BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Toorn. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Toorn. Wys alle plasings

Dinsdag 08 Junie 2021

VERGEET DEUR DIE KERK

  - JA, DAAR IS 'N WOORD WAT STILWEG DEUR DIE KERK VERGEET IS!

'n Woord wat mens baie selde van kansels af hoor. En letterlik ken die meeste van ons jong lidmate glad nie eers meer die betekenis van die woord in Afrikaans nie. Dis egter ‘n woord wat gebruik is deur die heiliges van beide die Ou en die Nuwe Testament. Johannes die Doper het dit ook gebruik. Ons lees daarvan in sy prediking in Lukas 3:1-19 (lees dit gerus eers deur in jou Bybel)

Wat is dit?  TOORN



  Die woord het so skaars geword, kom ons kyk net eers wat dit beteken. Toorn gaan oor God se heilige regverdige woede, wraak en oordeel.  Dis nie ‘n sondige wispelturige onbeheerbare uitbarsting van woede  soos ons by mense kry nie. Dis God se heilige afsku van als wat sleg en verfoeilik is omdat God waarlik God is en net   GOED en HEILIG is! 


Johannes die Doper gebruik hierdie woord in die konteks van die komende oordeel. (9)

God se toorn is deel van wie Hy is, soos Hy Homself openbaar het in die geskiedenis, in die mond van sy profete , deur die laaste groot profeet Johannes die Doper maar, ook in die geskrifte van die apostels. Ja, dis deel van God se liefde, want sy liefde is gekant teen als wat sleg is!   Kom ons vat die pad vanaf die Ou Testament.

Voorbeelde uit die Ou Testament

 "Jy mag nie ander gode aanhang nie, ook nie gode van die volke in jou omgewing nie,want die Here jou God eis onverdeelde trou aan Hom. Hy is by jou, en as jy ander gode aanhang, sal sy toorn teen jou ontvlam en sal Hy jou van die aarde af wegvee."  (Deuteronomium 6:14,15)

"Die dag van die Here het nou gekom, dit is ‘n wrede dag, ‘n dag van gramskap en gloeiende toorn, ‘n dag waarop die land verwoes en sy sondaars uitgeroei word." (Jesaja 13:9)

 “My volk het koring gesaai maar dorings geoes, hulle moeite was tevergeefs. Hulle staan verslae, sonder oes, want die gloeiende toorn van die Here het hulle getref.” (Jeremia 12:13)

Nuwe Testament

Nou redeneer mense : “Ja, maar dit was voor Jesus se kruis. Ons leef nou mos na die kruis. Nou bestaan die toorn van God mos nie meer nie. Nou leef ons in die Nuwe Testament. Die tyd van Jesus en sy kerk en dis net liefde sonder toorn.”  Vriend, wees vriendelik gewaarsku, dis ‘n vals idee. As Paulus die evangelie verduidelik in Romeine dan doen hy dit teen die agtergrond van die toorn van God. Dis waar hy begin :  “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.” (Romeine 1:18)

En terloops dis in hierdie konteks dat hy daarop wys dat God die mens weens sy ontkenning en minagting van God oorgegee het aan dit wat boos en onbetaamlik is... en heel eerste noem hy dan die gruwel van mense wat die natuurlike geslagsverkeer tussen man en vrou verander na ‘n onnatuurlike verkeer tussen vrou en vrou en man en man! 



Hierdie verskriklike verval en verdierliking van die mens is juis deel van God se uitgieting van sy toorn oor ‘n sondige mensdom.





Dis die deurlopende boodskap van Genesis tot Openbaring is  - sonde wek God se toorn op en Hy straf dit. Die uitdryf van Adam en Eva uit die paradys, die vervloeking van die aarde, die verwoesting deur die sondvloed in die tyd van Noag, die uitwissing van Sodom en Gomorra,  die oordele oor Egipte en later die Kanaäniete, God wat telkens sy eie volk straf met oorloë en hongersnood, die verwoesting van Jerusalem en die tempel, die uitdryf van Israel uit hulle land en die wegvoering in ballingskap... Ja, ook die sterwe van Jesus aan die kruis en die finale oordeel met die skeiding van skape en bokke.  Die ewige hel! Dit alles maak net sin vanweë God se regverdige TOORN teen sonde! 

GENADE

Maar dis ook net teen hierdie donker agtergrond (van God se toorn) wat die genade sin maak en heerlik helder skyn!. Dis waarom Jesus gekom het, om ons van die toekomstige toorn te verlos.  Paulus skryf hieroor aan die  Christene  in Tessalonika... “Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien  en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.”  (1 Tessalonisense 1:9,10)

Wat van my en jou? Het ons al besef ons sonde wek God se toorn? Ja, ook die dinge wat die gemeenskap oor grappe maak (dronk word, los verhoudings) en maar stilswyend aanvaar. Ook die dinge wat deur Hollywood en die Huisgenoot goedgepraat word. Laat ons maar weet : God sal nooit sonde goedpraat nie, God sal nooit sy standaarde by ons sondigheid aanpas nie...

