BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Uitstel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Uitstel. Wys alle plasings

Donderdag 09 Januarie 2020

NOU!

- DIE KRAG VAN VANDAG 



Jesus is nooit laat nie! (Kliek NOOIT LAAT) Hy is presies betyds vir die wat Hom soek, die wat na Hom roep. En tog gaan baie mense verlore. Anders gestel – dit blyk dat sommige die genade by hulle laat verbygaan, dat hulle geen baat vind by die genade nie al is Jesus altyd betyds. Wat is die rede? Waarom gebeur so ‘n vreeslike tragedie? 



Daar is net een duidelike rede. Hulle weier om die versoening te aanvaar wat God deur Jesus bewerk het. Dalk is jy een van hulle? Die meeste mense se verweer is: “Nee, ek weier nie, ek is darem nie so erg nie, ek stel net nog ‘n bietjie uit om die versoening te aanvaar.” Weier of uitstel (al klink laasgenoemde dalk meer ordentlik) – die gevolg is maar dieselfde skrikwekkende uiteinde… ‘n Christuslose en uitsiglose ewigheid! HEL!


Ons gaan kortliks na twee sake kyk wat Paulus in hierdie verband in 2 Korintiërs 5:20-6:2 aanroer. 

1) Die heerlike vaste feit van die versoening en hoe dit gebeur het. 

2) Die dringende oproep om dit vandag te aanvaar. 

1) DIE VASTE FEIT Paulus vertel hier van die wonderlike verlossingswerk van God. God self het hierdie versoening met ’n vyandige sondige mensdom bewerk. God het ‘n nuwe begin gemaak. Trouens, Hy is besig om deur Jesus ‘n nuwe skepping tot stand te bring. As ek aan Jesus behoort is ek deel van hierdie nuwe skepping. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel (skepping); die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (5:17) Paulus is ambassadeur van hierdie besondere boodskap. Nou weet ons uit die res van die brief dat daar teenstand was teen Paulus se boodskap in die gemeente van Korinte. Daar was vals apostels wat twyfel gesaai het oor Paulus se apostelskap en boodskap. Paulus sê : “Kom terug na hierdie boodskap” en “Laat julleself met God versoen”
Hoor die dringende pleitrede : "Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!" (5:20) Hy sê dit hier vir mense wat alreeds deel van die kerk was maar klaarblyklik afvallig of twyfelagtig begin word het. 

Binne die konteks van Paulus se kragtige oproep vind ons ‘n geweldige uitspraak in vers 21. “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.” (NAB) Heel moontlik vind ons hier ‘n tipe van ‘n vroeg Christelike belydenis. Hier kry ons die helder antwoord op vraag : 

Hoe word 'n sondige mens herstel tot guns van God? 

Hoe word ‘n skuldige weer beskou as onskuldig? Hoe word die vuil sondaar deel van God se koninkryk? Hoe werk vergifnis? Kom ons kyk stuk vir stuk na die uitleg.  Die OAV vertaal dit baie letterlik en ons gebruik dit as basis. “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” (OAV) 

"Hom wat geen sonde geken het nie" – dis Jesus. Hy was sonder sonde. Die ware volmaakte Israeliet. (Dink aan die subtiele versoekings in die woestyn wat Hy meesterlik geslaag het.) Die vlekkelose Lam van God! 

God het vir Jesus sonde gemaak vir ons – Dit gaan hier oor die straf op sonde. NAB- “as sondaar behandel” God het Hom gestraf as sondaar wat die dood verdien! Dit steun duidelik op uitsprake van die profeet in Jesaja 53:5,6,10.* In Galasiers 3:13 kry ons ook ‘n soortgelyke uitspraak. “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word” 

Jesus kry die straf en die vloek. Wat kry ons? Wat is die effek op ons wat glo? Ons kry die geregtigheid van God in Hom. Met ander woorde deur ons verbondenheid aan Jesus staan ons in ‘n nuwe verhouding met God. Ons is nou vergewe, vrygespreek. Dit is duidelik dat deur die aksie van God in Jesus daar ‘n nuwe verhouding met God tot stand kom. Al drie hoof terme in die gedeelte : nuwe skepping, versoening, geregtigheid van God saam, beskryf die nuwe verhouding wat tot stand gekom het en radikaal ons verhouding met God en al ons aardse verhoudings beïnvloed. 

