BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket My probleme. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket My probleme. Wys alle plasings

Donderdag 15 September 2016

JAMMER, JESUS IS NIE ‘N TOORDOKTER NIE

- MAAR HY WIL IETS BAIE GROTER VIR JOU DOEN!



Waarom glo jy in Jesus? Wat verwag jy van Jesus? Wat wil jy hê moet Hy vir jou doen? So baie mense (op ‘n stadium miskien ons almal) sien Jesus as ‘n probleemoplosser. As ‘n tipe van ‘n wit toordokter wat kan muti uitdeel vir elke kwaal en kwelling. As daar huweliksprobleme, gesinsprobleme, ernstige finansiële probleme, gesondheidsprobleme of emosionele probleme ondervind word, dan vorm daar ‘n lang tou voor Jesus se spreekkamer...dan word daar skielik ernstig gebid en gebede gevra. En as hulle bid en daar gebeur nie iets nie, is daar groot teleurstelling en selfs woede. Dan verklaar hulle gou : “Nee wat, gebed werk nie. Nee wat, die Jesus besigheid is nie vir my nie!”

Jesus is nie ‘n toordokter wat vir ons bietjie muti gee vir elke pyn of probleem nie. Jesus is nie ‘n reënmaker nie. Jesus is nie ‘n wonderwerker wat die lewe vir ons gerieflik maak nie. Jesus bedryf nie ‘n gou-ryk-word-skema nie, Jesus verkoop nie polisse teen ongelukke en rampe van die lewe nie.

OM SONDAARS TE VERLOS!

Wat is Jesus groot doel? Kom ons kyk na die pragtige gedeelte in 1 Timoteus 1:12-17. Paulus sê dit baie eenvoudig en duidelik : ”Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.” (15) Wat ‘n kragtige waarheid, wat hoop gee vir ‘n sondaar!* Dit stem ooreen met die boodskap wat die engel aan Josef gebring het, nog voor Jesus se geboorte. “Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos." (Matteus 1:21) En in hierdie opsig is Hy wel tog ‘n probleemoplosser. Sonde is inderdaad ons grootste probleem. Dis die kern probleem, want ons sonde vervreem ons van God, sonde lei tot die dood, die ewige dood met ander woorde ewige skeiding tussen God en mens. Dis die beste nuus wat ons kan hoor – Jesus red van sonde. Paulus kon self daarvan getuig na sy ontmoeting met die lewende Jesus op pad na Damaskus. Paulus noem homself die “grootste van sondaars” – ja, hy het Jesus belaster, vervolg en beledig! (13) En tog het Jesus vir hom dit so te stel, oorlaai en oorweldig met genade. Paulus noem dit om vir ons te sê daar is hoop vir alle sondaars. “As Jesus so ‘n hardnekkige en rebelse sondaar soos ek kan red, kan hy ook vir jou red en jou genadig wees!” Wat ‘n geweldige hoopbringende troos!

Dis die tragedie, ons sien ander probleme raak, maar kyk die ware probleem mis. Die skuld van sonde wat ons die hel laat verdien, maar ook die mag van sonde wat ons soos slawe gevange hou. En onthou - onder sonde moet ons nie net ‘n lysie van oortredings verstaan nie, maar die groot kern sonde dat ons God nie volkome liefhet nie en ook nie ons medemens liefhet nie – dis die wortel van ons voortdurende rebellie teen God en ons voortdurende selfsug in ons menseverhoudings. Jesus is ‘n kragtige bevryder van sonde, dis wat Hy vir jou wil doen!

