BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Dood. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Dood. Wys alle plasings

Maandag 20 Desember 2021

REGTIG REDE VIR VREUGDE?

- JA, al beleef jy nou ernstige hartseer.

Die boodskap van die engele aan die herders (maak gerus oop by Lukas 2:8-20) is ‘n boodskap van blydskap. Die fees wat ons vier ter herinnering aan hierdie boodskap is ’n fees van blydskap. Maar dis waar ons nou dalk met ’n ongemaklike vraag in ons hart sit – Kan ons in opregtheid vandag nog ’n fees van blydskap vier? 

Anders gestel het ons vandag nog ’n eerlike rede om bly te wees? Is dit tog nie so dat daar baie redes vir treurigheid en hartseer is nie? Kom ons wees eerlik- Dit was ’n skrikwekkende jaar van verlies en dood - daar is baie plekke aan ons Kersfeestafels wat leeg gaan wees, die plekke van geliefdes wat hierdie jaar van ons weggeneem is. En verder...Daar is soveel bekommernisse... finansies, gesondheid. Nog erger daar is soveel sondeverskeurdheid - gebroke huwelike en gesinne, bitter familietwiste...

Kan ons in die lig van al hierdie rou en ruwe hartseer nog met blydskap Kersfees vier? JA! Al hierdie hartsere onderstreep net dat ons die boodskap van Kersfees nog meer as ooit tevore nodig het en dat ons nog meer as ooit tevore daarna moet luister en dat ons meer as ooit tevore moet ag gee daarop.

Wat sê die kersboodskap soos die engele dit oorgedra het vandag vir ons?

(ek lig net 'n paar kerngedagtes uit)

Moenie bang wees nie. (vers 10) Vanaf die tyd toe Adam en Eva teen God gekies het, leef die mens in vrees en bekommernis. Hoekom? Voor die sondeval het God absolute sekuriteit aan die mens gebied – in alle opsigte – het Hy geestelik en liggaamlik vir die mens gesorg. Toe rebelleer die mens en van toe af hunker en soek die mens gedurig na sekuriteit. Dis soos ‘n jong kind wat wegloop van die huis. Dis eers as hy weggeloop het en die eerste nag koud en honger op straat moet slaap, wat hy besef- “ek is nou regtig bang, ek mis die sekuriteit van my ouerhuis. Die heerlike kos, die warm bed...” Maar nou -As God deur Jesus die verhouding met die weggeloopte sondaar herstel, moet ons weer en weer duidelik hoor : Moenie bang wees nie! Dis nie meer nodig om in vrees te leef nie! Die rede: die KIND in die krip! Ook genoem Immanuel... God by ons!

God het nie van die stukkende wêreld vergeet nie. Dis waaroor die engele juig en sing. God het stukkende mense lief, en dis juis hoekom ons nie meer hoef te vrees nie. Vir hierdie liefde moet ons eer en dank aan God bring. (vers 14)

Die Verlosser het gekom! (vers 11) Die liefde van God het ’n konkrete gestalte. Dis nie net mooi woorde of ’n vae teorie nie. God het die Verlosser gestuur. Dis die kern rede waarom ons vandag ’n vreugdefees mag vier ten spyte van al die sonde, swaarkry, siektes en sterftes in hierdie wêreld. Jesus kom verlos mense van sonde. Dis ons grootste probleem. Dis wat skeiding tussen ons en God veroorsaak. Dis wat hierdie gebrek aan sekuriteit en vrese tot gevolg het. Maar Jesus se verlossingswerk eindig nie net by die vergifnis en bevryding van sonde nie. Ons liggame gaan ook verlos word. Bevry word van verganklikheid. Dis waarna ons uitsien met hoop en verlange terwyl ons nou nog sug en swaarkry. “En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het, sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame.” (Romeine 8:23)

