BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Afrikaners. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Afrikaners. Wys alle plasings

Vrydag 04 Desember 2020

DIE GELOFTE

- net weer 'n herinnering

Wat was die inhoud van die Gelofte wat die Voortrekkers  in 'n tyd van diepe angs en nood plegtig aan God gemaak het?

Die Gelofte is vandag grootliks vergete, maar vir Sarel Celliers en die manne saam met hom was dit 'n saak van absolute erns. Dis nie ligtelik gedoen nie en mens kan aflei dat hy gehuiwer het om tot so 'n ernstige stap oor te gaan, juis omdat hy geweet het hoe gou die mens vergeet. 'n Latere mededeling van Celliers klink soos volg : "en ik vond mij er over diep bezwaard, en zij tot hem (Pretorius) : mijn heer, ik bevind mij er onder bezwaard dat wij die dag zal vergeten, en ook zal verwaarloozen, en dat de toorn des Heeren dan tegen ons zal ontbranden."*  Dit laat mens wonder...was Celliers nie baie reg nie?

Hier is die woorde van die GELOFTE:

In Nederlands

"Mijne broeders en medelandgenoten, hier staan wij tans op een ogenblik voor een Heilige God van hemel en aarde om een Belofte aan Hem te beloven, als Hij met Zijn bescherming met ons sal wezen, en onze vijand in onze handen zal geven dat wij hem overwinnen, dat wij die dag en datum elke jaar zoals een Sabbat in Zijn eer zullen doorbrengen, en dat wij een tempel tot Zijn eer stichten zullen waar het Hem zou behagen, en dat wij het ook aan onzen kinderen zullen zeggen dat zij met ons erin moeten delen tot gedachtenis ook voor onze opkomende geslachten. Want de ere van Zijn Naam daardoor zal verheerlikt worden, dat de roem en eer van overwinning aan Hem sal worden gegeven."

 

In Afrikaans

"Hier staan ons voor die heilige GOD van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n sabbat sal deurbring, en dat ons 'n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan hom te gee." **


*Aangehaal deur GDJ Duvenhage,  Die Groot Trek,  Die eerste drie jaar DIE GELOFTE, p143

** Soos die geval met baie handgeskrewe historiese dokumente bestaan daar verskillende weergawes van die Gelofte wat onderling verskil. Vergelyk die weergawes van Hofstede, Cachet en Gerdener in Duvenhage.

Saterdag 04 Julie 2020

Die Boerevolk en Siener van Rensburg

- wie is ons ware profeet? 

Ek is ‘n trotse lid van die Boerevolk wat in God se voorsienigheid hier aan die suidpunt van Afrika ontwikkel het. Ek het geen probleem met my identiteit nie. Ek leef nie in ontkenning oor ons geskiedenis nie. Soos in alle volke se verlede was daar hoogtepunte en laagtepunte. Ek idealiseer nie my volk en dink dat ons as etniese groep die ware Israel is nie, maar ek sien wel God se genadehand op die pad waarlangs Hy ons hier in Afrika gelei het met 'n besondere doel en taak. Ek praat en skryf met trots in Afrikaans. 


Die Voortrekkermonument, die Vrouemonument, die Taalmonument… noem maar op is vir my kosbare bakens en ek vat graag my kinders soontoe waar moontlik. 
Die Gelofte, Bloedrivier, die Vierkleur, Amajuba, Magersfontein, die uitwissing en lyding in die konsentrasiekampe, die wrede behandeling van die Kaapse rebelle... al hierdie dinge roer my hartsnare. 


(Terloops een van die mees aangrypendste boeke wat ek ooit gelees het is : “So het hulle gesterf” wat handel oor die onmenslike lukrake teregstelling van Kaapse rebelle , waarvan sommige nog blote seuns was. Maar wat wonderlik is, in hierdie boek word ook vertel hoe baie van hierdie veroordeeldes waarlik Jesus as hulle Verlosser gevind het in die dodeselle terwyl hulle op hul einde gewag het.) 



So, ek is lief vir my volk, maar juis daarom is dit ook vir my ontstellend dat soveel lede van die Boerevolk vir God vergeet en hulle rug op die evangelie gedraai het . Soortgelyk aan ou Israel se dwaling. “My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.” (Jeremia 2:13) Ons volk het die Bron van lewende water verlaat en groot getalle drink nou by vreemde bronne wat nie kan versadig nie. Gebarste waterbakke. Stukkende emmers. 

