BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Raadsplan van God. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Raadsplan van God. Wys alle plasings

Vrydag 10 Mei 2019

RUT : RAMP TOT TRIOMF

Rut is ‘n aangrypende liefdesverhaal. Min liefdesverhale begin egter op ‘n droewiger noot. (Lees gerus nou eers Rut hoofstuk 1) Dit begin met gebrek, droogte en dood! Dit lyk asof als wat vir hierdie familie verkeerd kan loop wel verkeerd loop. Jy ken dalk ook sulke tye... 

En dis nie net droogte en dood nie, maar so tussen die lyne is hier nog ook ‘n ander tragedie. Moenie vergeet nie, die twee seuns wat nou gesterf het, was getroud met Moabiete! Dit was duidelik teen God se wil. “Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie.” (Deut 23:3) 

NAOMI WORD MARA 

Kyk bietjie na die verhaal uit Naomi se oogpunt. Sonder man, sonder seuns, sonder ‘n toekoms…Wanneer als so verkeerd loop, gooi dit jou lewe onderstebo en dan gebeur daar dikwels, seker die ergste wat met ‘n mens kan gebeur – wantroue oor God se liefde! In geen onduidelike taal nie, verwyt Naomi vir God! Hoor haar pyn:

“Nee, my lot is swaarder as julle s’n: die Here het teen my gedraai." (1:13) 

“Hierop het Naomi vir hulle gesê: "Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 
My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ‘n ramp oor my gebring." (1:20,21) 

Hartseer en stukkend! Haar lewe was vol en nou is dit leeg! Sy is so stukkend dit tas haar hele identiteit aan – Sy wil nou Mara genoem word en nie meer Naomi nie. Die kontras tussen die twee name is baie groot. Naomi beteken, “lieflik, aangenaam”. Mara beteken “bitter”. 

GODDELIKE INGRYPE;MENSLIKE KEUSES! 

Gelukkig is dit nie die einde van die verhaal nie. Dit eindig nie by bitterheid en depressie nie. Die Here doen wonderlike dinge in hierdie uitsiglose hopelose situasie. Maar belangrik : In hierdie wonderlike dinge wat God doen is mense en hulle keuses betrokke. 

Twee belangrike keuses is opvallend. Rut se keuse om saam met Naomi te gaan. Dis nie net ‘n stukkie medemenslikheid nie, dis eintlik ‘n radikale bekering. Sy was ‘n heiden Moabiet, maar sy bekeer haar tot die lewende God. “Maar Rut het geantwoord: "Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God;waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei." (1:16-17) Hierdie keuse van Rut, wat nie ‘n maklike keuse was nie, het verreikende gevolge gehad. Heerlike gevolge wat sy nooit sou kon besef nie. 

Maar daar is ook Boas se keuse. Boas was ‘n verlangse familielid, ‘n welvarende man en Rut het gaan koringare optel op sy lande. En om die lang storie kort te maak (want dit het nie sommer als vanself gebeur nie), het Boas besluit om homself oor Naomi te ontferm en haar losser te word (volgens destyds se gebruike) en met haar te trou! 

Dit alles loop uit op ‘n heerlike einde. Ons lees:

“Boas het toe met Rut getrou en hy het gemeenskap met haar gehad. Die Here het haar swanger laat word, en Rut het ‘n seuntjie in die wêreld gebring. 

Die vrouens sê toe vir Naomi: "Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ‘n losser gegee het. Mag die losser se naam bekend wees in Israel, 
en mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg. Jou skoondogter wat jou liefhet en wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring." 
Naomi het toe die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem. 
Haar buurvroue het die seuntjie toe ‘n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: "‘n Seun is vir Naomi gebore." Obed was die voorvader van Dawid.” (4:13-17) 

Wat ‘n geweldige kontras met die begin van die verhaal. Van ‘n doodloopstraat na ‘n belofteryke toekomspad. Van ‘n dodelys, na ‘n geslagsregister. In die begin hoor ons ‘n bitter verwytklag teen God uit Naomi se mond, hier hoor ons lofsange aan die Here uit die mond van ‘n klomp vroue! 

God se werke en menslike keuses is in verweef met mekaar. Ja, dis uiteindelik God wat ‘n ramp verander in ‘n triomf – en tog maak Hy gebruik van menslike keuses. Menslike keuses is belangrik! Jou keuses het gevolge! Dink weer aan Rut se keuse om die ware God te dien en die afgode te los. Dink aan Boas se keuse om hom oor hierdie arm meisie te ontferm. Dit het heerlike gevolge gehad! 

Is jou keuse op die oomblik die regte keuse in die lig van God se Woord? 

En onthou die belangrikste keuse ooit – ‘n keuse vir Jesus! Dis ‘n eenmalige keuse, maar ook ‘n voortdurende keuse! Hoe kies jy nou? 

