BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Gay debat. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Gay debat. Wys alle plasings

Woensdag 06 Maart 2019

KRAAIFONTEIN (PARKE GEMEENTE)

BEKEER JULLE!



Ons weet teen die tyd seker almal dat die NGK Parke gemeente (in Kraaifontein) in die Kaap ‘n openlik homoseksuele predikant aangestel het. Dit veroorsaak natuurlik (tereg) groot bohaai en ontsteltenis by God se kinders in alle kerkverbande. 



In my persoonlike hoedanigheid as leraar van die NG Kerk Tsumeb wil ek myself net kortliks hieroor uitspreek ter wille van duidelikheid en vir die rekord : 



1.Die aanstelling van ‘n openlike homoseksueel as leraar by die NGK Parke gemeente vervul my met afgryse, skok en hartseer. 



2.Ek wil in nederigheid op grond van die Heilige Skrif, NGK Parke gemeente oproep tot bekering! 


3.Ek wil weer onder almal se aandag bring dat die NGK Tsumeb se uitvoerige en gebalanseerde standpunt oor homoseksualiteit gevind kan word by TSUMEB SE STANDPUNT (Kyk spesifiek na Bylaag A) 

4.Ek wil graag alle broers en susters daaraan herinner dat die plaaslike kerk, selfstandig kerk is. (ecclesia completa) Die NG Kerk Tsumeb is dus ‘n selfstandige kerk van Jesus Christus onder Sy gesag onder leiding van die ampte met die Woord, gebruik deur die Gees as norm. (Dit beteken natuurlik nie dat ons volmaak is nie, maar wel dat ons ons Here in gehoorsaamheid probeer volg te midde van ons gebrokenheid.) As ander NG Kerke dwaal beteken dit nie dat alle NG Kerke dwaal nie! Dis wel baie hartseer as ander kerke in dieselfde verband of ander verbande die smal pad byster raak en dis ons plig om hulle dan op te roep tot bekering. 

5. Ek wil my dank betuig teenoor ds. Hector Jooste van NGK Otjiwarongo wat hom ook baie sterk uitgespreek het teen hierdie vreeslike daad van afvalligheid. Ek doen 'n nederige beroep op ander kerke en leraars om ook onbeskaamd standpunt in te neem teen alle dwaling en verval.

In Sy diens
Johannes de Koning

Naskrif : Lees gerus die reguit brief van Dr. Chris Saayman van NGK Tafelberg aan NGK Parke gemeente en die Ring van Durbanville. (Kliek op BRIEF)

Woensdag 10 Oktober 2018

ESEGIËL EN DIE SEISOEN VAN LUISTER


[Sekere teoloë en predikante in die NG Kerk verwys baie graag na die seisoen van menswaardigheid wat in die kerk afgekondig is. Dis onder andere ‘n seisoen van luister na die mens… Ek het ‘n ernstige vraag oor die eensydige beklemtoning en toepassing van hierdie beginsel, veral in die gay debat en goedpraat van dinge wat uitdruklik vir die Here 'n gruwel is. Vir ‘n gebalanseerde perspektief sal dit dalk baie gepas wees om te gaan kers opsteek by die roepingsgeskiedenis van die profeet Esegiël.] 



GEROEP AS WAG 

Esegiël ontvang ‘n roeping van God self. (Kyk gerus na Esegiël hoofstuk 2 en 3) Esegiël is deur God aangestel as ‘n wag vir die volk. 

Hierdie roeping is ‘n baie ernstige saak. Die taak van ‘n militêre wag was destyds om op die stadsmuur te staan en uit te kyk of ‘n vyand aankom. As daar dan gevaar op pad was moes hy op die basuin blaas om die mense te waarsku. (vgl. Eseg 33:1-6) Dit was uiteraard ‘n uiters verantwoordelike werk, dit kon die verskil tussen lewe en dood maak vir die mense in die stad! Nalatigheid aan die wag se kant kon natuurlik ook skrikwekkende gevolge vir homself inhou – teregstelling! 

