BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Geloof alleen. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Geloof alleen. Wys alle plasings

Donderdag 26 September 2019

GOEIE MENSE

IN DIE HEL? 



Ja, baie goeie mense gaan vir ewig verlore wees! Blatant gestel - Daar gaan baie goeie mense in die hel wees. Rêrig?
Ja, mense wat dalk nooit gemoor, gesteel of gevloek het nie. Mense wat Bybel gelees, gebid en eens op ’n tyd voor die kansel doopbeloftes, lidmaatsbeloftes en huweliksbeloftes afgelê het. Dit klink erg, maar dis waar! 


Daar bestaan ‘n skrikwekkende moontlikheid dat baie kerkgangers eendag helgangers gaan word! 

Nou sal jy dalk vra : Maar is dit moontlik? Hoe kan dit wees? Ja, een so ’n goeie mens was juis Paulus voor sy bekering. Hy noem in Filippense 3:4-6 ’n indrukwekkende lys van geestelike bates (goeie dinge!) en tog het dit hom niks gehelp nie. Hoor bietjie... “Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: ek is op die agste dag besny, van geboorte ‘n Israeliet, uit die stam Benjamin, ‘n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ‘n Fariseër, in my ywer ‘n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.” 

Min mense sou hulleself as ONBERISPELIK beskryf – Paulus kon! En dit in sy verlore toestand sonder Christus! 

Hierdie was alles uiterlike dinge waarop Paulus vertrou het om sy redding te verseker. Hy was van mening dat hierdie dinge punte tel voor God! 

Dis baie duidelik uit die Skrif dat goeie respektabele mense nie noodwendig in die ewige lewe deel nie. Die logiese konsekwensie hiervan is - of jy dit nou wil weet of nie - die hel gaan eendag vol goeie en gerespekteerde mense wees! Dis tragies dis skrikwekkend, maar dis ‘n feit! JA, jy hoor my reg - daar gaan eendag baie "goeie mense" in die hel wees! Soos Bybelkenners, kerkraadslede en predikante,  ordentlike mense, sagmoedige mense, diereliefhebbers, hardwerkende mense, opgevoede mense, fondsinsamelaars vir die kankervereniging, sopkombuiswerkers, orgaanskenkers, klimaataktiviste,  volkshelde en vryheidsvegters... noem maar op... sal saam met dronkaards, onsedelikes, leuenaars en gierigaards die ewige oordeel van God moet verduur. 

Nou hoe dan nou? Wie gaan dan gered word? 

JY HET JESUS NODIG 

Gelukkig gee Paulus hierdie antwoord. Hy KAN, want hyself was ’n goeie man, maar toe ontdek hy wat (WIE) regtig nodig het. 

Hy het Jesus Christus ontdek! Eintlik is dit meer korrek om te sê Jesus het hom ontdek en hom eerste gaan opsoek.* Jesus het daar op die pad na Damaskus Homself aan Paulus geopenbaar. Hy het hierdie goeie man gekonfronteer. “Jou goedheid help jou niks nie Paulus, jy het my genade en vergifnis nodig!” Paulus was nie die eerste goeie godsdienstige man wat dit moes hoor nie. Nikodemus wat in die nag Jesus gekom het (Johannes 3) en ’n gerespekteerde leraar was, moes dieselfde hoor : “Nikodemus jy moet weergebore word anders kan jy nie in die Koninkryk van God ingaan nie. Nikodemus jou Skrifkennis en goeie voorbeeldige lewe is nie genoeg nie.” 

Paulus het na hierdie ontmoeting met Jesus besef daar is net een bate wat tel. “Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo." (7-9) Paulus het besef : Ek kan nie my skuld voor God afwerk of genade verdien nie, my skuld word net vrygeskeld as ek in Jesus glo. Dit gaan nie nou meer of ek goed is of nie, dit gaan nie oor my geestelike “pedigree” nie, dit gaan nou daaroor dat God nie my kwaad meer teen my hou nie. Hier kry ons die beginsel van vryspraak deur die geloof alleen! Dit word op soveel plekke in die Skrif beklemtoon. (Vgl. Romeine 4:1-8) 

Om in Jesus te glo is al wat tel. Maar nou moet ons baie versigtig wees – elke tweede Jan Raap en sy maat sal jou vandag vertel dat hy in Jesus glo. 

