BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Sabbat. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Sabbat. Wys alle plasings

Donderdag 20 Junie 2024

Yashua en die Torah

 [Jesus en die Wet]

Die advertensiebord lei na iets baie groter en heerliker...



Die grootste deel van ons Bybels word beslaan deur die Ou Testament. (Die wet en die profete) Maar dis ’n vraag by baie Bybelgetroue Christene - Hoe ons hierdie grootste gedeelte van ons Bybel moet verstaan en toepas? Waarom sien die meeste Christene niks fout met die eet van varkvleis nie, onderhou nie die Sabbat nie, bring nie meer offers nie....?

DIE BERGREDE

Jesus self raak hierdie kwessie in detail aan as deel van sy beroemde Bergrede in Matteus 5:17-20.

  17“Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul. 

18Amen, Ek sê vir julle: Totdat die hemel en die aarde tot niet gaan, sal daar beslis geen jota of tittel van die Wet tot niet gaan nie, totdat alles vervul is.

19“Wie dus een van die geringste van hierdie gebooie afskaf en die mense so leer, sal die geringste in die koninkryk van die hemele genoem word. Maar wie dit onderhou en ander daarin onderrig, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. 20Want Ek sê vir julle, as julle geregtigheid nie aansienlik meer is as dié van die skrifkenners en die Fariseërs nie, sal julle beslis nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie.

“Moenie eeers daaraan dink...” Waarom maak Jesus hierdie uitspraak? Klink asof Hy skerm vir iets, Homself verdedig. Hier is geen direkte beskuldiging van iemand teen Jesus nie, so wat is Sy bedoeling? Kom ons kyk weer net na die geheel konteks. In die Saligsprekinge spreek Jesus self mense salig, salig in die hoogste sin. Hy sê wie deel het aan die Koninkryk en wie nie. Jesus bepaal dus die norme vir die ingang na die Koninkryk. Nou sou die vraag by die luisteraars kon ontstaan of Jesus dalk nou die openbaring van God in die wet en profete verwerp en Sy eie openbaring in die plek daarvan stel? 

Is Jesus dan nou hier besig met ’n  nuwe vreemde lering en godsdiens?

Jesus sny nou enige sodanige gedagte by die wortel af. Hy wil enige sodanige suspisie in die kiem smoor.  Hy maak dit duidelik - Ek het nie gekom om die wet en profete, die openbaring wat God reeds gegee het te ontbind nie. Ek het nie gekom om dit te verwoes of ongedaan te maak nie. Jesus stel dit onomwonde dat Hy nie, ’n vreemde of valse leer verkondig soos die heidene of Samaritane nie. (die heidene het God se openbaring in die OT totaal verwerp, die Samaritane het wel die wet van Moses aanvaar, maar die profete verwerp) Jesus is nie ’n heiden of ’n Samaritaan nie, Hy is ’n  gelowige Israeliet. (jy sal onthou dis presies waarvan die Jode Hom later beskuldig het, dat Hy ’n Samaritaan was - Johannes 4:48) Jesus is ’n gelowige Israeliet wat volgens God se geopenbaarde wil getrou aan Hom is (soos die versoeking in die woestyn duidelik bewys het) Hy het juis gekom om die wet en profete te vervul. In die lig hiervan, nl. dat Ek gekom het om die wet en profete te vervul moet julle die lering wat Ek aan julle gebring het (Saligsprekinge) verstaan.

VERVUL

Nou natuurlik die groot vraag : Wat bedoel Jesus met vervul? Daar is uiteenlopende menings hieroor en dit het nogal belangrike teologiese konsekwensies. Daar is ’n siening wat sê dat Jesus hiermee bedoel dat Hy maar net self die wet uitvoer en doen. (onveranderd handhaaf) Wel, die feit is hier staan nie doen nie, maar “vervul”.

So wat beteken “vervul”. Nou vervul is ’n term wat algemeen in die evangelies voorkom, en gebruik word in verband met die Skrifte. ( met ander woorde God se openbaring) Keer op keer lees mens – “sodat die Skrif vervul sou word, sodat wat die profeet gesê het vervul sou word..” vgl. 1:22; 2:15 ens. Vervul beteken dus dat dit wat nog onvoltooid is, dit wat nog oopstaan nou kan realiseer.* Om die wet en profete tot vervulling te bring beteken om dit wat die wet en profete in vooruitsig gestel het, te laat gebeur. Jesus verwerp nie die wet en profete nie, Hy is nie ’n invoerder van allerhande nuwighede in stryd met God se openbaring nie, Hy gaan juis laat gebeur dit wat die wet en profete in vooruitsig gestel het

 GEEN JOTA OF TITTEL

In vers 18 versterk Jesus hierdie uitspraak van Hom. “Voorwaar/Amen” - Jesus bevestig Sy gesag. “voordat die hemel...” Die jota is die kleinste letter in die Hebreeuse alfabet, tittel is ’n vokaalteken. In hedendaagse taal sou ons kon sê nie eers ’n kolletjie op een i sal tot niet gaan nie. Jesus sê dus : die doel van die  wet en profete sal bereik word, alles wat aangekondig is sal vervul word, alles wat deur God se openbaring aan Moses en die profete in vooruitsig gestel word, sal plaasvind. Ja, eers wanneer die hemel en die aarde verbygegaan het, dan sal die openbaring deur die wet en profete nie meer nodig wees nie.  Dan het alles mos klaar gebeur wat in vooruitsig gestel was.  Dan sal daar niks meer oor wees wat vervul kan word nie. Dan het die voleinding mos aangebreek.

Hier lê iets heerlik in Jesus se uitspraak. Alles wat in die wet en profete in vooruitsig gestel is sal tot die bedoelde vervulling kom - Jesus waarborg dit. “Ek sê vir julle”  - ’n Goddelike waarborg.  Die volledige vervulling van die inhoud van die wet en profete kom neer op die volledige aanbreek van die Koninkryk van God. Die wet en profete  het die koms van die Koninkryk voorberei en aangekondig.   Dis soos ’n bloeisel wat nou ontwikkel (vervul word) in ’n vrug. Die bloeisel is baie belangrik, maar dis nog nie die finale eindproduk en doelwit nie. Dit vind voltooiing en vervulling in die vrug. Die vrug is in ‘n sin die voortsetting van die bloeisel, maar is ook baie meer en baie heerliker.



