BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Kruisdra. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kruisdra. Wys alle plasings

Maandag 04 Julie 2022

LEWE OP DIE BERGTOP!


- wat is die lewe wat jy vir jouself en ook vir jou kinders begeer?




Elke ouer wil graag die beste vir sy kind in die lewe hê. My kinders moet tog eendag ‘n goeie lewe lei en ‘n suksesvolle bestaan kan maak. Maar wat presies is ‘n goeie lewe en wat behels ‘n suksesvolle bestaan? Daaroor kan baie opinies wees… Miskien moet ons dalk vir Jesus vra?

Maar wees gewaarsku Sy antwoord is baie radikaal. Dis ontstellend en meer nog dit gaan die totale bankrotskap en dwaasheid van ons westerse samelewing en spesifiek ook ons leefstyl en denke hier op Tsumeb ontbloot! 

Kom ons luister na ‘n paar van Jesus se uitsprake in Matteus 16.


Jesus het so pas aan sy dissipels bekend gemaak dat sy loopbaan en doel deur lyding moet gaan. (21) Laat ons dit maar onthou ons aanbid nie ‘n populere en gemaksugtige Christus nie, maar ‘n lydende en stewende Christus. 













Petrus het nie hiervan gehou nie. Hy het ‘n ander tipe verlosser en Messias verwag. (22) Jesus bestraf Hom sterk. (23) Jesus maak dit duidelik dat Petrus volgens menslike waardes en standaarde dink. 







Maar direk hierna rig Jesus nou ‘n radikale uitdaging om Hom te volg aan sy dissipels... (24) Ons moet onthou hierdie uitspraak is gemaak lank voor die kruis, die simbool geword het van die Christendom. Daar was niks mooi aan ‘n kruis nie, mense het nie kruise om hulle nekke gedra nie. Inteendeel almal het geweet as jy iemand met ‘n kruis sien is daardie ou op pad om die wreedste en skandelikste dood te sterf. ‘n Verworpene! 




Dit kan vergelyk word met die emosie rondom ‘n galgtou toe ons land nog doodstraf gehad het. Jesus se woorde sou daarop kon neerkom – AS jy regtig my wil volg hang ‘n galgtou om jou nek…wys vir almal jy het die dood gekies ter wille van My. Skokkend. Afgryslik. Heeltemal ongewoon. Kies teen jouself, kies vir die dood as jy my volgeling wil wees. Jesus se implikasie is duidelik – sy eie pad is die pad van selfverloening, lyding en dood en as ek Hom wil volg moet ek ook bereid wees om daardie pad te loop! ‘n Keuse vir Jesus is ‘n keuse teen my eie sondige begeertes, selfs my eie gerief, eie planne en eie aspirasies… dis ‘n keuse om Hom eerste te stel! 




Dan verduidelik Hy verder. (25) Ter wille van Jesus moet ons bereid wees om alles prys te gee. En net deur Hom kan die ware lewe gevind word. Loop die sterwenspad van verwerping en lyding saam met Jesus en jy sal die ware lewe vind! LEWE in die volle sin van die woord. (en net die Heilige Gees kan dit vir jou laat sin maak).







Jesus beklemtoon NET in Hom is die ware lewe te vind! (26) Als sou ek die hele wêreld besit, dan gaan dit my als niks help as ek Hom nie waarlik ken en volg nie! Die menslike soeke na sukses, geld en belangrikheid en besit is ‘n doodloopstraat! Jy moet die lewe soek buite jouself en jou eie prestasies en dit in Jesus vind. Die lewe in verbintenis met Hom wat nooit sal verbygaan en nooit sal teleurstel nie. Die ewige lewe wat nou reeds begin en vir altyd sal voortduur. Die lewe wat beteken dat ek God en sy Seun Jesus sal ken. Jy kan sien. Jesus se idee van lewe en die algemene siening in die wereld van lewe staan reëlreguit teenoor mekaar. 

LEWE is ‘n lewe van navolging van Jesus al kos dit lyding en verwerping. Lewe op die bergtop is lewe saam met Jesus!

