BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Gay agenda. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Gay agenda. Wys alle plasings

Maandag 11 Maart 2019

EK HUIL OOR DIE NG KERK

[Dis onder hierdie opskrif dat ek verlede week ‘n brief van mevrou Louisa Louw uit die Kaap ontvang het. Ek het haar toestemming om ‘n uittreksel uit die brief te plaas. Sy is die weduwee van ds. Willem Louw wat ook vir ‘n aantal jare in Suidwes (Namibië) werksaam was onder andere by die Weskus Sending in Walvisbaai onder die Topnaars en ook as predikant van die NG Kerk Gochas. Ek plaas ‘n uittreksel van haar brief omdat dit so ‘n aangrypend raak verwoording is van die hartseer en worsteling van baie NG lidmate en voormalige NG lidmate.] 

Liewe Johannes, 

Ek lees gereeld jou blog en wou al meermale kommentaar gelewer het, maar my elektroniese vermoëns laat my in die steek! .... Maar dit daar gelaat. Ek skryf nou maar aan jou privaat-e-posadres. 

Ek kan net sê ek is hewig ontsteld oor die gebeure by Kraaifontein en nou die hooggeregshof se uitspraak. Ek is in my persoonlike Bybelstudie besig met Jeremia en ek sidder as ek sien waarmee Jeremia te kampe gehad het en die boodskappe wat God vir hom gegee het. Ek herken soveel van die situasies in sy tyd ook in ons tyd in SA – en elders. Ek sien dat God op ‘n stadium vir Jeremia verbied het om vir sy mense te bid. Ek weet net dat daar grense is en daar kan ‘n tyd kom dat genoeg genoeg is! Maar wat my die meeste ontstel, is dat so baie van ons goeie, lojale NG lidmate nie ‘n idee het wat aangaan nie en dit raak hulle nie. Apatie bring geestelike verlamming mee. 

Dan is daar lidmate wat wel ontsteld is en nie langer in die NG Kerk wil bly nie, maar waarheen moet hulle gaan? Die wat wel uit die kerk gaan, spat in alle rigtings. Oom Willem was al oor baie jare heen diep besorg oor die rigting wat die Kerk inslaan en ons het heelwat rondgeloop en gesoek na ‘n geestelike tuiste, want in .....gemeente waar ons was, het ons die afgelope jare al hoe meer geestelik ontuis gevoel. Oom Willem het briewe geskrywe, gesprekke gehad, maar hy en die leier-predikant het net by mekaar verbygepraat. Aan die begin van 2015 het hy gesê dat indien die sinode aan die einde van daardie jaar die besluit neem (wat hy toe wel geneem het), is hy uit die NG Kerk. Ek het gesê ek is saam met hom uit. Op 25 Junie 2015 het die Here hom toe kom haal en ek het na worsteling en baie trane in die loop van 2016 by .....gemeente bedank en aangesluit by een van die kerke van REACH; “Reformed Evangelical Anglican Church in South Africa”, ‘n kerk wat ek en oom Willem meermale besoek het. Ek sou in my lewe nooit kon droom dat ek by ‘n Engelse kerk sou aansluit nie, maar die evangelie wat ek daar hoor en die Here Jesus wat verkondig word, laat vir my baie dae nie eers meer die Engels hoor nie; die Skrif word so oopgebreek en God word verheerlik! Daar is baie Afrikaanse mense en ekself is in ‘n Afrikaanse omgeegroep. Ek kan eerlik sê dat ek geestelik tuisgekom het. 

Tog is daar diep in my hart nog ‘n liefde vir die NG Kerk wat ek geken het en my wortels lê daar. En ek bid nog vir die NG Kerk. Ek dank die Here vir die enkele gemeentes en predikante wat die Here en Sy Woord liefhet en ek bid dat hulle ook die moed aan die dag sal lê om te sê waar hulle staan. Ek wil vir jou en ander predikante soos jy bemoedig en bid dat julle sterk sal staan ter wille van Christus en Sy gemeente. Ek is veral belas vir die gewone lidmate wat soos skape sonder herders is. Hulle is baie verward en baie keer so oningelig. 

.............................. 

Seënwense vir jou en jou gesin, 

Tannie Louisa Louw



[Sendelinge in die destydse Suidwes. Ds. Willem Louw is in die voorste ry tweede links.]

Die hartseer, worsteling en verslaentheid van duisende NG lidmate word nie gehoor nie. (En dit terwyl DIE KERKBODE ‘n luide spreekbuis vir die gay aktiviste geword het!) Dit gaan natuurlik oor baie meer as oor die gay saak... Dit gaan oor ‘n kerkverband wat haar evangeliese koers verloor het... Oor teologie dosente wat nie meer aan die Bybel en die opstanding van Jesus glo nie... Oor kwynende getalle en leiers wat nie die moed het om profete te wees nie... En ja, ons is almal skuldig...


Ons treur saam met Jeremia. 

“My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk,....” (Klaagliedere 2:11)

Vrydag 08 Maart 2019

OOMBLIK VAN WAARHEID!

