BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Jesus in die Ou Testament. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jesus in die Ou Testament. Wys alle plasings

Vrydag 08 April 2016

SKRIFAFKRAKING

- die “vroom” waarskuwing teen ‘n papierpous.



Dit het mode geword om die Bybel af te kraak. Sommige Bybelhaters stel dit so vroom dat baie oningeligtes en eenvoudiges vir hulle geslepe praatjies sal val. Hulle gooi dit al te stroperig oor die boeg van : “Ons enigste bron van gesag vir leer en lewe is Jesus self. Ons moet immers nie die Bybel aanbid nie, maar vir Jesus.” O, ja en daar word sonder enige historiese bewyse te lekker saamgebulder teen die onding van ‘n sogenaamde reformatoriese “papierpous”. En op grond hiervan word ‘n hele rits Bybelse uitsprake en norme meteens van die tafel gevee, sodat bose mense rustig met hulle sondige lewensstyle onder die dekmantel van liefde en genade kan aangaan.



Ek noem twee voorbeelde van geleerde menere wat graag die gesag van die Skrif afkraak :


"Miskien is ons vreemde denke oor God self die kern van die probleem. As die volheid van God in Jesus geopenbaar is (soos die Totius-vertaling dit so poëties uitdruk) is daar tog nie plek vir die reformatoriese dualisme nie. Die genadige Jesus teenoor die kwaai, veroordelende God van die Ou Testament.* En solank die kerk die gesag van die OT en die Jesus-verhaal op dieselfde vlak plaas, sal die kwaai God van die OT vir die meeste gelowiges eenvoudig in die NT en die Jesus-verhaal ingelees word. Vir my lyk dit of ons by Jesus moet begin. Alles wat sy leer en lewe weerspreek, is onvolledige of onvolmaakte openbaring (as ons nog die reformatoriese taal moet gebruik). Skep 'n nuwe stelreël: Sola Jesus." (NH)

"Die nuwe papierpous van die reformasie, nl 'n onfeilbare Godsgeïnspireerde en onaantasbare "Woord van God" is net 'n uitvloeisel van die laaste kwart van die bestaan van die kerk. Hierdie papierpous het belangriker geword as Jesus self en het mensgemaakte grense om Jesus se liefde gespan. Mag geloof losbreek daarvan." (SK)

(ek wonder waarnatoe wil hierdie vriend losbreek?)

WAT LEER JESUS SELF?

Natuurlik moet ons nie die Bybel aanbid nie, en is Jesus self die fokus van ons hartsverlange en aanbidding. En daar is seker mense wat ‘n ongesonde Bybelverering het, en die sentrale boodskap van die Bybel, naamlik Jesus Christus miskyk en nie na Hom wil kom vir verlossing nie. (Vergelyk Johannes 5:39,40) Maar het hierdie menere al ooit gevra oor wat Jesus self oor die Bybel (spesifiek die Ou Testament) te sê gehad het? En wat weet ons hoegenaamd van Jesus en oor geloof in Hom, buiten wat die Skrif as betroubare bron ons vertel?

Dis merkwaardig dat Jesus as Seun van God Hom in sy stryd teen Satan telkens op die Skrif beroep (Matteus 4), en ook op ander maniere duidelik maak hoe onontbeerlik kennis van die Skrifte is. In dispuut met sy teenstanders is dit baie opvallend : 

“Maar Jesus antwoord hulle: "Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.
Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel.
En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes." (Matteus 22:29-32)

Terloops is dit nie dalk waar baie van ons teoloë uit die bus val nie, hulle ken nie meer die Skrifte nie en het geen proefondervindelike belewenis van God se krag nie?

Lukas 24 gee merkwaardige insig in hierdie saak (Christus en die Skrif), wat miskien deur die slimmes misgekyk word:

Wanneer Jesus met die twee Emmausgangers in gesprek is lees ons : 

“Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.” (Lukas 24:27)

Wanneer Jesus Homself nog ‘n keer lewend aan sy dissipels vertoon nadat Hy ‘n stuk gebakte vis voor hulle oë geëet het sê Hy :

“Daarna sê Hy vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is."
Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.
Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’ (Lukas 24:44-47)

Let net op:

  • Jesus het sy dissipels na sy opstanding onderrig en voorberei vir hulle taak, nie juis deur nuwe openbarings en wonderwerke nie, maar deur hulle terug te verwys na die Skrif. Die Ou Testament in geheel. (Wet, Profete en Geskrifte)

  • Die Skrifte leer niks anders as wat Jesus leer nie en bevestig sy Persoon, werk en opdragte. Binne konteks van die Nuwe Verbond het Jesus als kom vervul. Terloops as iemand jou al verwar het met die "Skulpvis argument" kliek op SKULPVIS.