Het jy al so daaroor gedink, Jesus wil dalk nie nou jou huweliksprobleme oplos nie, Hy wil dalk jou eerder verlos van selfsug! Jesus stel dalk glad nie nou daarin belang om jou uit ‘n geldelike verknorsing uit te help nie, maar Hy wil jou verlos van gierigheid! Dis dalk nie nou vir Jesus belangrik om jou liggaam gesond te maak nie, maar om jou van ‘n verslawende gewoonte te verlos. En ja, ek weet die reëntyd kom nader en ons smag almal na oorvloedige reën (ek ook!), maar weet jy Jesus se eerste wens is nie om vir jou reën te stuur nie, maar om vir jou naasteliefde te leer en jou te verlos van haat en bitterheid. Die punt is, Jesus se eerste prioriteit is om jou van sonde te verlos, jou te vergewe en jou nuut te maak sodat jy deel kan kry aan die ewige lewe! Hy skenk dit vir ons deur geloof! (16) Hy roep jou op om Hom te vertrou as Verlosser van sonde! Jou sonde!

Jesus is nie ‘n probleemoplosser nie, maar die Redder van sonde. 

Hierdie heerlike bevrydende waarheid laat Paulus uitbars in ‘n lofprysing (doksologie).**Hy bring eer aan God as Koning wat sy koninkryk deur Jesus kom vestig! (17) Die groot vraag is nie of Jesus aan my lysie van probleme aandag gegee het nie, die vraag is, eer ek en jy God as Koning deur Hom, as die Heer en Heerser oor ons lewens? Ons kan God eers as Koning eer en dank as ons soos Paulus beleef het dat Jesus al my sondes vergewe het en my God se kind gemaak het.

KONING EN VADER

Maar wat dan nou van my huweliksprobleme, finansies, daaglikse sorge...? Wel as Jesus jou gered het van jou sonde en God se kind gemaak het, is God mos jou Vader, ja Hy is inderdaad ook ‘n versorgende Koning! Natuurlik weet ons Vader als wat ons nodig het en kan ons ons harte voor Hom uitstort en vra vir daaglikse brood wat mos al ons behoeftes insluit. Ook ons dringende behoefte aan reën! Natuurlik het ons die heerlike belofte in Matteus 6:33! “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” Maar let op wat is die prioriteit!

AANVAAR DIE GOEIE NUUS EN WEES DANKBAAR

Die evangelie, die boodskap dat Jesus gekom het om sondaars te red is goeie nuus, goeie nuus wat betroubaar is. Dit help egter niks as dit nie aanvaar word nie. Het jy dit al aanvaar? Het jy al die redding van sonde beleef? Dan sal jou hart net soos Paulus s’n oorloop van dankbaarheid (12) - ook in slegte omstandighede van siekte, geld tekorte of selfs droogte! AMEN

*Hierdie woorde van Paulus het die lig in die Engelse hervormer en martelaar, Thomas Bilney se hart laat opgaan. “This one sentence, through God’s instruction and inward working, which I did not then perceive, did so exhilarate my heart, being before wounded with the guilt of my sins, and being almost in despair, that even immediately I seemed unto myself inwardly to feel a marvellous comfort and quietness, insomuch that “my bruised bones leaped for joy” (Psalm 51) Bilney se beroemdste bekeerling was die groot prediker van die Engelse Reformasie, Hugh Latimer.

** Waarskynlik ‘n frase uit ‘n ou liturgie.




Vrydag 01 Julie 2016

TUSSEN ROKENDE RUÏNES

- kry God se kind weer nuwe hoop!



[Wat maak jy as die pôpô die fan strike?]

1 Samuel 30 is ‘n aangrypende verhaal van uiterste benoudheid, geloofsvertroue en triomf... soos dit gebeur het in die lewe van Dawid.