Die NGKN (NG Kerk in Namibië) staan op ‘n kruispad! Gaan ons geloofsmoed aan die dag lê? Gaan ons God meer gehoorsaam wees as mense? 

[net 'n paar baie vinnige en voorlopige gedagtes]

WAT HET NOU GEBEUR? 

Net vinnig die agtergrond. In 2015 het die Algemene Sinode van die NGK skielik en onverwags ‘n uiters liberale besluit oor die homo kwessie geneem wat daarop sou neerkom dat praktiserende homoseksuele predikante kon word. Jy kan maar sê : “Die kerk is met die broek op die knieë gevang.” (geen woordspeling bedoel) Daar was onmiddellik hewige teenkanting teen hierdie goddelose besluit. Verskeie gemeentes (waaronder NGK Tsumeb, NGK Otjiwarongo ens.) het luidkeels beswaar gemaak. Daarna het ook verskeie streeksinodes hulle teen hierdie onaanvaarbare besluit uitgespreek. Ook die sinode van die NGK in Namibië het ‘n besluit geneem teen die inhoud van die Sinodebesluit van 2015. In 2016 is daar ‘n spesiale vergadering van die Algemene sinode byeen geroep waar die saak weer op die tafel gekom het. Hierdie sinode het toe die 2015 besluite de facto OMGEKEER! Die gay aktiviste in die NGK was egter nie tevrede nie en ‘n groep van hulle waaronder die bekende Laurie Gaum en ook teologie dosente van die univeriteit van Stellenbosch het toe ‘n hofsaak teen die NGK gemaak. 

Uitspraak is voorbehou en is toe vandag 8 Maart 2019 gelewer. Die hof het ten gunste van die aktiviste beslis. Hiervolgens is die sinode besluite van 2016 nou ongeldig en die goddelose besluite van 2015 weer geldig. Skokkend, afgryslik en tragies! *

Hierdie toedrag van sake bring ons by 'n belangrike kwessie...

KERK EN STAAT 

Die strydende kerk van Jesus Christus bestaan uit mense op aarde. As aardse bewoners is ons net soos ander mense aan landswette onderworpe. Hieroor is die Skrif baie duidelik.** Alle gesag, ook staatsgesag en regterlike gesag word afgelei van Goddelike gesag. Christene moet modelburgers wees in hulle goeie gedrag en gehoorsaamheid aan landswette en gesagstrukture. So versier ons die evangelie en maak dit aantreklik te midde van n goddelose wêreld. 

Alles werk egter nie altyd so eenvoudig nie. Die magte van die duisternis is immers nog steeds baie aktief op aarde. Dit gebeur dus ook dat daar gesagstrukture kan wees wat ons wil dwing om aan die evangelie en ons Koning, Jesus Christus ongehoorsaam te wees. In Handelinge kry ons juis so ‘n geval. Petrus en Johannes verskyn voor ‘n aardse gesagsliggaam, die Joodse Raad. Hierdie Raad verbied hulle om verder van Jesus te getuig. Wat was hulle reaksie? “Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.” (Handelinge 4:19,20) 

Ware gelowiges is aan God meer gehoorsaam as aan die openbare mening of landswette wat teen God se Woord indruis!

Die kerk van Jesus in Suid-Afrika (en meer spesifiek die NGK) beleef toenemend ‘n situasie waar die grondwet en staat druk op ons gaan toepas om aan God ongehoorsaam te wees. Hierdie hofsaak is maar die begin. Die gay aktiviste gaan hulle aanslag beslis ook na ander kerkverbande uitbrei! 'n Baie gevaarlike presedent is geskep...

WAT STAAN DIE NG KERK NOU TE DOEN? 

Die NGK kan natuurlik appelleer. Op hierdie stadium weet ek nog nie of dit gaan gebeur nie. 

Die NGK kan by die uitspraak berus, maar dit sou beteken dat die NGK nie meer die koningsheerskappy van Jesus as oppergesag erken nie! 

Die NGK kan die uitspraak ignoreer en so verder hofsake en vervolging op die lyf loop. Het ons nog die moed daarvoor? Veral gesien teen die feit dat die kerkleiding verdeeld is oor die gaykwessie en gemeentes soos Parke gemeente in Kraaifontein hulle in elk geval nie daaraan gesteur het nie.

Alle predikante en lidmate van die NGK wat Jesus se oppergesag erken sou kon bedank! Wat sou dan die pad vorentoe wees...? Waarheen moet al die herderlose skape gaan?

Ons in Namibië is in ‘n unieke posisie! 

Die NGK in Namibië kan binne die riglyne van die kerkorde ons wettig afskei van die Algemene Sinode van die NGK. 


Dit is volgens my eie opinie die gepaste opsie in hierdie tydsgewrig. Die AS neem in elk geval lankal reeds besluite wat in stryd is met die Skrif en die teologiese instellings in Suid-Afrika waar leraars opgelei word is lankal reeds tot op die been verrot. Namibiese broers en susters, dis nou die tyd om wakker te word en vir die waarheid op te staan!