Die boodskap van vers 17,18 is duidelik :Jesus skuif nie deur sy lering in die Saligsprekinge die wet en profete weg nie, maar Hy laat juis nou die Koninkryk aanbreek, waarvan die wet en profete die voorbereiding en aankondiging was.

GERINGSTE GEBOOIE

In vers 19 kom nou ’n nuwe saak aan die orde. Dit gaan hier oor die luisteraars en hulle houding. Die belangrike vraag is wat word bedoel met “hierdie geringste (kleinste) gebooie”? Sommige bring dit in verband met vers 18. In vers 18 is daar egter nie sprake van gebooie nie. Ons het gesien dit gaan daar oor die totaliteit van die wet en profete, God se openbaring wat ten volle sy doel sal bereik. Kleinste gebooie kan tog nie na Dekaloog (Tien Gebooie) verwys nie - dis tog nie klein/gering nie! (Geen Jood sou so kon dink nie)

Hierdie geringste gebooie verwys na die gebooie/opdragte wat Jesus so pas self uitgevaardig het in die Saligsprekinge.** Hierdie gebooie is bepalend vir toegang tot die hemelryk, (Natuurlik nie as ’n stel wette waardeur mense iets verdien nie. Onthou die Saligsprekinge fokus op Jesus self en bring mense na Jesus self.) Hoekom “gering”? Onthou vir mense wat al die wette van die OT geken het sou Jesus se gebooie oor sagmoedigheid, treur, vredemaak maar gering en onbeduidend kon lyk. Klein en onbelangrik in die oë van die mense, maar juis omdat Jesus die wet (die openbaring van God) kom vervul, voltooi het, moet mense deeglik rekening hou met sy opdragte. Jesus bring wet en profete tot vervulling in sy lering en optrede. Jesus laat die Koninkryk aanbreek en bepaal die voorwaardes vir toegang. Wie die Koninkryk van God wil ingaan moet eerbied hê vir Jesus en Sy opdragte al sou dit baie klein en gering kon voorkom.

JESUS GAAN VERDER EN VERWAG MEER

Vers 20. Ons moenie hier al ’n aanval op die Fariseërs en Skrifgeleerdes sien nie. Ons moenie op hierdie punt allerhande kritiek teen die Fariseërs inlees nie. Jesus wil sê dat Hy nie teen hulle lering van die wet en profete is nie, maar vir die ingang in die Koninkryk moet Sy lering ter harte geneem word. Jesus as die vervulling van die wet en profete as die hoogtepunt stel ’n hoër standaard. Jesus het die Koninkryk nou laat aanbreek en wie deel wil hê aan die Koninkryk moet Hom aanvaar. Jesus verwag van sy dissipels om ’n stap verder te gaan as die lering van die Fariseërs. Dit sal ons duidelik vorentoe sien in die “Ek sê vir julle uitsprake” Inderdaad bring Jesus die diepste bedoeling van die Wet na vore naamlik – radikale opregte liefde tot God en radikale opregte liefde tot die naaste. Hierteenoor som Martyn Lloyd-Jones een aspek die tekortkoming van die Skrifgeleerdes en Fariseërs soos volg op. “Die probleem met die Fariseërs was dat hulle bekommerd was oor detail eerder as beginsels, aksies eerder as motiewe, in doen in plaas van wees (in doing rather than being)”

Kom ons vat saam: Omdat Jesus juis die openbaring van God (wet en profete) vervul, sal elkeen wat erns met God se wet wil maak respek hê vir sy gebooie (Saligsprekinge en ook sy lering in die res van die Bergrede) om sodoende in te gaan in die Koninkryk. Israel wat reeds al die wet en profete het word daarom opgeroep om Jesus en Sy leringe te aanvaar, want Jesus laat die Koninkryk wat deur die wet en profete voorsien en voorberei is aanbreek.

DIE RES VAN DIE NUWE TESTAMENT EN PRAKTIESE IMPLIKASIES

q    Dit wat Jesus hier vir die skare leer in terme wat hulle sou verstaan is eintlik maar net dit wat ons in Hebreërs 1:1,2 lees. In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun. Jesus self is die einddoel en finale verwerkliking van God se openbaring in die wet en profete. Die wet en profete bestaan nie ter wille van hulleself nie, hulle het ’n tydelike heenwysende en voorbereidende funksie wat voltooiing, wat hulle doel bereik in Jesus en sy lering. Wie dus erns met God se openbaring van die verlede maak en dit reg verstaan sal dus by Jesus self  uitkom en nie vashaak by die openbaring van die verlede nie. (OT)

q    As ons Jesus self as vervulling van die wet beskou is dit duidelik -Vers 18 leer nie die ewige geldigheid van die spesifieke vorm van die wet nie, maar wel dat niks in die wet verniet daar staan nie. Alles daarin sal hulle doel bereik. ( Jesus se persoon en werk wat die Koninkryk sal laat aanbreek) Dis ook baie duidelik uit Jesus se uitspraak dat geen deel van die wet en profete maar net geïgnoreer kan word nie, nee vervulling impliseer wel dat ons dit nie letterlik sal handhaaf nie, maar positief beteken dit dat ons die hele OT (die wet en die profete) ernstig moet opneem en die betekenis en bedoeling daarvan in die lig van die koms van die Koninkryk moet verstaan en toepas.

q Die Ou Testamentiese lering en voorskrifte oor Sabbat, besnydenis, die tabernakel (later die tempel), die Israelietiese feeste...ja, noem maar op ALLES bring Jesus in fokus en gee ons ’n besondere perspektief op Jesus se lewe en sterwe. Dit help ons om die rykdom van Jesus se verlossingswerk te begryp. Juis as ek dus erns maak met die bedoeling van die Torah sal ek al hoe meer vrede vind in die algenoegsaamheid van Jesus self! Hy vervul als. As ek erns maak met Moses se geskrifte sal ek juis tot vertroue in Jesus kom. Jesus sê vir die ongelowige Jode : “As julle Moses geglo het sou julle My geglo het; hy het tog oor My geskryf.” Dis baie duidelik dat mens nie Matteus 5:17-20  kan gebruik vir die onveranderde letterlike uitvoering van die wet nie - as dit die betekenis was sou ons nog die sabbat moes hou en ook die besnydenis moes toepas, die voedselwette moes nakom en selfs ook nog bloedoffers moes bring! (Dis immers als dinge wat deur die Torah vereis word) Wat sou dan nog die nut en noodsaak wees van Jesus se koms?

