BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Middelaar. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Middelaar. Wys alle plasings

Donderdag 25 Januarie 2018

SKAAP OF VARK?

VALS EN WARE CHRISTENSKAP : Hoe kan dit onderskei word?



Wat is die verskil tussen ware en valse Christenskap? Dis baie belangrik en uiters noodsaaklik om dit te kan onderskei. Hoekom? 

Daar is baie mense wat ‘n valse sekerheid het. Hulle glo vas dat hulle kinders van God is, dat hulle deelgenote aan die ewige lewe is, maar hulle is nie. Hulle mislei hulleself. Wat ‘n aaklige verrassing wag daar eendag op diesulkes! 

Aan die anderkant is daar weer mense wat opregte kinders van God is, maar nog geteister word deur twyfel en onsekerheid. "Kyk, ek sondig nog, hoe kan ek dan 'n kind van God wees?" is die vretende bekommernis in hulle onrustige binneste.

Die 1 Johannes brief kan ons help om die onderskeid te kan tref. Die doel van die brief is juis ook om sekerheid aan God se kinders te gee:

"Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo." (5:13)

HOUDING OOR SONDE

Een duidelike verskil tussen vals en ware Christenskap kom na vore in ‘n persoon se houding teenoor sonde. Johannes verduidelik die duidelike verskil tussen valse en ware Christene aan die hand van die verskillende benaderings teenoor sonde. Ons gaan kyk na 1 Johannes 1:5-2:2 

Met betrekking tot die houding oor sonde is daar ‘n duidelike kontras tussen die vals en ware Christen. 

GOD IS LIG!

Johannes se vertrekpunt is baie duidelik : "God is lig en daar is geen duisternis in Hom nie." (1 Johannes 1:5) God self is nie neutraal teenoor sonde nie, God kan nie kompromie maak met sonde nie, God is met ander woorde nie ‘n post moderne relativis vir wie als maar reg is nie. God hou van party dinge en God haat party dinge! Onthou dit as ‘n basiese waarheid en fondasie. 

DUISTERNIS OF LIG?

Die valse Christen leef in duisternis en in ontkenning van sy sonde. Dis die een wat rustig voort leef in sonde. Hy is gemaklik en ongeërg oor sonde. So iemand leef in ‘n leuen. “As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie.” (6) Let mooi op – dit gaan nie hier oor mense wat openlik vir God of Jesus verwerp nie, nee hulle beweer dat hulle deel het aan God, maar dis vals en leuenagtig. Daar is nog ‘n verder kenmerk van valse Christenskap. Daar is geen eerlike erkenning van sonde nie. Daarom ook geen berou en opregte belydenis nie. “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.” (8) Daar is by die valse Christen geen sensitiwiteit oor sonde nie, sonde word ontken, afgemaak as iets ligtelik. Ja, natuurlik sal almal (dikwels met ‘n glimlag) erken : “ons is sondaars”, maar dit word sommer so op ‘n lighartige manier gesê. Dit word eintlik as ‘n verskoning bedoel. Valse Christene versag sonde met allerhande eufemismes. Ek word nooit dronk nie, maar ek het net “bietjie te veel gekuier”. Nee, ek is glad nie ‘n hoereerder nie, maar “ek knyp net die kat so af en toe in die donker.”

Die ware Christen se lewe word gekenmerk deur lig, maar juis ook 'n bewustheid van sonde. ‘n Lewe van gehoorsaamheid aan God. Dis die algemene koers, rigting en benadering van egte ware Christenskap. Geloof maak ‘n praktiese verskil in jou leefstyl. Beteken dit nou dit die ware Christen nooit sondig nie? Nee, die ware Christen is juis die een wat voortdurend bewus is van sy sonde, sensitief en jammer is daaroor en dit bely! Die ware Christen kan in sonde val, maar kan nooit daarmee gelukkig volhard nie. 



Dis soos die verskil tussen ‘n skaap en ‘n vark. ‘n Skaap kan ook met modder besmeer raak, maar anders as ‘n vark is hy nie ‘n dier wat van modder hou nie.

Ons kan dit so stel : 

Ware Christenskap word nie gekenmerk deur die totale afwesigheid van sonde nie, maar deur die voortdurende aanwesigheid van berou, belydenis en bekering. 


