BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Genot van sonde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Genot van sonde. Wys alle plasings

Vrydag 24 Januarie 2020

SELFBEHEPTHEID EN SELFLIEFDE

- die groot leuen van die valse profete 



“Jy moet glo in jouself! Jy moet jouself liefhê! ‘Like’ jouself! Wees net positief - Jy is geregtig op die mooiste vrou, die duurste kar; jy verdien die beste werk en ‘n luukse leefstyl… Jy vlieg mos besigheidsklas”* Dis die boodskap wat aan onkundige mense opgedis word, dis die lering waarvan die gierige massas hou en waarvoor die opgesweepte skares hande klap. Dis die boodskap van die valse profete. 



Dis teen hierdie mense, hulle invloed en lering waarteen die apostel Paulus vir die jong man, Timoteus waarsku in 2 Timoteus 3:1-9. As Paulus die groot verdorwenheid – die afval, verval en boosheid van die laaste swaar tye beskryf dan begin hy by – “Die mense sal selfsugtig wees.” (NAB) Letterlik in die Grieks staan daar - “filautoi" - "liefhebbers van hulleself.”(OAV)* As mens kyk na die laaste sin van die paragraaf wat die valse Christene en valse leraars se gedrag beskryf dan sien mens ‘n duidelike kontras. “Eerder liefhebbers van genot as liefhebbers van God!” (OAV) Dis die klimaks kontras tussen liefhebbers van hulleself (filautoi) en liefhebbers van God (filotheoi) Jy sien dis eintlik die twee kontrasterende en opponerende opsies – liefde vir die self of liefde vir God! Al hierdie ander bose eienskappe gaan saam met hierdie selfliefde en selfbeheptheid… as ek myself eerste stel dan word ek geldgierig (liefde vir geld), dan lei dit tot grootpratery (spoggery en “brag”)…ens. Selfgesentreerdheid en selfbeheptheid is die groeibodem van alle ander sonde en skande! Waarom steel en lieg mense, waarom bly mense ongetroud saam en leef losbandig, waarom skinder ons, waarom word ek dronk en gee nie om hoe dit ander mense rondom my raak nie...?



Selfbeheptheid is kunsmis vir alle soorte sonde! 

UITERLIK GODSDIENSTIGES – BLY WEG! 

Maar dan kom Paulus seker by die heel skokkendste uitspraak in hierdie gedeelte. “Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.” (5) Hierdie mense lyk en klink godsdienstig. Hierdie selfliefhebbers is deel van die kerk. Hierdie godsdienstige narsiste beweeg onder die vaandel van Christenskap! Hulle ken die Bybel en hulle gebruik die Naam van Jesus! Party bou selfs luukse megakerke! 

Hulle lyk baie vroom. Die gedaante, die vorm van godsaligheid! Hulle praat saam en sing saam, hulle stuur Christelike whatsapps, hulle ken al die Christelike woordeskat… Maar hulle kort iets – die krag van die godsdiens. Hoe so? Die krag van ware godsdiens lê juis daarin dat dit oorwinning oor selfsug, selfgesentreerdheid, selfbeheptheid en sonde bring! Die krag van ware godsdiens word juis gesien daarin dat mense hulleself opoffer om God en hulle naaste lief te hê. (Ook hulle onbeheersde drange opoffer) Die praktiese raad van Paulus aan Timoteus i.v.m. sulke mense is kort en kragtig : BLY WEG! 

Moenie eers gaan kyk nie, moenie eers gaan luister nie! Spaar jouself baie skade en skande! 