Vooraf : Op hierdie stadium was Dawid nog nie koning van Israel nie, maar ‘n vlugteling vir koning Saul. Vir veiligheid het hy tussen die Filistyne gaan bly en ‘n vertroueling van die Filistynse koning Agis geword. Agis het die stad Siklag aan Dawid en sy vriende as woonplek gegee het. (1 Sam. 27:6) Die Filistyne het hulle nou weer gereed gemaak vir ‘n groot geveg teen Saul en die Israeliete en Dawid wat nou ‘n onderdaan van Agis was het hom en sy manskappe by die Filistynse soldate gevoeg. Dit was natuurlik vir Dawid en sy manne ‘n baie moeilike saak om teen hulle eie volk te gaan veg. Gelukkig het sommige van die Filistyne beswaar gemaak teen hulle teenwoordigheid en so is hulle verlos uit hierdie ongemaklike dilemma. Agis stuur toe Dawid en sy manne terug na hulle woonplek Siklag. Toe hulle daar aankom wag ‘n aaklige verrassing op hulle – in die tyd was hulle weg was het die Amelekiete die stad aangeval, hulle vroue en kinders ontvoer en die stad aan die brand gesteek. 

GROOT BENOUDHEID TUSSEN DIE SMEULENDE PUINHOPE

Ons het dit seker al almal beleef – daardie tye wanneer als wat kan skeefloop, skeefloop en alles wat verkeerd kan gaan verkeerd gaan. Die ergste in hierdie tye is wanneer jou eie mense naaste aan jou, ook nog teen jou draai, jou verwyt en jou wil stenig. 

As selfs jou eggenoot, kinders, familie en vriende, jou afskryf of wil vernietig... Groot benoudheid! Wat maak jy dan? 


As almal jou die rug keer, waarheen gaan jy? Groot moeilikheid – dis waar Dawid hom op ‘n dag bevind het. Sien die hartseer Dawid staan tussen die smeulende puinhope van sy woonplek Siklag. ‘n Toneel van smart en verwoesting... Hierdie dapper krygsmanne het, het soos kinders gehuil oor hulle weggevoerde gesinne. “Daarop het Dawid en die manskappe wat by hom was, hulle stem verhef en geween totdat daar geen krag meer in hulle was om te ween nie.” (4) 

Maar dis nie al nie, dit lyk of hierdie manne in hulle bittere smart alle sin vir rede verloor en vir Dawid die sondebok gemaak het . Nou wil hulle hul woede en hartseer op hom uithaal. Hulle dreig om hom letterlik te stenig! Dinge het uiters lelik gelyk... wat nou gemaak? 

KIES OM BY GOD TE SKUIL

Wel, Dawid gee nie moed op nie, hy gee nie iemand anders die skuld nie, hy draai nie teen God en verwyt Hom nie. Wat doen hy? Vers 6 stel dit pragtig helder : “..maar Dawid het homself versterk in die HERE sy God.” (OAV)

Wat beteken dit nou prakties? Belangrik weereens, Dawid gee nie boedel oor nie. Dawid gaan sit nie op ‘n hopie en bejammer homself nie. Hy slaan nie paniek en vlug die vlaktes in nie. Ja, alles lyk donker en almal is negatief, maar God is nog steeds God! God het nog nie verander nie, God is nie oorweldig nie, God is nie verslaan of verslae nie. Hy wend hom dus tot God, Hy soek die aangesig en teenwoordigheid van God op. Hier word nie veel uitgewei daaroor nie, maar as ons ook bietjie nadink oor die Psalms kan ons ‘n paar afleidings maak vanuit die konteks:

  • Dawid beoefen geloof in God. Sy geloof in God wat ons kan aflei hy reeds as jong skaapwagter gehad het, wat hy in sy geveg teen Goliat beoefen het, word nou weer in werking gestel. Hy maak opnuut ‘n keuse om hom nie deur die bittere omstandighede te laat onderkry nie, maar in die lewende God te glo. Geloofskeuse! Herhalende keuse! Dis prakties gesproke ‘n keuse om by God te skuil (Vergelyk Ps. 11:1, 16:1, 18:3 ) Dis ‘n keuse om te besef, God is groter as my slegte, hartseer en benouende omstandighede. God is sterker as my vyande oftewel my vriende wat nou my vyande geword het! Hoe kry Dawid dit reg? Hy het in ‘n geloofsverhouding geleef met God – “sy God” Hy moes dit nou net prakties weer in werking stel. Ek en jy moet telkens weer kies om te glo, ongeag ons sigbare omstandighede! “...want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.” (2 Kor. 5:7)