Nou is die groot vraag : Is die goeie lewe wat jy vir jou kinders wil hê, is die goeie lewe waarop jy jou kinders wil voorberei in lyn met Jesus se siening van lewe? Leer ons ons kinders deur woorde en deur voorbeeld dat die heel belangrikste ding op aarde is om Hom te ken? Leer ons ons kinders dat alle dinge uiteindelik tot niet sal gaan, maar dat om Hom te ken alles in waarde oortref? Leer ons ons kinders dat al ons dade eendag deur Jesus beoordeel gaan word? Sy lof, sy goedkeuring is al wat tel? (27)




Dit wat ek oor die algemeen rondom my sien, laat my dink dat ons nie die waardes en waardevolheid van Jesus aan ons kinders oordra nie. Voorbeelde: Is huisgodsdiens die eerste prioriteit – in ons huise? Of is sepies en ander programme belangriker? (Ek ken die antwoord, want die oorgrote meerderheid van kinders met wie ek in aanraking kom, ken glad nie die Bybel nie. Maar hulle kom uit "Christelike huise" en gaan skool in 'n "Christelike privaatskool') Leer ons vir ons kinders dat om Jesus te ken die belangrikste is, as ons bereid is om naweek na naweek honderde kilometers agter sportbyeenkomste aan te ry, maar min moeite doen om by die kerk te kom. 

Leer ons ons kinders dat hulle verlore sondaars is sonder Jesus, as hulle altyd net vertel word hulle is ysters? Ons kweek ‘n generasie van ysters met so ‘n oordrewe selfbeeld dat hulle nooit hulle aaklige sonde sal besef en God om genade sal smeek nie…

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek sê nie ons met heeldag net Bybel lees vir ons kinders nie… Ja, natuurlik moet ons gebalanseerde kinders grootmaak- ons moet tyd en geld bestee aan hulle akademiese en fisiese ontwikkeling, maar ons eerste groot passie moet wees om hulle te begelei om volgelinge van Jesus te word. Dit help als niks hulle word akademiese reuse en sportsterre, maar hulle sal vir ewige verlore gaan in die hel sonder God nie! (26)

God gee aan ons verbondskinders om vir Hom groot te maak. Hy beskou hulle as baie belangrik, as syne. Luister na God se snydende verwyt in Esegiël 16:20-21. 



Israel het hulle kinders soms letterlik aan afgode geoffer. Doen ons dit nie ook as ons deur ons voorbeeld en praatjies kinders laat verstaan dat geld en prestasies die belangrikste in die lewe is nie? Vertel jy jou kinders dat om Christus Jesus te ken alles in waarde oortref? Sien jou kinders jou gereeld in die kerk, sien hulle jou besig wees met die Bybel, hoor hulle jou bid? Die waarde van Jesus en die allerbelangrikheid om Hom te volg, dis die lewe. Dis die lewe op die bergtop in God se teenwoordigheid saam met Jesus!



Donderdag 07 Julie 2016

GEEN MIELIEPAP SONDER MIELIEMEEL

DIE BASIESE BESTANDDEEL VAN MIELIEPAP IS MIELIEMEEL. DIE BASIESE VEREISTE OM 'N DISSIPEL VAN JESUS TE WEES IS KRUISDRA!

Jesus roep mense. Hy roep sondaar mense tot verlossing en skenk gratis vergifnis, maar Hy roep hulle ook op om Sy dissipels te word. Met ander woorde, Sy leerlinge, Sy volgelinge. Hy roep ons nie tot ‘n lewe van gemaklike agteroorsit nie. Hy roep ons nie tot ‘n passiewe lewe van kerklidmaatskap soos dit my pas nie. Hy roep ons op tot kruisdra ter wille van Hom…

Ongelukkig het die kerk in geheel grootliks vergeet om hierdie boodskap van Jesus aan die lidmate oor te dra... Ons weet goed hoe om 'n basaar of biltongfees te organiseer, maar hierdie basiese vereiste wat Jesus aan aspirant volgelinge stel word heeltemal verswyg... Dalk is die kerk bang om gewildheid of bydraes in te boet?

Hoeveel dissipels van Jesus is daar nog? Sonder mieliemeel kan daar geen regte mieliepap wees nie, sonder die basiese vereiste van kruisdra kan daar geen egte dissipels wees nie.

