BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Bybelse Balans. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Bybelse Balans. Wys alle plasings

Vrydag 14 September 2018

BYBELSE BALANS

EN AGAB OP SY WA !


“Iemand het egter losweg ‘n pyl afgeskiet, en dié het die koning van Israel getref tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat...” ( 1 Konings 22:34)

‘n Onbekende naamlose soldaat skiet sommer lukraak ‘n pyl af. Hierdie pyl tref egter niemand anders nie as Agab die goddelose koning van Israel. Is dit toevallig? Nee, Agab sterf soos God reeds vantevore aangekondig het, na die wrede moord op die onskuldige Nabot wie se wingerd hy so graag wou gehad het. 

Nou is die vraag, wie het Agab doodgemaak : God of die soldaat? 

Ja, Agab se dood het ‘n menslike oorsaak, die pyl van ‘n boogskieter. Was dit sommer toevallig, ‘n blote gelukskoot? Nee, Agab se dood het ‘n Goddelike oorsaak, dit was presies so deur God beplan. Die belangrikheid van menslike aksies en menslike verantwoordelikheid word net so in die Bybel beklemtoon soos Goddelike aksies en Goddelike soewereiniteit. 

Josef word deur sy broers verkoop. Dit was verkeerd en hulle bly verantwoordelik vir hulle eie gruwelike sonde. Maar daar is ook ‘n anderkant van die saak. “Toe Hy hongersnood oor die land gebring het en al hulle kos laat opraak het, het Hy iemand voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop.” Psalm 105:16,17. God se daad van stuur word parallel genoem met die daad van verkoop deur sy broers! Die een weerspreek nie die ander nie. 

Kom ons toets hierdie beginsel met nog ‘n gebeurtenis. Wie het Jesus gekruisig? Wie is verantwoordelik vir sy dood? Die skare in Jerusalem, Pilatus, Kajafas, Judas, die Romeinse soldate of die Satan self? Ja, hulle was almal verantwoordelik en dus skuldig. Petrus beskuldig juis die volk van hierdie vreeslike onreg. Maar daar is ook ‘n ander waarheid wat in balans hiermee is. “God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.” Dis wat Petrus sê in sy toespraak op Pinksterdag in Handelinge 2:23. God is volkome in beheer, als gebeur soos wat Hy bepaal!

Goddelike soewereiniteit en menslike verantwoordelikheid is altyd in balans. 

Mense vergeet dit so maklik. Soms is dit vir ons gerieflik om menslike verantwoordelikheid te ontken. As iemand teen ‘n roekelose spoed jaag en so verongeluk, dan word die skouers maklik opgetrek en gesê : “Ag, wat sy strepie was maar getrek.” Dis waar, maar dis eensydig. God het ook vir ons die gebod gegee wat ons beveel dat ons nie menslike lewe (ook ons eie) in gevaar mag stel nie. God het ook vir ons die opdrag en verantwoordelikheid gegee om landswette te gehoorsaam. Die Bybel leer vir ons op baie plekke dat ons dade gevolge het. (Kliek - SWAPE EN SOTTE IN SPREUKE) Ons kan nie maar ons skouers optrek en onskuldig pleit nie. 

Die Bybel sien geen teenstrydigheid tussen menslike verantwoordelikheid en Goddelike soewereiniteit nie.

Dit geld ook vir ons geloofspad. Ons kry die ernstige opdrag in Filippense 2:12. “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe” of soos die OAV dit nog sterker stel : “Werk julle eie heil uit met vrees en bewing”

Menslike verantwoordelikheid! Ons plig! Maar net daarna die wonderlike versekering. “want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” Filippense 2:13 Goddelike soewereine genade. Ons moet werk ja, maar dis eintlik Hy wat ons die wil gee om te werk. Beide waarhede : die onteenseglike opdrag aan onsself én God wat alles bewerk soos Hy wil moet ernstig opgeneem word. Beide moet in balans gehou word.

Nog ‘n soortgelyke voorbeeld. Daar kom na elkeen ‘n dringende uitnodiging om na Jesus te kom. Dit behels ‘n keuse van my kant af.

"Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” (Matteus 11:28) Dis jou verantwoordelikheid om hierdie besondere uitnodiging te aanvaar. Aan die anderkant as jy dit aanvaar is dit nie jou goedheid nie, maar dit was Jesus se wil om Homself aan jou bekend te maak. “My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.” (Matteus 11:27) Hierdie waarheid word immers bevestig in Johannes 6:44. “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie;...”

Dit bring mens nou natuurlik weer by die ou strydpunt rondom die uitverkiesing. So baie Bybelse tekste beklemtoon God soewereine en onvoorwaardelike uitverkiesing. God kies ons van voor die grondlegging van die wêreld om sy kinders te wees. Dis 'n waarheid waaroor ons moet juig en bly wees! Daar is egter net so baie tekste wat die belangrikheid van ons keuse onderstreep. “Kies wie julle wil dien, vandag as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard nie, kom kry die water, elkeen wat wil… “ Ons moet beide waarhede ernstig opneem. Ons moet beide aspekte preek.

Paulus lê baie klem op die feit dat ons nét deur die geloof gered word sonder enige werke of verdienste van ons kant. “Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.” (Rom 3:28) Jakobus stel dit weer duidelik dat geloof sonder werke heeltemal nutteloos is. “Julle sien dus dat ‘n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie.” (Jakobus 2:24) 

Is dit ‘n teenstrydigheid? Nee, Paulus vertel ons hoe ons gered word en dat redding alles net genade is. Hy sê dit vir mense wat die genoegsaamheid van Jesus se offer bevraagteken het en op eie prestasies, afkoms en wetsonderhouding wou staatmaak vir hulle redding. Jakobus praat aan die anderkant met mense wat genade wil misbruik en op hulle louere wil rus. Hy wil ons bewaar van ‘n valse skyngeloof. Dis vir mense wat redeneer, ons kan maar leef soos ons wil , want ons glo mos! Vir gesonde gebalanseerde Christenskap het ons beide waarhede nodig.

So is daar baie ander waarhede wat ons in balans moet handhaaf. Moet ons bid of werk vir ons kos? Ons moet bid, want Jesus het dit vir ons in die Onse Vader geleer. Beteken dit dat ons nie moet werk nie, en moet wag soos Elia dat die kraaie vir ons kos bring? (Nee, Elia het ‘n unieke opdrag van God gehad.) Die Bybel maak dit wel baie duidelik dat ons moet werk vir ons kos! "As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie." (2 Tessalonisense 3:10) Daar is ‘n Bybelse balans – bid en werk! 

Ons sien hierdie kombinasie baie treffend in die geskiedenis van Nehemia se opbou van die muur van Jerusalem. Daar is ernstig, gebid en gevas. Daar is net so ernstig hard gewerk en gebou. Hulle was ook gereed met hulle swaarde om hulle te verdedig teen die vyande wat die muur se bou wou keer. Gebed, maar ook troffels en swaarde was die instrumente... 

Ook wat die uitdra van die evangelie betref moet ons vashou aan beide bid en werk. As ons eksamen skryf,  bid en leer, as ons siek is… bid en medisyne gebruik.

Baie waarhede in die Bybel wat lyk of dit mekaar weerspreek. Dit weerspreek nie mekaar nie, maar is aanvullend. Ons moet elke waarheid ernstig opneem, maar nie eensydig opneem en verabsoluteer nie.

Simmetrie en balans is ‘n kenmerk van geestelike volwassenheid en insig. Baie dwalinge ontstaan juis wanneer een Skrifwaarheid bo ander beklemtoon word. Mag ons groei na geestelike volwassenheid wat Bybelse waarhede in balans sal hou! 

Erkenning aan Peter Barnes, Holding Two Truths Together, Banner of Truth, Dec 1997

Woensdag 28 Junie 2017

“PA, BEGRAWE MY OP DIE RUGBYVELD”

- die onverantwoordelikheid van Namibiese skolesport!

[Hierdie paar gedagtes het lankal reeds begin groei in my hart en op die rekenaar, maar ek het tot nou toe gehuiwer om dit te plaas, tot vanoggend toe ’n bekommerde pa sy hart met my gedeel het...]

