BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Wankelende geloof. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Wankelende geloof. Wys alle plasings

Woensdag 12 April 2017

OPGEWONDE OOR DIE OPSTANDING

- die vaste feit wat die verskil maak!


Goeie Vrydag is natuurlik glad nie deur die dissipels aanvanklik as “goed” beleef nie. Allesbehalwe! Probeer jouself indink in die situasie van die destydse dissipels. Hulle het Jesus gevolg en besef Hy is die Gestuurde, die Gesalfde van God, die Messias. Hulle het hulle hoop op Jesus gevestig. Hy gaan God se Koninkryk oprig, Hy gaan ’n einde bring aan al die ellende en verdrukking en ’n nuwe bedeling laat aanbreek. En hulle het inderdaad wonderlike dinge beleef... genesings, duiweluitdrywing, wonders en veral die boodskap van hoop dat die Koninkryk inderdaad nou naby gekom het... 

En toe? Toe sterf Jesus aan die kruis. Die gruwelikste en skandelikste marteldood denkbaar. Die dood van ’n veragte misdadiger. Hulle het Hom self daar sien hang. Hulle hoop was verpletter. Ontnugtering. Wanhoop. Hulle harte was leeg en vol niks. Vol vrees, ja. Daar was geen vooruitsig, geen toekoms meer oor nie. Ja, smart, vrees en skuldgevoelens was al wat hulle oorgehad het. (Hulle eie lafhartigheid het immers nog vars in die geheue gelê.) Petrus self is waarskynlik die meeste geteister deur skuldgevoelens. Die haan se gekraai weerklink nog vretend vars in sy ore... ’n Toestand van wanhoop! 

JESUS IS NIE MEER TUSSEN DIE DOOIES NIE! 

Maar nou kom daar ‘n dramatiese wending en ommeswaai op hierdie wonderlike Sondagmôre! Ons lees dit in Lukas 24:1-12. ‘n Heerlike en buite die bereik van alle woorde tipe verrassing! Die vroue kom by ‘n leë graf en hoor die soetste woorde ooit : “Waarom soek julle die Lewende by die dooies!?” Dis goeie nuus, maar die implikasie is ook ‘n stukkie verwyt. "Hoe kon julle twyfel, hoe kon julle moed verloor, hoe kon julle vrees? Hy het mos gesê Hy gaan opstaan!"  Die vroue vertel hierdie verhaal aan die dissipels wat dit eers as onsin afmaak. Petrus se hart word egter geroer en hy hardloop om self te gaan kyk. (Hy was nie ‘n man wat enige ding halfpad gedoen het nie.) Hy gaan ondersoek instel, sommer tot binne die graf! Ja, die graf is leeg en baie belangrik daar lê net doeke. (Dis natuurlik van groot betekenis, want dis ‘n bewys dat Jesus se liggaam nie gesteel is nie, want as jy ‘n lyk wou steel sal jy nie die doeke eers afhaal nie...) Daar kan net een verklaring wees...Jesus leef! Die boodskap van die vroue is waar. Later ontmoet Jesus persoonlik met Petrus. Ook die ander sien uiteindelik die lewende Jesus van aangesig tot aangesig. Vat aan Hom, praat met Hom en sien hoe Hy brood en vis eet voor hulle oë! (kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE) Jesus leef inderdaad! Sy lewe beteken ook vir Petrus en die ander nuwe lewe. Die opstanding open ‘n nuwe lewe van vergifnis, 'n nuwe gewaarborgde toekoms, vol blywende hoop!

Die opstanding het van ‘n tragiese Vrydag, Goeie Vrydag gemaak. 

Deur die aanskoue van die lewende Jesus is daar weer hoop in hulle harte gebore. Ja, hier was die bewys, die kruisdood was nie die einde nie, Jesus was voorwaar God se Gesalfde. Hier is die lewende onweerlegbare bewys dat al God se beloftes waar is!

OPSTANDING, WEDERGEBOORTE EN HOOP!

Jare later skryf Petrus ’n brief van hoop. Juis vir Christene in moeilike omstandighede, in ’n situasie van vervolging en swaarkry wat hulle maklik moedeloos sou kon maak. Deur sy brief bring hy vir hulle hoop. Meer korrek deur sy brief wys hy hulle op die hoop wat hulle reeds het. hierdie hoop is nie ’n vae mogge troffe hoop nie, maar ’n lewende werklike realistiese hoop. Hy herinner hulle, Christene is mense met hoop! Hoe so?

