- die Ooste vra vir die herroeping van die 2015 besluit oor selfdegeslagverhoudings!
Die Algemene Sinode 2015 se onskriftuurlike, onnadenkende en inkonsekwente besluit oor selfdegeslagverhoudings het onmeetlike skade en verwarring in die kerk veroorsaak. Dit het onder andere gevra vir die toelating van praktiserende homoseksuele predikante. Verskeie streeksinodes (waaronder ook Namibië) het hierdie besluit verwerp. Nou is dit verblydend dat een van die groot streeksinodes, die Oostelike Sinode ook gevra het vir 'n herroeping van die 2015 besluit. (sien 5.3 van die beskrywingspunt hieronder) *
BESKRYWINGSPUNT AAN DIE BUITENGEWONE VERGADERING VAN DIE ALGEMENE SINODE,
GEHOU TE WORD 7 TOT 10 NOVEMBER 2016 TE PRETORIA
1. EENHEID EN DIVERSITEIT
Die Oostelike Sinode loop reeds 'n lang pad met die saak van
selfdegeslagverhoudings en ons is diep bewus van die diversiteit van beskouings
binne ons Sinode. Ons lê die volgende aan u voor as getuienis en standpunte.
Op ons pad tot hier het ons daarin geslaag om ten spyte van ons
verskille mekaar vas te hou en familie te bly wat vir mekaar omgee en ruimte
skep. Ons vorige besluite in 2003 en 2005 het gespreek van hierdie gesindheid.
2. Uittreksel uit die
standpunte en besluite van 2003
2.1 Saambindende
Uitgangspunte
2.1.1 Die Sinode het met deernis geluister na die verhale van
lidmate van die Kerk wat hulleself beleef as homoseksueel georiënteer en
tegelyk die begeerte het om hulle Christenskap binne die geloofsgemeenskap van
die Kerk uit te leef.
2.1.2 Die Sinode erken met spyt dat daar dikwels in die verlede
nie genoeg sensitiwiteit en begrip vir die situasie van persone met 'n
homoseksuele oriëntasie binne kerklike geledere was nie.
2.1.3 Die Sinode onderskryf die saambindende uitgangspunte wat
deur die Diensgroep vir Homoseksualiteit geformuleer is, naamlik:
dat alle mense, ongeag oriëntasie, geslag, ras en kulturele agtergrond
met respek en medemenslike liefde bejeën en behandel moet word;
en
dat persone wat verskillende standpunte oor homoseksualiteit huldig,
mekaar nie in die proses van besinning sal verloor nie;
en
dat homoseksualiteit 'n komplekse aangeleentheid is en dat mense dit
verskillend beleef;
en
dat alle mense onderworpe is aan die gebrokenheid van hierdie sondige wêreld
en 'n behoefte het aan verlossing in Christus. Alle mense moet streef na
die heelheid in Hom.
2.1.4 Die Sinode oordeel dat alle mense wat glo, hulle
Christenskap in die kerk behoort uit te leef, ongeag hulle seksuele oriëntasie.
2.2
Verskillende sienings
2.2.1 Die Sinode is nie eenstemmig oor die manier waarop 'n
homoseksuele oriëntasie verstaan en hanteer behoort te word nie. Dit blyk
veral duidelik uit die twee teenstrydige verslae uit die geledere van die
Diensgroep vir Homoseksualiteit. Sommige
meen dat die beoefening van homoseksualiteit sonde is en dat die enigste
aanvaarbare opsie 'n lewe van seksuele onthouding (selibaat), of 'n verandering
in oriëntasie is, terwyl ander oordeel dat dieselfde norme in 'n homoseksuele
verhouding moet geld wat in 'n heteroseksuele huwelik geld.
2.3
Proses
Punt ses: Die Sinode erken hiermee dat ons nie 'n eenstemmige
antwoord kan gee op 'n hoogs ingewikkelde vraagstuk nie en oordeel dat die
proses van besinning met die oog op uiteindelike besluitneming moet voortgaan.
Die klem moet egter verskuif na 'n ernstige poging om die teenoorstaande
standpunte op 'n eerbare en verantwoordelike wyse nader aan mekaar te bring. Die
uitgangspunte bly steeds 'n ernstige en afhanklike soeke na die wil van God en
'n onvoorwaardelike liefde vir die medemens.
(...)
Punt agt: Die Sinode oordeel dat
besinning oor die manier waarop 'n homoseksuele oriëntasie deur Christene
hanteer behoort te word, nou doelgerig op alle vlakke van die kerklike
gemeenskap en veral in gemeentes gevoer moet word.
