BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Instagram. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Instagram. Wys alle plasings

Donderdag 08 Augustus 2019

Jou WhatsApp status wys


Jy het nie VREDE nie... 



VREDE. DIS WAT DIE WÊRELD NIE VIR JOU KAN GEE NIE…. 



VREDE! Hoe lyk vrede? Spesifiek hoe lyk die vrede en vervulling en vreugde waarvan Jesus praat? Ek het dit nou die dag gesien…. Op Johannes Tampan se gesig, die Donderdag voor hy getrou het. Dis ‘n vrede en vreugde wat geld nie kan koop nie! Die vrede en vreugde van Jesus! (KLIEK) 


In JOHANNES 14:27 vertel Jesus ons: 

"Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” 

Alle mense smag na vrede. Maar waar kan ons dit kry? Jesus se punt is duidelik -die wêreld is magteloos om vir jou vrede te gee… 

Ten spyte van al die “apps”, aansprake, advertensies, beloftes en foefies kan die wêreld nie vir jou vrede gee nie! 

Politieke leiers kan nie - daarom word hulle almal iewers “gefire” (en dit sal ook geld vir beide Ramaphosa en Trump!)
Geld en besittings kan nie – kyk hoe baie rykes en beroemdes pleeg selfmoord of moet hulleself opkikker met dwelms en sterf uiteindelik aan een of ander oordosis!
Alkohol kan nie – die tragiese gebeure van ‘n jongman wat in sy braaksel verstik het na ‘n drinksessie in Stellenbosch is nog pynlik vars in die geheue. 
Seksuele losbandigheid en flirtasies kan nie – dit steel juis vrede, verwoes huwelike, maak harte seer.... Dit sien mens mos gereeld op sosiale media - vandag :  “jy is my alles/ ek kan nie sonder jou lewe nie/ my spark in the dark” en môre is jy die grootste vark onder die son! En dan is daar weer 'n nuwe liefde wat nou die "spark" moet wees en die vorige pyn moet laat verdof...

Terloops, die wanhopige aandagsoekende uitstallings van persoonlike sake op WhatsApp en Instagram skreeu uit : 

“Ek is eensaam, stukkend en sonder vrede!” 

Die wêreld kan inderdaad nie vrede gee nie. Veral ook nie die wêreld georiënteerde en wêreld gewilde vals profete wat vir jou wil vertel : “Alles is maak OK” terwyl jy in sonde voortleef nie! 

"Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog. En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! --terwyl daar geen vrede is nie. Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het; tog skaam hulle hul nie in die minste nie, tog weet hulle nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; in die tyd dat Ek aan hulle besoeking doen, sal hulle struikel, sê die HERE."(Jeremia 6:13-15) 

Die vals profete verseker mense : “Julle is eintlik OK, die Here hou van julle, God is aan ons kant…” Hulle wil nie die oortredings van die mense en God se oordeel daarop aankondig nie. Hulle verswyg dit omdat hulle gewild wil wees! Maar hulle skep ‘n valse vrede en valse gerustheid terwyl mense wankel op die rant van die hel! 

Net Jesus kan vrede gee. Dis die kernwaarheid hier in JOHANNES 14:27 

Hy gee vrede en Hy gee vir ons SY vrede. Hy wil dit vir jou NOU gee! Dis die vrede wat in Sy eie hart geheers het te midde van sy eie lyding en dood. Die vrede wat nie deur die geselslae, beledigings en dorings op sy kop gesteel kon word nie!   Die vrede wat Hom op die drumpel van die dood kon laat uitroep: “Vader in U hande gee ek my gees oor”. Dis juis sy dood wat hierdie vrede gekoop het. Dis ‘n unieke anderse vrede wat die wêreld nie kan gee nie, nie het nie en nie kan verstaan nie! Vandag nog nie! In Jesus se tyd was daar ‘n sogenaamde vrede, die Pax Romana – dit was die wêreld orde en vrede wat die Romeine deur hulle swaardmag bewerk het. Hulle het met geweld en verowering alle volke onderwerp en ‘n tipe vrede afgedwing. Die Jode in Jesus se tyd het dus ook gedink dat die Messias met die swaard die Romeine sal verdryf en so vrede vir hulle bring. Dis waarom hulle so teleurgesteld was in Jesus. 