Samevattend: 

Dit gaan hier oor ’n ongelooflike wonderbaarlike OMRUILING - die sondelose Christus is as sondaar behandel, Hy word belaai met ons sonde, Hy is veroordeel as sondaar, behandel as ’n vervloekte wetsoortreder. Hy kry die doodstraf. Ons kry die lewe. 

Hy is ons plaasvervanger, Hy het plekke met ons omgeruil. Ons kry die status van sy geregtigheid. As ek in Jesus is staan ek sonder skuld, sonder straf, sonder veroordeling voor God, nie op grond van iets wat ek gedoen het nie, maar van Christus se werk aan die kruis! Daar bestaan geen beter nuus as dit vir helbestemde sondaars nie! Wat maak jy met hierdie nuus? 

2) DIE DRINGENDE OPROEP Paulus waarsku hulle dat hulle nie die genade wat deur Jesus na ons kom deur hulle vingers moet laat glip nie. “As medewerkers van God doen ons ‘n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie.” (6:2) Hy pleit met ander woorde: “Moenie hierdie heerlike verlossing misloop nie! Moenie God se genade in Jesus verwerp nie!” Hy wil as’t ware waarsku : “Die genadeboodskap het dan geen uitwerking op julle nie, pasop dis gevaarlik!” Jy sien, genade moet mos ‘n verskil in jou lewe maak! Ook in ons verhoudings met mekaar. Genade moet mos lei tot groei in heiligheid, liefde vir God, liefde vir mekaar. Genade moet tog die gevolg hê – dat ons begin leef vir die Een wat sy lewe vir ons gegee het. ‘n Lewe vir Hom, nie meer vir geld, aansien en wellus nie! “Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.” (5:14,15) 

Paulus onderstreep die dringendheid met ‘n aanhaling wat kom uit Jesaja 49:8. “Hy sê: "Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp." Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.” (6:2) Met Jesus se koms het die regte tyd, die unieke geleentheid vir redding nou aangebreek! Moenie uitstel nie, moenie laat dit verbygaan nie. Daar sal nooit ‘n beter tyd en geleentheid vir redding wees as nou nie! Moenie nog wag vir ‘n wonderwerk of ‘n teken nie. Die trein het gestop, nou moet jy opklim! Moenie uitstel nie! Hoe lank stel jy al uit om die reddingsgenade van Jesus te aanvaar? Hoe lank haak jy vas by daardie een sonde wat hinder dat jy dankbaar kan wees vir God se genade? Jy besef al vir baie jare daar is gewoontes, gesindhede of verhoudinge in jou lewe wat ‘n gruwel is vir God! Kom vir hulp na Jesus. Kom met erns. Kom met bereidheid om te breek met daardie verkeerde gewoonte of sondige verhouding... Vergeet van alle ander nuwejaarsvoornemens. Hierdie is die een saak bo alles! 

Die tyd van redding is NOU. 

Die verlede is in elk geval onherroeplik verby. Die toekoms, selfs die volgende uur, wat nog te praat van môre is onbekend en buite ons beheer. Jy het net NOU, NOU om die grootste besluit van jou lewe te neem... 

Die veld is groen. Dit het positief gereageer op die genadereën! (Tsintsabis, Januarie 2020)


* Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom. Jesaja 53:5,6

Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy ‘n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik. Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en hy sal die Here ken. My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra. 

Jeasaja 53:10,11

Vrydag 07 November 2014

NOOIT TE JONK NIE!

- begin sou gou as moontlik vir Jesus ken en skyn.

[Hier is drie kerse : ‘n kortetjie,  ‘n baie lang een, en ‘n middelmatige een. Watter van hierdie kerse is ‘n “baba” kers en watter een is die “oupa” kers? Reg geraai. Die lang kers is die “jong of baba” kers, want hy het nog ‘n lang tyd oor om te brand! Die kort kersie is die “oupa” wie se tyd begin min word...]