Hierdie Verlosser het as mens gekom. (vers 12) Dis die aangrypendste. God self kom as mens na die wêreld. Die onsigbare God maak Homself sigbaar. Jesus kom as gewone mens. Die Skepper van sterrestelsels, die son en yster word 'n hulpelose baba. Dis onbegryplik heerlik. Soos Johannes dit stel. “En die Woord het vlees (vleis) geword en onder ons kom woon...” (Johannes 1:14) Ons het nie ’n onbetrokke veraf God en Verlosser nie. Hy het een met ons geword, Hy ken ons, voel saam met ons, Hy het in ons skoene kom staan en in ons smart en ellende kom deel. Hy ken armoede, hongerte, moegheid, verwerping, bespotting, teleurstellings... en ja ook die angs, skeiding en donkerte van die dood! Hy is daarom die volmaakte Middelaar, Advokaat, Trooster en Hoëpriester vir elkeen wat op Hom vertrou! Oor so ’n Verlosser kan en moet ons vandag bly wees ongeag ons eie omstandighede.

HET JY AL REAGEER?

As ons regtig blydskap wil ervaar is daar nog iets. Ons moet reageer op hierdie boodskap. Ons moet hierdie boodskap regtig glo. En as ons dit glo sal dit ons in beweging bring. Dis baie duidelik uit die skaapwagters se reaksie dat hulle hierdie vreemde boodskap geglo het. (vers 15b) Hulle kon nie stilstaan nie. Hulle het self gaan kyk. Hulle het God verheerlik en geprys. Hulle het mense gaan vertel.

Glo jy regtig die Kersboodskap? Dis eintlik maklik om vas te stel. Watter veranderings het daar in jou lewe gekom weens die boodskap oor Jesus as Verlosser? Het die boodskap van Jesus ’n verskil gemaak in jou gedrag die afgelope jaar? Het die boodskap van Jesus gemaak dat jy teen sonde gekies het? (Het jy daardie buite egtelike verhouding verbreek? hey jy daardie lastige vyand vergewe?) Nog verder... Het die boodskap van Jesus gemaak dat jy Hom graag saam met medegelowiges aanbid het in die erediens? Hy jy in jou vriendekring en leef of werksomgewing gepraat oor Jesus?

EGTE REDE TOT VREUGDE

As ek en jy waarlik die boodskap van die engele glo, dan het ons REGTIG REDE om vandag baie bly te wees, maak nie saak van al die hartsere in en rondom ons nie! Die boodskap van die Verlosser se koms bring vir ons hoop – nou en eendag. Nou reeds kan ons vrede en vergifnis ervaar op grond van Jesus se menswording en kruisdood, maar ons kan ook gelowig uitsien na die herstel van die ganse gebroke skepping, ja ook die bevryding van ons liggame, die opstanding van die vlees! As jy nog nie hierdie boodskap glo nie, word jy vandag uitgenooi om te glo saam met die skaapwagters en miljoene na hulle... En dan sal jy beleef – die Kersboodskap is steeds ‘n bron van egte vreugde! (vers 10)


Wil jy iets verder hoor oor die radikale verskil wat die boodskap van Kersfees aan ons ellende maak? Kliek op IKABOD



Sondag 01 September 2019

DIE DOOD SE MAG IS GEBREEK

Vir elke hartseer en ongerief het die mens mos ‘n plan, maar nie vir die dood nie… Dis waar alle menslike planne ophou en menslike troos en raad opdroog. Ons het dit nou weer gesien met die tragiese busongeluk verlede naweek naby Mariental.* Kom ons kyk dus na wat God in sy Woord vir ons wil sê in 2 Timoteus 2:8-11.**




Paulus skryf hier as iemand wat self ook die dood in die gesig staar. Hy weet dit en is eerlik daaroor. “Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur.” (4:6) Hy skryf hierdie brief juis as ‘n boodskap van troos en hoop aan die jongman Timoteus. 