Jesus se vrede is iets heel anders as politieke vrede. Dis iets heel anders as mensgemaakte vrede. Dis iets anders valse uitbasuin WhatsApp vrede. Dis iets anders as daai foto saam in omhelsing met die jongste liefde of die rugbytrofee wat volgende week weer ou nuus is.  Dis iets anders as die valse gerustheid wat die vals profete verkwansel. Dis iets heel anders as wat op die markte van die wêreld beskikbaar is… 

HOE LYK SY VREDE? WAT IS DIT? 

Dis vrede met God in die eerste plek. Soos Jesus in vrede geleef het met sy Vader en die wil van die Vader gedoen het. Deur sy dood het Hy die boosheid en onvrede van die sondige mens op Homself gevat en die straf daarvoor verduur sodat ons vrede met God kan kry deur die geloof. “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” (Romeine 5:1) 

Die vrede van Jesus is die vrede wat weet dat God nie meer vir my kwaad is nie, want die Lam van God is vir my geoffer. God hou niks meer teen my nie, meer nog Hy is deur Jesus my liefdevolle en versorgende Vader! 

Hierdie vrede is die vrede wat die inwonende Heilige Gees deur sy teenwoordigheid vir ons gee en ons rustig en kalm maak, want Hy is in ons. Sy teenwoordigheid is juis die kenmerk van die Messiaanse tyd waarin ons nou reeds leef en wat volmaak sal aanbreek by die wederkoms! En as dinge rof raak dan herinner die Heilige Gees ons weer aan Jesus se beloftes en word die vrede in my binneste weer herstel. (Joh 16:26)

Hierdie vrede is genoeg om vrees uit ons harte uit te verdryf. Vrees vir mense, vrees vir die dood en vrees vir die hel! Dis juis in die konteks van die dissipels wat bang was wat Jesus hierdie woorde gesê het. (vgl. Johannes 14:1) 

Hierdie vrede is dus groter as ons vrese en omstandighede, dit is eintlik ‘n onlogiese vrede wat heers in ons harte ten spyte van slegte omstandighede. Paulus praat daarvan in sy brief aan die Filippense. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” (Filippense 4:6,7) Praat ons nou van mooi teorie of Sondagpraatjies? Nee, hierdie vrede is 'n realiteit; Paulus het dit in die tronk ervaar en kon vanuit die tronk hierdie brief aan die gemeente van Filippi skryf om hulle te bemoedig!

Hierdie vrede kom saam met die pakket van liefde en vreugde wat Jesus gee. “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly. Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 15:9,10,11) 

Hierdie vrede, die vrede wat Jesus gee is die omvattende TROOS waarvan die Heidelbergse Kategismus vraag 1 praat: 

My enigste troos in lewe en sterwe is dat ek aan my getroue Verlosser Jesus Christus behoort! 




Saterdag 16 Februarie 2019

SAAMTREK?

Nee, want jy is afgesonder vir die heilige God! 



Ons leef in ‘n tyd waarin geen onderskeid tussen lig en duisternis nie. “Alles is maar sommer reg!”, in baie se oë. Paulus praat nou reguit oor hierdie vermeninging van goed en sleg in 2 Korintiërs 6:14 - 7:1. Met een duidelike beeld stel hy die Bybelse standaard : “Moenie saamtrek in die selfde juk as die ongelowiges nie.” 






Heel waarskynlik is dit die boodskap van Deuteronomium 22:10 wat Paulus hier geestelik van toepassing maak. “Jy mag nie met ‘n os en ‘n esel gelyk ploeg nie”. Dit gaan in daardie konteks oor allerhande verbode samevoegings. 

Paulus gebruik hierdie metafoor ook om kinders van God te waarsku teen verbode verbintenisse, vriendskappe en venootskappe. 