  • Jesus het nooit ‘n teenstelling gesien tussen sy Vader soos geopenbaar in die OU Testament en sy Vader soos Hy Hom geken het tydens sy wandel op aarde nie. Jesus het net een God en Vader geken, die God van Abram, Isak en Jakob. (Matteus 22:32)

Om God se Woord in twyfel te trek is nie iets nuuts nie, dis ‘n ou set van Satan wat hy met sukses in die paradys gebruik het om Eva te laat wankel. Sy trawante gebruik vandag nog dieselfde taktiek met groot sukses.

Ons verlossing lê in Jesus alleen. Ons moet na Hom kom. Dis juis die Skrifte (Ou en Nuwe Testament) wat ons van Hom vertel en ook uitnooi om by Hom rus te vind!


*Waar NH aan sy kennis van die reformatoriese teologie kom weet ek nie, maar die Bybel en die reformatore ken net een God in die Ou en Nuwe Testament. In beide Testamente is Hy die genadige en barmhartige God, (wat alreeds in die tuin van Eden na die gevalle mens uitreik met liefde) maar in beide Testamente is Hy ook die heilige en regverdige God. Net soos in die Ou Testament word God ook in die Nuwe Testament ‘n “verterende vuur” genoem! (Hebreërs 12:28,29)


Boesmangif (Adenium boehmianum) op 'n plaas naby Tsumeb. Sommige teoloë hanteer die Bybel deesade asof dit gif is, maar Paulus sê dat dit vir ons die "kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Jesus Christus" ( 2Timoteus 3:16)

NASKRIF

Een van die groot gewaardeerde teoloë van ons tyd wie se siening oor die Skrif baie verwarrend is, is Walter Brueggemann.

Op 'n vraag oor die LGBT kwessie en hoe die Ou Testamentiese tekste daaroor praat het Brueggemann as volg geantwoord :  "The gospel is about God’s saving love that wants to restore all of humanity to full communion. To reach back to an ancient text that has now been corrected by the revelation of God in Jesus Christ is simply a bad maneuver and poor methodology and theologically irresponsible. Those texts are not the determinative texts. The texts that are determinative are those that talk about the love of God that has been shown to us in Jesus. We can’t compromise that."
Kyk wat doen Brueggemann, hy impliseer dat gedeeltes van die Ou Testamant verkeerd was en gekorrigeer is deur Jesus. (Dis 'n oorvereenvoudiging) Alles in die Bybel kan ons dus nie vertrou nie. Die bepalende tekste is volgens hom diegene wat praat van die liefde van God. Natuurlik glo ons Jesus as Hy praat vaan die liefde van God, maar wat van die baie uitsprake deur Jesus wat wel ook praat van die oordele van God?

Natuurlik sê Brueggemann ook baie wonderlike dinge op baie treffende wyse. Hy verwys na die val van Jerusalem in 587vC as die 9/11 van die Ou Testament, bedoelende dat die volk Israel totaal van hulle voete af geslaan is deur so iets wat net nooit sou kon gebeur het nie. Maar juis in so 'n situasie spreek God weer vars tot sy volk. Net so beskryf hy Goeie Vrydag as die 9/11 van die Nuwe Testament, want vir die Jode is 'n gekruisigde Messias, Koning van die Jode ondenkbaar, maar weereens dis soos God werk.

Tog bly Brueggemann se Skrifbeskuing gevaarlik en dien dit as basisberedenering vir afwykende beskouings van ons tyd.

Lees ook : IS DAAR IETS SOOS WAARHEID?

Donderdag 07 April 2016

BLINDE BYBELLESERS

- mis die lewe en bly vir altyd in die duisternis!

“Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie” Wat ‘n skrikwekkende en hartseer verwyt wat uit die mond van Jesus persoonlik kom. Dis nog meer hartseer as mens besef dat hierdie mense wat nie na Jesus wil kom nie, nie kommuniste, terroriste, misdadigers, korrupte presidente, Moslems of bankrowers is nie, maar ja, hoor mooi, Bybellesers! Ernstige bekwame Bybellesers! Mense wat die Skrifte noukeurig ondersoek het, met ‘n bepaalde doel naamlik om die ewige lewe te verkry! Dis juis vir hulle wat hier deur Jesus uitgetrap word!

“Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig.
Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.” (Johannes 5:39,40)

‘n Paar praktiese waarhede en belangrike vertrekpunte kom hier na vore :

1.Nie almal wat die Bybel het, lees of selfs ken het al die lewe nie. 

Nie alle Bybellesers is kinders van God nie. Hierdie Jode was ywerige Bybellesers, hulle het groot respek gehad vir die heilige Skrifte, maar tog was hulle verlore. Paulus self was ‘n geleerde kenner van die Skrifte, maar voor sy ontmoeting met Jesus was hy ‘n verlorene en vyand van die waarheid! Dis moontlik om ‘n doktorsgraad in die teologie te verwerf en steeds die ewige lewe mis te loop!

2.Dis moontlik om baie dinge van die Bybel te ken, maar die kernboodskap mis te kyk. 

