BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Islam. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Islam. Wys alle plasings

Woensdag 20 September 2023

SAAM BID MET VALSE GODSDIENSTE?

- Wil die Algemene Sinode nou nóg dwalings inbring?


Dit klink asof daar stemme, baie subtiel en baie vriendelik ... binne in ons geliefde kerk opgaan wat dit goedpraat en aanbeveel dat ons selfs binne in ons kerkgeboue saam met aanhangers van heidense godsdienste gebedsbyeenkomste moet hou, waartydens ons in beurte of parallel met mekaar kan bid. Dis wat mens lees in die Agenda van die Algemene Sinode van die NGK van Oktober 2023 *


Natuurlik dit spreek vanself dat ons alle mense, as skepsels van God met respek moet behandel. Onbeskofte gedrag en beledigende optrede gaan niemand vir die evangelie wen nie. Paulus se weldeurdagte, maar kompromislose voorbeeld van verkondiging aan die heidene van Athene in Handelinge 17 is 'n handboekvoorbeeld.

Respekvol wees en sinkretisme (godsdiensvermenging) is twee verskillende dinge. Ek wil daarom ernstig beswaar maak teen die gedagte dat ons in ons gemeentes saam met Hindoes, Moslems, aanhangers van tradisionele Afrika godsdienste ens. kan bid. 

VIER REDES

Ek noem graag vier redes waarom gesamentlike aanbidding met vals gelowe nie mag gebeur nie.. Die eerste drie gaan oor die verbreking van die eerste gebod, naamlik liefde tot God. Die vierde rede gaan oor die verbreking van ons liefdesverpligting teenoor ons medemens.

1.Daar is niks mooi in enige afgodsdiens nie. 

Hoe opreg die afgodsdienaars dit nou ook al bedoel, diens aan enige afgod is weersinwekkend.  In die genoemde ATLAS dokument word inderdaad verwys na Paulus se rede in die Areopagus in Athene, maar Handelinge 17:16 word gerieflikheidshalwe verswyg. “Terwyl Paulus in Athene op hulle (Silas en Timoteus)  gewag het, was hy in sy gees diep verontwaardig toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde is.” Die aanskoue van afgodsbeelde maak Paulus kwaad! PUNT.  Dit was sy diepste gewaarwording, maar natuurlik het hy taktvol en met wysheid hierna verder gepraat. Met vriendelikheid en beslistheid het hy Jesus aan hulle verkondig - die Man wat uit die dood opgewek is! Sy diplomatiese optrede het egter nie verhoed dat hy sy hoorders duidelik teen die komende oordeel gewaarsku het nie. Paulus het ook nie geskroom om die eis tot bekering te stel nie.

2.Wie afgode aanbid, aanbid eintlik demone. 

Dis nog ‘n ernstige rede waarom ons nie maar kan toekyk en deelneem aan ‘n geleentheid waar ander afgode aanbid word nie.  Dis Paulus se argument in 1 Korintiers  10:18-22 Let spesifiek op na vers 20!

“Kyk na die volk Israel: Het diegene wat van die offers eet, dan nie deel aan die altaar nie? 19 Wat bedoel ek hiermee? Dat 'n afgodsoffer tog iets is, of dat 'n afgod iets is? 20 Nee, maar wat hulle offer, offer hulle aan demone, nie aan God nie – en ek wil nie hê dat julle aan demone deel moet hê nie. 21 Julle kan nie die beker van die Here drink én die beker van demone nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here én aan die tafel van demone nie. 22 Of is ons besig om die Here jaloers te maak? Is ons dan sterker as Hy?”  

Wie deel wil neem aan die Heilige Nagmaal, moet seker maak dat hulle nie kompromie met die afgode en eintlik demone maak nie! Dit sou God se toorn kon opwek! Pasop!

3.God deel sy eer met niemand nie!  