Kliek op KRUISDRA om uit te vind wat dit prakties vandag van ons vra.

Die versuim van die predikers om Jesus se vereiste van kruisdra te verkondig is grootliks die oorsaak dat die kerk en die  wêreld presies diesefde lyk en ewe korrup geword het!

Vrydag 23 Oktober 2015

MOET EROS REGEER?

SEKS IS NIE ALLES NIE!

"Ons leef in ‘n tyd waarin Eros haar reg en heerskappy oor ons lewens met ‘n byna gewelddadige volgehoudenheid oor ons lewens wil uitoefen."

Ds.Eugene Viljoen skryf treffend oor hierdie sake. Hier is stof wat stem tot diep nadenke en selfondersoek :


Seksualiteit en selfverloëning

Inleiding

Ons leef in ‘n tyd en samelewing waar seksualiteit deur talle mense beskou word as ‘n gebruiksartikel. Dit is iets wat nie alleen geniet kán word nie, maar selfs deur almal wat wil geniet móét word. Elkeen het blykbaar die reg daarop. Seksualiteit word bekyk vanuit die perspektief as ‘n basiese lewensdrang of -lus. Soos wat ‘n mens ‘n basiese drang na voedsel, beskerming en veiligheid het vir sy oorlewing, só is seksualiteit ‘n basiese lewensdrang waaraan met genot en vryheid uiting gegee móét word. Die manier waarop die liggaamlike omgang tussen man en vrou dan ook heel kort as “seks” beskryf word, is tiperend van hierdie verbruikersmentaliteit. Die woord wil heel kort verwoord dat ‘n natuurlike drang uitgeleef word. Van liggaamlike eenwording tussen ‘n man en vrou in ‘n huweliksverhouding waar uitdrukking gegee word aan hulle wedersydse liefde, kom min tereg in so ‘n besondere kaal woord. Seksualiteit word versmal tot ‘n drang en ‘n daad.

Donderdag 13 September 2012

Die "K-woord"

- wat van die kansel verdwyn het.

[Het die Predikant/Pastoor/Gospelsanger/Christen radiostasie al vir jou vertel dat jy ‘n kruis moet dra as jy Koning Jesus wil volg?] 

Kruisdra. Die ononderhandelbare vereiste vir dissipelskap.  Wat het Jesus self oor hierdie saak te sê in Lukas 9:23-26?  Kom ons luister na die waarheid uit sy eie mond. Mag ons die moed hê om sy woorde onverdund te sluk en te absorbeer.  Laat ons ons daarvan weerhou om die skerpkant van sy uitsprake stomp te vyl met ons rasionele redenasies en verskonings.

Oor die sentrale belangrikheid van hierdie tema kan daar geen twyfel wees nie.  Dis nie maar net ’n terloopse of randuitspraak van ons Heer nie.  Dit word telkemale in die evangelies herhaal ‒ Lukas 14:27, Matteus 10:38&39, 16:24&25, Markus 8:34 en ook Johannes 12:25 (al word die woord “kruis” nie direk hier gebruik nie.)  Jesus se oproep vind ook neerslag in die res van die Nuwe Testament.  Dink maar aan Paulus se uitspraak, “aan Hom gelyk te word in sy dood” (Filippense 3:10) om maar net een voorbeeld te noem.  Oor die wye implikasies en toepassing van die oproep tot kruisdra hoef ons ook nie te wonder nie.  Hy sê dit vir “almal”  (v. 23).  Dit is dus van uiterste belang dat ons sal weet wat hierdie kernbegrip beteken en prakties vir ons inhou.

VOLGELINGSKAP EN KRUISDRA

Dis die twee sleutelbegrippe in hierdie gedeelte.  Hulle is onlosmaaklik aan mekaar verbind.  Kruisdra kan net verstaan word binne die konteks van volgelingskap. 

