BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Evangeliese troos. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Evangeliese troos. Wys alle plasings

Woensdag 06 Mei 2020

HEELTEMAL GRATIS!


- kom koop sonder geld.

Het jy besef, die heel belangrikste ding wat ek en jy op hierdie oomblik nodig het is heeltemal verniet en gratis? En ons word deur God self nou uitgenooi om dit te kom kry! Dis die heerlike boodskap van die besondere hoofstuk 55 in die Jesaja boek. 

“Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.” (1) 

Miskien besef ons dit nie, maar dit wat ek en jy NOU nodig het op hierdie oomblik (in hierdie virusverwarring) is nie in die eerste plek meer geld, gesondheid of gerief nie! Sondaars het vergifnis, bevryding en vrede nodig! Hoekom? Ons staan skuldig voor God! Dis erg om dit te erken, maar elkeen van ons het al sy wette gebreek. Ons is slawe van Satan, gebind met die kettings van sonde. Ons het God nie lief soos ons moet nie. Ons het ons medemens nie lief soos ons moet nie. Die skrikwekkende simptome van ons haglike toestand is maar orals te sigbaar ook in hierdie tyd… ontevredenheid, jaloesie, haat, allerhande vrese en angste, seksuele losbandigheid, huweliksontrou, geestelike verwarring, verslawing in alle vorme… 



Die mens is STUKKEND en sonder ware vreugde! Die sondaar weet : “Ek kort iets. Ek is nie versadig en vervuld nie.” 



En wat doen ons maar te dikwels? Ons bestee tyd en geld en moeite aan dinge wat nie vervulling in ons lewens kan bring nie! Nog ‘n nuwe voertuig, nog ‘n besigheid of strandhuis, nog ‘n roekelose romantiese avontuur en dwase verhouding, nog ‘n sport prestasie of droomkasteel wat nagejaag word… maar die gat in jou hart is steeds daar! Ons probeer die leemte en leegheid in ons sondaarharte vul met dinge wat ons nooit kan versadig nie. Dis die verwyt uit die Here se mond hier. “Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie?” (2a) 

LUISTER NA DIE GODDELIKE ROEPSTEM! 

Nou kom pleit die Here by jou en my : “Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is. Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe. Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit, Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid.” (2b en 3) 

Natuurlik is hierdie uitnodiging en belofte in Jesaja 55 gerig aan die verslae en gebroke bannelinge van destyds wat onder God se oordele deurgeloop het. Belangrik egter - hierdie belofte het net soos die ander beloftes in Jesaja (dink maar aan die aangrypende hoofstuk 53) vervulling in Jesus gevind. Hier word immers gesinspeel op die Dawidsbelofte wat soos ons weet vervul is in Jesus, die Seun van Dawid, gebore in die Dawidstad , Betlehem! Ons het hier dus reeds ‘n evangelie uitnodiging en evangelie belofte. Goddelike goeie nuus en vertroosting! 

In die Nuwe Testament, baie jare later,  neem Jesus hierdie woorde as’t ware in sy eie mond as Hy met die sondige Samaritaanse vrou (alreeds deur vyf mans!) by die put praat en vir haar die evangelie bring : 

“Maar Jesus antwoord haar: "Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” (Johannes 4:13,14) 

Mens kry die indruk dat Jesus besonder bekend was met hierdie Jesaja gedeelte, want ons hoor iets daarvan ook in sy woorde aan die skare as Hy sê : “Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen." (Johannes 6:27) 

En seker die aangrypendste voorbeeld van hierdie Jesaja belofte in Jesus se bediening hoor ons tydens die loofhuttefees. Jesus roep uit : “Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: "As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei." (Johannes 7:37,38) 

Die heerlike weerklank van hierdie troosvolle belofte in Jesaja kry ons tot aan die einde van die Nuwe Testament en wel in Openbaring 22:17. “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” Hoor jy? VERNIET! Die verlossing wat God jou skenk in die evangelie van Jesus is heeltemal verniet. 



God se gawe van vergifnis en vrede is ‘n persent, maar dis wel moontlik om ‘n persent mis te loop of te verbeur as ek sou weier of uitstel om dit te aanvaar. Daarom met ek jou vra: 

GAAN JY HIERDIE UITNODIGING ERNSTIG OPNEEM? 

As jy dit ernstig opneem, gaan jy nie langer uitstel om na Jesus te kom nie, want hierdie geleentheid tot genade kan dalk verbygaan. Ons word gewaarsku - “Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is.” (6) 

As jy hierdie uitnodiging ernstig opneem, sal jy nie langer teen jou beterwete vasklou aan jou sondige leefstyl en jou sondige planne nie. “Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.” (7) 

Bekering, genade en oorvloedige vergifnis gaan saam! 

