BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Aantreklike lewens. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Aantreklike lewens. Wys alle plasings

Maandag 04 November 2019

SAAM OP REIS?

So dikwels moet ons hoor : “Moenie sê dis reg of verkeerd nie, moenie verdelende standpunte stel nie, kom ons reis eerder saam op soek na die waarheid!” Byvoorbeeld: “Kom ons doen studie oor die bestaan van die duiwel. Kom ons doen nog verdere studie oor die wese van die huwelik...” En ons weet daar is selfs ook deesdae vrae by baie teoloë oor die uniekheid van Jesus as enigste Middelaar en die feit van die opstanding. 


PASOP VIR HIERDIE REIS!

Hierdie versoek tot saamreis klink so vroom en nederig. Maar kom ons bekyk dit bietjie van nader... Hierdie reis van die liberalisme is ‘n gedoemde reis. 



Dis ‘n reis wat onvermydelik eindig in sinkretisme, agnostisisme en ateïsme. 



Hierdie reis maak dat baie mense reeds hulle respek vir die NGK op groot skaal verloor het. Een voorbeeld: Hierdie reis het al veroorsaak dat ons NG studente gemeentes bykans leeggeloop het en ons eie gelowige kinders na ander denominasies gaan om 'n geestelike tuiste te soek. 

Die reis van die liberale agenda is ‘n reis van swerwers sonder rigting en soekers wat nooit vind... Hierdie reis geskied op ‘n afdraaipad na die dood. Hierdie reisigers het die smal pad van die lewe verloor... 

Ek wonder, waarheen wil die liberaliste in die NGK heen reis? Na watter waarheid wil hulle soek? 

Vir 2000 jaar bely die kerk van Jesus, dat Jesus Christus die Seun van God is, wat vlees geword het en dat Hy alleen die weg, die waarheid en die lewe is. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

Vir 2000 jaar bely die kerk dat Jesus, deur sy kruis en opstanding Satan, sonde, dood en hel oorwin het. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

Vir 2000 jaar weet die kerk dat daar ‘n duiwel bestaan, maar gelukkig ook dat Hy op Golgota die onderspit gedelf het en dat die poel van vuur vir hom en sy meelopers wag. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

Vir 2000 jaar bely die kerk dat Jesus, liggaamlik en histories opgestaan het en dat sy graf leeg is. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

EN JA! JA! Vir 2000 verstaan die kerk dat ‘n huwelik die vaste verbintenis is tussen een man en een vrou. Dat die huwelik ‘n Goddelike instelling is wat die besondere band tussen Jesus as Bruidegom en die kerk as bruid uitbeeld! Weereens, Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! (Veral nie na BENONI toe nie!)

DIE REIS NA SION!

Maar natuurlik is God se kinders wel op reis. Ons reis juis met die waarheid as vertrekpunt. Ons reis nie omdat ons nog na die waarheid soek nie, maar juis omdat ons die waarheid het. Omdat Jesus Homself deur sy Woord en Sy Gees aan ons uit genade geopenbaar het! Ons reis, ja. 

Dis die pelgrimsreis van volharding waarvan John Bunyan so duidelik skryf in sy PELGRIM SE REIS NA DIE EWIGHEID. Dis die reis na die ewige stad Sion waar daar geen sonde, trane en dood meer sal wees nie! Op hierdie reis het ons inderdaad broers en susters, medereisigers nodig wat ons bemoedig, vermaan, ophelp as ons geval het en reghelp as ons verdwaal het. Maar ons hoef nie te soek na die waarheid nie, ons het die sleutel van die waarheid wat die seldeur in die donkerste ondergrondse kerker van die kasteel vertwyfeling kan oopsluit . So ontglip ons die martelings van die Reus Wanhoop en kry ons weer nuwe HOOP! 

Sterkte vir jou, my broer en suster vir die reis van volharding in die navolging van Jesus!





'n Tipiese voorbeeld na waarheen hierdie reis van die liberalisme mens neem, sien ons nou by die Universiteit van Pretoria se Fakulteit vir Teologie en Religie. Die studentekomitee het 'n nuwe embleem vir hulleself aanvaar. (Die studente groep)



Let wel dis nie die fakulteit self se embleem nie, maar die studente komitee s'n. Nietemin is dit 'n duidelike aanduiding van die teologiese klimaat en denkstrome op ons teologiese fakulteite. Prof. Ernest van Eck, die vise-dekaan het wel sy kommer gelug oor die reaksie wat hierdie embleem op sosiale media veroorsaak het en sou met die studente daaroor in gesprek gaan.