Die taak wat Esegiël van God ontvang is eweneens om mense te waarsku. 

Dit het ‘n dubbele fokus gehad: 

Goddeloses moes gewaarsku word dat hulle onder God se oordele sou sterf as hulle hul nie bekeer nie. “As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe--en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddeloosheid en van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered." (3:18-19 OAV) 

Dis egter nie al nie! Regverdiges moet ook gewaarsku word om nie die regte weg te verlaat nie. "En as 'n regverdige hom van sy geregtigheid afkeer en onreg doen, en Ek 'n struikelblok voor hom gooi, dan sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterwe, en aan sy geregtigheid wat hy beoefen het, sal nie gedink word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis." (3:20-21OAV) 

Net soos in die geval van ‘n militêre wag het die opdrag van God ook vir Esegiël persoonlik ernstige implikasies gehad. As Esegiël sy opdrag versuim, sal die skuldiges sterwe, maar God sal van hóm rekenskap eis! (18,20 OAV) “maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.” of “maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood.” (NAV) 

Esegiël moes besef, hier word geen ruimte gelaat vir skouers optrek nie, vir luiheid en laksheid nie, vir mensevrees nie... dis ‘n Goddelike bevel en as hy ongehoorsaam is gaan dit bitter ernstige gevolge vir ander sowel as homself inhou. 

AL SIT JY OP SKERPIOENE! 

Aan die ander kant as Esegiël gehoorsaam is, sal hy sy eie lewe red, of die mense nou na hom wil luister of nie! Trouens, die Here het Esegiël duidelik voorberei vir die moontlikheid dat mense nie na sy boodskap van waarskuwing sal wil luister nie. "Dit is moedswillige en hardkoppige mense na wie toe Ek jou stuur. Jy moet vir hulle sê wat Ek, die Here God, sê, of hulle luister of nie, want hulle is ‘n weerbarstige volk, maar hulle sal agterkom dat daar ‘n profeet tussen hulle is. En jy, mens, moenie vir hulle bang wees nie, ook nie vir wat hulle sê nie, al stuit jy op weerstand, op dorings, al sit jy op skerpioene. Moenie bang wees vir wat hulle sê nie, moenie vir hulle skrik nie. Hulle is ‘n weerbarstige volk." (2:4-6) 

(En is daar nie baie skerpioene in ons dag nie! ‘n Hele verskeidenheid van liberale teoloë, gay aktiviste en die bewakers van sogenaamde menseregte se angels is baie skerp...)


EET DIE BOEK! 

Wat ‘n geweldige taak, wat ‘n ontsaglike verantwoordelikheid! Gelukkig het God eers opleiding gegee. God self het die profeet voorberei. (2:9-3:4) Hy moes GOD se Woord sy eie maak! Dit word deur ‘n treffende metafoor uitgebeeld. “Die stem het vir my gesê: "Mens, eet wat voor jou is, eet hierdie boekrol en gaan praat met die mense van Israel. Ek het my mond oopgemaak, en die Here het my die boekrol laat eet.” (3:1,2) 

Hy moes na GOD LUISTER! (Hy moes nie eers by die mense hoor wat hulle graag sou wou hoor nie!) God bepaal die profeet se boodskap, nie die mens se begeertes, behoeftes, voorkeure of “oriëntasie” nie! Oor die inhoud van Esegiël se boodskap kon daar geen onduidelikheid wees nie! “Toe sê Hy vir my: "Mens, gaan na die mense van Israel toe en sê vir hulle wat Ek sê.” (3:4) 

Esegiël het ‘n intense seisoen van luister deurgemaak! Hy moes in die eerste plek na God luister! 

Esegiël het sy boodskap so by God gekry! Natuurlik het dit nie beteken dat Esegiël vervreemd en verwyderd was van sy gehoor nie. Hy het immers sewe dae tussen hulle gaan sit! (3:15) Sy boodskap het hy egter nie by die geleerdes en aktiviste van sy dag gekry nie, maar by GOD! 

