- die belangrike waarheid vir die verstaan van Christelike vryheid.
Is jy in jou verhouding met God ’n slaaf of ’n kind? Dis ‘n baie belangrike vraag waaroor Galasiërs 4:1-10 mens ernstig laat dink.
“1. Hierby wil ek nog dít sê: Solank ‘n erfgenaam nog minderjarig is, verskil sy posisie nie werklik van dié van ‘n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom.
2. Tot die dag wat sy pa bepaal het, staan hy onder toesig van voogde en word sy besittings deur bestuurders beheer.
3. En so is dit ook met ons. Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls.
4. Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ‘n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe
5. om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word.
6. En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: "Abba!" Dit beteken: Vader!
7. Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.
8. Daar was ‘n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode.
9. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees?
10. Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier.”
Slaaf of kind?
Daar is ’n baie groot verskil. In destydse huishoudings was dit algemeen om slawe in die huis te hê. Hulle was eintlik maar deel van die huishouding en is soms ook selfs goed behandel. Maar tog is daar ‘n groot dieperliggende onderskeid. Wat is dan nou die verskil tussen ’n slaaf en ’n kind?
Die slaaf is net tydelik deel van die huis (hy kon enige dag verkoop word), ’n kind is permanent deel van die familie.
Die slaaf is vasgevang in ’n sisteem van pligte en reëls; die kind staan in ’n verhouding.
Die slaaf se waarde het net gelê in sy bruikbaarheid, dit wat hy kon doen; die waarde van ‘n kind kan nie gemeet word in geld of nuttigheid nie; dit gaan oor verwantskap! (Vir hoeveel verkoop mens ‘n kind?) Dit gaan oor onvoorwaardelike liefde!
Die slaaf moet die eienaar aanspreek as meneer of baas; die kind het die unieke voorreg om die eienaar, Vader, Pa of Pappa te noem!
Baie mense wat dink hulle is Christene is eintlik maar net (godsdiens) slawe!
Hulle is miskien amptelik deel van die kerk en godsdienstig bedrywig, maar het nog nooit verstaan of beleef wat dit is om kind van God te wees nie. Paulus skryf baie ernstig oor hierdie saak, want daar was mense in die Galasiese kerk wat weer wou terugkeer na ’n slawesisteem van wette. ( Mosaïse wette soos die besnydenis en die onderhouding van Joodse feesdae). Dit wys ons op ’n skrikwekkende moontlikheid : Selfs ook ware van kinders van God loop die risiko om terug te val in ’n slawementaliteit en die vreugde van hulle kindskap te verloor!*
Is jy dalk ’n slaaf? (Toets dit bietjie)
’n Slaaf se lewe word gereguleer deur pligte en reëls, maar daar is min vreugde. Baie godsdienstiges is so. Jy probeer altyd om reg te leef, om in jou spore te trap, jy probeer die regte dinge doen... jy kom kerk toe, jy lees Bybel, jy bid, maar die blydskap in die Here is afwesig!
’n Slaaf word beheer deur vrees en onsekerheid, hy is gedurig bang dat hy ’n fout maak en gestraf word. So is baie se godsdiens : ek is onseker of God my liefhet, ek is onseker of Hy my vergewe het, ek is gevolglik bang vir die dood, bang vir die oordeel, bang vir die ewigheid! Ek kan nie regtig met vreugde en verwagting na die koms van Jesus uitsien nie, want sê nou ek maak dit nie regtig nie? Sê nou maar ek is nie goed genoeg nie?
Die slaaf ken net ’n werknemer-werkgewer verhouding, maar niks van ’n Pa-kind verhouding nie. Godsdiens is vir my ’n werk en nie ’n verhouding nie. Dis ’n swaar las van pligte wat my moedeloos maak en psigies uitmergel!