Intussen moet ons nou nie paniekerig raak nie. Dis veral belangrik om te onthou dat die plaaslike kerk, volledig kerk is. (ecclesia completa) Prakties vir ons beteken dit dat die NG Kerk Tsumeb volledig kerk is met sy eie kerkraad wat die gemeente onder heerskappy van Christus regeer deur middel van die Woord en Gees. NGK Tsumeb se standpunte oor die hele gay kwessie is baie duidelik. (Kliek op TSUMEB STANDPUNT)

*Regters Sulette Potterill, Joseph Raulinga en Daisy Molefe het geoordeel dat die kerk se 2016 besluit onwettig en ongeldig is. Die hof het besluit dat dit onbillik is om lede van die kerk uit te sluit  van alle regte en vryhede wat die kerk bied op grond van hulle seksuele oriëntasie.

**Romeine 13:1-5


Oomblik van waarheid vir die kerk in die Dorsland!

Donderdag 07 Maart 2019

BRIEF UIT TAFELBERG


Gelukkig is alle NG Kerke in die Kaap nog nie saam met NG Kerk Parke op 'n duistere dwaalpad nie. Die leraar van die NG Kerk Tafelberg het 'n duidelike brief  van beswaar en vermaning aan die NG Kerk Parke en die Ring van Durbanville gestuur. Dankie dr. Chris Saayman!


Van: Dr C Saayman
Leraar: Tafelberg NG Kerk

Aan: Die Voorsitter van die Kerkraad
NG Kerk Parke >> kantoor@parke.co.za

Aan: Die Voorsitter van die Ringskommissie
Ring van Durbanville >> carika@sonstraal.org.za

6 Maart 2019

Geagte kollegas

BEROEP EN BEVESTIGING VAN DS L VAN DER RIET

Met groot ontsteltenis het ek daarvan kennis geneem dat ‘n praktiserende homoseksuele persoon in NG Parke as leraar bevestig is aangesien dit strydig is met die Skrif asook die besluit van AS 2016.

Uit ‘n onlangse media-onderhoud met die leraar, blyk dit dat daar geen vooraf onderneming tot selibaatskap van hom vereis was nie. Hy verklaar naamlik - volgens Netwerk 24 - dat hy (sonder enige berou) voorheen in ‘n homoseksuele verhouding met ‘n priester van die VSA betrokke was en dat hy - indien die geleentheid hom voordoen - weer in ‘n verhouding betrokke sal raak en ook met ‘n man sal trou in dieselfde gemeente waar hy tans predikant is. Hy is immers “nie net homoseksueel van sy middellyf af boontoe” nie.

Dit kom dus voor asof AS 2016 eenvoudig onder die mat ingevee is. Wat nog te sê die heldere en duidelike getuienis van die Skrif.

My vrees is dat nie net die kerkraad nie, maar ook die Ring wat instemming verleen het, skuldig is aan iets wat indruis teen God se Woord. Dit sluit die Moderator van die NG Kerk in - wat namens die kerk verklaar het dat die kerk “oneindig trots” is op Ds vd Riet. Hier is diepe inkeer en bekering nodig.

Het die kerk se skande dan nou sy trots geword? Is dit nie tragies dat kerkleiers so maklik kapituleer voor die aanslag van die wêreld se “gay-agenda” en liberale Bybelloënende progressiewe denke nie?

Hierdie aangeleentheid gaan die NG Kerk onberekenbare skade berokken. Daarom my afkeur en beswaar teen hierdie toedrag van sake.

Ek dink die kerkraad en Ring is aan die NG Kerk as geheel ‘n verduideliking & apologie verskuldig.

Daarbenewens behoort daar onmiddelik van die betrokke leraar ‘n skriftelike onderneming tot selibaatskap vereis te word.


Die uwe

Dr Chris Saayman - Leraar: Tafelberg Gemeente 





Donderdag 06 Oktober 2016

BRIEF AAN KERKBODE : “jong teoloë”

Ds. Hector Jooste van die NG Kerk Otjiwarongo het die onderstaande brief aan die KERKBODE gestuur :

Redakteur

Met verwysing na die berig “Jong teoloë steun besluit oor gays” in die uitgawe van 28 September 2016, het ek geen keuse as om myself uit te spreek aangesien Christus sy volk die luuksheid van te swyg, ontneem (Mark. 8: 38). Ek maak hiermee die volgende stellings:

1.Hierdie sogenaamde “jong teoloë” is geen teoloë nie. Hulle is nie besig met Θεος Λογος nie, maar met die woord van mense. Die Woord van God is eenhonderd persent duidelik betreffende die sondigheid van enige seksuele verhouding wat buite die huwelik tussen een man en een vrou staan. Hulle behoort hulleself eerder as filosowe te identifiseer.

