BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Kruisboodskap. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kruisboodskap. Wys alle plasings

Vrydag 10 Maart 2017

GOD SELF

- BELOOF, BEVESTIG EN BEWERK ONS VERLOSSING!



Ons het gesien hoe God met Abram besig is op sy geloofspad in Genesis 15. Hy het sy beloftes aan die wankelende Abram herbevestig. Boonop het Hy toe vir Abram op ‘n nagtelike uitstappie gevat – “Kyk na die sterre! Kan jy hulle tel? Abram, dit wat jy nie kan doen nie, kan ek doen. Dit wat vir jou onmoontlik is , is vir my moontlik.” (Kliek op STERRE) En Abram glo. Maar daar is nog steeds huiwering by hom. “En hy sê: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?” (8) Hy soek nog meer vastigheid en versterking. Hierdie versoek is nie ‘n teken van ongeloof, maar ‘n bewys van geloof wat van sy eie swakheid bewus is. God verag nie ‘n geringe en swakke geloof nie. (Die aangrypendste voorbeeld in die Nuwe Testament is die pa wat na Jesus toe kom in Markus 9 – “Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp!”)



VERBOND


Om Abram se geloof te versterk sluit God ‘n verbond (kontrak) met hom. God bevestig sy beloftes op ‘n formele kontraktuele manier. Hy hoef dit nie te doen nie, sy beloftes moet mos genoeg wees, maar Hy kies om dit so te doen. 

“En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar 'n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. Op dié dag het die HERE met Abram 'n verbond gesluit...” (17,18)

GOD TREE EENSYDIG OP!

Oor die presiese betekenis van al die besonderhede van hierdie verbondsluitingseremonie is daar nie eenstemmigheid nie.* Dis net interessant om te onthou dat mens in Hebreeus ‘n “verbond sny” Die verdeling van die diere – as ‘n oordeelsteken maak dus baie sin. Wat wel opvallend waar en vol betekenis is, is dat God eensydig** optree. Hy gaan alleen tussen die verdeelde diere deur in ‘n Goddelike verskyning. (Normaalweg sou mens verwag dat beide partye in die verbond dit sou doen) Die rokende oond en fakkel herinner sterk aan die wolk en vuurkolom tydens die Uittog uit Egipte en mag dalk ‘n profetiese boodskap van beskerming inhou ten opsigte van die latere geskiedenis van Israel. Nietemin, die klem val op God se inisiatief, God se ingrype, God se belofte en God se versekering terwyl Abram in ‘n passiewe toestand van vrees en angs is. (12) “En toe die son wou ondergaan, val daar 'n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.” (Dis miskien iets soos daai drome waarin jy voel of jy van als bewus is, jy word bang, jy wil iets doen, maar jy is magteloos… )

Abram is buite aksie, dis God wat die aksie uitvoer. 

En dis ‘n genade aksie! ‘n Heerlike troos! God staan nie simpatiekloos en kyk eenkant toe hoe ons in die geloofslewe spartel en verdrink nie. Hy gryp in… Hy neem als op Hom. So wek HY geloof en ondersteun HY ons geloof. Hier in vers 18 word die verbond met Abram die eerste keer by name genoem. (die teken van die verbond, die besnydenis word eers in hfst. 17 gegee) En terloops, die hele res van die Bybel gaan oor die magtige verhaal van hoe God getrou bly aan sy verbond. Tot in Openbaring kom dit weer ter sprake!

Aangrypend heerlike drama. Die almagtige Skeppergod daal neer na die nietige mens en maak beloftes aan hom, maar dis nie al nie Hy sluit ‘n verbond met hom om die beloftes te bevestig. God kom na ons in Woord en sakrament. God verbind Homself deur sigbare tekens. Ook aan ons. Doop en nagmaal. Dis die groot saak om raak te hoor in die prediking en raak te sien in die sakrament. God speel die hoofrol. God tree op. God belowe. God bevestig sy beloftes. Ons troos lê in dit wat HY doen en wat HY belowe. In die doop wat die uiterlike teken is van die verbond gaan dit dus nie in die eerste plek wat ons belowe nie. Dit gaan oor God se beloftes, spesifiek God se beloftes wat waar geword het in Jesus. Dink tog maar mooi, watter troos bied ons beloftetjies tog… verbreek ons hulle nie dikwels maar vinniger as wat ons hulle gemaak het nie? 

DOOP

Net terloops. ‘n Streng subjektiwistiese siening van die doop, waar alle klem op my belydenis en my besluit val bied maar min troos in tye van storms en vertwyfel. Die feit dat ons (onder andere) vanuit die Abramsverbond aflei dat kindertjies ook hierdie teken mag ontvang (sommer om nou in ‘n polemiek betrokke te raak) bevestig net hierdie sterk klem op die eensydige kant van God se beloftes wat hier in Genesis 15 so dramaties geïllustreer word. Natuurlik kan klein kindertjies nog nie glo nie, natuurlik kan hulle nog nie tot bekering kom nie. Maar sou dit God verhoed om reeds sy beloftes aan hulle te bevestig? Onthou weer, Abram het geslaap toe God opgetree het... Abram ontvang wel die teken van die verbond nadat hy geglo het in Genesis 17, maar toe sy seun Isak gebore word ontvang hy die teken al op agt dae. Isak sou wel iewers later tot geloof gekom het, want volgens Hebreërs 11 was Isak ook ‘n gelowige.

