BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Geloof in Jesus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Geloof in Jesus. Wys alle plasings

Donderdag 07 April 2016

BLINDE BYBELLESERS

- mis die lewe en bly vir altyd in die duisternis!

“Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie” Wat ‘n skrikwekkende en hartseer verwyt wat uit die mond van Jesus persoonlik kom. Dis nog meer hartseer as mens besef dat hierdie mense wat nie na Jesus wil kom nie, nie kommuniste, terroriste, misdadigers, korrupte presidente, Moslems of bankrowers is nie, maar ja, hoor mooi, Bybellesers! Ernstige bekwame Bybellesers! Mense wat die Skrifte noukeurig ondersoek het, met ‘n bepaalde doel naamlik om die ewige lewe te verkry! Dis juis vir hulle wat hier deur Jesus uitgetrap word!

“Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig.
Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.” (Johannes 5:39,40)

‘n Paar praktiese waarhede en belangrike vertrekpunte kom hier na vore :

1.Nie almal wat die Bybel het, lees of selfs ken het al die lewe nie. 

Nie alle Bybellesers is kinders van God nie. Hierdie Jode was ywerige Bybellesers, hulle het groot respek gehad vir die heilige Skrifte, maar tog was hulle verlore. Paulus self was ‘n geleerde kenner van die Skrifte, maar voor sy ontmoeting met Jesus was hy ‘n verlorene en vyand van die waarheid! Dis moontlik om ‘n doktorsgraad in die teologie te verwerf en steeds die ewige lewe mis te loop!

2.Dis moontlik om baie dinge van die Bybel te ken, maar die kernboodskap mis te kyk. 

Wat is die kernboodskap van die Bybel in geheel? Wel , ons weet die Nuwe Testament gaan oor Jesus Christus, maar wat van die Ou Testament? In die Johannes evangelie is daar ‘n hele paar plekke wat dit direk of indirek duidelik maak dat die Ou Testament oor Jesus gaan. Kom ons kyk sommer wat word reg aan die begin van die Johannes evangelie al vir ons gesê in Joh 1:45. “Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: "Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef." (Vgl. ook Joh 2:21,22; 3:10; 5:45-46; 20:9) Ook in die ander evangelies maak Jesus dit baie duidelik dat die hele Ou Testament oor Homself gaan. (Lukas 24:27,44,45) Die Bybel is nie ‘n doel opsigself nie, die Bybel is God se Woord waardeur Hy ons wil lei na ‘n lewende verhouding met die lewende Jesus Christus.*

3. Die Bybel vertel ons van Jesus en as ons na Hom kom kry ons die lewe. 

- Jesus het gekom om vir ons die lewe te gee. Wat beteken dit? Om dit te verstaan moet ons net vinnig weer terug gaan na die tuin van Eden. Met die sondeval het daar skeiding gekom tussen ons en God. Soos wat die takke van ‘n boom afgebreek word en afgesny word van die bron van die lewe. Van nature is ons so afgesny. Dood is skeiding. Daarom kan ons net soos ‘n tak wat los is van ‘n boom, nie lewe nie, laat staan nog van vrugdra en groei. Daarom help dit nie om mense wat nie vas aan Jesus is se gedrag te probeer verander nie! ‘n Tak los van ‘n moederboom, sê nou maar ‘n mangoboom , sal nie vrugte dra nie, al doen jy wat. God het sy Seun Jesus na ons gestuur, nie om ons te veroordeel nie, maar om vir ons redding met ander woorde lewe te bring. Kom ons lees die bekende Joh 3:16, maar ook vers 17. “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.” Jesus het nie gekom om ons te veroordeel nie, maar as ons Hom nie aanvaar nie, dan bly ons in die dood, bly ons onder die oordeel van God.