2. Hierdie skokkende onkunde oor die Woord van God deur hierdie sogenaamde teoloë werp ‘n uiters negatiewe refleksie oor die treurige stand van teologie wat tans aan Suid-Afrikaanse universiteite gedoseer word. Dit is van so ‘n aard dat sommige gemeentes reeds openlik daaroor praat dat proponente wat aan Suid-Afrikaanse universiteite afstudeer het, nie sonder meer beroep kan word nie. Die plaaslike kerk en kerkraad moet eers baie seker maak van enige sodanige student se teologiese suiwerheid. Selfs die legitimasie deur die Algemene Sinode staan nou reeds ernstig onder verdenking.

3. Hierdie onsekerheid betreffende die regsinnigheid van afgestudeerdes by Suid-Afrikaanse teologiese fakulteite is een van die hoofredes waarom kerke hulle verband met die Algemene Sinode al meer begin bevraagteken. Al meer word opmerkings gehoor soos “Wat het ons te verloor as ons ons losmaak van die AS?” en “As ons nie meer aan die AS verbind is nie, kan ons predikante beroep van meer gereformeerde instansies (selfs elders in die wêreld)”. (In hierdie opsig sal dit baie van die belanghebbenes baat om opnuut te gaan kyk na die betekenis van die begrippe “kerk” en “kerkverband”, en die implikasies van ‘n kerkverband wat nie meer aan die doel beantwoord waarom kerke in die eerste plek toegetree het tot die verband nie.) Dit is die dun ys waarop beweeg word met die roekeloosheid van hierdie onregsinnige sogenaamde teoloë.

4. Laastens is dit uit hierdie goddelose chaos wat veroorsaak word deur die klomp gay-drywers in die kerk aan die een kant, en aan die ander kant die Godlose teologie wat skynbaar aan Suid-Afrikaanse universiteite gedoseer word, duidelik dat ons tans die situasie beleef wat beskryf word in Op. 11. Die gay-drywers en die goddelose teologie gaan seer sekerlik die totale oorhand kry (Op. 11: 7). Dit is egter slegs tydelik van aard (Op. 11: 11). Saam met Stéfanus hou ons ook ons oë na die hemel en sien ons die heerlikheid van God en Jesus wat staan aan die regterhand van God (Hand. 7: 55). Saam met Johannes beaam ons ook ons Here Jesus se woorde in Op. 22: 20 “Amen, ja kom, Here Jesus!”

Hector Jooste (VDM)

Vir die inhoud van die belydenis kliek op : JONGES BELY




Saterdag 01 Oktober 2016

ANGLIKANE NEEM STANDPUNT IN...

Op NG Sinodes word daar dikwels gemaan dat ons tog na ander kerke moet luister wat betref selfdegeslagverhoudings. Hierdie argument is 'n gunsteling van die pro gay agenda aktiviste... (Asof die meerderheid kerke ingekoop het by die selfdegeslag huwelik standpunt...) 'n Mens kan net hoop dat daar kennis geneem sal word van die Anglikane van Suider Afrika se onlangse besluit veral in die lig van die komende spesiale Algemene Sinode van die NGK in Oktober. (Sien Media24 berig hieronder.) Ook in hierdie denominasie is daar sterk verdeeldheid oor die saak. Gelukkig het hulle nie geswig vir die Kaapse liberale in hulle geledere nie... Tog is dit ook baie duidelik dat die voorstanders van kerklike sanksionering van gay verbintenisse nie gaan tou opgooi nie...

Thabo Makgoba (Netwerk24)
·          
Cape Town - The Anglican Church of Southern Africa has rejected a proposal to allow "prayers of blessing" to be offered for people in same-sex civil unions under South African law.
In a statement released on Friday evening Archbishop Thabo Makgoba said 16 bishops voted against the proposal while six were in favour.
Sixty-two percent of the lay representatives to the synod (church council) voted against the proposal, while 55% of the clergy also voted against it.
The vote was taken by the church's top legislative body, the provincial synod, following a proposal which was brought by the Diocese of Saldanha Bay - which stretches from the northern suburbs of Cape Town to the Namibian border.
Before announcing the results to the church, which includes Anglicans in Angola, Lesotho, Mozambique, Namibia, South Africa, Swaziland and on the island of St Helena, Makgoba said the process had left a "palpable pain" within the church.
"If one is pained and hurt, it pains me too and I have learned as a priest that there are no losers or winners in the kingdom of God.”
Further discussion

"The pain on both sides is palpable and tangible and the image of a double-edged sword pierces me," he said.
Makgoba said "all was not lost" however, as the matter could be taken up again at the next provincial synod in 2019.
The church could also consider raising it at the next worldwide meeting of Anglican bishops in 2020, he added.
In the meantime the church could continue to discuss the matter at a local level in parishes and dioceses "so that we can continue to discern together the mind of God," he said.
Part of the proposal also included a motion that bishops provide for clergy who identify as LGBTI and are in legal same-sex civil unions to be licenced to minister in parishes.
However, this section of the proposal was withdrawn by the proposers before the debate began, he said.

FOKUS MY KIND...

te midde van chaos, geweld en goddeloosheid!