DIE PROFETIESE TAAK VAN DIE NUWE TESTAMENTIESE KERK 



Wat is die implikasies van Esegiël se opdrag vir ons? Natuurlik het Esegiël in unieke tye en omstandighede opgetree, maar hier is duidelik ook tydlose beginsels wat na ons as Nuwe Testamentiese kerk deurgetrek kan word: 

Jesus self is God se finale profeet wat ons kom waarsku en opgeroep het tot bekering. Die amp van profeet is deur Jesus vervul en vervolmaak. So klink sy boodskap reeds helder aan die begin van sy bediening : “Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 1:14,15) Juis omdat Jesus sy profetiese taak met waarheid uitgevoer het en geen doekies omgedraai het nie, is Hy gehaat en verwerp! Hy verklaar : "Die wêreld kan vir julle nie haat nie; maar hy haat My, omdat Ek openlik verklaar dat sy dade sleg is." (Johannes 7:7)

Ons wat aan Jesus behoort moet nou Jesus se profetiese amp voortsit na sy hemelvaart. “"Vrede vir julle!" sê Hy weer vir hulle. "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook." (Johannes 20:21) As gemeente gesamentlik maar ook as individue het ons die onontkombare profetiese roeping. Niemand, geen gemeente, geen gelowige durf hierdie Goddelike bevel ignoreer nie! Natuurlik gebruik Hy elkeen volgens sy eie gawes en persoonlikheid. 

Soos Esegiël moet ons nie ons eie boodskap of die samelewing se grille of giere verkondig nie, maar slegs God se Woord. By wyse van spreke; ons elkeen moet die boekrol eet! Ken jy die Woord? Die kerninhoud van die Woord is natuurlik Jesus Christus self. Ons hoofboodskap is dus : Bekeer jou tot die gekruisigde en opgestane Jesus en jy sal lewe, so nie sal jy sterwe! Jesus is hier om te red, maar pasop, moenie die duisternis so liefhê dat jy weier om na die Lig te kom nie! (Vgl. Johannes 3:17-21)* Ons profetiese roeping word gedefinieer deur die evangelie. Dis die Goeie Nuus van God se verlossingswerk deur Jesus, maar ons moet dit ook duidelik stel dat diegene wat die evangelie verwerp onder die toorn en wraak van God sal deurloop. 

Soos in die geval van Esegiël rus daar ‘n skrikwekkende verantwoordelikheid op ons. Ons profetiese roeping het te make met die ewige bestemming en lot van die mense na wie die Here ons stuur! God stuur jou met ‘n duidelike doel na mense en wat hulle met daardie boodskap gaan maak, gaan hulle ewige toekoms bepaal. 

Soos Esegiël sal ons verantwoording moet doen oor die uitvoering van ons profetiese opdrag! Dit klink asof die apostel Paulus baie bewus was van die erns van sy opdrag en dat hy hierdie opdrag aan Esegiël in sy gedagte gehad het te hy afskeid geneem het van die ouderlinge van Efese… “Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.” (Handelinge 20:26,27 OAV) 

Ons elkeen wat waarlik aan Jesus behoort het ‘n profetiese roeping om die evangelie na ander uit te dra en mense uit te nooi om voor Jesus te buig. Die keersy van die evangelie, God se toorn moet ook verkondig word! Ook binne die kerk rus die verpligting op ons om te vermaan tot getrouheid en heiligmaking. Wat ons met hierdie roeping maak het ingrypende gevolge, vir die mense na wie toe ons gaan, maar ook vir ons self!



* God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 

Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 

En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 

Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 

Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is."




Vrydag 05 Oktober 2018

GOD KIES

Gelukkig nie soos ons sou kies nie! 

Verlede Sondag het ons gekyk na die aangrypende beskrywing van God se liefde in Hosea 11. Dink veral vers aan 8 : “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.” Een van die katkisante het na die tyd in die klas toe ‘n baie slim en diep vraag gevra: “Hoekom het God vir Israel so lief? Hoekom vernietig Hy ander volke, maar nie vir Israel nie?” Anders gesê: “Hoekom is Israel so spesiaal, wat maak hulle nou juis so besonders?” 