- Kom na Jesus is die groot uitnodiging. Jesus het na ons gekom, maar ons word nou uitgedaag om na Hom te kom en so die lewe deelagtig te word. Dit was die groot fout van hierdie mense wat die Bybel wel geken het, hulle het ten spyte van hulle kennis geweier om na Jesus te kom. Hulle het Jesus dus nie aanvaar nie, nie aangeneem nie, nie waarlik in Hom geglo nie. Om Jesus aan te neem, om na Jesus te kom, om waarlik in Jesus te glo is presies dieselfde ding. Dis sinonieme in die Johannes evangelie. Die implikasie is: As jy Jesus nie aanneem nie, verwerp jy Hom en bly in die dood, as jy Jesus aanneem word jy ‘n kind van God en kry deel aan die ewige lewe. “Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” (Joh 1:11,12) Jesus verwyt hierdie mense met hulle Bybelkennis en al dat hulle nie na Hom wou kom nie. Waarom wou hulle nie na Hom kom nie en wat is vandag nog die kernrede dat mense nie na Jesus wil kom nie? Joh 3:19-21 gee vir ons ‘n duidelike antwoord. “En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is."

Let op : Dis ‘n morele rede, dit het niks met slimgeit of domgeit te doen nie. Jesus is die Lig en ‘n ontmoeting met Hom beteken ook dat ek gekonfronteer word met die werklikheid van my sonde. Hy is soos ‘n lig wat in ‘n vertrek skyn en al die stof en gemors uitwys. Dis die eintlike rede hoekom mense van Jesus wegskram, want hulle wil nie hê dat Jesus die verkeerde dinge in hul lewens ontbloot en hulle daarvan bevry nie! Maar onthou, Jesus laat die lig val op die verkeerde dinge in ons lewe, nie om ons te veroordeel nie, maar om ons te help. Dit laat mens amper dink aan ‘n kind wat kruppel loop, want daar’s ‘n doring in sy voet. Met groot liefde kyk ‘n pa na sy kind en wil hom help. Daar is net een manier om werklike hulp te bied, die doring moet uitgetrek word. Maar die kind is bang daarvoor. Dalk bang vir die pyn. Dalk bang vir ongemaklike vrae, want miskien het hy die doring opgetel toe hy een aand skelm uit die huis geglip en toe in die donker in die doring getrap... Die kind besef nie, sy pa wil hom nie veroordeel en uittrap nie, maar help... Maar solank die kind bang is om na sy pa te kom kan die probleem nie verwyder word nie. Waarom is jy bang om na Jesus te kom? Watter sonde is vir jou te kosbaar, wat bly steek jy weg? Moenie dwaas wees nie. Die weiering om na Jesus te kom, om waarlik in Hom te glo het skrikwekkende implikasies. “Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe." (Joh 8:24)

Vriend, Jesus wil jou nie veroordeel nie, maar red!

Geliefde, miskien ken jy die Bybel al baie lank. Jy ken al die verhale. Jy het moontlik selfs al ‘n Bybelstudie kursus of twee voltooi. Maar jy skram weg van Jesus. Jy het nog nooit die saak met Hom uitgemaak en jou vertroue kinderlik op Hom alleen gestel nie. So bly jy in die duisternis. Jy mis die lewe...nou en ewig. Hy nooi opnuut : “Kom” En Hy gee vir elkeen wat kom ‘n wonderlike belofte. “"Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” (Joh 6:37)

Waarom nie sommer nou jou kinderlik in die arms van Jesus werp nie??

*Dis daarom ‘n skreiende skande dat daar op teologiese fakulteite geleer word dat Jesus nie in die Ou Testament te vinde is nie!




 Die grootste nombessie/wilde dadel (Berchemia discolor) wat ek nog gesien het. Oppad na die plaas Mylpaal, noordoos van Tsintsabis. 'n Boom is so 'n pragtige voorbeeld van lewe, maar demonstreer ook doeltreffend wat dood beteken. 'n Tak wat afgebreek word is dood, want hy kan ie sonder die lewensbron bestaan nie. Ons is geestelik dood, geskei van God en moet weer op Jesus (Immanuel - God met ons) ingeënt word om die lewe deelagtig te word.

Vrydag 22 Januarie 2016

OPGEWONDE DEEL VAN ‘N LEWENDE GEMEENTE

- fokus op die kernbestanddele van egte Christenskap!