MISLEIDING VAN ONSTABIELE MENSE 

Saam met die vals profete se oënskynlike godsdienstigheid gaan hulle ywer om ander te mislei. Dis hoekom hulle so gevaarlik is. Dis hoekom mens van hulle moet wegbly! Mense wat hierdie selfliefde boodskap verkondig, beïnvloed baie ander rondom hulle. Hulle neem ander mense gevange met hulle slim en oorredende stories. Mens sien dit! Paulus noem hier ‘n praktiese voorbeeld uit sy tyd. Dit lyk asof hierdie valse profete van huis tot huis gegaan het en onstandvastige en naïewe, liggelowige vroue maklik met hulle valse stories mislei het. Hulle boodskap het aanklank gevind by hierdie vroue se sondige begeertes. Die valse profete kry sulke mense maklik in hulle mag. Dis vandag nog hulle taktiek… hulle maak jag op onstabiele en onkundige mense wat nie sterk staan in die Woord nie en nie sterk Woordgebaseerde oortuigings het nie. As voorbeeld van valse profete noem Paulus vir Jannes en Jambres. Dié name kom nie in die Ou Testament self voor nie, maar was volgens die Joodse tradisie twee towenaars aan die hofhouding van Farao. Die Joodse Targum (kommentaar) voeg hulle name in by Eksodus 7:11. “Die farao roep toe ook sy manne bymekaar wat dié soort ding ken, sy goëlaars. Dié Egiptiese towenaars doen toe met hulle towerkunste presies dieselfde: soos elkeen sy kierie neergooi, verander dit in ‘n groot slang. Maar toe sluk Aäron s’n hulle s’n in! (Eksodus 7:11,12) Ons ken mos die geskiedenis- Hierdie towenaars kon God se wonders tot op ‘n punt naboots. (Hulle kieries het ook slange geword!) Dit het gelyk asof hulle Goddelike mag het! Maar hulle was teen God. Hierdie vervalsers het Moses se boodskap teengestaan net soos die valse apostels die boodskap van Paulus en die apostels teengestaan het. 

Die selfliefde evangelievervalsers gaan uitgevang word! 

Gelukkig sal die vals profete nie ver kom nie. Die towenaars van Egipte kon ook net tot op ‘n punt bybly en die plae en die wonders van God naboots. Kort voor lank moes hulle die onderspit delf. Die valse leraars se dwalinge word uiteindelik ontmasker. Hulle sal noodwendig iewers ontbloot word en almal sal besef dat hulle net geestelike swendelaars en kwaksalwers was. 

WEES GEWAARSKU! 

Pasop vir enige lering en filosofie wat die klem op die mens en sy behoeftes en sy begeertes, sy plesier en sy prestasies plaas! (Al gebruik hulle stringe Bybeltekste om hulle punte probeer staaf) Die valse evangelie (soos byv. Prosperity Gospel/Voorspoedevangelie) lê gedurig klem op die self – my drome, my suksesse, my finansies, my gesondheid, my seksuele vervulling… Die mens wat nie weergebore is nie, vind natuurlik aanklank by hierdie selfgesentreerde boodskap – van nature wil alle mense mos ryk en gerieflik lewe, almal smag na mag en plesier... Slegs deur die wedergeboorte bewerk deur die Gees word ‘n nuwe stel waardes in ons harte gevestig. Eers dan word God en sy eer ons eerste prioriteit! Net dan kan ons ons naaste waarlik liefhê! 

Die boodskap van Jesus het reëlreguit ingedruis teenoor dié van die welvaartsleraars. “Verloën jouself!” Dis wat die Nuwe Testament ons leer. “Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” (Matteus 16:24) 

Ons moet egter nie net pasop vir die valse leraars en hulle boodskap nie. Ons moet onsself positief bewapen en versterk teen die valse leringe van ons dag. Ons moet ‘n lewe van volharding leef wat gebou is op die waarheid van die Woord! (Sien 2 Timoteus 3:10-4:5) Ons moet kies teen selfgesentreerdheid en selfbelang en vir God se Woord en God se wil! 

*Dis letterlik die strekking van wat At Boshoff van die CRC leer! 