Ek bring hierdie wonderlike evangelie uitnodiging aan jou met positiewe hoop en verwagting! God belowe hier dat net soos reën en sneeu ‘n effek het op aarde, so sal Sy Woord ook ‘n besliste effek en positiewe gevolg hê. “Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.” (10,11) 

Wat ‘n wonderlike wete dat hierdie genadige evangelie uitnodiging van God kragtig, lewegewend en effektief is! Dit maak ‘n verskil! Die evangelie beloftes van God bewerk ‘n kragtige ommekeer . ‘n Heerlike en blywende verandering tot eer van God. Ons word bevry uit die verknegting en ballingskap van sonde. Ons sal jubel en juig! Dit word met pragtige poëtiese taal beskryf. “Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek en in vrede gelei word; die berge en die heuwels sal voor julle uit jubel en juig en al die bome in die veld sal hande klap. In die plek van ‘n doringbos sal daar ‘n sipres opskiet, in die plek van ‘n dissel sal daar ‘n mirteboom opskiet. Dit sal tot eer van die Here wees, ‘n blywende teken wat nooit vernietig sal word nie.” (12,13) 

My vriend, moenie langer in jou sonde ellende en hongersnood ly nie. Kom na Jesus. Sien sy volmaakte kruisdood raak! Glo Hom. Vertrou Hom alleen vir vergifnis en vrede. Hy gee dit verniet!



Donderdag 16 April 2020

WAAR IS GOD

in hierdie pandemie? 


[‘n oproep tot realisme en eerlikheid] 

Daar is baie troosboodskappe in hierdie tyd van Covid-19 en dis reg. Vir God se kinders is daar ‘n heerlike evangeliese troos te midde van hierdie verskriklike pandemie. Maar ek mis iets, ek mis in die meeste van die boodskappe die volle Bybelse perspektief oor pandemies, ellendes en rampe! Ons moet pasop vir valse en vinnige troos. Vir goedkoop #Prayfor… wie ook al! Ons moet ook eerlik met die wêreld wees wat betref die oorsprong van hierdie pandemie (Ek praat nou nie van Chinese markte of laboratoriums, vlermuise of ietermagôs nie, maar die diepere oorsprong!) 

Is alle ellendes maar net toevallige natuurverskynsels of die noodlot van die geskiedenis? 

Die perspektief uit Openbaring hoofstuk 16 (die uitgooi van die bakke op aarde) is : NEE! God is intens betrokke by hierdie dinge! “Toe het ek uit die tempel ‘n harde stem vir die sewe engele hoor sê: "Gaan gooi die sewe bakke, gevul met DIE TOORN VAN GOD, op die aarde uit!” (1) LW. Gód se toorn. (nie die duiwel s’n nie) Maar nou wonder jy miskien, hoe pas dit nou in by die boodskap van Openbaring? 

TROOSBOEK

Ons weet tog dat Openbaring juis geskryf is as ‘n troosboek en aanmoediging vir Christene wat swaargekry het. Die hoofboodskap van Openbaring is dat God op die troon is. Hy is in beheer en almal wat verlos is deur die bloed van die Lam hoef nie te vrees nie, die koninkryk is vir hulle bestem. Hulle sal die oorwinning behaal omdat Jesus dit reeds behaal het. 

GOD RED ÉN OORDEEL 

Nou waar pas hierdie OORDELE wat uitgebeeld word deur die bakke dan in? Daar is duidelike patrone in die heilsgeskiedenis – hoe God se redding op aarde ontvou. Oordeel is altyd die keersy van redding. God oordeel sy vyande, juis as Hy sy mense red. Dink aan : Sondvloed. Verwoesting van Sodom en Gomorra. Redding uit Egipte Die oordeel van die tien plae. Terloops as ons kyk na die oordele van die bakke wat uitgegooi word is daar ‘n baie sterk ooreenkoms met die plae waarmee Egipte getref is. Swere, water in bloed verander, duisternis, onreine geeste soos paddas, hael...) Juis in God se oordele kom sy regverdigheid ook na vore! God red sy kinders deur sy groot genade, regverdigheid en liefde. God se toorn oor die sonde is die anderkant van sy regverdigheid en heiligheid. Juis omdat God regverdig is, oordeel Hy sonde. Juis omdat Hy liefde is, haat Hy wat verkeerd is! 

Al God se oordele is voorfilms, vooruitskouings op sy finale oordeel, wanneer sy vyande in die poel van vuur gewerp sal word. 

Rampe, ellendes, oorloë en epidemies op aarde is nie toevallige of neutrale gebeurtenisse nie. Dis waarskuwings van God en roepstemme tot bekering! 

SEËLS, BASUINE EN BAKKE 

Hierdie is nie die eerste keer in Openbaring waar daar oor God se oordele op aarde gepraat word nie. Die oordele van die breek van die seëls en die blaas van die trompette (basuine). Die groterwordende skaal van oordele is opvallend ; met die breek van die seëls word ‘n kwart van die aarde getref, met die blaas van die trompette ‘n derde, met die uitgooi van die bakke word die hele aarde getref. ‘n Al sterker opbou tot die eindoordeel word so geskets! 

