BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Sonde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Sonde. Wys alle plasings

Maandag 02 Julie 2012

"HUIL" BY DIE HUISGENOOT


- uitbuiting van boosheid vir eie gewin.

Sonde bly altyd tragies. Dit verwoes, maak seer en die ergste van alles, dit beroof ons van gemeenskap met God. Om te sondig  is altyd iets afskuweliks, of dit 'n verlorene is wat heel gelukkig aanhou onreg doen en of dit 'n kind van God is wat vir versoeking geval het. Sonde is altyd iets om oor te rou. Ook die kind van God wat weet dat sy sonde vergewe en uitgewis is, sal as hy daaraan herinner word met pyn en selfveragting aan die sonde van die verlede terugdink. (En natuurlik dan met dankbaarheid oor die feit van vergifnis die pad van heiligmaking met groter vasberadenheid loop.)

In die lig van die erns en veragtelike aard van sonde is dit 'n bedenklike tendens dat veral bekendes wat die pad byster geraak het, blykbaar so graag aan die pers (en by name die Huisgenoot) hulle sondestories verkwansel. Hierdie sonde ontboesemings, wat gewoonlik eers plaasvind nadat hulle uitgevang is of die melk suur geword het, bevat weinig egte berou en belydenis. Nee, dis eerder klanke van blaamverskuiwing en verskonende beredenerings wat gehoor word. "Ag, as die ander party tog maar net sy of haar aanddeel sou wou erken, sal ek klaar beter voel." Verskonings, verwyte, verfraaiings en verduidelikings, in plaas van verootmoediging...

Kan 'n mens so laag daal om glimlaggend geld te maak uit jou sonde besonderhede (met foto's en al)? En wat vertel dit ons van onsself as ons geld uitgee om hierdie besonderhede te bestudeer?

Sonde is iets om te bely en nie vir finansiële gewin en gratis aandag te benut nie!

Ons kan almal val. Andere se val moet juis vir ons 'n ernstige waarskuwing wees, om nooit met sonde te speel nie. Dit moet die kind van God laat sidder en met groter erns laat  waak en  bid. Mag ons nooit ligtelik oor sonde dink nie. Nie oor ons eie nie en ook nie oor ander s'n nie. Veral mag ander se sonde nooit vir ons 'n bron van vermaak, leesgenot of onderwerp van bespreking wees nie. Efesiërs 5:12 waarsku :

"Dit is 'n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen."

Die brief van Jakobus bevat sinvolle raad.  Sondaar, moenie Rapport  toe hardloop nie, maar rapporteer berouvol aan God. Die belofte is : "Nader tot God en Hy sal tot jou nader."  Moenie siek  stories  versin nie, "maar bekla julle ellende, treur en huil!" Moenie publisiteit op  die Huisgenoot se voorblad soek nie, "maar onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog." (Sien Jakobus 4:8-10)

Sondag 24 Junie 2012

PARADYS & PARASIET

- shalom gaan sondesmart en skade vervang!

In Jesaja 11:9 vind ons ‘n sielsverkwikkende profesie waar God beloof :

“Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie...”

Om die heerlike boodskap en belofte van Jesaja 11 ten volle te begryp moet ons eers weer praat oor die paradys.

Hoe het die paradys gelyk? ’n Pragtige tuin, met die lieflikste bome en vrugte, voëls wat sing...maar sulke tonele kan ons tog vandag nog  vind op aarde, terwyl mens baie beslis nie meer die ware  paradys op ons planeet sal  kry nie nie. Die vraag is dan :  Wat is uniek aan die paradys? 


(Op aarde is daar mooi plekke, maar nie meer 'n paradys nie, want orals is sonde, swaarkry siekte en sterflikheid aanwesig.)