Wat is die kernboodskap van die Bybel in geheel? Wel , ons weet die Nuwe Testament gaan oor Jesus Christus, maar wat van die Ou Testament? In die Johannes evangelie is daar ‘n hele paar plekke wat dit direk of indirek duidelik maak dat die Ou Testament oor Jesus gaan. Kom ons kyk sommer wat word reg aan die begin van die Johannes evangelie al vir ons gesê in Joh 1:45. “Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: "Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef." (Vgl. ook Joh 2:21,22; 3:10; 5:45-46; 20:9) Ook in die ander evangelies maak Jesus dit baie duidelik dat die hele Ou Testament oor Homself gaan. (Lukas 24:27,44,45) Die Bybel is nie ‘n doel opsigself nie, die Bybel is God se Woord waardeur Hy ons wil lei na ‘n lewende verhouding met die lewende Jesus Christus.*

3. Die Bybel vertel ons van Jesus en as ons na Hom kom kry ons die lewe. 

- Jesus het gekom om vir ons die lewe te gee. Wat beteken dit? Om dit te verstaan moet ons net vinnig weer terug gaan na die tuin van Eden. Met die sondeval het daar skeiding gekom tussen ons en God. Soos wat die takke van ‘n boom afgebreek word en afgesny word van die bron van die lewe. Van nature is ons so afgesny. Dood is skeiding. Daarom kan ons net soos ‘n tak wat los is van ‘n boom, nie lewe nie, laat staan nog van vrugdra en groei. Daarom help dit nie om mense wat nie vas aan Jesus is se gedrag te probeer verander nie! ‘n Tak los van ‘n moederboom, sê nou maar ‘n mangoboom , sal nie vrugte dra nie, al doen jy wat. God het sy Seun Jesus na ons gestuur, nie om ons te veroordeel nie, maar om vir ons redding met ander woorde lewe te bring. Kom ons lees die bekende Joh 3:16, maar ook vers 17. “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.” Jesus het nie gekom om ons te veroordeel nie, maar as ons Hom nie aanvaar nie, dan bly ons in die dood, bly ons onder die oordeel van God.

- Kom na Jesus is die groot uitnodiging. Jesus het na ons gekom, maar ons word nou uitgedaag om na Hom te kom en so die lewe deelagtig te word. Dit was die groot fout van hierdie mense wat die Bybel wel geken het, hulle het ten spyte van hulle kennis geweier om na Jesus te kom. Hulle het Jesus dus nie aanvaar nie, nie aangeneem nie, nie waarlik in Hom geglo nie. Om Jesus aan te neem, om na Jesus te kom, om waarlik in Jesus te glo is presies dieselfde ding. Dis sinonieme in die Johannes evangelie. Die implikasie is: As jy Jesus nie aanneem nie, verwerp jy Hom en bly in die dood, as jy Jesus aanneem word jy ‘n kind van God en kry deel aan die ewige lewe. “Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” (Joh 1:11,12) Jesus verwyt hierdie mense met hulle Bybelkennis en al dat hulle nie na Hom wou kom nie. Waarom wou hulle nie na Hom kom nie en wat is vandag nog die kernrede dat mense nie na Jesus wil kom nie? Joh 3:19-21 gee vir ons ‘n duidelike antwoord. “En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is."

Let op : Dis ‘n morele rede, dit het niks met slimgeit of domgeit te doen nie. Jesus is die Lig en ‘n ontmoeting met Hom beteken ook dat ek gekonfronteer word met die werklikheid van my sonde. Hy is soos ‘n lig wat in ‘n vertrek skyn en al die stof en gemors uitwys. Dis die eintlike rede hoekom mense van Jesus wegskram, want hulle wil nie hê dat Jesus die verkeerde dinge in hul lewens ontbloot en hulle daarvan bevry nie! Maar onthou, Jesus laat die lig val op die verkeerde dinge in ons lewe, nie om ons te veroordeel nie, maar om ons te help. Dit laat mens amper dink aan ‘n kind wat kruppel loop, want daar’s ‘n doring in sy voet. Met groot liefde kyk ‘n pa na sy kind en wil hom help. Daar is net een manier om werklike hulp te bied, die doring moet uitgetrek word. Maar die kind is bang daarvoor. Dalk bang vir die pyn. Dalk bang vir ongemaklike vrae, want miskien het hy die doring opgetel toe hy een aand skelm uit die huis geglip en toe in die donker in die doring getrap... Die kind besef nie, sy pa wil hom nie veroordeel en uittrap nie, maar help... Maar solank die kind bang is om na sy pa te kom kan die probleem nie verwyder word nie. Waarom is jy bang om na Jesus te kom? Watter sonde is vir jou te kosbaar, wat bly steek jy weg? Moenie dwaas wees nie. Die weiering om na Jesus te kom, om waarlik in Hom te glo het skrikwekkende implikasies. “Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe." (Joh 8:24)

Vriend, Jesus wil jou nie veroordeel nie, maar red!

