verkondig en kragtig te stry vir  die  geloof wat vir eens en altyd aan die heiliges oorgelwer is? (Judas vers 3) Die term liefde word so maklik rondgegooi, maar is dit nie juis ‘n bewys van gebrekkige liefde as ons toelaat dat  teologiese professore kosbare geroepenes aan ons fakulteite vergiftig met twyfel oor die opstanding en dat hulle daardie gif oordra aan getroue lidmate wat Sondag na Sondag opkom om te hoor wat sê God se Woord nie?  Is dit nie juis ‘n gebrek aan liefde wat maak dat ons hande gevou sit en toekyk hoe opregte gelowiges wat aan God se Woord getrou wil wees verwar word, deur leringe wat ons vertel dat ons God al die jare met ‘n verkeerde Naam en op ‘n verkeerde dag aanbid het nie? Moet ons stilbly as daar verkondig word dat God alle mense ryk en gesond wil maak, hier en nou?

Om terug te kom na Paulus se kras uitspraak. Ek dink ons kan vanuit die konteks van die Galasiër brief, baie hieruit leer.  Paulus maak ‘n duidelike onderskeid in hoe hy die dwalende (reeds of in die proses) gemeentelede aan die eenkant en die  dwaallerende ketters aan die anderkant hanteer en aanspreek. Paulus se hart gaan uit na die misleide gemeentelede. Hy smeek hulle met ‘n moederlike besorgdheid om terug te keer na die vryheid van die evangelie en die volheid in Christus alleen. “My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle  totdat Christus in julle gestalte kry.” (Galasiërs 4:19) Ja, hy vertel die waarheid aan hulle onbeskroomd en vra hulle mooi om dit tog nie as vyandskap te sien nie. (Galasiërs 4:16) Maar vir die gewetenlose  leraars wat die gemeente van die waarheid probeer weglok, het Paulus geen sagte woordjies nie, inteendeel...  Die rede is duidelik : dwaalleer (en hier praat ons nie van bloot verskillende interpretasies rondom byvoorbeeld die doop en die manier van Jesus se wederkoms nie, maar kernsake soos die ontkenning van die Godheid van Jesus Christus, sy genoegsame offer aan die kruis, sy  ligaamlike opstanding...) ondergrawe  mense se geloof!  Dit het Paulus goed besef en daarom verklaar hy : “daarmee vernietig hulle die geloof van sommige” (sien 2 Timoteus 2:16-18)

Wat wil ek met bogenoemde probeer sê? Met kinders van God wat onder die invloed van dwaalleer gekom het, moet ons reguit volgens die waarheid, maar in groot liefde, nederigheid, geduld en wysheid werk.  Maar valse profete moet nie verwag om met mooi woordjies gepamperlang te word nie! ( 2 Petrus 2  handel hieroor en is ‘n hoofstuk wat ons almal moet laat sidder) Nog minder moet hulle dink dat ons hulle gaan vlei met : "ons kan so baie by julle leer!"

Ten slotte net twee praktiese opmerkings waaraan elkeen wat vir die waarheid teen valse leringe opstaan gedurig herinner moet word:

1. Verkondig die waarheid op ‘n positiewe manier en met blydskap. (Ouers, dit geld natuurlik ook vir die manier waarop ons huisgodsdiens hanteer!) Die waarheid van die evangelie is immers ‘n blye boodskap wat bevryding bring! Ja, spesifieke dwalinge moet soms by die naam aangespreek word, maar  laat die klem val op die waarheid self. Dit voed en bou die gelowiges en stel hulle instaat om self te kan onderskei.

2. Pasop vir ‘n siniese bitterbek ingesteldheid. Daar is so ‘n magdom van valse leringe rondom ons dat mens maklik perspektief (en jou vreugde in Jesus) kan verloor.  Daar  bestaan die gevaar van ‘n oorpessimisme, wat vergeet dat Christus self sy Kerk instand sal hou.  Daar is ‘n slaggat van  kleinsielige foutvindery en haarklowery. Dit dreig om elkeen wat daarin val, nutteloos te maak vir die saak van die Koninkryk!

 Mag God ons ‘n gesonde balans gee om ons te bewaar van passiwiteit in die aangesig van dwaling, maar ook van ‘n mensgedrewe en eiesinnige aktivisme! Mag die norm van God se liefde ons hierin rig!


*Die Franse, La Sainte Bible gebruik inderdaad hierdie term. “qu’ils se châtrent!”

Donderdag 15 November 2012

MISLEIDING VAN DIE MAANKYKERS

- die duiwelse dwaasheid van die Hebrew Roots Movement (HRM) se Tora leraars.