  • Dawid dink weer aan God se karakter en God se handelinge met hom in die verlede. God het hom in die verlede gehelp teen die leeu en beer, teen Goliat en hoeveel kere het God nie sy lewe uit die jaloerse Saul se hand gered nie? Dawid dink nugter oor die grootheid en die getrouheid van God en laat nie toe dat sy gevoelens met hom weghardloop nie. Wie aan die getrouheid van God dink moes sekerlik aan sy verbond gedink het met Abram Isak en Jakob. Geliefde, dink terug aan God se getrouheid deur jou lewe, maar nog belangriker dink aan die hoogtepunt van God se goedheid, liefde en getrouheid- die kruis van Jesus! Niks kan ons van hierdie liefde skei nie! “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Rom 8:38,39)

  • Dawid soek wysheid by God. “Dawid het vir die priester Abjatar seun van Agimelek gesê: "Bring tog vir my die skouerkleed nader." Abjatar het die skouerkleed vir Dawid nader gebring. Dawid het die Here geraadpleeg: "Moet ek hierdie bende agtervolg? Sal ek hulle inhaal?" Die Here het hom geantwoord: "Ja, want jy sál hulle inhaal en jou mense red." (7,8) Destyds is die skouerkleed en die urim en tummim gebruik om God se wil te soek. Ons het nou die Woord en die Heilige Gees wat die Woord vir ons uitlê. Ons kan bid. Jakobus moedig ons aan om wysheid by God te soek. “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” (Jakobus 1:5) Kind van God, onthou, die Woord het iets vir jou te sê in jou huidige omstandighede... Doen moeite om dit uit te vind en toe te pas.

‘N RAMP OMGEKEER TOT WINS!

Jy bevind jouself dalk ook op hierdie oomblik tussen rokende ruïnes – alles is stukkend en swart gebrand, onheilsrook prikkel jou neusgate – jy beleef benoudheid en angs, jou huwelik is besig om te verbrokkel, jou finansies is donker, jou vriende het teen jou gedraai... alles en almal is teen jou. Hoor dan : God is nog daar. Aan sy liefde het nog niks verander nie. Die kruisboodskap bly ‘n onwankelbare feit, 'n vaste baken van God se liefde in alle omstandighede!

NOU...Nou is die tyd om opnuut die aangesig van die Here te soek. Nou is die tyd om weer te kies om kinderlik te glo. Nou is die tyd om die wysheid van die Woord te gehoorsaam. Kom na die Here en jy sal vind hoe waar is Psalm 46:1 se woorde : “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.”


God is getrou! 

God se getrouheid het nie gekeer dat Siklag geplunder word nie, maar God se getrouheid het Dawid wel deur die krisis gedra en daar was ‘n heerlike en gelukkige einde en groter doel agter als. (gaan lees gerus die res van 1 Samuel 30) Dawid verslaan die Amelekiete en maak ‘n baie groot buit. Hy toon sy wysheid deur die verstandige manier waarop hy die buit verdeel en so word sy posisie as toekomstige leier van Israel versterk. 

God verander ‘n ramp in ‘n wins!

Donderdag 07 Januarie 2016

‘N DOKSOLOGIE VIR DIE NUWE JAAR

- Sien God raak en begin Hom bewonder en prys!

Hoe moet ons ‘n nuwe jaar begin? Hoe moet ons na die toekoms kyk en waarop moet ons fokus?