Niemand hoef dit vir ons te sê nie : ons wêreld is vasgevang in chaos en goddeloosheid en dit raak ons elkeen. Geweld en verwoesting (dink aan die onlangse onsinnige beskadiging van infrastruktuur by universiteite), bedrog en korrupsie (twee skelms ding mee om die presidentskap van die magtigste land op aarde), waansinnige gierigheid en al wat boos en bedenklik is, is aan die orde van die dag. Dis ‘n tyd van uiterste morele verval – die egskeidingsepidemie, die saambly euwel en die gay agenda het byna alreeds die Goddelike instelling van die huwelik totaal vernietig. (Die definisie van die huwelik as sodanig is onder druk, en dit lyk asof selfs baie kerkleiers nie eers meer duidelik daaroor is nie...)

Nou is die kwellende vraag : 

Wat moet ons as Christene se houding en gesindheid te midde van al hierdie chaos wees? 

Daar is verskeie moontlikhede : Ons kan moedeloos raak en heeldag met strak gesigte rondstrompel, droewig kla en mor oor die jeug, die ekonomie, die regering, die kerk... Ons kan agter hoe mure wegkruip en kos opgaar vir die dag as die finale kernoorlog dalk aanbreek... Ander Christene wil ons vertel dat ons moet probeer om die gemeenskap te verander deur aktivisme – organiseer optogte, trek Internet petisies op, vorm drukgroepe en “teister” mekaar met selfoonboodskappe. 

Deur die eeue heen is dit ’n kwessie : Wat moet die Christen se agenda en fokus wees in ’n goddelose samelewing? ‘n Samelewing waarin ons nie pas nie.

Gelukkig het die Bybel duidelike antwoorde. Ons moet nooit vergeet nie - die vroeë kerk het tot stand gekom, gegroei en gefloreer in ‘n goddelose samelewing. Dis nie eers debateerbaar nie.... Daar was nie hoegenaamd nie eens ‘n Sondag nie, daar was uiteraard nie iets soos Christelike skole of wetgewing nie. Die Romeinse Ryk het definitief nie daarin belang gestel om Christelike beginsels te handhaaf en uit te bou nie. Noem maar al die moderne euwels, al die losbandigheid, aborsie en bedrog – jy sou dit daar ook aantref!


So wat moet die Christen se houding en fokus wees? Paulus se brief aan Titus dui vir ons ‘n duidelike koers aan (En terloops, die mense van Kreta waar Titus homself bevind het is deur een van hulle eie mense beskryf as 'n klomp "leuenaars, ongediertes en lui vrate"* (Sjoe!!!) :

“11.Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn.

12.Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe,

13. terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn.

14. Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.” (Titus 2:11-14)


Uit gelese gedeelte lyk dit of ons ’n duidelike tweeledige fokus kan aflei : ‘n Lewe van HEILIGHEID en HOOP. Heiligheid binne die teenswoordige wêreld en Hoop op die toekomstige wêreld . ’n Christen leef in ’n dubbele konteks. Ons leef in ’n huidige teenswoordige wêreld - en in hierdie konteks moet ons fokus val op heiligheid. Maar terselfdertyd is ons ook mense van die toekoms - en teenoor die toekomstige wêreld, die verskyning van Jesus en daarmee saam die nuwe hemel en aarde moet ons ’n lewende hoop en verwagting hê. 

Heiligheid.  Wat bedoel dit? Kyk weer na vers 12 ev. Jy kan nie die samelewing verander nie, nie eers jou eie huismense nie, maar jy self kan anders leef. Los als wat verkeerd is – die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede. Jy as kind van God kan kies TEEN losbandigheid, onsedelikheid, gierigheid... Jy kan mos kies om nie na immorele TV sepies te kyk nie, jy kan kies om nie skelm besigheid te doen nie, jy kan kies om nie kwaad met kwaad te vergeld nie... Maar jy kan ook positief kies VIR selfbeheersing, opregtheid en godsvrug. “ywerig om die goeie te doen.” (14) Dis als moontlik omdat Jesus Homself vir ons as offer gegee het. Verlos van sonde skuld en met die Heilige Gees binne ons, kan ons nou goeie dinge doen! Ons hoor in Titus 3:1,2 wat die goeie dade verder prakties behels. Dalk hou ons nie daarvan nie, maar luister tog baie mooi... “Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is. Hulle moet van niemand kwaadpraat nie en nie rusie soek nie. Hulle moet inskiklik wees en altyd bedagsaam teenoor almal.”

In 3:8 kom Paulus weer terug na die belangrikheid van goeie werk. “Dit is ‘n betroubare woord. Daarom wil ek hê dat jy van hierdie dinge met groot nadruk moet getuig, sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense.”