Hier kom ons nou by die wortel van die saak.  Laat jou gedagtes bietjie teruggaan na die berg Karmel. Elia, God se enkele profeet op die toneel. 'n Weifelende volk. Hordes heidense priesters. Elia se boodskap en ultimatum  aan die wyfelende verbondsvolk was baie duidelik - “Hoe lank gaan julle nog op twee krukke bly hink? As die Here God is, volg Hom; as dit Baäl is, volg hom.” (1 Konings 18:21) 

Moet ons regtig nou toelaat dat Hindoe gode en voorvadergeeste in ons kerkgeboue aangeroep word?  Duisend maal NEE! Dit sou ‘n aantasting van God se eer wees! God se eie standpunt in Jesaja 42:8 is baie duidelik :  “Ek is die Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie, die lof wat My toekom, gee Ek nie aan gesnede beelde nie.”

Kompromie met die afgode laat ons getuienis skade ly... Dit bring ons by die vierde rede.

4.Gesamentlike gebed met valse godsdienste is nie net disrespekvol teen God nie, maar is juis ook liefdeloos teenoor die verlore heidene. Hoekom? Daar is net een Middelaar tussen God en mens naamlik Jesus.  In ons tyd van postmodernisme en raltiwisme is die boodskap van 1 Timoteus 2:5 baie belangrik. “Want daar is een God, en een Middelaar tussen God en die mense: die mens Christus Jesus”  As ons nou maar sonder protes saam met heidene bid kan dit die indruk skep  dat daar baie paaie na God is en dat Jesus net een moontlikheid uit baie is, en so mislei ons mense. Dis doodgewoon liefdeloos.

Die stemme binne in die kerk wat ons wil aanmoedig om saam met ander godsdienste te bid is nie die stem van die Lam nie, maar van die vals profeet!

 

*"Christene kan dus meehelp om gesamentlike aanbiddingsgeleenthede ‘n besondere kwaliteit te gee. Dit is nie ‘n geleentheid waar godsdiensgroepe met mekaar kompeteer of armdruk nie, maar ‘n geleentheid waar Christene – saam met mense van ander geloofsgroepe – ons geloof bely, elkeen op ons eie unieke manier. Godself is die Een wat ons harte toets en deurgrond – ons s’n, maar ook die harte van mense van ander godsdienste. Dus word die oordeel aan God alleen oorgelaat. Dit sou dus aanbeveel kon word dat Christene – veral dan ook as gemeentes op plaaslike vlak – nie sal huiwer om gesamentlike geleenthede te reël waarin kwellende kwessies van ons samelewing en die wêreld aan die orde gestel kan word nie. Dit sou op “neutrale” plekke kon plaasvind, maar dit sou ook ‘n besondere gebaar van gasvryheid teenoor mense van ander godsdienste kon wees om sulke byeenkomste in ons kerkgeboue te hou. By sulke geleenthede is wedersydse respek vir mekaar se tradisies en rituele van uiterste belang. Christene kan en moet by sulke geleenthede nie daarop aandring dat mense van ander godsdienste die Christelike tradisies moet volg nie. Eweneens sou Christene ook nie die eiesoortigheid van hul gebedstradisies en -rituele hoef op te gee nie. Sulke gesamentlike byeenkomste kan só ingerig word dat almal geleentheid gegun word om (ná mekaar, of parallel met mekaar) die kwessies wat bespreek is in gebed op te dra."  {Aanhaling uit AS 2023 Agenda p76]

Dinsdag 02 Februarie 2016

ISLAM OPMARS IN MADAGASKAR

2500 Moskees!

Madagaskar, die pragtige eiland met sy besondere natuurskoon, waaronder unieke plantegroei en die bekende lemoers is sommer hier op ons voorstoep net oorkant 'n stukkie see. Tog is dit vir baie van ons mense 'n totaal onbekende wêrelddeel, ook wat die werk van die Koninkryk betref.


My vriend Johannes (Wolf) Celliers en sy vrou Wenda is betrokke by sendingwerk op hierdie eiland, waaronder Bybelverspreiding, kerkplantig en opleiding.

In 'n onlangse nuusbrief meld hy die volgende skokkende feite:

"Islam - ‘n projek is geloods om 2,500 nuwe moskees te bou en hulle het dit ook bewerk om die regering se goedkeuring daarvoor te kry. Hulle het onlangs in die verre noorde begin bou. In lig daarvan het ‘n leraar in daardie gebied my om bystand versoek om daar ook gemeentes te help vestig in gebiede waar daar nog nie gemeentes is nie. Dis egter buite ons huidige werksgebiede en as iets sou realiseer sal ons ekstra middele en fondse benodig. Bid vir leiding asb."