Ons het verlede Sondag gesien hoe Paulus vir Timoteus bemoedig te midde van die verwarring van dwaalleraars deur vir hom te sê daar is ‘n VASTE FONDAMENT (Die Here weet wie aan Hom behoort en Laat elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort wegbreek van als wat verkeerd is) 

TWYFELVRAE EN MISMOEDIGHEID

Daar is ook ander dinge wat Timoteus mismoedig en wankelrig gemaak het. Waarskynlik juis die feit dat sy geestelike vader en mentor Paulus nou magteloos in die tronk gesit het. Timoteus besef Paulus gaan nie weer lewend daaruit kom nie Timoteus sou maklik hierdeur in twyfel gebring kon word : "Is dit nou hoe God sy getroue knegte behandel, is dit hoe God sorg? Is God so kragteloos, hoekom verlos Hy Paulus nie uit die tronk nie? Is gevangenskap, lyding en dood nou dan die beloning wat die evangelie jou in die sak bring? Is dit die moeite werd om ‘n Christen te wees? Maak dit nog sin om die evangelie te verkondig? Timoteus sou kon dink : “Ek voel eintlik skaam om te sê ek is ‘n Christen, want mense kan my koggel en vra is dit dan nou hoe ‘n goeie God sy dienaars behandel…”

Jy sal weet wat jou twyfelvrae op hierdie oomblik is... "Kyk my siekte, kyk die droogte, kyk my eensaamheid... is dit hoe God sy kind behandel? Is dit die moeite werd om aan te hou glo?"

Paulus weet klaarblyklik van die wroegings wat in sy jong vriend se hart broei en daarom bemoedig hy hom… "Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God." (8) En dan gaan hy verder en herinner Timoteus weer net aan die basiese waarhede van die evangelie. 

Dis die beste manier om ‘n kind van God moed in te praat en te TROOS - gaan weer terug na die “basics”. 


Dis wat enige ware kind van God sal bly maak…dis kosbaar bo als! Die evangelie is ‘n blye boodskap van oorwinning, sterker as ons sonde en mislukkings, sterker as swaarkry, sterker as tronkmure en sterker as die donker aangesig van die dood! 

WAT IS DIE EVANGELIE?

Dis die goeie nuus dat God ons red (‘n Goddelike magsdaad!) Hoe doen God dit? Hy doen dit nie op grond van ons dade en prestasies nie, maar op grond van wat Jesus gedoen het. Ja, in ‘n wêreld waar alles oor prestasies gaan, waar ek gemeet meet word aan die hoeveelheid “likes” wat ek kry, is dit baie goeie nuus. God red sondaars, slegte mense, goddelose mense uit genade en nie volgens wat hulle bereik of reg gekry het nie. (Rom 4:4,5) Die lang lys sondaars wat God gered het bevestig hierdie feit…Saggeus, die Samaritaanse vrou, die duiwelbesetene van Gadara, die hoogmoedige Fariseër Paulus… dit getuig alles van redding deur genade! 

Dit gaan egter nog verder. Dis ‘n Goddelike inisiatief, 'n Goddelike besluit! Ons redding is nie eens die beloning van ons goeie keuses nie, maar van God se genadige keuse om in te gryp! Dit word beklemtoon dat hierdie geskenk al van ewigheid aan ons gegee is! Verbysterend! Alle menslike verdienste word uitgesluit. “Voordat ek kon kies, kon vra, het U Seun my vloek gedra. Ek kon vind: U't my gekry voor ek nog my skuld bely.” (LIED 190:2)

Hierdie genade van God is nou deur Jesus aan ons geopenbaar. Ons kry daaraan deel deur die vertroue op Jesus. Hierdie genade is nie iets wat ons doen of verdien nie, ons leer dit net ken, dit word aan ons bekendgestel deur Jesus. Dit gaan oor wat Jesus gedoen het! (1 Kor. 15:1-4)*** 

WAT IS DIE PRAKTIESE GEVOLGE? 

Jesus het die mag van die dood gebreek. Die tirannie van die dood bestaan nie meer nie. Ja, die dood is nog daar maar die angel van die dood is weg. Ons word bevry van die vrees en verskrikking wat die dood meebring. Paulus se bedoeling is duidelik : "Timoteus, as ek moet sterwe in die tronk is dit nie ‘n verlies of ‘n verleentheid nie. Ek is nie meer bang vir die dood nie!" Dieselfde waarheid het Paulus ook aan die Filippense probeer oordra. (Fil. 1:21) 