’n Baie goeie voorbeeld van ’n slaaf mentaliteit kry ons in die gelykenis van die Verlore seun, in die karakter van die oudste seun. Op die oog af het dit gelyk asof als reg is met hom : hy het nie weggeloop nie, hy het nie sy pa se geld op hoere geblaas nie, hy het al sy take en pligte uitgevoer... maar weet jy wat? Toe die Pa ’n fees hou vir die teruggekeerde seun toe kom daar ’n uitbarsting wat ’n nare geheim ontbloot :
“Kyk al die jare werk ek soos ’n SLAAF vir Pa!” (Lukas 15:29) Wat sê dit? Daar was al die tyd ’n opgekropte bitterheid in hierdie seun. Hy was binne die vaderhuis, hy het nooit weggeloop nie, maar ook hy het geen verhouding met sy Pa gehad nie. Hy was maar nes ’n slaaf, uiterlik hou hy die reëls van die huis, maar binne geen liefde en verstandhouding met sy pa nie! (Kyk verder hieroor deur te kliek op
DIE VERLORE SEUN 2)
My vriend, dink mooi : Jy is godsdienstig, dalk ernstig godsdienstig, maar is jy werklik ’n kind, of is jy net ’n slaaf?
Hoe word mens ’n kind? Wel, dis juis hoekom God sy Seun Jesus as mens gestuur het. (4) Kyk, ons is almal slawe van nature. Ons staan onder God se wette en omdat ons sondig is, breek ons daardie wette. Dit kla ons gewete aan, dit veroordeel ons, dit verskrik ons want ons weet ons verdien straf! En dis hoekom Jesus as mens gekom het, ook as mens onder die wet. Maar Hy het ons losgekoop van die wet. (5) Hoe het Hy dit gedoen? Hy het dit op twee maniere gedoen:
~Hy het die wet namens ons, in ons plek volmaak gehoorsaam. Daarom, as ek Jesus aanvaar, dan word ek ook beskou as iemand wat die wet volmaak hou. (Ek is mos in Christus!)
~Maar Jesus het nog verder gegaan. Hy het die straf wat die wet vir ons voorgeskryf het, in ons plek gevat. (Jesaja 53:5,6) Die straf wat die wet vereis vir die sonde is die dood. Jesus het my sonde op Hom gevat en gesterwe in my plek. Die wet, om dit so te stel is nou tevrede, die straf is voltrek. Wie Jesus aanvaar het, kan beslis weet, my eie persoonlike sondes is klaar gestraf. Ek hoef nie meer in vrees en onsekerheid te leef nie, ek kan nou as ’n kind leef in die Vaderhuis.
Die basis van ons vryheid as kind van God is geleë in die radikale feit van ons vryspraak (regverdiging).
God hou niks meer teen ons nie, in Jesus het Hy ons volkome aanvaar en ons verhouding met Hom is nie op enige manier afhanklik van ons prestasies nie! Ons kan Hom nou net voluit liefhê.
Omdat Jesus die prys betaal het, word elkeen wat op Hom vertrou as God se kinders aangeneem! En God gee ons ’n baie duidelike bewys van kindskap in ons harte! Wat is dit? Vers 6 (Lees)
Die Heilige Gees, die Gees van Jesus woon in ons harte en bring ’n innige verhouding tot stand met ons Vader. Ons kan nou werklik vir God sê : “Vader, Pa” Hierdie waarheid word so duidelik gestel in Romeine 8:15 : “Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: "Abba!" Dit beteken Vader.”
Nie meer slawe wat vrees nie, maar kinders wat liefhet!
Hierdie verhouding tussen my en God as my Vader reguleer nou my lewe en vorm die basis van my Christelike vryheid!
Prakties beteken dit: Ek lewe nou ’n heilige lewe, nie bloot omdat ek bang is vir reëls en straf nie, maar omdat ek my Vader wil eer en liefhê! Ek gaan gereeld kerktoe, nie omdat dit ’n harde wet is nie, maar omdat ek hier my Vader se woorde en teenwoordigheid geniet. Ek lees nou die Bybel nie as bloot ’n dorre plig nie, maar ek wil graag die stem van my Vader hoor. Ja, die kind hou hom nog by reëls, en daar is ook vir kinders pligte. Maar die hele motief, die hele verhouding is iets anders!