EVANGELIE

Die groot saak is - Ons hoor reeds die evangelie hier in Genesis 15! God tree eensydig op, Hy gaan alleen tussen die stukke deur, Hy neem die inisiatief by die verbondsluiting. Dis mos presies wat by die kruis van Jesus gebeur het. God het mens geword in Jesus. Hyself vat die volle straf vir ons sonde. By die kruis het God alleen opgetree. Die mens het nie gehelp nie. Deur Jesus se offer het God gekom en ons met Homself versoen. Hy het dit volledig gedoen. Die mens het nie op Golgota enige bydra gelewer nie, die verlossing is genoegsaam en volkome deur God self bewerk in Jesus Christus.

REAKSIE : DANKBAARHEID!

Ons kan niks anders wees as dankbaar nie. Daar bly vir ons niks anders oor om te doen as dankbaarheid nie. Ons bewys ons dankbaarheid deur geloof en bekering. Geloof en bekering is die sigbare bewys van dankbaarheid. Wie nie glo nie en nie bekeer nie, is gruwelik ondankbaar en verwerp God se genade en vertrap die verbond… Juis ook en veral op gedoopte verbondskinders rus die verpligting om te reageer met geloof en bekering.

Net ‘n laaste vraag. In die lig van wat God gedoen het, sy eensydige verbond, sy genade, sy werk deur Jesus aan die kruis… Hoe kan ons onaangeraak bly, hoe kan ons ongelowig bly, hoe kan ons onbekeerd in sonde voortgaan, hoe durf ons die Woord minag…? Dis waansinnig dwaas om God se liefdevolle toenadering te verwerp en inderdaad sal so ‘n verwerping lei tot ‘n ewige waansin van selfverwyt in die hel…


Besondere wolkformasie bo die Omatako's (foto : ds. Hendrik van Zyl)

*Sommige verklaarders maak baie van die ooreenkomstige gebeure in Jeremia 34:18-20 waar die straf weens die verbreking van die verbond voorop staan, terwyl ander meen daar is nie ‘n direkte ooreenkoms nie.

**Dumbrell, Covenant and creation,p49 en ook Woord teen die Lig II/3 p160,162

Woensdag 23 Maart 2016

GOLGOTA IS GROTER AS GILBOA

- daarom is daar 'n oplossing vir sonde, skuld en mislukkings!



Gilboa en Golgota. Twee uitstaande berge van groot betekenis in die heilsgeskiedenis.

Elkeen is die toneel van ‘n aaklige dood van ‘n bekende persoon. Beide is konings wat sterf, beide sterf ‘n grusame en skandalige dood. Beide se dood het groot gevolge. Maar daar is ‘n groot en heerlike verskil. So ‘n heerlike verskil dat dit vandag in my en jou lewe ‘n verskil kan maak. Genadiglik hoef ons nie stil te staan by die neerlaag van Gilboa nie, maar kan ons aanbeweeg na die oorwinning van Golgota.

Kom ons kyk bietjie na wat op hierdie twee plekke gebeur het. Koning Saul pleeg in wanhoop en vrees selfmoord op Gilboa. Dit was die afgryslike uiteinde van ‘n lang pad van rebellie en ongehoorsaamheid. Ons ken mos die droewige verhaal...Hy het ‘n punt bereik waar God hom finaal verlaat het, soveel so dat hy in desperaatheid ‘n spiritiste medium moes gaan raadpleeg, die heks van Endor. Maar ook sy kon natuurlik nie help nie. Hy is deur God verwerp en in sy angs en vernedering kies hy die hartseer uitweg van selfmoord. Dit gaan egter oor meer as net Saul. Dis ook ‘n nederlaag, bespotting en vernedering van die volk Israel, want Saul was die gesalfde koning van God se volk. Skrikwekkende skade word aan die eer van God gedoen as Saul se kop afgesny word en in die land van die heidense Filistyne rondgestuur word.

NIE DIE EINDE VAN GOD SE BEMOEIENIS EN GENADE NIE...

God verlaat egter nie sy volk nie en sy planne kan nie omvergegooi word nie. God self gryp weer in om sy eer te herstel. Die nuwe gesalfde koning is Dawid. Dawid sou die Filistyne verslaan. Maar nou weet ons Dawid was ook nie ‘n volmaakte koning nie en hy het ook sy mislukkings gehad. God het egter ‘n verbond met Dawid gesluit en as uitvloeisel is Jesus die Seun van Dawid baie eeue later in Betlehem die stad van Dawid gebore. Hy word in Jerusalem verwelkom met Hosannas... “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!” (Matteus 21:9) Maar Hy sterf uiteindelik op Golgota. (Lees gerus Johannes 19:17-22;28-30) Dit lyk soos ‘n nog mislukking, die grootste mislukking ooit, maar ons weet op Golgota het Hy sonde, Satan, dood en hel oorwin. Golgota was nie ‘n ramp nie, Golgota was die plek waar Jesus die werk wat Sy Vader hom gegee het afgehandel het. Anders gestel, op Golgota het God afgereken met sonde, skuld en skande! Daarom kan Jesus te midde van sy doodsworsteling triomfantelik uitroep : “Dis volbring” Hier is die volle sonde boete betaal, ons volle sondeskuld is uitgewis. Daar is dus ‘n reuse verskil tussen Gilboa en Golgota.