Nou sê jy miskien : “Hoe kan ek dit regkry om vriendelik en positief te wees? Kyk bietjie wat doen die regering, kyk hoe smerig, skelm en goddeloos is almal...” Ons kry ‘n belangrike perspektief in Titus 3:3. “Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat.” Dit lyk amper of Paulus ons gedagtes kan lees. Hy sê : Ons (wat nou Christene is), was ook so. Moet dit nie vergeet nie. Asof hy wil sê julle moet maar geduldig wees met die slegte mense, onthou ons wat kinders van God is was maar eens op ’n tyd net so. Dis net deur die genade van Jesus dat ons nou anders is... Ja, my vriend dis net God se genade dat ek en jy nie (meer) ’n hoereerder, dief of dronkaard is nie! ‘n Kind van God is iemand wat nuutgemaak is deur die genade van God, moet dit nooit vergeet nie! Ontvangers van genade, behoort genadig en geduldig te wees met sondaars sonder om sonde goed te praat! (Kliek op JONA)

Hoop. Ons moet voluit gaan om goed, heilig en ordelik in hierdie wêreld te leef, maar dis nie al nie. Ons het ‘n hoop, ons moet uitsien na die heerlikheid wat wag! (2:13) Uitsien na 'n ewige toekoms, dis hoe ons kophou en moedhou te midde van goddelose toestande! Ons moet hoopvol uitsien na die gelukkige dag, die erfenis wat vir ons wag, die toekomstige wêreld Mag ons nooit vergeet, daar wag ’n erfenis vir God se kinders.... (Rom 8:17; 1 Petrus 1:3,4) Christenskap wat my nie laat uitsien na die verskyning van Jesus en die erfenis wat Hy ons gaan gee nie, is nie Nuwe Testamentiese Christenskap nie! As die goddeloosheid ons pla, en dit moet en sál ons pla, sal ons telkens weer opnuut met blydskap besef : “Wag net ‘n bietjie, die beste kom nog.” Ons mag nooit vergeet hierdie aarde is nie ons finale woonplek en eintlike vaderland nie. Ons mag nooit vergeet nie, Christene is pelgrims, op pad wees mense. Toets jou daaraan : hoe sien jy jouself, jou plaas, jou besittings? Het jou projekte, jou eie gesin, jou eie volk en jou eiendom nie dalk vir jou te belangrik geraak nie. 

Sien jy uit na die finale aanbreek van God se Koninkryk? Kan jy die “Onse Vader” opreg bid?

Hierdie tweeledige fokus moet in balans wees. Heilige betrokkenheid en wandel in hierdie lewe, hoopvolle verwagting op die toekomstige lewe. Heilig voluit lewe binne hierdie land en gemeenskap waar God ons geplaas het, maar terselfdertyd ons hoop vestig op die volmaakte bedeling wat sal aanbreek by die wederkoms van Jesus.

Ons mag nie eenkant wees nie, ons moet aktief betrokke wees met goeie werke, maar moenie vergeet nie daar wag ’n heerlike toekoms. My lewe hier is tydelik, my besittings word maar net vir my geleen, my eintlike burgerskap is in die hemel!

Hierdie balans van heiligheid nou en hoop op die eendag hou ons op koers, maar dis ook die basis van ons getuienis. Dis die tipe lewe wat raakgesien sal word deur onbekeerde mense, wat hulle sal aanspreek en hulle na die Here se genade sal laat soek. Die genade wat hulle ook daartoe kan bring om nuwe lewens te leef... AMEN

* Sien Titus 1:12






Vrydag 15 Januarie 2016

GAY HUWELIKE : ANGLIKANE TREE OP

Die groot Anglikaanse kerk het die liberale American Episcopal Church wat Gay huwelike goedkeur geskors. Hierdie kerk in Amerika het reeds in 2003 'n openlike gay biskop, Gene Robinson aangestel.  Dis verblydend dat daar genoeg persone in die Anglikaanse gemeenskap is wat darem nog vir basiese beginsels van die Woord opstaan. Dit laat mens ongelukkig ook weereens met hartseer besef hoe ver liberaal die NG Kerk geword het wat verlede jaar selfdegslagverhoudings op sy Algemene Sinode goedgekeur het. Die besluit is weliswaar vir twee jaar op die ys geplaas, maar die pro gay propagandiste in die NG Kerk gaan beslis nie die saak laat vaar nie. Daarom het elke lidmaat wat die Here en sy kerk liefhet, die plig om steeds helder en duidelik te getuig teen die gruwelike verdraaiing van die Skrif wat die grondslag in die eerste plek vir die AS besluit gelê het!

Maandag 12 Oktober 2015

GEVOLGE VAN DIE GAY AGENDA

- die NGK moet weet dat haar opklim op die gay agenda se wa  ernstige gevolge gaan hê.

Die gay aktiviste en hulle meelopers op ons teologiese fakulteite sal natuurlik niemand hieroor inlig nie. Lees dus self wat met die Reformed Church in America gebeur het, toe hulle die pad weg van die Skrif begin stap het. 

The RCA has seen a decline in Dutch Reformed Church Christian membership in recent years from 300,000 members to 240,000, due to increasingly liberal denominational positions on issues like ordination of homosexual and lesbian clergy, and same-sex marriage, according to The Gospel Coalition and other reports. 
Vir meer hieroor kliek op GEVOLGE.

Lees gerus hoe hierdie tragiese verhaal ontvou het en let veral op waar dit begin het...