q Onthou die wet en profete  het die koms van die Koninkryk voorberei en aangekondig. Dis nie opsigself die finale vorm en standaard van die Koninkryk nie. Galasiërs 3:24 maak baie duidelik dat die wet byv. ’n voorlopige tydelike funksie gehad het. Dit was slegs ’n “oppasser” Dit het ’n tydelike verbygaande oppas funksie gehad voordat Christus gekom het. Daarom trek Paulus so te velde teen mense wat nog steeds die besnydenis en die sabbat wil onderhou.

q Die voorlopige funksie van iets soos die Sabbat word treffend in Kolossense 2:16,17 gestel. “Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor 'n fees, 'n nuwemaansfees of 'n Sabbat nie. Hierdie dinge is net 'n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus.” Paulus noem die voedselwette, feeste en Sabbat ’n skaduwee, Christus is die realiteit.**** Christus het hierdie skaduwees vervul. Hulle het heengewys na Hom, Hyself is die werklikheid. Hulle was net padtekens maar Jesus is die bestemming. Die bestemming is die einddoel, die padteken het net ‘’n voorlopige funksie!

Die teken/bord wil jou net na die werklikheid lei...



 

q    Jesus maak hier Sy deurslaggewende rol in die koms van die Koninkryk duidelik. Israel (en ons) het Hom nodig, sy openbaring, sy lering om in te gaan. Maak erns met die persoon Jesus, maak erns met die opdragte van Jesus.  Jesus se opdragte (soos gestel in die Saligsprekinge en later verder in detail uitgewerk) lyk maar gering- dit gaan oor afhanklikheid, treur, barmhartigheid, reinheid, lyding...- moenie die fout maak om hierdie opdragte van Jesus te verontagsaam nie!

 Iets meer as wetsgehoorsaamheid is nodig om in die Koninkryk in te gaan, Jesus self!

 NOTAS

*Van Bruggen p93 Vgl. ook Lauer : . Literally or figuratively the word describes the act of providing that which is lacking, so that the object (in this case the OT) attains to its ultimate purpose. For example, it is used to describe a cup being filled with liquid, or an auditorium being filled with people. Thus, Jesus' use here implies that prior to his coming, the Law and the Prophets, i.e., the OT, was in some sense incomplete or imperfect. The coming of the kingdom fulfills it.

 **Van Bruggen p94. Hendriks p292 sê dit verwys na elke gebod “of which is truly God’s moral law” Waar kry hy die reg om so ’n indeling hier te veronderstel?  Schweizer p108 is nader aan Van Bruggen as hy sê : “it probably refers to the commandments taught by Jesus”


Kyk ook op YouTube na YASHUA EN DIE TORAH

Woensdag 17 Augustus 2022

DUBBEL SEËNING

Verward, onseker, teleurgesteld?

 – Jesus ontmoet jou op hierdie pad met 'n dubbel seëning!

[Maak gerus oop by Lukas 24:13-35]

Twee van Jesus se dissipels is kort na sy opstanding op pad na die dorpie Emmaus. Dis die opstandingsdag, dié Sondag!  (13) Dit sou ‘n merkwaardige onvergeetlike Sondag word! Hulle was nie deel van die elf apostels nie…deel  van sy ander dissipels. Hulle het iets gehoor van die opstanding, maar dis baie duidelik dat hulle verward en onseker was. Ook teleurstelling -  (21) Ontsteltenis! (22) Die graf is leeg, maar waar is Jesus, is sy liggaam dalk gesteel?  Wat het geword van al sy beloftes?




Maar wat nou so wonderlik is, hierdie einste opgestane Jesus reik na hulle uit, Hy kom stap saam met hulle, Hy ontmoet met hulle en openbaar Homself aan hulle. En dis wat ek en jy tog ook nodig het. Dis ons diepste behoefte – om  die opgestane Jesus te ken!

TWEE MIDDELE

Jesus gebruik twee middele om hulle te bedien, troos, koers en insig en hoop te gee – ja, die hoop wat net in ware kennis van Hom te vind is. En dis so wonderlik – Hy gebruik vandag nog hierdie twee middele!

Nadat hulle vir Jesus van hulle ontsteltenis vertel het, reageer Jesus onmiddellik. Hy val sommer met die deur in die huis. En Hy vat hulle nogal skerp aan… (25,26) “Ai, mense hoekom glo julle nie julle Bybels nie? Hoekom sukkel julle om te verstaan? Dis mos eintlik duidelik dat die Christus eers moes ly en daarna in heerlikheid opstaan.” En toe begin Jesus die Skrif/Woord vir hulle uitlê! (27) Dis natuurlik die Ou Testament. Die hele Ou Testament is vol van Jesus. Ja, direkte voorspellings van sy koms en sy lyding soos ons dit byvoorbeeld vind in die profete. 

Dink maar aan Jesaja 53 : 5,6. 





Maar meer as dit - al die groot temas van die Ou Testament wys heen op een of ander manier na Jesus. Jesus wat reeds by die skepping betrokke was, kom nou as die Herskepper, die nuutmaker van mense en die hele skepping. Jesus is die tweede Adam – en wat ‘n heerlike kontras. Die eerste Adam misluk en bring ellende vir die mensdom, Jesus die tweede Adam oorwin alle versoekings namens ons en bring vir ons redding. Jesus self is die ware sonde offer, Hy is ons Paaslam wat vir ons geslag is. (Daarom sterf Hy spesifiek tydens Paasfees.) Jesus gee die ware Sabbatsrus. Jesus vervang die tabernakel en die tempel – net soos die heerlikheid van God op hierdie plekke was, so is die heerlikheid van God sigbaar in Jesus. (Sien Johannes 1:14,18) Jesus is ons koning, priester en profeet – hy vervul al hierdie funksies. Jesus is die ware Moses. Die Matteus evangelie verduidelik dit so mooi – Soos Moses die volk uit Egipte uitlei, lei Jesus ons uit die slawerny van sonde uit. Net soos die vyandige Farao vir die klein Moses wou doodmaak saam met die ander Joodse seuntjies, wou Herodes vir Jesus laat doodmaak saam met die ander seuntjies. Moses  ontvlug juis deur in die farao se paleis opgeneem te word, so vlug Josef en Maria  juis na Egipte.  Moses kry later God se wet op die berg Sinaï. Jesus gee die nuwe wet van God se koninkryk op die berg – Bergrede. Jesus self is egter ook die ware Israel. Soos Israel kom Hy uit Egipte. Soos Israel na hulle verlossing deur die Rooi see in die woestyn ingelei is en daar versoek is, word Jesus na sy doop deur die Heilige Gees in die woestyn gelei (Matteus 4) om deur die duiwel versoek te word. Maar daar is een heerlike verskil en kontras – Israel swig vir die versoekings, maar Jesus oorwin die duiwel se versoekings, daarom kan Hy ons ware Verlosser wees!

