BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Paasfees. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Paasfees. Wys alle plasings

Maandag 26 Maart 2018

OP PAD NA PAASFEES

met groot respek, maar vol vreugde soos huppelende kalwers! 


Die meeste mense word verveel deur die boodskap van God se genade. “Ja, ons hoor God het ons lief, ons hoor God vergewe sonde, ons hoor God bewys genade, maar so what? – ons het dit nie juis nodig nie.” Daarom is Paasfees... wel ‘n lekker en welkome vakansietyd, maar of ons dit nou vier is ook nie regtig so belangrik nie. Die rede vir hierdie traak-my-nie-agtige houding is dat ons (veral die gemaksugtige kerk van die Weste) ‘n paar basiese waarhede oor God vergeet het. Ons het vergeet God is ‘n verterende vuur! Vuur en lig is dwarsdeur die Skrif ‘n tema wat vir ons iets probeer verduidelik van God se heiligheid. Ons het reeds gekyk na die tema in die begin van die Ou Testament (Kliek - Heilige Vuur). Die brandende doringbos en die verskyning van God in vuur by die berg Sinai met die sluiting van die Verbond...Vandag gaan ons kyk hoe die tema ook in die heel laaste boek van die Ou Testament, Maleagi aangespreek word. Blaai na Maleagi 3:1-5,4:1-3. 

Maleagi praat van die Verbondsengel (en dit kan niemand anders wees as Jesus nie) en assosieer Hom met vuur en suiwering en loutering. Hoor bietjie : "Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige. 
Maar wie kan die koms van dié Engel verdra, wie kan standhou wanneer Hy verskyn? Hy is soos die vuur van die smelters en soos die seep van die wassers." (3:2,3)

Sy koms is ‘n saak van vreugde! "Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige." (1) 

En tog, dit wek ook bekommernis en onrus! “Wie kan standhou as Hy verskyn?” (2) Dis die wesentlike vraag van elke sondaar wat iets begin besef van God se heiligheid. Op hierdie vraag moet elke sondaar ‘n antwoord kry. Die antwoord is natuurlik vanuit die Nuwe Testament net die wat gereinig is deur die bloed van Jesus! Die wat buig voor Hom en sy koningskap aanvaar. 

Jesus se koms na die wêreld het nie net vreugde en vrede gebring nie! Sy heilige vuur is ‘n vuur wat suiwer en skeiding bring. Lukas 12:49 – “Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!” 

HERSTEL VAN WARE AANBIDDING 

Die doel van sy koms is om weer ware aanbidding van God te herstel. 'n Lewe van gehoorsaamheid aan God! En dit terloops verskil hemelsbreed van die talle mensgesentreerde verwagtings rondom Jesus wat vandag so welig tier... 

"Dan sal die offer van Juda en Jerusalem weer aanneemlik wees vir die Here soos in die ou tyd, soos in jare lank verby." (4) 

 Die heilige vuur van die Engel van die Verbond bring Hom in botsing met sonde en veral teen almal wat nie waarlik eerbied het vir God nie. Sonde word hier konkreet by die Naam genoem... “Dan sal Ek na julle toe kom as regter: Ek sal sonder versuim regspreek teen dié wat hulle met toordery ophou, teen die egbrekers en dié wat vals ede aflê, teen dié wat die dagloner te kort doen, die weduwee en die weeskind veronreg en die vreemdeling verdring, teen dié wat nie vir My eerbied het nie, sê die Here die Almagtige.” (5) En let wel dis nie net opvallend verkeerde dinge soos egbreek en toordery nie, maar ook om ‘n dagloner uit te buit! Wie oor Jesus praat, moet ook oor sonde praat! Die aaklige klimaks van sonde is om nie eerbied vir Sy Naam te hê nie! 

SOOS ‘N OOND! 

Die verwerping van Jesus, die Gesalfde van God is die finale sonde, die sonde wat God se oordele vir ewig op mense sal laat neerkom. Die oordele van God word vergelyk met die werking van ‘n brandende oond. “Die dag kom en hy brand soos ‘n oond. Dié wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie ‘n wortel, nie ‘n tak oorbly nie.” (4:1) 

GENESING EN VREUGDE! 