Die eerste vier bakke gaan oor natuurrampe op land, see, varswaterbronne en in die hemelruim (die son). Natuurlik moet ons nou pasop om oorhaastig spesifieke rampe en ellendes en ongelukke te etiketteer as oordele oor spesifieke mense. Wat ons wel kan sê is dat God nie veraf en onbetrokke van Sy skepping af staan nie. Sy toorn oor die goddeloosheid van die mens het ‘n effek op aarde! God het die mag oor als wat gebeur op aarde. “Die mense is deur ‘n groot hitte gebrand, en hulle het die Naam gelaster van God wat die mag oor hierdie plae het.” (9) 

Hierdie is nie nou die tyd en plek vir ‘n diepte bespreking van al die oordele in Openbaring 16 nie. Laat ons net kyk na twee opvallende sake : 

God is regverdig in sy oordele. Ons kry so tussen in die beskrywing van die plae ‘n lofrede op God se regverdigheid. "Toe het ek die engel wat oor die water toesig hou, hoor sê: "U is regverdig, U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het; want hulle het die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet, en U het hulle self bloed laat drink. Dit het hulle verdien." Toe het ek die engel wat oor die altaar toesig hou, hoor sê: "Ja, Here God, Almagtige, betroubaar en reg is u oordele." (16:5-7.) Die wêreld se perspektief is dat God onregverdig is. (Mens hoor dikwels as daar ‘n ramp of ongeluk gebeur dat mense God verwyt, maar dis dieselfde mense wat altyd nog leef asof God nie bestaan nie.) Een ding kan ons weet vanuit die hemelse perspektief, God is altyd goed en regverdig en sy oordele is ook altyd regverdig! God is ook regverdig as Hy ‘n pandemie op aarde loslaat! 

Die goddeloses is hardkoppig en weier bekering. “...En hulle het hulle nie bekeer nie en aan Hom nie die eer gegee nie... En hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde praktyke nie.” (16:9,11) Dis die verstommende aspek dat God nog steeds geleentheid gee vir bekering, maar mense verwerp dit. Selfs tot aan die einde word God gelaster. (21) Net soos die Farao van destyds is hulle harte verhard! Dis wat ons in die praktyk sien – droogtes, vloede, rampe en pandemies lei nie noodwendig tot bekering nie! Die mens hou aan om God te ignoreer, te belaster en uit te tart met sy goddelose dade! (Dit wat God in Sy Woord gruwels noem word deur die wêreld aangeprys en aangemoedig!) 

Ons kan nie presies God se werkinge hier op aarde verstaan nie. Wat ons wel weet is dat God red én oordeel. Hy is nou reeds besig en Hy sal dit finaal doen as die goddeloses in die poel van vuur gewerp word en die regverdiges in die ewige koninkryk sal ingaan. Dis die boodskap van die hele Skrif* en dis wat Openbaar maar net in prentjies en simbole vir ons sê! 

Kom ons loof God juis ook in hierdie tye! Hy is ‘n regverdige God. Kom ons volhard in geloof en heiligmaking! God is ons Verlosser! 



*Byvoorbeeld dit wat ons in 2 Petrus 2:6-10 lees is ‘n goeie verduideliking van die betekenis van Openbaring 16.

  ” Die stede Sodom en Gomorra het Hy tot verwoesting veroordeel en tot as verbrand, en met hierdie voorbeeld het Hy getoon wat oor die goddelose mense gaan kom. 

En tog het Hy vir Lot gered, ‘n eerbare man wat gebuk moes gaan onder die losbandige lewenswyse van sedelose mense. 

Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ‘n foltering was vir sy opregte gemoed. 

Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou. 

Veral húlle sal gestraf word wat toegee aan hulle wellustige vleeslike begeertes en wat die gesag van die Here verag. Hierdie leraars is uitdagend en verwaand en huiwer nie om hemelwesens te beledig nie.” 


Saterdag 20 April 2019

DIE MOEDSKEP VISIOEN

(Vir Israel Folau)*

Een prentjie is meer werd as ‘n duisend woorde! Hier in Openbaring 1:9-20 kry ons ‘n besondere prentjie – ‘n Moedskep-visioen** wat die swaarkry Christene van die destydse Klein Asië moes vertroos en bemoedig. En dis heerlik aktueel… dis vir ons! Vir Christene wat ly in Noord-Korea of Iran, maar ook kinders van God wat in die materialistiese en goddelose Westerse wêreld deur hulle eie families of die samelewing gespot, uitgestoot en vervolg word. Ouens soos Israel Folau wat weens hulle getrouheid aan die Woord skade ly en beledig word... 


