BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Koppies in die Vrystaat. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Koppies in die Vrystaat. Wys alle plasings

Vrydag 13 April 2012

TWEE JAAR OP TSUMEB


- “ek is al U gunsbewyse nie werd nie!”

Hoe vinnig knibbel die tyd aan ’n kalender. Die kalender wat sê dat ons nou (April 2012) al twee jaar hier op Tsumeb is!  En vir my is dit boonop ook weer twee jaar van wonderlike terugwees in my besondere geboorteland.  Ek wil sommer net hier reg aan die begin vir al die Tsumebmense (en spesiaal almal in die gemeente) sê : Ons as gesin is almal baie gelukkig hier!  Vir die wat dalk wonder... Ek voel (en my vrou sekerlik nog meer so) ek het nou genoeg geswerf ... Pretoria... Rundu... Waterval-Boven... Vereeniging... Koppies...  Bray... Tsumeb!

Soos almal weet het ’n trekkery oor ’n landsgrens maar ’n kwota administratiewe en logistiese hobbels om oor te kom. Ons was geen uitsondering nie!  Dit was vorms, vertragings en veral frustrasies... Maar dit daar gelaat. Die seëninge oortref die ongerieflikhede by verre! 

Die saak van seëninge voer my gedagtes na die aartsvader Jakob se geskiedenis terug. Verskoon my die vergelyking. Maar ek dink tog dat ek aspekte van my omswerwings  gereflekteer sien in Jakob van die Bybel se veelbewoë wedervarings. Vergun my maar om ’n bietjie soos Jakob te voel met sy aankoms in  Kanaän. Julle weet mos dat Jakob vir Esau gevlug het en as enkeling daar by sy ma Rebekka se broer, Laban aangeland het. Heelwat jare later, met sy terugkeer na Kanaän bid Jakob tot die Here en sê onder andere :

 “Ek is al U gunsbewyse nie werd nie, ook nie die trou waarmee U my versorg het nie. Toe ek destyds deur die Jordaan is, het ek net my kierie gehad, en nou het ek hierdie twee groot groepe.”  (Genesis 32:10)

Dit is inderdaad my belewenis! As eensame enkeling het ek  in 1998 oor die Oranjerivier verhuis en in 2010 kon ek as geseënde man van ’n wonderlike vrou en pa van twee pragtige meisiekinders terugkeer na Namibië. Maar toe kom daar sommer nog ’n bonus by : die geboorte van Natanie Vreugde in Januarie 2011! Soos dit heel dikwels met seën en verrassings die geval is, was dit ook nie sonder pyn nie, maar ons kan die Here waarlik dank vir hierdie gesonde dogtertjie wat tot ons gesin toegevoeg is.

Natuurlik, ons ware rykdom bestaan nie uit kinders nie (al is hulle baie kosbaarder as enige aardse besitting!) maar uit die oorvloedige rykdom van God se genade wat Hy oor ons uitstort deur Jesus Christus! (Efesiërs 1:7) Uit hierdie rykdom van genade ontvang ons volkome vergifnis en word ons herstel om gelykvormig aan Jesus te word. ‘n Deel van hierdie genade en barmhartigheid behels ook die voorreg om die Woord van God te kan bedien hier op Tsumeb. Mag die Here ons altyd hieraan herinner, want dit sal verhoed dat ons moed opgee. In 2 Korintiërs 4 (die hoofstuk waaruit ek my intreepreek in Tsumeb gelewer het) stel Paulus dit so treffend (vers 1) :

“God het Hom oor ons ontferm 
en hierdie bediening aan ons opgedra. 
Daarom word ons nie moedeloos nie.” 

Dis so nodig om hierdie waarheid gedurig  voor oë te hou, want die bediening van die Woord is nooit ‘n  gelykpad nie. Geleenthede en oop deure loop dikwels parallel met teenstand en stryd. Paulus sê  oor sy bediening in Efese : “hier staan ‘n groot en belangrike deur vir my oop, maar hier is ook baie teenstanders.” (1 Korintiërs 16:9) Met blydskap kan ek egter getuig dat die Woord harte aanraak. Daar is bemoedigende druppels van seën; mag die Here in sy genade vir ons nog die strome ook skenk!

Kort na ons aankoms hier op Tsumeb het ek papajapitte geplant. Een van die bome het besonder mooi gegroei en het op die oomblik ’n pragtige drag vrugte. Bid asseblief vir ons en die gemeente as geheel, dat God ons deur sy genade instaat sal stel om oorvloedige vrug tot sy eer te dra!





Aan al ons vriende uit ons Suid-Afrikaanse verlede : Julle is baie welkom om te kom kuier. Ons het so pas ’n lekker weersiens beleef toe Johan en Marie van Zyl van die Vrystaat (saam met Lettie en Christelle)  hier kom oë wys het. So kon ons weer op datum kom met Koppies se mense en dinge!

Lettie, Christelle, Marie en Johan van Zyl.



En aan almal wat ver van die Afrika son, waar ookal in die wêreld julle roeping uitleef : Dis so lekker om via die moderne tegnologie ook iets van die sonskyn van God se genade met julle te deel! En dis altyd aangenaam om van julle te hoor. Ons het bemoediging van julle kant af net so nodig!

SAAM OPPAD NA ONS HEERLIKE BESTEMMING!