Wat is hierdie onbetroubare lekkende bronne in ons konteks? Dis alles wat teen die evangelie van Jesus is. Die skreiende materialisme en gejaag na plesier en die rugby afgod wat maak dat die evangelie vergeet word. Die liberale teologie van sommige teologiese fakulteite wat die evangelie uitwis omdat dit die liggaamlike opstanding van Jesus ontken. Die Prosperity Gospel wat die evangelie vermink en mismaak tot ‘n mensgesentreerde selfverrykingsprojek. Die Israelvisie wat die evangelie wat bedoel is vir alle nasies verskraal en verdraai tot ‘n eiesinnige volksafgodery. Dis so hartseer. 

DIE WARE PROFEET 

Daar is Afrikaners wat blykbaar nou hulle hoop op Siener van Rensburg as die groot Boereprofeet plaas. (Terloops, ek vermoed oom Siener sal self verbaas en verstom wees oor die bog wat deesdae aan hom toegedig word!) Watter geweldige mistasting! WIE IS ONS GROOT PROFEET, PRIESTER EN KONING? Die Here het reeds met Moses hieroor in die Ou Testament gepraat. “Ek sal ‘n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel. Ek sal self rekenskap eis van elkeen wat nie gehoorsaam is aan my woorde wat die profeet in my Naam sê nie.” (Deut 18:18,19) In Handelinge 3:22, 23* verwys Petrus terug hierna en toon aan dat hierdie profesie in Jesus vervul is. Jesus Christus het die finale sê en alleenlik in Sy Naam is daar verlossing te vind!** Jesus self is die finale openbaring van God aan die mens. “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun...” (Hebreërs 1:1,2) 

Jesus Christus is die enigste ware profeet, priester en koning! 

My volk, weet dit! Jesus is die Lam van God wat vir ons geslag is en mense losgekoop het uit alle etniese agtergronde! “Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.” (Openbaring 5:9) Kan dit duideliker gestel word? God maak deur Sy Seun Jesus vir Homself mense bymekaar vanuit elke denkbare groepering. Daarom is die groot opdrag wat ons van Jesus ontvang het om dissipels te maak van al die nasies! Sommige van die huidige selfaangestelde Boereleiers ken nie hulle eie geskiedenis nie. Hulle vergeet dat van ons grootste Boereleiers soos President Paul Kruger en Generaal CF Beyers uitgesproke sendingentoesiaste was, wat aktief sendingwerk onder swartmense bevorder het! Gaan kyk maar na die feite en bewys my verkeerd! 

Mag ons volk en ook al die volke rondom ons terugkeer na ons enigste hoop Jesus ons gekruisigde en opgestane Here! So word ons deel van die Israel van God! Sy volk tot in alle ewigheid. 

*“Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur. 

Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis. 

En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is. 

Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê. 

Moses het immers gesê: ‘Die Here julle God sal uit julle eie geledere vir julle ‘n Profeet soos ek laat voortkom. Gehoorsaam Hom in alles wat Hy vir julle sal sê.” (Handelinge 3:18-22) 

**En stop tog met al julle kamstige Hebreeus/Aramese variasies asof dit die sleutel tot die saligheid is! (Jeshua, Jahushua ens.) Die Naam van ons Verlosser word in die Nuwe Testament wat in Grieks geskryf is vir ons aangedui as IhsouV.

 (Die naam begin met ‘n i want Grieks het nie ‘n j letter nie) en of jy dit nou op die Engelse, Duitse, Franse of Afrikaanse manier uitspreek wat maak dit saak? En in Damara/Nama sal dit as Jesub uitgespreek word , want ‘n manlike naam eindig altyd op ‘n b terwyl vrouename op ‘n s eindig!)

Naskrif : Hierdie is 'n Afrikanermonument waarvan min mense weet. Dis op die plaas Waterbury naby Tosca in Noordwes, waar Genl. C R de Wet gevange geneem is tydens die 1914 Rebellie. Sy kommando moes oorgee na 'n baie uitputtende tog deur die Kalahari.



Woensdag 21 Augustus 2019

BEDREIGDE SPESIE!


Nee, ek praat nie van die renoster nie! 


Ek verwys na die Christen Calvinistiese Afrikaner Man! Ekself is een van hulle. En dit kan gevaarlik raak net om te oorleef... 

In die heel eerste plek noem ek myself ‘n Christen. Moenie ’n fout maak nie, die naam Christen word al hoe meer gehaat. Spesifiek sogenaamde “fundamentalistiese” Christene wat die Woord van God as onfeilbare norm vir leer en lewe beskou en Jesus as die enigste Weg na die Vader bely. Christene wat euwels soos dronkenskap, saambly en die nuwe gier van homo dominees nie kan goedpraat nie! Ons word verag, beledig en afgeskryf as onverdraagsaam, eng, pretbederwers, verouderd en homofobies! Ons word vervolg deur regerings, volksgenote, eie familie en veral deur die “verligte” valse leraars binne die kerk! Christene word al hoe meer uitgedruk na die onverkwiklike plek heel onder aan die “voedselketting” en gesien as die gunsteling prooi van ateïste, menseregte aktiviste, liberale teoloë , gekrenkte joernaliste... 