Geliefde, miskien ken jy die Bybel al baie lank. Jy ken al die verhale. Jy het moontlik selfs al ‘n Bybelstudie kursus of twee voltooi. Maar jy skram weg van Jesus. Jy het nog nooit die saak met Hom uitgemaak en jou vertroue kinderlik op Hom alleen gestel nie. So bly jy in die duisternis. Jy mis die lewe...nou en ewig. Hy nooi opnuut : “Kom” En Hy gee vir elkeen wat kom ‘n wonderlike belofte. “"Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” (Joh 6:37)

Waarom nie sommer nou jou kinderlik in die arms van Jesus werp nie??

*Dis daarom ‘n skreiende skande dat daar op teologiese fakulteite geleer word dat Jesus nie in die Ou Testament te vinde is nie!




 Die grootste nombessie/wilde dadel (Berchemia discolor) wat ek nog gesien het. Oppad na die plaas Mylpaal, noordoos van Tsintsabis. 'n Boom is so 'n pragtige voorbeeld van lewe, maar demonstreer ook doeltreffend wat dood beteken. 'n Tak wat afgebreek word is dood, want hy kan ie sonder die lewensbron bestaan nie. Ons is geestelik dood, geskei van God en moet weer op Jesus (Immanuel - God met ons) ingeënt word om die lewe deelagtig te word.

Vrydag 01 April 2016

BROOD en brood

- God se gawes word uitgedeel op Tsintsabis!

Die NG Kerk Tsumeb het ‘n bedrywige Paasnaweek agter die rug. Behalwe ons gewone Vrydagoggend Nagmaal en Opstandingsdiens Sondag (hierdie preek is waargeneem deur ds. Janré van Jaarsveld van die Doppers) was ons die hele naweek betrokke by ‘n Paaskonferensie op Tsintsabis (so 60 km noord van Tsumeb) in samewerking met ds. Josef Gevers en sy span van Wildevy gemeente en Africa Outreach.

Franz Bense van Africa Outreach saam met sy vrou Brenda het ons kom besoek en met behulp van prente vir ons “VASTE FONDASIES - Skepping tot Christus” kom aanbied. Dis die hele Bybelse storielyn wat uitloop en fokus op die heerlike genoegsame werk van Jesus om ons redding te bewerk. Die vertrekpunt is die gedeelte in Lukas 24 waar die opgestane Jesus sy dissipels terugverwys na die Ou Testament toe Hy gesê het : "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is. Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.” (Lukas 24:44,45) 

Ja, die evangelie begin alreeds in Genesis en word tot vervulling gebring deur Jesus se kruis en opstanding! Voor die naweek het Franz die program ook op drie weeksaande in ons gemeente self aangebied en dit het voorwaar weer iets van die wonder van die evangelie laat kliek...

Op Tsintsabis is ‘n tent opgeslaan reg teenaan die kerkgeboutjie. ‘n Bekende Duitse boer in die omgewing, Reinhard Friederich het die tent beskikbaar gestel. Die prente is dan buite teen die muur vasgesit in volgorde om die hele storielyn maklik volgbaar te maak. Mense van Oerwoud en Bravo is ook aangery om die geleentheid te kon bywoon. Franz as Nataller het sy vuurdoop met die Afrikaans goed geslaag – hy moes eenvoudig maar net. Vanuit die Afrikaans is daar na Damara/Nama (die taal wat die Hei//om gebruik) sowel as !Kung (vir die Boesmans vanuit die Kavango gebied) getolk. Die kinders is ook nie vergeet nie en is onder andere deur Trudie en Emka bedien. In die aand is daar groepies gemaak om die waarhede van die dag verder te bespreek.

Die fokus van die hele byeenkoms was natuurlik, Jesus self, die BROOD van die lewe, maar mense van vlees en bloed het ook gewone brood nodig. Dis waar Tsumeb se gemeentelede so wonderlik hulle gewig ingegooi het, deur reëlings tref, skenkings, verskaffing van vervoer en self kom krom staan by die swart potte. (Dankie aan Andries Gous wat voorgevat het, maar ook aan ieder en elk wat meer as julle deel gedoen het) Onder ‘n groot Maroelaboom is die kos gemaak en daar was genoeg vir almal, selfs ‘n honger hond of twee kon ook ietsie vir die maag opraap. Daar was sop, brötchens, aartappels, maalvleis en wat nog, maar die lekkerste was seker Saterdagaand se koedoe braaivleis!

Dit was vir ons almal wat betrokke was ‘n wonderlike ervaring om op ‘n praktiese manier goed te doen aan die geringstes van die geringes. Ons het egter nie net gegee nie, maar ook so baie ontvang. Ons harte is ook verbly deur die prysenswaardige samewerking van Wildevy se mense. Ons bede is dat die Woord vrug sal dra in baie harte. Daar is ook die realistiese hoop dat verdere geleenthede vir getuienis sal voortvloei uit dit wat die naweek gebeur het.





