BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Krisis tye. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Krisis tye. Wys alle plasings

Saterdag 03 Oktober 2015

SUIWERING BY SARFAT

- voorberei vir die krisis van Karmel!


Ons het gesien hoe God vir Elia in die VELDSKOOL gesit het by die Spruit Krit. (1 Konings 17) Daar moes Hy vertroue, afhanklikheid van God en gehoorsaamheid leer. Dis nog steeds God se manier om elkeen van sy kinders te leer : God haal ons uit ons gemaksones en plaas ons in moeilike omstandighede om vir ons geloofslesse te leer.

Die spruit het nou opgedroog, so Elia kry nou sy volgende opdrag in sy veldskoolopleiding.

“Toe het die woord van die Here weer tot Elia gekom en gesê: "Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ‘n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg." (8,9)

PASOP VIR PANIEK!

Dis belangrik om raak te sien. Elia tree nie paniekerig op en maak sy eie halsoorkop planne toe die spruit opdroog nie. Hy beweeg eers toe God ‘n duidelike opdrag gee. Dis ‘n groot gevaar dat ons paniekerig en impulsief sal optree. Soveel het al in die verlede hier uit die bus geval. Dink maar aan : Abram (Hy val vir die plan om by Hagar ‘n kind te verwek toe dit lyk of God se belofte oor ‘n nageslag nie waar wil word nie), Moses (hy raak ongeduldig en slaan die rots), Saul (hy word paniekerig toe Saul nie betyds opdaag nie en doen die sonde om self ‘n offer te bring)

In ‘n krisis gryp mense graag na enige strooihalm en doen dan dinge wat teen God se wil is: Sommige val vas in finansiële moeilikheid en raak dan betrokke in oneerlike of twyfelagtige besigheid, ander beland in een of ander penarie en lieg en bedrieg om daaruit te kom, dit gebeur ook dat party mense tydens ernstige siekte of ‘n ander krisis so desperaat raak en dan selfs hulp gaan soek in okkultiese praktyke soos sangomas of spiritiste (kliek op DOF SOOS DIE DOOD), vir nog ander raak die eensaamheid so erg dat hulle hulself in ‘n vinnige huwelik of buite-egtelike verhouding begewe wat uiteindelik net tot nog groter smart en ellende lei! Wees waaksaam! Neem alle besluite volgens die beginsels van die Woord!

GOD HET JOU NIE VERGEET NIE

God het nie sy kneg by die spruit vergeet nie, al sou dit so kon lyk. (en al het dit dalk al vir ons ook so gevoel)  Onthou Hy is besig met Elia in sy veldskool. Hy stuur Elia na Sarfat. Die naam hou verband met suiwering en inderdaad sou dit die plek wees waar Elia gesuiwer sou word!

Dis opvallend, hierdie dorpie is juis geleë in die gebied waar Elia se grootste vyand, Isebel vandaan kom. Hierdie is Baäl se hartland. ‘n Stukkie ironie - God gee aan Sy kneg ‘n wegkruipplek juis binne die vyand se gebied. Hierdeur word God se mag en oppergesag bo Baäl nou reeds aangetoon. 

Net so merkwaardig is die spesifieke persoon na wie God besluit om Elia te stuur. Nie ‘n ryk sakeman nie, maar ‘n brandarm weduwee! God werk en dink op ‘n totaal ander manier as die mens. By wyse van spreke - God stuur Elia weer nie na ‘n rivier nie, maar na ‘n “spruit” - ‘n weduwee met baie beperkte vermoëns, ‘n baie onsekere, prekêre situasie.