Is godsdiens vir jou hierdie dorre sware plig? Heel moontlik is jy net ’n slaaf? Heel moontlik het jy nog nooit verstaan wat Jesus kom doen het nie, heel moontlik het jy nog nooit die volle verlossing wat Jesus bewerk het verstaan of aanvaar nie!
Dis net ‘n kind van God wat waarlik die vreugde van Christelike vryheid kan smaak, maar natuurlik ook die groot verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan moet hanteer! Om vry te wees en uit ‘n vrywillige hart my Vader te dien en te gehoorsaam, sonder om daardie vryheid te misbruik en so my Vader te ontstel en my medemens te benadeel. Hieroor is Paulus baie duidelik :
“Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.
Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself."
Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.
Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.” (Galasiërs 5:13-16)
Die radikale vryheid van die Christen, maar ook die radikale liefdesdiens wat hieruit voortvloei is so treffend deur Martin Luther saamgevat : "‘n Christen is die mees vrye heer oor alle dinge, aan niemand ondrworpe nie; ‘n Christen is die mees diensvaardige kneg, aan almal onderworpe." Hierdie oënskynlike teenstrydigheid word immers deur Paulus self as volg geformuleer: “Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.” (1 Korintiërs 9:19)
Die kind van God moet sy vryheid uitleef onder die voortdurende leiding van die Heilige Gees, anders kan dit so maklik ontspoor deurdat ons toegee aan ons sondige begeertes!
PRAKTIESE RIGLYNE VIR CHRISTELIKE VRYHEID
My Christelike vryheid sal ek uitleef met die volgende sake in gedagte (Kyk veral na 1 Korintiërs 6 :12-20 en 8) :
Is hierdie ding wat ek wil doen bevorderlik en heilsaam vir my verhouding met die Vader en tot sy eer? Ek kan dalk redeneer, “dit is geoorloof”, maar is dit vir my nuttig?
Getuig my optrede van die bewustheid dat my liggaam nou ‘n woonplek (tempel) is van die Heilige Gees?
Hou my keuses rekening met die feit dat ek as hele mens (liggaam en siel) losgekoop is deur Jesus Christus en dus nie meer aan myself nie maar aan Hom behoort? (meer hieroor by
VREEMDE VRYERS) Is my besluite ‘n weerspieëling van dankbaarheid hieroor?
Hoe raak my besluite ander swakker Christene? Gaan dit hulle benadeel of laat struikel?
Die maatstaf van my vryheid as kind sal wees liefde tot my Vader en liefde vir sy kinders!
Die praktyke van die sondige natuur druis baie duidelik teen hierdie liefde in (Galasiërs 5 :19-21), terwyl die vrugte wat die Heilige Gees in God se kind voortbring (Galasiërs 5:22) duidelik die stempel van liefde dra. Dit vervul dan ook die oorspronklike bedoeling van die wet.
Die kind van God bevind himself in ‘n opwindende verhouding : Die Vader het ons al ons skuld vergewe en gee vir ons die heerlike geleentheid om Hom vrywillig lief te hê!
Hoekom langer ’n slaaf wees? Aanvaar heelhartig die versoening van Jesus en word ’n kind! Kindwees, open ’n nuwe toekoms! As jy kind is wag daar vir jou ’n heerlike ewige toekoms! Vers 7 (Lees)
Onthou dis net kinders wat erf, slawe kry niks!
*Pasop : Dis selfs vir kinders van God weer moontlik om deur mooi woorde weggelok te word terug na ‘n sisteem van slawerny. (soos wat die Hebrew Roots Movement graag doen. Kliek op :
Wortels van Verwarring) Dis juis waarom Paulus hierdie gedeelte skryf. Maar ons almal moet maar versigtig wees om nie die kosbare verhouding van kindskap te verwaarloos en geleidelik te verstar in harde godsdienstige slawerny van uiterlike reëls en ‘n hartelose pligsaanbidding nie!
(Foto's : Ons jong volwassenes het onlangs die saak van Christelike vryheid oordink toe ons op Ohange Lodge gaan uitspan het)