Die heilige teenwoordigheid van God deur Jesus, beteken nie net straf en uitdelging nie, dit bring ook seën en genesing. God se teenwoordigheid onder sy volk destyds met die Uittog, die vuurkolom en wolkolom het beteken dat Hy hulle versorg, bewaar en voor hulle uitgetrek het. En daarom God se vuur wat vir die goddeloses en vermeteles ’n oond wat verteer is, beteken vir die wat sy Naam vrees juis die son van geregtigheid. “Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers.” (4:2) 

Sy teenwoordigheid bring suiwering, genesing, vreugde en jubelende blydskap. 

Weer die geheimenis van die brandende bos! (Kliek - Heilige Vuur) God verteer nie sy volk nie, maar bring seën. Maar nie vir almal nie, vir die wat sy eerbied het vir Sy Naam. Wie is die wat God se Naam vrees? Dis elkeen wat volkome vertrou op die Naam van Jesus Christus, die enigste Naam waardeur ons gered word. (Handelinge 4:12) Elkeen wat op hom vertrou sal nooit teleurgesteld word nie, maar vir ewig die genesende son van geregtigheid voel skyn. Dis heilige heerlike lig van God self, wat die lig en glans sal verskaf in die nuwe Jerusalem! Openbaring 21:23 vertel ons : “En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.” 

En wat sê dit alles vir ons? 

  • God woon onder sy volk. Hy staan nie daar ver eenkant nie, Hy woon tussen sy verbondsmense en beoefen gemeenskap met hulle. As dit waar was van die Ou Bedeling hoeveel te meer nou in die Nuwe Verbond. Hy het in Jesus Christus onder ons kom woon (Immanuel), Hy woon nou onder ons deur die Heilige Gees. Terloops een van die tekens van die Heilige Gees tydens Pinkster was juis tonge van VUUR! Ons, sy kinders is sy tempel, sy woonplek nou reeds, maar ook woon Hy volmaak tussen ons vir alle ewigheid! 

  • God se genade is groot. Verbysterend groot! Dis alleenlik God se genade wat maak dat sy heiligheid ons nie verteer en vernietig nie. Hierdie genade het ’n hoogtepunt bereik in Jesus. God se heilige toorn het Hom getref in ons plek. In Hom en op grond van sy verdienste kan ons as gebroke onvolmaakte mense die heilige God nader. Hy is ons Middelaar! In Jesus is ons veilig teen God se toorn. Dis die heerlike boodskap van Paasfees!

  • God se heiligheid is nog steeds ’n faktor om mee rekening te hou. God se genade beteken nie dat ons sy heiligheid mag ignoreer en verontagsaam nie. Annanias en Safira se tragiese geskiedenis wys vir ons wat is die skrikwekkende gevolge van so ’n houding. Die Hebreërs skrywer waarsku ook mense van die Nuwe Verbond teen afvalligheid en maan ons om God te dien met eerbied en vrees, want sê hy : “Ons God is ’n verterende vuur” (Hebr. 12:29) Met respek en ontsag moet ons bewus bly dat ons God ’n heilige vuur is en daarom des te meer die genade vasgryp en waardeer, deur alle sonde in ons lewens uit te roei, daarvan weg te vlug en stywer vas te gryp aan Jesus ons Hoëpriester. Geloof in Jesus gee ons nie die reg om op vermetele manier God uit te tart en om met sonde te speel nie, geloof in Jesus laat ons juis besef ons is kinders van die heilige God wat sê : “Wees heilig want ek is heilig.” 

VREES EN BLYDSKAP 

Ons vind hier groot rede om ons verlossing met vrees en bewing uit te werk soos Paulus skryf in Filippense. 

Maar ons vind ook groot rede om absoluut bly te wees! Bly oor genesing en redding! So vervul ons hierdie profesie wat sê : “Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers!” Onthou – “happiness and holiness” gaan saam! Heiligheid bring vreugde! Ons kan ook bly wees dat reg en geregtigheid sal geskied!” (3)* 

Wat moet ons houding teenoor God, en spesifiek die Paasgebeure wees? 

Beslis nie onbetrokkenheid en apatie nie, maar... Eerbiedige blydskap! Respekvolle vreugde! Dis die gesindheid waarmee ons ook die komende Paasfees moet vier! AMEN!