Frans gooi die Afrikaans! En dan weerklink die Woord verder in Damara/Nama en !Kung.



Onder die maroelaboom moes ons letterlik bontstaan, want, dis nou die tyd wat die maroelas begin val... amper soos 'n bombardement!









Ook klein Natanie het gehelp om aartappels in die pot te gooi!














Bravo se mense sing vir ons.

Vrydag 30 Maart 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (8)

- skrikbeelde van diere, koppe, horings...

(Om hierdie studie te benut moet jy 'n oop Bybel voor jou hê)

Waar kom die snaakse beelde van diere, koppe, horings ens. in Openbaring vandaan? Wat wil dit vir ons sê? (As ons weet wat die oorsprong en die oorspronklike kotenks daarvan is, gaan ons dit makliker verstaan)

Kom ontdek self. Lees eers Openbaring 13:1-3,8 en dan ’n stukkie uit die openingsvisioen (Openbaring 1:7,13) en vergelyk dit dan met Daniël 7:1-14 (In Daniël 7:13 staan daar letterlik “Die Seun van ’n mens” Sien OAV)*

Opvallende ooreenkomste nê? (Diere, wolke, Seun van ’n mens)

Die oorsigtelike betekenis van die diere in Daniël (en Openbaring) is duidelik : Dit simboliseer goddelose nasies en hulle magstrukture.

’n Menslike figuur kom dan met die wolke van die hemel (7:13) en die mag van die diere word weggeneem en aan Hom oorhandig. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy. (7:14)

Die sentrale boodskap is helder verstaanbaar : God gaan die goddelose magstrukture van hierdie bose wêreld vernietig! Of dit nou wrede leiers, bose regerings of geheime geldmagorganisasies is... God gaan hulle uitwis deur ’n menslike figuur!

Jesus die Seun van die mens is die OORWINNAAR!

Ons hoop is op Hom!

Openbaring wil presies dieselfde sê as Daniël met die gebruik van hierdie beelde. Jesus vernietig alle teenstand teen God se Koninkryk. Om verder in detail te bespiegel of hierdie dier(e) na Amerika of Rusland, Obama of Putin (ja, hy is blykbaar een van die dae weer aan bewind) verwys, is sinneloos en dit lei net tot subjektiewe wensdenkery! (En eindelose stryery) Elkeen kleur dit in soos wat dit hom pas! Die probleem om spesifieke name van mense of lande aan bepaalde beelde te koppel, is baie duidelik : Elke paar jaar, moet jy erken (as jy eerlik en mans genoeg is) dat jou vorige interpretasie verkeerd was!

Het hierdie beelde dan iets konkreets vir ons vandag te sê? Natuurlik! Dis wel aktueel, maar vir alle Christene van alle tye ... vir Christene in die tyd van Hitler wat swaargekry het onder hom sou dit reg wees om hieruit vertroosting te put, maar net so vir Christene wat vandag verdruk word in Noord Korea of verhonger in Zimbabwe of vervolg word in Iran!

Ja, hierdie goddelose strukture en figure het groot mag en groot invloed. Selfs die mag om wondere te doen en baie mense te mislei.... mens dink sommer aan Hitler se blykbaar bonatuurlike vermoëns om die massas te manipuleer! (13:13,14) Dit was so, is so en sal nog in groter mate in die toekoms gebeur! In die finale Antichris sal dit ‘n topput bereik. Wees gereed!

Maar .....Hierdie goddelose strukture gaan nie vir altyd bly voortbestaan nie, maar vernietig word deur die Seun van die mens wat sal kom met groot krag en heerlikheid. (Markus 13:26) Weereens die klem op Jesus en die evangelie gebeure! Alle mag behoort aan Jesus! (Matteus 28:18!)

Johannes gebruik dus Ou Testamentiese taal en beelde om die voleinding van die geskiedenis te beskryf.

Vir nog voorbeelde van Johannes se gebruik van apokaliptiese beelde, lees en vergelyk : Esegiël 1 en Openbaring 4:6-8 (die lewende wesens wat die almagsheerlikheid van God uitbeeld); Sagaria 1:7-17 en die vier perde in Openb 6:1-8 (simboliseer menslike ontaarding en selfvernietiging)**

Wat is die oorkoepelende funksie van hierdie apokaliptiese beelde? Vanuit verskeie hoeke gebruik Johannes hierdie bekende beelde om woordprentjies te teken van die Dag van die Here! Dis die tyd van konflik, maar ook van Goddelike oorwinning en wraak! Dit gaan oor ’n beligting vanuit verskillende hoeke en het niks met kronologiese volgorde te maak nie. Hierdie oorweldigende beelde laat ons verstaan dat geen enkele beskrywing reg kan laat geskied aan die geweldige omvattende aksie van God as Hy die kosmiese rebellie onderdruk, sy vyande uitwis en sy verlostes red nie! Dis net te groot vir woorde en beskrywing! Ontsagwekkend en verbysterend in die uiterste sin!