Die antwoord kry ons onder andere baie duidelik in Deuteronomium 7. Een saak is duidelik : God self het Israel uitgekies. 

Nou is daar twee vrae wat ons kan vra:
1.Wat is God se doel met hierdie verkiesing? Waartoe? 
2. Wat is die grond, die rede waarom Hy juis Israel gekies het en nie ‘n ander volk nie? Waarom? 

WAARTOE? 

Die antwoord is baie duidelik in vers 6. “Jy is ‘n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees.” Hierdie volk moet afgesonder/heilig wees vir God. God het hulle spesiaal gekies om sy besondere eiendom te wees tussen al die volke van die wêreld. Dit was sy doel hoekom Hy hulle uit Egipte gered het. God het dit reeds vir hulle gesê by die berg Sinai waar die wet sou gee. “‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." (Eksodus 19:4-6) 

Hier in Deuteronomium word die volk nou net weer aan hierdie waarheid herinner, want hulle moet nou Kanaän binnegaan en Kanaän was vol van nasies wat die allervreeslikste afgodery en gruwels bedryf het! Nou wil God hulle as’t ware net weer herinner : Onthou wie julle is, julle is spesiaal afgesonder vir my, hou julle rein, moet niks met die gruwelike praktyke van die Kanaäniete te doen hê nie! Daarom die ernstige waarskuwings in vers 3-5. “Jy mag nie met hulle ondertrou nie: jou dogter mag jy nie aan een van hulle seuns gee nie en vir jou seun mag jy nie een van hulle dogters as vrou vat nie,want hulle sal jou kinders wegrokkel van die Here af en hulle sal ander gode dien. Dan sal die toorn van die Here teen jou ontvlam en Hy sal jou gou uitdelg. "Maar wat jy met die nasies moet doen, is dit: breek hulle altare af, breek hulle klippilare stukkend, kap hulle gewyde pale in stukkies en verbrand hulle afgodsbeelde.” (Terloops hierdie opdragte het niks met ras te doen nie, maar als met heiligheid!) 

WAAROM? 

Waarom het God nou juis Israel gekies? Vers 7. “Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal.” God het Israel uitgekies net omdat Hy wou en Hy hulle liefgehad het! Israel het geen spesiale prestasies of eienskappe gehad wat hulle aantreklik gemaak of vir spesiale behandeling laat kwalifiseer het nie. Dink maar aan die bekende antieke volke : Die Sumeriërs met hulle ou beskawing en skryfkuns, die Egiptenare met hulle bouwerk en piramides,  later die Grieke met hulle filosofie en wysheid, nog later die Romeine met hulle beskawing en militêre suksesse... En Israel? Wat het hulle bereik? ‘n Klein nomadiese stammetjie van veeherders wat toe in Egipte beland en slawe geword het vir 400 jaar! Dis duidelik : God kies nie soos mense kies nie. 

God kies nie volgens prestasie of menslike maatstawwe nie. God kies nie “die cream vir die team” nie!

EN NOU? 

Moet die Goddelike uitverkiesing vir Israel agteroor laat sit en laat redeneer : “Gelukkig die Here, het ons lief, so ons kan maar leef soos ons wil!” NEE! “"Weet dan nou: die Here jou God, Hy is God. Hy is die betroubare God wat sy verbond in stand hou en sy troue liefde betoon tot aan die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam, maar Hy straf elkeen wat Hom haat, Hy bring hom om, Hy laat nie na om elkeen wat Hom haat, te straf nie. Daarom moet jy die gebod, die voorskrifte en die bepalings wat ek jou vandag gegee het, gehoorsaam deur daarvolgens te lewe.” (Deut 7:9-11) 

Die liefde en uitverkiesing van God moet as aansporing dien tot heiligheid en gehoorsaamheid! 