As mens Jesus begin raaksien in die Ou Testament, dan besef jy dis nie mense wat dit kon uitdink nie. Dan begin mens opgewonde en entoesiasties raak oor God se wonderlike verlossingsplan! Dis presies wat met hierdie twee Emmausgangers gebeur het! (32) 



Het die Bybel al vir jou begin oopgaan? Jou hart begin raak? Begin sin maak? Dis 'n duidelike teken van die wedergeboorte.  Jesus se uitleg van die Skrifte het so ‘n indruk op hulle gemaak dat hulle Hom ingenooi om by hulle oor  te bly. Min het hulle geweet, die beste sou nog kom. 

DIE BREKING VAN DIE BROOD

Hulle sit aan vir ‘n eenvoudige maaltyd. Tog is dit opvallend dat Jesus die leiding neem… Dis mos nie sy huis nie, Hy is nie die gasheer nie, of is Hy dit dalk juis. Luister weer wat gebeur…(30) 




Hier is iets opvallend. Die manier waarop Lukas hierdie ete beskryf eggo sy beskrywing van die instelling van die Nagmaal. (Lukas 22:19) Die parallel is baie duidelik. 


Terug by die Emmausgangers. Nou gebeur ‘n merkwaardige wonder. (24:31) 




En let op hoe vertel hulle die gebeurtenis later aan die ander dissipels. (35) 




Die breking van die brood is in die Lukas-Hand verhaal ‘n verwysing na die Nagmaal.(Hand 2:42, 46; 20:7). Hierdie manne ontdek die volheid van Jesus in/tydens die maaltyd. Paulus praat ook van die breek van die brood. “...Die brood wat ons breek is dit nie deelname aan die liggaam van Christus nie?” (1 Kor 10:16)

Jesus maak Homself aan ons bekend deur Skrif en Sakrament, Woord en Maaltyd. 

Dié twee gaan saam. Hulle is onlosmaaklik aan mekaar verbind.  NT Wright 'n belende Nuwe Testamentiese teoloog stel dit so treffend : Take scripture away, and the sacrament becomes a piece of magic. Take the sacrament away, and scripture becomes an intellectual or emotional exercise, detached from real life. Put them together, and you have the centre of Christian living as Luke understood it.

God het in sy alwysheid bedoel dat ons geloof nie net deur die gehoor gevoed word nie, maar ook deur ons ander sintuie. Geloof is nie net 'n intellektuele belwenis nie, maar ook 'n konktrete werklikheid rondom 'n maaltyd.  Ja, die lewende Jesus maak deur sy Gees die Woord vir ons oop om Hom te ken, maar Hy gee Homself ook aan ons in ‘n maaltyd. Hy is  beide ons Gasheer, maar ook self die Lewende Brood wat ons siele voed!

Maak gebruik van beide die Woord en die Sakrament. Jesus ontmoet jou so binne jou verwardheid, onsekerheid, teleurstellings en worstelings!

Dinsdag 26 Mei 2020

Pasop vir die HONDE!

- hulle mislei julle om op uiterlike vleeslike bates te vertrou in plaas van op Jesus alleen! 



Soos ons ‘n vorige keer gesien is Paulus se brief aan die Filippense ‘n heerlike aanmoedigings brief vol blydskap, vreugde, vertroosting en vergenoegdheid. (Kliek op MATRIEK) 

Tog vind die apostel dit ook nodig om ‘n ernstige waarskuwing te rig in Fil. 3:2. Sy waarskuwing klink baie hard, reguit en eintlik ‘n bietjie kru. Letterlik staan daar soos die OAV dit vertaal “Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding.” Die NAB omskryf dit ietwat versagtend soos volg : “Pas op vir daardie dwaalleraars; pas op vir daardie mense wat kwaad stig; pas op vir daardie betekenislose besnydenis!” 

Waarom vind Paulus dit nodig om so iets aan die Christene van Filippi te skryf? Daar was dwaalleraars wat hierdie jong Christene in Filippi geleer het dat die geloof in Jesus alleen nie genoeg was vir hulle volle verlossing en vreugde nie – hulle moes steeds die Joodse besnydenis ondergaan. Ons noem hulle die Judaïseerders – (hulle was ook in die gemeentes van Galasië ‘n probleem) Natuurlik is dit ‘n valse lering wat die hart van die evangelie en die eer van Jesus aantas en daarom wek dit Paulus se argwaan en sterkste misnoeë op. Hy noem hierdie valse leraars “honde” en die besnydenis noem hy spottenderwys die “versnyding” In die Grieks kry ons hier ‘n skerp woordspeling. Tussen peritome (peritomh) - besnydenis en katatome (katatomh)
 – versnyding (OAV), versnippering - dis sommer eintlik net ‘n onnodige verminking* wil Paulus hulle laat verstaan! 

Besnydenis is natuurlik nie iets wat in isolasie verstaan moet word nie. Hierdie selfde dwaalleraars wou die Christene laat terugkeer na die ou Joodse wetsisteem wat ingesluit het die onderhouding van die Sabbat en die voedselwette. (Klink bekend, nê? Sabbat en koswette – dis vandag nog die alewige snaar waarop die dwaalgeeste so graag tokkel!) 

Kortweg gestel, al hierdie wette wat hulle op die Christene wou afdwing het neergekom op ‘n terugkeer na die Ou Verbond! 

Dit bring ons by die kernsaak waaroor dit hier gaan. Waarop of op Wie vertrou jy vir jou volle genoegsame verlossing? Op die tora (die wet van Moses) of op Jesus? Op uiterlike gebruike en rituele (wat Paulus hier die vlees noem) of op Jesus Christus die gekruisigde en opgestane Here? 