Jesus se boodskap aan mense was, “Die koninkryk van God het naby gekom.  Bekeer julle en glo die evangelie.”  Die  prakties toegespitste appèl van hierdie prediking tref ons soos ’n refrein in die evangelies, “Volg my”, “Kom agter my aan.”  Jesus roep mense na Homself.  Dink maar aan Simon en Andreas daar langs die meer, ook Jakobus en Johannes, Fillipus, Matteus die tollenaar, die ryk jongman en vele naamlose voorbeelde.  “Volg” soos Jesus dit gebruik is duidelik ’n gelaaide begrip.  Dit behels baie meer as net ’n bietjie saamstap ‒ dit impliseer geloof, vertroue, oorgawe, diens, gehoorsaamheid (“my skape luister na my stem en volg my”).  Jy skaar jou openlik by die een vir wie jy volg.

Jesus roep sy volgelinge op tot ’n beslissende radikale keuse van afstand doen van die prioriteit van vorige verhoudings, lojaliteite, besittings en lewensstyl tot volle vertroue in Hom, ’n konkrete vereenselwiging met Hom, ’n nederige onderwerping aan Hom, ’n bewuste nabootsing van Hom as Meester in leer en lewenswandel.  Om die radikaliteit van volgelingskap, die selfverloëning wat dit vereis en die verreikende implikasies daarvan by sy hoorders tuis te bring, gebruik Jesus die begrip of beeld van kruisdra.

Kruisdra is ’n skerp, veelseggende begrip, wat almal van destyds sou verstaan en aanspreek.  Al Jesus se toehoorders het waarskynlik al gesien hoe ’n ter dood veroordeelde met sy kruis oppad is na die plek van teregstelling.  Veroordeeldes is gedwing om hulle kruise of ten minste die patibulum (dwarsbalk) self te dra.  As jy so iemand sou sien,  weet jy een ding, daardie man is ’n uitgeworpene, oppad na sy dood, sy aardse bestaan het nou ’n einde bereik.  Volgens sommige is dit ook moontlik dat die beeld van kruisdra ’n algemeen bekende metafoor van destyds was wat radikale sosiale isolasie en vernedering aangedui het.

Dis moeilik vir moderne mense om die stigma en skande wat aan die kruis gekoppel is, te verstaan.  Vir die meeste het dit bloot ’n sentimentele simbool geword.  Die kruis as teregstellingsinstrument vir die ergste tipe misdadigers, val in dieselfde kategorie van weersinwekkendheid as die vuurpeloton, galg of elektriese stoel van vandag. 

Belangrik om van kennis te neem: 

Jesus roep sy aspirant aanhangers nie op om bloot ’n kaartjie in te vul, hand op te steek of rympie te prewel nie, maar om hulle kruis op te neem!


TWEE GROOT MISVERSTANDE

Voor ons meer in detail na die betekenis van kruisdra vir ons kyk, moet daar eers twee algemene wanopvattings uit die weg geruim word.  Kruisdra is nie:
• een of ander persoonlike of familiebeproewing nie.  God gebruik inderdaad beproewings in die lewe van  Sy kinders met die oog op hulle heiligmaking en toetsing van hulle geloof.  Beproewings stuur Hy egter soos en wanneer Hy wil.  Dis nooit iets waartoe hy ons oproep nie, Hy bring dit op ons pad soos Hy dit nodig ag.
• algemene ellende of swaarkry nie.  Dis soos baie mense dit verstaan en dit het ook so in ons taalgebruik ingesluip in die uitdrukking, “Elke huis het sy kruis.”  Daar is inderdaad baie ellende , rampe en siekte in die wêreld en God se kinders is nie daarvan gevrywaar nie.  Hierdie ellendes het niks met kruisdra te doen nie, dit tref ons almal, dis nie iets wat ons vrywilig kies nie.