TROOSBOEK

Onthou Openbaring is ‘n troosboek en nie ‘n detail voorspellingsboek nie. Die Christene aan wie Johannes geskryf het, het ‘n groot behoefte aan troos en bemoediging gehad. Hyself natuurlik ook. (Johannes deel in die swaarkry wat insluit vervolging en onregverdige behandeling, armoede, uitbuiting, geweld – Johannes self is immers verban na die eiland Patmos ter wille van sy geloof) En wat ‘n heerlike troos kry hulle… Dié troos is nie oppervlakkige clichés soos : “Ag, toemaar dinge is nie so erg nie.” Nie, “Ag onthou elke donker wolk het ‘n silwer randjie” nie. Nee! Dit gaan oor grondige evangeliese troos. Die troos wat Jesus se kruis en opstanding en ewige heerskappy ons bied. Die prentjie wat Johannes sien en waarmee hierdie Christene bemoedig word is die prentjie van die verheerlikte en oorwinnende Christus! Hy wat wel dood was maar nou vir ewige lewe! 

JESUS BY ONS!

In hierdie moeilike omstandighede moet kinders van God weet, Jesus is nie ver of afsydig nie, maar midde in sy kerk – tussen die staanlampe! By ons in ons nood en smart! Jesus is vir altyd betrokke by sy kerk en teenwoordig in sy ware kerk! (13) Jesus is die Seun van die Mens – (Daniël 7) Hy is die Messiaanse bevryder wat beloof is! 

KYK!

Nou word sy voorkoms vir ons in detail beskryf. Natuurlik moet ons dit nou nie verstaan as ‘n letterlike foto van Jesus nie, maar as funksionele beeldspraak om iets van sy ONBESKRYFLIKE HEERLIKHEID EN MAJESTEIT EN MAG te beklemtoon! Woorde ontbreek! 

Net kortliks (maak self jou Bybel hier oop by Openbaring 1): 

Die lang kleed en goue band (13) – Jesus se hoëpriesterlike waardigheid! Sy werk as Hoëpriester is voltooi! 

(14) – witheid dui op sy wysheid, insig, kennis. Hy weet van als en Hy het die oplossing en raad wat nodig is. 

Oë soos vuur – deurpriemende insig, alwetendheid, niks bly vir Hom onsigbaar en niks kan vir Hom weggesteek word nie! 

(15) Voete soos gloeiende geelkoper – Gepoleerde kopervoete beeld Jesus se standvastigheid en krag uit. Hy kan nie wankel nie. (Hy sal nie koue voete kry en vlug en ons in die steek laat nie...) Ook sy volmaakte suiwerheid. Wat ‘n troos in ‘n wankelende onsekere en onreine vuil wêreld! Jesus se heerlike andersheid staan uit! ‘n Magtige stem soos baie waters – dink aan die gedruis van ‘n indrukwekkende en asemrowende waterval! ‘n Gerusstellende geluid, God se stem! Goddelike gesag en Goddelike ontsagwekkende heerlikheid. 

(16) Die sewe sterre in sy regterhand – dui op die sewe leraars van die sewe gemeentes. Sy regterhand is sy sterk hand. Hy alleen beskerm en beheer sy kerk, soewerein! ‘n Skerp swaard – Jesus het die bevoegdheid om met sy woorde te oordeel. Jesus is die Een wat sy kerk aanspreek, bemoedig en oproep tot bekering. Jesus se woorde sal uiteindelik staande bly, Jesus het die laaste sê! Sy hele voorkoms is soos die son op sy helderste – Hierdie verblindende heerlikheid van Jesus herinner mens aan die gebeurtenis toe Moses van die berg Sinai afgekom het (toe sy gesig so geblink het) en ook aan die gebeurtenis by die verheerliking op die berg. Jesus se gesig wat van heerlikheid blinkende skyn. (Matt 17) Die onbeskryflike heerlikheid en majesteit van Jesus kan nie met mensetaal geteken word nie! 

Hierdie angswekkend heerlike visioen laat Johannes verstom en verbyster! Geen woorde nie! Hy val neer soos ‘n dooie. 

SY VERTROOSTENDE HAND EN WOORDE

Wat nou? Nou is dit so vertroostend. Jesus vat aan Johannes. ‘n Gerusstellende hand op sy skouer en gerusstellende woorde : “Moenie bang wees nie!” Hoe dikwels het Jesus hierdie woorde vir sy bang dissipels op aarde gesê – nou na sy opstanding hoor Johannes dit weer! Mag ek en jy dit hoor… en moed skep! Mag jy nou op hierdie oomblik in jou toestand van vrees, hartseer, verwerping of eensaamheid sy hand voel, sy stem hoor... 

DIE EERSTE EN DIE LAASTE

Asof die visioen nie genoeg was nie, gee Jesus in woorde weer ‘n bevestiging waarom Johannes en al God se kinders nie hoef te vrees nie. “Ek is die EERSTE EN DIE LAASTE!” Dieselfde betekenis as die “Alfa en die Omega” (8) Hierdie term kom uit die profeet Jesaja. 