Nie net is die angswekkende mag van die dood gebreek nie, Jesus het deur sy opstande die onverganklike lewe bekend gestel. God se kinders, die wat waarlik deur Hom gered is, deel in ‘n onverganklike lewe. Dis ‘n lewe wat nooit oud kan word, kan verveel, vernietig kan word of kan vergaan nie. Die vloek op die sondeval word omgekeer! Dood is skeiding, lewe is gemeenskap. Deur die evangelie kry ons deel aan ewige onvernietigbare gemeenskap met God. En dit begin nou reeds, die oomblik as ek gered word! Dis nou reeds sigbaar! Hierdie redding en roeping het ten doel dat ons aan God toegewy sal wees. (9a) Letterlik – “heilige roeping”! Genade lei en dring tot heiligheid! (Vgl. Titus 2:11-14)**** Wie aanhou met onheiligheid wys dat hulle die genadige redding en roeping van God verwerp! 

Miskien bly daar een vraag in jou hart huiwer. Wonderlik, maar hoe word dit ons s’n, hoe het dit alles Timoteus s’n geword? “Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.” (5) Opregte geloof! Dis om my vertroue op Jesus alleen te stel! Om te sê : “Leeg met my sondelas, hou ek U verdienste vas!” 

DIE ENIGSTE SINVOLLE TROOS IN DIE AANGESIG VAN DIE DOOD IS DIE EVANGELIE TROOS!  EN HIERDIE TROOS SPOOR ONS AAN OM NOU HEILIG TE LEWE!

*Ons is nou weer op Sondag 25 Augustus 2019 wreed daaraan herinner met die tragiese busongeluk waarin twee leerlinge van Windhoek Gymnasium, Jacques Venter en Angela Maiba naby Mariental dood is. My persoonlike meegevoel aan hulle geliefdes! 

**2 Timoteus 1:8 Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil ‘n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. 

9 Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. 

10 Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. 

11 Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar. 



*** 1 Korintiërs 15:1 Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. 

2 Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom. 

3 Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 

4 Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. 


**** Titus 2:11-14Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. 

12 Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe, 

13 terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. 

14 Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.

Donderdag 23 Junie 2016

DOOD WORD ‘N WINS!

- en dis nie gebou op sentiment nie, maar op feite!

Ons het reeds gesien ‘n Christen kyk anders na die lewe. (Kliek op LEWE) As ek waarlik die kosbaarheid van Jesus besef het, as ek Hom ontdek het as my enigste bate, as ek besef dat ek net deur  Hom vryspraak kry, dan word Jesus my eerste liefde. (En HY word dit al meer en meer!) Dan is Hyself die sin en doel van my bestaan. Dan sê ek : “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” (soos Paulus in Filippense 1:21) ‘n Christen kyk  anders kyk na die lewe, ‘n Christen kyk ook anders na die dood. Dis so radikaal anders, dat die gemiddelde normale beskaafde mens dink jy is mal as jy verklaar : “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Ja, volgens die opinie van die wêreld is dit inderdaad waansinnig om te sê : “Vir my is die lewe Christus.” En dis nog meer waansinnig om te sê : “en die sterwe is wins.”

WAT VAN DIE DOOD?

Ons het verlede Sondag gekyk na hoe dink ons en hoe behoort ons te dink oor die vraag : Wat is die lewe? Vandag kyk ons na die vraag : Wat is die dood? As jy oor die een dink moet jy ook oor die ander dink, want die dood is deel van die lewe? Wat is die dood? Mense hou nie daarvan om hieroor te praat nie en probeer dit ten alle koste vermy. (Dit sal baie dom wees om hierdie kernvraag te vermy. Verlede jaar is roudienste vir vier kinders in ons kerk hier op Tsumeb gehou)

Mense hou nie daarvan as jy vir hulle vra : Is jy gereed om te sterwe? Vir baie voel dit soos ‘n belediging of sommer net swartgallig en morbied om oor die dood te praat. Die ware rede vir ons ongemak met die dood is vrees. Die mens het ‘n vrees vir die dood, want diep in ons harte weet ons dat ons dan oop en bloot voor God sal staan wat dwarsdeur ons sal kyk. Hebr. 2:15 praat daarvan dat die vrees vir die dood ons in slawerny hou.