In die paradys heers daar ’n toestand van volmaakte vrede soos God dit bedoel het om te wees. Die paradys is die toestand waar alles en almal in die verhouding staan wat God  behaag... volmaakte harmonie tussen God en mens, mens en mens, mens en natuur. Dis die toestand en omgewing waarvan God kan sê : “dit is baie goed” (Gen 1:31) Goed, dit wil sê volmaak in die absolute sin. Dis die toestand van dinge waarin God genot in vind. As ons in Genesis lees,  God het “gerus”, word hiermee die hele doel van die skepping aangedui. Dis God se vryheid, God se rus en vreugde, waartoe die mens ook opgeroep word om in deel te hê. Dis ware vrede, SHALOM - ’n saambestaan van God en mens en die ganse skepping in ’n toestand van geregtigheid, vervulling en verlustiging. ’n Toestand wat net vreugdevolle bewondering by die mens kan wek oor die heerlikheid van sy Skepper. ’n Volmaakte omgewing in perfekte balans -

In die paradys, daar waar shalom is, sal jy nie vrate kry nie, maar ook geen anorexia gevalle nie!  

In moderne konteks, sal paradys ’n plek wees waar besigheidsmanne hulle sal verheug in mekaar se suksesse, waar rondwaai plastieksakke en rommel nooit gesien word nie, waar verdoemende kankerdiagnoses nooit gehoor sal word nie, (en spesiaal vir die Suid-Afrikaners!) die plek waar motoriste en taxibestuurders  mekaar nooit irriteer nie, maar slegs vriendelik groet, en ja, waar diefwering ‘n stuk onbekende tegnologie sal wees...

Weereens, paradys is dinge soos God dit bedoel het om te wees. Paradys is dit wat ons tans nie beleef nie, want dinge rondom ons, ja, ook onsself is nie soos God bedoel het dat dit met wees nie. God het  nie bedoel dat mense in vrees en angs moet leef en hulleself met behulp van pille deur die lewe moet voortsleep nie, God het nie bedoel dat huwelike ‘n nes van jaloesie en ontrou moet word nie, God het nie bedoel dat huisgesinne broeiplekke van geweld en ongelukkigheid moet wees nie, dis nie God se wens  dat die werkplek  spanning, bedrog, uitbuiting, verveling, slawerny of  naywerige kompetisie moet voortbring nie ...so kan mens aangaan.

Wat ons hier in Jesaja 11 kry is niks anders as ’n beskrywing van paradysvrede nie. Die nuwe Eden, die herstelde paradys.

GOD GAAN DIE PARADYS HERSTEL! 

Natuurlik word dit in die taal en terme van destyds se leefwyse beskryf. Uiteraard dink ek nie Vers 6-9 gee vir ons detail inligting oor die fauna op die nuwe aarde nie. (om hieruit af te lei dat daar slange op die nuwe aarde sal wees mis die punt!) Dis ’n konkrete beeldryke beskrywing van ’n toestand van volkome harmonie en vrede.

Kom ons gee aandag aan twee praktiese vrae:
Wat het die paradysvrede oorspronklik verwoes?
Hoe gaan die paradys herstel word?

Wat het die paradysvrede oorspronklik verwoes? Ons ken natuurlik die antwoord : SONDE. En tog weerspieël ons houding teenoor sonde nie ’n werklike besef van die aaklige, sieklike verwoestende aard daarvan nie. (en daarom het ons ook  nie altyd  ’n opregte verlange na verlossing daarvan nie) Om hierdie rede kan dit goed wees as ons net weer ’n bietjie nadink oor die saak van sonde. Sonde kom neer op vandalisme van die paradys. Sonde is skending en inderdaad strafbare skending van God se skepping. Sonde is ’n dodelike parasiet. Sonde is baie algemeen, maar dis abnormaal, dis iets vreemds, dit hoort nie in die skepping nie. Sonde kan nie op sy eie bestaan nie - net soos ’n parasiet of ’n siekte.  Sonde kan nie iets bereik of skep nie - sonde teer bloot op die heerlike skepping van God.  Byvoorbeeld, die sonde van egskeiding kan net bestaan omdat daar iets heerliks is soos die huwelik wat God ingestel het!  Die sonde van diefstal teer op die feit dat ons die gawe van besit gegee is. Sonde kan nie iets positief bou nie, dit breek net af wat mooi is. Sonde is “badness” - maar “badness” sê C.S. Lewis is net  “spoiled goodness. And there must be something good before it can be spoiled”  Hoe dwaas dus om sonde te doen.  ’n Sondige, sonde besmette menslike lewe is ’n karikatuur, ’n verwringing van wat God bedoel het ons moet wees. Sonde is ‘n bosluisplaag wat sy gasheer verinneweer tot die status van ‘n geraamte en uiteindelik die dood.  Dit teer op mense totdat daar net ’n mismaakte skepsel oorbly en uiteindelik lei dit tot die ewige dood as daar nie ’n plan met hierdie parasiet gemaak word nie.