2.4
In 2003 het die sinode sy afgevaardigdes hieroor getoets en die uitslag hieroor
was soos volg
2.4.1 Die Kerk het reg opgetree deur verskoning te vra vir gedrag in die
verlede wat mense met homoseksuele oriëntasie seergemaak het.
2.4.2 Die huwelik word gesien as ’n verbintenis tussen een man en een
vrou en huweliksluiting tussen homoseksuele paartjies is glad nie aanvaarbaar
nie.
2.4.3 Die interpretasie van die Skrifgegewens oor homoseksualiteit skep
probleme. Hieroor bestaan daar standpunte wat teenoorstaande pole
verteenwoordig.
2.4.4 Die term “seksuele oriëntasie” wat in die gesprek oor
homoseksualiteit gebruik word, vra verdere verheldering wat navorsing oor die
oorsake vir homoseksuele gedrag, verhoudings en deelname aan die
geloofsgemeenskap insluit.
3. Uittreksel
uit die standpunte en besluite van 2005
3.1 In 2005 is die volgende besluite geformuleer:
3.1.1 Die Sinode onderskryf die evangelie-boodskap dat die genade van
die Here vir elkeen geld.
3.1.2 Die Sinode bevestig dat lidmaatskap op grond van ’n persoon se
geloofsverklaring berus.
3.1.3 Die Sinode bevestig dat die huwelik Skriftuurlik gesien word as
’n verbintenis tussen een man en een vrou.
3.1.4 Die Sinode verklaar dat huweliksluiting tussen homoseksuele
paartjies glad nie Bybels aanvaarbaar is nie.
3.1.5 Die Sinode erken dat die Skrif-gegewens oor homoseksualiteit
verskillend vertolk word.
3.1.6 Die Sinode verklaar dat dit die Sinode se oorheersende
standpunt is, dat die beoefening van homoseksualiteit teen die leer van die
Bybel is.
3.1.7 Die Sinode versoek verdere opheldering oor die term “homoseksuele
oriëntasie,” wat in die gesprek gebruik word. Dit sluit ook navorsing oor
die oorsake vir homoseksuele gedrag, en die aard van homoseksuele verhoudings
in.
3.1.8 Die Sinode verseker homoseksuele persone van die NG Kerk se
opregte pastorale bewoënheid en verklaar dat alle mense hartlik welkom in ons
gemeentes is.
3.1.9 Die Sinode verklaar dat homoseksuele gedrag teen die leer van die
Bybel is.
3.1.10 Die Sinode versoek dat vir enige voortgaande besinning ingevolge
punte 3.1.5 en 3.1.7 homoseksuele mede-gelowiges wesenlik deel van die proses
sal wees.
3.2 Die Sinode verklaar:
3.2.1 Ons is deel van die familie van Christus. Ons verskil tans
nog oor hoe om gelowig na te dink oor homoseksualiteit. Ons stem wel saam
dat alle mense in die Kerk welkom is. Ons stem ook saam dat ons sag met
mekaar moet wees en nie te vinnig moet oordeel nie. Wat verkeerd is, kan
egter nie goedgepraat word nie.
3.2.2 Ons verskil oor hoe om die Bybel te verstaan. Vir die meerderheid
van ons afgevaardigdes, gemeentes en lidmate is die Skrifgegewens duidelik teen
enige homoseksuele dade. Hierdie lidmate glo dat ons die Bybelwoorde sal
verswak en God se heiligheid oneer sal aandoen, as ons enigsins homoseksuele
dade goedpraat.
3.2.3 Vir ’n minderheid van afgevaardigdes, lidmate en gemeentes is dit
nie duidelik hoe die Skrifgegewens toegepas moet word nie. Hierdie lidmate wil
graag langer nadink oor hoe ons die Bybeluitsprake oor sake soos hierdie in
nuwe tye moet verstaan en toepas.
3.2.4 As familie wil ons aan mekaar vashou, want ons het mekaar
nodig. Die Gees is immers aan ons almal saam gegee. Ons aanvaar
mekaar se goeie trou in hierdie saak. Trouens, die hantering hiervan het ’n
openbare toets van liefde geword. Ter wille van God se eer gaan ons hierin
slaag.
4. die 2015 besluite
oor selfdegeslag verhoudings
Na aanleiding van die 2015
besluite oor selfdegeslag verhoudings het die Sinodale Diensraad op
verskillende maniere vir leraars, gemeentes en ringe terugvoer gevra oor die
besluite. Daar is ook twee konsultasies met leraars gehou om hulle terugvoer te
kry.
