BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket BLY BY DIE BYBEL. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket BLY BY DIE BYBEL. Wys alle plasings

Donderdag 07 April 2016

BLINDE BYBELLESERS

- mis die lewe en bly vir altyd in die duisternis!

“Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie” Wat ‘n skrikwekkende en hartseer verwyt wat uit die mond van Jesus persoonlik kom. Dis nog meer hartseer as mens besef dat hierdie mense wat nie na Jesus wil kom nie, nie kommuniste, terroriste, misdadigers, korrupte presidente, Moslems of bankrowers is nie, maar ja, hoor mooi, Bybellesers! Ernstige bekwame Bybellesers! Mense wat die Skrifte noukeurig ondersoek het, met ‘n bepaalde doel naamlik om die ewige lewe te verkry! Dis juis vir hulle wat hier deur Jesus uitgetrap word!

“Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig.
Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.” (Johannes 5:39,40)

‘n Paar praktiese waarhede en belangrike vertrekpunte kom hier na vore :

1.Nie almal wat die Bybel het, lees of selfs ken het al die lewe nie. 

Nie alle Bybellesers is kinders van God nie. Hierdie Jode was ywerige Bybellesers, hulle het groot respek gehad vir die heilige Skrifte, maar tog was hulle verlore. Paulus self was ‘n geleerde kenner van die Skrifte, maar voor sy ontmoeting met Jesus was hy ‘n verlorene en vyand van die waarheid! Dis moontlik om ‘n doktorsgraad in die teologie te verwerf en steeds die ewige lewe mis te loop!

2.Dis moontlik om baie dinge van die Bybel te ken, maar die kernboodskap mis te kyk. 

Wat is die kernboodskap van die Bybel in geheel? Wel , ons weet die Nuwe Testament gaan oor Jesus Christus, maar wat van die Ou Testament? In die Johannes evangelie is daar ‘n hele paar plekke wat dit direk of indirek duidelik maak dat die Ou Testament oor Jesus gaan. Kom ons kyk sommer wat word reg aan die begin van die Johannes evangelie al vir ons gesê in Joh 1:45. “Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: "Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef." (Vgl. ook Joh 2:21,22; 3:10; 5:45-46; 20:9) Ook in die ander evangelies maak Jesus dit baie duidelik dat die hele Ou Testament oor Homself gaan. (Lukas 24:27,44,45) Die Bybel is nie ‘n doel opsigself nie, die Bybel is God se Woord waardeur Hy ons wil lei na ‘n lewende verhouding met die lewende Jesus Christus.*

3. Die Bybel vertel ons van Jesus en as ons na Hom kom kry ons die lewe. 

- Jesus het gekom om vir ons die lewe te gee. Wat beteken dit? Om dit te verstaan moet ons net vinnig weer terug gaan na die tuin van Eden. Met die sondeval het daar skeiding gekom tussen ons en God. Soos wat die takke van ‘n boom afgebreek word en afgesny word van die bron van die lewe. Van nature is ons so afgesny. Dood is skeiding. Daarom kan ons net soos ‘n tak wat los is van ‘n boom, nie lewe nie, laat staan nog van vrugdra en groei. Daarom help dit nie om mense wat nie vas aan Jesus is se gedrag te probeer verander nie! ‘n Tak los van ‘n moederboom, sê nou maar ‘n mangoboom , sal nie vrugte dra nie, al doen jy wat. God het sy Seun Jesus na ons gestuur, nie om ons te veroordeel nie, maar om vir ons redding met ander woorde lewe te bring. Kom ons lees die bekende Joh 3:16, maar ook vers 17. “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.” Jesus het nie gekom om ons te veroordeel nie, maar as ons Hom nie aanvaar nie, dan bly ons in die dood, bly ons onder die oordeel van God.

- Kom na Jesus is die groot uitnodiging. Jesus het na ons gekom, maar ons word nou uitgedaag om na Hom te kom en so die lewe deelagtig te word. Dit was die groot fout van hierdie mense wat die Bybel wel geken het, hulle het ten spyte van hulle kennis geweier om na Jesus te kom. Hulle het Jesus dus nie aanvaar nie, nie aangeneem nie, nie waarlik in Hom geglo nie. Om Jesus aan te neem, om na Jesus te kom, om waarlik in Jesus te glo is presies dieselfde ding. Dis sinonieme in die Johannes evangelie. Die implikasie is: As jy Jesus nie aanneem nie, verwerp jy Hom en bly in die dood, as jy Jesus aanneem word jy ‘n kind van God en kry deel aan die ewige lewe. “Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” (Joh 1:11,12) Jesus verwyt hierdie mense met hulle Bybelkennis en al dat hulle nie na Hom wou kom nie. Waarom wou hulle nie na Hom kom nie en wat is vandag nog die kernrede dat mense nie na Jesus wil kom nie? Joh 3:19-21 gee vir ons ‘n duidelike antwoord. “En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is."