Hoe gaan die paradys herstel word? Wel die profeet maak dit duidelik dat daar Iemand gaan kom wat alles gaan verander en vernuwe.  Weet jy Wie dit is? Ken jy Hom? Net kortliks die volgende feite wat ons hier in Jesaja 11 oor Hom kry : 
1) Sy oorsprong en identiteit.  (Vers 1) Dis ’n spesifieke individu uit die nageslag van Isaï. Dit wil sê iemand uit Dawid se nageslag. Ons weet hierdie persoon het gekom. Hy is die Seun van Dawid, Jesus Christus.
2) Sy toerusting.  (Vers 2,3a) Die Gees van die Here rus op Hom. Van God ontvang Hy dus al die kwaliteite om ’n volmaakte koning te wees. Dit het sigbaar gebeur toe die Heilige Gees soos ‘n duif op Jesus neergedaal het.
3) Die manier waarop Hy sy werk sal doen. Sy werk kan saamgevat word as regverdige regering (Vers 5), ’n  heerskappy van geregtigheid. (Dankie tog - daar kom ‘n einde aan die mag van dwase despote!)  Hy sal reg en geregtigheid laat geskied - hulpeloses word versorg, maar goddeloses word geoordeel. Onreg word aangespreek en reggestel. 

Die paradys word herstel deur koning Jesus, die volmaakte finale Dawid! 

Aan die kruis het Hy verlossing bewerk vir sy mense, maar Hy het juis ook daar die oorwinning behaal oor alle bose magte. Kolossense 2:13-15 Hy ring 'n nuwe bedeling van volmaaktheid totstand.

GELIEFDE, SIEN TOG TWEE DINGE RAAK!
  • Sien sonde vir wat dit is - ‘n afbrekende, negatiewe, verwoestende parasiet.  Sonde is nie al daardie lekker dinge wat ons graag wil doen nie, nee dis ‘n gevaarlike parasiet wat ons uitmergel en laat sterf!  Sonde is iets om gehaat en vermy te word. Dit wek God se toorn! Dis tog  logies. Kan God verdraagsaam en sag wees teenoor die parasiet wat soveel skade aan sy handewerk aanrig? Dis opstand teen God. 'n Opstand met angswekkende gevolge vir mens en skepping. Sonde is  verwoestend vir almal rondom jou - dink hoeveel skade en hartseer het jou sonde al aan jou ouers, broers en susters, familie, mense rondom jou...berokken.. Maar sonde is ook vernietigend vir die beoefenaar daarvan - my koppigheid, my hoogmoed, my selfbejammering, my  afguns, my seksuele losbandigheid, my verkeerde gewoontes, my wraaksug.... verwoes my menseverhoudinge, bederf my geluk, is skadelik vir my  gesondheid...maar die ergste : dit beroof my van gemeenskap met God, dit keer dat ek God se heerlikheid kan geniet, dit maak my  bestaan doelloos....

