BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Hoogmoed. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Hoogmoed. Wys alle plasings

Maandag 23 Januarie 2023

Irritasie, frustrasie en onreg

 - hoe moet ek dit hanteer?


Kliek op JAKOBUS om sy ingrypende antwoord te hoor!

(Ook baie van toepassing in 'n huwelik met spanning en onmin)


Vrydag 23 Junie 2017

“Ons is die beste...”

- Ekskuus wat het van nederigheid geword?

Grootpraat, spog en “brag” het algemene praktyk geword. Dis ‘n sonde wat so stil-stil sosiaal aanvaarbaar geword het. Dis sommer deesdae ‘n inherente deel van die skolekultuur en die Facebook styl (hoe meer “likes” ek kan inoes hoe beter voel ek) en die selfbeeld era en die “celebrity” agenda. Dis in en cool om met jouself te spog en jouself te adverteer! Prestasies of geld. Spiere, gesig of lyf...

Wel God in sy Woord dink heel anders oor die saak. Spreuke 27:2 stel dit baie duidelik. “Laat dit aan ‘n ander oor om jou te prys, moet dit nie self doen nie; laat dit uit ‘n ander se mond kom, nie uit joune nie.” 

Grootpraat is by alle mense onvanpas, maar veral vir ‘n kind van God. Hoekom?

Grootpraat loën die feit dat ons net ontvangers is. Ontvangers van genade, gawes en persente. Oor persente kan mens bly wees, maar nie grootpraat en “afshow” nie, want jy het dit nie verdien nie en nie daarvoor gewerk nie. Dink weer hieroor : “Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?” (1 Korintiërs 4:7)

Grootpraat is ‘n simptoom van hoogmoed en dit maak dat God ons vyand is. “"God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade." (Jakobus 4:6)

Grootpraat misken ons afhanklikheid van God en is daarom sonde. Die grootprater insinueer dat hyself in beheer is en self sy talente en toekoms beheer. Dit word so treffend gestel in Jakobus 4:13-17. 

“Kom nou, julle wat sê: "Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak."
Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.
Julle moet eerder sê: "As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen."
Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd. As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde.”

GROOTPRAAT IS NIE ‘N DEUG NIE, MAAR ‘N SKANDE EN SONDE!

Grootpraat is teen die liefde. Dis niks anders as ‘n vorm van liefdeloosheid nie. 1 Kor. 13:4 “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.” Jy maak ander mense seer met grootpraat. Grootpraat is maar eintlik ‘n subtiele manier om op ander te trap, om jouself bietjie bokant ander te verhef, of om ‘n ander se swakhede en minderwaardigheid te onderstreep.

Grootpraat gaan teen die essensie van die evangelie in. Ons as God se kinders het juis niks om oor te roem nie, want ons is uit genade alleen gered. Jesus het ons redding aan die kruis verdien en verwerf. Ons pogings, prestasie, verdienste, agtergrond, voorkoms of afkoms speel geen rol nie. Daarom roem Paulus alleenlik op die kruis! “Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.” (Galasiërs 6:14) Kan jy jou indink dat daar in die hemel enige grootpratery in enige vorm sal wees? Nee. Dit pas daarom reeds op aarde nie by God se kinders nie. In die hemel sal daar net dankbaarheid wees vir die genade. Dankbaarheid vir vergifnis. Dankbaarheid vir die kruisdood. Alle lof en eer en roem sal aan die Lam gebring word wat ons met sy bloed gekoop het.

Is alle komplimente en pryse en erkenning dan verkeerd? Nee, ons teks is mos duidelik. (Spreuke 27:2) Nee, laat ander mense jou prys en nie jyself nie! As jy die beste is, is dit nie verkeerd nie, maar laat ander mense dit dan raaksien en sê, nie jyself nie! As ander jou prys of gelukwens is dit ook nie verkeerd om hulle daarvoor te bedank nie. Maar nog belangriker : Laat dit veral aan God oor om jou te beoordeel en te prys, want mense se komplimente is dikwels ook vals... “Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, ‘n oordeel uitspreek nie. Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom.” (1 Kor. 4:3-5) Pasop maar gerus ook vir vleiery. Vleiery, heuning om die mond smeer is ‘n boetie van grootpraat. Leef voor die aangesig van God. Laat God jou eer, laat God jou beloon en prys soos en wanneer Hy besluit. (2 Kor. 10:18.) “Die man wat die proef deurstaan het, is nie die een wat homself prys nie, maar die een wat deur die Here geprys word.” Moenie komplimente najaag nie, moenie vir die skare speel nie. Laat ons leef voor die aangesig van God. Hy sal pryse en pluimpies uitdeel soos Hy wil.