GELOOF LEI TOT NUWE AMBISIES 

Om in Jesus te glo is ’n radikale lewensveranderende saak – Dit bring ’n nuwe passie in mens se hart! So kon Paulus nou getuig: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.” (10,11) Dit kan nie anders nie, want om in Jesus te glo beteken ek weet ekself gaan dit nie maak nie, maar ek vertrou op Hom, ek klou aan Hom vas soos ’n drenkeling aan die reddingstou klou. Hy word my ALLES! 

Geloof in Jesus lei tot ’n koersverandering, dit plaas my op ’n nuwe pad. (Dis iets meer as net bloot "uitkniel", jou hand opsteek of 'n kaartjie invul.) Dis 'n eenvoudige vertroue, maar dit het groot gevolge! Gevolge wat al hoe meer sigbaar word.  Dit sal vir almal duidelik wees waarheen jy nou op pad is! 

Paulus skryf hierdie gedeelte juis om mense daarteen te waarsku om op uiterlike dinge staat te maak. Hy waarsku mense teen dwaalleraars wat hulle wou dwing om hulle te laat besny. Hulle het die mense geleer as jy jou nie laat besny nie, kan jy nie gered word nie. Teenoor die dwaalleraars stel Paulus dit duidelik wat nou eintlik belangrik is. “Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.” (3)  Roem/staatmaak op Jesus is wat die verskil maak!

EN DIE DOOP? 

Die doop is ook ’n teken. 'n Teken van die Nuwe Verbond. Dis kosbaar en wonderlik. Maar die doop self red ons nie. Die doop wys ons juis na Jesus! Dit fokus ons op die belangrikheid van Jesus se sterwe en opstanding. As jy nie self op Jesus roem en op Hom vertrou nie, gaan jou doop jou niks help nie. Daar gaan ook baie (klein en groot) gedooptes in die hel wees! 

Maar kom ons stel dit positief. Die doop moet ons juis aanmoedig om Hom na wie die doop wys te ken en vir Hom te leef! 

HEMELSE WEDLOOP 

Vertrou jy met jou hele hart op Jesus? Oortref Hy vir jou alles in waarde? Jaag jy dit na om Hom beter te leer ken? Is jy daagliks besig met die hemelse wedloop of bestee jy al jou tyd en krag in 'n aardse "gym"?

Wat Paulus hier vir die Filippense leer is maar presies dieselfde wat die apostel Johannes leer in 1 Johannes 5:12,13! 

“Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” 

Het jy die Seun van God as enigste bate of maak jy stilletjies op ‘n ander bate staat? Vertrou jy op jou goedheid en godsdiens of vertrou jy op Jesus alleen en volg jy Hom na? 

Dis nog nie te laat nie: Kom! Jesus neem die sondaars aan!

*Vergelyk ook vers 12 “Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.” 


Donderdag 16 Maart 2017

HEELTEMAL VRY!

maar vrywillig diensbaar.



Een van Martin Luther se beroemdste geskrifte wat in 1520 verskyn het, heet : DIE VRYHEID VAN ‘N CHRISTEN. Hierin maak hy ‘n baie grondige, diepsinnige en heerlike stelling. 

Dis (tipies Luther) in die vorm van ‘n paradoks : 

"‘n Christen is in vryheid heer van alle dinge en van niemand ‘n onderdaan nie; ‘n Christen is in diensbaarheid kneg van alle dinge en van elkeen ‘n onderdaan." 

VRY ÉN DIENSBAAR! Natuurlik het Luther nie die stelling uit sy duim gesuig nie, dis ‘n samevatting van wat Paulus in 1 Korintiërs 9:19 sê : "Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.”

