BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Duisend jaar. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Duisend jaar. Wys alle plasings

Woensdag 17 Junie 2020

WIE HET DIE MAG OP AARDE?

- vaste kos vir versterking in ‘n tyd van verwarring. 


Wie het die mag op aarde? Platweg gestel - Wie is die sterkste, wie het die laaste sê? Dis ‘n saak wat nou weer baie aktueel raak. As ek so luister, klink dit vir my of almal nie heeltemal seker is nie. Wie het die mag? Ons sien nou immers soveel voorbeelde van magsmisbruik. (Dink maar aan die toepassing van buitensporige Covid-19 maatreels in Suid-Afrika en ander plekke.) So wie het regtig die mag? Is dit plaaslike politici? Is dit internasionale geldmagte of geheime organisasies? ‘n Toekomstige wêreldregering? Is dit die duiwel en sy demone? Of is alles maar net toevallige noodlot? 

In Jesus se sg. hoëpriesterlike gebed in Johannes 17 is dit baie duidelik wie alle mag op aarde het. 

 “Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: "Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee."  (Joh 17:1,2) 

Hierdie gebed gee vir ons as’t ware ‘n heilige insig in die diepte van sy wese. Jesus se gebed is ook ‘n volmaakte gebed. Die fokus van sy gebed is die fokus van alle ware gebed – die verheerliking van die Vader. Jesus se verheerliking deur sy kruisdood en opstanding gaan baie nou saam met die Vader se verheerliking. Die redding van sondaar mense deur Jesus se verheerliking in die kruis en opstanding bring immers eer en heerlikheid aan die Vader! 

Dis baie duidelik – Jesus dank Sy Vader dat Hy aan Hom die VOLMAG gegee het oor die hele mensdom (alle vlees) juis om die doelwit van eer aan God deur redding te bereik. 

Een ding kan ons van seker wees, Jesus se mag is ‘n absolute mag. 

Hier word ‘n spesifieke doel van Jesus se mag wat Hy van die Vader ontvang het aangedui – die redding van diegene wat die Vader aan die Seun gegee het. Ons het hier te make met ‘n baie diep, heerlike en vertroostende waarheid. Maar aan die ander kant natuurlik ook vir ons menslike verstand ‘n onbegryplike waarheid. Die Vader het sekere mense aan die Seun gegee om hulle te verlos. 

Wanneer? Dit het in die ewigheid gebeur, voor die grondlegging van die wereld. In die ewige raad van God het die God die Vader aan God die Seun sekere mense gegee om te red deur sy kruisoffer en opstanding. Hierdie waarheid vind ons reeds in Johannes 6:37. “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” Nie alle mense kom na Jesus vir redding nie, maar wel diegene wat deur die Vader aan Hom gegee is! 

As ons dit raaksien verstaan ons ook waarvan Handelinge 13:48 praat. Ons lees met betrekking tot Paulus en Barnabas se evangelieverkondiging die volgende : “Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.” “...en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (OAV) 

Kind van God, hier het ons te make met ‘n verbysterende waarheid! 

Jou redding is van ewigheid af beplan en verseker deur God self! 



Die baie bekende Godsman dr Martyn Lloyd-Jones se preke oor hierdie gedeelte in Johannes 17 is saamgevat in die bundel, getiteld “Saved in eternity” Dis so veelseggend! 

Wat is die praktiese nut en betekenis van hierdie waarheid? Kind van God, jy wat na Jesus gekom het, jy kan weet dis nie uit jou eie krag of goedheid nie. Dis God se genade wat sonder verdienste aan jou vanaf ewigheid geskenk is, wat in die eerste plek gemaak het dat jy na Jesus gekom het en Hom as jou Saligmaker vertrou het. Die implikasie is dat jou redding nie op losse skroewe berus nie, maar van ewigheid vas is in die genadige besluit van God. Jou redding behels ‘n Goddelike wonderwerk en ingryping “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.” (Joh 1:12,13)   Jou redding staan vas, nie omdat jou geloof of besluite so vas is nie, maar omdat jou redding verankerd is in die onveranderlike ewige genadebesluit van God self! Geboorte uit God! As dit jou nie opgewonde maak nie, wat kan dan? 

Die implikasie is : Geen duiwel, geen regering, geen geldmag kan verhoed dat Jesus God se uitverkorenes wat die Vader aan Hom gegee het, red nie! Geen mag of krag of gesag kan hierdie uitverkorenes uit die hande van Jesus ruk en hulle van hulle saligheid beroof nie 

Soek jy nog bevestiging van Jesus se almag? Luister bietjie... Jesus sê in Matteus 28:18 "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” Dis terloops die agtergrond van die heerlike sendingopdrag net in die volgende vers! 

Nog nie oortuig nie? Gaan lees maar net weer Openbaring. Openbaring in geheel is ‘n herbevestiging van Jesus heerlikheid en mag. Byv. die verheerlikte Christus het die sleutels van die dood en die doderyk. Nie Satan of wêreldmagte nie! Jesus is die Lam wat geslag is, maar wat terselfdertyd die Leeu van Juda is. Daar is nog baie voorbeelde. Die Verlosser Christus se mag is onbeperk en onaantasbaar!