HEERLIKE BELOFTE

Dis juis die ware Christen wat troos vind in een van die wonderlikste beloftes in die Bybel. “Maar as ons ons sondes bely -Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (9) Dis ‘n belofte wat ons nooit moet vergeet nie. Die idee dat bekering en die belydenis van sonde net ‘n eenmalige stap is wat by die begin van jou Christelike lewe plaasvind is verkeerd. Johannes skryf sy brief juis aan mense wat alreeds kinders van God is, mens wat reeds deur die geloof en bekering deel het aan Jesus en die ewige lewe. Ons moet onderskei tussen aanvanklike bekering (conversion) en voortdurende berou en bekering (repentance)! Luther het die saak van bekering in die eerste van sy beroemde 95 stellings so gestel: “Ons Here en Meester, Jesus Christus het beveel: “Bekeer julle, want die Koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matteus 4:17). Die hele lewe van ‘n gelowige, moet een wees van bekering.”* 

Voortdurende berou en bekering is deel van die kind van God se daaglikse belewenis!

Dis ‘n belangrike waarheid. Daar is opregte kinders van God wat twyfel oor hulle Christenskap, want hulle val in sonde of hulle het ‘n stryd teen sonde en versoekings. Wees verseker, die Bybel is realisties en weet dat kinders van God nog steeds kan sondig. Ook Jesus self het dit geweet. Daarom is daar die vierde bede in die Onse Vader gebed. “Vergewe ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe.”

Kinders van God kan nog steeds in sonde val. Ons mag nie sondig nie, ons behoort nie te sondig nie, en tog is dit die hartseer en harde realiteit. Kinders van God se houding teenoor hierdie sonde verskil egter drasties van die houding van die wêreldling of valse Christen. Luister mooi (en dalk gaan dit jou skok) – dis moontlik dat pary onbekeerde mense se lewens minder sonde vertoon op die oppervlak as sommige ware Christen s’n. Kru gestel, party mense wat op pad hel toe is het oënskynlik mooier lewens as sommige wat op pad is hemel toe. Want onthou Christenskap word nie bepaal deur hoe baie of min sonde ek doen nie, maar of ek ‘n Middelaar het! Dit bring ons by die baie belangrike 1 Johannes 2:1! “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig -ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” 

Hier kry ons die pragtige suiwer Bybelse balans:

-Sonde is ‘n baie ernstige saak. Ons moet dit ten alle koste vermy. Ons moet selfs ten bloede toe daarteen weerstand bied soos ons in Hebreërs lees.** Sonde mag nooit ‘n ligtelike saak wees nie. Dis nie humoristies nie, dis nooit iets waaroor ons durf grappe maak nie. Nee, want dit pas nie by die lig nie, dit bring oneer aan God, dit bedroef die Heilige Gees. Dit versteur die gemeenskap met God en met mekaar. Daar’s niks positief aan sonde nie, aan geen sonde nie!

-Aan die anderkant is Johannes baie realisties. ‘n Kind van God kan wel nog sondig. “En as…” ‘n Kind van God kan val, maar dis nie dan die einde nie! Dit beteken nie ek behoort dan nie meer aan Jesus nie. Nee, as ons sondig kan ons weer net opnuut met berou en belydenis ons hoop stel op Jesus Christus ons voorspraak, ons advokaat, ons middelaar! Dis juis die kern verskil tussen die verlorene en die geredde mens : Die geredde mens maak nie staat nie op homself nie, maar op sy Middelaar en advokaat, Jesus Christus! Die ongeredde persoon dink hy is darem oraait genoeg om God tevrede te stel met sy eie pogings.

Om op te som:

  • Ware Christenskap maak altyd erns met die probleem van sonde. 
  • Valse Christenskap vat sonde ligtelik op.

  • Ware Christenskap word gekenmerk deur voortdurende opregte berou en bekering. 
  • Valse Christenskap maak verskonings en skram weg van berou en bekering.

Ware Christenskap soos iemand dit gestel het, is “not about perfection, its about direction.” Ons is nie perfek en volmaak nie, maar ons beur weg van die sonde met alle mag en groot ontsteltenis, terwyl ons verlangend uitreik na die arms en die vergifnis van Jesus! 