Christene word wêreldwyd al hoe meer geteiken en bedreig en tog is ek dankbaar, nederig, “trots” om myself ‘n Christen te noem. Iemand wat soos Paulus alleenlik roem op die kruisgebeure waar Jesus die volle prys genoegsaam betaal het vir AL my sonde! 

Tweedens noem ek myself ’n Calvinistiese Christen. Ek sê doelbewus “tweedens” want die broers en susters met wie ek hartlike gemeenskap in Christus beoefen sluit ook diegene in wat hulleself nie as Calviniste sou beskryf nie. As Christene gehaat word deur die wêreld is dit natuurlik dubbeld die geval met Calvinistiese Christene. Ons erken dan dat die mens “totaal verdorwe” is, tot niks goeds in staat nie en volkome afhanklik van God se genade! Ons word verkeerd verstaan en ons sienings verdraai. (doelbewus of weens onkunde) Sommige mense beweer dat ons nie glo in bekering en wilsbesluite en evangelisasie nie. Dit terwyl die grootste evangeliste en bekeringspredikers van alle tye soos George Whitefield, Charles Spurgeon, Robert Murray M’cheyne , Martyn Lloyd-Jones... hierdie leer van Goddelike soewereiniteit onderskryf het. Ons word belaster, beledig en die skuld gegee vir als wat verkeerd geloop het in die teologie sowel as in die politiek (spesifiek ook hier in Suider Afrika) Ja, ons word geteiken en die skuld gegee vir als wat sleg is onder die son – van apartheid tot (dalk) klimaatsverandering!

Calvinisme is in baie kringe ’n vloekwoord en tog sal ek altyd ’n dankbare nederige Calvinis bly, omdat ek glo dat God soewerein is en dat Hy alleen alle eer waardig is. Inderdaad, uit Hom, deur Hom en tot Hom is alle dinge! (Romeine 11:33-36) Soli Deo Gloria! 

Die derde gevaarlike etiket wat om my nek hang is die van Afrikaner wees. Nee, ek is nie ’n super Afrikaner van Broederbond faam nie! (Ek het inderdaad  ’n renons in enige geheime organisasie) Ek glo ook nie Afrikaners is die uitverkore volk van God nie. Ek is diep bewus van foute wat Afrikaners en Afrikanerregerings gemaak het. En tog gaan ek nie my Afrikanerskap ontken of probeer wegsteek nie. Ek praat my taal met trots. Met behae neem ek kennis van die veelbewoë geskiedenis van die Hollandse baanbrekers, Franse Hugenote, Voortrekker pioniers, die Boerekrygers wat teen die magtige Britse Ryk geveg het, die kinder en vroue helde van die konsentrasiekampe en soveel ander eerbare Afrikaner manne en vroue. Ek kyk met verwondering terug op God se pad met hierdie volkie en hoe Hy ons ten spyte van ons misstappe en gebreke gebruik het om ’n seën vir Afrika te wees! Wie dit nie weet nie moet maar gerus die sendingeskiedenis gaan oplees! Bekende helde van die kruis soos Stephanus Hofmeyer, A.A. Louw, die talle lede van die Murray familie, Helena Hugo (te veel om te noem), maar ook die onbekende groot aantal boere, sakemanne, huisvroue en Afrikaners van elke denkbare beroep of stand wat met woord en daad die evangelie op ’n donker vasteland versprei het en dit nog steeds doen! Die woorde van ’n eenvoudige boer, ouderling W. Joubert van die plaas Uitkomst in die noorde van die destydse Duitswes aan ’n besoekende leraar in 1912 tref mens diep : “Ik is een zendingvriend omdat ik een Afrikaner is.” Hy het ‘n kerksaal vir sy Herero werkers gebou en die Woord aan hulle bedien! 

Ek bly dus opgewonde en dankbaar om myself ‘n Afrikaner te noem. Al is ons die muishondvolkie in baie se oë en al is ek deesdae diep ontsteld oor die skrikwekkende geestelike afvalligheid onder ons mense! God wat aan alle volke bestaan en ruimte gee vir solank Hy wil (Handelinge 17:26), het in sy alwysheid my deel gemaak van die Afrikanervolk en ek gaan daarom niemand om verskoning vra of skaam wees dat ek tot hierdie volksgroep behoort nie. En ek glo steeds dis ‘n voorreg om ‘n geroepe Christen Afrikaner te wees! 