GEEN TOEVAL

Onthou Elia weet nie na watter weduwee om te gaan nie. Hy het nie haar adres nie en daar was moontlik baie weduwees in Sarfat. God reël egter self die ontmoeting! Ons kry in die gedeelte ‘n duidelike voorbeeld van hoe God se voorsienigheid werk. Daar is nie iets soos toeval nie! Let op die “juis”. “Daarop het hy hom gereedgemaak en na Sarfat gegaan; en toe hy by die ingang van die stad kom, was 'n weduwee juis besig om daar houtjies bymekaar te maak. “En hy roep haar en sê: Gaan haal tog vir my 'n bietjie water in die kan, dat ek kan drink.” (vers 10 OAV) God werk van beide kante af - Elia kry ‘n opdrag en ‘n weduwee soek hout. Daar is nie iets soos die noodlot nie, God bestuur die “noodlot”en daarom is dit nie noodlot nie. Ons kan baie voorbeelde uit die Skrif noem : Josef beland juis saam met die skinker in die tronk. Dink aan Ester se geskiedenis. Koning Ahasveros kan nie slaap nie en daar word juis van Mordegai se heldedaad vir hom gelees op ‘n tydstip toe Haman Mordegai se dood beplan! In Handelinge 8 word Filippus gestuur na die man op die wa en hy is juis besig om uit Jesaja te lees! Kornelius stuur mense na Petrus en God berei hom voor deur ‘n droom juis net voor hulle kom! Kyk terug op jou lewe en sien raak en dank God vir Sy Voorsienigheid in jou lewe!

DIEP GETOETS

Hierdie opdrag is weereens ‘n groot toets vir Elia.

‘n Groot toets vir sy gehoorsaamheid. Hierdie bevel van die Here druis in teen Elia se geestelike ingesteldheid en sy natuurlike gevoelens as Israeliet. Hy moet sy vaderland verlaat en in ‘n heidense land gaan skuil - die sentrum van Baälaanbidding. 

Dis ook ‘n toets vir sy nederigheid. Hy, die groot profeet moet ‘n arm weduwee in die oë gaan kyk, afhanklik van ‘n vrou word. Om alles te kroon, hierdie arme vrou het self nie eers kos nie! Kan jy jou indink watse verleentheid moes dit vir die profeet gewees het? Elke stukkie ego wat Elia sou kon hê, is nou aan flarde geskiet! Hierdie is egter weereens ‘n klassieke bewys dat God die grootste verleentheid kan omskep in ‘n wonderlike geleentheid.

Elia het nou al geleer om nie meer na die sigbare te kyk nie, maar vir God raak te sien en in ag te neem. Deur praktiese ondervinding het Elia geleer dat God onder alle omstandighede getrou is en daarom kan hy hierdie vrou gerus stel. 

Elia se geloof in God word nie beskaam nie. God doen wonders. Die meel en die olie word nie minder nie! (Corrie ten Boom vertel van hoe hulle ‘n bottel vitamine druppels gehad het wat nooit opgeraak het nie totdat een van die gevangenes ‘n bietjie suurdeeg uit die kamphospitaal geneem het en toe gee die bottel in) 

KAN DIT NOG ERGER GAAN?

En nou gaan alles weer goed. Daar is genoeg kos en daar is rus en vrede. Maar dan gebeur hierdie ontsettende ramp! Die weduwee se seun sterf! Sou daar iets erger kon gebeur? Kan jy ‘n patroon begin raaksien? Kan jy agterkom hoe God se veldskool werk? Jy word uitgevat uit jou gemaksone en binne-in ‘n krisis geplaas. Dan moet jy glo en gehoorsaam. Dan word die krisis opgelos. Maar net sodra als weer rustig is, kom daar ‘n nuwe krisis wat jou weer uit jou gemaksone uitskud!

Hierdie is nou ‘n vreeslike krisis en verskriklike verleentheid. Kan jy dink hoe moes Elia voel? “Wat moet ek vir hierdie arme vrou sê? Is dit nou hoe God haar vir haar gasvryheid beloon?” Alles het so goed gegaan. Vanuit die oogpunt van die vrou het sy waarskynlik gedink dis die einde van al haar probleme en nou dit, die ergste moontlik wat kon gebeur het gebeur. Juis vir haar as weduwee was dit ‘n vernietigende slag. Dit lei tot ‘n verwytende uitbarsting van die vrou. Elia self kry die skuld! “Toe sê sy vir Elia: "Kyk wat het u my aangedoen, man van God! Het u na my toe gekom om my sonde aan die lig te bring en my seuntjie daarom te laat doodgaan?" (18) Dit moes diep gesny het in die arme Elia se siel!