Die goeie nuus vir die verdrukte gelowiges in hierdie oorgangstyd is dat die wraak van God geen bedreiging inhou vir die verlostes nie! Hoekom nie? Die wraak van God het reeds neergekom op die LAM wat geslag is in ons plek! Wie aan Jesus behoort gaan dus God se wraak vryspring!

Sien die scenario in die geheel : ruiters, trompette, ongehoorde vernietiging, bakke van wraak wat uitgegooi word, wrede diere en valse profete wat oorwin word... alles is deel van die Dag van die Here! Te midde van dit alles is die gelowiges verseël (7:3,4).... absoluut veilig teen God se wraak! As ons vasval in tydroosters of in detail tegniese ontleding van huidige geskiedenis gebeure mis ons die doel.

’n Laaste vraag : Wanneer gebeur hierdie dinge, hierdie stryd en hierdie oorwinning? Die antwoord is : op die Dag van die Here! Dit gebeur nou reeds voor ons oë en sal ’n klimaks bereik met die wederkoms van Jesus.

Loof God vir sy ewige Koninkryk waarvan elke kind van God reeds deel kan wees! God se Koninkryk is ewig. Alle ander “konings” en hulle ryke....Napoleon, Hitler, Stalin, Saddam... Mussolini, Mugabe en.... ja, Malema is net tydelik en kortstondig!

* OAV = Ou Afrikaanse Vertaling 1933/53

** Du Rand p270 Volgens hom verwys die vier perde na vals propaganda, oorloë, hongersnood en dood

Vir die studie in geheel word hoofsaaklik gesteun op Graeme Goldswothy se "Gospel in Revelation"



Donderdag 19 Januarie 2012

LUGFOTO VAN DIE BYBEL Deel 3


Die Koninkryksbeloftes word in JESUS vervul. Hy kom verlos vir God weer ’n Volk (Matteus 1:21) wat God as Koning aanvaar. Daar word ’n nuwe Land, Kanaän (die nuwe hemel en aarde) in vooruitsig gestel. Die oproep tot bekering is ’n oproep om jou aan God se koningskap te onderwerp! Jesus bring dus ‘n einde aan die Ballingskap van God se volk. (Daarom word die Ballingskap waarskynlik so pertinent genoem in die Matteus geslagsregister. Sien Matteus 1:17)

Nog meer heerlik :

JESUS bring nie net die Koninkryk nie, Hy is self die vergestalting van die Koninkryk.

Hy in Homself is waarlik God (Koning), waarlik mens (Volk), Hyself vervang ook die tempel wat die fokuspunt is van die Land en Hyself is die nuwe norm vir ons lewens. Hyself is ons Wet.


Jesus is waarlik God met ons! (Immanuel) God en mens in volmaakte verhouding! Wie in Christus is, staan in volmaakte verhouding met God.

Hy is ons Koning wat by ons is. Bekering beteken om sy koningskap te aanvaar. As Pilatus vir Jesus vra of Hy ’n koning is, dan erken Hy dit, maar maak dit duidelik dat sy Koninkryk nie van hierdie wêreld is nie.(Johannes 18:36)

Jesus is in Homself die  Volk van God. Daarom wys Matteus vir ons hoedat Jesus eintlik Israel se geskiedenis herhaal. Jesus word ook uit Egipte geroep soos die volk Israel. (Sien Hosea 11:1 en Matteus 2:15) Net soos Israel word Jesus in die woestyn versoek. (Matteus 4) Die verskil is net dat waar Israel in die woestyn misluk het, slaag Jesus al die toetse en versoekings! Hy doen dit namens ons wat in Hom glo. Jesus is die begin van die nuwe mensheid, die Volk van God. Die tweede Adam, soos Paulus dit stel. As ek aan Jesus deel kry deur die geloof en bekering is ek ook deel van God se Volk!

Jesus is die ware tempel (die fokuspunt van die Land) Soos die heerlikheid van God in die tabernakel en tempel teenwoordig was, so sien ons nou die heerlikheid van God in Jesus! (Sien Johannes 1:14) Jesus vervang die tempel. (Johannes 2:19-22) Daarom kan ons God net in Gees en waarheid aanbid deur Jesus. Hy is die ware tempel, die ware “ontmoetingsplek” met God! (sien sy woorde aan die Samaritaanse vrou in Johannes 4:21-24) En alle gelowiges vorm deur hulle verbondenheid aan Jesus deel van die tempel. Hierdie waarheid het groot praktiese implikasies : Die kerkgebou is nie die huis van God nie, wel die lewende gemeente in verbondenheid aan Jesus! Hierdie waarheid beteken ook dat géén gebou meer die tempel van God genoem kan word nie.

 

Al bou die moderne staat Israel ook ’n tempel in Jerusalem, het dit vir ons as Christene geen betekenis nie, want Jesus is ons ewige tempel!