Kom ons dink aan hulle in die gebed en soek ook die Here se leiding oor moontlike hulp en betrokkenheid!

Wolf se e-pos adres is jwcilliers@yahoo.com





Donderdag 12 Maart 2015

MARTELARE OP DIE STRAND

- die Egiptiese Christene se getuienis leef voort.

Die tragiese dood van die jong Egiptiese Christen mans wat deur ISIS islamitiese rebelle langs die see in Libië keelaf gesny is, was nie tevergeefs nie. Die Egiptiese Bybelgenootskap het 'n publikasie met gepaste Bybelverse die lig laat sien in hulle reaksie op hierdie weersinwekkende gebeure. Op die voorblad is 'n aangrypende gedig gepubliseer.

Hier is die Engelse weergawe :

Two rows of men walked the shore
of the sea,
On a day when the world’s tears
would run free,
One a row of assassins, who
thought they did right,
The other of innocents, true sons
of the light,
One holding knives in hands held
high,
The other with hands empty,
defenseless and tied,
One row of slits to conceal glaringdead
eyes,
The other with living eyes raised
to the skies,
One row stood steady, pall-bearers
of death,
The other knelt ready, welcoming
heaven’s breath,
One row spewed wretched,
contemptible threats,
The other spread God-given peace
and rest.
A Question...
Who fears the other?
The row in orange, watching
paradise open?
Or the row in black, with minds
evil and broken?


Wat 'n ongelooflike voorbeeld van Christelike reaksie in die lig van uiterste provokasie!  Ons wapen is die evangelie van Jesus, maak nie saak hoe groot die haat en vyandskap teen ons is nie!


'n Jong werkster by die Bybelgenootskap van Egipte se kantore het vertel hoe dat sy bemoedig is deur dit wat gebeur het? Hoe dan so? Sy vertel :


https://gallery.mailchimp.com/017b6b7c5bf6d7468fcc6aedc/images/ae96f668-5717-4010-a17c-731b2909d5b8.jpghttps://gallery.mailchimp.com/017b6b7c5bf6d7468fcc6aedc/images/9d7d20e0-7a90-47f3-b00c-7e5c416485a5.jpg“I am encouraged” she said, “because now I know that what we have been taught in history books about Egyptian Christians being martyred for their faith is not just history but that there are Christians today who are brave enough to face death rather than deny their Lord! When I saw these young men praying as they were being prepared for execution and then many of them shouting “O Lord Jesus” as their throats were being slit, I realized that the Gospel message can still help us to hold on to the promises of God even when facing death!”

Vrydag 05 September 2014

GROOT BENOUDHEID

- maar geen bekering tot God.


Dinge gaan nogals rof die afgelope tyd op ons planeet aarde. Dis asof ‘n groot klomp onheil hulleself sommer so gelyktydig aangemeld het. Wêreldleiers skarrel benoud rond, hou vergaderings en berade en reik verklarings, dreigemente en oproepe om hulp uit. Die een oproep wat nodig is : “Bekeer julle tot God” word egter nêrens in die mond van groot leiers gehoor nie, en selfs in die geledere van die kerk het dit skaars geword!

Dink sommer so vinnig oor die wêreldtoneel waarin ons ons tans bevind. Die stryd en slinkse magspel in die ooste van Ukraïne, nadat Rusland op blatante wyse die Krim skiereiland helder oordag geannekseer het, lees amper soos ‘n denkbeeldige oorlogsverhaal! Hierdie onnodige geweld (waarin ook medegelowiges hulle lewens verloor het*) veroorsaak die grootste rimpelings en angstigheid in Europa en NAVO geledere sedert die einde van die Koue Oorlog, wat nie regtig raad het met Putin se taktiek nie. (Daar is darem nou planne aangekondig vir ‘n snelreaksiemag...) Mens moet pasop vir oorreaksie, maar hierdie man se optrede laat mens onwillekeurig terugdink aan Hitler se kat en muis speletjies in aanloop tot die Tweede Wêreldoorlog... die res is geskiedenis...