Hierdie algemene vrees en ongemak wat mense oor die dood het, maak Paulus se stelling juis te meer radikaal, anders, heerlik, bevrydend! Waarom kan hy so iets kwytraak? (en onthou net weer hy skryf dit nie in ‘n teoretiese akademiese omgewing soos ‘n studeerkamer nie, hy sê dit in ‘n tronk waar hyself die dood in die gesig staar) 

DIE EVANGELIE MAAK DIE VERSKIL

Hoe kry Paulus dit reg om so positief te wees? Die evangeliegebeure, die kruis en opstanding het vir altyd ‘n nuwe wending gebring oor hoe ons die dood moet beoordeel. In die Ou Testament was daar nog baie vaagheid oor die lewe na die dood. (vir die vrome koning Hiskia was die dood ‘n verskrikking) In die Nuwe Testament is daar ‘n positiewe siening oor die lewe na die dood en verloor die dood sy verskrikking. Daarom kan Paulus elders uitroep : “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” (1 Kor. 15:55)  Hierdie nuwe positiewe siening van die dood is die direkte gevolg van Jesus se uitwissing van ons sondeskuld aan die kruis (want ons sonde is die rede hoekom ons bang is vir die dood) en sy liggaamlike opstanding uit die graf. Hy het die dood oorwin en die lewe vir ewig ‘n werklikheid gemaak.

Het die evangelie al jou siening oor die dood verander?

VERSKEIE SIENINGS

Soos daar verskillende houdings is oor die lewe is daar vandag verskillende houdings oor die dood:

VREES. Dis die groot vyand, die donker, skrikwekkende einde, waaraan ek liewers nie eens wil dink nie.
GELATE AANVAARDING. “Ag, almal moet maar doodgaan... Wat kan mens daaraan doen?”
DAPPER HOUDING. Ek sal nie bang wees nie en sal nie wys ek is bang nie. Amper ‘n uitdagende minagting houding. “My ou toppie het mos die emmer geskop.”
SENTIMENTELE NAÏWITEIT.  Mens hoor dit deesdae baie by roudienste en huldeblyke... “John speel nou rugby  in die hemel vir die eerste span, Kobus jaag nou “rally” in die goue strate, Gert is seker stout soos altyd en die engele moet maar net aanpas en verlief neem...” Sentimentele snert, uitgespreek deur mense wat totaal onkundig is oor die Bybel se boodskap!

DIS WAARLIK WINS!

Die Christen se siening is iets heel anders : Die sterwe is wins! Nie net die afwesigheid van vrees nie, maar ‘n positiewe uitsien. Maar dis ook ‘n nugtere berekende uitsien, gebou op feite! Bybelse feite, Goddelike waarheidsfeite. Wat beteken hierdie wins nou prakties?

Paulus verklaar : “...ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste;” (Fil.1:23)

Twee sleutelbegrippe is belangrik in vers 23: “heengaan, by Christus”

Wat sou hy bedoel met heengaan? 2 Kor. 5:1 gee vir ons ‘n leidraad. “Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.” Die dood is nie meer ‘n verskrikking nie, dis nie ‘n donker einde nie, dis ‘n verhuising van ‘n tydelike woning na ‘n ewige woning. Dis net ‘n oppak en vertrek na my finale blyplek. As jy vanuit die Woord weet wat is jou bestemming, behoort die verhuising geen verskrikking te wees nie!

Die kernrede vir Paulus se blydskap is dat hy by Christus sal wees. Van aangesig tot aangesig sal ek Hom sien wat my liefgehad en sy lewe vir my gegee het. Onbelemmerde en onverstoorde gemeenskap met die volmaak liefdevolle Jesus Christus. Geen pyn, geen sonde, geen twyfel, geen stryd, net die volmaakte teenwoordigheid van onbeskryflike liefde! ‘n Tuiskoms by my ware vaderland en my ware Redder-Koning! “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.” (Fil. 3:20)

Let Wel : Paulus se positiewe siening oor die dood beteken allermins dat hy swartgallig oor die lewe was! Inteendeel, hy straal 'n positiewe gees uit selfs hier binne die tronk. Hy sien die lewe as 'n geleentheid vir "vrugbare arbeid" en 'n kans om "Christus te verheerlik." Hy het nie 'n selfbejammerende houding van, "ag, dit gaan so sleg, ek wil maar liewers doodgaan," nie! Paulus  leef positief voluit, maar hy besef, as hy moet sterwe is dit ook positief. Weereens, 'n wen-wen situasie.