En dan is ek boonop ook ’n man! Miskien glimlag jy nou, maar die man is ook deesdae in ’n wêreld wat behep is met regte en gelykheid ’n bedreigde spesie of dan ten minste ’n teiken van allerlei soorte aktiviste en ideologieë. Die unieke plek wat die Woord aan die man aanwys as hoof van die huis en as bekleer van die lerende amp in die kerk is onder skoot. Die rol en plek van die man word orals bevraagteken en verkleineer (selfs in die kerk) onder die dekmantel van geslagsgelykheid. Trouens dit gaan nog verder. Blykbaar het alle geslagsonderskeid vir die wêreld problematies geword. Daar is sommige wat sover gaan om kinders geslags neutraal groot te maak sodat elke kind later kan kies wie hy of sy of dit wil wees... Wanneer ek dus dankbaar teenoor die Here is vir my manwees is dit nie ’n chauvinistiese streep wat na vore kom nie (ek dink die vrou, veral as sy die Here ken is die mooiste deel van God se skepping), maar bloot ’n erkenning van en onderwerping aan God se ordes. God het die mens na sy beeld geskape en dit vind uitdrukking daarin dat God, man en vrou gemaak het. (Genesis 1:27) Ja, die sondeval het elke aspek van menswees (ook geslagtelikheid en geslagsrolle) aangetas, maar juis die omvattende verlossingswerk van Jesus motiveer ons om nooit die sondige gebrokenheid van hierdie lewe as normaal te aanvaar nie. Juis daarom volhard ons op die pad van lewensheiliging wat betref elke deel van ons menswees en dus ook manwees. Juis daarom kan ons aan gebroke mense die bevrydende en heelmakende evangelie verkondig... 

Ek bly dus dankbaar dat God my ’n man gemaak het, terwyl ek bely dat daar in Christus ’n nuwe eenheid tot stand gekom het wat alle verskille in kultuur, stand en geslag verreweg oortref! (Galasiërs 3:28) Hierdie eenheid hef egter nooit die verskille en verskillende rolle op nie. As man wil ek ook met nederige afhanklikheid van God die spesifieke verantwoordelikhede wat Hy aan my toevertrou het as eggenoot en gesinshoof ernstig opneem. 



NASKRIF 
 Miskien moet ek net nog byvoeg ek is ‘n VLEISETENDE 😄man, want dit lyk my nou na die nuutste dwaling – skep skuldgevoelens by mense wat vleis eet! Dis seker nie vreemd dat (kliek) DIE KERKBODE ook lustig meedoen aan hierdie aktiwiteit nie. 


Donderdag 01 Augustus 2019

MET ONS?

In droogte? In siekte? In geldskaarste? 

Jesus het ‘n duidelike belofte gemaak dat Hy met ons (sy dissipels) sal wees! 

Maar is dit waar en beleef ons dit? 

DROOGTE EN GELDSKAARSTE 

Dis ‘n gegewe. Dis afgryslik en skrikwekkend droog hier by ons in Namibië. Met moedeloosheid moes ons die afgelope somer verlangend kyk na sulke “pensvetwolkies”* wat verbydryf terwyl die groot reënwolke weggebly het! Dit alles teen die agtergrond van ‘n baie diep ekonomiese insinking met baie implikasies...werksgeleenthede gaan verlore, skoolgelde kan nie betaal word nie...Nou kom die vraag by ons op : Waar is Jesus? Wat dink Jesus van die droogte, ekonomie, ellendes...?  Wat is vir Hom in hierdie tyd belangrik? Ons maak mos al meer planne in sulke tye, maar wat is SY PLAN? 

GAAN DAN HEEN 

Die opgestane Jesus se groot laaste opdrag en PLAN aan al sy volgelinge was: “Gaan dan heen en maak soveel geld as moontlik en ek sal by julle wees!” Ekskuus… dis seker nie wat Hy gesê het nie, maar dis wat die meeste van sy volgelinge vandag gehoor het of mee besig is. 

Hier is wat Hy gesê het (vir in geval ons dit dalk gemis het) : 

Jesus kom toe nader en sê vir hulle: "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 
Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld." (Matteus 28:18-20) 

Jesus het na sy opstanding weer hier sy dissipels bymekaar geroep om laaste opdragte aan hulle te gee. Die eerlikheid van die evangelieskrywer is opvallend. Selfs hier na die opstanding heers daar tog nog ‘n mate van twyfel in sommige van Jesus se leerlinge se harte. (17) Hierdie twyfel handel nie oor Jesus se lewe en majesteit nie, maar oor die ongelooflike waarheid dat God se Seun vir sondaars gesterf het. Die twee sake wat hier saamgaan : God se Seun saam met ‘n vernederend kruisdood was net te ongelooflik. Nou gebeur iets wonderlik... Terwyl hulle Jesus aanbid word hulle twyfel genees en vergewe, want hulle almal ontvang ‘n bemoediging en ‘n belofte. 