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,...” (1 Petrus 1:3)

God self het vir ons hoop gegee deur die opstanding van Jesus Christus! Petrus loof God daarvoor. Die opstanding van Jesus het hoop gebring, want die opstanding beteken dat Jesus leef. Dis rede vir groot blydskap. Dis egter nie al gevolg van die opstanding nie. Jesus se opstanding beteken nie net dat Hy leef nie, maar ook dat ons wat aan Hom behoort leef! Hoe so? Wel, deur die opstanding het God ons weer nuut gebore laat word. God het deur die opstanding nuwe lewe aan Christus gegee, maar ook aan ons! Deur Jesus se triomf oor die dood het God ’n nuwe begin gemaak, maak God alles nuut, maar Hy begin by ons as mense. Terloops wedergeboorte (radikale nuutmaking) is iets wat die hele verdorwe skepping gaan raak en nie net die mens nie. Ons het die nuwe geboorte ontvang deur die opstanding van Jesus Christus. As ons normaalweg die term wedergeboorte gebruik dink ons gewoonlik aan die verandering wat God deur Sy Woord en Gees binne in ons bewerk. En dis reg! Petrus verwys self ook hierna in 1:23-25. Van die mens se kant gesien kry deel ons aan die nuwe lewe wanneer ons God se Woord, die Goeie Nuus van Jesus gelowig aanvaar via die Gees se werk. Hier word die wedergeboorte egter gebruik in verband met die opstanding van Jesus. Hier is die fokus op wat buite ons gebeur het. Toe Jesus opgestaan het, het Hy ons verlossing, ons nuutmaking bewerk en verseker! Omdat gelowiges in Christus is beteken dit dat toe Jesus opgewek is, ons ook opgewek is tot ’n nuwe lewe. 

MENSE VAN HOOP

God se mense is mense van hoop! ‘n Vaste onwankelbare hoop op die verlossing wat Hy deur Jesus Christus bewerk het. In ’n swartgallige wêreld vol ellende, sonde, siektes, onreg en Zuma’s -kan elkeen wat in Jesus glo sê : “Ek het hoop. ’n Vaste seker hoop wat God vir my gegee het.” 

Wat is die praktiese nut van Petrus se boodskap vir ons? Hy wil ons leer : Fokus op die vaste feit van die opstanding, juis ook in die tye wanneer jy so ellendig voel dat jy selfs sou kon begin wonder oor jou geloof en bedenkinge kry oor jou bekering. 

Bedink en herkou die feit van die opstanding!

Jesus se triomf oor sonde Satan, dood en hel aan die kruis is bevestig deur die wonder van die opstanding en daarom onaanvegbaar seker! Dis iets wat HY klaar gedoen het! Dit stimuleer juis weer geloof en dit motiveer ons juis weer tot bekering! Die fokus is dus nie hier op wat ek beleef en voel en ervaar nie, maar op die vaste feite van Jesus se werk. Dis die bron en versekering van ons hoop. Ja, deur die opstanding het ons vandag (wat ook al my omstandighede) weer opnuut HOOP! As jy miskien nou wanhopig en beangs voel moet jy dalk saam met die vroue weer hoor wat die engele vra: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies?” 

Geliefde kind van God, pasop dat jy nie dalk onbewustelik aan Jesus dink as ‘n dooie veraf historiese figuur van die gryse verlede nie. Jesus is NOU lewend! Hy leef inderdaad en daarom is daar hoop! Hy leef en hierdie feit maak die verskil!

Vrydag 22 Julie 2016

AS MY GELOOF NIE SO SUKSESVOL IS NIE...

- en die golwe groot raak en ek wil sink...



Van voor tot agter is die Bybel baie duidelik : REDDING KOM DEUR GELOOF ALLEEN! Ons lees al in Genesis 15:6 dat Abram geglo het – “En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” God beskou Abram as ‘n regverdige omdat hy geglo het! Die hele Nuwe Testament leer ons , redding kom deur geloof in die Seun van God. “En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” (1 Johannes 5:11-13) Dis so onontbeerlik belangrik om te glo en die Bybelse begrip geloof te verstaan... 


PETRUS OP DIE WATER

Die verhaal van Petrus op die water in MATTEUS 14::22-36 gee ons kosbare insigte oor geloof...


  • Ware geloof gaan oor tot aksie. Ware geloof is nie ‘n mooi teorie nie, dis kennis ja, maar dis ook vertroue en dit gaan oor tot aksie. Dit maak ‘n keuse. Petrus ken vir Jesus (wie Hy is), Hy stel sy vertroue in Jesus en dan neem hy ‘n besluit, hy klim uit die skuit en begin na Jesus loop op die water... (natuurlik eers nadat Jesus hom die groen lig gegee het) Ons sien dieselfde beginsel by Abram. God maak beloftes aan hom. Hy glo die beloftes en dit bring hom tot aksie, hy trek... Het jy al Jesus vertrou? Jou ewige toekoms in sy hande geplaas? Ja, jy het al gehoor dat sy offer aan die kruis vir ons sondes volkome en genoeg was, maar het JY Hom al vertrou dat dit ook vir jou genoeg is, het jy Hom al begin volg as Here? ‘n Duidelike keuse gemaak?