Die kind van God het ‘n unieke beskouing van die lewe en van die dood! “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Die “en” is baie belangrik. Dit koppel die twee helftes aanmekaar. NET mense wat kan verklaar “Vir my is die lewe Christus”, kan ook met vertroue sê : “die sterwe is wins.” Kan jy dit sê?


Dinsdag 07 Oktober 2014

DIE GOEIE HERDER

- is ook ons troos in die aangesig van die dood.

Dalk is die boodskap van Psalm 23 so oorbekend dat ons dit nie meer raakhoor nie. Miskien kan jy dit opsê, maar die kosbare waarhede hierin het nog nooit joune geword nie. Ek wil jou uitdaag op hierdie hartseer dag, spesifiek ook julle wat baie smart beleef, jy wat baie vrae of twyfel het – kies vir die waarheid van hierdie Psalm in jou eie lewe! Die woord kom immers na ons, ons wat lewe, ons wat nog ‘n kans het, wat nog kan hoor...

Donderdag 27 September 2012

ONS BEGRAWE PA

- afskeid van ‘n evangelie voetsoldaat.

[Dit was my voorreg om die boodskap te bring by my Pa, Johan de Koning se begrafnis op 26 September te Walvisbaai. My broer Jacobus het die bedankings gedoen en ds. Peet Poggenpoel van NG Meersig het die teraardebestelling waargeneem.

Pa was ‘n voetsoldaat vir sy Verlosser en Koning, Jesus Christus. Soos een van die broers van Narraville dit gestel het : “hy was ‘n leraar van die veld.” Hy was nie ‘n teoloog wat boeke geskryf het of ‘n kerkamptenaar wat verklarings uitgereik het nie. Hy het die destydse Suidwes-Afrika van hoek tot kant deurkruis en aan almal wat op sy pad gekom het die evangelie gebring. Van Noordoewer in die suide  tot Owamboland in die noorde, van Kaokoland in die verre noord-weste tot die Caprivi in die verre noord-ooste.  Hy het alle nasies bedien : van die Topnaars in die Namib tot die Herero’s en Boesmans in die Kalahari. Ja, Owambo's, Kavango's, Basters, Tswanas, Himbas, Namas, Damaras, noem maar op... en natuurlik ook mede Afrikaners het die blye boodskap uit sy mond gehoor. In die beginjare was sy vervoermiddel die bekende vuilgroen Landrover en later van tyd die groen Peugot en ook ander voertuie.  In kerke, skole, tente, onder bome... in tradisionele krale en weermagkampe...het hy die weg van saligheid verduidelik. Nou het sy stem stil geword hier in Namibië, maar ons weet dat hy tot in ewigheid die lof besing van die Lam. Ja, hy wat vir sovele mense op sovele plekke die liedjie, “Wie wil saamgaan?” geleer het, is nou vir ewig, juigend  in die teenwoordigheid van sy Verlosser!]


Diens onder 'n boom.

Ek het die Woord gebring* uit 2 Timoteus 4:6-8.

“Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voltooi; ek het die geloof behou.”

Paulus skryf hierdie brief kort voor sy dood aan Timoteus. Hy is in die skemeraand van sy lewe. Sy laaste skof op aarde het aangebreek. Sy lang en belewenisvolle loopbaan het nou die einde genader.  Hy praat met nugterheid, kalmte en sekerheid oor sy naderende heengaan en die implikasies daarvan.  Hy skram nie weg van die dood of leef in ontkenning nie. Daar’s geen bitterheid of opstand nie. Dis veral merkwaardig as ons besef, hy skryf  uit die tronk tydens sy tweede gevangeneskap in Rome. Waarskynlik kort hierna het hy die martelaarsdood deur onthoofding gesterf. Moontlik in die tyd van die wrede keiser Nero wat ‘n  onregverdige Keiser en onregverdige Regter was!