  • Sien die Verlosser raak. Ons hoop vir paradysvrede moet net op een Persoon (beslis nie Obama of die VN nie) gefokus wees - Jesus, die Koning uit Dawid se nageslag. Die skade van die sondeparasiet is onberekenbaar groot, dis menslik gesproke onherstelbaar erg. Menslike wysheid en filosofie, menslike godsdiens en moraliteit, strafmaatreëls...kan niks vermag nie. Eweneens is toleransie van sonde, ‘n ontkenning of ‘n toesmeerdery daarvan magteloos om die parasiet hok te slaan.  Kyk maar net na al die gesanik en vrugtelose pogings om geweld teen vroue en kinders stop te sit. Al die moeite, praatjies en optogte en plakkate, wat help dit? Niks! Die “takkie” uit die stomp van Isaï is die antwoord. Sy regering, sy en heerskappy wat ware kennis van God bring - dit verander harte en optrede van mense. Die bevrydende evangelie van Jesus moet verkondig  en geglo word. Om na die praktiese voorbeeld terug te keer : dis eers wanneer ‘n man tot bekering kom en homself onderwerp aan die heerskappy van Jesus Christus dat hy sy vrou en kinders anders sal begin behandel...

Ons leef reeds in die herstelfase van die paradys.  Ons beleef Jesaja 11! Jesus het gekom en Hy is nou besig om mense te bevry van die besmetting deur die parasiet.  Ons sonde word nou reeds vergewe, ons word nou reeds bevry van die verslawende mag daarvan. (al val ons nog dikwels) Ons word nou reeds instaatgestel om tekens van die Koninkryk op te rig - goeie werke van vrede, genesing, heling...die doen van reg en geregtigheid aan verdruktes en vernieldes. Ons kan nou reeds vrede beleef met God en met mekaar deur die geloof in Jesus.  Dis ’n praktiese werklikheid en ons kan ons daarin verheug - dis sigbaar en heerlik. Sondaars word uit die modder getrek en nuutgemaak, vyande word met mekaar versoen, die barmhartigheid wat God se kinders aan die ellendiges bewys is ’n heerlike voorreg en ’n duidelike voorsmaak van die heelheid in die Koninkryk ....Sien dit raak, dank Jesus daarvoor, neem deel, verlustig jou daarin!  

Maar ons is  ook realistiese oopkop en oop oë mense. Ons weet ook dat alles wat Jesaja 11 in die vooruitsig stel het, nog nie ’n werklikheid geword nie. Daarom kyk ons ook uit met hoopvolle verwagting na die voleinding,  die finale voltooiing van Jesus se herskeppingswerk.  Saam met die skepping verlang ons na die bevryding van alle sonde en die gevolge daarvan : siekte, ellende, verganklikheid en dood.  (Romeine 8:18-25) Hierdie is ’n blye verwagting, dis ’n vaste hoop en dit laat ons juis met blymoedigheid daagliks in die stryd volhard. Hoe wonderlik om die versekering te hoor : “Niks en niemand sal meer kwaad doen op God  se heilige berg nie, daar sal niks verniel word nie. Geen vandalisme nie!”   Sonde sal vir ewig en altyd van die toneel verdwyn. Geregtigheid (God se volmaakte wil) word die kenmerk van die nuwe bedeling. (2 Petrus 3:13!) Wat ’n heerlike toekoms om na uit te sien. Dit sê vir ons : Ons moenie moed verloor nie!  Ons moenie moed verloor as ons ons eie sonde raaksien en met alle mag daarteen stry nie, as ons die ellende van die wêreld aanskou nie, as ons saam ly - geestelik, sowel as fisies - in hierdie vernielde wêreld nie! 

Daar is hoop : 

Die parasiet gaan ’n uitgestorwe spesie word!

Het jy  die Verlosser uit die nageslag van Isaï al persoonlik vertrou om jou van die parasiet te bevry?

(erkenning aan Cornelius Plantinga, "A Breviary of Sin.")

Donderdag 29 Maart 2012

SMS : "EK IS SWANGER"

- sonde, skande en skade, maar uiteindelik (en pynlik) triomfeer die GENADE!