Die vraag is : in watter opsig en tot watter mate waarsku Paulus teen kontak en verbintenisse met ongelowiges? 

Wel, eerstens moet ons sê dat hy definitief nie propageer dat Christene alle kontak met ongelowiges en die heiden wêreld moet vermy nie. Hy self erken dat dit nie moontlik is nie. “In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie. Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee.” (1 Kor. 5:9,10 ) Dit gaan in daardie gedeelte oor die suiwerheid van die kerk en dissipline en tug binne die kerk self. Die kerk moet juis suiwer wees tot eer van God en om ‘n geloofwaardige getuie te wees. As alle kontak met ongelowiges vermy sou word, sal ons geen geleentheid hê om te getuig nie. 

Waaroor gaan dit dan? Enige aksie of verbintenis wat sou kon veroorsaak dat gelowiges in daad of gedagte betrokke sou raak by die sonde van die wêreld moet vermy word. 

Enige verbintenis of vriendskap wat tot kompromie met sonde kan lei is ongewens vir ‘n Christen. 

Konkrete voorbeelde wat Paulus in gedagte gehad het, was ‘n gemengde huwelik tussen gelowige en ongelowige (1 Kor. 7), die eet van afgodsoffers ( 1Kor.10), die bring van geskille na heidense howe (1 Kor.6) Die metafoor van ‘n juk skep die indruk dat dit oor noue verbintenisse gaan, waarbinne dit moeilik is om konsekwent ‘n Christelike lewenswyse en waardes te handhaaf. Ons vriendskappe en venootskappe met onbekeerde mense moet nie van so ‘n aard wees dat ons tot sonde verlei word nie! 

Na hierdie “sweeping statement” gaan Paulus nou voort om deur vyf teenstellings die noodsaaklikheid om enige assosiasie met boosheid te vermy verder te onderstreep: Dis retoriese vrae, die antwoord word veronderstel - geen, hoegenaamd niks! Paulus gee hier ‘n duidelike grondslag vir die verskil tussen gelowige on ongelowige: 

"Hoe kan daar ’n venootskap wees tussen reg en onreg?" Heiligheid en ongeregtigheid het niks in gemeen nie. Die een is reg en die ander is verkeerd. Daar is geen raakpunte nie. 

"Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?"  Hulle is onversoenbaar. Moenie probeer pas wat nie kan pas nie! En meng wat nie mengbaar is nie. Lig en duisternis is twee programme wat “incompatible” is! 

"Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial?" (hierdie term vir die Satan kom nie direk uit die OT nie, maar waarskynlik uit latere Joodse literatuur) Dink bietjie, watter harmonie en samewerking kan daar tussen Christus en die Satan wees? Dis ondenkbaar dat daar enige samehorigheid tussen hulle kan wees. Het Christus en die Satan iets vir mekaar te sê, sal hulle samesprekings voer of samewerking nastreef? Belaglik en ondenkbaar! Hoe kan Christene wat aan Christus behoort dan nou verbintenisse aanknoop met mense wat deur Satan beheer word? 

"Hoe kan ’n gelowige dieselfde belange hê as ‘n ongelowige?" Daar is mos ’n absolute kontras tussen gelowige en ongelowige. Ons het verskillende lojaliteite, belange en belangstellings. ’n Gelowige is iemand wat honger en dors na geregtigheid, wat verlang daarna om God se wil te doen. ’n Ongelowige is presies die teenoorgestelde (Efesiërs 4:17,18) 

"Hoe kan daar ’n ooreenkoms wees tussen die tempel van God en die afgode?" Paulus redeneer soos volg : Die tempel van God is ’n ontsagwekkende heilige plek, geen afgod pas en hoort daar nie. Wat waar was van die fisiese tempel in Jerusalem, geld ook vir die geestelike tempel van gelowiges. Net soos die inbring van enige afgod in die tempel dit sou ontreinig en ongeskik maak vir aanbidding van God, net so sal besoedeling met die afgode ons ongeskik maak om God te aanbid. 

CHRISTENE IS DIE LEWENDE GOD SE TEMPEL!