Woensdag 06 November 2013

DIE GAY AGENDA SE GEBRUIK VAN EMOSIONELE MANUPILASIE

- hoe met die kerk reageer?

[Hieronder is 'n ope brief van Andre Bekker, waarin hy wys op die gevaarlike manupilasie taktiek van die goddelose Gay agenda en ook die kerk uitdaag om waarlik in liefde te reageer teenoor hierdie gebroke mense. Dit behels nie die ontkenning van sonde nie, want liefde wat sonde akkommodeer is eintlik haat.]

‘n Ope Brief aan die Kerkleiers van Suid-Afrika

Geagte Leser,

Ek is van mening dat die kerk se hantering van sake soos egskeiding die weg gebaan het vir die dilemma waarin die kerk hom vandag met homoseksualiteit bevind. Die debat oor homoseksualiteit is van groot belang. Die uitkoms gaan bepaal hoe sondige praktyke soos pedofilie, poliamorie (meervoudige huweliksmaats), bloedskande en bestialiteit in die nabye toekoms hanteer gaan word.

Woensdag 04 September 2013

PRAKTISERENDE HOMOSEKSUELE PREDIKANTE?

- mag die Algemene Sinode van die NG Kerk 2013 'n Bybelgetroue besluit neem!

Die vae besluit van die Algemene Sinode van 2007 rondom homoseksualiteit is nie genoeg vir die drywers van die gay agenda binne die NG Kerk nie. Hulle gebruik die skuiwergate en wil die bestaande besluit  verder voer deur daarop aan te dring dat praktiserende homoseksuele ook in die predikantsamp toegelaat moet word. Volgens die huidige besluit mag persone met 'n homoseksuele orientasie in die predikantsamp dien, maar met die vereiste dat hulle selibaat moet leef. Die gay aktiviste wil hierdie voorwaarde geskrap sien. Indien hulle hulle sin kry gaan dit alle liefhebbers van die Woord in die NG Kerk in ‘n baie moeilike posisie plaas. Mag die Algemene Sinode waarlik genade ontvang om eerlik te buig voor die gesag van God se Woord...

Hieronder vind jy ‘n uittreksel uit die Algemene Sinode van 2013 se Agenda :

HERSIENINGSVOORSTEL/ BESKRYWINGSPUNT OOR HOMOSEKSUALITEIT

Die Algemene Sinode word versoek om sy besluit oor Homoseksualiteit (Handelinge, 2007,12.2, bl 204) in
hersiening te neem. Die bestaande besluit lui soos volg:
1. Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
2. Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God, die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
3. Alle mense, ongeag hulle seksuele orientasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.
4. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as 'n huwelik beskou kan word.
5. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
6. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as 'n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.
7. Die verlening van predikantsbevoegdheid is 'n funksie van die Algemene Sinode. Die Sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat 'n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.
8. Die Algemene Sinode erken die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer."

Die hersieningsvoorstel lui soos volg:
Die Algemene Sinode (2013) besluit:
1. Die Algemene Sinode herbevestig punte 1, 2, 3, 4, 5 en 8 van die besluit van 2007.
2. Die Algemene Sinode vervang punt 6 van die besluit van 2007 met: "Die Algemene Sinode aanvaar dat daar 'n permanente verhouding met 'n eie unieke aard tussen twee mense van dieselfde geslag kan bestaan, en gee opdrag aan die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake om ondersoek te doen hoe so 'n verhouding aan Christelik-etiese verwagtinge kan voldoen."
3. Die Algemene Sinode vervang punt 7 van die besluit van 2007 met: "Die verlening van predikantsbevoegdheid is 'n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes tot die predikantsamp toegelaat word."

MOTIVERING:
1. Terwyl aanvaar word dat die huwelik soos ons dit tans verstaan, tussen een man en een vrou is, kan ’n unieke, liefdevolle, permanente verhouding tussen twee mense van dieselfde geslag bestaan wat in sommige opsigte wel aan die huwelik herinner, en in ander nie. Die kerk moet ondersoek instel hoe dit kan gebeur sodat aan Christelik-etiese verwagtinge voldoen kan word.
2. Punt 3 van die 2007-besluit verklaar dat alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar word. Dit beteken onder meer "toegang tot die ampte". In punt 7 word wel gesê dat die Algemene Sinode homoseksuele gelegitimeerdes tot die predikantsamp toelaat, maar dan word bygevoeg dat hulle "'n selibate lewenstyl (moet) beoefen". As
gedoopte, gelowige homoseksuele mense sonder meer toegelaat word tot al die ampte, kan daar egter nie bykomende eise aan gelegitimeerde homoseksuele mense gestel word wat nie vir almal geld nie. Anders sou aan heteroseksuele predikante ook bykomende eise gestel kon word. Van alle gedoopte, gelowige lidmate van die kerk van Christus word veronderstel dat hulle lewens daarvan sal getuig, sekerlik ook van gelegitimeerdes, heteroseksueel of homoseksueel. Dit is, op stuk van sake, 'n gewetensaak. Punt 7, ook in sy hersiene vorm, kan desnoods heeltemal weggelaat word, maar dit is in hierdie konteks waarskynlik tog goed as pertinent genoem word dat homoseksuele mense ook predikant kan word – maar dan sonder voorwaardes wat net vir hulle geld.