VYF BASIESE ELEMENTE VAN KRUISDRA

In v.23 sê Jesus (omskryf in ons taal van vandag), “As iemand van julle graag onder my aanhangers getel wil word, moet hy vir eens en vir altyd vaarwel sê vir sy eie self en moet hy bewustelik kies vir pyn, skande, ongerief en vervolging ter wille van my en die bevordering van my saak ‒ sonder ophou dag in en dag uit, en so moet hy my dan lojaal volg.”  Vers 23 bring ten minste vyf basiese elemente van kruisdra onder ons aandag:

❏ Kruisdra is vrywillig.  Dis ’n keuse waarvoor Jesus elke belangstellende en voornemende volgeling stel.  “Oorweeg jy dit om my te volg?, wel jy is welkom, neem jou kruis op en kom ...”  Jesus wil jou nie om die bos lei nie, Hy sê eerlik en reguit wat dit gaan kos, wat die gevolge gaan wees van jou verbintenis met Hom.  Bereken eers die koste.  Besluit of Ek dit vir jou werd is om al hierdie veragting, swaarkry en probleme ter wille van My te verduur.  Kruisdra is ’n doelbewuste, vrywillige en berekende keuse. Ek gaan oop oë in hierdie saak in.

❏ Kruisdra is ’n voortdurende aksie.  Vers 23 sê “elke dag.”  Dit behels nie net ’n eenmalige krisis tydens my bekering en dan is dit verby nie.  Dis ’n besluit wat lewenslange konsekwensies het en oor en oor bevestig moet word.

❏ Kruisdra is nie lekker of maklik nie.  Juis omdat dit gaan oor selfverloëning.  Dis  pynlik, want dis ’n doelbewuste keuse teen myself.  ’n Keuse vir Jesus is by implikasie in baie opsigte ’n keuse teen myself.  My ou self se belange sal noodwendig bots met die van my nuwe Meester s’n, aangesien eersgenoemde verdorwe is en lg. volmaak heilig is.  Selfverloëning is ten diepste ’n bekering van die afgodsdiens van selfgesentreerdheid en selfgerigtheid.  Dis makliker gesê as gedaan en daarom is dit ’n halwe waarheid as ons vir mense sê, “O, dis altyd so lekker om ’n Christen te wees.”  Terloops, Jesus het nooit vir iemand gesê , “Volg my, want dit gaan so lekker wees” nie. Inteendeel. (Die wat Jesus inderdaad volg met die gesindheid van selfverloëning, doen dit nie ter wille van byvoordele nie, maar omdat ons oortuig is dat Hy die Seun van God is, ons enigste Middelaar en Hoop).
❏ Kruisdra is ’n ononderhandelbare voorwaarde vir en onontbeerlike bestanddeel van dissipelskap.  Dis nie ’n bykomstigheid nie, maar ’n minimumvereiste.  Hieroor spreek Jesus Homself baie duidelik uit in Lukas 14 :27 “...kan my dissipel nie wees nie.”  Dit kom dus daarop neer dat Jesus geen ware dissipels het wat nie kruisdraers is nie.  Jesus het tydens sy aardse bediening die beginsel van kruisdra onlosmaaklik aan dissipelskap gekoppel, en daar is nog geen omsendbrief van die hemel af gestuur om te sê dat dit nie meer geld nie.  Die vereiste van kruisdra vir alle dissipels beteken noodwendig dat daar nie iets bestaan soos twee “klasse” van Christene nie ‒ A klas dissipels met kruise (sg. Geestelikes) en B klas dissipels sonder kruise (sg. Vleeslikes, wat vir hulleself lewe maar tog mos darem hemel toe sal gaan) nie.  ’n “Dissipel” sonder ’n kruis (sonder selfverloëning) is volgens die Bybel hoegenaamd nie ’n dissipel nie, al noem hy homself een.