Hoe raak dit alles nou vir ons? Eers moet ons vra : Wie is vandag se uitverkore volk? Dis nog steeds Israel. Maar wie is nou Israel? Almal wat aan Jesus Christus behoort! Galasiërs 3:7 is baie duidelik : “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.” Jode en nie-Jode wat aan Jesus glo is nou deel van God se uitverkore volk. 

Wat is die doel van ons uitverkiesing? Nog steeds om spesiaal, heilige en afgesonder te wees vir God! Luister bietjie hier : “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees." (Efesiërs 1:3-5) 

Hoe kies God in ons dag? Hy kies nog steeds nie volgens prestasie, afkoms of belangrikheid nie! Paulus herinner die Christene in Korinte daaraan. 

 “Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. 
En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie.” (1 Korintiërs 1:26-29) 

Kom ons sê dit weer. God kies dus nie noodwendig die goeies, mooi, sterkes, rykes, belangrikes, slimmes... nie! Hy kies volgens sy genade! Hy kies sondaars... alle soorte sondaars : dronkaards, diewe, egbrekers, homoseksuele, pedofiele, plaasmoordenaars en selfs skynheilige kerkmense! Hy kies diesulkes om nou heiliges te wees! (Kliek - Getuienis van ‘n homoseksuele pedofiel) 

Die leer van die Goddelike uitverkiesing onderstreep net dat ons redding heeltemal uit genade is, sonder enige verdienste van ons kant af. Daarom, alle eer aan HOM!   Wat ‘n groot troos! Want as Christenskap oor prestasie gegaan het, wie sou ‘n kans gestaan het? Dan was daar geen goeie nuus in die Bybel vir sondaars nie. 

Die waarheid van die Goddelike guns en uitverkiesing is nie ‘n stuk studeerkamer teorie nie. Dit behoort nie die onderwerp van lang debatte te wees nie, maar die stimulus tot toewyding. Dit maak ‘n verskil in die lewens van die uitverkorenes. Die leer van Goddelike uitverkiesing uit genade alleen moet dien as kragtige aansporing om heilig te leef! Is dit duidelik uit jou gewoontes, taalgebruik, leefstyl, ontspanning en toewyding dat jy ‘n afgesonderde uitverkorene van God is? Wys jou vergifnis aan ander en jou liefde vir die Here dat jy dankbaar is vir sy onverdiende guns oor jou lewe?

IS JY REGTIG DANKBAAR EN OPGEWONDE OOR GOD SE ONVERDIENDE GUNS? 



Vrydag 07 September 2018

LGBTQI+ en wat nog?

Dis met diepe skok en ontnugtering dat ek die artikel van Prof. Nadia Marais in DIE KERKBODE getiteld, "Jesus diskrimineer nié", gelees het. Die konteks is die gay debat wat nou weer in die kollig geplaas is deur die hofsaak wat deur ‘n groep ontvrede lidmate gemaak is om die 2016 sinodebesluite ongedaan te maak. 



Nadia verwyt die kerk en skryf o.a. in haar betoog soos volg : 



“Ons diskrimineer beide op grond van seksuele oriëntasie én op grond van gender wanneer ons selfdegeslagverhoudings verbied in die kerk. Trouens, gender is onlosmaaklik deel van die debat. Ons definieer die huwelik immers by herhaling deur na gender te verwys: een man en een vrou. Diskriminasie teen LGBTQI+ persone in selfdegeslagverhoudings is daarom ook ʼn vorm van gendergebaseerde geweld.” 


Sy wil dus beweer dat wanneer ons in getrouheid aan die Woord, sodomie en sogenaamde selfdegeslagverhoudings afkeur en mense in hierdie konteks tot bekering oproep, ons eintlik besig is met diskriminasie en nog erger, geweld! Sy berei eintlik die weg hier voor vir die kriminele vervolging van mense wat aan God se Woord getrou wil bly! 'n Baie verontrustende wending...!