KALM VERTROUE OP GOD

Wat staan Elia nou te doen? Hy reageer kalm op die uitbarsting van die vrou. Hy verdedig nie homself nie, argumenteer nie met haar nie, maar neem sy toevlug tot God. Hy bid ‘n hartstogtelike vurige gebed. God doen die wonder. (Terloops Elia het hom nooit uitgegee en geadverteer as ‘n wonderwerker en opwekker van dooies nie! Dis ‘n unieke pad van uiterste selfvernedering waarop God self hom gelei het.) Elia moes op ‘n besondere manier prakties beleef dat God die God is wat lewe gee, nie Baäl nie. Die wonderwerk gee aanleiding tot ‘n belydenis van hierdie vrou. Sy erken die Here en Sy ware profeet. Haar woorde bring eer van God se Naam nie, maar dis nie al nie, dis ‘n bevestiging van Elia se roeping. “Die vrou sê toe vir Elia: "Nou weet ek dat u ‘n man van God is, en dat wat die Here deur u sê, die waarheid is." ( 24) Elia ontvang as’t ware sy legitimasie uit die mond van hierdie vrou! Dis ongetwyfeld die klimaks in hierdie gedeelte van die verhaal. Elia is nou gereed vir die groot uitdaging van Karmel! 

NIKS IS VIR GOD ONMOONTLIK NIE!

God was besig om Elia in die veldskool van “Sarfat” te reinig van selftrots, hoogmoed, vooroordele. Meer nog. Hy moes ook prakties leer dat God alleen oor lewe en dood beskik en dat niks, maar niks vir Hom onmoontlik is nie! Dat gebed waarlik 'n verskil kan maak. Hierdie oortuiging sou hy baie nodig kry op Karmel, waar hy teen die duister magte van die Bose sou moes kragte meet!

Kind van God, Hy is besig met jou in sy veldskool. Gaan jy Hom vertrou, gaan jy gehoorsaam, gaan jy jou hart voor God uitstort, of gaan jy paniekerig raak en dwase dinge doen?

Kom ons buig voor God se wil, al maak dit nie sin nie, al verstaan ons nie, dis ons liefdevolle Vader wat besig is met ons!

[erkenning aan AW Pink, Elijah]

Maandag 09 Junie 2014

“EK IS MET JOU/JULLE”

- die heerlike versekering van Jesus aan sy boodskappers in die opmars van die Koninkryk!

Oorgangstye is krisistye. As ‘n gevestigde of geliefde leier weggaan kan daar so maklik chaos of agteruitgang kom. Mense kan koers en entoesiasme verloor. Dinge kan dan so maklik skeefloop. Ons moenie vergeet nie, in Handelinge kry ons die geskiedenis van ‘n dramatiese maar ook kritiese oorgangsfase - Jesus het na drie intieme jare saam met sy dissipels opgevaar na die hemel. Voor hulle oë het Hy verdwyn in ‘n wolk... weg. Wat gaan nou gebeur? Hy laat ‘n klein groepie onbelangrike volgelinge agter. (Hulle was juis nie die dapperste en geleerdste ouens wat jy kon kry nie...) Dit was ‘n krisis tyd, ‘n beslissende tyd in die bestaan van die kerk en die uitbreiding van die koninkryk. 