'N REUSE EN HEERLIKE VERSKIL

Gilboa spel wanhoop en nederlaag. Golgota bring hoop en oorwinning.

Gilboa is ‘n skande, maar Golgota is ‘n triomf.

Gilboa is die konsekwensie van die heerskappy van sondemag en skuld, Golgota bring ‘n einde aan die heerskappy van sondemag en skuld.

Op Gilboa sterf Saul sonder God, op Golgota sterf Jesus in ons plek sodat ons nooit weer sonder God hoef te wees nie.

Op Gilboa tref God se vloek vir Saul, op Golgota tref God se vloek ook vir Jesus, maar juis sodat ons kan deel kry in God se seëninge!

Op Gilboa sterf Saul as ‘n verworpene deur God weens sy eie aanhoudende sonde en opstand teen God. Op Golgota sterf Jesus ook as verworpene, maar Hy sterf vir óns sonde, Hy vat óns straf. Jesus sterf nie in opstand teen God nie, maar juis as die een wat volmaak gehoorsaam is aan God.

Op Gilboa sien ons die dodelike mag en gevolge van sonde. Op Golgota aanskou ons die uitwissing van ons sondeskuld en straf.

Gilboa was tydelik goeie nuus vir die Filistyne (1 Sam 31:9), maar dit wat op Golgota gebeur het is blywende ewige Goeie Nuus, GOEIE VRYDAGNUUS vir elke sondaar wat in Jesus glo!

Ons kan juig : Golgota is groter as Gilboa!

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir die grootste rebelse sondaar! Jesus sal jou nie wegwys as jy na Hom kom vir verlossing nie.

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir die teruggevalle kind van God. (vir backsliders!) Kom in berou na Jesus en Hy sal jou terugvat en weer gebruik soos Petrus! (Kliek op PETRUS)

Omdat Golgota groter is as Gilboa is daar hoop vir jou wat voel dat jy misluk het in jou Christenskap, misluk het in jou huwelik of huisgesin. Jesus vergewe en herstel.

VASGEKEER IN 'N DOODLOOPSTRAAT?

Vriend, jou mislukkings, jou sondes, is dalk baie groot. Jy voel of jy by ‘n Gilboa van absolute wanhoop gekom het. Jy voel dalk soos Saul homselwers, vasgekeer in ‘n doodloopstraat van sondeskuld en skande. Dalk is daar ‘n baie spesifieke sonde of skande wat meedoënloos aan jou vreet, wat jou gewete verrinneweer... daardie een ding...wat jou so pla en teister dat jy dalk moontlik letterlik soos Saul op die rantjie van selfmoord rondsteier... 

Ja dis erg, baie erg, verskriklik erg, maar ek wil jou uitdaag en uitnooi: Kyk na Golgota, kyk wat daar gebeur het, kyk na die Seun van Dawid wat daar hang en hoor as hy uitroep : Dis volbring! Glo in Hom, hoop op Hom en vind volkome rus, vergifnis, vrede!  "Aanskou die Heiland, sien die kruis..."

MOENIE 'N ONGELOWIGE GEVANGENE BLY VAN DIE GEMORS VAN GILBOA NIE; BEWEEG VANDAG NOG GELOWIG AAN NA DIE GENADETRIOMF VAN GOLGOTA!

(Die essensie van hierdie preek het ek jare gelede by ds. Danie Steyn gehoor)

Donderdag 14 November 2013

NOODSAAKLIKE IMMUNITEIT TEEN WÊRELDGRIEP

- is jy al ingeënt ?


Gewoonlik het Paulus van 'n sekretaris gebruik gemaak vir die skryf van sy briewe en het dan net afgesluit met sy eie hand. (byv. Rom 16:22) Hier in Galasiërs 6 :11 neem hy egter die pen op nog voor die slotgroete. “Van hier af skryf ek eiehandig aan julle. Kyk net die groot letters!” Verder doen hy dit ook met groter as normale letters. Die feit dat hierdie laaste verse in Paulus se eie hand met groot letters geskryf word, is 'n aanduiding van hierdie gedeelte se spesiale belangrikheid. Ons kry hier 'n opsomming van die kernsaak waaroor dit in die hele Galasiër brief gaan.

Die groot kwessie waaroor dit in hierdie besonder aktuele brief gaan is die saak van Christus alleen of Christus plus? Is Jesus alleen genoegsaam vir ons redding en lewe as gereddes? Of is daar nog 'n ander geheim om te ontdek...?