Mense is vir baie dinge bang.... vir die Sjinese virus, ekonomiese ineenstorting, vir die donker wolke van wanbestuur, korrupsie  en anargie. Ons moet eerder  bang wees vir God se toorn. 

En ja in sy liefde het God inderdaad vir ons 'n uitkoms gegee!

Die enigste skuilplek  is Jesus!   Die volledige vergifnis in Hom is ons enigste hoop. Draai jou rug op sonde vlug na Hom. Vlug soos Lot die opdrag gekry het om uit Sodom te vlug weens die aankomende toorn en  wraak van God. Hy het reageer, maar sy aanstaande skoonseuns het gedink dis ‘n grap. (Genesis 19:14) 

Het jy al van sonde gevlug en kom skuil by Jesus?

et jy al kom skuil by jesus?Het HHHHH


Terug by Johannes die Doper. Was Johannes dan net ‘n verdoemende oordeelsprediker? NEE. Nee hy was nié ‘n tipiese raasbek helvuurnar nie. Hy was  volgens Lukas ‘n verkondiger van die evangelie, die goeie nuus! 

Maar neem kennis, die verkondiging van God se toorn is deel van evangelieverkondiging in die volledige sin van die woord. En belangrik,  Johannes het nie net van die toorn van God gepraat as dit vir hom veilig was nie. Nee hy het hierdie boodskap van God se haat vir sonde persoonlik aan Herodes oorgedra. Herodes het sy broer se vrou gevat en Johannes het hom dapper aangevat!  “Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het.” (19) Ons weet dit het uiteindelik sy lewe (kop) gekos! 


Ware profete van die volle waarheid van God soos Johannes die Doper is skaars. Dis net hulle wat durf praat oor die komende oordeel en toorn van God! Die rede is eenvoudig : Normaalweg kry hulle nie erepennings, eredoktorsgrade of Nobelpryse nie, nee, hulle koppe eindig op skinkborde! Die skinkbord van openbare veragting, familie verwerping  of  selfs sinodale uitsluiting en isolasie!  Maar dit maak nie saak nie - ons moet erns maak met die volle waarheid van God se Woord!

Belangrike naskrif!  Miskien het jy nog steeds 'n beswaar : "Ja, ek verstaan dat God toornig kan wees, maar
TOORN is nog steeds nie vir my 'n woord wat by Jesus pas nie! Jesus is tog so sag en liefdevol. Hy is tog die LAM!"  Jy is reg vriend, Jesus is inderdaad liefdevol. Die Lam wat sy lewe vir ons geoffer het! Maar ons lees inderdaad direk van sy TOORN. Mense sal eendag in angs vir sy toorn probeer wegkruip. Ons lees in Openbaring 6:16 - "
Hulle het vir die berge en die kranse gesê: "Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam."

Saterdag 01 Augustus 2020

JI PACKER


EN DIE AANNEMING TOT KINDERS

[JI Packer (1926-2020) is verlede maand oorlede. Hy was ‘n behoudende Anglikaanse teoloog en kampvegter vir die waarheid*. Sy bekendste werk is seker sy blitsverkoper, Knowing God. Ek deel hieronder enkele gedagtes uit die boek oor die heerlike onderwerp van aanneming tot kinders.]

Het jy besef? God neem verloste sondaars aan as sy eie kinders!

 

 “Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;"  (Romeine 8:15,16)

Die vraag “Wat is ‘n Christen?” kan op baie maniere beantwoord word. Die rykste antwoord is : ‘n Christen is iemand wat God as sy eie Vader het.  

Net terloops, nie alle mense is kinders van God in hierdie sin nie. Inteendeel Paulus stel dit duidelik dat ons almal, voor ons redding deur Jesus, kinders van die toorn was. Met ander woorde ons het onder God se oordeel en raak gestaan.  “…en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.” (Efesiërs 2:3) 

Die aanneming tot kinders is ‘n uitsonderlike stuk genade en  die grootste voorreg wat die evangelie ons bring. 

Ja, daar is ook ander voorregte. Soos vryspraak. Ons ken die betekenis….Regverdiging, vryspraak (justification) is ‘n forensiese saak.  Dit gaan oor die wet en oor God as regter. In die vryspraak spreek God ons vry van al ons skuld via ons geloof in Jesus op grond van sy volmaakte skuldoffer en boetedoening aan die kruis. Dit beteken , ek wat glo staan onskuldig, strafloos voor God omdat Jesus my straf gedra het. Dis heerlik.  Genadig! 

Aanneming tot kinders gaan egter nog verder. Dis ‘n familiesaak. Hier gaan dit nie oor die wet nie, maar oor liefde, nie oor God as Regter nie, maar oor God as Vader. Die aanneming tot kinders behels dat God ons in sy eie huisgesin opneem, ons word aangeneem as sy kinders en hanteer as sy erfgename! “Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.” (Galasiërs 4:7) 


Ons hele praktiese Christelike lewe word beheer deur hierdie wonderlike waarheidsfeit. Ek is ‘n kind van God. Ons gaan spesifiek kyk hoe dit in die bergrede uitgespel word in praktiese terme. God se familiekode.