**“people will be lovers of themselves” (NIV), “Die Menschen werden viel von sich halten” (Duits) maw “die mense sal baie van hulleself dink”


Ons dank die Here vir milde reën in Januarie!

Donderdag 16 Februarie 2017

KEUSE TEEN DIE PALEISLEWE!

- Geloof kies teen gerief en sonde, maar vir die beloftes van God!


Dis maklik om te sê : “Ja.” Dis maklik om te sê : “Ek glo.” Maar om geloof op die regte manier te bely vra meer as net woorde, dis ‘n voortdurende keuse en lewenslange toewyding. Om geloof te bely is ‘n nuwe leefstyl wat mens dikwels in die moeilikheid bring. Om geloof te bely is om ‘n daaglikse pad saam met die Here loop. 

Ons het ‘n groep mense wat openlik gaan bely dat hulle in Jesus glo. Dis ‘n baie groot geleentheid. Dis ook ‘n goeie tyd om te vra : “Hoe raak geloof my lewe op ‘n praktiese vlak?” Baie misverstande oor geloof – geloof help jou om nie siek te word nie, geloof maak dat jy meer reën kry, geloof maak jou besigheid voorspoedig... NEE! Kom ons kyk wat sê die Bybel. As ons oor geloof wonder is Hebreërs 11 natuurlik ‘n baie geskikte hoofstuk om te raadpleeg, want hier kry ons ‘n beskrywing van geloof in aksie. Geloof word vir ons op ‘n baie praktiese manier uitgebeeld soos dit gelyk het in die lewens van die geloofsreuse van die ou Testament. Ons lees hoe geloof gefunksioneer het in die lewens van Abel, Henog, Noag, Abraham... Hierdie geloofshelde het nie oor geloof gefilosofeer nie, hulle het geloof in God en sy beloftes prakties geleef. Een van die besondere geloofshelde was Moses. Kom ons kyk watter praktiese effek het geloof in sy lewe gehad na aanleiding van Hebreërs 11:24-28 :

~ Geloof bring Moses by radikale keuses. “Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê." (24,25) Ons ken mos die geskiedenis van Moses – die baba in die mandjie, die Egiptiese prinses... sy bevoorregte grootwordjare in die paleis. Dit het beteken dat Moses die gerieflike lewe van ‘n Egiptiese prins kon geniet. Al die rykdom, plesier en voorregte van die Egiptiese paleis was syne... Maar op ‘n stadium moes Moses kies : die gerieflike paleislewe of ‘n lewe saam met God se volk. Dit moes ‘n baie moeilike besluit gewees het. ‘n Mens kan jou indink hoe sy vriende of dalk selfs sy “prinsesma” by hom gepleit het. “Dink mooi Moses, besef jy wat gaan jy verloor as jy die paleis verlaat en jou by die verdrukte Israelitiese slawe gaan voeg ? Dan kan jy maar koebaai sê vir al die skatte van Egipte, die beskerming van die Farao, die plesier van die hoflewe, die mooi Egiptiese meisies...moenie dom wees nie, Moses. Onthou die Israeliete is slawe, saam met hulle gaan jy net swaarkry.” Maar omdat Moses God se beloftes geglo het, het hy ‘n keuse gemaak om die lewe van ‘n prins in Farao se paleis vaarwel te roep. Hy kies teen die tydelike verbygaande genot van sonde, hy kies vir ‘n lewe van swaarkry. Geloof in God en sy Woord bring jou by ‘n keuse teen sonde, want jy besef dat die plesier van sonde van korte duur is, maar die vreugde wat God gee vir ewig duur! 

GELOOF VEREIS ‘N KEUSE VIR EN KEUSE TEEN!