Reg hier in vers 6 se begin gee Paulus ‘n besondere perspektief op sy lewe. Hy verklaar dat hy reeds as ‘n drankoffer uitgegiet word. Dis ‘n veelseggende manier om van sy lyding vir Christus in diens van die evangelie te praat. ‘n Drankoffer het behels dat water, olie of wyn voor die Here uitgegiet is. ‘n Oënskynlike verkwisting, maar juis ‘n kosbare simbool van toewyding aan God. Dit word “gemors, verbruik” tot eer van God. Die Griekse woord wat gebruik word vir hierdie handeling is “spendomai”. ‘n Mens hoor onwillekeurig die Engelse woord “spend” hierin. Paulus se lewe is inderdaad verbruik of bestee ter wille van Christus en sy Koninkryk! Maar onthou, wie sy lewe vir Jesus "verloor", sal dit juis vir die ewige lewe "behou." (Johannes 12:25)

As ons nou verder kyk na vers 7 en 8, vra ek julle aandag vir twee hoofgedagtes : Paulus sê iets oor sy lewe en loopbaan wat verby is en iets oor wat hy na die dood verwag.

Ten opsigte van sy lewe wat verby sy lewe wat verby is, maak Paulus hierdie drie kort, kragtige, betekenisvolle frases - “EK HET....” x3

~ “die goeie stryd gestry” Die praktiese Christelike lewe van Paulus, maar ook van elke kind van God is 'n stryd. Christenskap is nie maklik nie. In Efesiërs 6 praat Paulus van 'n worstelstryd. Daar is ‘n stryd teen versoekings en sonde, die leuens, aanvalle en aanvegtinge van die Satan. Paulus het volhard in hierdie stryd. Ook jy as jy die Here Jesus getrou volg, sal stryd ervaar, omdat jy nie meer saam met die wêreld en sy norme gaan nie, maar “stroomop swem”.  Volhard jy hierin, of maak jy kompromieë?

~ “die wedloop voleindig” Die lewe van 'n kind van God word treffend uitgebeeld as 'n wedloop. Net soos in ‘n wedloop is daar  'n begin.  (Paulus se begin was daar oppad na Damaskus, toe God se reddende genade in sy lewe ingegryp het. Die gevolg was ‘n egte Godgewerkte bekering!) Ons moet ook iewers wegspring as ons die doelwit wil bereik. Dis my aanvanklike bekering, as ek Jesus in geloof as my persoonlike Here aanvaar. Maar dit gaan voort. Christenskap behels  nie net ‘n eenmalige besluit nie, maar 'n dag vir dag volhardende keuse. Om aan te hou om op Hom te vertrou en Hom te gehoorsaam. Die wegspring is belangrik, maar aanhou is net so belangrik. Maar gelukkig is daar is ook ‘n wenpaal! Daar wag rus en beloning.

~ “die geloof behou” Dit kan bloot  beteken,  Paulus het enduit bly glo in Jesus. Waarskynlik wil dit in hierdie konteks sê : Paulus het nie afgedwaal van die waarheid van die evangelie nie. Hy het getrou die evangelie bewaar wat God aan hom toevertrou het. (Stott) Paulus het soos byvoorbeeld die Galasiërs brief aantoon, ‘n passie gehad vir die suiwer evangelie. Hy wou niks weet van “Christus plus” nie! Hy het alle valse leringe in stryd met die eenvoudige evangelie verwerp. Dis so belangrik, ook in ons dag om vas te hou aan die suiwer waarheid. Daar is soveel dwalinge : Sommige teoloë ontken die historiese liggaamlike opstanding van Jesus. Verwarde mense hardloop agter die Hebrew Roots Movement aan wat die genoegsaamheid van Christus ontken en ons aanmoedig om weer die Sabbat en voedselwette van die Ou Verbond te onderhou! Pasop! Hou vas aan die waarheid wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is! Dis wat Paulus so getrou gedoen het.

Een groot saak is baie duidelik.  Paulus het nie omgedraai op die pad van Jesus nie. Hy  het begin, maar ook aangehou en volgehou...enduit!