Kom ons lees die bekende verhaal van die jong Samuel se roeping as profeet in 1 Samuel 3:1-10. Hier word twee baie belangrike dinge oor die seun Samuel gesê :

Vers 1. “Samuel het die Here gedien.” Van kleins af het Samuel aan God behoort en Hom in die tempel gedien. Ons ken mos die geskiedenis – hoe die kinderlose Hanna hartstogtelik gebid het vir ‘n kindjie... Sy het ‘n gelofte afgelê... “Sy het ‘n gelofte afgelê en gesê: "Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ‘n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie." (1:11) Sy het met sulke groot passie en erns gebid dat die priester Eli gedink het sy is dronk! Toe het sy ‘n belofte gekry dat die Here vir haar ‘n seun sou gee. “Toe sê Eli: "Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het." (1:17) Dit het waar geword. Sy het ook haar gelofte nagekom en hom na die tempel gebring vir diens aan die Here. Ons moet nooit die gebed en die invloed van sy moeder miskyk nie. Dis ‘n voorreg om in ‘n Christelike huis groot te word, om van kleins af deel te wees van die kerk, om die Bybel te leer ken, maar die Here wil nog iets beter vir jou...

Vers 7. “Samuel het nog nie die Here geken nie.” Samuel was besig met God se dinge daar in die tempel, maar ‘n innige persoonlike verhouding het nog ontbreek. Ons kan sê, Samuel het God net so op ‘n afstand geken. (soos jy dalk jou onderwyser ken, maar nog nie soos mens ‘n pa of naby vriend ken nie) God het ‘n groter plan gehad vir Samuel as maar net so ‘n algemene diens en algemene bekendheid. 

God het Samuel persoonlik geroep en Samuel het persoonlik geantwoord op Sy roepstem! Ons sou kon sê dat Samuel se ouers tot op hierdie stadium namens hom gekies het om die Here te dien, maar nou moes Samuel self kies! Ook as verbondskind moes hy nou self verantwoordelikheid vat!

Ons ouers, die Sondagskool, die kerk het ‘n goeie invloed op ons. Ons word groot met God se dinge. Daar kom egter ‘n tyd wanneer die Here persoonlik met ons praat. Dit gebeur wanneer die Heilige Gees regtig hier diep in ons hart met ons praat deur die Woord. Dis wanneer ek weet, God roep vir my op my naam. Dit gebeur wanneer ek weet ek is ‘n sondaar en ekself het Jesus nodig.

Miskien sê jy : "Maar Dominee, Samuel was tog ‘n spesiale geval, hy is geroep as profeet. Ek is maar net ‘n gewone kind. Die Here sal my seker nie roep nie?" Ja, dis waar ons is almal gewone mense, maar die Nuwe Testament in geheel leer ons dat God ons almal roep deur Jesus om konings, profete en priesters te wees. 

Jesus roep jou om as koning te heers oor sonde, om gesag uit te oefen en sy wil te doen. 
Jesus roep jou om ‘n priester te wees om jouself met dankbaarheid, gebede en lof aan Hom te offer (toe te wy, te gee). 
Jesus roep jou om as profeet sy Woord te verkondig, vir Hom te getuig daar waar jy is tussen jou klasmaats en in jou huisgesin.

Om dit saam te vat : God wil in ‘n baie persoonlike verhouding met jou staan, HY WIL BAIE NABY AAN JOU WEES en op ‘n persoonlike manier gebruik. Hy roep jou nou terwyl jy nog jonk is, sodat jy lank vir hom kan brand en ‘n lig kan laat skyn. (Jy is nog soos die lang kers!) Hy roep jou nou, deur Sy Woord en die Heilige Gees wat met jou praat in jou hart! Die Here wil jou beste jare hê. Hoekom sal mens jou beste jare vol energie vir die duiwel mors? Ons het net een lewe en ook net een jong lewe. Dis nou die beste tyd om op God se roepstem te antwoord. Vorentoe kom daar al meer probleme en hindernisse. Prediker 12:1 gee vir ons baie goeie raad. “Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: "Ek het daar niks aan nie." 

God roep en gebruik jongmense en kinders : Miriam, die jong Dawid, die onbekende dogtertjie in Naäman se huis... Jeremia was nog jonk, Timoteus was nog jonk. Jesus gebruik die vyf brode en twee vissies van ‘n seuntjie... Hy roep jou vandag! Jy word geroep om in Jesus te glo, om raak te sien dat Jesus klaar die straf vir al jou verkeerde dinge gedra het aan die kruis. Jy moet glo dat sy offer ook heeltemal genoeg was vir jou en dat Hy jou ten volle liefhet. 

