BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Wysheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Wysheid. Wys alle plasings

Vrydag 09 April 2021

Let go and let God?



Sal God my help? En hoe doen Hy dit?

Hoe help Hy my in tye van rampe, krisisse en kwellings? In tye van persoonlike swaarkry, finansiële moeilikheid, huwelik en gesinsprobleme? Wat is God se rol in my persoonlike stryd teen sonde, moedeloosheid en depressie? Dikwels hoor mens die eenvoudige eenlynige antwoord en eenstop oplossing: "Let go and let God! "Of mens kry die raad : “Gee dit net vir die Here!”

Die bedoeling is dan waarskynlik – vertrou net op die Here en als sal reg uitwerk! Dit klink so wonderlik. So kragtig. Eenvoudig en vroom. Maar is dit regtig die volle Bybelse antwoord? Is dit hoe mens byvoorbeeld ‘n wiskunde eksamen moet benader? Is dit die oplossing vir jou finansiële krisis? Is dit hoe mens jou huwelikskonflik moet aanpak? Is dit die oplossing vir ons (elke kind van God) stryd teen sonde? Of anders gesê is dit die sleutel vir sukses op die pad van heiligmaking? Daardie moeilike pad wat elke kind van God beleef om al hoe meer heilig te word en gelykvormig aan Jesus te word.


Kom ons toets die gedagte van Let go and let God aan ’n paar Skrifgedeeltes binne konteks.


SPREUKE 3:5-7

“Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.

Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.

Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is:”



“Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.

Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.

Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad; (OAV)



As mens so vinnig lees dan lyk dit of “Let go, let God” presies die raad van Spreuke is. Laat alles net aan die Here oor en als sal regkom. Maar dis nie heeltemal wat hier staan nie. Ja, daar moet vertroue op God wees, maar daar moet ook aksie van ons kant wees. Hier is ‘n opdrag -Tree op teen die verkeerde in jou lewe! “Wyk af van die kwaad, vermy wat sleg is.”

Dis vir die verstaan van hierdie teks ook belangrik om na die totale boodskap van Spreuke te kyk. Spreuke gaan oor wysheid. Vertroue op die Here beteken juis dat ek die wysheid wat van die Here kom prakties sal toepas in my lewe. Praktiese stappe neem. En hoe lyk hierdie wysheid? Dis alles behalwe ‘n passiewe “Let go and let God! “ Dis konkrete dade en keuses. Dink maar wat leer Spreuke ons : Ek moet kies om my kinders te tugtig, ek moet wegbly van verleidelike vroue, ek moet nie borg teken vir iemand anders nie ( bly weg van bedenklike finansiële praktyke), ek moet eerlike besigheid doen, ek sal omkopery vermy (17:23) ek moet hard werk, ek moet nie ‘n kermende kywende vrou wees nie – want dan gaan my man my los (Spreuke 21:9) ens. Gaan lees Spreuke en volg daardie raad in die praktyk– natuurlik is dit nie 'n towerstaffie vir gerief nie, maar jy sal die verskil in jou lewe begin agterkom! Kom ons wees prakties – Dit help nie net om te sê – Ek het my finansiële probleme vir die Here gegee nie, maar ek gaan aan om onnodige luukshede te koop, ek is te lui om kos te maak en leef van duur kitskos… Dit help nie ek vra : "Here maak my asseblief heilig", maar ek sit aand na aand voor die TV wat my gedagtes besoedel nie! Dit help nie, ek bid vir gesonder longe , maar ek weier om op te hou rook nie! Spreuke leer vir ons ‘n duidelike balans tussen vertroue op die Here en die praktiese toepassing van sy opdragte. Spreuke leer geen passiewe - “Let go and let God” nie!

ROMEINE 8:12,13.

“Daarom dan, broers, staan ons onder ‘n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.” Hier gaan dit seker oor die grootste stryd in elke kind van God se lewe – die worstelstryd teen sonde. Wat is Paulus se opdrag? Let go and let God? Nee, dis ons aktiewe plig as kind van God om sondige praktyke uit te roei. Hoe doen ons dit? Deur die Heilige Gees. Deur die krag van die Gees. Dit beteken nie dat ons passief is nie. 