Nou sluit Paulus aan by sy beeld van die tempel en maak ‘n heerlike en betekenisvolle stelling: 

“Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: "Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees." (2 Kor 6:16) 

Paulus beklemtoon 2 implikasies van die feit dat gelowiges God se tempel is. (En terloops dis die bekende verbondsformule wat hy hier aanhaal) : 

· Dis ’n vreugdevolle realiteit dat God in ons woon. Ons kan sy liefde en nabyheid op ’n besondere manier beleef! 

· Dis terselfdertyd ‘n saak van geweldige groot erns en verantwoordelikheid dat ons God se woonplek is. Ons as tempel is ’n heilige, afgesonderde, spesiale plek. Ons durf niks wat vuil is toe te laat in ons lewens nie, juis nie venootskappe en vriendskappe wat ons gaan besoedel nie. 

DIREKTE UITDAGING! 

Paulus rig nou ’n kragtige uitdaging en besondere belofte aan sy lesers. Daarom: "Gaan van hulle af weg en sonder julle af," sê die Here, "en moenie wat onrein is, aanraak nie." "Dan sal Ek julle aanneem en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees," sê die Here, die Almagtige. (17) Omdat God nou woon onder sy volk in terme van sy belofte van die Nuwe Verbond is dit vir ons ‘n kragtige aansporing tot ‘n heilige lewe. Afgesonder en toegewy aan God. Hy verwys na Jesaja 52:11. Dit gaan oor die verlossing uit Babel. Die volk Israel moes Babel verlaat , hulle moes die heidense stad vaarwel roep, want hulle was ‘n priesterlike gemeenskap, draers van die heilige voorwerpe van God. Hoeveel te meer geld dit nie van die nuwe volk van God nie. Ons is nou mos ‘n heilige priesterdom. Ons is verlos uit die ballingskap en slawerny van sonde... 

Ons moet sigbaar en moreel anders wees as die res van die mensdom. Lyk en doen jy anders? Waar daar nie meer hierdie andersheid is nie, is ons nie meer God se afgesonderde priestervolk nie. Die klem val op etiese en nie fisiese afskeiding nie. Die opdrag beteken nie om eenkant in klooster te gaan woon nie, maar anders te wees, anders te leef! 

En moenie die heerlike BELOFTE vergeet nie: “en ek sal julle aanneem...” God self gaan in ‘n besondere naby innige verhouding met julle staan as heilige mense wat anders leef! 

Paulus verwys nou in 7:1 na die beloftes van 6:17. “Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons. Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy.” ( 2 Kor. 7:1) Hierdie beloftes raak ons direk. Ja, sy eerste lesers, maar ook ek en jy! Hy raak nou prakties en wil sê : “Julle is die tempel van God, God woon onder julle, maar kyk julle moet besef as God onder julle woon dan moet sy woonplek (julle) skoon wees! Moenie die fout maak om te dink dat God saam met die afgode woon nie! 

Die heilige God woon nie in ‘n morsige hool van onreinheid nie! 

Miskien moet ek of jy hoor : "Daardie YouTubeclips wat jy kyk pas nie by God se woonplek nie...” Paulus gebruik dus hierdie beloftes van God om sy lesers kragtig aan te spoor tot ‘n heilige lewe. Om dit na te streef moet ons alle oorsake en geleenthede van besoedeling van ons af verwyder. Deur term “liggaam en gees” sluit hy die hele spektrum van alle moontlike bronne van besoedeling in.. In respek en eerbied vir God se ontsagwekkende heiligheid moet ons gehoorsaamheid en heiligheid nastreef. 

VAT SAAM 

God se genade beteken nie dat die onderskeid tussen heilig en onheilig uitgewis is nie. Ons word immers nie vrygespreek omdat God nou tot die slotsom gekom het dat sonde nie iets ernstigs is nie. Ons word vergewe omdat Christus met Sy lewe betaal het vir ons skuld. Pasop dus om valse gevolgtrekkings vanuit die vergifnis te maak. Vergifnis is geen vrypas om ons sondige aard uit te leef in kompromie met die wêreld nie. 