Hy roep nou. Jy moet vandag antwoord. Sommer nou, kan jy in jou hart met Jesus praat en vir Hom sê : “Hier is ek!” Hoekom nie? Hoekom wil jou uitstel? Hoekom wil jy nog verder in sonde voortgaan en nog verdere letsels opdoen? Hoekom wil jy kosbare tyd wat jy saam met God kan deurbring vermors deur dit saam met die duiwel deur te bring? Niemand wat van jongs af God se kind geword het, was al ooit spyt daaroor nie...

Die grootste gevaar is uitstel. (kliek op UITSTEL) Dis speel met vuur om te sê: “Ek sal môre, ek sal eers wag tot na die eksamen, ek sal maar eers die vakansie agter die rug kry...” Hy roep jou vandag en niemand kan waarborg dat jy weer ‘n kans sal kry om geroep te word nie! Gaan jy antwoord? Hoor weer, HY ROEP JOU!

En ten slotte, sommer 'n dringende woord van waarskuwing aan die groot en ou mense : Jou kers is dalk al baie kort, jou tyd is min, maar tot vandag toe nog het jy nie gehoor gegee aan Jesus se roepstem nie... Jy het jou lewe "bestee" aan jouself en nie aan God nie.  Jy het nog 'n kans om die saak reg te stel, reageer NOU!

Donderdag 24 April 2014

GOEIE NUUS OP ‘N SLEGTE DAG!

- die evangelie van ons redding vereis onmiddellike aanvaarding.


Verlede naweek het ons weer die basiese feite van Jesus se sterwe en opstanding in herinnering geroep. Hierdie groep feite word deur Paulus, evangelie, GOEIE NUUS genoem.

“Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom. Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.” ( 1 Korintiërs 15:1-4)

Die woord "evangelie" het natuurlik nie uit die lug geval nie. Dis ‘n bestaande woord wat nou deur Paulus met ‘n nuwe ryk inhoud gevul is. Kom ons kyk vlugting na die agtergrond van term evangelie :

In die Hellenistiese (Griekse) wêreld dui dit op belangrike nuus van die keiser en sy edikte - dis “euangellion” genoem, want dit het vrede en voorspoed ingehou vir die hele gemeenskap. 

In die Griekse vertaling van die Ou Testament (Septuagint/LXX) is hierdie woord gebruik vir die proklamasie van die blye eindtyd nuus van verlossing soos ons dit aantref in Jesaja 52:7.* (Vgl. Romeine 10:15) Die inhoud van die goeie nuus aan Israel was : “Sion, jou God is koning!” 

In alle waarskynlikheid het Jesus self hierdie Ou Testamentiese gebruik van die woord in die Christelike woordeskat ingebring soos byvoorbeeld in Matteus 11:5 waar ons lees : “aan armes word die evangelie verkondig” 

GOEIE NUUS OOR ONS REDDING

Paulus laat ons in geen onsekerheid wat die evangelie beteken nie. Die evangelie is die goeie nuus oor ons verlossing/redding. Dis soos Efesiërs 1:13 dit noem. “Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het.” Die verlossing is bewerk deur Jesus se kruisdood, begrafnis en opstanding. (soos reeds gesien in 1 Korintiërs 15) Weereens, die evangelie is nie als wat in die Bybel staan nie, maar spesifiek die goeie nuus, afkomstig van God wat handel oor sy Seun, Jesus en wat Hy gedoen het. 

Reg in sy inleiding van die brief aan die Romeine stel Paulus dit al baie duidelik :

“Van Paulus, ‘n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here.” (Romeine 1:1-4)

Dis belangrik dat ons sal raaksien dat die evangelie nie bestaan uit ‘n klomp opdragte nie, maar uit ‘n paar kort duidelike feite. Die evangelie sê dus nie vir ons – “doen dit en doen dat” nie, maar dit is gedoen! Dis klaar, dis afgehandel, dis voltooi... Die evangelie gaan oor Jesus en wat Hy gedoen het! Die evangelie is dus nie ‘n selfhelpplan of ‘n resep wat ek moet aanmaak en wat dalk kan misluk nie. Nee, die evangelie is waarlik goeie nuus, ongemengde suiwer goeie nuus, daar is geen vangplek of diskwalifiserende kleinskrif nie... Kom ek probeer dit verduidelik met ‘n praktiese voorbeeld. 