Humanitêr gesproke is die wrede voortslepende burgeroorlog in Sirië (tans al 42 maande aan die gang) waar minstens 200 000 mense hulle lewens verloor het, nog ‘n groter kopseer. Ook hier het wêreldleiers soos Obama geen raad nie, want hulle bevind hulle tussen die duiwel en die diep blou see. Die opkoms van die radikale groep IS wat ‘n Islamitiese Kalifaat beoog in die Midde Ooste het alles nog verder gekompliseer. As Amerika te sterk teen IS optree help hulle indirek vir Assad van Sirië. Tree hulle nie op teen IS nie word hierdie uiters wrede terreurgroep al sterker en kan die hele Irak in duie stort en dit sal baie sleg wees vir Amerikaanse belange en prestige. Daar is nou wel ‘n skietstaking bereik tussen Israel en die Hamasbeheerde Gaza, maar dit beteken nie die einde van die probleme in hierdie streek nie. Hamas is na die onlangse geweld nog meer gewild en Israel se planne om nog Palestynse grond in die Wesbank af te neem voorspel niks goeds vir die lang termyn vooruitsigte op vrede in hierdie streek nie.

Dis nie net in die Midde Ooste waar radikale Islamitiese groepe groot menslike lyding en ontwrigting veroorsaak nie. Verder aan is dit alles behalwe rustig in plekke soos Afganistan en Pakistan, al haal dit nie elke dag die nuus nie. Ook Afrika is in die Islamitiese visier. In Nigerië lyk dit asof die regering geen raad weet met Boko Haram (nog ‘n Islamitiese terreurgroep) se brutale geweld nie. Na die skokkende ontvoering van 200 skoolmeisies en ‘n groot internasionale bohaai, gaan hulle steeds van erg na erger met hulle uitdagende aanvalle. Islamitiese groepe het ook ‘n vinger in die geweld in Mali, Libië , Somalië wat onder andere weer ‘n effek het op sekuriteit in ‘n land soos Kenia.

Islamitiese geweld is natuurlik nie die enigste ramp wat Afrika teister nie. Die Ebola virus het al meer as 1900 lewens in Wes –Afrika geëis en die einde is nog nie in sig nie. Behalwe vir lewensverlies het hierdie epidemie ook ekonomiese gevolge wat ‘n arm streek kwalik kan bekostig.

Orals en elke dag sterf mense in onnatuurlike omstandighede. Drie kort opeenvolgende vliegrampe (waaronder twee vliegtuie van Air Malaysia) is maar net van die meer opvallendes. Moord, oproer, geweld, maar ook natuurrampe en ongelukke laat mense daagliks in die ewigheid afstort... Die ellendes van korrupsie, misdaad en roekelose en onbevoegde regerings teister die mensdom...

IS JY VERBAAS?

Moet ons verbaas wees oor al hierdie woelinge en ellendes? As Christene moet ons dit eintlik te wagte wees. Onheile “meld hulleself” nie toevallig aan nie, dis die uitgieting van die toorn van ‘n heilige God in aksie. Openbaring skets mos vir ons God se oordele oor ‘n goddelose wêreld op treffend beskrywende wyse. "Gaan gooi die sewe bakke, gevul met die toorn van God, op die aarde uit!" (Openbaring 16:1) Ek probeer nie bepaalde gebeure in seker tekste in Openbaring inlees nie, maar die oorhoofse feit wat hier gestel word is dat God se oordele die aarde tref (getref het en nog sal tref) – nou reeds, voor die finale oordeel! Wat vir my egter die opvallende is, die verharde harte van ‘n geteisterde mensdom, wat steeds weier om hulle te bekeer! Inteendeel die lastering teen God word net al hoe erger! Die Woord draai geen doekies om nie:

“Die mense is deur ‘n groot hitte gebrand, en hulle het die Naam gelaster van God wat die mag oor hierdie plae het. En hulle het hulle nie bekeer nie en aan Hom nie die eer gegee nie.” (Openbaring 16:9)

“...Die mense het hulle tonge stukkend gebyt van die pyn en het die God van die hemel gelaster oor die pyn wat hulle moet verduur, en oor die swere. En hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde praktyke nie.” (Openbaring 16:9)

“Groot haelstene, elkeen omtrent vyftig kilogram swaar, het van die hemel af op die mense geval. En die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat die plaag verskriklik groot was.” (Openbaring 16:21)

Hierdie patroon van onbekeerlikheid en volharding in die sonde word alreeds in Openbaring 9 vir ons voorgehou.