 Kom ons kyk na drie praktiese terreine in ons lewens waar die besef dat God ons Vader is ‘n reuse verskil sal maak:

1. Hierdie feit van kindskap bepaal my gedrag en lewenswandel.

 

Op 3 maniere beïnvloed ons kindskap van die Vader ons gedrag:

 

As kinders is ons nabootsers van die Vader. Jesus leer -"Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerddoen.” (Matt 5:44,45) As kinders moet ons die karaktereienskappe van die Vader vertoon . Terloops, as ons vol van vrees is, as ons dronk word, as ons te lui is om op ‘n Sondag na die Vader se woorde te kom luister... wat vertel dit vir die wêreld van ons Vader? Gaan iemand God eer omdat jy dronk word?

As kinders moet ons die Vader se naam eer aan doen. Anders gestel ons moet Hom verheerlik. As mense na ons gedrag kyk, moet hulle sê : “Kyk watse goeie Pa het hy!”  Hoor Jesus se woorde -  “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik." (Matt 5:16)  Word ander mense na God toe getrek deur jou voorbeeld en gedrag. Of stoot jy hulle weg van God en die evangelie? 

As kinders moet dit ons begeerte wees om ons Vader gelukkig te maak. Dink bietjie mooi – Is jou Hemelse Vader gelukkig ... met jou gedagtes, met jou grappe langs die braaivleisvuur, hoe jy jou geld of tyd bestee? As ons goeie dinge doen moet ons nie na mense se goedkeuring soek nie, maar die Vader se goedkeuring in gedagte hou. Sy beloning is wat tel! "Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.” 6:1 Die implikasie is dat wat God van ons dade dink, dis wat saakmaak! 

2. Hierdie feit van kindskap is die basis van my gebedslewe. 


Ons vrymoedige gebedslewe berus op die voorreg dat ons God ons Vader kan noem. Dis die spesiale voorreg van God se kinders in die Nuwe Verbond om God as Vader aan te spreek as ons bid. Dink maar aan die “Onse Vader” gebed wat Jesus sy dissipels geleer het. (Dit was nie so in die Ou Verbond nie!) Die Vader is altyd toeganklik vir sy kinders. Hy weet wat ons nodig het en wil die beste vir ons gee. Dit impliseer natuurlik nie dat ons altyd kry wat ons wil hê nie, want ons vra dinge wat nie altyd die beste is nie. (Weens onkunde, selfsug, sondige begeertes ens.) En tog, kind van God kan jy seker weet dat die Vader net jou beste belange op die hart dra! Jy hoef nooit daaraan te twyfel nie! “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” (Matteus 7:11) 

3. Hierdie feit van kindskap bepaal my geloofsvertroue op God om in al my behoeftes te voorsien.


Ons hemelse Vader is ‘n omvattende versorger soos enige goeie Pa, net baie meer. Jesus verseker ons -"Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matteus 6:31-33) 


Miskien moet elkeen van ons weer opnuut gaan dink : Is ek ‘n kind van God deur my vertroue op Jesus en sy offer? As ek daarvan seker is wat is die heerlike implikasies dat ek die Almagtige en liefdevolle God, my eie Vader kan noem? 





*In 2002 toe die sinode van die Anglikaanse diosees van New Westminster in Vancouver goedgekeur het dat sy biskop selfdegeslagverbintenisse mag seën, was Packer een van die sinodegangers wat in protes uitgestap het. Sy rede vir hierdie drastiese optrede was soos volg : 

“Because this decision, taken in its context, falsifies the gospel of Christ, abandons the authority of Scripture, jeopardizes the salvation of fellow human beings, and betrays the church in its God-appointed role as the bastion and bulwark of divine truth.”



 


Woensdag 08 April 2020

IS JY VEILIG?


- ‘n kort Paasoordenking. 


Is jy veilig? Ek bedoel nie veilig teen ‘n virus, siekte, diefstal of finansiële skade nie… Ek wil weet of jy veilig is teen die oordele, wraak en toorn van God? Miskien dink jy dis dalk ‘n onsensitiewe of onverantwoordelike vraag. Jy wonder : “Moet mens dan nou bang wees vir God? Is God dan ook ‘n God van wraak?” 

Kom ek probeer verduidelik… Laat jou gedagtes teruggaan na Egipte, Moses, die tien plae… God het Egipte gestraf met die plae juis om die vryheid van sy volk te bewerk. Om die magteloosheid van die Egiptiese gode aan te toon. Die tiende plaag sou die vreeslikste wees… God sou elke huis in Egipte met die dood tref, sonder uitsondering… Maar God voorsien ook uitkoms, ‘n reddingsplan vir sy volk. Elke huis moes ‘n jaaroud ramlammetjie slag en die bloed aan die deurkosyne smeer. 