*Dis 'n belangrike punt vanuit die voorafgaande konteks waar die vraag juis gestel word, hoekom dit lyk of God geen onderskeid tussen die regverdige en die goddeloses maak nie. Die verskil gaan duidelik word as God sy oordele voltrek oor sy vyande en die finale verlossing bring vir diegene wat respek vir Sy Naam het!

Dinsdag 26 Maart 2013

LIG UIT LEVITIKUS

- offers wat “verveel” en vermoei, verduidelik ons die OFFER wat versoen en verkwik! 


As ons “Levitikus” hoor dink ons : Offers, offers, offers...Kom ons blaai bietjie vinnig saam deur Levitikus. Ons kyk net so rakelings na die soorte offers : Brandoffer (hoofstuk 1), Graanoffer (hoofstuk 2), Maaltydoffer (hoofstuk 3), Sondeoffer (hoofstuk 4), Skuldoffer (hoofstuk 5). Sjoe, dis ‘n hele mondvol! Jy proe amper al die bloed...

Wat is die betekenis van hierdie onderskeie offers? Net baie kortliks. Die brandoffer gaan oor versoening. (1:4) Van al die offers is hierdie die enigste waar die dier totaal verbrand moes word. Die dier verteenwwordig die sondaar, en word dus plaasvervangend in die plek van die sondaar totaal vernietig. Die een wat offer bly leef, omdat die dier in sy plek gesterf het. Die graanoffer het geen bloed behels nie, maar gaan net daaroor dat ek iets teruggee aan God waartoe Hy my instaat gestel het. Met die maaltydoffer word die aanbidder toegelaat om die meeste van die offerdier self te eet. Dit gaan oor ‘n ete in die teenwoordigheid van God. Dit dui op gemeenskap (fellowship) met God en die genieting van sy seëninge. In die sondeoffer gaan dit oor versoening (4:35). Dit dui hier op die noodsaaklikheid van straf vir sonde. Die dier dra die straf in plaas van die een wat offer. (moontlik was die fokus van die sondeoffer, versoening vir spesifieke sondes , terwyl dit by die brandoffer gaan oor sondigheid in die algemeen)* Die skuldoffer lyk of dit ‘n variasie van die sondeoffer was en het dus ‘n soortgelyke betekenis. (pasop net om te sterk onderskeid te maak tussen die verskillende offers) 

Hierdie offers is deurlopend gebring. Maar, die verstommende feit, dit was nog nie genoeg nie! (Ja, jy het reg gelees!) 

Een maal ‘n jaar het die Groot Versoendag plaasgevind. 

Dit word breedvoerig beskryf in Levitikus 16. Die agtergrond vir hierdie instelling, was die grusame dood van Aäron se twee seuns, Nadab en Abihu. (16:1) Ons lees van hierdie skrikwekkende gebeure in Levitikus 10:1-3 as volg: “Nadab en Abihu, seuns van Aäron, het elkeen sy vuurpan gevat en gloeiende kole daarin gesit. Hulle het wierook daaroor gegooi en dit vir die Here aangebied. Dit was egter ongeoorloofde vuur omdat dit teen die bevel van die Here was. 
‘n Vuur wat van die Here af gekom het, het hulle verteer, en hulle het gesterf in die teenwoordigheid van die Here. 
Toe sê Moses vir Aäron: "Die Here het gesê: Wie ‘n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees." Aäron was sprakeloos.” 

Tydens die Groot Versoendag moes die hoëpriester dan ‘n offer bring, eers vir homself en al die priesters. (16:6) Onthou hulle was ook mense en dus ook sondaars! Dit was dus vir hulle lewensgevaarlik om in die teenwoordigheid van die heilige God te kom! Daarna word versoening gedoen vir die sondes van die volk. Onder andere was daar twee bokke betrokke. Die een is geoffer. Die ander een is die woestyn ingejaag, nadat die volk se sonde op hom oorgedra is. Levitikus 16:20-22 vertel hiervan : "Nadat Aäron die Allerheiligste, die tent van ontmoeting en die altaar gereinig het, moet hy die lewende bok nader bring.
Terwyl hy dan sy twee hande op die kop van die bok lê, moet hy ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely. Sodoende sal hy die sonde op die kop van die bok oordra. Iemand wat beskikbaar is, moet dan die bok die woestyn injaag. 
So sal die bok al hulle sonde met hom saamdra na ‘n onherbergsame streek toe en daar in die woestyn moet hy agtergelaat word." 