Die meeste kerkrade en ringe se terugvoer oor die besluite was negatief,
maar daar was ook ’n aantal gemeentes en leraars wat positief was oor die
besluite of nie ’n probleem daarmee gehad het nie. Dit is kenmerkend van die
diversiteit wat ons weet in die Sinode bestaan.
5. sinodesitting
van 23 TOT 26 Oktober 2016
Tydens die sinodesitting
van 23 tot 26 Oktober 2016
is die saak weer op die Sinode
se tafel geneem. ’n Gespreksdokument het voor die Sinode gedien wat gebaseer is
op bogenoemde terugvoer en ’n aantal beskrywingspunte wat van gemeentes gekom
het. Tydens die sitting het ’n aantal individue ook voorstelle ingedien. Dit
alles is gekonsolideer en het voor die Sinode gedien. Die volgende besluite is
goedgekeur en word nou as ’n beskrywingspunt na die Algemene Sinode
deurgestuur:
5.1 Die Oostelike Sinode stuur die onderstaande besluite aan die
Buitengewone sitting van die Algemene Sinode deur met die bewustheid dat daar
nie in die Sinode eenstemmigheid hieroor is nie. In ons familie is daar ook
ander standpunte en die Sinode wil duidelik ons waardes van eenheid te midde
van diversiteit onderstreep.
5.2 Die Sinode
bevestig die uitgangspunte, verklarings en besluite van 2003 en 2005 rakende
homoseksualiteit en stuur dit na die Algemene Sinode.
5.3 Die
Sinode versoek die Algemene Sinode om die besluit
oor selfdegeslagverhoudinge te herroep in die lig van die feit dat die
vergadering nie getrou was aan 'n vorige besluit van 2004 [Algemene Sinode Besluiteregister 2004 p 428]
om eers met gemeentes in gesprek te gaan voordat 'n sensitiewe besluit geneem word
nie, en dat die besluite van 2007 en 2013 oor selfdegeslagverhoudings as die
standpunt van die NG Kerk sal geld.
5.4 Die Sinode
bevestig dat “slegs die verbintenis van
een man en een vrou as ’n huwelik beskou word” (Algemene Sinode 2015) en
dat “dat seksuele gemeenskap buite so ’n
vaste, formele verbintenis/verhouding nie aan Christelike riglyne voldoen nie”
(Algemene Sinode 2013).
Die Sinode het besluit
om die “verbintenis/verhouding” duideliker te omskryf as ’n huweliksverbintenis, soos in die
volledige 2013 besluit verwoord: “Die Algemene Sinode oordeel dat, in die lig
van bostaande, gelowiges met reg die huwelik ’n gawe van God noem en dat
seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele verbintenis/verhouding nie aan
Christelike riglyne voldoen nie.”
5.5 Die
Sinode versoek dat daar herbesin moet
word oor seks binne en buite die huwelik. Daar blyk ’n dubbele standaard
geskep te word tussen homo- en heteroseksuele predikante. Indien ’n burgerlike
verbintenis nie ’n huwelik is nie (soos die 2015 besluit dit stel), val seks
binne so ’n verbintenis of selfdegeslagverhouding buite die aanvaarbare grense
wat die Sinode self gestel het op grond van Bybelse riglyne.
5.6 Die
Sinode bevestig die oortuiging dat die Bybel hoër morele eise aan leiers stel (Jakobus 3:1) en soos wat dit
neerslag vind in die Kerkorde. Daarom kan geen persoon wat in 'n
saamwoon-verhouding of 'n "ander formele verbintenis / verhouding"
(bv 'n burgerlike verbintenis) staan, as leraar dien of tot die bediening
toegelaat word nie. Dieselfde seksueel-etiese vereistes wat aan ongetroude
heteroseksuele predikante gestel word, word ook aan homoseksuele predikante
gestel.
5.7 Kerkrade
besluit self oor die vereistes waaraan ander
leiers in die gemeente moet voldoen en vervat dit in 'n beleidsdokument.
5.8 Die
Algemene Sinode word versoek om beleidsbesluite
oor pastorale kwessies in die hande van gemeentes te los en nie
beleidsbesluite hieroor te neem sonder konsultasie nie.
* My plasing van hierdie beskrywingspunt beteken nie noodwendig dat ek met alles daarin saamstem nie. Ek is wel bly oor die duidelike versoek tot herroeping van die 2015 besluit en die sterk pleidooi vir seksuele reinheid.