DIS DUIWELDOR DROOG EN VERSKROEIEND WARM
Hier in Namibië smag ons met elke vesel in ons liggame na reën. Almal van ons. Boere of nie boere. Mag ons bid vir reën? Wie mag bid vir reën? Die antwoord op hierdie vraag is nie so eenvoudig soos dit op die oor af mag klink nie. Droogte is ‘n komplekse saak. Dit het nie net met reënval en El Nino te make nie, maar ook met gierigheid, met jare se oorbeweiding en roekelose veldbestuur. En dan leer die Bybel boonop vir ons dat God vir Elia op ‘n keer aangesê het om te bid dat dit NIE moet reën nie. Vir drie jaar en ses maande lank! (Jakobus 5:17) Hoe nou?
Die modelgebed van Jesus, die Onse Vader (Lukas 11) wys vir ons ‘n duidelike pad aan. Maar baie belangrik ons moet nie net na die Onse Vader in isolasie kyk nie, maar die hele lering van Jesus oor gebed in Lukas 11:1-13 oordink. (Maak jou Bybel hier oop)
OP REIS
Hier in Lukas is ‘n bepaalde konteks wat baie belangrik is. Wat is dit? Vanaf Lukas 9:51 word dit duidelik dat Jesus doelgerig op reis was na Jerusalem om daar te gaan ly en daarna na die hemel te vaar. In Lukas 13:1 word ons as’t ware herinner aan Jesus se reis situasie deur die gebruik van die woorde “sekere plek, êrens” (NAB). Iewers op pad. Die dissipels kom op hierdie tydstip met ‘n versoek (nadat hulle Jesus sien bid het) dat Jesus hulle moet leer bid. ‘n Gepaste gebed vir hulle tyd en omstandighede. Onthou, Jesus en Sy dissipels is besig met ‘n opmars na Jerusalem. Die dissipels sou wonder : “Gaan die koninkryk nou kom, het die tyd van oordeel nou aangebreek? Gaan die groot insameling van die oes nou plaasvind? Hoe moet ons nou bid?”
In hierdie situasie is dit opvallend dat Jesus spesifiek hierdie gebed vir Sy dissipels leer.
MODELGEBED VIR DIE GEVAARLIKE PAD
Net kortliks die inhoud van die gebed. Dit begin met ‘n aanroep van die Vader. (by einde van hierdie stuk lering kom Jesus weer terug by die onderwerp van “Vader” - vers 13). Daarna is daar drie uitroepe (“U Naam, U Koninkryk, U wil”) waarin die bidder God se beloofde toekoms toejuig en dringend vra dat dit mag aanbreek. Dit word dan gevolg deur drie afsonderlike versoeke. Al drie hierdie versoeke het betrekking op die bidders wat op pad is na God se beloofde ryk. Dis belangrik om raak te sien dat hierdie gebed nie oor twee losstaande afsonderlike sake gaan nie. ( eers God se eer en dan bloot ons behoeftes nie) Nee, dis juis mense wat onderweg is na die koninkryk wat lewensbehoeftes (fisiese versorging) nodig het, wat vergifnis nodig het, wat beskerming teen die Bose nodig het. Hierdie behoeftes gaan nie sommer oor versoeke van die mens in die algemeen nie. Dis dinge waarvoor mense net kan en mag bid in hulle ywer vir die koninkryk. In hulle op pad wees na die koninkryk. Hierdie is hoegenaamd nie versoeke wat in diens mag staan van ons eie selfsugtige behoeftes en ideale nie. Dit gaan oor versoeke binne koninkrykskonteks.
Dis heel waarskynlik dat die gebed wat Jesus hier vir Sy dissipels geleer het, bots met die verwagting wat hulle op hierdie stadium gehad het. Hulle het gedink die finale heerlikheid gaan nou aanbreek in Jerusalem, die Messias gaan nou Sy koninkryk triomfantelik vestig. Ons weet mos dat hulle ten spyte van Jesus se duidelike lering oor Sy naderende lyding , dit nie juis kon sluk nie. Hulle het vir hulle self ‘n triomftogsituasie voorgestel. Hulle wou ‘n nuwe gebed leer wat by hierdie verwagtinge inpas. En nou? Nou leer Jesus vir hulle ‘n gebed wat hulpbehoewendheid veronderstel (daaglikse brood), wat sonde en versoeking veronderstel (vergewe ons...), wat aanvegtinge en stryd veronderstel (bewaar ons van die Bose). Jesus leer hulle nie ‘n gemakstoel gebed nie, maar ‘n reisgebed vir ‘n gevaarlike pad.
Die toekoms wat Jesus sou bewerk word voer die dissipels langs ‘n gevaarlike pad. ‘n Pad wat voortdurende afhanklikheid sou vereis. ‘n Pad wat besaai is met beproewing en stryd. Die goeie nuus egter is dat op hierdie gevaarlike pad, hulle op Jesus se gesag met vertroue tot die Vader kan bid.