Kom ons blaai bietjie na Jesaja: 

“Wie het dit gedoen en tot stand gebring? Hy wat die geslagte roep van die begin af; Ek, die HERE, die Eerste, en by die laaste is Ek dieselfde.” (Jesaja 41:4) 

“So sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.” (Jesaja 44:6) 

“Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook is Ek die Laaste. Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam.” (Jesaja 48:12,13) 

In al hierdie kontekste gaan dit oor God wat die Skepper is van als en almal, oor God wat volkome in beheer is van sy Skepping. God is die oorsprong van sy Skepping en bereik self sy doel met sy Skepping. Niks en niemand kan Hom keer om sy doel te bereik en sy planne uit te voer nie. Absolute soewereine gesag. Jesus, as ware God het hierdie Goddelike gesag en mag! 

Jesus se oneindige gesag en onbeperkte mag word bevestig deur die feit van sy OPSTANDING! 

Die opstanding is die onomstootlike bewys van Jesus se Goddelike heerlikheid en almag. Sonder die opstanding sou dit als maar net mooi woorde wees! Niks kan Jesus se gesag en mag inperk of belemmer nie! Hy lewe vir ewig! Hy en Hy alleen het die sleutels van die dood en die doderyk. Juis dit wat die grootste vrees en onsekerheid by die mens bring – die dood, staan nou onder beheer van Jesus! Wat ‘n heerlike troos vir hierdie Christene wat doodgemaak is vir hulle geloof. Jesus het beheer oor die dood, so selfs as ons sou sterf bly die dood skadeloos, want ons is dan by Hom in heerlikheid! Dis nie die duiwel of ander magte of enige aardse tiran wat finale beheer oor die dood het nie. 

Die Opstandingswaarheid bevry ons van 
ALLE VREES! 


(Maar onthou, die duiwel lieg vir ons en wil ons laat glo dat hy in beheer is en dat hy kan dood en verwoesting saai soos hy wil....) 

Al die heerlike waarhede oor Jesus – sy volledige versoeningswerk aan die kruis, sy almag, sy beloftes oor die ewige erfenis en volmaakte heerlikheid wat vir ons wag… is gebou op die kernwaarheid van die letterlike liggaamlike opstanding uit die dood! ( Twyfel jy oor die opstanding? Kliek – ENIGSTE VERLOSSER) Jesus se opstanding uit die dood op die derde dag is die fondasie van die verlossingsevangelie. Omdat dit waar is, is die evangelie waar. Dis waarom ons feesvier. Ons weet Hy het sonde, Satan, dood en hel oorwin! 

Sy dissipels was daarvan oortuig… hulle het aan Hom gevat, gesien hoe eet Hy brood en vis…. Ons is ook daarvan oortuig deur die Woord en die werk van die Gees in ons harte! 

Kyk vandag weer opnuut na die verheerlikte Jesus, voel sy hand, hoor sy Woorde en skep moed! 

* Israel Folau is die Australiese rugbyspeler wat vervolg word, bloot omdat hy Bybelse waarhede op Instagram herhaal het. Dit het die gay aktiviste die harnas ingejaag. Dis ook heel moontlik 'n voorskou van die tipe vervolging wat nog op alle evangeliese en Bybelgetroue Christene wag.
**Jan du Rand, p131


Vrydag 25 Januarie 2019

WAAROM KRY EK NOU SO SWAAR?

- Jy word dalk voorberei om ander te troos! 


Troos en bemoediging is dit wat ons elkeen nodig het. Om die eenvoudige rede dat ons stukkende mense is wat in ‘n stukkende wêreld leef. Ons aardse bestaan word gekenmerk en aangetas deur sonde, swaarkry, siekte en ons is ook almal onderworpe aan sterflikheid. Ons het reeds uit Jesaja gesien, die enigste ware troos is dit wat God ons gee deur Jesus Christus. (Kliek op TROOSBOEK) Nou gaan ons ‘n stappie verder : Hoe kan ons ander met hierdie evangeliese troos bemoedig en vertroos? 

Paulus praat aangrypend en ook baie prakties hieroor in 2 Korintiërs 1:3-11. Terloops Jesaja se gedeelte oor die Goddelike troos is heel waarskynlik in sy agterkop as hy hier skryf. 

“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig,...” (2 Korintiërs 1:3,4 NAB) 

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.” (2 Korintiërs 1:3,4 OAV) 

Die konteks waarin Paulus van hierdie troos praat is baie interessant . Die 2 Korintiërs brief is eintlik ‘n taamlik kwaai brief vol baie ernstige waarskuwings. Tog is dit Paulus se diepste begeerte dat die troos van God wat hyself self van God ontvang het die gemeentelede sal bemoedig in hulle stryd en omstandighede. Hierdie gedeelte is vir elkeen wat Jesus ken ‘n kragtige aansporing en uitdaging om betrokke te raak by die vertroosting van medegelowiges! 