Jesus verwag nie eers volmaaktheid van ons voor Hy ons bemoedig, uitstuur en wil gebruik nie. 

ALLE MAG BEHOORT AAN HOM 

Jesus begin sy dissipels bemoedig met die wonderlike versekering van sy almag. "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde." (18) Die almag wat die Vader aan Hom as die Seun gegee het. Jesus het absolute mag. Dis niks nuuts wat Jesus hier sê nie. Sy hele bediening het dit bewys… Sy volkome heerskappy oor die natuur, siekes is genees, besetenes is bevry, dooies is opgewek…. Ook die verskriklike feit van sy eie sterwe het niks daarvan weggevat nie. Sy sterwe was juis ‘n vrywillige nie-gebruikmaking van sy mag om sondaars te red! Ja, spesifiek sy mag om sondaars te red is onbeperk... Daar is soveel voorbeelde... 

GAAN NA AL DIE NASIES 

Wat wel nuut en radikaal is, is Jesus se opdrag en veral die wye omvang daarvan. Vantevore is die dissipels se sending beperk tot Israel. (10:5) Nou word die grense wawyd oopgegooi. Ja voorheen het daar wel soms heidene by die volk Israel aangesluit. (Dink aan uitsonderings soos Ragab en Rut) Maar nou is die opdrag nie om van heidene Jode te maak nie, maar direk hulle dissipels/leerlinge van Jesus te maak! Die belofte aan Abram dat al die nasies deur hom seën sou ontvang gaan nou in vervulling. Jesus is immers die seun van Abram. (1:1) Hoe merkwaardig – die praktiese uitvoering van God se belofte word in die hande van Jesus se volgelinge gelaat! In my en jou hande! God vertrou ons daarmee! Hier gebeur iets heerlik aangrypend. Hier is die aansluitingspunt tussen die evangeliegeskiedenis en ons eie persoonlike geskiedenis. Hier word ek en jy self deelnemers in die Bybelverhaal, in die ontplooiing van God se verlossingsplan in die wêreld. 

‘n Christen is ‘n leerling van Jesus, met die opdrag om nog ander leerlinge te werf en te begelei! 

MAAK DISIPPELS 

Hoe moet die opdrag uitgevoer word om van mense dissipels/leerlinge van Jesus te maak? Die hoofopdrag is : maak dissipels! Dan word twee deelwoorde gebruik in die Grieks om die “hoe” te verduidelik : dopende en lerende. Die kern van die opdrag is die onderwerping van alle volke aan Jesus. Die deur onderwerping aan Jesus deel mens in die gemeenskap saam met die Vader en die Heilige Gees. (daarom die doop in die Naam van die Drie-enige God) Dis spesifiek Jesus se opdragte wat aan die volke geleer moet word. En dit sluit natuurlik juis weer ook die opdrag in om weer ander dissipels te maak! 

DIE BELOFTE 

Die heerlike versekering en belofte wat saam met die opdrag gaan mag ons nie miskyk nie. Terwyl ons die opdrag uitvoer kan ons weet dat Jesus by ons is, nie soms nie, nie deeltyds nie, maar elke oomblik tot op die einde! Jesus is met ons, ook in die ergste droogte, tydens die ergste geldelike krisis of siekte... wanneer ons besig is met sy opdrag! Hierdie term “met julle” (OAV) is in die konteks van die Matteus evangelie ‘n gelaaide term met ryke betekenis. Reeds in Matteus 1:23** word Jesus se koms in verband gebring met Immanuel (God met ons), hier aan die einde van die Matteus evangelie word die volle betekenis van Immanuel duidelik. God met ons, God met al die nasies van die aarde. Immanuel vir alle volke! Dis Jesus se groot missie. Dis die missie wat op ons skouers rus. Maar dis ook die heerlike vertroosting. Diegene wat besig is met Jesus se opdragte hoef niks en niemand te vrees nie. Ook nie droogte nie! Ook nie ekonomiese wurgtye nie! 

Wie met Jesus se opdragte besig is kan reken op Jesus se teenwoordigheid op ‘n besondere manier. Dis 'n feit - die geskiedenis en praktyk staaf dit!