Kliek ook op TUTU EN SY HOMOFOBIESE HEMEL

NASKRIF :

Die Algemene Sinode het toe die volgende besluit geneem:

Die Algemene Sinode
-      bevestig dat die besluit van 2007oor homoseksualiteit geneem is na `n deeglike eksegetiese en teologiese studie.
-      gee opdrag aan die ASM om in voortsetting van die 2007 verslag oor homoseksualiteit `n studie te doen oor die status van selfdegeslag- verhoudings in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie.
-      besluit dat homoseksuele en heteroseksuele studente wat hulle voorberei vir die bediening in die NG Kerk, aan dieselfde Christelik-etiese standaarde moet voldoen met die oog op legitimasie.
-      verbind hom ook in die hantering van die saak aan die waardes van die seisoen van menswaardigheid. 

Gesprekke hieronder mag kritiek lewer en soek na verheldering, maar sal streng gemodereer word. Ons vra vir sensitiwiteit en respek, en het tydens die gesprek ons ongemak met taal wat mense objekte maak bevestig. 

[Soos ek dit verstaan sal daar vir die huidige nog steeds van homoseksuele predikante verwag word om selibaat te leef. Hieroor is mens dankbaar. Wat die studie oor selfde geslag verhoudings gaan oplewer is egter 'n vraag...]

Maandag 27 Mei 2013

GAY AGENDA

- die Franse leer ons dalk ‘n les.


Die aggressiewe drywers van die goddelose gay agenda behaal wêreldwyd sukses met al hoe meer lande wat toegee aan die druk om homoseksuele huwelike te erken. Selfs “burgerlike verbintenisse” wat hulle regte waarborg is nie genoeg nie, nee die huwelik self moet geherdefinieer word om sodoende hierdie kosbare instelling van God te probeer aantas. Frankryk is die 9de land in Europa en die 14de land in die wêreld wat hierdie verfoeisel wettig.

Interessant en merkwaardig is egter die teenstand wat hierdie wet, bekend as la loi Taubira in die hoogs gesekulariseerde Frankryk ontlok het. Daar was die afgelope Sondag weer ‘n reuse betoging hierteen in Parys. Dit inteenstelling met die “Christelike” Suid-Afrika waar homoseksuele huwelike al ‘n geruime tyd gelede feitlik sonder slag of stoot goedgekeur is! ‘n Mens wonder waar was die kerk en al die sogenaamde Christene? Het die heidense Franse dalk meer insig en “common sense” as die Bybelonkundige Christendom van Suid-Afrika?

Natuurlik beteken die onrus wat nou in Frankryk aan die gang is nie dat hulle enigsens wil terugkeer na die Skrif as norm nie, (die ongewildheid van die patetiese Hollande speel ongetwyfeld ‘n rol), maar dit wil amper lyk asof hulle tog meer logies dink as baie “Christen” Suid-Afrikaners! 

Le Figaro, ‘n Franse koerant berig (baie vry vertaal) : Op die podium les Invalides, verduidelik die filosoof Bertrand Vergely dat daar basies baie meer op die spel is as homoseksuele huwelike. Ons verkeer in demokratiese dronkenskap. Ons maak ‘n nuwe mens. Eendag sal iemand jou vra : “Wie is jou pa?” En jy sal antwoord : “Ek weet nie, KI strooitjies van Swede.” “En jou ma?” “ ‘n Maag in Ukraïne.”* Dis half komies, maar wys tog eintlik goed uit dat as die wese van die huwelik bedreig word, die mens in sy diepste bestaan geraak word.



Die gay agenda word op alle fronte gedryf. Juis in Frankryk het die eksplisiete lesbiese drama La Vie d'Adele – Chapitre 1 & 2 (Blue is the Warmest Colour) op die pas afgelope Cannes rolprentfees, die Palme d'Or gewen vir die beste film! Satan slaap nooit, maar is die Christene wakker?

Mag die wêreldwye aanslag van Satan teen die huwelik (ook veral in die vorm van losbandigheid en egskeiding) ons meer vasbeslote maak om hierdie heilige Godgewe verbond in ere te hou! Die huwelik gaan immers oor baie meer as net ‘n aardse verbintenis, dis ‘n afbeelding van ‘n Goddelike geheimenis! Die rein en opofferende liefde wat Christus vir sy kerk het! (Efesiërs 5)

*Sur le podium des Invalides, le philosophe Bertrand Vergely explique que «les enjeux de fond dépassent le mariage homo. On est dans l'ivresse démocratique. On fabrique l'homme nouveau. Un jour, on te demandera “qui est ton père ?”. Et tu répondras “je ne sais pas, des paillettes de Suède”. “Et ta mère?” “Un ventre en Ukraine”».


                                           (foto - le Figaro)