Die pad is gevaarlik maar ons kan met vertroue bid.
DIE VRYMOEDIGE VRIEND
Die gedagte van vertroue word nou verder deur Jesus onderstreep met ‘n gelykenis. Dis seker nie toevallig dat hierdie gelykenis juis handel oor iemand wat op reis was nie! (6). Moontlik wil Jesus ook aansluit by die “ons” van die gebed wat Hy aan sy dissipels so pas geleer het. Dis ‘n vriend wat namens ‘n ander vriend hulp vra by ‘n vriend. Gebed gaan nie bloot oor onsself nie, maar die ander wat saam met ons op pad is. Hoe dit ook al sy, die hoofsaak wat Jesus met die gelykenis onder ons aandag wil bring is die vertroue en die versekering wat met die vrae gepaard gaan. Die een wat klop maak staat op die vriendskap van die slapende vriend wat reeds in die bed is. Daarom is hy onbeskaamd, vrypostig. Let wel die onbeskaamdheid verwys na die onbeskaamdheid van die kloppende vriend. Sy onbeskaamdheid, sy buitengewone vrymoedigheid blyk duidelik dat hy op so ‘n onbehoorlike tyd aanklop om hulp te vra namens ‘n ander vriend. Die punt is : Leerlinge van Jesus mag maar met groot vrymoedigheid by die Vader kom aanklop.
Wanneer ons nood ervaar (ook in droogte) op ons pad na die Koninkryk mag skaamte ons nie weerhou om God te nader nie.
DIE KLIMAKS VAN GEBEDSVERHORING : DIE HEILIGE GEES
Die versekerings van vers 9-10 moet ons ook binne koninkrykskonteks verstaan! Jou vra, jou soek en jou klop op pad na die koninkryk sal nie op dowe ore val nie! Die lering sluit af met die voorbeeld van ‘n pa wat telkens vir sy kinders die beste wil gee. As dit die houding is van ‘n onvolmaakte aardse pa, hoeveel te meer dié van ons volmaakte Hemelse Vader!
En wat is die beste wat Hy vir ons gee! Wat is die toppunt van gebedsverhoring? Die Heilige Gees! “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee—die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra." (Lukas 11:13) Die inwoning van die Gees is immers die duidelike bewys en deposito dat die koninkryk onstuitbaar op pad is! Dat al God se beloftes vervul gaan word! Vir die eerste dissipels is hierdie belofte met Pinksterdag vervul. Dit vind ook daagliks neerslag in ons lewe, as ons ‘n lewe leef onder beheer van die Heilige Gees!
KOM ONS RAAK PRAKTIES
1.Gebed is bedoel vir God se kinders. Dis die unieke voorreg van elkeen wat God, Vader kan noem deur Jesus Christus. Ons mag dus bid vir bepaalde behoeftes in ons op pad wees na die koninkryk : fisiese versorging (en dit is ook reën) , vergifnis, beskerming teen die bose. Wat ‘n wonderlike troos - Jesus skryf hierdie gebed voor omdat Hy bewus is van ons omstandighede op die pad - ons behoeftes, nood, swakheid en gevare waarmee ons te kampe het.
2. Ons mag nie net nie, ons moet bid. Sonder hierdie gebed sal ons dit nie oorleef op pad na die koninkryk nie! Skaamte mag nooit in ons pad staan nie. Nooit hoef ons terug te deins om te vra nie. Ons Vader is meer as ‘n vriend, meer as ‘n aardse vader met gebreke. Hy is ‘n volmaak liefdevolle Vader. Ons mag maar vra, ons het die versekering uit Jesus se eie mond.
3. Belangrik : Dit wat ons mag vra, dit waartoe ons aangespoor word om met vrymoedigheid te vra, mag nie in diens staan van ons eie sondige en selfsugtige belange nie. Dit gaan wel ook oor ons behoeftes, maar oor ons behoeftes as mense met ‘n koninkryksvisie. Op pad na die God bedoelde toekoms! Die fokus mag nooit wees myself en my welvaart nie, maar die eer van God!
Die implikasie is :
Reën mag nie vir ons belangriker wees as God se eer nie! (Neem ek en jy standpunt in vir dit wat eer bring aan God en teen dit wat Hom beledig en oneer aan doen?)
Reën mag nie vir ons belangriker wees as bekering nie!
Reën mag nie belangriker wees as heiligheid nie.
Reën mag nie belangriker wees as ‘n begeerte om daagliks God se wil te doen nie!
Reën mag nie belangriker wees as ons bywoning van eredienste en ons bereidheid vir sendingwerk nie.
Kortom, as ons meer smag na reën as wat ons smag na die krag en die leiding van die Heilige Gees in ons lewens, is daar fout!
Wie nie met erns bid vir en smag na geestelike reën – (die aanbreek van die koninkryk) nie, het geen reg om vir fisiese reën te vra nie!
Mag God ons beide skenk uit genade!