~ Geloof laat Moses ‘n nuwe waardasie maak. “Die smaad ter wille van die Christus het hy ‘n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het.” (26) Moses moes kies tussen rykdom en Christus. (Ja, Jesus Christus het natuurlik toe nog nie aarde toe gekom nie, maar ‘n keuse vir God se beloftes was mos ‘n keuse vir Christus!) Let mooi op - Hier in Hebreërs 11 kry die “Prosperity Gospel” ‘n uitklophou. Geloof in God en in Jesus wat sou kom, het nie vir Moses rykdom gebring nie, inteendeel dit het hom juis rykdom laat verloor. Moses kon baie ryk gewees het as hy soet en stil in Farao se paleis gebly het. Hy sou ook ‘n invloedryke persoon met mag en voorregte gewees het. Maar nee, hy gehoorsaam God se opdrag om die volk uit te lei en verloor al sy kanse vir rykdom en prestige. Hoe het hy dit reggekry? Hy het uitgesien na God se beloning! Geloof laat ons die onsigbare sien. (11:1) Dit maak dat ons meer waarde heg aan Christus en die ewige lewe wat Hy vir ons bring, as aan tydelike aardse ambisies, plesiere en rykdom. Geloof heg meer waarde aan God se beloftes as aan ons pelle se opinie! Geloof sien dit wat ander mense rondom jou nie sien nie. Geestelike realiteite weeg meer as sigbares! Ander mense dink, Jesus is maar vaal en vervelig. Maar die een wat glo, besef dat om Jesus te ken oortref alles in waarde. (Vgl. Filippense 3:8) Die ongelowiges kyk vas teen die plesier en rykdom van die wêreld. Die gelowige word gefassineer deur die heerlikheid van Jesus en die beloning wat Hy bring! Glo jy? Hoe kosbaar is Jesus vir jou? 

GELOOF LAAT JOU ANDERS KYK NA LEWE!

~Geloof bevry Moses van vrees en laat hom volhard. “Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien.” (27) God roep Moses basies om in opstand te kom teen die heidense koning en die volk uit te lei. Dis ‘n baie gevaarlike opdrag en kon enige tyd sy lewe gekos het. Deur geloof het Moses God gesien. Omdat Moses geglo het, was God en sy beloftes vir hom ‘n groter werklikheid as Farao en sy dreigemente. As ek regtig God se beloftes glo, dan volhard ek op die pad van heiligmaking al word ek gespot, uitgestoot of gedreig. Geloof bevry mens van mensevrees en menslike opinies sodat ek volhardend die Here kan gehoorsaam. Dit beteken dat as my vriende se sienings bots met God se Woord, dan kies ek eerder om God te gehoorsaam as om gewild of in te wees! Dis baie duidelik of iemand glo; die gelowige begin God se opdragte implementeer en sy wil eerste te stel. 

GELOOF BEHELS VOLHARDING

~Geloof bring Moses by ‘n vaste vertroue in God se beloftes. “Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie.” (28) God het besluit om die eersgeborenes in Egipte uit te delg. Hy gee toe die opdrag deur Moses dat al die Israeliete ‘n lam moet slag en die bloed aan die deurkosyne moet smeer... So sou hulle lewens gespaar word in daardie nag van verskrikking. Dit het menslike gesproke nie na ‘n baie logiese plan geklink nie. Hoe sou ‘n bietjie bloed aan ‘n deur die doodsengel kon weghou? Moses het God egter geglo en die opdrag laat uitvoer. Geloof bring ons by ‘n persoonlike vertroue op God se verlossingsplan in Jesus. Geloof laat my sien dat Jesus se eenmalige offer aan die kruis genoeg is en my vir altyd teen die Goddelike wraak op sonde beskerm. 

GELOOF IS 'N VASTE VERTROUE IN GOD SE BELOFTES

Geloof is nie bloot ‘n korrekte napraat van sekere feite nie, maar ‘n keuse vir ‘n nuwe leefstyl en lewensbeskouing. Geloof bring nie gerief en gemak nie, maar maak ons getroue volgelinge van Jesus in die harde werklikheid van die alledaagse lewe, sodat ons eendag die beloofde beloning kan verkry!