Paulus pleit hier vir die verbreking van alle bande en verbintenisse met ongelowiges wat ons geestelik skade kan berokken en tot kompromieë lei.  In vandag se taal:


PASOP WIE IS JOU FACEBOOK VRIENDE, JOU WHATSAPP KONTAKTE EN JOU INSTAGRAM BELANGSTELLINGS!


As ons hierdie opdrag nalaat versmoor ons God se beloftes. Dit beteken dat ons die vreugde van ‘n heilige lewe verbeur en ontbeer. Ja, dis ‘n Bybelse waarheid, hoe meer heilig hoe meer blydskap! Hoe meer heilig hoe meer beleef ons die vreugde van God wat deur sy Gees in ons woon! 

Om heiligheid na te streef met die regte motief moet ons altyd onthou wie ons is. Elkeen wat aan Christus behoort is die tempel (woonplek) van die heilige God. Wie erns maak met hierdie feit sal onmoontlik met die ou lewe van sonde en kompromie kan voortgaan.

(vlnr) Jané Redelinghuys, Mario Nel, ds. Johannes, Teri-Dona Davids, Ferdinand  Gerd Kronsbein, Marco Nel, Demi Louw, Stephanus Johannes van der Merwe, Stephné Jo Voigts, Hermanus Bothma Keyser, Christin Opperman, Johannes Andries Steenkamp.

Mag julle elkeen volhard in die geloof en julle belydenisaflegging van vandag nooit vergeet nie!







Maandag 19 Februarie 2018

‘N JONGMENS SE PAD MET GOD

DIE FONDASIE , VORMING , VOLHARDING EN VERANTWOORDELIKHEID IN ‘N JONGMENS SE LEWE! 


Dis die lewende God wat sondaars red. Ook jong sondaars. Hý doen dit! Hy maak hulle vas aan Jesus Christus en voeg hulle by sy kerk. Hiervoor gebruik Hy natuurlik sy genademiddele en metodes soos Hy wil! Wat ‘n heerlike wete! Wat ‘n groot rede tot lof en dank! 

Juis ook vir ons wat wonder: “Wat gaan van ons kinders word? Gaan hulle die Here ken, gaan hulle volhard op die pad van die Here? Die aantrekkingskragte van die wêreld is so groot, die Satan so slinks en die pad na die lewe is smal!” 

Timoteus was ‘n jongman wat die Here gedien het. Dis interessant as mens bietjie vra : “Hoe het hy die Here leer ken? Watter mense het God in sy lewe gebruik?  En hoe?Wat was sy fondasie? Wat van sy eie verantwoordelikheid?” Ons gaan veral kyk na 2 Timoteus 3:13-17 maar ook bietjie verder rondloer in die twee briewe wat Paulus persoonlik aan die jongman Timoteus geskryf het en net so ‘n paar sake wat daarin voorkom uitlig. Kom ons noem dit, die deurslaggewende faktore in die lewe van ‘n Christen jongmens. 

"Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 
Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus." (2 Timoteus 3:14-17) 

Die fondasie van die Skrif – Timoteus het van kleins af die Bybel geken. (In sy geval natuurlik die Ou Testament) Dit het vir hom die basiese kennis gegee wat hy moes hê. Die kennis het in sy geval tot geloof gelei en so kry hy deel aan die verlossing. Die belangrikheid van kennis oor die Bybelse waarhede kan nie oorbeklemtoon word nie. Huisgodsdiens! Gebrekkige kennis lei tot ondergang en verlorenheid. “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.” (Hosea 4:6 OAV) Terloops, dit gaan nie hier oor persoonlik geopenbaarde kennis nie, dit gaan oor kennis van God se Woord (wet), met ander woorde die Skrif! 

Kennis van die Skrif lei tot geloof in Jesus en dus tot verlossing, maar dit gaan ook verder. 

Die Skrif wys ook vir ons hoe ons as verlostes moet lewe! 