Wil jy graag ‘n opgewonde lid van ‘n lewende gemeente wees? Jou antwoord is seker, ja, maar dit bring mens dan by 'n klompie vrae...  Wat is die kern bestanddele van ‘n sprankelende gemeente? Hoe lyk egte volle Christenskap? Nou elke mens het sy eie idees oord hierdie saak. Die vraag moet egter wees : Wat is vir God belangrik as Hy na ‘n gemeente kyk? ‘n Mooi kerkgebou? ‘n Opwindende orkes? Groot getalle? ‘n Suksesvolle basaar? ‘n Vol bedrywige program? ‘n Lys wonderwerke? 

Wat tel werklik vir God en wat maak Hom gelukkig? Waarop moet ons konsentreer dat ons Christenskap nie vaal en vervelig word nie? Die brief aan die Kolossense gee detail antwoorde op al hierdie vrae.

Vandag kyk ons net na die drie basiese kernbestanddele van egte opwindende Christenskap soos dit vir ons uitgespel word in Kolossense 1:3-5. 

Van Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus.

Aan almal in Kolosse wat aan God behoort, getroue broers in Christus. Genade en vrede vir julle van God ons Vader!

Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle

omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges.

Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is.

Wat is die kernbestanddele van ware gemeentewees? Ons kan dit aflei uit dit in die gemeente waarvoor Paulus God dank in hierdie brief. Watse dinge in die gemeente beskou hy as die moeite werd om oor opgewonde te raak? Wel, hy dank God vir hulle geloof in Christus Jesus, hulle liefde tot al die heiliges, vanweë die hoop wat vir hulle bewaar word. Die kern bestanddele van gemeentewees is dus: Geloof, liefde en hoop. Dwarsdeur die NT is hierdie drie die aanduiding van ware Christelike ervaring/belewing.* Wanneer Christelike ervaring en dus praktiese gemeentewees van alle versiersels en verpakkings gestroop word is dit die essensiële basiese kern.

Kom ons kyk ‘n bietjie na hierdie drie sake. Onthou dis die dinge wat tel, die dinge wat die apostel bly maak, dis die eienskappe wat “ geestelike sukses” verteenwoordig. Hierdie dinge is die dinge wat in ‘n gemeente moet wees wat “lewendig” is en dit is die bestanddele van ware Christenwees.

1) GELOOF IN DIE HERE JESUS

Daar is baie wanopvattings oor geloof. Dis nie ‘n algemene positiewe gesindheid nie. Dis nie die “geloof” van die “Word Faith” wat geloof sien as ‘n instrument om die lewe vir my makliker te maak nie. Dis nie net bloot ‘n abstrakte “glo” dat dinge beter sal gaan nie. Die geloof van die Christen het ‘n spesifieke Objek. Geloof in Christus, d.w.s. die God-gestuurde, gesalfde Verlosser en Koning, die historiese persoon, Jesus van Nasaret – die gekruisigde, maar ook die opgestane Een. Geloof beteken dat ek opreg in eenvoud die volle getuienis van God oor Sy Seun as waar sal aanvaar. Maar dis nog iets meer...Geloof, het ons mos geleer is KENNIS èn VERTROUE! Dis ‘n verbintenis, ‘n commitment, ‘n lojaliteit aan ‘n Persoon. Dis ‘n vertroue op Hom alleen as genoegsame Redder. Ek maak nie meer staat op my godsdienstigheid, seremonies of my goeie eienskappe nie, maar klou desperaat vas aan die feit van sy genoegsame kruisdood. ‘n Lewende gemeente is dus waar lidmate ‘n persoonlike verbintenis aan Jesus het. Hyself is die middelpunt van ons geloof en alle aktiwiteite. Wat ons doen, doen ons omdat Hy belangrik is en doen ons vir Hom! Hy is die basis van alles. Deur Hom eer ons God die Vader! 

‘n Opgewonde Christen is iemand wat opgewonde is oor Jesus en die genoegsaamheid van sy kruisoffer!