Dink aan ‘n windpomp. Heeltemal afhanklik van die wind. Tog is die windpomp aktief betrokke. Die rem moet los wees. Die windpomp kreun so hard werk hy, al kom die energie van die wind. Die Gees gee ons krag, maar ons moet tot aksie oorgaan. Deur die krag van die Heilige Gees sal ek ‘n telefoon optel en ‘n einde maak aan ‘n sondige verhouding!


HEBREËRS 12:4,14

“Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ‘n stryd om lewe of dood geword het nie. Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” 

Weereens geen passiwiteit nie. Die skrywer moedig ons aan. “Julle moet weet hierdie stryd teen sonde is ernstig, dit vat alles van julle – 'n stryd om lewe en dood.” Wat behels dit positief? Beywer julle… weereens volle aksie en betrokkenheid van ons kant af!

2 TIMOTEUS 2:22 

“Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep.”

Hier vind ons praktiese raad vir heiligmaking. Dit vereis aksie, negatief en positief. Vlug weg van als wat verkeerd is. Gebruik jou voete indien nodig. Bly weg van daardie partytjie waar jy versoek gaan word! Positief - Oefen die regte dinge in saam met ander mense wat ook ernstig is oor God!

2 PETRUS 1:3-5

“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.

Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.

En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis,...”

God skenk sy kinders als wat nodig is vir ‘n heilige lewe. Maar hoor dan mooi verder : “Werp alles in die stryd!” Aksie! Dade! Vgl. Filippense 2:12,13 My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”

Ja, alle eer en dank aan God wat ons wil verander en vir ons bekwaamheid gee... Maar dit bring ons tot aksie. Ons moet gehoorsaam raak om te leef soos Hy wil hê!

Die eenvoudige raad "Let go and let God!" word goed bedoel. En as mense daarmee bedoel dat ons nie op onsself moet vertrou nie, maar absoluut in biddende afhanklikheid van God moet leef is dit ‘n groot waarheid. Dit kan egter maklik verkeerd verstaan word – as ‘n tipe passiewe toeskouer Christenskap. 'n Verskoning om nie verantwoordelikheid vir ons woorde en dade te vat nie. Dan is dit in stryd met wat die Woord ons leer. Die Bybelse boodskap is dat ons as kinders van God volkome moet vertrou op Jesus wat my skuld gedra het, dat ons volkome moet vertrou op die Heilige Gees wat in my woon. Maar hierdie vertroue moet oorgaan tot aksie en gehoorsaamheid. As ek mens iemand vertrou, gehoorsaam ek juis sy opdragte. As ek baie vertroue het in my huisdokter gaan ek juis doen wat hy my voorskryf... of dit nou oefening of pille of wat ook al is... Maak dus erns met al die opdragte in God se woord! Vra jouself, wat sê God se Woord oor alle sake in jou lewe. En gehoorsaam!

Vertroue op God beteken nie maar net om in enkele situasies of in tye van moeilikheid op God staat te maak nie. Nee, vertroue op God is 'n LEEFSTYL van dinge doen soos Hy dit in sy Woord beveel. Binne in so 'n verhouding bring Hy wonderlike uitkoms!

Maandag 08 Junie 2020

DUBBELHARTIGHEID

- DIE VLIEG IN JOU VREUGDESALF




[Maak gerus jou Bybel oop by Jakobus hoofstukke 1 en 4]