VERVEEL DIE OFFERS JOU DALK?

Offers, offers en nogmaals offers... nimmereindige detail, eindelose herhaling. Dis net nooit genoeg nie, dit kry nooit einde nie. Waarom al die offers, hoekom al hierdie bloed? Dit gaan oor die probleem wat ontstaan wanneer ‘n heilige God in verhouding staan met onheilige mense. Hoe kan sondige mense in die teenwoordigheid leef van ‘n sondelose God, sonder dat Hy hulle vernietig? Die antwoord was : offers en allerhande voorskrifte en wette! As mens lees van al hierdie offers is dit byna asof mens vermoeid en selfs verveeld raak. In ‘n sekere sin is dit reg as jy so voel. Hierdie eindelose offers laat mens verlang na ‘n OPLOSSING. 

Die OPLOSSING het gekom – die volmaakte en genoegsaame offer van Jesus aan die kruis! 

Al die aspekte van die verskillende offers vind ons in die kruisoffer van Jesus. Jesus is die finale sondeoffer en skuldoffer. Hy het ons straf gedra. (1 Petr 2:24, Jesaja 53:5,6) Hy is die brandoffer, wat totale dood in ons plek verduur het. Hy is die genoegsame graanoffer wat deur sy gehoorsaamheid dank en eer aan God gebring het. Hy is die maaltydoffer deur wie ons gemeenskap met God beleef – spesiaal ook in die Nagmaal word ons uitgenooi om hierin te deel.  Jesus vervul ook die betekenis van die Hoëpriester en die groot Versoendag. Hebreërs 9:11-15 maak dit so duidelik. 
"Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. 
Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ‘n ewige verlossing tot stand gebring. 
Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ‘n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. 
Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer. Daarom is Hy ook die Middelaar van ‘n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang." 

Hoe heerlik! Die Ou Verbond met sy vereistes en offers is vervang deur ‘n Nuwe Verbond met ‘n Verlosser! 

Praktiese Opmerkings 

1. Ons het te doen met ‘n heilige God. Hy is nie ons speelmaatjie nie. Ons kan nie sommer net in sy teenwoordigheid instorm nie. Selfs die hoëpriester het eers ‘n offer nodig gehad om in sy teenwoordigheid te kom. 

2. Jesus se kruisdood is die eenmalige genoegsame offer (boetedoening) vir al ons sondes. Nie ons trane, gebede, beloftes, mooi praatjies en godsdienstigheid kan ons skuld wegvat nie, sy kruisdood alleen doen dit. Hier is die geheim van 'n bevryde gewete!

3. Het jy al sy offer aanvaar? Het dit persoonlik vir jou betekenis? Dink aan die bok wat die woestyn ingejaag is. Kom lê jou sondes op Jesus, of liewer aanvaar dat God dit gedoen het – aanvaar in die geloof dat Hy jou sondes weggeneem het en dank Hom! 

4. Die boodskap van offers en bloed, die boodskap van die Gekruisigde Christus is ‘n gruwel vir baie postmoderne mense, maar elke kind van God weet, hier het ons te maak met die krag van God en ons enigste fondasie van hoop. Dr. Flip Schutte (een van Abel Pienaar se meelopers) en voormalige Hervormde predikant skryf oor sonde en sê dan : “Ek het nie bloed, of die dood van 'n verlosser nodig om daarvan ontslae te raak nie.” Dis natuurlik glad nie so ‘n nuwerwetse tipe van denke as wat hy dit wil laat klink nie. Reeds in Paulus se tyd, was die kruisboodskap vir die Jode ‘n aanstoot en vir die ander onsin, maar vir elkeen wat deur God geroep is, is die Gekruisigde Christus die krag van God! Wat sê die Woord? “Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. 
...Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. (1 Korintiërs 1:18,23) 

Mag ons oë geopen word vir twee waarhede: 

  • Die erns van sonde in die aangesig van die heiligheid van God! 
  • Die genoegsaamheid en finaliteit van die offer wat Jesus aan die kruis gebring het! Ons vrede, ons sekerheid lê nie in die krag van ons geloof of in die kwaliteit van ons toewyding nie, maar in die onoortreflike volkomenheid van Jesus se eenmalige offer! Dis nou genoeg  rede om Paasfees met blydskap te vier!
*Sien Vern Poythress vir inligting oor die offers.