Ons grootste probleem (nie net nou nie, maar oor die algemeen) is dat ons by onsself begin. Ons is so subjektief, so egosentries, so opgetrek met onsself. Selfs ook as ons hier in die kerk is, ja juis ook wanneer ons die Woord oopmaak of as ons bid is ons so dikwels gepreokkupeer met onsself. Hoe gaan my probleme opgelos word, hoe gaan my planne in werking gestel word, hoe gaan ek my hoogste ideale bereik? Hoe raak die droogte, Zuma en die swak Rand my sak? Weet jy, dis ‘n groot dwaasheid om op hierdie dinge te sit en broei! 

Hoe meer ek op my probleme fokus hoe groter word hulle. Jy sal weet, daar is probleme waarmee jy al jare worstel en jy kom niks verder nie. Jy bid miskien baie oor die probleme en dit help nie, al wat gebeur is jy herinner jouself net daaraan en dit maak jou dalk net meer depressief*. Of ons is geneig om altyd net planne te maak en uit te dink wat om onsself draai. Ook wat ons geestelike lewe betref, draai ons denke maar om onsself, my geloof, my getuienis, my rol in die kerk...Dit is natuurlik nie opsigself verkeerd nie, maar dis nie waar ons moet begin nie...

BEGIN BY GOD. WIE HY IS EN WAT HY DOEN!

Ons moet altyd by God begin. Dis waar die Bybel begin. "In die begin het God die hemel en aarde geskape." Dis waar Paulus ook sy brief aan die Romeine (en al sy ander briewe begin) By God... In sy aanhef tot die brief is hierdie klem al duidelik... “afgesonder vir die evangelie van God” (1:1) Moenie begin by jouself en jou behoeftes nie. Begin by God. Wie is Hy en wat het Hy gedoen en wat doen Hy nog steeds! Wees verwonderd oor God en jy sal uiteindelik ook verbaas wees oor die verskil wat Hy in jou lewe maak en hoe jou eie probleme al kleiner en minder belangrik raak!

HOE MEER EK GOD SE GROOTHEID EN GOEDHEID BESEF, HOE KLEINER KRIMP MY EIE PROBLEME!

Kom ons lees saam deur die Romeine brief en staan saam met Paulus verwonderd oor wat God doen... Sommer net so ‘n paar voorbeelde:

Dis God wat die evangelie geïnisieer en lankal deur die profete aangekondig het. “Van Paulus, ‘n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig," (1:2)

God het julle lief en Hy skenk genade en vrede! “Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!” (1:7)

In 1:16,17 raak Paulus lieries oor die evangelie , want dis die KRAG VAN GOD... Daarna egin hy met sy uiteensetting van die evangelie boodskap...

God stort sy heilige toorn (wraak) en regverdige oordeel uit oor die goddelose mensdom. “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.” (1:18)

Maar dis juis ook God wat ryk is in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” (2:4)

En dan nadat Paulus die sondigheid van beide heiden en Jood onderstreep het, kom hy by die groot tema van die brief, God wat vryspraak gee deur die geloof in sy Seun. Vryspraak beteken dat God ons as skuldige sondaars onskuldig verklaar! “Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.” (3:21,22) 

So bewerk God self vrede tussen ons en Hom. “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” (5:1)

SIEN JY, GOD SPEEL DIE HOOFROL? DIT GAAN OOR SY MAGTIGE DADE EN GROOT LIEFDE!

Ook as Paulus die probleem van ons swaarkry en verdrukking aanspreek dan fokus hy op God wat met alles ‘n doel en plan het. (vrygespreekte kinders van Good is immers soos ons al almal agtergekom het nie, gevrywaar van verdrukking en ellende nie) En dit bring ons by die verbysterende heerlike uitspraak van 8:28-30! “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.” Ons hele verlossing word van voor tot agter beplan en suksesvol voltooi deur God! En God gebruik alles, ja ook droogte, Zuma, siekte of ongelukke... om ons by sy heerlike doel met ons uit te bring!