Haar hele betoog is dat Jesus teen niemand diskrimineer nie. Sy noem dan byvoorbeeld iemand soos Saggeus, die belastingontduiker! Sover stem ek natuurlik heeltemal saam. Ek het self al dikwels oor Saggeus gepreek om die absolute nie-diskriminerende genade van Jesus uit te wys. Jesus het gaan oorbly by die slegste ou op die dorp, en dit gee inderdaad hoop vir sondaars, waaronder ekself! Wat Nadia egter verswyg is dat Saggeus deur Jesus se ontmoeting verander is! Hy het nie ‘n gierige skelm gebly nie, want wie genade ontvang soos hy kan nie anders as om nuut te word en die rug op jou ou leefstyl te draai nie. 

Natuurlik is God se genade net soveel bedoel vir LGBTQI+ mense (elke keer as ek weer sien kom daar nog ‘n letter by, ek wonder hoekom noem hulle nie maar die groep sommer A-Z nie?) soos vir alle sondaars! Daar is genade vir moordenaars, maar beteken dit ons moet sê dis reg hulle kan maar aanhou moor? Daar is genade vir pedofiele, kannibale, diewe, skynheiliges... maar beteken dit ons moet dit goedkeur dat hulle met hulle leefstyl onverhinderd voortgaan as lidmate van Jesus se kerk? En nog erger moet die kerk sover gaan om hierdie slegte dade goed te praat en amptelik te seën (soos wat die gay aktiviste soos Nadia wil hê)? Nadia en haar mede aktiviste is immers luidkeelse voorstanders van die siening dat die kerk amptelik sogenaamde selfdegeslagverbintenisse moet bevestig. 

Nadia is ‘n professor in Sistematiese Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Haar denke is alles behalwe sistematies en haar teologie kom uit alle bronne behalwe die Bybel. Ek sidder om te dink dat mense soos sy ons nuwe geslag predikante moet vorm, ek bedoel vermink! 

Nadia, ons moenie God se genade as vanselfsprekend aanvaar nie. Sy genade word nooit in die Skrif buite die konteks van sy heiligheid geplaas nie. Wanneer dit gebeur, maak ons die fout van Ussa. (kliek) Genade gee ons nie 'n vrypas om God te tart nie!

Nadia se manier van redeneer is gevaarlik! Dit bedreig die heiligheid van die kerk, maar ook gewetensvryheid as sodanig! Dis juis die liberaliste wat die grootste vervolgers van Jesus se kerk gaan word!

Saterdag 01 Oktober 2016

ANGLIKANE NEEM STANDPUNT IN...

Op NG Sinodes word daar dikwels gemaan dat ons tog na ander kerke moet luister wat betref selfdegeslagverhoudings. Hierdie argument is 'n gunsteling van die pro gay agenda aktiviste... (Asof die meerderheid kerke ingekoop het by die selfdegeslag huwelik standpunt...) 'n Mens kan net hoop dat daar kennis geneem sal word van die Anglikane van Suider Afrika se onlangse besluit veral in die lig van die komende spesiale Algemene Sinode van die NGK in Oktober. (Sien Media24 berig hieronder.) Ook in hierdie denominasie is daar sterk verdeeldheid oor die saak. Gelukkig het hulle nie geswig vir die Kaapse liberale in hulle geledere nie... Tog is dit ook baie duidelik dat die voorstanders van kerklike sanksionering van gay verbintenisse nie gaan tou opgooi nie...

Thabo Makgoba (Netwerk24)
·          
Cape Town - The Anglican Church of Southern Africa has rejected a proposal to allow "prayers of blessing" to be offered for people in same-sex civil unions under South African law.
In a statement released on Friday evening Archbishop Thabo Makgoba said 16 bishops voted against the proposal while six were in favour.
Sixty-two percent of the lay representatives to the synod (church council) voted against the proposal, while 55% of the clergy also voted against it.
The vote was taken by the church's top legislative body, the provincial synod, following a proposal which was brought by the Diocese of Saldanha Bay - which stretches from the northern suburbs of Cape Town to the Namibian border.
Before announcing the results to the church, which includes Anglicans in Angola, Lesotho, Mozambique, Namibia, South Africa, Swaziland and on the island of St Helena, Makgoba said the process had left a "palpable pain" within the church.
"If one is pained and hurt, it pains me too and I have learned as a priest that there are no losers or winners in the kingdom of God.”
Further discussion