Dan sê Paulus ook iets oor dit wat vir hom wag na die dood. Die implikasie is duidelik. Die dood is nie die einde van alles nie.  Die Bybel stel dit onomwonde : vir God se kinders wag daar 'n beloning na die dood! Oor die detail is dit nie juis sinvol om te spekuleer nie, maar die feit van die beloning staan vas. (vir die wat Jesus se genade geweier het,  wag daar natuurlik ewige straf!) Paulus sê daar wag vir hom 'n kroon. Miskien sê u ja, maar hy was 'n apostel, hy was darem spesiaal.... Paulus ruim gelukkig alle misverstand uit die weg, as hy verklaar,  dis nie net hy wat ̕n kroon gaan kry nie, maar almal wat uitsien na Jesus se koms. Is jy lief vir Jesus, het jy Hom aangeneem as Here en  Koning, sien jy uit na sy koms? Weet dan verseker daar wag ̕n kroon. Filippense 1:21 is eintlik ‘n pragtige verduideliking van Paulus se gedagtes in ander woorde. “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins” As die lewe vir jou om Jesus draai, as jy Hom waarlik ken, dan is die sterwe absoluut voordelig en die beste, skoon wins.

Wat is hierdie kroon? Paulus noem die kroon, die “kroon van geregtigheid” (OAV) Geregtigheid is 'n juridiese term. Hy gebruik dit waarskynlik in kontras  met die onregverdige uitspraak wat die aardse regters of keiser oor hom uitgespreek het om hom ter dood te veroordeel. Die onregverdige aardse regters vind hom skuldig, maar die Regverdige Regter Jesus Christus sal hom vryspreek! Jesus spreek almal vry wat op Hom vertrou.  Nie op grond van enige prestasie of goedheid in ons nie, maar weens die genoegsame betaling aan die kruis.

 As jy Jesus aanvaar het,  hoef jy nie die dood te vrees nie. 

Jy staan nie meer skuldig nie, jy word vrygespreek, jy kry die kroon van geregtigheid. Maar die wat op Jesus vertrou het,  kry meer as net vryspraak. Hulle word ook positief beloon. Hulle sal hoor : “Mooi so! Jy was ‘n goeie en getroue dienskneg. Kom in en deel in my vreugde!” (Matt 25:23) Hierdie gedagte van ewige beloning, vind ons alreeds ook in die Ou Testament in Daniël 12:2,3.  Daar lees ons : 

“Baie van die wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting. Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en die wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre.”

Ons is natuurlik  hartseer oor ‘n pynlike verlies, maar ons weet ons Pa gaan een van diegene wees wat vir altyd skitter soos die sterre. Hy het nie alleen die genade ontvang om self die regte pad te loop nie, maar hy het baie, baie mense in veral hierdie land (Suidwes/Namibië)** ook na die regte pad gelei. Hiervoor bring ons aan God alleen die dank en eer vandag. 

En ons? Geliefdes is ek en jy kompromisloos besig met die goeie stryd, volhard ons in die Christelike wedloop, handhaaf ons die waarheid van die evangelie onverdund  teenoor dwalinge en vals profete? As ek en jy nou aan die einde van ons lewe moet kom, kan ons met vertroue uitsien  na die kroon van geregtigheid?

Paulus praat natuurlik  nie oor sy loopbaan en verwagtinge om homself op die skouer te klop of  menslike applous in te samel nie. Hy moedig hierdeur vir  Timoteus (en vir jou) aan om ook te volhard in die geloofspad. Mag Paulus se woorde, en ja ook Pa se nederige voorbeeld in ons gedagtes en harte voortleef en ons aanspoor.

*Die preek is effens verwerk. Die oorspronklike is beskikbaar in mp3 formaat.

** Natuurlik het Pa ook die evangelie in ander lande in Suider-Afrika verkondig, en was hy selfs op 'n keer in Indonesië.


Na sy laaste aardse rusplek


Tate Vilho Shihandya, 'n ou kameraad uit sy dae in die Dorothea sending praat by die graf.


Voor die Here.



Saam met ons dierbare moeder, wat altyd getrou aan sy sy gestaan het


Lees meer oor Pa deur hier te kliek op PA WORD TAGTIG