DUIWEL?

Maar miskien wonder jy nou : "Wat van die Satan? Sy mag is tog ook groot? Hy word immers beskryf as die brullende leeu?" Ja, die duiwel is inderdaad gevaarlik. Hy kan groot skade aanrig en selfs kinders van God in die gevangenis laat werp en laat doodmaak. En tog... weereens is dit Openbaring wat vir ons 'n heerlike perspektief bied. In vergelyking met Jesus is sy mag baaie beperk en tydelik. Dit word pragtig uitgebeeld in die omstrede Openbaring hoofstuk 20. Jesus se regering is duisend jaar (simbolies vir volmaaktheid), die Satan word net vir 'n kort tydjie losgelaat om daarna vir ewig in die poel van vuur gewerp te word. Die kontras is duidelik : Jesus se mag is onbeperk en ewig. Satan het 'n klein beperkte speelruimte en sy ewige verdoemenis staan vas!

EWIGE LEWE

Onthou net weer, hierdie mag gebruik Jesus om onverdiend vir jou en my die ewige lewe te gee. En wat behels dit? Vers 3 “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” 

Ewige lewe is nie net bloot ‘n onbepaalde verlengde bestaan nie. Lewe is meer as net blote bestaan. Ewige Lewe is ware kennis van God en sy Seun. Habakuk het al op hierdie begrip van ware lewe gesinspeel as hy ‘n tyd voorsien dat “die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Habakuk 2:14) 

Ons ken God en sy Seun nou reeds. 

Om God te ken beteken dat ek verander en vernuwe word en deel kry aan ‘n kwaliteit van ware lewe wat die ongelowige nie ken nie! Dink bietjie so daaraan – ons wat aan Jesus behoort kan nou in hierdie tyd van verwarring en vrees reeds elke dag die ewige lewe geniet! Ware kennis van en gemeenskap met die Vader en Seun deur die Heilige Gees. En niemand kan dit van ons wegneem nie, want Jesus het alle mag! Amen

Donderdag 12 Julie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (12)

- duidelike boodskap van die duisend jaar!  

Die sogenaamde millenium (duisend jaar) is deel van Johannes se hantering van die konflik tema waarna ons reeds gekyk het. Lees dit in Openbaring 20:1-15. Ons het nou al gesien : God vestig onstuitbaar sy koninkryk deur Jesus Christus, maar dit gaan gepaard met konflik : die kruis, die voortgaande konflik in ons stryd om heiligmaking, die konflik teen Satan en sy magte, vervolging ens. 

Baie mense interpreteer die duisend jaar as ‘n letterlike tydperk wat Jesus op aarde gaan regeer, en dan gaan daar blykbaar  weer ’n opstand kom en eers daarna breek die finale einde aan. (Ek wil nie graag met opregte gelowiges swaarde kruis nie, maar hierdie siening kan beslis nie aanvaar word nie.) Alhoewel baie  Christene hierdie siening huldig kan dit om die volgende redes nie Bybels verdedig word nie: 
~ Dis baie onwaarskynlik dat so ’n dramatiese gebeurtenis nêrens anders in die Nuwe Testament vermeld word nie! Wie Openbaring deurlees sal gou agterkom dat hierdie boek nie vir ons juis nuwe dinge sê nie, maar bekende gegewens uit die res van die Nuwe Testament (en hele Bybel) in beeldryke simboliese taal omskryf.
~ Dis ook baie problematies om duidelike simboliese taal so letterlik op te neem. Dit gaan teen die grein in van Openbaring se hantering van getalle en beelde.
~ Die ondersteuners van die letterlike 1000 jaar gebruik ook Ou Testamentiese profesieë oor ‘n herstelde koninkryk om hulle teorie te staaf. Ou Testamenttiese  profesieë kan egter nie altyd letterlik geïnterpreteer word nie.... dink net aan hoe die koms van Johannes beskryf word (Vgl.Jesaja 40:3,4 met Markus 1:2-4 - maak heuwels gelyk) en die uitstorting van die Heilige Gees (Jesaja 32:15,16 - die beeld van ‘n bos). Ou Testamentiese  profesieë moet geinterpreteer word in die  lig van die evangelie gebeure van Jesus se lewe, sterwe en opstanding! Die chiliaste (mense wat glo aan ’n letterlike regering van 1000 jaar)  besef nie dat beelde soos ’n herstelde tempel in Jesus vervul is nie! Buitendien nêrens praat die profete in elk geval van ’n Koninkryk wat duisend jaar of ’n beperkte tydperk sal duur nie, maar van ’n ewige Koninkryk!