Wees eerlik! Op wie of wat vertrou jy nou eintlik? 

Ek rig hierdie uitdaging aan al die aanhangers van die Israelvisie en die Hebrew Roots Movement. Julle wat so spog oor julle sabbat, julle nuwe mane, julle streng voedselwette, julle bedrieglike kastige afstamming (Israelvisie) van die tien stamme van Israel. Julle gedwepery met Hebreeuse name! En so terloops, daar is net een NAAM bo alle name, die naam Jesus waardeur ‘n mens gered kan word. En in die Nuwe Testament wat oorspronklik in Grieks geskryf is, kom dit in die Griekse vorm IhsouV na ons. Gaan bestudeer maar net eerlik Handelinge 4:10-12 en Filippense 2:5-11. 

Vertroue op Sabatte, name en kosreëls? Wat anders is dit as vertroue op uiterlike dinge? Vertroue op die vlees?

Maar ek rig ook hierdie waarskuwende woorde aan mense wat gereeld in die kerk sit, lidmate, maar vir wie dit maar net bloot oor uiterlike godsdiens of mooi tradisie gaan. Die punt is vertrou jy op Jesus die gekruisigde alleen of is ander bates nog vir jou belangriker? Is ander bates nog jou eintlike sekuriteit? Troos jy jouself met allerhande mooi gebruike of ordentlikheid? 

In hierdie konteks is Paulus se uitspraak in vers 3 veelseggend en kardinaal belangrik! “Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.” (Fil. 3:3) 

Paulus weet waarvan hy praat. Soos hy verder beskryf (en lees gerus verder in hfst. 3) het hy eens op ‘n tyd ook op alle uiterlike bates vertrou soos sy fisies afkoms van Abram en soos sy fanatiese stiptelike gehoorsaamheid aan die tora. Hy was onberispelik getrou aan die tora oftewel die wet van Moses. Maar toe ontmoet hy Jesus Christus. Meer korrek dis Jesus wat hom wat Paulus is gegryp het daar op pad na Damaskus. Toe verander als... En van toe af beskou hy al hierdie vorige bates as drek, gemors , waardeloos sodat hy Jesus as enigste bate kan aankleef. Hoekom? Paulus het nou besef - Die regverdiging, die vryspraak is in Jesus alleen te vind. “Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo.” (Fil. 3:7-9) 

My vriend, hoor mooi! Al jou indrukwekkende Hebreeuse frases en name, streng onderhouding van allerhande wette en spitsvondige slimmighede is waardeloos! Stel jou vertroue op Jesus alleen en dank Hom deur die vrugte van die Gees te dra wat die einste Paulus vir ons in Galasiërs 5:22,23 beskryf. Dis natuurlik ten diepste in lyn met God se bedoeling met die wet. 

Jesus self is die volkome vervulling en eind doelwit van al die bepalings van die Mosaïese wette. 

Die Mosaïese wette was die konstitusie van die Ou Verbond. Jesus het die Nuwe Verbond deur sy finale en volledige bloedoffer bevestig. Hy sê dit self met die instelling van de nagmaal. Die implikasies is duidelik : Wie aan Jesus behoort is die ware Israel en dus kinders van Abram. (Gal. 3:7) Wie op Jesus vertrou het die ware besnydenis en deel in die ware Sabbatsrus, want Jesus self is die weg, die waarheid en die lewe! Alles wat die tora was in die Ou Verbond (die waarheid en lewe en die regte pad) is nou in Jesus self te vind binne die Nuwe Verbond! Om dus weer terug te keer na die Ou Verbond is ‘n verwerping van Jesus en die evangelie! Wees gewaarsku! 

My vriend, vriendin, plaas jou vertroue op Jesus en Hom alleen! Vandag nog! 

Kyk op Youtube - kliek HONDE!

*Ook in die brief van die Galasiërs waarin Paulus dieselfde probleem van terugkeer na die besnydenis en die wet van Moses aanspreek, raak Paulus baie driftig op dieselfde trant soos in Gal.5:12. “Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!” (NAV) “ Ag, as die wat julle opstandig maak, hulleself tog maar ook wou vermink!” (OAV) Paulus raak hier erg sarkasties teenoor die dwaalleraars en sê dus in effek : as hulle dan nou wil besny moet hulle sommer by hulleself als afsny!

Dinsdag 18 September 2012

STILSTAAN BY DIE SKADUWEE?

- nee, want Jesus het gekom!

Die Hebrew Roots Movement (asook die Sewendedaagse Adventiste) met hulle aandrang dat ons weer die Sabbat moet onderhou en ons aan die Mosaïse voedselwette moet onderwerp vind sekere gedeeltes in die Nuwe Testament (veral in Paulus se briewe) uiters ongemaklik. Een so ‘n gedeelte is in Kolossense 2:16 - 17 wat sê :

“Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet of drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag (lett - Sabbatte) moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid  is Christus.”

Aangesien hierdie teksgedeelte die HRM skuldig verklaar (want hulle wil weer voedselwette, feeste en Sabatte aan ons voorskryf) is dit te verstane dat hulle hierdie woorde van Paulus sal probeer verdraai. Dis dan ook wat Elim Ministries (Fish Hoek) probeer doen. Met langdradige verduidelikings probeer hulle die duidelik ooglopende bedoeling van Paulus omseil in wat genoem word “A new look at Col 2". (Terloops dit lyk asof hierdie dwaling nog verder gaan en hulle eie vertaling van die Skrif wil maak, genaamd “Woord en Getuienis” net soos hulle geestelike voorvaders, die Jehova Getuies met hulle New World Translation.)*

Kom ons kyk na Kolossense 2:16,17. Omdat hierdie teks nie in isolasie staan nie, maar deel is van ‘n brief, is dit eers belangrik om agter die hooftema en strekking van die Kolossense brief te kom. Vers 16 en 17 sal tog uiteraard daarby inpas.

Die hooftema van Kolossense kan as volg geformuleer word: 

Die algenoegsaamheid van Christus en sy oppermag oor beide die skepping en die herskepping (kerk) vorm die fondasie van ons beskerming teen die misleidinge van die dwaalleraars wat voorgee dat daar geheimsinnige maniere is waarop ons nader na God kan kom sowel as die vaste basis van ons praktiese Christenskap, ons verhoudinge met gelowiges en die wat buite staan. 