Donderdag 15 Desember 2011

KOSBARE TYE OP KOPPIES

Hierdie is sommer net ’n kort getuienis oor die rykdom van God se genade in ’n moeilike, maar wonderlike tydperk in ons lewens. In 2005 het ons (ek, my vrou Jacolette en die twee dogters, Marisja en Jonette) na Koppies in die Vrystaat verhuis. Op hierdie stadium het nie een van ons ’n permanente voltydse werk met voldoende inkomste  gehad nie.  Voor die skuif na Koppies het ons ’n woonstel in Vereeniging gehuur, maar ek was van mening dat dit goedkoper en makliker sou wees om op die platteland te oorleef. Die Here het dit so beskik dat ons deur vriende van ons genooi is na ’n kerkdiens op Koppies (van ds. Etienne Maritz) en ons het sommer dadelik van die lekker plattelandse atmosfeer gehou. ’n Ander plan vir goedkoper verblyf naby Vereeniging het genadiglik deur die mat geval en ons het toe ’n klein huisie op Koppies gekoop. Huise was destyds spotgoedkoop. Die huisie in Rosenlaan 11 was baie klein en gebars, maar vir ons was dit soos ’n stukkie hemelse verkwikking na ’n baie moeilike tyd in ons lewens. Ons goeie vriend Francois Bloem het vir ons die huisie reggemaak. Ons het dit veral geniet om in die tuin te woeker! Dit was vir my ’n groot lekkerte om mielies, boontjies, ertjies ens. te plant en te oes! Wat ’n heerlike gevoel, om te weet, al is die plekkie hoe klein en eenvoudig, dis ons s’n!

Die groot les wat ek in Koppies geleer het was
die vreugde van eenvoud!

Ons het ryk en vol lewens gehad in hierdie eenvoudige omstandighede. Ons het selfs gaste in ons huisie ontvang en sommer baie mense leer ken. Ek het ’n deeltydse afleweringswerkie gekry by ’n boer wat veral bokmelkprodukte vervaardig het. Dit het beteken dat ek moes rondry van een besigheid na die ander in Johannesburg en Pretoria! Dit was ’n nuwe ondervinding van ’n wêreld wat vir my vreemd was. En beslis het dit nie elke dag maklik gegaan nie. Tog het die Here in alle benoudhede uitkoms gegee!

Ek het uit ’n sendinghuis gekom waar ons dit reeds as kinders beleef het, hoe God op wonderlike maniere ons ook materieël versorg het. Nou kon ek en my gesin dit self ook eerstehands ervaar dat God ’n God is wat sorg! Dikwels ook onverwags en op verrassende wyse! Natuurlik het Hy wonderlike en kosbare mense hierin gebruik. Maar ook indirek. Vir ongeveer vier jaar het ons nie ’n mediese fonds gehad nie. In hierdie tyd het ons dit ook nooit nodig gekry nie! Die NG Gemeente Koppies-Weltevrede was vir ons baie goed en ons het dadelik daar ingeskakel. Ek het ook gereeld preekbeurte gekry, waarvoor ek ruim vergoed is!

Ds. Maritz het my gehelp en aangemoedig in my poging om weer predikantstatus in die NG Kerk terug te kry. Dit is ook weer ’n verhaal op sy eie! In Oktober 2005 het ek voor die Vrystaatse Moderamen en Sinode verskyn met die oog op hertoelating in die NG bediening. Dit was ’n moeilike en spanningsvolle tyd. Maar nadat die Sinode my aansoek tot die bediening goedgekeur het, het daar nog ’n onverwagse skok op my gewag. Ek moes toe eers uitvind dat die verpligte Colloqium Doctum behels dat ek ’n bestek van voorgeskrewe werk in al die teologiese vakdissiplines moes voorberei om daaroor geëksamineer te kon word. Ek was salig onbewus daarvan. Ek was onder die indruk dat die Colloqium Doctum slegs ’n ondersoekende gesprek was. (dit was wel voorheen so) Die eksaminering sou in November plaasvind. Indien ek dit sou misloop sou ek tot November 2006 moes wag. Die tyd was egter hopeloos te min om gereed te kon wees. Op die 9 de November het ek finaal geweet dat ek maar sou moes wag vir die volgende jaar! Alles is dus nou met ’n jaar uitgestel! Die volgende oggend (10 Nov 2005) spreek die Here my so wonderlik aan deur Oswald Chambers se dagboek, “My Allerbeste vir Sy Allerhoogste”. Ek lees onder andere : “Solank as wat jy nog jou eie belang en ambisie nastreef, kan jy nie volkome met God se belange identifiseer of vereenselwig word nie. Dit kan slegs verkry word deur vir eens en altyd af te sien van al jou persoonlike planne en om God toe te laat om jou heeltemal op te neem in sy plan vir die wêreld.” En dan ’n ent verder.... “Ek behoort nooit te sê : ‘Here, hierdie ding breek my hart’ nie.” Die Here het my hierdeur groot berusting gegee en ek toe maar die volgende jaar begin boeke bymekaarkry en weer gestudeer. Die eksamen in 2006 het toe besonder goed afgeloop en ek is weer gelegitimeer.

Daarna het nog ’n hele paar maande verloop totdat ek in September 2007 op Bray in die NGK Onder-Molopo bevestig is. Oor daardie tyd sal ek miskien nog later skryf in BLYDSKAP EN BENOUDHEID OP BRAY.


    

 Marisja by die jong mielies in die agterplaas.                                                                                                                                         

Die huisie in Rosenlaan 11 van binne, voor dit reggemaak is.








Jonette by die groot mielies. Ek was baie trots op hierdie mielies!




Ons besoek die Vrouemonument in Bloemfontein.