“Die bloed aan die huise waarin julle is, sal ‘n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie.” (Eksodus 12:13) 

Die saak was baie duidelik en eenvoudig, die paaslam sterf in die plek van die eersgeborene. Die paaslam se lewe word geneem sodat iemand anders kan bly leef! God se wraak gaan verby as Hy die bloed van die lam sien. 

Veiligheid het afgehang van een saak – DIE BLOED VAN DIE LAM aan die deur. Veiligheid is verseker deur GEHOORSAAMHEID aan GOD SE REDDINGSPLAN! 

God se oordele gaan hierdie wereld tref! 

Trouens, dis reeds in ‘n sin besig om te gebeur aardbewings, rampe, oorloë, pandemies... Die feit van God se heilige wraak is ook ‘n waarheid van die Nuwe Testament – God is toornig op die sondige wêreld. “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.” (Romeine 1:18) God is kwaad oor alle miskenning van sy eer, goddeloosheid, skending van die huwelik (egbreuk en saamblyery), bandeloosheid, onreg, bedrog... 

Die huidige ellendes, oorloë, peste en pandemies is maar net ‘n klein voorsmakie van die finale oordeel en ewige straf.


Maar God het weereens in sy liefde en genade ‘n plan aangekondig om ons van hierdie oordeel te vrywaar. Om ons te bewaar en ons te red. 

God se reddingsplan is weer bloed. Die bloed van die volmaakte PAASLAM , Jesus Christus. 

Dit was immers nie toevallig dat Jesus tydens die Joodse Pasga (wat die gebeure van lank tevore in Egipte herdenk het) gekruisig is nie. Terwyl duisende Paaslammers geslag word, vloei die bloed van die volmaakte Paaslam, ons Verlosser Jesus Christus. Net die bloed van Jesus beveilig ons teen God se oordele! 

Jesus ondergaan die doodstraf in my plek. 


Jesus sterf sodat ek vir ewig veilig kan wees! “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God” (Efesiërs 1:7) 

Hierdie boodskap moet persoonlik aanvaar en geglo word, anders gaan die oordeel van God jou tref! Blote lidmaatskap van een of ander kerk is nie goed genoeg nie. 

Het jy al persoonlik jou vertroue op die gekruisigde en opgestane Jesus geplaas of maak jy dalk jou eie planne om die oordeel van God te probeer ontvlug? 

Niks anders kan ons beveilig teen God se regverdige wraak nie... nie ons ordentlike lewe, Bybelkennis, goeie voornemens, vriendelikheid of godsdienstigheid nie... net die kosbare bloed van ons volmaakte Paaslam! Net Jesus red ons van die komende oordeel. So skryf Paulus aan God se kinders in Tessalonika :“Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.” (1 Tess 1:9,10) 

Die grootste gevaar op hierdie oomblik is nie ‘n siekte, geldnood of ander ellendes nie, maar God se regverdige oordeel! Maar die mensdom besef dit nie...

Ek vra weer : Is jy veilig? 

Is die bloed van die Lam al aan jou deur?

(En terloops, dit het niks te make met hierdie nuwe gier om huise en selfs klaskamers sogenaamd “uit te salf nie”. Dit klink my baie na bygeloof. Daar is geen opdrag binne die Nuwe Verbond om so iets te doen nie. Ons word verlos deur die bloed van Jesus deur Hom te aanvaar as ons Verlosser, deur in Hom alleen te glo. Vgl. Johannes 1:12) 

As jou antwoord , “JA” is kom ons vier ons verlossing met die Nagmaal waardeur ons weer opnuut verseker word van die algenoegsaamheid van Jesus se kruisdood as ons redmiddel. Weens sy volmaakte offer en NET dit kan ek weet ek is VEILIG!

Om te luister kliek op PAASOORDENKING



Dinsdag 04 September 2018

SKOKKEND : Ussa sterf

omdat hy sy hand na die verbondsark uitsteek. Hy wou keer dat dit nie afval van die wa nie en God tref hom onmiddelik met die dood! Dis ‘n verhaal (2 Samuel 6) wat vir ons ongemaklik laat voel, onverstaanbaar en onregverdig klink. Ussa keer dat die ark nie op die grond val nie. Tog sekerlik ‘n goeie daad? Ons verwag dat hy dalk ‘n stem uit die hemel sou hoor wat sê : “Dankie Ussa!” In plaas daarvan word Ussa deur God gedood. Summiere teregstelling op die plek! 



“Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel. 

Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis*, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God.” (2 Samuel 6:6,7) 

Wat het hier gebeur? Was God onregverdig of dalk erger, in ‘n slegte bui of wispelturig? Ons moet onthou die verbondsark (‘n Goue kis met die tien gebooie daarin, met ‘n goue deksel waarop twee gerubs was.) was ‘n besonder heilige voorwerp. Sy normale plek was in die allerheiligste, die heel heiligste deel van die tabernakel waar die hoëpriester net een maal per jaar mag ingegaan het. God het duidelike voorskrifte gee t.o.v. die vervoer van die verbondsark. 

"Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns nader kom. Hulle moet die voorhangsel wat as bedekking dien, afhaal en die ark waarin die getuienis is daarmee toemaak. Hulle moet ‘n seil van gebreide vel daaroor gooi, en dit met ‘n groot blou doek toemaak. Dan moet hulle die draaghoute weer insteek...Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns eers die gewyde voorwerpe saam met hulle gereedskap toemaak, en dan moet die Kehatiete nader kom om dit te dra. Hulle mag nie aan die gewyde voorwerpe raak nie, want dan sal hulle sterwe. Hierdie voorwerpe van die tent van ontmoeting moet deur die Kehatiete gedra word. (Numeri 4:5,6,15!) 

Om te raak aan die ark of een van die heilige voorwerpe was strafbaar met die dood! Dit was ‘n duidelike Goddelike bevel! Die ontwerp van die ark self het dit al inherent duidelik gemaak. Daarom was daar ringe aan die ark met draaghoute sodat by die vervoer van die ark niemand daaraan sou hoef te raak nie! Die ark moes dus gedra word! (Hulle het dit baie goed besef - sien vers 13) Daar is geen voorsiening gemaak vir vinnige vervoer op ‘n wa nie. Die ark was meer as maar net nog ‘n houtkis, dit was die setel van God se heilige teenwoordigheid. "...Dit is die ark waaroor die Naam: "die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon", uitgeroep is." (2) Dis op die deksel van die ark waar die hoëpriester die bloed van die jaarlikse versoenoffer moes sprinkel! 

DIS GEVAARLIK OM TE VERGEET DAT GOD HEILIG IS! 

A Ussa sterf, sterf hy dus nie onskuldig nie. Hy het ‘n duidelike voorskrif en wet van God oortree. Hy sterf as iemand wat God se waarskuwings geïgnoreer het. Die doodstraf wat Ussa kry is nie onregverdig of onredelik nie. Dit was nie ‘n gril of bevlieging van God nie. Dit was niks buitengewoon nie. Wat wel skokkend voorkom is die skielikheid en finaliteit van hierdie straf. 

Die eintlike rede waarom ons geskok en dronkgeslaan word deur die verhaal van Ussa is omdat ons nie die Bybelse begrippe van heiligheid, geregtigheid, sonde en genade reg verstaan nie. Anders gestel ons as mense is kansvatters wat God se genade misbruik en dink dat genade iets is wat ons verdien. Ons raak mak vir God. “Ag, dis mos vanselfsprekend, God sal en moet my mos genadig wees,” is die gedagte diep in ons agterkoppe! 

RC Sproul in sy boekie “The Holiness of God”** gebruik ‘n uitstekende voorbeeld om hierdie arrogante houding te illustreer: Hy het 250 studente in sy OT klas gehad. Sy studente moes drie take voltooi. Hy het vooraf die inhandigdatums deurgegee en dit duidelik gestel dat as die taak nie op die regte tyd ingehandig word nie, jy ‘n druipsimbool (F) daarvoor sou kry. Die eerste taak moes op die laaste dag van September in wees. 225 van die 250 studente s’n was betyds. Die ander 25 het bewend en beangs vir uitstel gepleit. RC het toegegee aan hulle pleidooie en uitstel gegee. Die studente was baie dankbaar en vol mooi woorde en beloftes! Toe kom die einde Oktober. Net 200 van die 250 was betyds. Die ander was senuagtig, maar glad nie paniekerig nie. Weer vol verskonings, verduidelikings en mooi beloftes. Weer was RC hulle genadig. “Maar onthou”, het hy gesê, “geen uitstel die volgende keer nie. Dan druip julle die taak as julle laat is!” Die studente was baie bly : “Prof Sproul, ons is lief vir jou, jy is wonderlik!” RC was nou hulle held! ‘n Regte Mr. Popularity!

Raai wat het gebeur aan die einde van November met die inhandiging van die derde taak? Net 150 van die 250 se take was betyds in! “Waar is julle take?”, het hy gevra? Een het geantwoord : “Moenie worry nie prof. ons werk daaraan…” Toe het RC sy punteregister gevat en die name begin aflees. Die wat nie ‘n taak ingegee het nie, het ‘n F gekry. Die studente was verontwaardig en het hardop geprotesteer. “Dis nie billik nie!” RC het met ‘n spesifieke student gepraat. “Jy sê dis nie billik nie?” “ Nee!”, antwoord die student. “Wel, wil jy regverdigheid hê? “Ja” “Goed, as jy daarop aandring,sal jy dit kry. Verlede keer was jou taak ook laat. Ek gaan jou nie net hierdie keer ‘n F gee nie, maar ook vir die vorige taak. Ek sal jou vorige punt verander na ‘n F, want dis wat jy regverdiglik verdien.” Die student was stomgeslaan. Geen argumente nie. Hy het om verskoning gevra en was te dankbaar om net een F te kry in plaas van twee. 