Slaan my, skop my, skiet my, nes jy wil, maar die waarheid moet gesê word. As ‘n onderwyser-afrigter laat deurskemer dat hy eintlik nie heeltemal so bly is as ‘n span van hom na ‘n eindronde deurdring nie. As jy hoor hoe ‘n skolespan op een dag op Okahandja én Outjo moet speel. As getroue katkisante weens sportverpligtinge dit net nie kan maak om op ‘n Sondag betyds en vars in die klas te wees nie. As ‘n enkelouer by jou kla oor die geweldige klomp geld wat dit kos om die kinders te laat deelneem... As daar naweek vir naweek ‘n dolle gejaag oor die Namibiese vlaktes en op gevaarlike taxi roetes plaasvind om kinders van noord en suid, oos en wes vir wedstryde aan te karwei... As die uiteenlopende sportbedrywighede oor naweke selfs verwydering binne in ‘n huisgesin bring, want een kind speel op hierdie dorp en ‘n ander een op ‘n ander plek... As daar weinig plek is vir geestelike en kulturele bedrywighede in die week, want sportoefeninge word nou al vir drie middae in die week gereël, dan begin jy vermoed dat dinge op sportgebied hand uit geruk het. Daar is byna nie meer iets soos ‘n rustige naweek wanneer ‘n gesin iets op hulle eie kan doen nie! Om ‘n kerkbasaar of gemeentefunksie te reël, waar ons kosbare kinders ook saam kan wees het haas onmoontlik geword. Dit word geskuif ter wille van skolesport na ‘n ander naweek om maar net weer uit te vind dat die ander naweek ook geokkupeer is.

Iewers is iets nie pluis nie, of is dit normaal en reg dat kinders met beserings gedruk word om maar deel te neem? Is dit reg dat die geestelike opvoeding van ons kinders altyd tweede viool moet speel? Is dit gewens dat ons kinders (en ouers) te moeg is om op Sondae in die erediens te wees?

Ek hoor iemand teenkap : “Sport was nog altyd vir ons Suidwesters baie belangrik, ook in die ou dae.” Ja, ek stem saam, maar dit word vandag baie meer oordryf. (en natuurlik was als wat in die “ou dae” gebeur het ook nie noodwendig altyd reg nie) Een rede vir die sportontploffing is natuurlik al die ekstra byeenkomste, want ons privaatskole moet ekstra fondse insamel. En mens het begrip daarvoor. En die onderwysers (wie se gesinslewe ook ontwrig word) se harde werk moet waardeer word. Maar is die prys in lewenskwaliteit en gesinstyd en Godstyd wat ingeboet word om by die sportkalender by te hou nie dalk net te hoog nie?

Is ek nou teen sport en veral skolesport? Baie beslis nie. Sport is baie belangrik vir ’n gesonde liggaam, en ons weet almal mos ‘n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees. Laat ek dit kategories stel : ‘n Gebalanseerde sportprogram gerugsteun deur goeie morele beginsels is van groot waarde vir die vorming van kinders na liggaam en gees. Niemand betwyfel dit nie. Maar alles wat TE is (behalwe te voet, te perd en tevrede), is gevaarlik! En ons is nou reeds heeltemal TE ver binne die gevaarsone van oordrywing en verafgoding van sport...

Hierdie eensydige klem op sport laat my weer dink aan die hartseer verhaal van die seun wat in die beeskraal begrawe wou word... (so op my manier vertel) Dit het blykbaar iewers op ‘n plaas in Suid-Afrika gebeur. Pa was ‘n uitstekende Afrikanerbeesteler. Sy hele bestaan en lewensdoel het gedraai rondom die teel en versorging van sy spog rooi Afrikanerbeeste. Pa het vir sy seun als van beeste geleer, maar nagelaat om die evangelie aan hom oor te dra. Toe word seun siek en lê sterwend en sonder hoop vir die ewigheid in die opstal. Sy pa het hom nooit voorberei op hierdie laaste groot reis nie. Daar was vir niks anders tyd as Afrikanerbeeste nie... Nie tyd vir aandag, vir luister, vir liefde en vir die Woord nie. Die seun se laaste woorde het die tragedie van sy lewe en sterwe pynlik akkuraat opgesom: “Pa, begrawe my maar in die beeskraal!”