Van alle dwaalleringe op die Satan se moderne spyskaart (New Age Gnostisisme, Prosperity Gospel, Mormone, Jehova Getuies, Nuwe Hervormers en noem maar op...) dra die Hebrew Roots leraars die twyfelagtige onderskeiding dat hulle dwaling die duidelikste in die Nuwe Testament self geïdentifiseer en ontmasker word. So lees ons baie duidelik oor hierdie mense en hulle onkunde in 1 Timoteus 1:7 (OAV) “hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beweer, nie verstaan nie.”  (NAV)  “hulle verstaan nie hulle eie woorde of die dinge waaroor hulle so selfversekerd praat nie.”

Die twee uitstaande kenmerke van die HRM se lering word hier uitgelig naamlik : Die objek van hulle lering. Die standaard van hulle kennis.

Die objek van hulle lering, is die wet. (tora, Engels : torah) Dit plaas hulle onmiddellik reeds in opposisie teen die apostel Paulus en alle ander evangelie dienaars dwarsoor die eeue. Paulus (en elke ware gesant van Jesus Christus) se kernboodskap is die boodskap van die kruis. (1 Korintiërs 2:1-5) Geen HRM leraar kan dit sê nie. Luister maar waaroor praat hulle die graagste. Hulle kerm dat mense nie kreef en vark moet eet nie. Hulle sanik oor die Shabbat, en raak opgewonde oor Joodse feeste en mane, maar hulle swyg oor die genoegsaamheid van Jesus se kruis en opstanding. Hulle skryf lang stukke waarin hulle nou vir ons wil vertel of dit Yashua, Yeshua of YaHusha moet wees... Daarom is dit  dat hulle lering, oral waar dit posvat,  net twisvrae bevorder en nie tot stigting lei nie. (1 Timoteus 1:4) Ek vra julle, al julle skynslim HRM leraars, waarom verkondig julle die wet van Moses (tora) terwyl ons net vergifnis deur Jesus Christus kan ontvang, juis omdat die wet van Moses ons nie van sonde kon vrymaak nie? (Handelinge 13:38,39) Natuurlik,  sal julle sê dat julle ook  Jesus verkondig, maar die punt is julle verkondig Hom nie as algenoegsaam nie. Julle meng altyd die tora by in julle gevaarlike resep van dwaaldisse.

Die gebrekkige standaard van hulle kennis. As jy verby kan kyk by hulle tentoonstelling van hoogdrawende en irriterende transliterasies van Hebreeuse name dan kom jy gou agter dat daar min Skrif (en taal) kennis is. Dis nie deeglike Skrifstudie nie, maar ‘n naïewe najaag van visioene en ‘n meusleuring van op die klank af argumente wat hierdie arme mense op sleeptou geneem het.

Natuurlik is die tora deel van die Heilige Skrif en is daar ook vir die Nuwe Testamentiese kerk nut in, as ons dit reg gebruik. (1 Timoteus 1:8) Wat is hierdie regte gebruik?  Breedweg gestel : Ons verstaan die tora vanuit die vervulling deur Jesus. Ons kan nie meer die tora lees asof Jesus nie gekom het nie. Die besnydenis, offers, feeste en sabatte was heenwysings na Hom en nou dat Hy gekom het, kan ons nie meer daarby stilstaan nie. Die beskrywing van hierdie dinge in die tora help ons om die heerlikheid en genoegsaamheid van ons Here Jesus en sy werk te verstaan. En wat van die tora se morele voorskrifte?  Ons kyk daarna deur die vergrootglas van Jesus. Ons lees en verstaan die hele tora via Jesus. Hy vervul die tora (laat die tora sy ware bedoeling bereik deur sy koms as Verlosser), maar vernuwe en verfyn dit ook. Dit kan duidelik gesien word as Hy net soos Moses die berg bestyg en die nuwe standaard van die Koninkryk afkondig in Matteus 5-7.  Hyself oortref die tora, want Hy doen wat die tora nog nooit kon doen nie. Dit word treffend geïllustreer in Matteus 8 as Jesus ‘n melaatse genees! Die tora was gemik op die afsondering van melaatses, maar Jesus gaan verder, raak aan hom (in stryd met die tora) en maak hulle gesond! (En so vervul Jesus die diepste bedoeling van die tora, juis deur die tora te “oortree”) Jesus self is nou ons finale gesag. Jesus verklaar alle voedsel rein, omdat niks wat van buite die mens ingaan hom onrein kan maak nie. (Markus 7:15) Daarom handhaaf ons nie meer die tora se voedselvoorskrifte nie.

Die HRM se wetsleraars teister ons met Toeka se Tora, maar verloën Vandag se Verlosser, ons Here Jesus Christus. 