Jesus self is ook ons nuwe norm (Wet) binne die konteks van die Nuwe Verbond. Ons moet sy voorbeeld navolg en sy opdragte gehoorsaam. Hyself is ons nuwe standaard, daarom gaan Hy op die berg (soos Moses op Sinaï) en kondig die nuwe grondwet af van die Koninkryk van God! (Die bergrede in Matteus 5-7) Jesus kan daarom telkens gesagvol verklaar : "...maar Ek sê vir julle..."

Al hierdie elemente is Jesus, vir ons, namens ons, wat in Hom glo!

Met Jesus se koms het die Koninkryk van God inderdaad naby gekom! Wie aan Jesus behoort het nou reeds deel aan die Koninkryk van God, al het die finale sigbare vorm van die Koninkryk nog nie aangebreek nie. Daarom kan Jesus sê : "die Koninkryk van God is hier by julle". (Lukas 17:21)

By die VOLEINDING word die Koninkryk van God finaal herstel. Wanneer God (Koning) vir ewig onder sy verlostes (Volk) sal woon op ’n nuwe hemel en aarde (Land). Die hele skepping word herstel! Lees maar Romeine 8:18-25. Jesus se verlossingswerk het kosmiese implikasies! Hy is nie alleen Skeppingsmiddelaar nie, maar ook Herskeppingsmiddelaar! Die gevolg? Alles sal in volmaakte harmonie wees volgens God se wil! (Wet)  Volkome geregtigheid heers in die nuwe skepping. Sien 2 Petrus 3:13,14. Kyk ook na Openbaring 21:1-5 en 22:1-3! Hier sien ons ook hoe die Paradys (land) weer herstel word. Die uitdrukking,“boom van die lewe” is mos Paradystaal. Die boom sal 12 maal per jaar vrugte dra! (Openbaring 22:2) Dis heerlikheid in ’n oortreffende trap! Die heerlikheid van God se nuwe Koninkryk sal permanent wees, want dit word nou uitgebeeld as ’n stad. In Bybelse denkwyse is ’n stad baie meer permanent as ’n tuin! (König) Die vervloeking weens die sonde word opgehef (Openbaring 22:3) en God se verloste volk sal Hom dien. Die woonplek van God is by die mense! Die breuk wat sonde veroorsaak het, is vir altyd weg. Die Koninkryk van God sal voortbestaan tot in alle ewigheid!

Is jy in Christus en so al deel van die verloste volk? Sien jy uit na hierdie heerlike erfenis?

(erkenning aan Graeme Goldsworthy, According to Plan)



Maandag 16 Januarie 2012

LUGFOTO VAN DIE BYBEL Deel 2



In Deel 1 het ons gesien: God se Koninkryk is geskend deur die sondeval. God is egter nog steeds die almagtige Skepperkoning van die heelal en sal nie sy Koninkryk laat vaar nie. Die Bybelse geskiedenis is dus ’n geskiedenis van God se herstel van sy Koninkryk wat uiteindelik uitloop op die VOLEINDING by die wederkoms van Jesus en die skepping van ’n nuwe hemel en nuwe aarde. Ons kan Jesus se werk net verstaan in die groot konteks van die herstel en aanbreek van God se Koninkryk. Dit help ons ook om te verstaan wat bekering is. Bekering is onderwerping aan Jesus die Verlosser-Koning!


Die elemente van die Koninkryk nl. Koning, Volk, Land, Wetstruktuur is sigbaar in die verskillende fases van die heilsgeskiedenis. (Die geskiedenis van God se groot verlossingsdade in die lang proses van die herstel van sy Koninkryk)


Die verdorwenheid van die gevalle mens na die sondeval gaan van erg tot erger. (Gen 6:5) God gryp in met sy skrikwekkende oordele - ’n verwoestende vloed wat die Tsunami van destyds in Japan na kinderspeletjies laat lyk... God laat vaar egter nie Sy plan om sy Koninkryk weer te vestig nie. Die geskiedenis van Noag is die volgende groot fase in die heilsgeskiedenis. God (Koning) red Noag en familie (Volk) en gee aan hulle weer die aarde (Land) om op te vermeerder. Hy sluit ’n Verbond (Struktuur) Die na-sondvloed aarde wys vir ons reeds op die herstel van die hele skepping, die nuwe hemel en nuwe aarde. Vergelyk Gen 1:28 met Gen 9:1,2. (dieselfde opdragte van God aan die mens om sy skepping te vul en te versorg) Ons sien ook reeds dat Verlossing en Oordeel saamgaan. God is ’n genadige God wat verlos, maar almal word nie verlos nie, die meerderheid word veroordeel en vernietig! Dis net ’n oorblyfsel van 8 mense wat oorleef (Die Bybel ken nie ’n eensydige God-is-liefde teologie nie!) Die wat gered word is min - die gedagte van ’n oorblyfsel wat gered word kry ons ook weer later by die profete. Maar ook Jesus self sê die pad is smal wat na die lewe lei en die wat gered word min!