Wat kan ons wel sê van die millenium (duisend jaar)?
~Dis deel soos die res van die konflik gedeeltes van die Dag van die Here. Die stryd en oorwinning van Jesus. Dis deel van die oorwinning en heerskappy van Jesus - ’n oorwinning wat reeds afgehandel en behaal is, maar nog finale gestalte moet kry.
~Dit vertel dat die huidige konflik nie fataal is nie en dat Jesus t.s.v. die konflik regeer saam met almal wat reeds ’n Koninkryk van priesters gemaak is deur sy verlossing! (Vgl.Openb 1:6 met 20:6)
~Kwantitatief gaan dit nie oor ’n spesifieke tydperk wat gemeet kan word nie.  Die getal duisend moet verstaan word as 10x10x10 = 'n afgeronde volkome tyd.
~Kwalitatief beteken dit Christus regeer (en die evangelie kan nie gestuit word nie en penetreer die hele wêreld  - redding bereik nou elke nasie, stam en volk en taal - Openbaring 7:9) terwyl die duiwel beperkte en tydelike mag en speel ruimte het! (Soos ‘n kwaai hond aan ’n ketting) Die bind van die Satan beteken nie dat daar geen konflik sal wees nie. Jesus het duidelik deur sy bediening en kruis die Satan gebind en sy rug geknak: Matt 12:29, Kol 2:14,15. Maar ons word nog steeds orals in die Nuwe Testament gewaarsku teen Satan se lis en verleiding!

Die troosboodskap van die duisend jaar lê opgesluit in ‘n eenvoudige vergelyking:

DUISEND JAAR vs kort tydjie
CHRISTUS SE ABSOLUTE MAG vs Satan se beperkte mag

Hier is ‘n opwindende boodskap vir die eerste lesers (en elke Christen) wat lyding en teenstand verduur.  Die mense wat nou ter wille van hulle geloof gesterf het en getrou gebly het is nie verloorders nie. Hulle leef in die teenwoordigheid van Christus en is in ’n gesagsposisie saam met Hom.  (hulle sit op trone) Dis ’n vervulling van die belofte in 3:21 (Lees) Dit gaan hier oor die geestelike opstanding na die dood van die wat Christus ken in die sin van Filippense 1:23. Dit gaan oor gelowiges wat reeds gesterf het en nou saam met Christus is! Hulle deel nou reeds in voorrreg van priesterlike aanbidding. (7:15-17) Dis die eerste opstanding. Die tweede opstanding is die liggaamlike opstanding by die wederkoms waaraan alle mense deel sal hê. Die hele strekking is hier van ’n hemelse visie - dit kan dus nie dui op ’n tydperk van aardse regering deur Jesus nie. Net gelowiges deel in die eerste opstanding - vir al die ander mense wag die tweede dood (hel) Vgl. vers 6 en 14
~Daar kom ’n finale en algehele einde aan Satan se mag en dus aan alle stryd en konflik

Die millenium is net nog ’n hoek waaruit die oorwinning oor Satan beskryf word! Die ooreenkomste met byv. Openb 11 en12  waar die perke van sy mag ook beskryf word is opvallend:
~  draak, slang van ouds, duiwel, Satan (12:9; 20:2)
~ die vrou was veilig in die wildernis 12:14 . Dis weereens ‘n aanduiding van die  beperking van Satan se mag! Hierdie beperkte mag kan ook gesien word in die geval van die twee getuies - eers as hulle hul getuienis klaar gelewer het, kan die Satan hulle doodmaak! (11:7)
Die gesamentlike boodskap is duidelik : In hierdie bedeling van konflik waartydens die gelowiges ly en selfs sterwe is ons geestelik veilig. Ja, die toekoms van die kerk en die vooruitgang van die evangelie is gewaarborg. Dis die waarheid wat Jesus self ook uitgelig het : “Die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie...”

Die groot boodskap van hierdie gedeelte is ’n bron van troos deurdat dit vir ons perspektief gee. Ondanks  Satan se hewige aanslag is sy mag beperk. Hy kan nie net doen wat hy wil nie. Selfs al sterf jy as martelaar beteken dit nie jy het verloor of dat jy vergete en betekenisloos is nie, nee, jy is in en saam met Christus ’n oorwinnaar en regeerder! Al verloor jy selfs jou lewe is jou ewige sekuriteit onaantasbaar gewaarborg! Satan kan nie jou saligheid steel nie! Die Christen se lewe maak sin in alle omstandighede! Ons leef in ‘n dubbele dimensie : Stryd en oorwinning. Die oorwinning is egter oneindig groter en heerliker as die stryd!

Hierdie teenstrydige werklikheid word pragtig verwoord in die verhaal van Corrie Ten Boom in “The Hiding Place”. Luister wat sê sy oor die lewe in die konsentrasiekamp van Ravensbruck : “Life In Ravensbruck took place on two separate levels, mutually impossible. One, the observable, external life, grew everyday more horrible. The other, the life we lived with God, grew daily better, truth upon truth, glory upon glory.” (p195)

Dis van hierdie troosvolle werklikheid wat die duisend jaar ons graag wil vertel!