Pasop vir subtiele grootpraat. Dis nou wanneer jy al jou hoedanighede en prestasies uitstal en ewe vroom byvoeg “Ag, ek wil net vir die Here dankie sê...!” Of mens hoor : "Jy weet, die Here seën my nou so, ek het onlangs my vyfde plaas gekoop...” Party mense se getuienisse van redding word op so ‘n manier aangebied dat dit eintlik neerkom op grootpraat eerder as ‘n getuienis tot God se eer! “Jong, ek het elke week ‘n ander meisie gehad, ek kon ‘n motor in 17 sekondes steel, ek was die man onder die manne... voordat die Here my siel gered het!” Op wie is die fokus nou eintlik?

Grootpraat skreeu teen genade. Grootpraat is ‘n miskenning van God. Grootpraat en selfverheffing roep die oordele van God op. Grootpraat weerspreek die lewe en boodskap van Jesus! Jesus het nooit gesê, “Salig is die wat spog!” nie, maar : “Salig is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is.”

NEDERIGE DANKBAARHEID PAS BY ELKE KIND VAN GOD!

Kan jy vandag eerlik sê: “Ek is ‘n sondaar, maar God was my deur Jesus genadig, uit genade het Hy my vergeef, uit genade het Hy my sy kind gemaak, uit genade sal ek volhard en die hemelse wenstreep behaal, maar ook uit genade skenk Hy my elke dag krag, gesondheid en voedsel soos Hy wil!"?
...Dan sal jy weet daar is geen plek vir grootpraat in jou lewe nie, maar net nederige dankbaarheid...

Sondag 01 Julie 2012

VAN KAIN TOT DIE KRUIS

- bloedspoor van die groen draak.

God seën Abel, maar terselfdertyd gebeur daar iets in Kain se hart...’n Giftige vuur brand in Kain se binneste : “Wie dink Abel is hy?  Waarom laat voel hy my na ’n verloorder? Hoekom  moet hy my altyd in die skaduwee stel?” 

Kyk wat gebeur hier : Abel is nou nie meer ’n broer vir Kain nie,   maar het  ’n teenstander geword.   Nie meer iemand vir wie ek moet liefhê en opbou nie, maar iemand wat op sy plek gesit moet word nie. Dis AFGUNS  wat Kain verteer en hom uiteindelik moord laat pleeg. By ‘n vorige geleentheid het ons gesien dat sonde ‘n verwoestende parasiet is. Sommige sonde parasiete  is baie opsigtelik, ander soos afguns kruip diep weg in die mens se binneste, maar is net so gevaarlik.

Afguns laat ’n bloedspoor deur die geskiedenis. (en tot in ons huwelike, huisgesinne, families, gemeentes...) Die hartseer verhaal  van Kain en Abel is nie net ’n geïsoleerde insident nie, maar die begin van ’n patroon wat ons dwarsdeur die Skrif kry.  

Waar begin dit?  God deel sy guns en gawes uit soos Hy wil. (dis sy Goddelike reg) En verrassend - dikwels word die jongste of die onbelangrike bo die oudste of belangrike gekies en dan  ontstaan daar afguns. Dink maar aan Isak en Ismael, Jakob en Esau, Josef en sy broers. ’n Klassieke voorbeeld van afguns kry ons by koning Saul teenoor Dawid.  Vir jare was koning Saul die onbetwiste held in Israel. ’n Ster van ’n koning. Maar op ’n dag verslaan die skaapwagter snuiter Dawid vir die reus Goliat. Dis vir almal duidelik, Dawid is ’n meer begaafde krygsman as Saul, meer nog,  God se hand is op Dawid se lewe. Selfs die skares erken en sien dit raak. (1 Samuel 18:7-9) Saul  word in die skadu gestel deur Dawid en hy kan dit nie hanteer nie. Sy trots word geraak, dit lei tot woede en afguns en dan tot poging tot moord! Afguns is ten diepste opstand teen God se beslissings en besluite, wat mense seën en kies soos HY wil.