Die studente (en ons) vat genade as vanselfsprekend op! Ons dink ons verdien genade, ons moet genade kry. Nee, genade word nie verdien nie. God skuld ons ook nie genade nie. Ons verdien straf en oordeel. Ons verdien die straf van Ussa! God se toorn is oor ons en dis ‘n regverdige toorn, want ons is skuldig aan die oortreding van sy wette. 

GOD SKULD ONS NIE GENADE NIE; HY SKENK DIT WEL! 

Nou hoor (sien) ons hier aan die nagmaalstafel hoe God se toorn vir Jesus aan die kruis getref het! Ons hoor hoe die Goddelike wraak vir Jesus getref het in ons plek en dat ons vry kan wees van skuld en straf! Maak dit ons dankbaar? Of dink ons dat ons kanse kan vat met God se heiligheid ? God skuld nie vir ons genade nie, Hy skenk vir ons genade deur Jesus. Hy hoef ons nie te spaar nie, dis sy goedheid en guns. Hoor wat sê God vir Moses. “...want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.” (Eksodus 33:19) 

Genade is regtig genade! Vrye onverdiende guns alleen! Maar pasop, Hy is nog dieselfde heilige God! Ons moet Hom nie tart nie. Ons moenie kanse vat nie. Ons moenie dink ons verdien genade of is geregtig daarop nie. Oor genade kan ons net oneindig dankbaar wees! 

Die Nagmaal vertel ons van genade. Jesus het in my plek die toorn en straf gedra. Sy liggaam is vir my gebreek, sy bloed het vir my gevloei! Maar die Nagmaal is juis ook die heilige Nagmaal. Ons moet dit nie ontheilig deur dit ongeërg of onnadenkend te gebruik nie. Ons moet dit nie ontheilig deur onberouvol te volhard met sonde en ongeloof nie! Onthou wat het met Ussa gebeur! God is nog dieselfde heilige God wat bedoel wat Hy sê! 

*Heiligskennis is die skending of ontering van iets wat heilig is. (Eng = sacrilege) 

**p124ev 


Donderdag 09 Augustus 2018

HUIL JESUS OOR JOU?

BENUT BETYDS DIE GENADE, WANT GENADETYD KAN VERBYGAAN! 


Jesus huil. Die Seun van God is in trane. Waarom? Ons vind hierdie gebeurtenis in Lukas 19:41-45. Ons is hier by die intog van Jesus in Jerusalem m.a.w. kort voor sy gevangeneming en kruisiging. Huil Jesus oor die pyn en dood wat vir Hom wag? Is Jesus hartseer oor die afskeid wat Hy moet neem van sy moeder, sy dissipels? Nee, Jesus huil oor die goddelose stad Jerusalem. Wie is hulle? Afgodsdienaars, rowers, heidene? NEE! Verbondsmense, tempelgangers en Skrifkenners aan wie die beloftes van genade behoort. 

“Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: "As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor.” (41,42) Jesus is bitterlik bedroef, want hulle het die tyd van genade, die geleentheid tot redding by hulle laat verbygaan. Hulle was blind vir die genadekans wat na hulle kant toe gekom het. 

GENADE ONBESKRYFLIK GROOT SOOS BELOOF IN DIE VERBOND 

Wat ’n heerlike ding is genade tog nie! Genade beteken God kom besoek ons met onverdiende guns alleen. “En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.” (44 OAV) Hy besoek ons om ons te red. God besoek vir Jerusalem en ons om redding te bring. Jerusalem het hierdie kans laat verbygaan. God het genade beloof in die verbond met Abraham, Isak en Jakob. Dis hierdie genadeverbond wat God tot aksie laat oorgaan het om die volk destyds uit Egipte te red. “Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.” (Eksodus 2:23-25) 

As ons die lofsang van Maria lees dan sien ons, God se verbondsbeloftes is ook die rede hoekom Jesus deur God gestuur is! “Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid." (Lukas 1:54,55) 

Jesus se koms na hierdie wêreld, sy menswording, maar ook sy kruis en opstanding is ‘n vervulling van die verbondsbeloftes aan Abram. 

God besoek ons ook in genade deur Jesus. Hy sê vandag vir jou: “My Seun het al julle sonde op Hom geneem. Hy het die straf gedra. Hy het alles volbring. Hy het alles gedoen wat nodig was om vergifnis te bewerk. Hy het die volle prys betaal.” Hierdie genade maak ‘n appèl op elkeen wat hoor... 

Genade nooi ons : “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Matteus 11:28) 

Genade verseker ons : “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Johannes 6:37) 

God se genade is volledig en heerlik. Die slegste mens wat bestaan kan dit nou op hierdie oomblik ondervind. Miskien is jy tans betrokke in ‘n buite egtelike verhouding, besig met bedrog, vol haat en bitterheid of dalk net ’n klipharde onbekeerde vorm godsdienstige.... Genade is nommerpas vir jou! As jy God se geskenk in Jesus aanvaar en Hom dank vir sy dood, staan jy op van jou rekenaarskerm of selfoon as ’n mens wat in God se oë nog nooit gesondig het nie! Doen moeite en gaan lees Hebreërs 8:12! 