2) LIEFDE VIR DIE HEILIGES

Ware geloof in Jesus lei tot ‘n ware liefde vir ander mense wat ook in Hom glo. Dis die gom wat ‘n gemeente aanmekaar hou. Praktiese Christenskap moet gemeet word, nie aan die mooi dinge wat ons sê nie, maar die kwaliteit van ons liefde. As dit nie so is nie meet ons met verkeerde maatband. Wat word bedoel met hierdie liefde? Kol 1:8 gee die antwoord. “Dit is ook hy wat ons vertel het van die liefde wat deur die Gees in julle gewek is.” Die Christelike liefde vir ons medegelowiges is ‘n bonatuurlike werk van die Gees. Hierdie liefde is nie bloot ‘n warm gevoel nie. Niks te doen met Valentynsdag nie! Wat Paulus spesifiek met hierdie liefde in praktiese terme vir die Kolossense bedoel, word uitgespel in Kol 3:12-14. “Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.
Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.
Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.”

Dit gaan oor praktiese optrede! Dit gaan oor opoffer – OFFER JOUSELF! Dit stem grootliks ooreen met 1Kor 13 nie waar nie? Christelike liefde word prakties uitgeleef in slegte omstandighede, wanneer mense my kwaad aandoen, irriteer, ongeduldig maak ens. Dis ‘n “ ten spyte van liefde” -ek het lief ten spyte van mense wat my irriteer, kwaad aandoen, verkeerde verstaan ens. Dis mos hoe Jesus ons liefgehad het en steeds liefhet? Let op: Christelik liefde is ‘n liefde vir al die gelowiges (heiliges). Nie net vir sekeres nie. Nie net vir die wat van dieselfde sosiale stand en selfde intellektuele vlak as ek is nie, of in dieselfde uitsoekkringe beweeg nie, maar almal in die gemeente. 

3) ‘N VASTE HOOP OP DIE ERFENIS

As die Nuwe Testament praat van die Christelike hoop is dit nie ‘n blote wens nie, maar iets vas en seker. Die Christelike hoop is daardie ywerige verlange, daardie versekerde verwagting, en daardie geduldige wag op die vervulling van God se beloftes. Finaal word dit vervul by Jesus se wederkoms.

Die spesifieke ding waarvoor ons hoop word in Kol 1:12 uitgespel. “Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig.” Maar let op dit is nooit los van Christus nie soos Kol 1:27 dit uitspel “Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid”. Hierdie hoop is dus ‘n verlange na ‘n ewige toekoms waar Jesus self sentraal en allesoorheersend belangrik sal wees. ‘n Lewende gemeente het ‘n gesonde balans – ons is nou besig met dade van liefde, maar ons is ook toekomsgerig, ons sien uit na ‘n beter bedeling! Ons besef hierdie lewe is nie als nie. Ons harte is nie so verknog aan die sigbare dinge nie, ons kyk verder...

Opgewonde Christene is ten diepste toekomsmense... 

Ons kyk verder as die probleme van nou en ons kyk ook verder as die vreugdes van nou, beide gaan verby, maar daar wag ‘n ewige volmaakte toekoms en ons sien aktief daarna uit!


WAAR EN HOE?

Jy hoef nie ver te gaan soek na ‘n opwindende gemeente nie, jy kan maar net hier aangespoor deur die Woord begin fokus op geloof in Jesus, liefde vir jou mede Christen, hoop op ons heerlike erfenis en dan is ons in ‘n lewende gemeente, want ek en jy wat hierdie fokus het is mos die gemeente! Waar die evangelie (die waarheid) ** verkondig word, kom hierdie geloof, liefde en hoop as vrug tot stand! Laat ek en jy hierin volhard! AMEN!


*As jy wil seker maak van hierdie feit kyk gerus na Rom 5: 1-5; 1Tess 1:3; 1Pet 1:3-8; Heb 6:10-12 en die bekendste sekerlik 1Kor 13:13.

**Waar die evangelie nie meer verkondig word nie, met ander woorde waar die plaasvervangende sterwe van Jesus en sy liggaamlike opstanding nie meer geglo en gepreek word nie, kan daar dus nooit sprake wees van ‘n lewende gemeente nie.