BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Homofobie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Homofobie. Wys alle plasings

Donderdag 04 Oktober 2018

KAN GOD GAYS VERANDER?


- Merkwaardige getuienis! 



Die vervolging van God se kinders deur homoseksuele aktiviste raak al hoe meer ‘n werklike bedreiging...(Ek het alreeds vantevore na hierdie tendens verwys -  kliek NADIA) Proponent Hennie Pienaar bekende gay aktivis het Dr. Chris van Wyk van die NGK Somerstrand aangekla by die Mense Regte Kommissie omdat hy opgestaan het teen Ds Nelis Janse van Rensburg (NG kerk moderator) se uitlatings dat homoseksuele oriëntasie 'n gawe van God is. In reaksie hierop het André Bekker sy getuienis in ‘n ope brief aan Hennie gedeel: 


Hennie Pienaar, dit is gepas om hierdie skrywe aan jou te rig in die lig van Kerkbode, 2 Oktober 2018, se artikel Hou By Waardes Van Seisoen Van Menswaardigheid, Vra Predikante.

Jy noem mense graag homofobies. Daarom wil ek jou gerusstel dat ek nie 'n oorheersende en sinlose vrees vir homoseksuele het, en hulle verseker ook nie haat nie. Hoe kan ek, terwyl ek self was waar jy steeds tans is, en ek jou wêreld verstaan en ken. Die Heilige Gees het my oortuig dat die wêreld waarin jy jou steeds bevind téén God en Sy gebod is. Dit het my tot bekering gelei en laat wegdraai van die sonde. Deur God se herskeppingswerk het Hy my 'n nuwe hart en begeertes gegee.

Nie alleen het God my georiënteerdheid tot dieselfde geslag verander nie, maar ook my georiënteerdheid tot die ouderdomsgroep na wie toe ek aangetrokke was. Jy sien, ek was 'n homoseksuele pedofiel. En God het ook daardie komponent van my oriëntasie kom verander. Net soos jy, het ek nie hierdie homoseksuele-pedofiliese oriëntasie gekies nie. Jy verwys mos graag daarna dat ’n mens se oriëntasie jou kern identiteit is.

Uit diep ervaring kan ek met jou gesels. Ek het empatie met julle en uit liefde sal ek jou en andere aan Jesus wil voorstel. Dis 'n liefdesdaad om jou teen jou verdorwe toestand en die ewige dood te waarsku. Hoe kan my bekommernis oor jou ewige bestemming, 'n onrealisties vrees vir jou wees? Hoe kan dit haat wees? Jy het die aktivistiese sosio-politieke agenda se ideologie, taktieke en taalgebruik aanvaar maar, jou siel in die proses verkoop. Wat baat dit jou om die hele wêreld te win maar aan jou siel skade te ly? 

Vir lank het ek met die leuen geworstel, wat die samelewing mee geïndoktrineer word, dat 'n mens met jou spesifieke oriëntasie gebore word. Dit het daartoe gelei dat ek die navorsing begin bestudeer het. Groot was my verrassing toe ek ontdek dat biologiese oorsake nie deterministies van aard is nie. Ek wil aan jou die uitdaging stel om vir my die navorsingstuk te bring wat ONOMWONDE aantoon dat enige mens met sy spesifieke oriëntasie gebore word. Maar kom ek spaar jou die moeite. Jy sal dit nie vir my kan bring nie, aangesien dit nie bestaan nie.

Toe ek by die leuen van "so gebore en kan nie verander nie" verby kom, toe kon die Here met sy Herskeppingswerk begin. My identiteit het ek in Christus gevind en aan die opstandingskant van die kruis het lewe in oorvloed begin, en het ek gevind dat "die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus my vrygemaak het van die wet van die sonde en die dood." Solank ek wandel na die Gees volbring ek nie die werke van die vlees nie. Al die eer aan die Here.

Hennie, as "liefde is liefde" vir jou geld, kan jy vir my een goeie rede gee hoekom dit nie ook vir 'n homoseksuele-pedofiliese oriëntasie geld nie? Mag so ‘n persoon aan jou kerk behoort en sal hy deur jou aanvaar word of is jy homopedofobies?

Jy en Prof Jaun Nel reken daar is geen verband tussen homoseksualitiet en pedofilie nie. Nou verduidelik vir my wat gebeur dan in 'n homoseksuele-pedofiliese oriëntasie!? Het ek dit gekies? Was ek so gebore? Hoekom is jy selektief en is net jou eie spesifieke oriëntasie-samestelling aanvaarbaar en onder andere homoseksuele pedofilie nie? 

Jy weet hoe julle pro-gay persone (jy is mos bekend met jou mede-aktiviste soos Neels Jackson se standpunte) liefdeloos en onverdraagsaam is teenoor diegene wat as homoseksuele pedofiele identifiseer. Hulle is mos die "siese," die skuim van die aarde.