Let op : Dis ‘n morele rede, dit het niks met slimgeit of domgeit te doen nie. Jesus is die Lig en ‘n ontmoeting met Hom beteken ook dat ek gekonfronteer word met die werklikheid van my sonde. Hy is soos ‘n lig wat in ‘n vertrek skyn en al die stof en gemors uitwys. Dis die eintlike rede hoekom mense van Jesus wegskram, want hulle wil nie hê dat Jesus die verkeerde dinge in hul lewens ontbloot en hulle daarvan bevry nie! Maar onthou, Jesus laat die lig val op die verkeerde dinge in ons lewe, nie om ons te veroordeel nie, maar om ons te help. Dit laat mens amper dink aan ‘n kind wat kruppel loop, want daar’s ‘n doring in sy voet. Met groot liefde kyk ‘n pa na sy kind en wil hom help. Daar is net een manier om werklike hulp te bied, die doring moet uitgetrek word. Maar die kind is bang daarvoor. Dalk bang vir die pyn. Dalk bang vir ongemaklike vrae, want miskien het hy die doring opgetel toe hy een aand skelm uit die huis geglip en toe in die donker in die doring getrap... Die kind besef nie, sy pa wil hom nie veroordeel en uittrap nie, maar help... Maar solank die kind bang is om na sy pa te kom kan die probleem nie verwyder word nie. Waarom is jy bang om na Jesus te kom? Watter sonde is vir jou te kosbaar, wat bly steek jy weg? Moenie dwaas wees nie. Die weiering om na Jesus te kom, om waarlik in Hom te glo het skrikwekkende implikasies. “Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe." (Joh 8:24)

Vriend, Jesus wil jou nie veroordeel nie, maar red!

Geliefde, miskien ken jy die Bybel al baie lank. Jy ken al die verhale. Jy het moontlik selfs al ‘n Bybelstudie kursus of twee voltooi. Maar jy skram weg van Jesus. Jy het nog nooit die saak met Hom uitgemaak en jou vertroue kinderlik op Hom alleen gestel nie. So bly jy in die duisternis. Jy mis die lewe...nou en ewig. Hy nooi opnuut : “Kom” En Hy gee vir elkeen wat kom ‘n wonderlike belofte. “"Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” (Joh 6:37)

Waarom nie sommer nou jou kinderlik in die arms van Jesus werp nie??

*Dis daarom ‘n skreiende skande dat daar op teologiese fakulteite geleer word dat Jesus nie in die Ou Testament te vinde is nie!




 Die grootste nombessie/wilde dadel (Berchemia discolor) wat ek nog gesien het. Oppad na die plaas Mylpaal, noordoos van Tsintsabis. 'n Boom is so 'n pragtige voorbeeld van lewe, maar demonstreer ook doeltreffend wat dood beteken. 'n Tak wat afgebreek word is dood, want hy kan ie sonder die lewensbron bestaan nie. Ons is geestelik dood, geskei van God en moet weer op Jesus (Immanuel - God met ons) ingeënt word om die lewe deelagtig te word.

Vrydag 06 Maart 2015

BLY BY DIE BYBEL

- en hou koers in moeilike tye!


Ons almal het al moeilike of swaar tye beleef. Ons beleef nou weer ‘n moeilike tyd met ‘n groot droogte. (kliek op DROOGTE) Natuurlik het elkeen sy eie idee wat moeilike tye behels... As daar finansiële druk is, as daar spanning by die werk is, vir sommige as dit eksamen tyd is, of as die meisie in wie jy belangstel, nie in jou belangstel nie... Paulus skryf ‘n brief aan die jongman Timoteus. Hy waarsku hom teen swaar tye, moeilike tye... Waaroor het hierdie moeilike tye gegaan? Wat was so swaar en sleg? Ons lees daarvan in 2 Timoteus 3:1ev “Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie;hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God. Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.” (2 Timoteus 3:1-5)

Dit kom daarop neer, mense sal al meer goddeloos en vals wees! ‘n Totaal verkeerde waardesisteem wat eerder op genot as God fokus! Mense sal nog lyk en praat soos Christene (deel wees van die kerk), maar daar sal geen krag in hulle lewens wees nie. Geen krag om heilig te lewe en sonde te oorwin nie.

Hierdie moeilike tye sal gevaarlik wees vir God se kinders. Hoekom?