❏ Kruisdra is iets wat ek doen ter wille van Christus en verduur as gevolg van Hom.  Prakties beteken dit ek doen doelbewus afstand van my voorkeure, wense, gerief, ambisies en belange in soverre dit in my pad staan om Jesus voluit en onvoorwaardelik te gehoorsaam en te dien. Dit beteken ook dat ek my bereid verklaar en inlaat om die gevolge wat voortvloei vanuit getroue navolging van Jesus te dra en verduur.  Troue navolging van Jesus behels o.a. dat ek my openlik voor mense aan Sy kant sal skaar (v. 26), Hom ten alle tye sal gehoorsaam en Sy wil en belange eerste sal stel.  Watter negatiewe gevolge sal dit vir my inhou?  Veragting van mense, valse aantygings ("hy hou hom heilig, hy dink hy is beter as ons"), sosiale uitsluiting, materiële verliese weens die handhawing van Bybelse beginsels in my besigheid ens.  
Soos die geval met ander Bybelse begrippe word die inhoud van kruisdra verdraai en verwring om by die mens se sondige motiewe te pas.  Let op die volgende verdraaiings wat dikwels voorkom:
• Sommige sien kruisdra as ’n stuk selfkastyding waarmee ek vir my sonde kan betaal en so geregtigheid voor God kan kry.
• Party dink dis ’n manier hoe ons God se arm kan draai om sekere dinge vir ons te doen of
• ’n Manier om my heiligheid aan ander te bewys, aandag te trek of  simpatie te ontlok.
• Dis ook ’n mode om swaarkry ter wille van politieke oortuigings of omstrede standpunte as kruisdra te klassifiseer.  (Volgens die Skrif val net dit wat ek ter wille van Christus en Sy saak verduur onder die opskrif van kruisdra; om 20 jaar of meer vir my politieke beginsels in die tronk te sit kan dalk prysenswaardig wees, maar dis nie kruisdra in die Bybelse sin van die woord nie.)

Onthou : Kruisdra red ons nie, dis wel ons enigste sinvolle reaksie op die radikale verlossing wat ons Verlosser aan die kruis vir ons bewerk het!

PERSOONLIKE TOEPASSING

Is jy nog onseker wat kruisdra in jou persoonlike omstandighede behels? Vra jouself ‒ is daar vriende, verhoudings, belange (sport?) en of enige ander lojaliteit wat my verhinder om te alle tye Jesus se wense soos uitgespel in die Skrif te gehoorsaam?  Spurgeon se waarskuwing is hier van pas, “O, do not for the sake of a man’s frown or a woman’s smile forego eternal life.”  Vra jouself ‒ watter konsekwensies laat my op dié stadium nog terugdeins en wegskram om openlik aan Jesus (en Sy kerk) se kant te gaan staan?  Dit behoort jou ’n goeie aanduiding te gee van die betekenis en implikasies van kruisdra binne jou persoonlike konteks.

DIE VERGETE BEGINSEL

Jesus se eie woorde kan by ons geen twyfel laat dat die opneem van die kruis ’n onmisbare deel van Nuwe Testamentiese Christenskap is nie.  Kruisdra is ’n onontbeerlike bestanddeel van Christenskap. Net soos dit onmoontlik is om mieliepap sonder mieliemeel te maak.  Hoeveel  bykosse en souse jy ook saam met die mieliepap kan maak, sonder die basiese bestanddeel van mieliemeel hou dit op om egte mieliepap te wees.  

Dis ’n tragiese feit dat die beginsel van kruisdra  grootliks uit die breë kerklike praktyk van tans verdwyn het en  nog eintlik net in die argiewe gevind word. Kruisdra het ‘n verbode “K-woord” geword, wat nie meer dikwels in Christelike geselskap gehoor word nie! Die oproep tot daaglikse kruisdra het verborge geraak onder ’n dik stoflaag van menslike tradisies, gemaksug en wêreldgelykvormigheid.  Die vraag is net: is dit wat oor die algemeen as Christenskap deurgaan, hoegenaamd nog die ware Jakob? Gaan baie nie dalk eendag te laat uitvind dat hulle nooit volgelinge van Jesus was nie? Mag die Gees van God weer ons oë open om die sentrale beginsel van kruisdra te herontdek en implementeer.

DIE MOEITE WERD

Ten minste een belangrike aspek moet nog vermeld word.  Die heerlike belofte wat saam met die oproep gaan.  Vers 24b.  Kruisdra is verseker nie lekker en maklik nie, maar dis  beslis ook nie ’n doodloopstraat wat op niks uitloop nie.  Kruisdra ter wille van Jesus beteken wins in absolute terme, ’n ewige batige saldo.  Dis oor en oor die moeite werd.  Trouens dis die enigste pad vir die mens wat tot ware wins lei.  Miljoene getroue dissipels wat reeds die wedloop afgelê het en op hierdie oomblik by Christus is, sal net kan saamstem.

Neem jou kruis op en volg Hom, Hy sal jou ook die genade gee daarvoor!



(Ou skyfie van Pa van Owamboland)