Die fokus in Kolossense val dus op Jesus as die genoegsame en volledige openbaring van die volheid van God.

Terug by ons teks. Die opvallende kontras in Kolossense 2:16,17 is tussen skia (skaduwee) en soma (liggaam/realiteit).  Die finaliteit en volheid van Jesus word gekontrasteer met die voorlopigheid van die skaduwee (voedselwette, feeste en Sabatte) Hierdie interpretasie word verder versterk deurdat ons ‘n soortgelyke kontras in Hebreërs 8:5 en veral ook baie duidelik in Hebreërs 10:1 aantref :

“Die wet van Moses (tora) is slegs ‘n skadubeeld van die weldade wat sou kom...” 

Hier is die kontras tussen die voorlopige diere offers en Jesus as finale en volkome offer.

Natuurlik kan soma ook die betekenis van “liggaam” hê, maar die onmiddelike konteks waarin dit teenoor skadu stel, maak dit baie logies om dit hier met “werklikheid”  te vertaal. Die vertaling van soma as “werklikheid/realiteit” in hierdie teks  word gesteun deur gesaghebbende Griekse woordeboeke wat die volgende verklarings gee : “the thing itself, the reality” in die “A Greek-English Lexicon” (Walter Bauer) en  “reality, corresponding reality - but the reality is Christ” in die “Greek-English Lexicon” (Louw en Nida)  

Die kontras tussen skaduwee en werklikheid pas ook pragtig in by Paulus se soortgelyke redenasie in Galasiërs 4:9. As ons Christus (die Werklikheid) leer ken het, is dit mos dwaas en ‘n terugwaartse stap om weer wettiese godsdienstige reëls te probeer nakom, waarvan die rakleeftyd verval het. En net in die volgende vers noem hy die dinge wat onder wettiese godsdienstige reëls tel : “besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare.” (Galasiërs  4:10) Dieselfde sake wat ook in Kolossense genoem word!

Wat sê dit nou als vir ons? In die Mosaïese wetsisteem was sekere voedselwette en die onderhouding van sekere dae en feeste verpligtend. Christene is bevry van hierdie verpligtinge. As ‘n Christen homself wil onthou van sekere voedsel of sekere dae wil gedenk is dit goed en wel, dis ‘n saak vir sy gewete tussen God en homself. (Paulus skryf hieroor in Romeine 14:5 ev.)

Maar baie belangrik : Diegene wat aan Christus behoort, moet hulle dus nie meer oor hierdie sake laat voorskryf, wanneer mense ons wil wysmaak dat ons so meer behaaglik vir God sal wees  nie. Waarom moet Christene weier om geïntimideer te word oor sake soos hierdie? 

Die wetlike voorskrifte van die verlede (Ou Verbond/Mosaïse Verbond) was slegs van verbygaande aard, dit het behoort tot ‘n tydelike oorgangstadium in die uitwerk van die heilsgeskiedenis. (Galasiërs 4:1-7 - “toe ons nog onvolwasse kinders was”) Nou dat die bedeling van Christus aangebreek het, geld hierdie dinge nie meer nie. Dit was maar net heenwysings, skaduwees wat op Hom gewys het. Jesus self is die werklikheid, die substansie. En dis die groot punt in Kolossense : 

Jesus Christus is die genoegsame werklikheid wat geen aanvulling van voedselwette, visioene en engele nodig het nie!

Daar was niks fout met die wet nie, maar dit was net die skadu, nou dat ons by die werklikheid gekom het, is ons aandag en ons saak by die werklikheid en nie meer by  die skaduwee nie.  Dink aan die  program van ‘n konsert. Die program is in ‘n sekere sin baie nuttig, maar net tot op ‘n punt. Dit berei jou voor vir die konsert, maar as die lees van die program jou verhoed om by die werklike konsert uit te kom is daar tog fout.  Die wet het ‘n belangrike heenwysende  funksie gehad, maar dis nou verby, want Jesus na wie dit gewys het, is nou hier!  Paulus sluit heel waarskynlik aan by dit wat hy as Joodse rabbi geleer het.  Baie Jode het die Joodse feeste as voorlopers van die Messiaanse tyd gesien. Volgens sekere rabbynse tekste was die  sabbat byvoorbeeld  ‘n voorsmaak van die tyd wat sou kom. Hierdie heerlike tyd het nou in Christus aangebreek. Die rus waarvan die sabbat gepraat het, het nou in Christus ‘n werklikheid geword. (Vgl. Matteus 11:28ev)  Dit maak tog nie sin om die voorteken te vier as die werklikheid aangebreek het nie. Jesus self is die ware vervulling van die Sabbat, en met sy teenwoordigheid verdwyn die belangrikheid van die afbeeldings. Wie in Jesus glo is besig om die ware Sabbat te onderhou. Prakties - ons hoef nie meer die (Saterdag) Sabbat te vier nie, maar ons moet ook nie die Sabbat na ‘n ander dag verskuif  nie. Die Sondag, terloops  is nie maar net ‘n verskuifde Sabbat nie, dis iets heeltemal anders. ‘n Dag vir die bymekaarkom van gelowiges en feesviering oor die opstanding.

Ons as gelowiges uit die heidendom staan nie meer onder die Mosaïse wetgewing rakende dae en kos nie.  Ons word nie ingeënt in die Judaïsme van die Mosaïse Verbond (Ou Verbond) nie, maar ons is wel kinders van Abram. (Galasiërs 3:7) Ons is in die geloofsfamilie van Abram en bou op die beloftes wat aan hom gemaak is, eeue voordat die wet van Moses bestaan het. Die wet was ‘n latere en tydelike byvoeging.  (Galasiërs 3:17-18) Dit was net bedoel totdat Christus, die Saad sou kom. Ons was net tydelik onder die toesig van die wet, maar staan nou nie meer daaronder nie. (Galasiërs 3:23-25)

Kom ons verheug ons in die vryheid wat ons Volmaakte Verlosser vir ons verwerf het! Kom ons vier die vryheid met heiligheid onder leiding van die Heilige Gees!