DIE CHRISTEN IS VRY. 

‘n Christen is heeltemal volkome vry. Hieroor bestaan soveel onkunde wat lei tot soveel vrees en onsekerheid. So baie mense dink Christenskap is een stuk vreeslik harde werk. Byna soos slawerny. Hulle voel die hele tyd : Ek moet myself beter maak, ek moet harder werk, ek moet my bes probeer om al die reëls te hou, dan sal God my aanvaar. 'n Vreesagtige gevoel van onsekerheid : "Jong, as ek nie in my spoor trap nie, gaan ek dit nie maak nie..."  (As jy hulle vra oor hulle Christenskap, is hulle antwoord altyd : “Ek probeer om een te wees.”) Wat ‘n groot misverstand! Kom ons maak seker vanuit die Woord. Wat verwag God van ons? Wat moet ons doen sodat ons kan weet Hy is tevrede met ons en het ons as sy kinders aanvaar? Gelukkig het Jesus self die antwoord op hierdie uiters belangrike vraag gegee. “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het." (Johannes 6:28,29) Geloof alleen! Dis die basis van Christelike vryheid en vrede. Om te weet God het my aanvaar omdat ek in Jesus glo. Daar is geen ekstra voorwaardes of fynskrif nie! Om te weet God het my aangeneem nie op grond van my prestasies nie, maar op grond van Jesus se prestasie en verdienste aan die kruis! 

Deur die geloof in Jesus kry ek deel aan ‘n heerlike uitruiling – Jesus vat my sondeskuld en onvolmaaktheid op Hom (en sterf daarvoor) en Hy skenk sy geregtigheid en sy volmaaktheid aan my! 

In God se oë is ek dus ‘n regverdige! Dis die basis van my vrede. (Rom 5:1) Niks kan my meer bangmaak of veroordeel nie. Ek is vry van die vrees vir die wet, sondeskuld, satan, dood en hel! Jesus se sterwe het hierdie vyande volledig en finaal uitgeskakel. Daarom kan Paulus uitdagend uitroep in Rom 8:34 – “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Die implikasie is duidelik, ons is vry van alle oordeel nie weens ons goedheid of prestasies nie, maar vanweë Jesus se sterwe opstanding en voortdurende intrede vir ons!

DIE CHRISTEN IS DIENSBAAR. 

As praktiese voorbeeld van hoe vryheid en diensbaarheid saamgaan gebruik Luther die verhaal van Jesus en die tempelbelasting. Ons vind dit in Matteus 17:24-27. Elke meelewende Jood moes jaarliks ‘n bedrag betaal waarmee die offerdiens in stand gehou is. Dit lyk nou asof Petrus deur ‘n vraag of Jesus die belasting betaal in die verleentheid gestel is.* Jesus is vooraf bewus van Petrus se dilemma en wag hom in met ‘n ander vraag. (25) "Simon, hoe dink jy: Van wie vorder die konings van die wêreld tol of belastings in? Van hulle seuns of van ander mense?" Die antwoord binne die denke van destyds is baie duidelik. Konings belas mos nie hulle eie familie nie. Koningseuns is vrygestel van belasting. Dit geld ook van die groot hemelse Koning. Jesus se insinuasie is duidelik : As Hy nie tempelbelasting betaal nie, is dit nie uit suinigheid, slordigheid of gebrek aan belangstelling nie. Hy, Jesus is die Seun van God, Hy as Prins word tog nie aangeslaan vir die onderhoud van sy eie Vader se paleis nie! Hy is vry van tempelbelasting en skuld niks! 