Is daar vreugde in jou Christenskap, groei en getuieniskrag? Is oorwinnende blydskap ‘n beskrywing van jou geloofspad? Ja, natuurlik, versoekings en beproewings sal daar ook wees. Maar volgens Jakobus is dit nie iets negatief nie. Die toetsing van ons geloof spoor ons juis aan tot volharding, tot vasbyt. Dit is noodwendige trappies wat ons moet klim op pad na volmaaktheid. En in hierdie stryd het ons as kinders van God die voorreg om wysheid te vra. (1:5) Wysheid soos jy weet gaan oor die insig om prakties ons Christenskap uit te leef. Wysheid is die vermoë om God se wil prakties in my daaglikse lewe te implementeer. In ons wedloop tot volmaaktheid (geestelike rypheid) mag ons bid en God sal sonder om ons te verwyt aan ons wysheid gee. Maar dan noem Jakobus ‘n struikelblok. Daar is iets wat kan verhinder dat ons gebede verhoor word. Daar is ‘n vlieg in die salf waarvoor ons moet pasop. Hierdie vlieg se naam is dubbelhartigheid. Dis die groot sondebok, dis die struikelblok wat vreugdevolle Christenskap belemmer. Of dan nou ’n virus wat ons vreugde opvreet. Kom ons bekyk hierdie probleem van naderby uit drie hoeke : 
1) Wat is dubbelhartigheid? 
2) Die gevaarlike gevolge van dubbelhartigheid. 
3) Die oplossing\kuur vir dubbelhartigheid 

WAT IS DUBBELHARTIGHEID? 

“Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. 
Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie- so 'n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.” (Jakobus 1:6-8) 

“Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” (Jakobus 4:8) 

Die woord wat hier in die OAV in 1:8 en 4:8 met dubbelhartigheid vertaal word is δίψυχoς (dipsugos) - letterlik “dubbelsiel, tweesielig.” Dis ‘n goeie beskrywing. In sy verhouding met God openbaar so iemand ‘n dubbele of gesplete persoonlikheid. In Afrikaans praat ons ook sommer van ‘n draadsitter, ‘n manteldraaier. Jakobus gebruik hierdie term in twee kontekste:

Jakobus 1. Dis duidelik dat hy iemand wat twyfel beskryf as dubbelhartig. Nou weet ons dat alle gelowiges tye van wankelende geloof beleef en ons moet gedurig daarteen stry. (Soos Abram!) Tog het hy die beloftes verkry deur die geloof. Dubbelhartigheid is egter iets anders as hierdie van tyd tot tyd stryd teen vertwyfeling, iets anders as ‘n geloof wat soms swak is. Dit gaan hier oor ‘n doelbewuste dubbele ingesteldheid. Aan die eenkant sal ek God uitprobeer deur te bid, maar as dit nie werk nie, is ek heeltemal tevrede om my tot ander bronne van hulp te wend. God is nie werklik my enigste bron van hoop en my enigste objek van verwagting nie. Ek is besluitloos (undecided) in my verhouding met God. Vertroue op God is vir my maar net een van die opsies ‘n Dubbelhartige mens is onbestendig. Daar is geen vaste oortuiging om op die Here alleen te vertrou nie. So ‘n persoon het eintlik nog nooit sy “mind” opgemaak nie! Dubbelhartigheid kom eintlik maar neer op valsheid. (Vergelyk die gebruik van die woord dubbelhartig in Psalm 12:3)* Pasop vir ‘n stuk valsheid in ons verhouding met God! 

Jakobus 4. Hier kry ons verdere insig in die term dubbelhartig. Hier gebruik Jakobus die term vir mense wat beide God en die wêreld probeer liefhê. “Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is.” NAV "Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God." OAV (4:4) Ek is ewe tuis om vandag saam Bybelstudie te hou saam met Christene en môre ‘n dronknespartytjie saam met die wêreld. Met die mond sê hulle dat hulle uitsien na die Koninkryk van God se koms, maar hulle hele lewe is ingestel om hulle eie materiële koninkryk op aarde te bou. Die dubbelhartige wil sy brood aan twee kante gebotter hê - hy wil eendag deel in hemelse heerlikheid, maar hy is so bang hy mis die genietinge van die sonde. Ek wil graag in wees by God se kinders, maar ek wil net so graag in wees by die nuutste giere, modes en neigings van die wêreld. In sy toewyding aan die Here is hy dus wispelturig, onstabiel, rigtingloos, besluitloos, onbeslis, halfhartig, tweeslagtig. Hy probeer gelyktydig op twee stoele sit... Dit lei tot groot ellende... 