* Daar is ook ‘n vertaling genaamd,  “The Word of Yah – the King’s Covenant” waaroor die samestellers die belaglike en leuengtige aanspraak maak dat dit teruggaan op oorspronklike manuskripte wat in 2002 by die Eufraat ontdek is. Alhoewel nie alle HRM aanhangers hierdie vertaling aanvaar nie, is dit net weereens ‘n bewys tot watter uiterstes dwaalleraars sal gaan om hulle onwaarhede te versprei. 


Donderdag 09 Augustus 2012

KYK NA DIE KONTEKS

- baie belangrike beginsel vir Bybellees.

Die Bybel is ‘n boek. Weliswaar ‘n absolute unieke boek, God se Woord. Ons kan sy boodskap net begryp deur die leiding van die Heilige Gees.  En tog is dit steeds ‘n boek met gewone letters, woorde, sinne, paragrawe... Dis eintlik ‘n klein bibliotekie van boeke, wat aanmekaar gebind word deur een storielyn en een Outeur. Maar nietemin, dis ‘n boek wat dus gelees en verstaan moet word. En ja, dan moet dit gehoorsaam word, want dit dra absolute gesag, juis omdat dit God se openbaring is.

So dikwels interpreteer mense die Bybel op ‘n dwase manier en maak onsinnige gevolgtrekkings, omdat basiese leesreëls nie gevolg word nie. Ek wil net dat ons na een so ‘n onmisbaar belangrike reël kyk : 

LEES DIE BYBEL IN  KONTEKS.

Hoekom is dit so uiters belangrik?  In die Bybel sal jy die volgende selfstandige  sinnetjie kry : “daar is geen God nie.” (Psalm 14:1 ) Nou hoe nou? Wil die Bybel ons dan nou aanspoor tot ateïsme? Wie hierdie  uitspraak  geïsoleerd verstaan, kan maklik tot so ‘n dwase gevolgtrekking kom. Maar kyk ons eerlik na die konteks is die boodskap iets heeltemal anders. Dan sien ons dat hierdie woorde uit die mond van ‘n dwaas kom. Dan word die Bybelse boodskap duidelik. Ateïsme is sotlike dwaasheid! 

Die onmiddelike konteks van ‘n Bybelse uitspraak is dus van uiterste belang vir die regte verstaan van die betrokke gedeelte.

Maar ons moet ook verder kyk na die konteks van die bepaalde paragraaf of strekking van die Bybelboek waarin ‘n teksgedeelte voorkom. ‘n Teks wat maklik misbruik kan word om die toelating van die vrou in die lerende amp te regverdig is die uitspraak van Paulus in Galasiërs 3:28 “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie, in Christus Jesus is julle almal een.” Die konteks wys, dit gaan hier oor die kwessie van vryspraak deur die geloof alleen. (Vers 24) Die geheelboodskap van Galasiërs bevestig dat die geloof in Jesus genoegsaam is en dat ons nie meer die wet (besnydenis) hoef te onderhou nie. Paulus se uitspraak hier mag dus nie bygesleep word in ‘n debat oor die vrou in die amp nie. Dis laat nie reg geskied aan die konteks nie. In ander briewe laat Paulus homself wel duidelik uit oor hierdie vraagstuk.

Deur na die konteks van ‘n gedeelte te kyk kan ook baie skynteenstrydighede in die Bybel opgelos word. In 1 Johannes 4:8 lees ons : “God is liefde.” en in Hebreërs 12:29 blykbaar ‘n botsende uitspraak : “ons God is ‘n verterende vuur.” Wie na die onderlinge kontekste kyk behoort glad nie verwar te word nie. In 1 Johannes gaan dit nie oor ‘n allesomvattende beskrywing van God nie, maar oor die noodsaaklikheid dat Christene, God nie kan dien sonder liefde vir mekaar nie. Dis ‘n onmoontlikheid wil Johannes ons laat verstaan, want God self is dan liefde! Net so gee die uitspraak in Hebreërs ook nie ‘n volledige beskrywing van God nie. Wie die konteks nagaan sal sien die skrywer roep met erns sy lesers op om sorgvuldig na God te luister. Ons word geroep in die konteks van die Nuwe Verbond, maar dis ‘n ernstige saak. In die geval van die Ou Verbond by Sinaï het God  Hom bekend gemaak op ‘n angswekkende wyse as ‘n heilige verterende vuur. Hy is dit nog steeds, vir mense wat die Nuwe Verbond in Jesus verwerp. “So, pasop!”, wil die skrywer ons waarsku, "God laat nie met Hom speel nie!." 

Nie net is die omliggende konteks van bepaalde paragrawe of die hoofstrekking van ‘n Bybelboek belangrik nie, maar ook die geheelkonteks en storielyn van die Bybel as geheel. So kan iemand wat eerlik en opreg die Bybel van vooraf lees tot die gevolgtrekking kom dat ons bloedoffers moet bring en die besnydenis moet toepas. As mens egter die Bybelse storielyn in ag neem en raaklees dat die Godsopenbaring ‘n finale hoogtepunt bereik het in Jesus Christus (Hebreërs 1:1-3), dan is dit maklik om te verstaan dat alle bloedoffers en bloedige tekens afgeskaf is, aangesien Jesus se eenmalige offer voldoende versoening was vir elkeen wat Hom as Verlosser aanvaar het. Dieselfde geld vir iets soos die Sabbat. Ongetwyfeld is die Sabbatsgebod van sentrale belang in die Ou Verbond. As mens egter die geheelkonteks van die Bybel verstaan, besef ons dat die Sabbat slegs ‘n tydelike padteken was, wat na Jesus heengewys het. Nou dat Jesus gekom het en vir ons ware rus bring, het die teken sy funksie verloor en mag niemand ons meer hieroor oordeel of voorskryf nie. (Kolossense 2:16,17)

PASOP : Een van die kenmerke van dwaalleraars  is dat hulle graag stringe Bybeltekste uit konteks en verband aanhaal. Dan kan mens natuurlik die Bybel enigiets laat sê wat jy hom wil laat sê.

Om die geheelkonteks en storielyn van die Bybel beter te verstaan, lees gerus LUGFOTO VAN DIE BYBEL. (3 dele)

Erkenning aan : Dr. J. Van Bruggen, HET LEZEN VAN DE BIJBEL

Vrydag 15 Junie 2012

SOOS SEMENT EN WATER

- beloftes beteken niks sonder geloof nie!