Die Skrif het groot waarde, sê Paulus. Deur die Skrif, ken ons die waarheid, dis ons wapen teen dwalinge en valse lering, dit wys ons hoe ons dinge wat in ons denke en dade verkeerd is reg moet maak. Die Woord dui die koers aan hoe om positief ‘n lewe te leef waarvan God hou. Die kennis van die Bybel rus ons toe om die goeie werke wat God van sy kinders te vra te doen. 

Die Skrif is onontbeerlik vir redding en lewe as geredde! 

Baie mense ontken dit vandag en weet gevolglik weinig van die Woord. (Hulle kan die Blou Bulle se spelers opnoem, maar weet nie eens of Jesaja in die Ou of Nuwe Testament is nie!) ‘n Algemene redenasie is: “Ons het nie die Bybel nodig nie, want die Heilige Gees praat sommer direk met ons.” Dis ‘n groot dwaling. Die Gees en die Woord gaan saam. Daar is niks wat jy as ‘n feit oor God en Jesus en die ewigheid kan weet, as jy dit nie vanuit die Skrif weet nie. Daar is net een maatstaf en norm waaraan ons as God se kinders als kan toets en dis die Woord. Die Woord het die voorrang, self bo engele! Ja, regtig! Galasiërs 1:8 leer ons : “Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees!” Geen droom, engel, visioen of bonatuurlike belewenis staan bo die Skrif nie! Paulus wil die jongman Timoteus opnuut net weer vasmaak aan die geskrewe Woord. Bly by die Skrif, Timoteus! Sola Scriptura is nie iets wat deur die reformatore uitgedink is nie, dit was al Paulus se raad en opdrag aan Timoteus. 

Die rol van ander mense. God het ander mense gebruik, juis om vir Timoteus die Woord te leer. Wie was hulle in Timoteus se geval? Sy ma en ouma! Hulle was ware gelowiges. Die mense in sy eie huis. “Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.” (2 Tim 1:5) Later het Paulus self ‘n groot rol in Timoteus se lewe gespeel. Hy noem Timoteus “ my kind in die geloof”. Elke kind van God kan mense opnoem wat ‘n groot rol in sy of haar lewe gespeel het. Moenie hulle raad en lering en voorbeeld sommer weggooi nie. Kyk na hulle pad. Natuurlik is niemand volmaak nie. Maar onthou en respekteer die lering en voorbeeld van hulle wat die pad al verder as jy gestap het. 

Paulus wys Timoteus ook op sy eie verantwoordelikheid. Jy kan nie net op ander se insette staatmaak nie. Elke jongmens kom op ‘n punt van beslissing. Ek self moet nou keuses maak! Ek self moet my persoonlike vertroue in Jesus die gekruisigde plaas. Ek self moet nou volhard en die stryd stry! Kyk na nog ‘n paar verantwoordelikhede wat Paulus uitlig: 

1 Tim 6:20. “Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die "kennis", soos dit verkeerdelik genoem word." Bewaar dit wat jy ontvang het. Pasop vir allerhande los praatjies en kamtige kennis. Moenie als glo wat jy hoor en sien (veral nie) op sosiale media nie! Instagram is nie die standaard van die Koninkryk nie!

2 Timoteus 1:13,14. “Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon.” Weer die noodsaak van bewaring. Dit wat jy geleer het is goed, bewaar dit deur die Heilige Gees. Dit verg moed en aksie van jou kant af, jong Christen! 


2 Timoteus 2:22. "Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep.” Vlug vir wat verkeerd is. Gebruik jou voete! Bly weg van die partytjies, vriende en vermaak waar God nie geëer word nie. Maar positief, streef na die regte dinge saam met ander kinders van God! Kies jou vriende baie versigting! Hou aan geestelik groei! 


1 Timoteus 6:12 “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het”. Ja, God self is ons Redder, maar jy het die verantwoordelikheid om al jou kragte in te span en te volhard. God het jou geroep Timoteus, God het jou geroep... en jy het jou geloof openlik bely! Nou begin die harde werk en die vasbyt eers regtig! Dis met hierdie boodskap van Paulus waarmee ek julle as ons nuwe lidmate wil verwelkom en ook uitstuur!