“Ag, nee wat sonde is darem nie so erg nie. Om ‘n ou skelmpie te hê is ook nie die einde van die wêreld nie! Kyk nou maar vir ou Dawid. Hy was dan nou kwansuis hierdie wonderlike man van God en kyk wat het hy gedoen en die Here het hom mos darem weer vergewe...!” So ‘n ligtelike houding oor sonde openbaar ‘n groot onkunde! Kom ons kyk bietjie dieper na die saak van sonde en vergifnis vanuit die hartseer geskiedenis van Dawid. (oorsaak, gevolg en vergifnis)

Oorsaak: Dawid was ‘n kind van God. ‘n Man na God se hart. God self het hom geroep daar agter die skape uit en hom geseën in sy koningskap. Hy het ‘n pad saam met God gestap en ondervind hoe die Here hom gehelp het. Hy het geweet wat dit is om op God te vertrou.... (stryd met Goliat). En toe eendag gebeur hierdie vreeslike ding. Dawid op die dak...sien die mooi vrou bad... en die res is geskiedenis! (Ons lees dit in 2 Samuel 11) Hy vlug nie dadelik vir die versoeking nie en hy val!  Moenie vergeet nie, kind van God, ons eie hart soek net ‘n geskikte geleentheid vir sonde. Ons harte is soos petrol en versoekings is soos vuur!
Waarskuwing :

Ek en jy is teen geen sonde immuun nie!

Wees bedag op die  boosheid van jou eie hart! Vlug, m.a.w. gebruik jou voete. (2 Tim 2:22) Moet nooit mak raak vir sonde nie... Juis op die punte waar ons dink ons staan sterk, kan ons dalk die maklikste val...

 

Gevolge: Na sy geheime owerspel kry Dawid ‘n saaklike boodskap : “Ek is swanger” ‘n Kort boodskappie (in vandag se tyd sou sy seker ‘n SMS gestuur het) met baie lang gevolge! (2 Samuel 11:5) Toe weet Dawid, hier is moeilikheid! Uitgevang! Maar tipies van die sondaar mens, begin hy planne maak om sy sonde weg te steek...Hy laat roep haar man Uria vanaf die gevegsfront, met die hoop dat hy by sy vrou sal slaap en so die bewyse uitwis... maar dit misluk... en toe laat Dawid vir Uria vermoor op ‘n slinkse manier. Kyk wat gebeur : Dawid probeer sy owerspel verdoesel en dit lei tot moord. Sonde lei tot ander sonde. Byvoorbeeld, buite egtelike verhoudings lei dikwels tot dinge soos aborsie, leuens, ongelukkige huwelike of egskeidings wat weer kinders se lewens verwoes... hulle val weer in dieselfde sondes volgens die voorbeeld van hulle ouers. Sonde het skrikwekkende gevolge. God is baie duidelik hieroor by monde van sy kneg, Natan. (Lees 2 Samuel 12:1-10) Natan kondig ‘n vreeslike straf aan. “So sê die Here : ‘Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring.’” (Sien vers 12:10-12) Dawid se verdere familiegeskiedenis wys hoe tragies waar hierdie woorde van die profeet geword het. Allerhande ellende het gevolg : bloedskande, broedermoord, sy eie seun Absalom wat in opstand kom teen Dawid en in die openbaar met Dawid se vroue gemeenskap het... Lees dit in 2 Samuel 16:21,22.

Wat sê dit vir ons?

Moenie speel met sonde nie!

Moenie na Satan se slimpraatjies luister nie! Hoe klink dit? “Jy gaan nie regtig gelukkig wees, as jy nie eers aan hierdie of daardie sonde geproe het nie!” Dis ‘n leuen! Niemand is spyt oor ‘n sonde wat hulle nie gedoen het nie! Maar baie mense, ook kinders van God is bitter spyt oor sondes wat hulle wel gedoen het. Die letsels van hierdie dinge gaan nooit weg nie...

Sonde kan nie weggesteek word nie! Toe Uria dood is, toe dink Dawid sy geheim is veilig. Hy sal met Batseba trou en geen haan sal ooit daarna kraai nie. Maar God het al dit tyd geweet...