Hoe lyk vertroosters of bemoedigers wat Goddelike troos aan ander moet bring? 

Ware vertroosters het self troos gevind by God. (3,4) Goddelike troos is vir Paulus nie maar net ‘n stuk mooi teorie nie. Hy het dit persoonlik, proefondervindelik beleef en nou kan hy ander troos. Voor jy ander wil troos, toets eers jou eie fondasies! Is jy al getroos deur die evangelie? Anders gestel -Is Jesus self jou fondasie en hoop? Ondervind jy vertroosting vanuit die feite van sy kruis en opstanding, sy naderende wederkoms en sy daaglikse teenwoordigheid deur die Heilige Gees? 

Ware vertroosters wag en hoop geduldig op God se tyd saam met diegene vir wie hulle bemoedig. “Dit is Hy wat ons uit so ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red.” (10) Ook Jesaja het dit duidelik gemaak dat God self iets nuuts gaan doen, Hy gaan uitkoms bring. Hy doen dit op sy tyd wat die beste tyd is. 

Ons durf nie goedkoop troos of onrealistiese raad te gee nie. 

Ons sê nie vir mense, “ag, dis nie so erg nie” (want dit is erg), “die tyd sal als genees nie” (want dit gebeur nie altyd nie). Ons smokkel nie met mense se koppe dat “alles beter gaan word nie” (want dit gebeur nie altyd nie) Maar wat sê ons dan wel? Dat God ‘n nuwe begin gemaak het deur Jesus Christus. Dat Hy in Jesus ons skuld weggevat het deur sy kruisdood en opstanding en dat ons weet daar gaan ‘n nuwe hemel en aarde kom waar daar nie meer onreg, sonde en dood sal wees nie! In die tussentyd moet ons geduldig wag totdat Hy self ‘n antwoord sal gee op die dringende en dikwels onuitgesproke vrae in ons harte van : “Hoe lank nog Here?, Wanneer gaan daar 'n einde kom aan my smart?, Wanneer gaan reg en geregtigheid geskied?” (soos die martelare in Openbaring) Ja, ons weet dat dit God dikwels behaag om nou reeds hier op aarde wonderlike uitkomste en uitredding te gee, soos Hy wil en goed dink. Ons wag saam met ons lydende broers en susters geduldig daarop. Maar ons weet dat die groot finale troos eers by die wederkoms sal aanbreek en ons herinner mekaar daaraan om geduldig te volhard tot op daardie tyd. Ons wat troos en bemoediging bring word self beproef net soos die mense vir wie ons bemoedig. Ons moet dus langs ons broers en susters gaan sit en geduldig saam die lyding wat oor ons kom verduur terwyl ons mekaar herinner aan God se beloftes. Dis die beloftes van God vir wie niks onmoontlik is nie. Dit gaan oor vertroue op God wat selfs die dooies opwek! “Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe.”(9) Dit bring mens by die volgende kenmerk van ‘n trooster. 

Ware vertroosters vertroos mense uit die Woord van God. Onthou wat ons in Jesaja gehoor het - “Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.” (Jesaja 40:8) In ‘n stukkende en vals en gedurig veranderende wêreld is die enigste vastigheid, God se onfeilbare Woord, sy onbreekbare beloftes! Hier is net ‘n woord van waarskuwing nodig. 

Pasop om te vinnig na ‘n regklinkende teks te gryp en vir ‘n stukkende mens te vertel: “Hier is jou antwoord!” 

 ‘n Te vinnige pleistertjie. Dit gaan nie hieroor dat ons net ‘n lys van tekste ken vir elke situasie wat mag opduik nie. Dit gaan eerder daaroor dat ons denke en begrip oor ‘n lang tyd gevorm is deur voortdurende omgang met die Woord sodat ons met nederige insig en sagmoedige wysheid goeie raad kan gee. Vertroosting vanuit die hele Bybelse geskiedenis en God se plan met ‘n gebroke wêreld. 

Ware vertroosters vertroos andere as mense wat self weerloos en gewond is. Paulus is baie eerlik hier oor sy eie lyding en hoe dit hom tot wanhoop gedryf het. “Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is.” (8,9) Die bekende Anglikaanse teoloog NT Wright* sê dit wat Paulus hier beskryf is in ons taal “a nervous breakdown” ‘n Senu-ineenstorting! Paulus erken dat die swaarkry vir hom heeltemal te veel geword het. Hy ontbloot homself eintlik hier voor die lesers. Die een wat troos is self een wat swak is. Hy sluit hier op ‘n dieper manier aan by die boodskap van Jesaja 40-55. Die kern van daardie profesie is die Lydende Kneg van God, Jesus wat namens ons gely het. Hy het swak en broos geword ter wille van ons. Jesus het heeltemal een geword met die stukkende en skuldige mens. Dit het daarop neergekom dat Jesus Homself ten volle in ons as sondaars se plek geplaas het, Hy het Homself met ons geïdentifiseer. Dink net : Hy gaan staan in die ry van sondaars om deur Johannes gedoop te word... Hy het ons sonde en daarom ook ons pyn en ons lyding op Homself geneem. As ons ware troos aan ander wil bring sal ons iets van hierdie gesindheid van Jesus moet betoon. Ons moet nie net raad gee vanaf ‘n veilige afstand nie, maar langs die gewonde persoon as mede gewonde gaan sit en saam huil as stukkende mense!  En, baie mooi te luister! En onthou dis nie net ons wat ander help nie, ander help ons ook. “Dit is Hy wat ons uit so ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red. Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid.” (10,11) Gebed speel ‘n sleutelrol! 