PASOP!

Pasop vir eensydigheid in ons kinders se opvoeding. Hulle weet als van rugby en netbal en hokkie, maar baie is totaal onkundig oor die Woord van God.

Pasop vir die onmenslike groot druk op kinders, diegene wat in sport presteer sowel as die ongelukkiges wat nie die span haal nie. 

Pasop vir ouers wat hulle eie (sport)ideale wil uitleef in hulle kinders, dikwels ten koste van hulle kinders.

Pasop as skole sport as ‘n advertensiemedium, werwingsaksie, geldinsamelingsprojek en beeldbou-poging gebruik op so ‘n manier dat dit lei tot benadeling van ander fasette van ons kinders se vorming.

Pasop as kinders se persoonlike gesondheid in gevaar gestel word, omdat hulle moet speel ten spyte van beserings of omdat te jong kinders in spanne ingedruk word en dus met groter en sterker kinders moet kompeteer.

Pasop dat oorvol sportprogramme in die week en naweek ons nie van kosbare gesinstyd en kerktyd beroof nie. Tyd wat nooit weer ingehaal kan word nie...

Pasop dat die manier van sportbeoefening en motivering nie lei tot ‘n onbybelse (kliek) SPOG EN GROOTPRAAT kultuur nie!

Pasop dat ons soveel energie en tyd aan sport bestee sodat ons die belangrikste in die lewe verwaarloos en ons kinders uiteindelik ‘n uitsiglose ewigheid moet binnegaan... Dat ons dalk eendag, by wyse van spreke moet hoor : “Begrawe my op die rugbyveld” of “Begrawe my onder die netbalbaan...”

Pasop dat sport nie die eintlike “god” in ons lewens word nie! Wie of wat aanbid ons regtig? Nie mooi woorde (spangebedjies) en vroom leuses nie, maar sigbare lojaliteit aan Jesus en Sy kerk sal uitsluitsel gee oor hierdie vraag...

Dis seker onrealisties om te verwag dat alle ouers die gevaar van eensydige Christuslose (of gebrekkige)  opvoeding moet kan insien, maar verbondsouers mag beslis nie in die lig van hulle doopbelofte toesien dat hulle kinders op die Molog altaar van oordrewe skolesport geoffer word nie!

Dit sal seker onmoontlik wees vir ouers en onderwysers wat self nooit hulle voete in enige kerk sit nie om ons angs oor verlore gemeentetyd te verstaan, maar vir die wat honger en dors na die Woord en die gemeenskap van die gelowiges het die sportoordrywing pynlike gevolge. Kinders van God alleenlik sal instemmend kan begryp wat Paulus aan Timoteus skryf : "Om jou liggaam te oefen, het wel ‘n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ‘n belofte van lewe, vir nou en die toekoms." (1 Timoteus 4:8)

Ons kan baie mooi verskonings en verduidelikings aanvoer om God, sy gemeente en ons huisgesinne af te skeep ter wille van sport, maar in die lig van Jesus se radikale liefdesoffer klink dit hol en leeg... Mag ons genade vind om volgens ons gewetens te handel in dankbaarheid oor hierdie groot liefde!



Lees ook : FOUT MET RUGBY?

Donderdag 08 September 2016

HEILIGE BYBELSE BALANS

- vrees en vertroue



In hoofstuk 1 van die Eerste Johannes brief hoor ons duidelik watter ernstige saak sonde is. (Kliek op GEMEENSKAP). Sonde en gemeenskap met God is twee onversoenbare dinge. Dis baie duidelik gestel, gemeenskap met God en ‘n lewe in duisternis is onderling uitsluitend! Dis of die een of die ander, saam kan dit nie bestaan nie. Aan die ander kant het Johannes die hele waarheid van vergifnis sterk gestel waar daar belydenis van sonde is. (1:9) Die vergifnis wat God skenk is volledig, ruim en oorvloedig!