KLEIN SKARNIERE 

Iemand stel dit so : “Groot deure draai op klein skarniere!” Een regte keuse, hoe gering dit ook al mag blyk, het reuse positiewe gevolge vir jou en vir baie ander mense. Baie groter as wat jy dalk sou besef. In jou ellende en hartseer. Daarom - kies reg, kies volgens wat God wil. Kies volgens die Woord! Doen die regte ding, doen wat jy weet jy moet nou doen, al lyk dit hoe onbelangrik of nederig. As Rut nie bereid was om die nederige werk te gaan doen om te gaan are op tel op die lande nie, sou sy nooit by Boas uitgekom het nie! 

Doen jy net dit wat jy kan en moet, God sal die res doen! 


GOD SE GROTER PLAN : DUBBELE PLUS!

Die boek Rut is ‘n boodskap van hoop in tye van swaarkry en ellende. Gebrek, droogte en dood en ja, ook mislukking en sonde is nie die einde nie! Ook jou ellende en hartseer wat jy nou beleef is nie die einde nie! Hartseer omstandighede en gebeure het nie die laaste sê in ons lewens nie. God verander ‘n minus in ‘n plus. Maar God se plan is ook groter as wat ons as mense kan besef en verstaan. Hoe so? Die verhaal van Rut is natuurlik baie meer as ‘n liefdesverhaal tussen twee mense. Dis baie meer as ‘n mooi einde van "hulle het lank en gelukkig gelewe..."  Dis die liefdesverhaal van God vir sondaars. Dis uiteindelik verhaal van God se Seun, want hierdie geslagsregister aan die einde van die boek koppel die bekeerde Moabiet, Rut aan Jesus, via die voorvader Dawid. Rut word ‘n groot-groot oumagrootjie van Jesus! (Sy sou dit in haar leeftyd nooit kon droom of raai nie) Matteus noem ook spesifiek haar naam in sy geslagsregister van Jesus aan die begin van sy evangelie! (Matt 1:5) Die noodsituasie van ‘n gewone Israelitiese familie word deur God in ‘n seën vir ‘n hele volk (Dawid), maar meer nog in ‘n seën vir die wêreld omskep. (Jesus) God het ‘n minus in ‘n plus verander en uiteindelik in ‘n dubbele plus!* 

God ken jou persoonlike detailomstandighede en gryp genadiglik in, maar God sien ook die groter prentjie van Sy RAADSPLANNE wat ek en jy nie nou verstaan nie. Dis ‘n heerlike troos!

*W.S.Prinsloo, Die boek Rut

Donderdag 08 Desember 2011

WAS DIT REGTIG GOD SE WIL?

WAT VAN DAARDIE ONREGVERDIGE TRAGEDIE?

Ons ken almal die veelbewoë geskiedenis van Josef... die drome... die jaloesie van sy broers... sy verkoop as slaaf... sy onregverdige gevangeskap... sy verlossing uit die tronk... sy uiteindelike opgang tot onderkoning van Egipte! Hier aan die einde van Genesis, gee hy ‘n verhelderende perspektief op al die gebeure as hy (na Jakob se dood) met sy broers praat om hulle vrese vir vergelding te besweer. Lees Genesis 50:18-21
 

Is alles wat gebeur God se wil?

Weereens : Was dit God se wil dat die dronk man die kind doodry? Die antwoord is Nee, maar die antwoord is ook JA.

Om dit te probeer verstaan moet ons onderskeid maak tussen God se geopenbaarde morele wil en God se verborge ewige Raadswil. (Natuurlik is dit so ‘n diep saak, al ons vrae word nie geantwoord nie, maar hierdie onderskeid kan tog baie nuttig wees. Natuurlik is God oneindig bo ons denkvermoë verhewe... dit moet ons altyd besef)

God se geopenbaarde morele wil is dit wat Hy duidelik in Sy Woord sê, wat reg en verkeerd is. Dis tog duidelik waarvan God hou en waarvan Hy nie hou nie. Daarom kan ons sê dat die dronk man wat die kind doodry nie God se wil is nie. God is duidelik teen dronkenskap, God is ook duidelik daarteen dat ons ander mense leed aandoen. Dis sonde en God is altyd teen sonde. Sonde is nie God se wil nie. Daarom, NEE dis nie God se wil dat ‘n dronk man ‘n kind doodry nie!

Kom ons vra dit weer : Was dit God se wil dat die dronkman die kind doodry? JA, want niks kan op hierdie aarde gebeur sonder sy verborge ewige Raadswil nie. God se ewige Raadswil is dit wat Hy van ewig af bepaal het, sy finale doel met die wêreld en die geskiedenis, die heerlike einddoel van alles, ook sy doel met jou en my. Dis God se volmaakte meesterplan, wat daarop sal uitloop dat God volmaak geëer sal word! Alles werk daartoe mee. Dit kom daarop neer dat God so groot en almagtig is, dat Hy selfs dinge wat teen sy morele wil is kan gebruik om sy uiteindelike raadswil se doelwitte te bereik. Daaom moet ons sê dat ook die tragiese gebeurtenis van die kind wat doodgery word (al sê mens dit met groot sensitiwiteit en deernis) inpas by God se volmaakte Raadsplan, al verstaan ons nou glad nie wat die sin daarvan kan wees nie.