Om saam te vat : Troos en bemoediging gebeur saam daar waar mense wat self Goddelike troos ondervind het, eerlik met mekaar is oor ons gebrokenheid, waar ons op grond van die beloftes van God se Woord mekaar aanmoedig om volhardend te op Hom vertrou en waar ons vir mekaar bid! 

Ontvang God se troos en gaan deel dit uit! Skep moed uit die feit dat Hy die swaarkry en lyding wat jy tans ondervind gebruik as voorbereiding vir jou taak as trooster!


*Ek gee graag erkenning aan die teoloog NT Wright vir die gedagtes en insigte in hierdie stuk.  Kliek HIER vir sy volledige preek.

Vrydag 18 Januarie 2019

TROOS, TROOS!

- God gee die enigste ware troos wat ons nodig het. 


“Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes."  Jesaja 40:1 (OAV) 

Watter heerlike woorde! Troos, die uitkoms is hier!* 

Ons is almal mense wat troos en bemoediging nodig het. Ons is stukkende mense in ‘n stukkende wêreld. Sonde, siekte, swaarkry...die sterflikheid wat soos 'n swaard oor ons koppe hang! Hier word troos juis vir ons aangekondig. En as ons troos ontvang het, het ek en jy die opdrag om aan ander troos en bemoediging te bring. (meer daaroor volgende week) Jesaja hoofstukke 40-55 is ‘n besondere troosboek. Hierdie gedeelte, 40:1-11 is die inleiding – die temas wat hier aangeroer word, word vorentoe verder uitgewerk in die res van die hoofstukke. 

Agtergrond en konteks. Die volk Israel sit in ballingskap in verre Babilonië. Dis ‘n hartseer ellendige situasie. Ver van hulle land en mense. Jerusalem is ‘n puinhoop. Die tempel is afgebreek. ‘n Verwoeste stad, verwoeste lewens, uitsiglose toekoms! (Dis dalk hoe jy nou voel?) Maar juis in hierdie situasie kom God met ‘n aangrypende en verreikende troosboodskap! Hoor mooi! 

Hierdie troos is iets konkreets. God se troos is iets baie meer as net medelye betoon, meer as net mooi woordjies of ‘n whatsapp met ‘n prentjie van blomme, gesiggies of vissies! Dis nie leë trooswoordjies soos : “Ag, dis nie so erg nie! Ag, jy sal een van die dae beter voel” nie. Dis die vaste versekering dat God ‘n einde aan die ballingskap sou maak en dat daar vir God se volk ‘n nuwe begin gaan kom. Dit gaan ‘n nuwe eksodus/bevryding wees. Daar gaan ‘n nuwe pad deur die woestyn gemaak word. (3) Letterlik ook in die sin dat net soos daar ‘n woestyn was tussen Egipte en Kanaän, daar ook ‘n woestyn was tussen Babel en die land. As God is troos is dit meer as net woorde. Dis ‘n nuwe begin! 

Hierdie troos is vir mense wat erg gesondig het. Die volk het juis weens sonde en God se oordele daaroor in soveel ellende beland. Hy het gestraf. Maar nou bring God uitkoms. Die straf is nou verby! (2) Die troosboek maak dit verder duidelik dat God self iets aan die sondeprobleem gedoen het. “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.” (44:22) Goddelike troos vind plaas wanneer ons sondeprobleem aangespreek word, want dis juis die kern van al ons probleme! God het die vergifnis bewerk en daarom vra Hy bekering in reaksie daarop. In die res van die hoofstukke is daar duidelike oproepe tot bekering. Sonder bekering kan jy nie troos en vrede verwag nie. “Maar vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê die Here.” (48:22) “Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.” (55:7) Onthou net : Troos en vergifnis is nie goedkeuring van sonde nie. Dink maar aan Jesus se hantering van die owerspelige vrou in Johannes 8. Hy veroordeel haar nie. Hy skenk vryspraak en kwytskelding, maar met ‘n duidelike opdrag om nie verder te sondig nie! 