TWEE REAKSIES, TWEE GEVARE

Waar mense hierdie waarhede hoor is daar dikwels twee uiterste reaksies wat altwee gevaarlik en verkeerd is.

Die een groep beklemtoon vergifnis en dink baie ligtelik oor sonde. Die gevoel is amper : “Ag, dis eenvoudig, dis my voorreg om sonde te doen en dis God se plig om my te vergewe. Waarom sou ek bekommerd wees oor sonde?” Dis juis hierdie groep wat nie sal skroom om Nagmaal te gebruik terwyl hulle doelbewus in onvrede, onvergewensgesindheid of onsedelikheid voortleef nie. Dis mense wat nog nooit die geweldigheid van God se heiligheid of die erns van sonde besef het nie. Dis baie gevaarlik om so ‘n houding te hê. Dis ‘n misbruik van genade! Die genade van God word as verskoning gebruik om losbandig te leef!

Die ander groep beklemtoon slegs die erns van sonde en is dikwels onseker oor vergifnis. Hulle redeneer so : “O, ek val so dikwels en so maklik. Daar is vir my geen hoop nie. Ek voel onwaardig en vuil, ek durf seker nie Nagmaal gebruik nie. God se heiligheid wek by my die heeltyd ‘n gevoel van vrees en verwerping. Dit vul my met onsekerheid en moedeloosheid.” Dis ook ‘n verkeerde houding. In hierdie groep kry mens soms ook mense met ‘n oorsensitiewe gewete wat oor allerlei nietige en onbenullige dinge voortdurend skuldig voel. (Kliek op OORSENSITIEWE GEWETE)

Johannes spreek beide groepe aan in 1 Johannes 2:1. Vir die eerste groep sy hy duidelik : “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie.” Die kind van God moet dit nie eers oorweeg om sonde te doen nie. Die moontlikheid moet nie eers by ons opkom nie. Sonde is ‘n vreemde verskynsel, dit pas hoegenaamd nie by God se kinders nie. Verder in sy brief stel hy dit nog sterker! Hy stel dit eintlik oordrewe, hiperbolies : “Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is. Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.” (1 Joh 3:9,10) 

As iemand dus ‘n ligtelike, ongeërgde, slap houding teenoor sonde het, moet jy weet dat jy op ‘n baie gevaarlike terrein beweeg! Die eerste groep moet dus duidelik hoor, sonde is ‘n bitter ernstige saak. God is lig! Dis nooit iets waarmee ons kan speel nie! Sondevergifnis het immers Jesus se dood gekos!

Ons moet sonde vrees!

Johannes spreek ook die tweede groep aan en wil vir hulle hoop gee. “En as een van ons sondig -ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” Johannes beveel ons ernstig om nie te sondig nie, maar indien dit wel gebeur (hy weet dit is iets wat kan gebeur), moet ons nie moed en hoop verloor nie, maar weet dat ons nog steeds Jesus as Voorspraak, as Advokaat het! Sonde is baie ernstig, dis iets wat ons hoegenaamd nie moet oorweeg nie, maar as dit wel gebeur, kan die kind van God die vertroue hê, daar is iemand wat vir my intree. My Advokaat, my Voorspraak, my Hoëpriester, Jesus! Hy stel my saak by God, daarom hoef ek nie te wanhoop as ek geval het nie. 

Hierdie waarheid van Jesus wat vir ons intree is ‘n duidelike Bybelse waarheid wat ook op ander plekke beklemtoon word. In Romeine 8:34 roep Paulus uit : “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Weens Jesus se pleitrede staan ons onskuldig! En Hebreërs 7:24,25 wat sê : “Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hy ‘n priesterskap wat nie op ‘n ander oorgedra word nie. Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” 

Ons moet op Jesus vertrou en hoopvol wees!

WIE IS KIND VAN GOD?