Sonde is erg omdat dit primêr sonde teen God is! Ons dink gewoonlik aan die menslike skade wat sonde veroorsaak, die ergste is egter die feit dat dit neerkom op 'n minagting van God! (Sien vers 9,10) Dis 'n verwerping van God se Woord en 'n vertrapping van sy eer! Dit moet ons laat sidder!


Vergifnis : Dawid erken sy sonde en toon ware berou. Psalm 51 gee vir ons verdere inligting oor Dawid se diepe berou en gebrokenheid oor sy sonde. God vergewe Dawid volkome. Maar moenie dink vergifnis is ‘n ligtelike goedkoop saak nie. Dawid en Batseba se seuntjie moes sterf, want die eer van die Here is deur Dawid se sonde geskend! (2 Samuel 12:13) Hierdie kind het toe wel gesterf, ten spyte daarvan dat Dawid baie ernstig gebid en gevas het. (16)

Die tragiese gebeure rondom Dawid en Batseba demonstreer die verwoestende uitwerking van sonde, maar dit het ‘n finale heerlike einde.

Die genade triomfeer!

Dawid word vergewe. Maar dis nie al nie. Na die dood van hierdie kind, het Batseba weer ‘n baba seuntjie gehad. En raai wat was sy naam? Salomo! Dawid se troonopvolger en die man wat deur God gekies is om die tempel te bou! Vers 24,25 is aangrypend heerlik : “... sy het ‘n seun in die wêreld gebring, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het hom liefgehad en het hom deur die profeet Natan, Jedidja laat noem, wat beteken : ‘die Here het hom lief.’” Maar dis nie steeds nie die volle hoogtepunt van God se heerlike genade nie. Uit Salomo se nageslag word die Verlosser Jesus gebore. In Matteus se geslagsregister word daar spesifiek van Batseba (genoem die vrou van Uria) melding gemaak! (Matteus 1:6) Dit dra ‘n heerlike boodskap : Jesus vereenselwig Hom met sondaars! Hy bring hoop vir werklike sondaars!

Twee sake staan uit in hierdie stuk geskiedenis:

Die verwoestende aakligheid van sonde : Sonde bring smarte, skande en skade. Sonde is nie speletjies nie. Dis ‘n slang met dodelike gif en skrikwekkende nagevolge. Vlug weg van alle versoekings en sonde. Veg daarteen al kos dit jou bloed!

Die heerlikheid van genade : Gelukkig is daar iets soos vergifnis. (Psalm 130 is die klassieke antwoord as jy hiermee worstel) Volledige vergifnis omdat Jesus ons sondestraf volledig gedra het. Maar laat ons nooit ligtelik dink oor hierdie vergifnis nie!

Vergifnis het God se Seun groot pyn gekos!

Die pyn van Godverlatenheid aan die kruis om vir ons hierdie versoening te bewerk. Kom, aanvaar hierdie genadige versoening. Wees eerlik voor die Here soos Dawid en ontvang sy vergifnis. By Hom is daar ‘n nuwe begin! Wys dan jou danbaarheid deur ‘n lewe van radikale liefde en gehoorsaamheid!


Saterdag 10 Maart 2012

GOEDKOOP GOEDVOELGODSDIENS

- vinnig met finesse na die verderf!

Goedvoelgodsdiens is nie ’n nuwe uitvinding nie. Dit was reeds in die Ou Testament die bedrieglike boodskap van die valse profete. Vandag word dit nog steeds vanaf kansels verkondig, op universiteite geleer, in kwasi Christelike tydskrifte gepropageer...