Maandag 01 Desember 2014

ANDERS!

-maar hoe anders? 


‘n Christen is iemand wat die goeie nuus gehoor het : “Jou sondes is uitgewis!” ‘n Christen is ook iemand wat gereageer het op die daaropvolgende uitnodiging : “Keer terug na my!” (Kliek op UITGEWIS) As die goeie nuus van Golgota my hart gegryp het en ek my bekeer het tot die Here kan ek nooit meer dieselfde wees nie. Die Christen is daarom in wese ANDERS! Die vraag is nou net hoe anders, in watter opsigte? Ons bly tog mos gewone mense, ons werk, ons trou, maak kinders groot, ons is landsburgers, ons het ook ontspanning nodig soos alle ander mense...

Petrus vertel ons...

“Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.” (1 Petrus 2:11,12)

ONS STATUS OP AARDE IS DIE VAN VREEMDELINGE EN BYWONERS!

Hoe moet ons dan anders wees? Petrus beskryf ons andersheid baie treffend deur die woorde vreemdelinge en bywoners. Die term vreemdelinge het hy reeds in 1 Petrus 1:1 in sy aanhef aangeroer. “Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld,...” Die terme sê so baie - ’n vreemdeling en bywoner in ’n land neem voluit deel aan die lewe, maar hy is in wese anders en sy ware lojaliteit lê elders in sy eie vaderland! In alle opsigte verskil hy van die huidige tydelike kultuur en leefstyl - sy waardes, gewoontes, maniere, lojaliteite... selfs kleredrag vertoon ‘n ander invloed. Die punt wat Petrus baie duidelik wil stel is : Kinders van God mag nie konformeer nie, mag nie dieselfde gewoontes hê nie, dieselfde gedrag openbaar as wat in die huidige goddelose wêreld waar ons woon aan die orde van die dag is nie. 

Petrus is nie die enigste Bybelskrywer wat ons verhouding met die wêreld so beskryf nie. Ook die Hebreër skrywer in Hebreërs 11:10,13,14; 13:14 onderstreep hierdie waarheid. “...(Abram) het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is....Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ‘n vaderland... ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.”

Ook Paulus beklemtoon dat ons burgerskap nie regtig hier gesetel is nie! “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.” (Filippense 3:20) 

Petrus lig vir ons drie sake uit met betrekking tot ons andersheid:

~ Die andersheid van die Christen lê dus eerste daarin dat ek my unieke eiesoortige identiteit sal besef. Dus : Onthou wie jy is. ‘n Tydelike vreemdeling en ‘n bywoner! Hierdie wêreld met sy sondige kultuur is nie jou permanente tuiste nie... Dis nie ons finale bestemming en ware lojaliteit nie. (Dis veral belangrik om jouself hieraan te herinner in tye wanneer dit baie goed gaan en jou besigheid net groei en groei. Besef dan – “ek gaan nie vir altyd hier wees nie, ek moet nie perspektief verloor nie”, maar ook in tye wanneer dit sleg gaan, wanneer die besigheid misluk of ek gediagnoseer word met ‘n ongeneeslike siekte... weet dan - “hierdie omstandigheid het nie die laaste sê nie, daar wag vir my ‘n ewige heerlikheid in my ware vaderland...”)

~ Tweedens bestaan ons andersheid daarin dat ons radikaal sal kies teen die slegte begeertes en waardes wat die mense en omgewing rondom ons beheers en bepaal. Verkeerde begeertes wat gestimuleer word deur alles wat ons rondom ons sien en beleef, hou ’n permanente bedreiging in vir die Christen. Die uitspattige leefstyl van die bure, die uitlokking tot losbandigheid op die tydskrifvoorblaaie, elke dag se neagtiewe nuus... Hierdie slegte begeertes was vroeër deel van Christene se lewens, dis nou agtergelaat, maar dit hou nog steeds gevaar in… Vermy dit, bly weg van wat verkeerd is, moenie toegee en swig nie. Tree aktief op en vrae jouself : Moet ek deur daardie tydskrifte op die winkelrak blaai, moet ek na daardie "songs" luister, is daardie sepie op TV bevorderlik vir rein gedagtes? Beteken dit ons moet kluisenaars of nonne word? Nee! Ons moet ons nie onttrek aan ons medemense opsigself nie, maar aan hulle verkeerde gedrag.*  Hierin was Jesus vir ons ‘n radikale voorbeeld en rolmodel. “Die Here Jesus was nie ‘n kluisenaar nie...Hy het Hom nie prakties afgesny van die samelewing nie, maar tog was Hy innerlik vry en afgeskei van die wêreld. Hy was nie afgetrokke of afsydig nie... Om die waarheid te sê, Hy was in so ‘n mate deel van die alledaagse wêreld, dat die godsdienstige mense van sy tyd Hom as ‘n vraat en ‘n wynsuiper beskou het. Tog het ons Here nooit toegelaat dat iets inbreuk maak op die toewyding van sy geestelike krag nie.” (Oswald Chambers) Wees radikaal anders in jou optrede te midde van ander mense. 