WARM SON, VROT VRUGTE, UITERSTE ELLENDE...

Gestel jy het verval in absolute armoede, jy het jou werk verloor, jou huis verloor... Jy bly nou onder ‘n paar sinkplate en verkoop derdeklas afval vrugte en groente langs die pad. Jou produkte lok meer vlieë as kopers... Toe op ‘n baie slegte dag, terwyl jy in depressie en wanhoop langs die pad in die son sit en warm kry, stop daar ‘n blink motor. Dis die prokureur van die dorp. Hy klim uit met ‘n dokument in sy hand. Hy vra wie jy is en nadat hy seker gemaak het, sê hy vir jou : “Meneer, ek het vir jou baie goeie nuus! Jy was seker nie bewus daarvan nie, maar jy het ‘n verlangse familielid gehad daar in die Boland. Hy het nou te sterwe gekom en volgens sy testament is jy die enigste erfgenaam van sy wynlandgoed en al sy ander besittings. Jy moet net die dokumente in my kantoor kom teken en dan reëlings tref om dit in ontvangs te neem. Jou vliegtuigkaartjie en alle onkostes word deur die boedel gedra... Kyk hier is die afskrif van die testament...”

Goeie nuus op ‘n slegte dag! Dis presies wat die evangelie van Jesus behels, goeie nuus op ‘n slegte dag. Ja, ons omstandighede op geestelike gebied is sleg. Ons is geestelik bankrot, oneindig diep in die skuld by God, diep verdorwe, slawe van sonde, op pad na ‘n ewige straf. Maar nou kom die evangelie. Jesus het deur sy kruisdood, ons straf gevat en ons skuld uitgewis. Meer nog deur sy soendood het ons erfgename geword van God se onwankelbare koninkryk!

Die evangelie is waarlik goeie nuus en tog is dit moontlik om dit af te lag, te wantrou of  nie te glo nie. Dis eintlik ondenkbaar, maar dit gebeur wel. Die gevolg is dat die sondaar dan in sy ellende bly en uiteindelik velore sal gaan. Ja, ten spyte van die goeie nuus, verkies baie mense nog steeds om hel toe te gaan...Om terug te keer na die arm man by die vrugtestalletjie. As jy die prokureur wantrou en nie reageer om die erfenis in ontvangs te neem nie, dan gaan jy in jou armoede bly en in jou ellende krepeer en dit sal net jou eie skuld wees. 

Wat maak die man langs die pad? Wel, as hy die goeie nuus glo, dink ek hy los die stalletjie net so (hy los sy ou sukkelbestaan letterlik agter hom), klim dadelik saam met die prokureur in die kar en gaan neem sy erfenis met blydskap en dankbaarheid in besit! Hy glo en die bewys dat hy glo sien mens in sy reaksie! (as hy nie glo nie, bly hy net so daar in die son sit...)

Ja, die evangelie is goeie nuus en ons moet met geloof en bekering daarop reageer. Dis hoe ons deel word van God se volk. (sien weereens Efesiërs 1:13) Glo jy die goeie nuus van jou bevryding of staan jy nog soos ‘n slaaf van die duiwel vrot vrugte in die son en verkoop? Los tog die verskonings en teenargumente soos : "Ek voel nie nou reg nie, ek wil nog eers dit of dat afhandel, ek wonder darem of dit vir my bedoel is, want ek is so sleg..." Pasop, uitstel mag dalk veroorsaak dat jy die Goeie Nuus kan laat verbygaan...

Waarom wag en wonder, hierdie goeie nuus verdien onmiddellike aanvaarding!




*Jesaja 52:7 in die Septuagint lees : ως ωρα επι των ορεων ως ποδες ευαγγελιζομενου ακοην ειρηνης ως ευαγγελιζομενος αγαθα οτι ακουστην ποιησω την σωτηριαν σου λεγων σιων βασιλευσει σου ο θεος