Notas
*In die Duits het hy dit so gestel : “ Da unser Herr und Meister Jesus Christus spricht „Tut Buße“ u.s.w. (Matth. 4,17), hat er gewollt, dass das ganze Leben der Gläubigen Buße sein soll.”

**Hebreërs 12:4 “Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.”

Donderdag 04 Desember 2014

DIE NUWE VERBOND

- gegrond op Jesus Christus as ons Middelaar, Borg en Hoëpriester!

Wat is ‘n Christen? Wie gaan gered word en wie sal verlore gaan? Onmiddellik wil die meeste mense hierdie vraag beantwoord in terme van wat ons doen of nie doen nie. Dan bespiegel hulle : "‘n Christen is iemand wat darem redelik gereeld kerk toe kom, wat hou van bid en Bybel lees, wat ordentlik optree teenoor ander mense, wat nie steel of hoereer nie..."   Om verstaanbare redes skep hierdie manier van redeneer egter probleme. Hoeveel bid is genoeg bid, hoe meet mens heiligheid en ordentlikheid...? Waar trek jy die streep? Wat is die slaagpunt? Hoeveel hare*  maak ‘n baard?


Hebreërs antwoord hierdie belangrike vraag binne die raamwerk van God se verbonde. 

Kom ons kyk net na twee teksgedeeltes uit hierdie besondere brief:

“So het Jesus ook van ‘n beter verbond borg geword.
Daar is ook ‘n ander verskil: omdat die dood die Levitiese priesters verhinder het om aan te bly, was daar baie wat mekaar opgevolg het.
Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hy ‘n priesterskap wat nie op ‘n ander oorgedra word nie.
Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.
Vir ons was so ‘n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele,
een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ‘n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.
Die wet stel mense as hoëpriesters aan, en mense het swakhede; maar die uitspraak wat met ‘n eed bevestig is en wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan as ewige en volmaakte Hoëpriester.” (Hebreërs 7:23-28)

“Daarom is Hy ook die Middelaar van ‘n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang.” (Hebreërs 9:15)

NUWE VERBOND

Ons weet God werk met mense binne die raamwerk van ‘n verbond. Hy het met Abram reeds ‘n verbond gesluit. (dikwels genoem die Genadeverbond) God herbevestig sy verbond met Abram se nageslag by Sinai. (Mosaïese verbond, waarna later verwys word as die Ou Verbond**) Maar hier in Hebreërs word nou gepraat van ‘n Nuwe Verbond. Wat is dit, waarom was dit nodig? Jy sien, daar het ‘n probleem ontstaan met die onderhouding van God se verbond. ‘n Verbond het mos twee kante : Gods se kant – dit wat Hy beloof. Die mens se kant - dit wat die mens se plig is. Waar die verbondsbepalings nagelaat en oortree word kom daar oordeel en straf ter sprake. Nou weet ons wat leer die geskiedenis – Israel het klaaglik misluk in hulle nakoming van die verbondsbepalings. Hulle kon nie hulle kant van die voorwaardes nakom nie. Hulle het wel plegtig belowe om dit te doen (Eksodus 24:7)***, maar in die praktyk was dit ‘n heel ander saak. Wat nou, is als verlore, is verlossing onmoontlik?

God se oplossing vir die mens se mislukking is die Nuwe verbond. Dit word by meer as een geleentheid in die vooruitsig gestel deur profete soos Jeremia, Esegiël en ander... Die nuwe verbond is baie beter. Die Nuwe verbond behels dat ons volle vergifnis kry en van binne af nuut gemaak word. Dit behels 'n oorvloedige werk van die Heilige Gees.  Die skrywer verwys na Jeremia se profesie en haal dit breedvoerig aan. (8 :7-12) Let veral op na die groot troos van volkome vergifnis in terme van die Nuwe Verbond! “Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie." (8:12)

Samevattend sou mens kon sê, die Nuwe Verbond is beter weens die deurslaggewende rol van Jesus Christus. Dit word in Hebreërs op verskeie maniere uitgelig. Hebreërs beskryf vir ons : Jesus is die Middelaar van die Nuwe Verbond, die Borg van die Nuwe Verbond, die Hoëpriester van die Nuwe Verbond. (die betekenisse oorvleuel)

Binne die konteks van die Nuwe Verbond speel die kruisdood en opstanding van Jesus die sentrale rol!