As Johannes vir Jesus ons Voorspraak noem, raak hy die hart van Christenskap aan. ‘n Kind van God is iemand wat Jesus as Middelaar en Voorspraak het! Die vraag is nie in die eerste plek of my sonde min of baie is nie, die vraag is nie of my sonde darem minder ernstig is as ander mense s’n nie, die vraag is nie of ek nog wel Bybel lees of bid nie, die vraag is ook nie of ek goed voel oor myself nie. Al vraag wat tel is : “Is Jesus my Advokaat?” Kan jy dit met oortuiging sê? Sonder Jesus geen hoop, met Jesus ‘n vaste heerlike hoop! Later sê Johannes dit nog duideliker in ‘n baie skerp kontras. “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.” (1 Johannes 5:12)

BYBELSE BALANS

Johannes het ‘n pastorale hart wat omgee vir ander Christen gelowiges, wat omgee vir ons. En daarom wil hy help dat ons nie in een van bogenoemde uiterstes verval en so skade ly nie. Ons moenie ligtelik dink oor sonde nie, ons moet ook nie alle hoop verloor as ons wel in sonde geval het nie. Dis die gesonde heilige Bybelse balans! Hy sê in effek : “Maak erns met sonde, kies teen sonde, bely en laat staan dit!”, maar hy sê ook : “Moenie moed verloor nie, hou vas aan die Middelaarskap van Jesus!” Dis in wese ook die voorwaarde vir die gebruik van die Nagmaal. Besef die erns van sonde, bely dit en breek daarmee. Besef die voorreg om Jesus as Middelaar en Advokaat te hê! Hy pleit vir jou omdat Hy met sy eie bloed jou sondeskuld betaal het! 

Ons gebruik juis die Nagmaal, nie om ons goedheid en sondeloosheid daarmee te verklaar nie, maar om opnuut ons vaste vertroue in Jesus se Middelaarskap, ja, vir my persoonlik te bely! Ons gebruik veral die Nagmaal omdat Jesus self deur sy Gees juis daardeur Sy getrouheid en genoegsaamheid vir ons tasbaar bevestig!



Woensdag 21 Oktober 2015

VRAE AAN DIE "FELDMUIS"

Die Feldmuis van Namibië is 'n baie skerp muis wat mens soms ook laat skaterlag, maar nou het die einste muis aan my siel geknaag...

Wat onstel my so? Ek haal aan:


[Die probleem lê dieper...

Die uiteenlopende standpunte wat lidmate en kerkrade oor selfdegeslagverhoudinge huldig, is ’n simptoom van ’n dieperliggende verskil tussen gelowiges. Ten diepste verskil gelowiges se verstaan van die gesag van die Bybel (bv. letterlik soos dit daar staan teenoor inagneming van tyd en omstandighede van ontstaan), hulle siening oor wat sonde is (bv. ’n lys van verkeerde dinge teenoor ’n persoonlike verhouding met God wat verbreek is) en hoe hulle God ken en oor Hom dink (bv.’n veroordelende God wat sondes straf teenoor ’n liefdevolle Vader wat in sy Seun, Jesus Christus, genadig en barmhartig is)]


GEVAARLIK EN ONSKRIFTUURLIK

Hier word myns insiens 'n baie gevaarlike teenstelling(s)* gemaak en sommer ook 'n ongelukkige beskuldiging rondgeslinger. Die indruk word geskep dat mense (soos ek) wat op duidelike Bybelse gronde teen die goedpraat van selfdegslagverhoudings gekant is, beskuldig word dat ons kwansuis (slegs) glo in 'n veroordelende God wat sondes straf. (en by implikasie nie aan 'n liefdevolle God nie) Die pro selfdegeslagmense is diegene wat dan nou glo in 'n liefdevolle Vader. Dis natuurlik 'n valse teenstelling en tipiese strooipop argument.

Dis ook om dit sagkens te stel, nie 'n baie nugtere omgang met die Bybelse gegewens nie!

Met my hele hart glo ek in 'n liefdevolle Vader wat my genadig is in Jesus Christus! Dis my as sondaar se enigste hoop. As ek sing, "Leeg met my sondelas hou ek U verdienste vas", is dit my persoonlike belydenis en my enigste troos. Ek glo in radikale vergifnis en ek verkondig radikale vergifnis! (Kliek op VERGIFNIS BY DIE VUUR)

Maar ek glo inderdaad ook in 'n God wat sondes straf. Trouens, Hy haat sonde so dat Hy selfs sy eie Seun gestraf het, toe Hy belaai was met my sonde en as sondaar in my plek behandel is. (Jesaja 53:5,6; 2 Korintiërs 5:21)

Ja, as ek in Jesus glo word ek inderdaad nie meer gestraf nie, maar ontvang ek die ewige lewe as geskenk. Maar dit beteken nie dat God nou skielik sonde goedpraat of Sy Heiligheid prysgee nie.