Genade skenk volkome vergifnis en maak van rebelle kinders van God! 

Dis hierdie genade wat die vuil besetene van Gadara wat tussen die grafte gewoon het nuut gemaak het. 

Dis deur God se genade dat die Samaritaanse vrou met haar vyf mans van die verlede en sondige saamblyverhouding, lewende water by Jesus gekry het 

Dis deur genade dat die skelm Saggeus ‘n kind van Abram geword het. 

Genade is oneindig in omvang! Kom ons sê dit weer - vir die ergste sondaar op aarde kan ek nou verseker : “Glo in Jesus en jy sal gered word!” 

GENADE KAN MISGELOOP WORD 

Die genade aanbod is egter beperk in tydsduur - Dit kan onbenut verbygaan, misgeloop word, verpas word! Jesus self wou so graag dat Jerusalem se mense God se genade ontvang. Hy het ‘n hart vir hierdie stad gehad. Hoor die versugting van sy hart... "Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!" (Lukas 13:34) 

God se genadetyd kan tot ‘n einde kom en dan begin sy onafwendbare oordele. Baie mense glo dit nie – “God is mos liefde.” Die Bybel leer duidelik dat diegene wat sy genade aanhou verwerp onder sy oordele gaan deurloop. 

Dit was letterlik die geval met Jerusalem - Jesus kondig Jerusalem se oordeel aan : “Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie." ( 43,44) Dit het toe gebeur...

Die verbondsteken aan hulle liggame het nie die Romeine se swaarde gekeer nie! Hulle bevoorregte status het nie God se oordele afgeweer nie! 

Deur die eeue heen het dit gebeur dat God se genadetyd verbygaan en dan kom sy oordele. Dit het gebeur tydens die sondvloed, dit het gebeur met Sodom en Gomorra, met Israel en met Juda .... menseslagtings, ballingskap... Ja, Jesus se oordeelswoorde oor Jerusalem is letterlik vervul in 70nC. Dit was 'n afgryslike slagting en ongekende verwoesting...

Die punt is : Daar kom ‘n tyd wanneer God sê : “Genoeg is genoeg!” Al die oordele, oordele, rampe in die geskiedenis wys heen na die werklikheid van Goddelike oordeel. Dis als ’n voorfilm vir die groot finale oordeel. 

Genadetyd kan verbygaan! Ons moet mense ook hierteen waarsku, maar ons moet dit nie met ’n harde selfgeregtigheid doen nie, maar met bewoënheid soos Jesus. 

KLIM OP! 

Geliefdes ons bly geestelik gesproke in ’n beleërde stad. Die stad se naam is hierdie sondige wêreld. God se skrikwekkende toorn het die stad reeds omsingel. Hy staan gereed om die goddelose wêreld finaal te oordeel en vir ewig te straf. Maar op hierdie oomblik staan ’n trein gereed. Dis ‘n GENADETREIN! Dis die trein van God se verbondsbeloftes. Dis die laaste en enigste ontvlugting uit hierdie verdoemde stad. Die trein se naam is eintlik JESUS. Het jy al opgeklim? Voor Hom gebuig? Sy beloftes geglo en toegeëien? Talm jy? Huiwer jy nog? Waarom langer wag? Die trein kan enige oomblik vertrek. Dan is die laaste kans vir ewige verby... Dan kan die verbondsbeloftes nie meer troos bring nie..

KLIM JY?


Saterdag 26 Julie 2014

WAAROM DIEN JY GOD?

- “Laat my tog U heerlikheid sien!


Waarom is jy ‘n Christen? Wat verwag jy om uit die “deal” te kry? Wat beteken dit vir jou, wat bring dit jou in die sak? Waarom dien jy God? Wat is jou doel met jou godsdiens? Is dit om beter gesondheid te geniet, geriefliker te lewe en dalk iemand te hê om vir jou te sorg? Miskien voel jy dit gaan darem jou daartoe bring om moreel ‘n beter mens te wees, om darem ordentlik volgens reëls en norme te kan leef? Miskien hoop jy dat godsdiens jou gaan help om groter geluk op aarde te beleef, of ten minste darem eendag die hel vry te spring? Sommige van hierdie dinge kan wel soos God dit wil byvoordele wees, maar daar is ‘n baie groter en meer fundamentele rede...

In Romeine 1 dring Paulus deur tot die kern van die saak. Paulus se doel met hierdie brief is om die evangelie sistematies te verduidelik. En waar begin hy? Na sy inleiding (vgl. Die kragtige uitspraak in 1:17) begin hy by die toorn (heilige wraak) van God. Lees dit saam met my...

1:18 God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.
1:19 Wat ‘n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring.
1:20 Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie,
1:21 omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister.