Miskien klink die ingewikkeld en teoreties. Kom ons kyk hoe hierdie beginsel prakties in die geskiedenis van Josef geïllustreer word:

Josef word deur sy jaloerse broers verkoop as slaaf en beland in die grootste ellende in Egipte. Sy broers het dus gesondig. Hulle doen iets wat nie God se wil is nie. Hulle het duidelik God se wil van liefde oortree en verbreek! Josef se broers het gesondig en hulle is self verantwoordelik vir hulle sonde. Tog is God so groot dat Hy die sondige broers se wandade gebruik om sy raadswil uit te voer en die volk van Israel van ‘n hongerdood te red. Dis duidelik uit Josef se woorde in Genesis 50:20 dat God ‘n goeie plan gehad het, al was dit die broers se bedoeling om Josef kwaad aan te doen.

Was Josef se swaarkry in dan nou Egipte God se wil of nie?
NEE, dis teen God se wil wat tog duidelik bepaal dat jy nie jou broer mag kwaad aandoen nie.
Maar...JA, dit was baie beslis deel van God se heerlike raadsplan om sy volk Israel te bewaar, sodat Jesus later uit hulle gebore kon word!

Hierdie beginsel dat God slegte dinge wat teen sy geopenbaarde morele wil is kan gebruik om sy ewige heerlike raadsplanne uit te voer kry ons die duidelikste in Jesus se lewe! Luister na die woorde van Petrus op Pinksterdag in Handelinge 2:22,23! (Lees) Jesus word deur sy eie volk se mense onskuldig gevang en oorgelewer om gekruisig te word. Hierdie mense verbreek dus ongetwyfeld God se wil van liefde en eerlikheid en regverdigheid. Tog lees ons baie duidelik dis God wat Jesus oorgelewer het! God het dit VOORAF so besluit en bepaal! Dit was van ewigheid af God se plan en bedoeling om juis die wêreld so te red!

God gebruik die goddelose en onregverdige leiers
om sy ewige Raadsplan uit te voer.

Was Jesus se onskuldige oorlewering deur sondige mense dan nou God se wil of nie?
NEE, dis teen God se morele wil om ‘n onskuldige mens dood te maak! (en terloops, Jesus was die enigste volkome onskuldige mens wat ooit op aarde was!)
JA, dit was van ewig af God se wil dat Jesus onskuldig moes sterf sodat ons gered kon word!

Alles wat gebeur is dus nie volgens God se geopenbaarde morele wil nie! Alles wat gebeur val wel binne God se Raadswil en uiteindelike bedoeling!

God is so groot, niks kan sy finale doelwitte dwarsboom of sy ewige planne in die wiele ry nie. Daar gebeur wel baie dinge wat teen sy morele wil is - baie sonde, onregverdigheid ens., maar Hy is so groot dat Hy juis ook daardie dinge kan inspan om uitvoering aan sy ewige dekrete en raadsplanne te gee.

Ook al tree mense goddeloos op, word hulle uiteindelik ingespan
 om God te eer! 

Die Here het alles gemaak met ‘n doel , ook die goddelose vir die dag van straf! (Spreuke 16:4) God sal alles laat uitwerk tot Sy eer, ook die goddeloses wat sy genade verwerp sal God eer deurdat God sy grootheid laat blyk as Hy hulle straf in die hel!

Hierdie beginsel raak ons prakties op twee maniere :
Ons is verantwoordelik vir ons dade. Ons kan kies om God se geopenbaarde wil te gehoorsaam of nie. Dit het gevolge..... As ek dronk bestuur, kan dit vreeslike gevolge hê! Ons keuses is werklike keuses waarvoor ons verantwoording sal moet doen!
Aan die anderkant kan ons die versekering hê - selfs al gebeur daar hoeveel slegte en hartseer dinge, selfs al gebeur daar hoeveel onverstaanbare dinge - God sal al sy ewige planne uitvoer!  Ons kan bly wees dat ons so ‘n groot  volmaak soewereine God het.

God se hand is agter alles.

God maak nooit ‘n fout met sy beplanning nie. Al God se Raadsplanne sal tot op die laaste letter, komma en punt uitgevoer word. So sal God al die eer kry wat Hom toekom.
Ons het ’n wonderlike God wat ten volle in beheer is van die geskiedenis en als sal laat gebeur volgens sy volmaakte Raadswil en Meesterplan. Dit vat egter nooit ons verantwoordelikheid weg nie! En wat is ons grootste verantwoordelikheid? Wat is ons belangrikste keuse? My vriend, dis om Sy Seun Jesus Christus as ons Heer en Verlosser te aanvaar en Hom in gehoorsaamheid te dien! AMEN