As dankbare kind van God moet ek nou teen die sonde stry! Romeine 6:1,2 is mos duidelik! "Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?" God se genade in Jesus, maak nie sonde nou skielik OK nie!

Binne die konteks van 'n gelowige se lewe is sonde steeds 'n saak waarteen ons moet stry en waarvan ons moet wegvlug! Selfs ten bloede toe! En daarom herinner die Hebreërskrywer ook juis vir Nuwe Testamentiese Christene dat "ons God 'n verterende vuur" is!  (Hebr 12:29) Ook op baie nader plekke in die Nuwe Testament word God se heiligheid en wraak oor sonde duidelik uitgespel en word ook gelowiges daarop attent gemaak. (deur byvoorbeeld parallele te trek tussen gelowiges en oud Israel, wat verlos is uit Egipte, maar weens die toorn van God nooit die beloofde land bereik het nie) Dink maar aan 1 Korintiërs 10 en die hele brief, Judas! En wat van die sterk taal waarmee die sewe gemeeentes in Openbaring tereggewys word? Nou onlangs tref die sterk woorde van veroordeling van die Here van die kerk my in Openbaring 2:23 my..."En haar (die valse profetes Isebel) kinders sal ek sekerlik doodmaak..." Feldmuis moet dalk vir ons verduidelik wat hierdie Skrifgedeeltes beteken!

HEIDELBERGSE KATEGISMUS

Ek wonder ook wat Feldmuis van die Heidelbergse Kategismus in die verband sê, wat gelowiges waarsku om te volhard in goeie werke? Hierdie waarskuwings sou mos geen sin maak as God nie meer oor sondes omgee en dit straf nie?

HK 86 Vraag: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is? Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys (b) word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry. (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen (d). (a) Rom 6:13; 12:1, 2; 1 Pet 2:5, 9; 1 Kor 6:20. (b) Matt 5:16; 1 Pet 2:12. (c) 2 Pet 1:10; Matt 7:17 Gal 5:6, 22. (d) 1 Pet 3:1, 2; Rom 14:19.

87 Vraag: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie? Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a). (a) 1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6;1 Joh 3:14. 

Ek wil nie graag met iemand 'n geveg gevoer in die kuberruimte nie. Maar Feldmuis se menings is in die openbare domein en daarom mag ek nie daaroor stilbly nie. (ek hoop my opmerkings word in die lig hiervan verstaan) Ek val ook nie hier 'n persoon/persone aan nie, maar 'n standpunt!

Terloops, Feldmuis laat weet ons dat die hele besluit oor selfdegeslagverhoudings NIE op Namibië van toepassing is nie. Dis aan die eenkant goeie nuus, maar laat mens met nog meer vrae as antwoorde. Waarom word dit nou eers so lank na die gebeure eksplisiet gesê? Hoekom is dit nie duidelik gestel in die pastorale brief wat ons 'n ruk gelede ontvang het nie? Hoe kan een kerkverband nou verskillende vereistes vir legitimasie (of dan beroeping) stel? Want dit sou beteken dat praktiserende homoseksuele  predikante/proponente nie in Namibië beroep mag word nie, maar wel in Suid-Afrika. Help my as ek verkeerd is. Kan ons dan hoegenaamd nog deel wees van die Algemene Sinode? As Namibië se regering hulle standpunte sou verander, gaan die kerk in Namibië dan weer inval by de AS besluite? Wat is die regte rede waarom Namibië dan uitgesluit word van die AS besluit? Het ons meer respek vir die staat as die Woord? Baie vrae... help asseblief as iemand die antwoorde ken...

*Die ander teenstellings is net so aanvegbaar, ek behandel net een.

Vir die Bybelse balans tussen God se straf en liefde, kliek op LIEFDE VIR 'N HOER!