Daar was al vantevore in die heilsgeskiedenis so ‘n kritieke oorgangstyd. Neem u gedagtes terug na die groot Eksodus gebeure, die Uittog uit Egipte. God gryp in deur Sy kneg Moses en Hy bewerk ‘n magtige verlossing. Maar uiteindelik kom ook Moses te sterwe - wat gaan nou gebeur? Moses het so na aan God gewandel, maar nou is daar ‘n nuwe leier, Josua. “Sal ek die mas kan opkom?” wonder Josua seker. Dan kry hy hierdie heerlike versekering uit God se mond : “Ek sal met jou wees.”

“En ná die dood van Moses, die kneg van die HERE, het die HERE met Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses, gespreek en gesê: My kneg Moses is dood; maak jou dan nou klaar, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat Ek aan hulle, die kinders van Israel, sal gee. Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het. Van die woestyn en hierdie Líbanon af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier, die hele land van die Hetiete, en tot by die Groot See in die weste sal julle grondgebied wees. Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie." (Josua 1:1-5)

MET JOU!

“Ek is met julle.” Dis ook ‘n versekering wat aan die kerk van Jesus gegee word. (sien Matteus 28:10) Hy is met ons, Hy, Jesus is steeds na sy hemelvaart aktief teenwoordig in Sy kerk. Ons het gesien hoe dit Lukas se bedoeling was om Jesus se voortgaande bediening te skets. (Kliek HANDELINGE VAN JESUS) Steeds na sy hemelvaart bly Hy die koning wat sy amptenare, die plaasvervanger apostel, Mattias kies. Jesus is na sy hemelvaart nog steeds die aktiewe Verlosser. Hy bring verlossing na mense deur sy woorde en dade. Jesus is dus die een wat leer en die een wat doen. Hoe gebeur dit?

~Die uitstorting van die Gees deur Jesus. Een van die gebeurtenisse in Handelinge wat die meeste aandag trek en die grootste diskussie en meningsverskil uitlok is die talewonder op Pinksterdag. (Dis nie nou tyd om volledig daaroor te besin nie) Wat wel duidelik is, die fokus van die bonatuurlike gebeure op Pinksterdag is nie op die bonatuurlike verskynsels as sodanig nie, maar op die verkondiging van die groot dade van God. Die gebeure gee aanleiding tot Petrus se prediking oor die groot dade van God in Jesus Christus. Mense uit alle uithoeke en van alle tale hoor die verlossingsboodskap. (Die vloek oor Babel word omgekeer en alle nasies kan nou die woord in hulle eie taal hoor.) Dis die Heilige Gees se teenwoordigheid wat hierdie verkondiging moontlik maak. Nou is dit baie belangrik om raak te sien, die Heilige Gees kom nie sommer vanself of toevallig nie. Dis Jesus wat die Heilige Gees uitstort. Dis die duidelike boodskap van Handelinge 2:32,33 waar ons lees : “Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor.” Dis ‘n vervulling van die profesie van Johannes die Doper dat Jesus “met Heilige Gees doop” (Lukas 3:16, Handelinge 11:16) Omdat Jesus die groot Doper met die Gees is, stort Hy Heilige Gees uit. 

Ons moet alle verwysings na die Heilige Gees in Handelinge sien as verwysings na die aktiwiteit van Jesus. 

Dis ‘n uiters belangrike vertrekpunt vir die verstaan van Handelinge. Jesus is teenwoordig en werksaam deur die Heilige Gees. Nou verstaan ons waarom Hyself verklaar het dat dit voordelig sou wees as Hy weggaan. Deur sy Gees is Hy nou orals op aarde in sy kerk aanwesig en besig.