Is dit dalk die rede hoekom Jesus se volgelinge tans so dikwels sy besondere saamwees en teenwoordigheid mis? Ons is besig met ons eie selfsugtige agendas. Platweg gestel – ons is ongehoorsaam aan ons Verlosser-Koning se duidelike opdragte! 

ONS DURF NIE JESUS SE BELOFTE LOSMAAK VAN SY OPDRAG NIE! 

Die groot vraag is of ek en jy hierdie opdrag ernstig opneem? Hierdie opdrag kom na alle Christene... ook juis na ons Afrikaner Christene hier in Afrika waar ons ‘n roeping het. Daar is mos sommiges wat redeneer dat hulle stoere Afrikaners is en teen sending moet wees... (byvoorbeeld die mense van die sogenaamde Israelvisie) Dis natuurlik ‘n groot misverstand. Die geskiedenis is baie duidelik oor Christen Afrikaners se sendingywer van die verlede... 

Kliek op : 







Dit gaan egter nie hier oor Afrikanerskap nie, maar oor die wese van Christenskap. Wie nie met Jesus se opdragte besig is nie, moet eerlik selfondersoek doen : Is ek self al ‘n dissipel of hoop ek maar ek is een? Nou hoor mens onmiddelik allerlei besware. Ja, maar ons is nie almal predikante nie. Moet ons nou almal ons werk bedank of besighede toemaak? Nee, natuurlik nie. Die opdrag is nie, maak jou besigheid toe of los jou boerdery nie, die opdrag is maak dissipels. Die vraag is wel of jy in jou besigheid en boerdery besig is om dissipels te maak? Het jy al met mense by jou werk of skool oor Jesus gesels? Jy sê, maar ek kan nie goed praat nie! Los asseblief daardie verskoning. Jy het al met almal iewers gepraat oor die weer, oor ‘n vorige Saterdag se rugby, oor die slegte ekonomie of oor jou kinders se prestasies… Jy kon daaroor praat omdat dit jou persoonlik raak. As jy Jesus ken, kan jy oor Jesus praat. Is die probleem nie “ek kan nie praat nie”, maar eerder : “ek is onseker of ek Jesus regtig ken”, nie? “Ja,ek ken Jesus,maar my geloof is baie swak.” Dis ook geen verskoning nie. Ons het gesien die dissipels se geloof was ook maar swak toe hulle die opdrag gekry het. Jesus vra nie sterk geloof nie, maar gehoorsaamheid! 

Jesus se prioriteit vir sy volgelinge is duidelik. “Gaan maak dissipels!” Ek wonder maar net, as dit ook nie ons prioriteit is nie, is dit nie dalk bietjie arrogant of vermetel om aanmekaar vir reën of finansiële uitkoms te bid nie? Is ons nie dalk soos ongehoorsame en rebelse kinders wat weier om basiese opdragte te uit te voer nie, maar ons kerm gedurig oor meer sakgeld of lekkers? 

Kom ons vra onsself opnuut – Is ek besig met sy opdrag? 

*Sulke uitgespreide vlieswolkies wat net soos ‘n skaap se pensvet lyk. 

**“Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.” (Matteus 1:23) 


Maandag 15 Desember 2014

BLOEDRIVIER

- se geestelike dimensie. 

‘n Christen kan nooit bloot uit ‘n sekulêre oogpunt na die geskiedenis kyk nie. Allermins nog na ‘n gebeurtenis soos die Slag van Bloedrivier as mens die plegtige Gelofte in ag neem wat die Voortrekkers in diepe nood tot God gemaak het. (Kliek op AGTERGROND VAN DIE GELOFTE) Die geestelike betekenis van Bloedrivier is nie sommer ‘n stuk verdigsel of wensdenkery nie. Dit kom duidelik na vore uit ’n verhaal van R.B Hully, die tolk van die sendeling Owen wat hom in 1837 in Zoeloeland gevestig het. Dit handel oor die eerste diens wat Owen vir Dingaan en sy mense gehou het. 