Dis ‘n tyd van vervolging. “Watter vervolging moes ek nie alles verduur nie! Maar die Here het my uit almal gered. Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word.” (11,12)

Dis ‘n tyd van valse lering, misleiding en afdwaling. “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle mislei ander en word self mislei.” (13) Ander mense sal self die pad byster raak maar ook ons probeer wegtrek van God se pad af en vir ons valse dinge in ons koppe inprent.(Kliek op ABEL)

Die moeilike tye beteken dat ons die gevaar loop om die hemelse prys mis te loop. Dit dreig om ons geestelik te laat verdwaal en koers te laat verloor. 

Nou gee Paulus praktiese raad aan Timoteus (en aan ons) hoe om seker te maak dat ons nie koers sal verloor nie. Advies oor hoe om veilig ons hemelse bestemming te bereik. Hy sê vir Timoteus, jy moet hou by wat jy geleer het, want jy weet mos by wie jy dit geleer het! Maar dan gaan Paulus verder. En sy groot raad is : Bly by die Bybel, wat jy al van kleins af ken! (Terloops ouers, hier is vir julle ‘n belangrike boodskap... Die fondasie van verlossing word reeds van jongs af gelê by jou kinders. Gereelde huisgodsdiens! Wee, die arme kinders wat dit moet ontbeer...)

Kom ons kyk vinnig na 2 Timoteus 3:14-17.

“Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.
Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”

Hoekom is die Bybel so belangrik? 

Opsommend kan ons sê : Die Bybel gee vir ons die regte kennis/inligting, sodat ons in Jesus kan glo, sodat ons gered kan word. Die Bybel vertel van Jesus en net Hy kan ons verlos. Belangrik, die Bybel self red ons nie, maar vertel ons hoe ons deur Jesus gered kan word. (‘n Bybel op jou bedkassie gaan jou dus nie in die hemel bring nie.) Die groot punt wat Paulus maak is dat ons maar die Bybel kan glo, want dis deur God geïnspireer. God self het deur sy Gees in die harte van die Bybelskrywers gewerk sodat hulle vir ons die ware en suiwere boodskap oor Jesus kon neerskryf.* Hy onderstreep die kosbaarheid, belangrikheid en onmisbaarheid van die Woord – om dit te ken en natuurlik te gehoorsaam.

PRAKTIES

Dan raak Paulus baie prakties en verduidelik mooi waarmee die Bybel ons help.

Die Bybel onderrig (leer) ons die waarheid. Die Bybel is soos ‘n padteken of ‘n GPS. Die waarheid is die waarheid van Jesus. Oor sy kruis en sy opstanding en dat ons net deur Hom gered word en deur niemand anders nie.

Die Bybel bestry dwaling. Dwaling is al die valse leringe, al die misleiding wat ons hoor. Dis soos ‘n siekte. Paulus beskryf dwaling as ‘n vretende kanker! (2 Timoteus 2:17) Die Bybel is die regte medisyne, die regte inspuiting vir die siekte van valse lering. As jy moedeloos en deurmekaar raak deur mense se stories en leuens, gaan terug met ‘n kinderlike gemoed en verwagting na die Bybel en jy sal weer geestelik gesond word.

Die Bybel help ons om verkeerdhede reg stel. Die Bybel is soos ‘n stel "spanners" wat my geloofskarretjie weer aan die loop kry! Dit help ons om weer reg te dink, waar ons begin verkeerd dink het. Om weer opreg te glo en te volhard.

Die Bybel kweek by ons die regte lewenswyse. Die Bybel is soos ‘n “gym” waar ons geoefen word om gesond en reg te leef. Die Bybel oefen my om die regte leefstyl te hê, die regte keuse en besluite te maak. Die Bybel maak my sterk om die regte lewe te leef al sien en hoor ek elke dag ‘n klomp verkeerde dinge.

Die Bybel oefen ons om reg te dink en reg te doen! Leer en lewe!

Sonder die Bybel sal ons nie die moeilike tye van dwaling, afvalligheid en valsheid kan oorleef nie. Sonder die Bybel sal ons wegdwaal van God se pad en nie by ons hemelse bestemming aankom nie.

Positief gestel, die Bybel berei ons voor om ‘n lewe te leef wat God gelukkig maak. (17) Is jy ernstig om vir God te leef? Wel dan sal jy erns met die Bybel maak. Jy sal erns maak met kerk toe gaan, erns maak met stiltetyd, erns maak met gehoorsaamheid. Ons leef in moeilike tye, moenie moed verloor nie, maak net erns met die Woord van God!

BLY WEG VAN VERKEERDE MENSE EN BLY BY DIE BYBEL!

*Dis baie eenvoudig gestel, maar hierdie is nie die plek om ingewikkelde inspirasie teorieë te bespreek nie.


VRAAG : HOE MOET ONS DIE BYBEL LEES? DIE KORT ANTWOORD IS : MET JESUS AS VERTEKPUNT IN SY GEHEELKONTEKS. (Kliek op KONTEKS en ook op LUGFOTO)