Hoekom begin Paulus op so ‘n negatiewe noot? Eenvoudig : ‘n Mens moet eers jou sonde besef voordat die genade boodskap vir jou sin maak. So baie mense stel nie belang in genade nie, want hulle reken eintlik dat hulle dit glad nie nodig het nie omdat hulle voel dat God nou nie juis te veel onrustig is oor hulle sonde nie! Paulus begin dus by sonde en God se oordeel daaroor. Wat is die eintlike groot sonde, die wortel van alle ander sondes? (21) Die mens besef vanuit die natuur wie God is en tog eer en dank hulle Hom nie as God nie! Anders gestel, wat is die groot wortelsonde wat die mens die hel laat verdien? Leef vir jouself! Mis so jou skeppingsdoel!

DIE GROOT DOEL VAN ALS

Nou as ons raaksien wat die groot sonde is, kan ons ook aflei wat die groot opdrag aan die mens en doel van die mens is... Om God as God te eer en te dank. Soos die Shorter Cathechism dit stel : “to glorify God and enjoy Him forever” Die doel en sin van ons bestaan is God self. Die doel waarom God sondaars red, is om hulle na Homself te bring! (1 Petrus 3:18 – kliek op REDDINGSDOEL) Dit word bevestig deur Jesus se samevatting van die wet : “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand...”

God moet aanbid en geëer word omdat Hy God is*, omdat Hy Skepper is, omdat Hy die Almagtige is, omdat Hy alleen hoog en verhewe is, omdat Sy Naam heilig is. As ons waarlik in God se teenwoordigheid kom, vergeet ons van alle byvoordele en eer Hom as God! 

God is nie ‘n middel tot ‘n doel nie, God self is die doel!


So baie lyne in die Ou en Nuwe Testament loop uit op hierdie punt. Kom ons kyk na ‘n paar:

God self is sy kinders se erfdeel. Na die Intog word die land verdeel onder die stamme van Israel. Nou is dit opvallend, die stam van Levi kry nie ‘n grondgebied nie... Die opdrag aan die Leviete in Numeri 18:20 (OAV) spreek boekdele : “Ook het die HERE vir Aäron gesê: Jy sal in hulle land nie erwe nie, en jy sal geen deel onder hulle hê nie. Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel.” God self is hulle erfenis en beloning. In die nuwe bedeling is ons almal priesters... Hierdie beginsel geld nou vir alle gelowiges! Vir my en jou!

God self versadig ons en is die bron van ons vreugde. Habakuk 3:17-19 spel dit so duidelik uit! "Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Vir die koorleier. Met snarespel. Die woordjie “nogtans...”(18) vertel als. Maak nie saak wat gebeur nie, oor God sal ek my verbly!

In Psalm 73 gaan dit oor die worsteling van ‘n gelowige met die vraag oor hoekom dit met hom sleg gaan, terwyl die goddeloses vet van die voorspoed is. Eers ontstem dit hom en maak hom sommer baie ongelukkig, maar uiteindelik kom Hy tot die gevolgtrekking dat sy geluk in God self te vind is! “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.” (25)

Ook die Nuwe Testament maak dit vir ons duidelik, dit gaan nie oor wat God vir ons gee nie, maar oor God self, om Hom te ken... "En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is." (Johannes 17:3) 

Die ewige lewe is nie iets wat God gee, los van Homself nie, dis HYSELF!

Die essensie van die sin van ons bestaan is om te besef wie God is en Hom as God te eer en te dank! Dis jou doel op aarde! Om God opreg en passievol te eer en te dank moet ons eers weet hoe wie en hoe Hy is. Hoe nodig het ons daarom om die heerlikheid van God raak te sien! Laat ons daarom saam met Moses verlangende tot God roep : “Laat my tog u heerlikheid sien.” (Eks 33:18 OAV) As ons nie weet hoe wonderlik Hy is nie, gaan ons nie die begeerte hê om Hom te eer, te dank en te bewonder nie! Mag ons God se heerlikheid sien! Geen ander heerlikheid kan ons versadig en ‘n doel gee om voor te leef nie!

Is jou oë al geopen vir wie God is? 

Dit bring ons by die aller belangrikste vraag : Hoe en waar kan ons God se onbeskryflike heerlikheid raaksien?

Natuurlik kan ons baie van God se grootheid, heerlikheid en almag in sy skepping sien. Ons het dit gelees... Daarom sal niemand eendag ‘n verskoning hê nie. God openbaar homself in die natuur, maar Hy het Homself nog duideliker bekend gemaak. Deur mens te word in Jesus Christus... In Jesus se woorde en dade en veral in sy kruis en opstanding skyn die heerlikheid van God, die allesoorweldigende heerlikheid wat ons op ons knieë in aanbidding voor Hom bring! Na hierdie heerlikheid gaan ons nou vorentoe verder kyk. Spesifiek hoe Jesus die verskeidenheid van die ATTRIBUTE (eienskappe) van God se eerlikheid aan ons bekend maak.

*D.Martyn Lloyd-Jones, THE PLIGHT OF MAN AND THE POWER OF GOD, p33


Die heerlikheid van God se almag kan in die natuur gesien word, maar die volle heerlikheid, vol van genade en waarheid, kan ons alleenlik in Jesus Christus aanskou! (foto - Rundu)