Nadat Owen omtrent ’n halfuur gepraat het, het die koning hom stilgemaak en gesê “Ek het ’n paar vrae wat ek jou wil vra sodat ek jou kan verstaan. Sê jy dat daar ’n God is en net een God? Die sendeling antwoord : Ja. Sê jy dat daar ’n hemel vir goeie mense is en net een hemel? Antwoord : Ja. Sê jy dat daar ’n duiwel is? Antwoord : Ja. Sê jy dat daar ’n hel is vir slegte mense? Antwoord : Ja. Toe sê die koning : ‘As dit jou geloof is, dan is jy vir my en my mense van geen nut nie. Ons het al daardie dinge geweet voordat jy vir ons kom preek het. Ek en my mense glo dat daar alleen een god is - ‘Ek is daardie god’ Ons glo dat daar net een plek is waarheen alle goeie mense gaan - dit is Zoeloeland. Ons glo dat daar net een plek is waarheen alle slegte mense gaan. Daar! Terwyl hy na ’n rotsagtige heuwel in die verte wys. ‘Daar is die hel waar al my slegte mense heen gaan. Die kaptein wat daar bly is Matiwane, die hoof van die Amagwane. Ek het hom doodgemaak en hom die hoofduiwel gemaak van al die slegte mense wat doodgaan. Jy sien daar is net twee kapteins in hierdie land, Matiwane en ekself. Ek is die groot kaptein, die god van die lewendes, Matiwane is die groot kaptein van die slegte mense. Ek het jou nou my geloof vertel. Ek wil hê jy moet my nie weer pla met die stories van julle Engelse mense nie. Jy kan in my land bly solank jy jouself behoorlik gedra. 

Dit was blykbaar die eerste en laaste geleentheid wat Owen toegelaat is om die evangelie aan die Zoeloes te bring. Dingaan se despotiese mag was dus ’n duidelike struikelblok in die weg van die evangelie. Kan jy sien, by Bloedrivier was daar meer op die spel as net die politiek van die dag?

Met dit alles as agtergrond kan mens twee aspekte van die geestelike dimensie van die oorwinning by Bloedrivier uitlig*:

~ Bloedrivier open die weg vir die evangelie in Zoeloeland. Vyf dae na die moord op Retief skryf die sendeling Owen in sy dagboek : “Die regverdige Regter ... sal nie toelaat dat hy (Dingaan) in vrede rus nie ... Dit wil voorkom asof hy self nie verstaan nie, maar as hy die karakter van sy teenstanders, die Voortrekkers, ken soos wat omstandighede onlangs uitgewys het in hulle oorloë met Silkaats, dan sal hy weet hoe verskriklik dit is om hul grimmigheid uit te lok en watter vasberade en magtige vyande hy gemaak het deur hierdie daad van aggressie wat onbesonne en onwys, verraderlik en wreed was.
Maar al hierdie dinge sal ten goede werk, ook vir die verspreiding van die Evangelie. Ons het gebid dat ‘n weg geopen mag word vir die bekendstelling van die Evangelie onder die Zoeloevolk. En nou, op ‘n manier wat ons nie verwag het nie, is God besig om sy eie planne uit te werk. Die hoogmoed en brutaliteit van die Zoeloekapteins, is die hoofstruikelblokke vir die verkondiging van die waarheid. Wanneer die hoogmoed verflou het, sal die weg vir die Evangelie makliker wees. God is nou besig om die trots van die volk in die algemeen en die kapteins in besonder, te verneder. Hy het toegelaat dat hulle deur hulle eie hoogmoed, verwaandheid en boosheid in sulke afskuwelike gruwelikhede verval, wat hoog waarskynlik hulle eie ondergang en dié van hul volk sal meebring, waarvan hulle nooit sal herstel nie en wat die weg sal voorberei vir die sendelinge van die wêreld.” Owen het dus al iets van die geestelike dimensie raakgesien.

~ Bloedrivier is ‘n bewys dat God ’n geestelike doel het met die Afrikaner se voortbestaan in Afrika. Ons glo dat God ’n wonder bewerk het en die oorwinning gegee het... Natuurlik het Hy middele en omstandighede gebruik....die mis wat opgeklaar het, die feit dat die Zoeloes nie in die nag aangeval het nie... In elk geval sê die Skrif duidelik : “Perde kan afgerig word vir die oorlog, maar dit is die Here wat die oorwinning gee” (Spreuke 21:31).... God is in beheer van die geskiedenis (“His story”), God bepaal die lotgevalle nie net van enkelinge nie, maar ook volke en nasies. Nou as ons sê dat God die oorwinning gegee het, het Hy dit met ’n doel gegee, en die doel is die uitbreiding van sy Koninkryk. En daarom is Geloftefees nie ’n poltieke fees nie, nie ‘n fees om mense te vereer nie, maar ’n Godgesentreerde fees. (Terloops God se doel was nie politieke mag nie... Na slegs  ’n paar jaar het die Trekkers in Natal  hulle onafhanklikheid verloor.) Geloftedag gaan nie oor nasionalisme nie, maar herinner ons aan die Goddelike roeping, spesifiek aan die sendingroeping wat God aan Christen Afrikaners gegee het in Afrika. 