Dan kan Paulus nie anders nie as om die heerlike gevolgtrekking in vers 8:31-39 te maak nie! (lees dit in jou eie Bybel weer ‘n slag aandagtig)

GEHEIMENIS

Maar Paulus is nog nie klaar gepraat oor God nie. Die volgende saak wat hy aanspreek is die hele kwessie van Israel. Mense sou kon wonder of God se plan met Israel misluk het, want hulle het Jesus dan verwerp. Paulus gebruik hierdie saak om die onbeskryflike wysheid van God en sy soewereiniteit en sy weergalose genade te onderstreep. God gee sy genade soewerein aan wie Hy wil! (9:15-16) Dan verduidelik Paulus dat alles deel van God se plan was. Deurdat Israel die evangelie verwerp het, het die heidennasies nou ook ‘n kans gekry om deel van God se volk te word. So sal al God se uitverkorenes uiteindelik gered word! Dis ‘n groot geheimenis! “Ons staan hier voor ‘n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor ‘n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het;” (11:25) Terloops, God se werkinge is ‘n geheimenis, en as jy ooit voel om God se planne en werkinge met jou te kritiseer, sit liewer jou vinger voor jou mond soos Job en swyg. Want wie kan God verstaan?

DOKSOLOGIE

En as Paulus so oor die grote God gepraat het, oor sy liefde en sy genade, oor sy heiligheid en sy oordele, oor sy ewige uitverkiesing en soewereiniteit, dan kan hy nie anders as om uit te bars in ‘n lofprysing (doksologie) nie!

“O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!

"Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?

Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?"

Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen. (11:33-36)

Dit gaan oor een heerlike saak – GOD IS REGTIG GOD, ver verhewe bo ons begrip en verstand. Ons kan Hom nie analiseer,ontleed of "uit figure" nie! Ons kan Hom nie verstaan nie, maar kan maar net sy grootheid, wysheid, almag, genade... bewonder en Hom aanbid! Hy is God, Hy het ons nie nodig nie, ons het Hom nodig! Hy skuld ons niks nie, en tog is sy genade onbeskryflik groot!

O, vriende, so dikwels verval ons in die vermetele dwaasheid om vir God te wil reghelp en raadgee... is dit nie totaal simpel nie? Ons nietige mense wil vir die Skepper van die oneindige heelal, vertel wat Hy moet doen... Ons sondige wesens wil kritiek lewer op die regverdigheid van die liefdevolle God wat sy Seun vir ons geoffer het...

God is die bron van alles, alles begin by Hom! God is die bewerker van alles, Hy voer sy planne uit en daarom sal niks en niemand Hom stuit nie! God self, sy eie heerlikheid is die doel van alles. Dis so duidelik ook van toepassing op ons verlossing : God het ons eerste uitgekies en ons verlossing beplan en sy Seun gestuur as soenoffer, Hy maak deur die Heilige Gees die verlossing 'n werklikheid in ons lewe deurdat Hy vir ons geloof en bekering skenk. Hierdie verlossing dien alles tot die eer en verheerliking van sy Heilige Naam, ja alles tot Hom!

Mag ons as mense ons nederige plek ken. Mag ons bevry word van die verknegting aan onsself! Die heelal draai nie om my nie, maar om God. En tog hierdie grote God is my genadig deur Jesus! Hy spreek skuldige nietige mense vry en maak hulle sy eie kinders en erfgename sodat ons Hom, Abba, Vader mag noem!

Wat is dus die beste manier om 2016 mee te begin? Fokus op God en loof Hom. Begin met ‘n doksologie. Begin sommer elke dag van jou lewe so! AMEN!

*Natuurlik mag ons ons probleme voor die Here in gebed bring. (Vgl. Filippense 4:6), maar gebede wat altyd net in die eerste plek oor myself en my behoeftes gaan, is nie in lyn met God se wil nie. Soos ons in die ONSE VADER geleer word moet gebed in die eerste plek op God se eer en koninkryk fokus. Selfsugtige gebede sonder dank aan God wat net altyd op my probleme en behoeftes fokus gaan my inderdaad depressief maak.