Agter (v.l.n.r.): Eleanor Steenkamp, Johan Muller, Charlie Voigts, Mornè Button.
Voor (v.l.n.r.) : Lezanne Britz, Danielle Bartlett.

BAIE WELKOM JULLE!

Maandag 06 November 2017

HARVEY WEINSTEIN

en die Nuwe Jerusalem! 

Paulus praat met die kinders van God (hulle is geseënd en uitverkore in Christus, begenadig en gered deur die geloof alleen)* op ‘n baie kragtige manier in Efesiërs 4:17-24**  en moedig hulle aan om heeltemal te breek met hulle ou heidense leefstyl. 

HEIDENSE LEEFSTYL

Wat is hierdie heidense leefstyl? Dis belangrik om raak te sien, dis nie net die leefstyl van die Moslems, Hindoes of geverfde kannibale daar doer nie, dis die hele wêreldsisteem waarin ons leef en wat ons elke dag rondom ons sien. As mens na hierdie beskrywing kyk, kon jy net sowel dink Paulus was ‘n middag op die Internet en hy het so bietjie op Instagram en YouTube rondgekuier. 

Hoe lyk en klink die heidense leefstyl volgens Paulus?

“hulle gedagtes lei tot niks” Een van die hoofkenmerke van die heidense leefstyl is verdorwe sinnelose dwase denke. In die geroesemoes en lawaai van die goddelose wêreld met sy filosofie, idees en ideologie, sy hedonisme, materialisme, feminisme, liberalisme, ateïsme (noem maar op...) is daar geen blywende oplossings nie, geen ware rus en geen ewige heerlike bestemming nie. Dis ‘n ydele soeke na ‘n altyd ontwykende utopie, ‘n hersenskim van geluk wat nêrens te vinde is nie. Dis ‘n gejaag na ‘n haas wat nie eers bestaan nie. Soos ‘n hamster wat hom verbeel hy gaan iewers kom maar al die tyd op sy eie wieletjie in die rondte hardloop. Dis ‘n vretende verlange na die pot goud aan die punt van die reënboog, wat maar altyd net buite bereik bly. ‘n Tevergeefse vertroue op helde met wankelrige voete en ‘n swerm onkundige kiesers wat agter hulle aanstrompel... Die Obamas, Trumps, Macrons…maar nie een van hulle weet in watter rigting die Lewe te vind is nie! 

“verduisterde verstand...onkunde” Die heidendom verstaan niks van ‘n heilige lewe in gemeenskap met God nie, weet nie wat in die Woord staan nie. Die heiden verstaan nie waarvandaan hy kom, wat sy doel op die oomblik is en waarheen hy op pad is nie. Onkundig, maar ook verhard. Die heiden het immuun geraak teen God se waarskuwings. Veragters van sy liefde, verbitter teen sy gebooie en vertrappers van sy verlossingsgenade.

Die heidene het “afgestomp” geraak – vir my een van die duidelikste kenmerke van die samelewing. Ongevoelig, skaamteloos, onsensitief. Sonde is nie eers meer ‘n skande nie – dis die hoof sappige nuus op die voorblaaie : “ons bly saam, hoereer saam, lieg saam, steel saam en voel nie eers skaam of skuldig daaroor nie. Selfs as ons uitgevang word is daar geen hartgrondige berou nie, in plaas van belydenis en bekering gaan ons net vir ‘n bietjie terapie!” Dis die losbandige leefstyl van Hollywood en Harvey Weinstein** en sy kan wurms, waaroor almal nou “Oe!” en “A!”, maar dis waarvan mense eintlik regtig hou, want hulle betaal om hierdie vuil water dag vir dag uit hulle morsige TV skerms op te slurp. Inderdaad ‘n “onversadigbare drang” na “losbandigheid!”

Die boosheid gaan al verder, daar word steeds nuwe vorme van losbandigheid wellus en haat uitgedink. Daar kom telkens nuwe skandale van bedrog na vore… en dis nie net Zuma wat skuldig is nie!