Wat is hierdie goedvoelgodsdiens? Dit word goed opgesom deur die profeet Jeremia : “Hulle het ’n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net : ‘Als is reg! Als is reg!’ Maar niks is reg nie.” (Jeremia 6:14) Kenmerkend van die goedvoelgodsdiens is dat geestelike leiers nie meer die onderskeid tussen rein en onrein ken nie! Daar is nie meer so iets soos verkeerd nie. Vir elke soort sonde word ’n rasionele verskoning uitgedink. Die diep krake in die samelewing word nie vanuit God se Woord aangespreek nie, maar sommer op ’n maklike manier toegepleister met leuens. (Esegiël 22:26,28) Die goedvoelpropageerders wil nie die feit in die oë kyk dat sonde die mens se kernprobleem is nie. Hulle is ’n ewigheid ver verwyder van ’n ware profeet soos Johannes die Doper, wat sonde by die naam genoem en op bekering aangedring het. Die rede agter die goedvoel verleiers se paaiboodskappe is finansiële gewin. Die profeet Miga het al gesê dat hulle van vrede praat “so lank hulle kos kry.” (Miga 3:5) en sedertdien het dit nie veel verander nie.

Die goedvoelboodskap sê : “Wees net positief! Jy is nie ’n sondaar nie, jy het niks verkeerd gedoen nie. Glo in jouself en leef voluit!” Die goedvoelteoloog wil ons wysmaak : “Ons word nie in sonde gebore nie. Daar bestaan ook nie ’n duiwel en ’n hel nie.” Die goedvoeltydskrif gee ons raad : “Hoe om van jouself te hou.” Daarom verkeer die goedvoelslaaf onder die indruk dat selfbeeld belangriker is as ewige saligheid en dat die bestryding van selluliet dringender is as die bevryding van sonde.

Die goedvoelboodskap verduister dus die evangelie en beroof mense so van ware vreugde! Dis ’n gladde glybaan weg van Christus en sy redding. Hoe so? Die evangelie van Jesus Christus is waarlik Goeie Nuus, maar dis slegs Goeie Nuus vir sondaars, vir sondaars wat weet hulle is sondaars. God se genade en vergifnis word geskenk, nie aan die selfvoldane goedvoel Fariseër nie, maar aan die selfveragte slegvoel sondaar wat uitroep : “O, God wees my sondaar genadig!” (Sien Jesus se gelykenis in Lukas 18)

Ware geluk en vreugde kan nie gebou word op goedvoeltegnieke en rugstreelpraatjies nie, maar op die volledige vergifnis wat Jesus aan sondaars skenk. Die pad na ware geluksaligheid begin dus by die ontnugterende ontdekking : “Ek is ’n skuldige sondaar onder die skrikwekkende oordeel en toorn van ’n heilige God!” (Dis waar Paulus begin in Romeine 1:18ev as hy die evangelie sistematies verduidelik) Sondebesef laat my allesbehalwe goed voel, maar laat my soek na die ware Oplossing van my probleem. Die Oplossing is natuurlik, Jesus Christus wat gekom het, juis vir sondaars! Net Jesus kan ons gewetens van skuld bevry op grond van sy algenoegsame offer op Golgota.

Ons geestelike vaders, wat ontsag vir God se Woord gehad het, het die pad na ware geluk baie goed begryp. Die Heidelbergse Kategismus leer op voetspoor van die Romeine brief dat drie dinge nodig is om salig te lewe en te sterwe:

~ Ek moet weet hoe groot my sonde en ellende is. (Godgegewe Geluk begin dus by die ontdekking van my ernstige sonde toestand!)

~ Ek moet weet hoe ek van hierdie sonde verlos kan word. (Godgegewe Geluk in die volle sin word gevind, wanneer ek my vertroue op Jesus as my enigste en genoegsame Verlosser stel)

~ Ek moet weet hoe ek vir hierdie verlossing kan dankbaar wees. (Godgegewe Geluk word daagliks beleef as ek God eer en dank met ’n lewe van gehoorsaamheid en heiligheid)

Sonde! Verlossing! Dankbaarheid!

Dis die Bybelse volgorde en Goddelike resep! Dis die Bybelse lering wat ons so dringend nodig het in die kerk. Dis die Bybelse boodskap wat weer hoop kan bied aan ’n sonde verskeurde wêreld! Dis die Bybelse waarheid wat die toets van tyd en oordeel sal deurstaan, terwyl die goedvoelpleisterings sal afskilfer en verkrummel...