Afguns is nie maar net ’n onskadelike groenerigheid in jou binneste nie - dis ‘n 

dreigende draak wat drama en dood veroorsaak. 

Selfs in die geval van Herodus se haat teenoor die baba Jesus wat gelei het tot die dood van onskuldige kinders,  was afguns waarskynlik die dieperliggende motief. Afguns op die Koning wat groter is as  hyself!

Hoe werk afguns, hoe lyk die anatomie van afguns? Afguns hou nie daarvan dat ’n ander voordele het wat ek nie het nie. Ander se begunstiging, ander se genot maak die afgunstige kwaad  -  byv Saul (1 Samuel 18:8), Kain (Gen 4:5)

Afguns begin gewoonlik by  ’n vergelyking tussen my en ander persone en dan word ek kwaad omdat hulle meer het as ek, omdat hulle bo my bevoordeel word, omdat hulle beter is as ek, omdat hulle gelukkiger is as ek... Afguns is ’n emosie en drang in my wat die ander se geluk, prestasie, eiendom en persoon wil vernietig. Afguns gaan dus dieper as begeerte en hebsug. Die persoon wat ’n ander se goed begeer, begeer dit so erg dat hy in die versoeking is om dit te steel. Maar, die afgunstige het so ’n weersin in die ander een se rykdom of voordele, hy wil graag sien dat dit vernietig word. 

Afguns wil bederf en vernietig.  

Kain het afgunstig geword omdat God vir Abel geseën het. En tog lyk dit asof God wel vir hom die geleentheid om seën te ontvang voorgehou het. Die deur tot blydskap het nog oopgestaan. (Gen 4:6) Maar Kain het nou  nie meer soseer belang gestel in Abel se seën nie, wat hy nou wou gehad het was  Abel se dood. Die afgunstige geestelike nageslag van Kain verlang nog steeds ander se ondergang en skade. Ja, afguns begeer die ander se skade en vind vreugde daarin. In Duits kry mens die beskrywene woord “Schadenfreude” - skadevreugde! Ek vind vreugde in die ander se skade.

Die Afrikaans vir hierdie woord is "leedvermaak". Ek word vermaak deur ander se leed, ek verlekker my daarin. Ek vind genot in ander se pyn. Is dit regtig so? Ja...

Ek is bly dat my maat wat my altyd met wiskunde wen, ’n slag sy boek by die huis vergeet het en nou deur die onderwyser uitgetrap word. Ek vind genot in die feit dat die ander outjie wat my uit die eerste rugby of hokkie span hou sy enkel verstuit het. Ons is heimlik bly dat ons vriende se kinders ook vir ’n slag uitgerafel het, want nou hoef ons nie meer so skuldig te voel oor ons s’n se gedrag nie (al simpatiseer ons kastig!)  Ek  is bly dat die ryk ou wat my altyd so irriteer met sy luukse goed, se motor gesteel is.  Afguns kan aaklige afmetings aanneem - ek kan bly wees oor ’n broer in die Here se misstap, want ek voel afgunstig op sy groei en vreugde in die Here. 

Afguns beskou ander se bates en geluk as ’n bedreiging vir die self. Waarom? Die antwoord is hoogmoed. Die voorrang van die eie ek. Dis die hart van afguns - die ander een moet minder hê sodat ek meer kan hê, die ander een moet bietjie kleiner gemaak word sodat ek groter kan vertoon. Afguns wil al my opponente uit die resies haal sodat ek alleen die wenner kan wees. Daarom is afguns gewoonlik gerig op iemand wat beter is as Ek, mooier as Ek, ryker as Ek, meer gewild as Ek, meer produktief as Ek...!