DIE GEVAARLIKE GEVOLGE VAN DUBBELHARTIGHEID 

Dubbelhartigheid verongeluk jou gebedslewe. Uit altwee gedeeltes is dit duidelik. God beantwoord nie die gebede van die wat op twee gedagtes hink nie.(1:7,8) Dubbelhartigheid in my verhouding met God lei daartoe dat as ek wel nog bid ek verkeerd bid en dat God nie my gebede verhoor nie. Die gevolg is jy is kragteloos, sonder oorwinning en sonder blydskap. Jy dink dalk jy kan wegkom met dubbelhartigheid. Dubbelhartigheid lei egter tot ‘n vreugdelose, ‘n onvergenoegde lewe. Jy sal altyd ontevrede en ongelukkig wees. Dit lyk amper asof dubbelhartigheid ‘n noodlottige kettingreaksie aan die gang sit. As jy dubbelhartig is bid jy nie met geloof nie of jy bid met die verkeerde motiewe. Dit lei daartoe dat jy onvervuld en geestelike gebrekkig is. Hierdie onvervuldheid en gebrekkigheid maak jou jaloers en afgunstig op ander mense en dit lei weer tot rusies en konflik - ‘n hele gemors omdat jy dubbelhartig is! 


Erger nog, dubbelhartigheid belemmer jou totale verhouding met God. Dit word hier baie sterk gestel “vyand van God” (4:4) God self word jou teenstander! ‘n Dubbelhartige word beskou as iemand wat ontrou is in sy verhouding met God (Daarom praat Jakobus van “egbrekers en egbreeksters” - OAV). Die almagtige God laat Hom nie misbruik nie. God is nie bereid om die tweede plek in jou lewe te vul nie. Hy wil ons heeltemal hê, ons is immers gekoop deur die bloed van Jesus. God se kinders is mos eintlik die aanstaande bruid van Christus. Ons wag dat die bruidegom ons kom haal. Geen aardse bruidegom gaan maar verlief neem dat sy aanstaande met ander mans flankeer nie. Of besluitloos is oor haar lojaliteit nie. Dis ook heeltemal ondenkbaar dat Jesus dit sal duld. As dubbelhartigheid nie genees word nie lei dit skrikwekkende gevolge. Die geskiedenis is vol voorbeelde – die vrou van Lot , die gemeente van Laodicea (Hulle het Jesus naar gemaak!) 

DIE OPLOSSING VIR DUBBELHARTIGHEID 

Jakobus is baie duidelik in sy advies. “Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. 
Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. 
Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog." (4:8-10) 

Wat nodig is om van hierdie vlieg ontslae te raak is totale verootmoediging en bekering! 

Gaan word stil op jou knieë. Laat jou gedagtes teruggaan na die kere van valsheid, van dislojaliteit, van ongehoorsaamheid. Aktiveer jou gewete, dink bietjie na oor jou ontrouheid. Besef jou lewe snel verby en daar is geen vreugde en vrug nie. Wees in ‘n toestand van rou. 

Wanneer laas het jy in jou binnekamer voor die Here gehuil of getreur? 

Bekering sal behels dat ek my aan die Here sal onderwerp met ‘n volkome hart. Die teenoorgestelde van dubbelhartig is enkelhartig. Plaas jou verwagting en vertroue op die Here alleen. Prakties - breek die brûe van sonde agter jou af. Raak ontslae van verkeerde gewoontes, vriendskappe en verhoudings! Werp jouself in nederigheid op die genade van God in Jesus Christus! Klou opnuut weer vas aan die kruis as enigste hoop! 

*Psalm 12:3 OAV “Hulle praat leuens, die een met die ander; met vleiende lippe spreek hulle dubbelhartig.”