Hoe nou gemaak? Hulle bestaan en wat moet met hulle gebeur? Is hulle in jou kerk welkom. Sal jy net so vir húlle gayregte in die kerk veg tot dit ook gedekriminaliseer is en nie meer as 'n afwyking gesien word nie, of sal jy hulle soos melaatses behandel?

Hoe kan dit jou goedkeuring wegdra, as julle uitlatings hierdie spesifieke groepering homoseksuele mense seermaak en hulle tot selfmoord dryf, as julle hulle minag en nie respekteer nie, as julle hulle oordeel en liefdeloos teen hulle optree?

Uiteindelik moet julle erken dat Jesus na ons randfigure uitreik en wanneer ons Jesus ontmoet, sê Hy vir ons "daar is dan nou geen veroordeling meer vir die wat in Christus is nie. Gaan en sondig nie meer nie sodat iets ergers nie dalk met jou sal gebeur die."

Die randfigure gaan vóór julle deur die nou poort wat na die ewige lewe lei. Voorwaar is daar min wat dit vind. Die smal weg van kruis opneem en Christus te volg. Die weg waar ek niemand - selfs nie my afgod van "ek, my en myself" bokant die Here Jesus Christus mag liefhê nie. 

Groete
André Bekker

Dankie André vir hierdie kosbare getuienis van God se genade! Inderdaad kan God alle sondaars red en verander! Dis die groot waarheid wat die gay aktiviste ontken en so word die evangelie wat die krag van God is misken! 


Kom ons bid vir en ondersteun almal wat nog vir die waarheid staan in ons kerk. Dr. Chris van Wyk, mag die Gees jou die woorde gee wat nodig is, soos ons Here Jesus self beloof het! Ek het so pas gelees dat die Menseregtekommissie (MRK) sê daar is 'n “prima facie-oortreding” saak van haatspraak teen dr. Chris van Wyk. Dis waar SA nou al is!  Sterkte! Johannes



Donderdag 06 Maart 2014

Stephen Fry : Out There, BBC Two

- dapper of dwaas?


Stephen Fry is ‘n homoseksuele aktivis wat ‘n dokumentêr, “OUT THERE” vervaardig het om die omvang van homofobie wêreldwyd te ondersoek. As Christen is ek natuurlik ook teen homofobie (in die sin van vrees en haat vir homoseksuele) gekant. Ek dink die Bybel gee vir ons duidelike riglyne hoe om aan alle mense in liefde en waarheid die evangelie te bedien. (Kliek op BYBELSE ANKERS )

Maar is Stephen Fry (baie gewild met 'n groot aanhang op Twitter) ‘n dapper man wat geprys moet word? (soos sommige dit doen) Of is hy ‘n advokaat vir ‘n lewenswyse wat teen God se Woord indruis? In ‘n onderhoud met Uganda se minister vir Integriteit en Etiek raak hy die volgende kwyt : “Homosexuality is fantastic. You should try it, it’s really good fun”*

Die Bybel noem hierdie leefstyl beslis nie "pret" nie, maar ‘n simptoom van ‘n gebroke verhouding met God. (Romeine 1:18ev)

Daarom wil ek my verstout om te sê dat Fry eerder dwaas is as dapper. Dis immers die dwaas wat God en sy gebooie verontagsaam...

*Bron :Ressensie deur Rupert Hawksley

Maandag 25 November 2013

MAG EK HULLE TROU?

- Bybelse ankers in die stormwaters van die gay debat.

Onlangs het die pers berig oor ‘n Vrystaatse NG dominee wat sy lesbiese dogter “getrou” het. (Dat dit in stryd is met die NG Kerk se huidige amptelike siening dat ‘n huwelik uit ‘n verbintenis tussen ‘n man en vrou bestaan, eers daargelaat.) Dis seker net iemand met ‘n hart van klip wat nie deernis het vir ‘n predikant (of enige Christen ouer) in so ‘n moeilike morele dilemma nie. Dat die dominee opregte ouerliefde vir sy dogter(s) het, staan seker bo verdenking. Tog bring dit mens by die vraag van ons hoogste lojaliteit... menslike bande en voorkeure of gehoorsaamheid aan God se onfeilbare Woord?

Vrydag 26 Julie 2013

TUTU EN DIE HOMOFOBIESE HEMEL

- wil hy aan God voorskryf oor reg en verkeerd?




Dit klink of Desmond Tutu hom bo God wil stel, as mens lees dat NUUS24 berig :

Die Suid-Afrikaanse vredesikoon dr. Desmond Tutu het Vrydag gesê hy sal eerder hel toe gaan as om 'n homofobiese God te aanbid.