Rus!  God se kinders is oppad na ‘n ewige rus... Wat behels die rus van ons eindbestemming? Is dit nou iets soos vakansie hou of laatslaap? Wat sê die Woord? Kom ons maak oop by Hebreërs 4:1-10.  Rus is ‘n heerlike deurlopende tema in die Bybel:  
  • Ons hoor die eerste keer van hierdie rus by die skepping as ons lees dat God op die sewende dag gerus het. Dit beteken nie dat God passief niks gedoen het nie. God kan tog nie moeg word nie. Nee, dit beteken dat God sy heerlike skeppingsdoel bereik het. Met rus bedoel die Bybel volle vervulling, volmaakte heerlikheid. 
  • Baie jare later het God sy volk uit Egipte gelei en aan hulle die rus in die land,  Kanaän beloof. (Psalm 95:11)
  • Ons kry weer die saak van rus in die Sabbatsgebod. Die Sabbatsgebod het oor meer gegaan as maar net fisiese rus. Die rus van die Sabbat het teruggewys na God se skeppingsdoel, maar ook vooruitgewys na  Jesus wat ware rus sou bring. (Kolossense 2:15,16) 
  • Jesus nooi ons na homself om ware rus te kry. (Matteus 11:28) Dis die rus van vergifnis en vrede met God. 
  • Maar daar wag nog ‘n finale sabbatsrus vir God se kinders. (8)* Dis die volmaakte ewige heerlikheid in die teenwoordigheid van God. Daar sal geen sonde, swaarkry, siekte en dood meer wees nie. Ons sal dan volmaak voldoen aan God se doel met ons tot sy eer.


Waarom word die tema van rus hier opgehaal? Die Hebreërbriefskrywer rig ‘n dringende  waarskuwing. Hy skryf vir mense wat begin moeg word het in die geloof, daarom vermaan hy hulle baie ernstig : Pasop dat julle nie die rus wat God julle beloof het, misloop nie. 

Hy gee gewig aan sy waarskuwing deur die voorbeeld van die ongehoorsame Israeliete in die woestyn tydens die Uittog onder ons aandag te bring. Ons weet God het daardie geslag Israeliete met groot krag en genade uit die verdrukking van Egipte uitgelei. Hy het hulle uitgelei met die belofte om die beloofde land, Kanaän, die land van rus, van melk en heuning aan hulle te gee. Hulle was dus ontvangers van God se beloftes! Besonder bevoorreg! Verbondsmense aan wie die beloftes behoort.  Maar helaas, ons weet wat het gebeur.  Hulle was opstandig, ongehoorsaam en ongelowig en daarom het God gesweer dat hulle nie in Sy rus sal ingaan nie. (3) Die gevolg van hulle ongeloof, was dat hulle nooit die land Kanaän ingegaan het nie, maar dat hulle lyke in die woestyn agtergebly het. Nou gebruik die skrywer hierdie voorbeeld om sy lesers te waarsku. (4:2) Al God se beloftes het die Isaeliete hoegenaamd niks gehelp nie. Die boodskap is dus : Julle moet volhard in die geloof, anders sal julle ook die ewige rus wat God julle beloof het misloop! 

Wat ’n skrikwekkende saak - dit kan wees dat mense die heerlike evangelie hoor en selfs die sakramente ontvang, maar op die ou end nooit die ewige lewe bereik nie.  

Hoe so? Dit gebeur as mense die woord hoor,  maar nie in geloof daarop reageer nie. Ek hoor wat Jesus gedoen het, ek weet van die kruis en die opstanding, ek weet van die beloftes,  maar ek kom nooit tot ’n daadwerklike besluit om Hom persoonlik te vertrou en as my Here te aanvaar nie. 

In die prediking hoor ons God se beloftes, in die sakramente (doop en nagmaal) word God se beloftes sigbaar onderstreep en bevestig. Maar hierdie beloftes moet aanvaar word in geloof. Ek moet doelbewus reageer deur my vertroue in Jesus te stel. Soos die verlore seun moet ek ‘n besluit neem om op te staan en na my Vader terug te gaan...God se beloftes sonder gehoorsame aanvaarding daarvan beteken niks!  God se beloftes red ons nie outomaties nie.  Die feit dat ek al baie jare in die kerkbanke sit of dat daar ‘n pragtige doopfoto van my op oupa en ouma se kamermuur pryk, maak my nog nie ‘n kind van God nie. Miljoene kerkgangers, gedooptes en nagmaalgebuikers gaan die ewige lewe misloop. Die prediking van die beloftes moet geglo word!  

Belofte en geloof gaan saam soos sement en water! 

Jy kan hoë kwaliteit sement koop en gebruik, maar daar moet water bygevoeg word om dit in werking te stel of te aktiveer, anders bly dit ‘n nuttelose poeier!

Het jy al gereageer op God se beloftes deur ‘n persoonlike geloof? Geloof het ons  gesien (in BOU OP GOD SE BELOFTES) in die geskiedenis van Abram is ‘n doelbewuste keuse om God te vertrou. Volhard jy in hierdie geloof of het jy in ongehoorsaamheid geval? Vandag is die dag om die saak reg te stel!  Jou ewige rus is op die spel! Hoor die dringende vermaning wat die skrywer twee keer herhaal... Hebr 3:15; 4:7

"Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie..."

God se beloftes is waar. Hy kan nie lieg nie, want Hy is nie ‘n mens nie. (Numeri 23:19)  Hy gee aan elkeen wat Jesus aanvaar die belofte van ewige rus! Wat maak jy met hierdie belofte?

*In vers 8 word vir ons verdere lig gewerp op die “rus”. Die skrywer wil sê : dis mos duidelik dat die rus waarna  Psalm 95:11 verwys tog nie die letterlike aardse Kanaan wat onder bevel van Josua ingeneem is, kan wees nie. Hoekom kan hy so sê? Wel, die mense wat in Psalm 95 aangespreek word is mos reeds in die land Kanaän. So die rus waartoe hulle dringend vermaan word,  moet  iets anders wees as blote verblyf in Kanaän. Dis iets anders as die rus wat Josua hulle gegee het van hulle vyande. Die skrywer wil dus hê ons moet die onderskeid raaksien tussen die tydelike rus wat Josua in Kanaän vir die volk bewerk het en die ware ewige  rus wat nog gereserveer word vir God se mense.