  • Ware geloof is dikwels gemeng met angs en twyfel. Geloof is gewoonlik nie ‘n super suksesverhaal nie. Petrus kyk na die golwe en raak bang en benoud. En begin sink. Dink maar terug : Abram se geloof het ook by tye gewankel en dan het hy allerhande menslike planne gemaak... en tog het hy ‘n gelowige gebly. Daar is dikwels ‘n stryd tussen geloof en twyfel in die kind van God se hart. Moenie moed opgee as jy ‘n tyd van twyfel beleef en dink dat jy hoegenaamd nie ‘n kind van God kan wees as jy begin twyfel nie. Ware geloof word juis aangeval met vertwyfelinge. Ware geloof beleef konflik in ons binneste. (‘n Mens sou amper kon sê, dat iemand wie se geloof nog nooit onder druk en aanvegtinge gekom het nie, hoegenaamd nie geloof het nie.)

Wat laat jou twyfel? Wat is die golwe wat jou laat moed verloor? Daar kan baie moontlikhede wees... “My sonde is so groot, my mislukkings is so baie, ek het myself en my medegelowiges en die my Here teleurgestel ... My omstandighede is so moeilik en buite beheer... siekte, finansiële probleme, alles wat net wil skeefloop... Soms kan mens ‘n intellektuele twyfel beleef...hoe werk dit en hoe werk dat, hoe weet ek die Bybel is waar, het Jesus regtig OPGESTAAN uit die dood...?”* En dan kom daar twyfel en vrees in jou hart : “Kyk net, nee wat ek kan nie ‘n Christen wees nie, ‘n Christen kan mos nie so dink of so voel of so maak nie...Twyfel hoort mos nie by ‘n kind van God nie, so ek is seker nie God se kind nie.” Geliefde, die Woord wil jou vandag kom bemoedig. Gelowiges kan wel tye van twyfel beleef. Dis nie die einde van my geloofspad nie. Kyk na Jesus, kyk hoe gryp Hy Petrus vas, kyk hoe help HY hom weer in die skuit...

  • Ware geloof word nooit teleurgestel nie, al vertoon dit hoe swak. Die groot troos in hierdie gedeelte is dat Jesus nie die weifelende en sinkende Petrus aan sy lot oorgelaat het nie. Hy gryp die sopnat Petrus en help hom weer in die skuit. Ja, Jesus berispe vir Petrus oor sy klein geloof, maar Hy los hom nie laat hy vergaan nie. Jesus wil vir Petrus verder help en leer wat geloof is, maar Hy verwerp hom nie oor sy beperkte geloof nie. Gaan kyk maar weer na Abram se geskiedenis, daar is baie wel en weë, baie hartseer en beproewings, maar uiteindelik het al God se beloftes waar geword! 

Dis die heerlike boodskap : 

Dis nie die krag en die volmaaktheid van ons geloof nie, maar die krag en volmaaktheid van Jesus wat ons red!



  • Ware geloof fokus altyd op die persoon van Jesus. Die klimaks van die verhaal is nie Petrus nie, maar Jesus se reddende krag en Goddelike majesteit. Die held van die gebeure is ook nie Petrus nie, maar Jesus. As Jesus eintlik die storm stilmaak dan bring dit sy dissipels tot ‘n belydenis en erkenning : “"U is waarlik die Seun van God." (31) Kyk nou op hierdie oomblik weg van die golwe en bedink wie Jesus is. God het Hom as gewone mens na die wêreld gestuur, gebore uit ‘n jong maagd. God het Hom bekragtig met die Heilige Gees, Hy het wonders gedoen... Hy het gepreek... maar die belangrikste Hy is na die kruis gestuur, waar Hy ons volle skuld en straf gedra het. Die heerlike verlossing bewerk het... Dit word bevestig as Hy op die derde dag opstaan uit die dode en lewend aan sy dissipels verskyn. Brood en vis voor hulle oë eet... Hy vaar op na die hemel, gee vir ons as dissipels werk om te doen en beloof om weer terug te kom. Moenie dat die onstuimige see vol woelinge en geweld in jou lewe jou ontstel nie, maar stel jou vertroue in hierdie Jesus, kom lewe, kom dood... Hy alleen is ons Redder.

Kyk na Jesus en nie na die golwe nie!

* As jy met twyfelvrae worstel oor die Bybel waar is, kliek op HOE WEET EK?





Die Groot Omatako! Moet hom nie onderskat nie, hy het my amper gesink...


Daar's verwoede klippe, steiltes en doringbosse...


maar ek het darem ook bo uitgekom!(en dit weer af gemaak)