Hierdie troos is vir verganklike mense. In hierdie gedeelte hoor ons ‘n moedelose skeptiese stem. Iemand sê: "Roep!" En ek vra: "Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ‘n veldblom: die gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai." Dit ís so, die volk is soos gras. (6,7) Hier hoor ons twyfel. Hoe kan hierdie wonderlike beloftes waar word, ons is so nietig? Maar hoor die heerlike versekering… “Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.” (8) Die mens is nietig maar God se Woord, God se beloftes staan onvernietigbaar, onveranderlik vas tot in ewigheid! God se Woord is effektief! Dit waarborg resultate! “Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.” (55:10,11) 

Hierdie troos is ‘n Godgewerkte en Godgewaarborgde troos. Dis God self wat ingryp omdat Hy getrou is aan sy Verbond “Vir my volk sê” (1) is ‘n sinspeling op die verbond. Dit word later eksplisiet gesê. “Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep.” (Jes 42:6a) God bewerk en waarborg die verlossing, want Hy is die almagtige! (5) As God besluit om iets te doen kan niemand dit keer nie! “Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie. Ék het die redding aangekondig, Ék het gered en dit laat verkondig, Ek, nie ‘n ander god onder julle nie. Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God. Ook hierna is Ek nog God. Uit my mag kan niemand gered word nie. Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie.” (43:11-13) 

Hierdie troos is ‘n evangeliese troos, die troos in Jesus! Dit gaan ooglopend oor veel meer as die einde van die fisiese ballingskap. Dit gaan oor die bevryding wat Jesus sou bring. Daar is baie aanduidings hiervan in hierdie hoofstukke self. Die belofte van die wegbereider in Jesaja 40:3,4 is deur die koms van Johannes die Doper vervul. “In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek en gesê: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom." Hy is die een wat die profeet Jesaja bedoel het toe hy gesê het: "Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit." (Matteus 3:1-3) Die sentrale figuur in Jesaja 40-55 is die Lydende Kneg van die Here, Jesus Christus. Die kern van hierdie troos kry ons so pragtig beskryf in 53:5,6. “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.” Jesus se plaasvervangende sterwe. Hy wat sy lewe vir sy skape gegee het. Jesus self is die Goeie Herder, wat juis ook vir die swakkes omgee en hulle versorg. 

"Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie." (11) 

Die enigste ware troos is die troos wat Jesus se kruisiging en opstanding vir ons bring! Dis die troos van die evangelie wat sê : Jou enorme skuld is klaar betaal, Ek het jou skande en verleentheid uitgewis! Ek maak ‘n nuwe begin met jou! Hierdie troos is so oneindig ryk! Dis meer as net vergifnis. 

Ons Verlosser sê ook : 

Ek gee jou krag! “Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” (40:29-30) 

Jy hoef nie bang te wees nie. “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou” (41:10) 

Ek sal jou nooit vergeet nie. “Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie." (49:15) 

Ek is nie meer vir jou kwaad nie. “Net ‘n oomblik het Ek jou verstoot, in my groot liefde vat Ek jou terug. In ‘n opwelling van toorn wou Ek ‘n kort tydjie niks met jou te doen hê nie, maar Ek ontferm My oor jou met ‘n liefde wat nooit vergaan nie, sê die Here, jou Verlosser.” (54:7,8) 

BELANGRIKE VRAAG 

Wat kos die troos? Hoe kry ekself dit? Die antwoord is duidelik : Kom, kom kry die troos en versadiging alles verniet! “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.” (55:1) Dis ‘n uitnodiging wat in die geloof aangeneem moet word. Dis ‘n uitnodiging van Jesus self. (vgl. Matteus 11:28-30) 

KOM KRY DIE TROOS,NOU!

Hierdie Goddelike troos moet in ons gebroke wêreld verkondig word. Ons moet dit self glo en hierdie troos ook aan ander bedien. (9) 

Ek wil jou graag aanmoedig. Doen jouself ‘n reuse guns en gaan lees biddend Jesaja hoofstukke 40-55! 

*Jesaja 40:1-11 (NAB) 

. 1 Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê. 

· 2 Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby, hy het geboet vir sy sonde, hy het van die Here die volle straf ontvang vir al sy sondes. 

· 3 Iemand roep: "Maak vir die Here ‘n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ‘n grootpad vir ons God! 

· 4 Elke laagte moet opgevul word, elke berg en rant moet gelykgrond word. Elke bult moet ‘n gelykte word en elke koppie ‘n vlakte. 

· 5 Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien. Die Here self het dit gesê." 

· 6 Iemand sê: "Roep!" En ek vra: "Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ‘n veldblom: 

· 7 gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai." Dit ís so, die volk is soos gras. 

· 8 Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig. 

· 9 Klim op ‘n hoë berg en roep hard, Sion, jy wat die goeie tyding moet bring; roep hard, Jerusalem, jy wat die goeie tyding moet bring, moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: "Julle God is hier! 

· 10 Die Here God kom, Hy is die Magtige, Hy regeer. Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het, dié wat aan Hom behoort, is by Hom. 

· 11 Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.

"...strome op die droë grond" (Jesaja 40:3)