Tog besluit Jesus om wel vrywilliglik die voorgeskrewe tempelbelasting vir Homself en Petrus te betaal. Sommer so uit ‘n vis** se bek. Die eerste die beste vis. Geen groot issue nie! Hy doen dit nie omdat Hy daartoe verplig is nie, maar om nie onnodig aanstoot te gee nie! Jesus is vry om dit nie te betaal nie, maar betaal dit vrywillig! Jesus doen dit sodat daar nie misverstand sou wees nie. As Hy nie die belasting sou betaal nie, sou mense dink dat Hy die tempel of die offerdiens minag. Jesus wil nie ‘n onnodige struikelblok daar stel wat dit vir mense moeiliker sal maak om sy boodskap te glo en gered te word nie. Jesus betaal belasting al is Hy as Seun van God vry van hierdie verpligting. Dis ‘n pragtige demonstrasie van Christelike vryheid. Ek is vry van alle wette, maar maak myself vrywillig diensbaar aan God en my naaste.

Ek dien en gehoorsaam God nie om gered te word nie. Ek dien Hom omdat Hy my liefhet, my vryheid geskenk het en ek Hom wil dien. Ek kom kerk toe, ek bid, ek werk vir Hom vrywilliglik omdat Hy vir my alles reeds gegee het en ek wil dankie sê. Ek is vry, maar ek kies in vryheid om te dien. Ook om my medemens te dien tot hulle voordeel. Dis soos Paulus sy vryheid verstaan het. “Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen." (1 Kor. 9:20) Hy besef hy is vry van die Joodse wette, maar hy onderwerp hom daaraan in soverre dit nodig is om die Jode na Christus te lei. Hy doen dus nie dinge wat die Jode onnodig aanstoot sal gee nie. Kom ons dink ons in aan die situasie van ‘n vroue sendeling in ‘n Moslem land. As Christen is sy vry om nie ‘n Hijab (haarbedekking) te dra nie, maar ter wille daarvan om nie ‘n aanstoot vir die mense onder wie sy werk te wees nie, sal sy dit vrywilliglik dra. Juis om die evangelie te bevorder. Dis presies wat Jesus doen met die tempelbelasting – uit liefde vir ander mense en sensitiwiteit vir hulle gevoelens gee Hy op hierdie punt sy vryheid prys en betaal! Laat ons veral hierdie beginsel onthou as dit kom by omstrede sake soos die gebruik van alkohol en tabak, kleredrag en grimering, ontspanning en vermaak... Ja, as Christen is ek vry, maar is my keuses in die beste belang van ander mense? Veroorsaak my keuses nie dalk ‘n struikelblok in die weg van die evangelie nie?

Deur geloof in Jesus is ons vrygemaak van ons skuld, vry van die dwang van die wet, vry van die angs vir dood en hel. Hierdie vryheid is nie ‘n selfsugtige vryheid, wat ek net tot my selfsugtige voordeel gebruik nie. Nee juis deur geloof in Christus is ons verlos en vry tot ‘n vrywillige diensbaarheid in ‘n lewe van liefde! 

Kortom : ons is vry sodat ons in vreugde (sonder vrees) en uit dankbaarheid God en ons naaste kan dien en liefhê. 

Die Christen is iemand wat nie in en vir homself leef nie, maar in Christus en in sy naaste. In Christus deur die geloof, in die naaste deur die liefde! ‘n Pragtige evangeliese balans!

*Volgens van Bruggen sou die vraag ook kon vertaal word met ‘n stellig. “Julle leraar betaal die didrachma nie!” Petrus se “Ja’ bevestig dan dat Jesus nie die tempelbelasting betaal het nie. 

**Net terloops. Wat is nou die betekenis van die geldstuk in die vis se bek? Die opvallende en besondere is nie dat ‘n vis ‘n geldstuk in die bek kan hê nie. (dit sou kon gebeur) Die opvallende is dat Jesus die mag het om so ‘n opdrag te gee en te kan weet dat die eerste vis wat gevang sou word so ‘n geldstuk in sy mond sou hê. Hierdeur bewys Hy dat Hy werklik die Prins is in die Vaderhuis, werklik die Seun van God, want dis net Goddelike Almag en Alwetenheid wat dit kan vermag.