Jesus self is ons Tora binne die heerlike  Nuwe Verbond, die finale Openbaring van ons Hemelse Vader se wil. (Hebreërs 1:1-3) Jesus as finale Tora is ons Verlosser, maar ook die norm van ons lewe as verlostes!

Die HRM leraars is diewe, slawedrywers  en misleiers. (En ja, soms nog ‘n klomp narre ook!)

Geestelike diewe  wat ons vreugde en  vryheid in Jesus wil steel deur weer spesiale betekenis aan sekere dae, maande en jare te gee. (Galasiërs 4:8-11) Hulle is diewe wat groter ooreenkoms met Islam as met Christenskap vertoon. Net soos die Islam glo hulle ook in Jesus, maar  in praktyk is  Hy ‘n afgewaterde Jesus. Maar nog erger, die  tora leraars met hul voedselvoorskrifte  stel hulself  direk teen Jesus wat alle voedsel rein verklaar het.

Geestelike slawedrywers wat mense se gewete in knegskap wil plaas. Hulle wil ons veroordeel oor wat ons mag eet en nie. Hulle wil weer sabatte en nuwemane op ons afdwing. (Ja, regtig  nuwemane ook! Ek sien Elim Ministries adverteer ‘n new moon service. Praat van die maan gepla!) Dis mos nou woordeliks presies waarteen die apostel Paulus, die uitverkore werktuig van Jesus (Handelinge 9:15 )  ons so duidelik waarsku in Kolossense 2:16,17.* Hierdie HRM leraars wil weer ‘n juk op ons lê. (Handelinge 15:10)

Geestelike misleiers (en maankykers) wat die boodskap van bose geeste aan ons verkondig deur hulle verbod op sekere voedsel. Klink dit dalk bietjie rof? Wel, laat ons gerus kennis neem van die sterk uitsprake in 1 Timoteus  4:1-4.  "Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang...Hulle verbied mense...om bepaalde soorte kos te eet."  Hiervolgens is dit baie duidelik : Die boodskap van die HRM en sy tora tiranne is nie gegrond op nuwe insigte in die Woord nie, maar is die direkte gevolg van demoniese misleiding! Hulle haal graag Bybeltekste aan, maar in wese verwerp hulle die Nuwe Testamentiese kanon. Hulle wil probeer beter weet as die Nuwe Testament wat die name Here (Kurios), God (Theos) en Jesus (Iesous) gebruik. So tas hulle die Heilige Skrif aan!

‘n Mens behoort seker te huil oor al hierdie dwaling, maar partykeer sal mens seker ook nie anders kan as om te lag vir sommige van die geestelike entrepeneurs wat nou op die HRM wa van verwarring spring nie! Ek dink aan die bebaarde Mosesfiguur, ene Michael Rood, wat ‘n “Rood Awakening” propageer. (bemark?) Hy verteenwoordig die sensasionele en teatrale kant van die HRM.

Saam met Paulus wil ek en alle gelowiges van alle denominasies  roem in die genoegsaamheid van die kruis. Vir die kruisboodskap sal ons vervolg word, ook deur die tora kenners. Hier skei ons paaie onherroeplik.  Hulle wil “Torah observant” wees, ons wil “Christ observant” wees!  

Misleide broers en susters, ons roep julle op tot bekering. Kom terug na Jesus Christus. Sien raak wie Hy is. Hy is algenoegsaam, want die volheid van God woon in Hom. En elkeen wat aan Hom behoort het deel aan hierdie volheid.  (Kolossense 2:8-10)  Die kind van God hoef dus nie die volle belewenis, die volle blydskap of die volle waarheid in iets anders soos die tora  te gaan soek nie. Nee, ons oë moet net al meer geopen word om die volheid van Christus raak te sien, dit beter te verstaan en meer daaroor te juig!

My vriend, mag jy waarlik Jesus, die Gekruisigde leer ken!

Naskrif : Die HRM is nie maar net nog ‘n variasie van Christene wat effens anders dink oor sekere sake nie. Dis ‘n totaal ander geloof en ‘n gruwelike dwaling gelykstaande aan die Jehova getuies! Dis tyd dat hulle ontmasker word vir wie hulle is. John Wahl een van hulle ywerige woelgeeste in Vishoek (Elim Ministries) noem die lering oor die Drie-eenheid, wat die fondasie is van die historiese kerk van alle tye, die “magtigste misleiding waarmee die Christendom vorendag gekom het” Dis maar net ‘n bevestiging dat hulle bron nie God se Woord is nie, maar leringe van bose geeste.

*Sien verder oor hierdie saak - kliek op STILSTAAN BY DIE SKADUWEE