Jesus is die Middelaar van die Nuwe Verbond. (Sien weer Hebreërs 9:15 hierbo) As Middelaar het Jesus as’t ware die Nuwe Verbond tot stand gebring of te wel bemiddel tussen God en mens. Hy is die tussenganger. Hy het deur self die straf te dra van die mislukkings van die Ou Verbond weer die verhouding tussen God en mens herstel. Sy Middelaarskap hou ook nie op na ‘n tyd nie. Hy leef ook altyd om vir ons gedurig in te tree en voorspraak te doen. (7:25) 

‘n Borg betaal wat jy nie het nie namens jou, staan in vir jou, waarborg iets namens jou. As Borg het Jesus kom instaan vir ons sondeskuld en dit namens ons aan die kruis betaal. Hy het gedoen wat ons nie vir onsself kon doen nie. Hy is gestraf vir ons sonde, vir ons verbondsverbreking. Maar dit gaan ook oor meer. Hy het ook positief die heilige lewe wat God van ons verwag, namens ons geleef. Dit wat die verbond van ons geëis het, maar waarby ons nie kon uitkom nie, dit het Hy gedoen.

As Hoëpriester het Jesus nie bloot diere geoffer nie, maar Homself eenmalig aan die kruis geoffer en so ons straf gedra en vir ons toegang bewerk tot in God se heiligdom.**** Dis al manier hoe ‘n sondaar weer ‘n skoon gewete kan kry. "Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien!" (9:14!) Ja, ek weet ek is skuldig, maar ek weet ook dat Jesus my spesifieke sonde se straf gedra het en daardie sonde bestaan dus nie meer in God se boeke nie! Dit gee my gewetensrus! Maar meer nog, hierdie volmaakte offer maak my 'n erfgenaam van 'n heerlike toekomstige erfenis!

WAT IS ‘N CHRISTEN?

Terug by die beginvraag. Wie is ‘n Christen? ‘n Christen is ‘n mens wat in terme van die Nuwe Verbond volle vergifnis ontvang het op grond van die volkome werk van Jesus die ewige Hoëpriester, Middelaar en Borg van die Nuwe Verbond. Nog eenvoudiger, ‘n Christen is iemand wat Jesus as sy persoonlike Middelaar en Hoëpriester aanvaar het en ken. Die snypuntvraag is : Het jy ‘n Middelaar of probeer jy op eie stoom by God uitkom? (Die waarheid word bevestig deur 1 Johannes 5:12.) Wat eis God dus nou van ons? Een groot saak : om Sy Seun Jesus as ons enigste Here en Verlosser te aanvaar. Om Hom alleen te vertrou! Leef ‘n Christen dan nie anders nie? Wat van die bid en die Bybel lees...? Natuurlik, maar hy is eerstens wesentlik  anders, anders in die sin dat hy ‘n persoonlike Borg het. Ek word ‘n Christen omdat Jesus my Middelaar is en dan begin ek ook anders leef. (Vir meer oor die anders wees, kliek op ANDERS)

*’n uitdrukking wat ek van Nico van der Walt gekry het.

**Terloops, na die Abramsverbond word nooit as Oud verwys nie.

*** “Hy (Moses) het die verbondsboek geneem en dit vir die volk voorgelees. Hulle het gesê: "Ons sal alles doen wat die Here beveel het en daaraan gehoorsaam wees."

****Die heerlike praktiese implikasies van Jesus se hoëpriesterskap word pragtig uitgespel in Hebreërs 4:14-16. Dis ‘n versekering waarsonder die kind van God nie vrede kan hê en funksioneer nie...

BELANGRIK : Dis baie duidelik dat Jesus se plaasvervangende sterwe en versoenende offer sentraal staan in ons redding om sodoende vir ons ‘n ewige toekomstige erfenis te verseker. Beide hierdie waarhede word deur ‘n dwaalprofeet soos Marcus Borg ontken! (Kliek op MARCUS BORG)