“Die ander mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het hulle egter nie bekeer nie . Hulle het aangehou met die aanbidding van bose geeste en van afgode wat hulle self gemaak het van goud, silwer, koper, klip en hout, en wat nie kan sien of hoor of loop nie. Hulle het hulle ook nie daarvan bekeer om moord, towery, onsedelikheid en diefstal te pleeg nie.” (Openbaring 9:20,21)

Dis die prentjie wat ek in die hedendaagse nuus sien. ‘n Wêreld wat kreunend en vloekend gebuk gaan onder die regverdige oordele van God, maar wat steeds weier om God se genade in Jesus te aanvaar en hulle van hulle boosheid te bekeer. Inteendeel, die allerverskriklikste boosheid word nog steeds met passie omhels... Mag ons bewaar word van onbekeerlike harte...

En laat ons dit duidelik vir mekaar sê : “Rampe in ‘n bepaalde deel van die wêreld beteken nie noodwendig dat sekere mense meer skuldig is voor God as andere nie. Hierdie ellendes is ‘n algemene waarskuwing aan almal om betyds te bekeer en die vrugte van bekering te dra.” (Kliek op DIE BOODSKAP VAN RAMPE EN MISDAAD)

En ja, kinders van God ly dikwels ook saam met die goddeloses onder die uitstorting van God se oordele, al hoef ons nooit te twyfel aan sy liefde en sy heerlike finale doelwit met ons nie. As daar oorlog of hongersnood, onstabiliteit en geweld in ‘n gebied is, ly almal tog saam. Is dit vir jou ‘n vreemde gedagte? Wel, dink maar aan die God se getroue profeet, Jeremia. Die feit dat hy die waarheid in gehoorsaamheid, onverdun aan ‘n vyandige volk in moeilike omstandighede verkondig het, het hom nie gevrywaar van alle gevolge van die einste oordele van God wat hy moes aankondig nie... Te midde van chaos, ellende en uiterste woelinge kan God se kinders egter weet dat die God weet wat Hy doen en ten volle in beheer is! Ja, dis juis GOD wat oordele voltrek (nie Satan of toeval nie) en daarmee sy almag en heerskappy binne die gang van die geskiedenis demonstreer! Hierdie wete bring vir ons groot rus en vrede, selfs al moet ons ook swaarkry. Wat ‘n opwindende tyd om ons geloof in ‘n soewereine God te bely en te leef!

*Four martyred in Ukraine

The evangelical community in Eastern Ukraine has been targeted for persecution, as they are considered enemies by pro-Russian separatists. 

Four young FEBC (Far East Broadcasting Company) volunteers who were recently captured by separatists were brutally beaten to death simply for being Christians, according to an FEBC report last week. “These men volunteered for FEBC with zeal, passionately helping to spread the gospel throughout Ukraine,” said the organisation. “We are deeply saddened and shocked.” 

Weeks prior to the tragedy, FEBC’s Eastern Ukrainian broadcast tower in Slavyansk, for months has been in the middle of the fighting between pro-Russian separatists and the Ukrainian central government, was shot down and completely destroyed. 

While FEBC is still broadcasting in Western Ukraine and reaching millions there, they are now looking for a new location to resume broadcasting to Eastern Ukraine, “doing everything we can to give hope to people in a seemingly hopeless situation….” [ASSIST NEWS SERVICE, 7 Aug.] (oorgeneem uit Feldmuis. Miskien kan iemand in Ukraïne meer inligting gee?)



Internasionaal word die mensdom gewurg deur "omstandighede"...
[telefoonpaal wat deur die sand verswelg word naby Luderitz]