"The pain on both sides is palpable and tangible and the image of a double-edged sword pierces me," he said.
Makgoba said "all was not lost" however, as the matter could be taken up again at the next provincial synod in 2019.
The church could also consider raising it at the next worldwide meeting of Anglican bishops in 2020, he added.
In the meantime the church could continue to discuss the matter at a local level in parishes and dioceses "so that we can continue to discern together the mind of God," he said.
Part of the proposal also included a motion that bishops provide for clergy who identify as LGBTI and are in legal same-sex civil unions to be licenced to minister in parishes.
However, this section of the proposal was withdrawn by the proposers before the debate began, he said.

Sondag 17 Januarie 2016

HIER BO IN DIE NOORDE...

het die Ring van die Noorde van die NGKN vergader.



Die feit dat die AS van die NGK se besluite oor selfdegeslagverhoudings (wat o.a. voorsiening maak vir die bevestiging van praktiserende homoseksuele predikante op die kansel) na verskeie appèlle effektief vir twee jaar uitgestel is, het nog nie die bedreiging van hierdie dwaling afgeweer nie. Sekere teoloë beywer hulle nog steeds baie sterk vir die invoer van hierdie afwykende beskouings.


Daarom is dit verblydend en 'n groot bemoediging vir evangeliese Christene dat die Ring van die Noorde van die NG Kerk in Namibië hierdie AS besluit verwerp het op haar vergadering van 16 Januarie 2016 te Otjiwarongo. Twee gemeentes te wete Tsumeb en Otjiwarongo het die buitengewone sitting aangevra. 

Die Ring van die Noorde het ook 'n beskrywingspunt opgestel ter voorlegging aan die komende sitting van die NG Kerk in Namibië se sinodesitting in Maart.

Die besluite van die Ring van die Noorde is soos volg:

1. Die Ring van die Noorde verwerp die besluite van die Algemene Sinode 2015 oor selfdegeslagverhoudings en handhaaf die besluite van die AS van 2013 en vroeër rakende selfde-geslag-verhoudings.

2. Die Ring van die Noorde stuur die volgende beskrywingspunt na die eersvolgende sinode van Namibië (18 tot 21 Maart 2016):

Beskrywingspunt na Namibiese sinode 2016

In die lig van die ontsteltenis en besware van talle gemeentes in Namibië oor die Algemene Sinode se besluite oor selfdegeslagverhoudings besluit die sinode van die NG Kerk in Namibië om:

2.1. Die besluite van die AS 2015 oor selfdegeslagverhoudings te verwerp en die besluite van die AS van 2013 en vroeër rakende selfdegeslagverhoudings te handhaaf.

2.2 ‘n beroep te doen op die volgende Algemene Sinode om die besluite oor selfdegeslagverhoudings 2015 te herroep in die lig van die getuienis van die Skrif en die belydenisskrifte.

2.3. sy teenkanting uit te spreek oor die wyse van Bybelgebruik op die AS 2015 wat aanleiding gegee het tot die besluite oor selfdegeslagverhoudings deur die Algemene Sinode van 2015 en te vra vir ’n herbesinning oor ons kerk se maniere van omgaan met die Bybel.

2.4. in die lig van bogenoemde ‘n kommissie aan te wys om dringend oor alternatiewe teologiese opleiding op eie bodem te besin.

2.5. ons kerkverbandelike verhoudings te heroorweeg.

2.6. aan te beveel by die AS om besluite oor selfdegeslagverhoudings te verwys na al die kerkrade in elke sinodale streek vir hantering en goedkeuring of nie nadat die appélle afgehandel is.