Hierdie heidense leefstyl staan in skrille kontras met die waardes en voorbeeld van Jesus. (20) Die opdrag wat Paulus gee is kort en kragtig (en baie ongewild!). Hou op, breek met…

NUWE DENKE WORD BENODIG

Waar begin dit? Innerlik by ons gees en gedagtes. “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” (Romeine 12:1,2) Moenie meer dat Instagram, Hollywood en die Huisgenoot jou gedagtes en waardes bepaal nie! Moenie nabootsers word van die sepiehelde nie! Moenie gelykvormig word aan die grillerige glansganse van aan ons tyd nie. Gaan eerlik terug na God en sy Woord. Leef nuut volgens die lewe waartoe God julle geroep het. God se bedoeling is dat ons beelddraers van Hom moet wees. Ons weet God se beeld is in ons geskend. Dis verwronge en vuil. Ons weet nie eers hoe ons meer veronderstel was om te wees nie. Gelukkig kan ons weer weet hoe God se beeld in ons moet lyk. Jesus. Hy is die Beeld van die onsienlike God. Positief – om weer God se beeld te vertoon moet ons volgens die opdragte en voorbeeld van Jesus leef! En Hy maak dit moontlik deur die Heilige Gees wat in ons woon! 

GEEN PLEK VIR DIE HEIDENSE LEEFSTYL IN DIE NUWE JERUSALEM NIE

Hoe ernstig is Paulus met hierdie waarskuwing? Ons het mos ‘n manier om die Bybelse waarskuwings af te skud en te versag. “Ag, ou Paulus is ‘n asyngesig rabbynse Jood.” As ons egter in Openbaring 21 na die beskrywing van die Nuwe Jerusalem kyk besef ons hoe reg is Paulus. Die Nuwe Jerusalem is in Openbaring beide ‘n plek, maar dis ook mense. Dit staan in kontras met Babilon. Babilon word uitgebeeld as ‘n onrein prostituut en die Nuwe Jerusalem as die rein bruid. ‘n Groter kontras kan jy nie kry nie. Babilon is die plek van die onreines, maar die Nuwe Jerusalem (kliek) by uitstek die plek van die reines. Hulle word verlig deur die heerlikheid van God en die Lam is hulle lamp. (23) Die onreines se eindbestemming is die poel van vuur. “Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood." (8) Hulle mag nie in die Nuwe Jerusalem kom nie. “Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.” (27) Daar is geen plek vir die heidense leefstyl in die Nuwe Jerusalem nie! Dis verdoemend duidelik!

GENADE VIR DIE DORSTIGES!

Vreeslike woorde, maar wag, ook hier in Openbaring word die deur oopgehou vir die wat wil bekeer. Genade onbeskryflik groot! “Verder sê Hy vir my: "Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.” (Openbaring 21:6,7) “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17)

Vir die wat die uitnodiging aanvaar is daar eendag plek in die Nuwe Jerusalem, maar nou ook reeds plek aan die Nagmaalstafel. Die Nagmaalstafel is nie die plek vir goeie mense nie, maar vir dorstiges m.a.w. diegene wat hulle nood en behoefte aan Jesus besef! En Jesus stel niemand teleur nie, want die bloed van Jesus reinig ons van alle sonde!***

*Sien Efesiërs 1:3-14, 2:8-10

**In die Naam van die Here doen ek ‘n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks,

hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard.

Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ‘n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.

Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie.

Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is.

Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word.

Julle gees en gedagtes moet nuut word;

lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. (Efesiers 4:17-24)

***Natuurlik is Weinstein en dergelikes se optrede laakbaar, barbaars en afkeurenswaardig, maar al hierdie aktrises wat nou so kla is uiters naïef. Hulle onkunde is tiperend van die heidendom. Wat verwag hulle van ‘n bedryf wat losbandigheid, wellus en geweld as vermaak aanbied? ‘n Mens kan nie vuur in jou klere dra en dink jy gaan nooit brand nie!

**** 1 Johannes 1:7