Kyk net hoe word die basiese Verlossingswaarhede reeds in die Ou Testament bekend gestel!



Nadat God die menslike arrogansie by Babel straf (Gen 11) maak Hy ’n nuwe begin in Genesis 12 met Abram. Kyk na die kontraste! (Vergelyk Gen 11:4 met Gen 12:2!) Die mens probeer self vir hom ’n naam maak - (dis waarom die lewe vandag nog draai vir die ongelowiges) , maar God sê vir Abram : “EK sal jou naam groot maak!” (Lees dit in die OAV) 

Hier kry ons weer die koninkrykselemente: God (die Koning) kies Abram en beloof aan hom ’n nageslag (Volk) en die land Kanaän (Land) en sluit met hom ’n verbond (Struktuur van verhouding).


Belangrik : Die verbond met Abram gaan nooit tot niet nie! Die verbond met Abram word nooit “oud” genoem nie, wel die latere Mosaïese Verbond. Daarom word Christene in die Nuwe Testament, kinders van Abram genoem! Galasiërs 3:7, 29!

Abram se nageslag, Israel beland in Egipte. Ons weet hoe het dit gebeur - die geskiedenis van Josef en hoe God dit gebruik het om hulle aan die lewe te hou. Tog skep dit ’n krisis! Hoe so? God se beloftes is onder druk - dit lyk of dit nie gaan realiseer nie, want die volk is onder vreemde heerskappy (onder die farao) in ’n vreemde land (Egipte). Dit lyk asof God se plan om sy Koninkryk te vestig misluk het, dit lyk asos Hy sy beloftes vergeet het, of dat Hy nie die mag het om dit uit te voer nie...

Maar dan na ongeveer 400 jaar, kom daar weer aksie!  Die Uittog onder leiding van Moses! God, die Koning dink aan sy beloftes (sien Eksodus 2:24,25) en red sy Volk (deur Moses) en lei hulle na Kanaän (die beloofde Land). Op pad gee Hy aan hulle ’n Wetstruktuur by die verbondsluiting by Sinaï. Dis die konstitusie van die Koninkryk in hierdie fase van die heilsgeskiedenis.

Die doel van God se redding van sy volk word duidelik uitgespel in Eksodus 19:3-6. (lees dit deeglik)

Die doel van God : God bring hulle na Homself - God red ’n volk om gemeenskap met hulle te hê, om aan Hom te behoort (eiendom), om Hom te dien, om afgesonder te wees vir Hom ! Dis nog steeds die doel waarvoor God mense red!

Vergelyk ook Eksodus 19:3-6 met 1 Petrus 2:9,10. Duidelike parallel! (nou reeds kan jy sien dat God se volk in die Nuwe Testament, nie meer etniese Israel is nie, maar alle ware gelowiges wat aan Jesus behoort!)


In die nuwe Land, regeer God (die Koning) sy Volk deur rigters en later konings volgens die vereistes van die Verbond (Wetstruktuur). (Let op - die volk sowel as hulle leiers is vol mislukkings. Dit laat ons uitsien na ’n Leier wat nie sal misluk nie) Die fokuspunt van God se teenwoordigheid in die land is eers die tabernakel en later die tempel. Dis waar God se heerlikheid in besonder aanwesig is. God sluit ’n verbond met Dawid dat iemand uit sy nageslag altyd sal regeer. Die volk en hulle konings is aanhoudend ongehoorsaam en uiteindelik word hulle in Ballingskap in ’n vreemde land weggevoer en die tempel verwoes.


Die profete (Jesaja, Jeremia, Esegiël ens) profeteer die terugkeer uit die Ballingskap en ook ’n Nuwe Verbond (Jeremia 31:31-34). Hulle voorsien ook die herstel van die tempel. Daar sal ’n Verlossingsfiguur kom, ’n nuwe Dawid (Jesaja 11 ens.) wat sy volk sal verlos en as Koning vir altyd sal regeer. Hy sal terselfdertyd ’n lydende Kneg wees! (Hier is Jesaja 53 uiteraard baie belangrik! Veral vers 5 en 6. Die straf wat vir ons sonde op die Kneg neerkom, bring vir ons vrede!) Daar is net Een Persoon na wie dit kan heenwys, Jesus Christus! Kyk maar, hier is weer die temas van Koning, Volk, Land en Wetstruktuur (verbond)

Hier kan jy nou reeds sien dat so baie lyne na Jesus toe loop. Die hele Ou Testament is soos 'n berglandskap met klomp spruitjies en stroompies, wat bymekaar aansluit en groter riviertjies word en uiteindelik in een groot rivier saamvloei in die see in. Die hele Ou Testamentiese boodskap vertel ons van die noodsaak van Jesus, laat ons uitsien na Jesus, maak uiteindelik net sin in Jesus! Dis die opwindende boodskap waarna ons volgende keer in meer detail sal kyk. (kliek op LUGFOTO 3)

(Met erkenning aan Graeme Goldsworthy : According to Plan)