Kommentaar (myne) : Die enigste manier hoe die NGKN binne die huidige opset nog getrou aan Christus en sy Woord kan wees, is as die Algemene Sinode tot bekering kom en hulle besluit van 2015 oor selfdegeslagverhoudings herroep. Indien dit nie gebeur nie, is ons enigste alternatief om ons hier in Namibië los te maak van die Algemene Sinode van die NGK (uit die verband te tree) en net so belangrik is dat ons alternatiewe Bybelgetroue opleiding aan voornemende predikante sal bied. (byvoorbeeld deur by NETS in te skakel)




Sondag 18 Oktober 2015

GAY DEBAT - ESSENSIE

Prof Jan van der Watt wys wat regtig op die spel is in die gay debat.

Dit gaan eintlik oor net een kernsaak : BUIG ONS VOOR GOD SE WOORD OF NIE?


[Prof van der Watt is 'n uiters knap akademikus, wat voorheen by Tukkies klas gegee het. Tydens die Universiteit van Pretoria se 100 jarige bestaansviering is hy benoem as een van die 100 mees invloedryke akademiese denkers van die universiteit! Ek het ook NUWE TESTAMENT by hom gehad.]

Kliek op die "clip" hieronder.





As jy meer wil weet... Daar is persone wat met slim verduidelikings oor die Griekse woorde veral malakoi en arsenokotai wat byvoorbeeld in 1 Kor 6:9-11 gebruik word die duidelike Bybelse NEE vir homoseksuele gedrag in 'n JA wil verander.  Prof van der Watt verduidelik baie mooi wat hierdie woorde beteken. Kliek op VAN DER WATT (dis 'n skakel na die derde video in die reeks)

Woensdag 15 Julie 2015

VER GEVORDER?

'n Koerantopskrif beduie vir ons dat die NG Kerk al ver gevorder het omdat 'n gay egpaar se kinders gedoop is.  Die leraar en gemeente "vorder" nie net met die nuwe siening van wat huwelik is nie, daar word ook "geworstel" met die manlike metafore oor God. Dit blyk dat ons nou ook 'n nuwe siening van God moet akkommodeer! Vordering is seker 'n goeie ding wat verwelkom moet word, maar alles hang af van die rigting waarin gevorder word. In hierdie geval blyk dit "vordering" weg van die Skrif te wees...  Lees maar self by VER GEVORDER en beoordeel dit vanuit die Woord.

Nee, liewe leraar/s, om mense te sus wat op die verkeerde pad is, is nie vordering nie en ook nie liefde nie!

In Maleagi spreek God vreeslike oordele oor die priesters uit. God is moeg vir hulle geknoei en ontrouheid... Een van die redes wat uitgelig word is die volgende:

"Julle het die Here moeg gemaak met wat julle gesê het, en dan vra julle nog: "Waarmee het ons Hom moeg gemaak?" Julle het dit gedoen toe julle gesê het: "Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle," of toe julle gevra het: "Waar is die God wat reg moet laat geskied?" (Maleagi 3:17)

Nee, God wil nie hê ons moet mense paai terwyl hulle op die verkeerde pad is nie, ons moet mense laat afsien van hulle sonde (Maleagi 3:6), terwyl ons waak om nie in dieselfde slaggate te val nie.

Dis nie leraars se taak om almal te laat goed voel of agter die meerderheid en gees van die tyd aan te praat nie, maar om God se volk, SY WIL te leer!

"‘n Priester moet met kennis kan praat, daar word verwag dat hy die volk sal kan leer wat my wil is, want hy is ‘n boodskapper van die Here die Almagtige." (Maleagi 3:7)

Leraars wil nie meer iets verkeerd noem nie! Te hoflik en kruiperig! Netnou neem die mense aanstoot en weerhou hulle hulle bydraes...

Hoe voel God oor hierdie houding?

"Sy priesters verkrag my wet en ontheilig my heilige dinge; tussen heilig en onheilig maak hulle geen onderskeid nie, en die verskil tussen onrein en rein gee hulle nie te kenne nie;..." (Esegiël 22:26)

Kom ons keer terug na God en sy Woord, dan sal ons ook met ware liefde die regte pad kan aanwys. Laat ons maar eerder erken, dat ons ver afgedwaal het. Laat ons vorder in die vrees van die Here!