Almal sal egter nie ingenome wees met jou nuwe gedrag nie! Ons kan verwag dat mense ons verkeerd sal verstaan as ons nie saam met hulle die verkeerde doen nie. “Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.” (2 Petrus 4:4!) Juis die teenkanting en spot wat ons van die wêreld moet verduur is ‘n aanduiding dat ons op koers is na ons ewige Vaderland en nie hier hoort nie! Samuel Rutherford vat dit so raak : “As julle nie vreemdelinge was nie, sou die honde van die wêreld nie vir julle geblaf het nie.” 

~ Derdens moet ons andersheid gekenmerk word deur ‘n positiewe heilige andersheid. Dit gaan dus nie net oor dinge wat ons nie meer doen nie, maar veral oor dinge wat ons nou wel moet doen in ons omgewing waar ons tydelik leef! Leef ’n voorbeeldige lewe. ’n Heilige en voorbeeldige lewe maak ‘n positiewe verskil. Op die ou end moet mense dit insien en erken... en ja, dit kan selfs tot hulle bekering lei! Ons goeie lewens moet mense se kritiek laat omsit in bewondering. (Kliek op AGENDA IN HEIDENSE SAMELEWING) Ons lewens moet aantreklik wees vir ander mense. Daar is juis so ’n tekort aan aantreklike lewens - liefdevolle en getroue huwelike, gelukkige gesinne, rustige hardwerkende mense, eerlike besigheidsmanne, kwaliteit ambagsmanne, lewens sonder allerhande vrese en gejaagdheid, tevrede mense, nederige kampioene, blymoedige pasiënte, eerlike belastingbetalers, gehoorsame landsburgers wat die gesag oor ons respekteer! “omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid,...” (1 Petrus 2:14) Hierdie sigbare leefstyl van anders wees is in lyn met Jesus se opdrag – “Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en God verheerlik.” (Matt 5:16) So kan mense wat nou nog krities teenoor Christene staan oortuig word, hulle bekeer en God op die oordeelsdag verheerlik. 

‘n Wegkruip lewensstyl is nie ‘n opsie vir die Christen nie! ‘n Wegwyser lewe (na ‘n beter alternatief) is ons plig!

Kom ons raak sommer lekker prakties : Ons dra klere nes alle mense, maar ons word nie oorheers en gedryf deur die goddelose kaalgat modegiere van hierdie wêreld nie. Ons versorg ons liggame, maar ons hoef dit nie voor wellustige oë op SKOONHEIDSKOMPETISIES en die strand uit te stal nie. Ons leef gesond en verantwoordelik, maar glo nie in ‘n heidense ideaal van “Forever Young” nie! Ons werk en doen besigheid soos ander mense, maar ons word nie verteer deur geldgierigheid nie. Ons geniet ons kos, maar is nie vrate wat leef om te eet nie! Ons pas ons eiendom op, maar ons blydskap word nie bepaal deur die hoeveelheid van ons besittings nie. Ons bly in huise soos ander mense, maar ons rig nie vir ons kastele op asof ons vir altyd hier gaan bly nie. Ons is burgers van ‘n bepaalde land en lede van ‘n bepaalde volk wat ons pligte nakom, maar ons verabsoluteer en romantiseer dit nie, want ons weet ons ware burgerskap is elders! Maar omdat ons ‘n vaste burgerskap en ‘n ewige sekuriteit het, kan ons juis ook nou vreugdevol, vriendelik, kreatief, entoesiasties, tevrede, sonder vrees en swaarmoedigheid hier en nou leef. 

Dis die aantrekkingskrag en effek van die evangelie – anders, ja, heilig anders, maar juis blymoedig anders!

* Van Houwelingen: “Bepalend voor het christelijk leven is niet de distantie tot de medemens zelf, maar tot het bedorven leven dat hij leidt”.