"Ek weier om na 'n homofobiese hemel te gaan. Nee, ek gaan nie jammer sê nie, ek bedoel ek sal eerder na 'n ander plek gaan," het die emeritus-aartsbiskop by die bekendstelling van 'n gay-gelykheidsheidsveldtog van die Verenigde Nasies in Kaapstad gesê.

"Ek sal nie 'n God aanbid wat homofobies is nie en dit is hoe sterk ek hieroor voel," het hy gesê.

Die doel van die "Free and Equal"-veldtog is om bewusmaking te skep oor geweld en diskriminasie teen homoseksuele mense.

Tutu het ook die stryd teen homofobiese vooroordeel vergelyk met die stryd teen apartheid.

"Ek is netso passievol oor dié veldtog soos ek oor apartheid was. Vir my is dit op dieselfde vlak," het die 81-jarige Tutu gesê.

Die VN se top-amptenaar oor menseregte, Navi Pillay, het gesê gay-verhoudings is onwettig in meer as 'n derde van die lande regoor die wêreld en strafbaar met die dood in vyf lande.

Wat probeer Tutu sê?

Dis nie presies duidelik wat Tutu met ‘n “homofobiese God” en “homofobiese vooroordeel” bedoel nie. As hy daarmee wil sê dat sekere mense ‘n “god” geskep het, wat dit sou goedkeur dat ons homoseksuele mense haat en verag, is ek dit natuurlik honderd persent met hom eens. Jesus het ons duidelik geleer om almal, ook ons vyande lief te hê, en as Christen moet ek selfs my afgodsdienaarbure (Moslems, Hindoes of voorvadergeesaanbidders...) lief hê en op so ‘n manier teenoor hulle optree dat hulle oortuig kan raak van die waarheid van die evangelie. Dit lyk dus vir my vanselfsprekend dat God se kinders ook aan alle gebrokenes, geskeides, losbandiges en ja, ook aan homoseksuele mense liefde moet bewys, sonder om hulle sonde goed te keur of goed te praat! Hierin is Jesus se houding teen sondaars vir ons die volmaakte voorbeeld. Hy het geen kompromie met sonde gemaak nie, maar kon met egte bewoënheid alle sondaars konfronteer en die water van die lewe vir hulle aanbied. (Dink Samaritaanse vrou, Saggeus...)

As Tutu egter bedoel dat God “homofobies” deur Bybelgetroue Christene verstaan word, as ons vanuit die Skrif leer dat homoseksualiteit indruis teen God se bedoeling met die mens en ‘n uitvloeisel is van die mens se weiering om God as God te eer en te dank (Romeine 1:18ev), dan moet die bejaarde kerkman beslis vriendelik gewaarsku word dat hy met vuur speel. (Wie is ‘n mens om aan God voor te skryf?) Ongelukkig vermoed ek dat dit juis is wat hy bedoel, want hy neem deel aan ‘n aksie van die VN wat nou nie juis bekend is vir eerbiedige onderwerping aan God en sy Woord nie. So gesien is die voormalige aartsbiskop se uitlatings om die minste te sê, uiters arrogant en (vir homself), ewigheidsgevaarlik! God se Woord is baie duidelik. Sy bedoeling vir die mens ten opsigte van die uitlewing van sy Godgeskape seksualiteit, is ‘n lewenslange huweliksverbintenis tussen een man en een vrou! Alles wat hiervan afwyk in 'n sondegeskende wêreld...egskeiding, saamwonery, losbandigheid, prostitusie... en alle vorme van homoseksuele gedrag is teen sy wil en daarom sonde! Gelukkig is daar vergifnis en bevryding ook vir almal wat hulle hieraan skuldig gemaak het... 

Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. 
En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God. (1 Korintiërs 6:9-11)

Met hierdie gewasde kinders van God moet ons ‘n pad in liefde saamloop (die pad van heiligmaking), ongeag wat hulle stryd en versoekings nog mag wees... Dis natuurlik iets heel anders as om homoseksuele gedrag te probeer regverdig...

Tutu klink nie of hy in die openbaar wil standpunt inneem vir God se Woord nie, maar eerder of hy op die Wa klim van die gevaarlike gay agenda aktiviste... kliek op GAY AGENDA.  Inderdaad lyk dit of Tutu hom bo die Woord (en dus bo God, want die Bybel is God se Woord)) wil stel omdat hy na wat berig word ook sou gesê het : "Net omdat iets in die Bybel staan, is dit nie noodwendig waar nie. "  (Die Burger)

Vir meer oor hierdie kwessie : Is als in die Bybel waar en normatief, want waarom eet ons kreef al verbied die Woord dit mos? Kliek op AANKLAG VAN DIE MOEDSWILLIGES