Nodeloos om te sê afguns het skrikwekkende gevolge en ly tot die aakligste sondes. Onthou net afguns is nie net beperk tot  goddelose besigheidsmanne of vermaaklikheidsterre daarbuite nie. Helaas,  kom afguns maar al te dikwels  voor in die kerk van Jesus. Dis so hartseer, want waar afguns gedy word die kerk van Jesus ’n ruïne. Waar afguns floreer raak die liggaam van Christus ’n uitgeteerde invalide,  so siek dat dit letterlik uitmekaar uitval. Om een praktiese voorbeeld te noem : Die afgunstige is iemand wat spesialiseer  in skinder. Waarom skinder mense? Weens afguns! Om ander se skandes te vertel laat daardie een mos slegter vertoon en my mos beter en dit het ons gesien is presies wat afguns wil hê. Deur skinder kan ek die ander een se naam en geluk vernietig.  Ons het gesê sonde is ’n parasiet wat die God bedoelde vrede , die paradysvrede van die skepping versteur. Afguns is ’n verwoestende parasiet, meer nog, ‘n monster wat die gemeenskap van die gelowiges aanval. Alle sonde en veral ook afguns verbreek gemeenskap.

Dis alles ‘n hartseer prentjie. Tog het ons rede om positief en hoopvol te wees. God se genade triomfeer ook oor afguns. Anders gesê selfs hierdie aaklige parasietiese monster  kan God se heerlike bedoeling met die skepping en mens nie dwarsboom nie. Ons het gekyk na ’n paar voorbeelde van afguns in die Bybel - en tog is dit juis opvallend dat God se genade in elkeen van hierdie situasies die laaste sê gehad  het. Kain maak vir Abel dood uit afguns, maar hy slaag nie daarin om die godvresende geslag uit te roei nie. Die geboorte van Set is ‘n klinkende oorwinning vir God se genade en verlossingsplan. (Gen 4: 25) Saul in sy afguns slaag nie daarin om Dawid uit die weg te ruim nie. God verlos Dawid uit Saul se afguns en woede, want uit Dawid se nageslag sou Jesus die Seun van Dawid kom. Ja, die afgunstige Herodes slaag nie daarin om die Verlosser Jesus dood te maak  nie. Jesus sou eers later gedood word, ook op aanstigting van die afgunstige Joodse leiers, maar God gebruik dit juis om sy heerlike doelwitte te bereik, want Jesus sterf as offer om ons te bevry. Satan en sy afgunstige handlangers kan nie uiteindelik wen nie! Geen duiwel, geen menslike sonde kan God se heerlike bedoeling van verlossing en herstel in die wiele ry nie! (Jesaja 11 gaan beslis in vervulling gaan)*

Dit bring ons by die eintlike groot rede waarom ons vanoggend bly en positief kan wees : die persoon van Jesus Christus en juis dit wat Hy deur sy kruisdood vermag het. Hy herstel God se paradys. 

Jesus het afgereken met die sonde parasiet en ook daarom die sonde van afguns. 

Hy het dit gedoen deur die wraak van God oor alle sonde te dra in ons plek. Plaasvervangend ons straf te ondergaan. Kyk terug na die toneel op Golgota - sien die Seun van God daar hang, Hy wat geen sonde ooit gedoen het nie, Hy wat nooit ’n greintjie afguns en jaloesie in sy hart gebêre het nie - Hy hang aan die kruis, Hy ervaar die bitterste lyding, Hy beleef die toorn van God soveel so dat sy liefdevolle Vader Hom op daardie oomblik verlaat. Hoekom? Op daardie oomblik dra Hy ons sonde, Hy is bedek met al ons ongeregtigheid - ja, ook met ons afguns, daardie aaklige slymerige groen afguns. Ja, Hy is gestraf ook vir my afguns!

Jesus vergewe ons afguns! Jesus bevry ons ook daarvan. Nou kan ons deur die krag van die Heilige Gees, God se eer en ander se belange eerste stel. So word ons weer beelddraers van die God van liefde. "Die liefde...is nie afgunstig nie"  ‘n Heerlike alternatief vir die bloedspoor van die afguns monster!

(Erkenning aan Cornelius Plantinga se Breviary of Sin)

*Lees ook PARADYS & PARASIET