~Jesus is die een wat sy boodskappers bekragtig om te kan verkondig. Hy bekragtig hulle deur die Heilige Gees. (Handelinge 1:8) Dis so belangrik – daar is die nouste moontlike band tussen Jesus en Heilige Gees. Die Heilige Gees het nie nou ‘n afsonderlike bediening nie. Jesus en die Heilige Gees het nie twee botsende of alternatiewe agendas nie. Die Gees waarmee die verkondigers bekragtig word is die Gees van Jesus. Die Heilige Gees is die Gees van Jesus! “Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie.” (Handelinge 16:7 NAB*). Dis hoe Jesus met sy mense is in die veroweringstog van die kerk... Die ooreenkoms/parallel met die Eksodus/Josua gebeure is merkwaardig. In die oorgang van Moses wat die groot bewerker, middelaar van verlossing uit die Egiptiese slawerny was na Josua wat die verowering van die heidense gebied moes bewerkstellig, kry Josua die versekering “Ek is met jou.” Jesus was die groot Middelaar wat verlossing uit sondeslawerny bewerk het, maar nou is daar ‘n nuwe oorgangsfase - die heiden wêreld moet nou verower word deur sy boodskappers. Sy boodskappers kry nou dieselfde versekering as Josua. “Ek is met julle.” Dis presies die versekering wat Paulus van Jesus kry te midde van die teenstand wat hy in die stad Korinte moes verduur. “En die Here het deur 'n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.” (Handelinge 18:9,10)

~Jesus verlig en verander die harte van die wat die verkondiging hoor. Jesus se saam wees met sy mense behels meer as dat Hy hulle krag en vrymoedigheid gee. Hy is selfs nog meer aktief en persoonlik betrokke by die veroweringstog van die Koninkryk van God in hierdie wêreld . Hy werk nie net in die verkondigers nie, maar ook in die wat luister. Dis ‘n onontbeerlike noodsaaklikheid waarsonder geen sukses moontlik sou wees nie. Die boodskap van die evangelie is inderdaad goeie nuus, maar die gevalle mens se hart het geen waardering daarvoor nie. (Selfs mense wat dikwels in die kerk is en kinders in wat Christen huise grootword trek hulle neus op vir die boodskap van vergifnis en bevryding...) Hulle kan nie insien dat dit die enigste hoop op lewe is nie. Mense benodig ‘n bonatuurlike ingrype van die Here Jesus self, anders sal daar nooit bekering plaasvind nie. Dis die geval met die leiers en die inwoners van Jerusalem. Hulle het hulle verhard teen die Here en sy gesalfde. Petrus preek vir hulle dat hulle moet bekeer (2:38;3:19) Hoe kan sulke ongevoelige en vereelte harte tot bekering kom? Slegs as die bekering deur Jesus geskenk word. “Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan 'n kruishout te hang. Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk.” (Handelinge 5:30,31) Jesus skenk hartsverandering aan Sy vyande wat uitloop op vergifnis. Jesus speel ‘n direkte rol in bekering van Paulus, maar ook in die van Lidia. “En 'n vrou met die naam van Lídia, 'n purperverkoopster van die stad Thiatíre, 'n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is." (Handelinge 16:14).

Verlossing is slegs ‘n genade geskenk – dit het niks met menslike prestasie of verdienste te doen nie!


EN NOU? Jesus is reddend teenwoordig hier in die kerk, hier waar jy nou lees... Luister na wat Hy oor Homself gesê het : “Die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore is.” Volgens die boodskap van Handelinge het Hy nie na Sy Hemelvaart hierdie taak laat vaar nie, Hy is steeds daarmee besig. Heerlik! Jy wat nog buite staan, ronddwaal .... Hy is by magte om jou te red... Kom na Hom!

En jy wat reeds gered is? Kind van God jy is ‘n boodskapper wat die oorwinning wat Jesus aan die kruis behaal het, verder moet vat. Nuwe gebiede moet deur die evangelie verkondiging verower word. “Kanaän” by wyse van spreke, moet ingeneem word! Hoe? Deur verkondiging, proklamering van Jesus, getuie wees op alle maniere en terreine. Hierin word jy versterk, bemoedig en aangevuur deur die wonderlike versekering : "EK IS BY JOU!"

* Volgens goeie tekskritiese gegewens moet die vertaling "Gees van Jesus" soos dit in die NAB voorkom, voorkeur kry.