Christen Afrikaners was nog altyd bewus van hierdie sendingroeping wat God aan ons volk in Afrika gegee het. Ware Christen Afrikaners sal altyd sendingmense wees!

Een van die jong seuns wat die Groot Trek meegemaak het was Paul Kruger. Het jy geweet hy was ’n uitgesproke sendingondersteuner? (Kliek op PAUL KRUGER)


FEES VIR ALLE CHRISTENE

Wanneer die geestelike dimensie en betekenis van Geloftedag en Bloedrivier besef word, styg hierdie gebeure uit bokant die konteks van blote etniese konflik, vergelding en volksbelang. God het immers die noodroep van die Voortrekkers verhoor, nie omdat hulle Afrikaners was nie, maar omdat hulle (ten minste 'n beduidende deel van hulle) Christene was wat hulle vertroue op Hom gestel het en nie slegs op wapens vertrou het nie! God se uitverkorenes is nie een of ander etniese groep nie, maar almal wat aan Jesus Christus behoort. Daarom kan die gebedsverhoring by Bloedrivier en die positiewe Koninkryksgevolge wat daaruit voortgevloei het, deur ALLE Christene, hetsy Afrikaners, Zoeloes of wie ook al gevier word deur danksegging aan God op hierdie wonderlike dag van 16 Desember. Die misbruik van hierdie kosbare dag deur sommige, verhoed nie God se kinders om Hom op die regte manier te eer en te dank nie! 

*Vir hierdie artikel in geheel is ek in groot mate dank verskuldig aan Prof. Billy Heiberg vir 'n Geloftefees toespraak wat hy gelewer het.


                                                                Dingaan

Sondag 14 Desember 2014

DIE GELOFTE VAN 16 DESEMBER

- verstaan die agtergrond en aanloop.*



Vir baie moderne Afrikaners maak die Gelofte voor die slag van Bloedrivier nie meer sin nie. Vir sommige het dit ietwat van ‘n oorlas en stuk bagasie uit die verre verlede geword. Vir ander selfs ‘n verleentheid. Heel moontlik is die oorsaak dalk skryende onkunde oor die geskiedenis... Dis daarom dalk nuttig om net weer eerlik na die verwikkelinge wat as aanloop tot die Gelofte en Bloedrivier gedien het, te kyk. Stel jouself bietjie in die skoene van ons voorvaders... Die Voortekkers in Natal was op ’n laagtepunt van hulle bestaan, op die randjie van mislukking en totale uitwissing. Dit het voorwaar gelyk asof alles wat verkeerd kon loop inderdaad verkeerd gegaan het. Die jaar 1838 was ‘n jaar van ontstellende benoudheid en ellende:



~ Op 6 Februarie 1838 word Retief en sy ongewapende manne koelbloedig en wreed vermoor nadat hulle eerlik en opreg oor grond onderhandel het en ‘n ooreenkoms met Dingaan gesluit is. (Ongeveer 70 mans waaronder ’n paar seuns verloor hulle lewens op uiters wredaardige manier.) Francis Owen ’n sendeling onder die Zoeloes was nog die oggend besig om uit sy Bybel te lees toe daar ’n boodskapper van Dingaan kom met die skokkende nuus dat Dingaan besluit het om Retief hulle te laat vermoor. Voordat Owen nog kon besluit wat om aan die saak te probeer doen, wys die boodskapper na die heuwel buite Umgungundlovo waar die Zoeloes reeds besig was om die moorde te pleeg. Die Voortekkers verloor dus hulle groot leier op barbaarse wyse.

~ Dan volg die nag van verskrikking, 17 Februarie toe die Zoeloehordes op die niksvermoedende slapende laers van die Voortrekkers toesak en almal voor die voet probeer uitwis. Niks en niemand word ontsien nie. Onbeskryflike treurspele en kloekmoedige heldedade... Selfs suigelinge is in die arms van hulle moeders deurboor. Volgens J.N Boshoff se skatting het nie minder nie as 40 mans, 56 vrouens, 185 kinders en oor die 200 bediendes gesterf. Uiters grusaam gesterf! Die Voortrekker leraar Erasmus Smit skryf : “Dit was sug op sug, klag op klag. Ag God, Ag Heer! Hoe gedug, hoe groot is U oordele oor ons! Die gekerm van die gewondes en die angs en die skrik van die ander het ten hemel opgestyg”

~ Nou volg daar die verdere tragedie van Italeni op 10 April. Die Voortrekkers se strafekspedisie teen Dingaan misluk, toe hulle sterk kommando die onderspit delf teen Dingaan se impi’s en nog ’n leier, Piet Uys sterf. Dinge wou maar net nie reg loop nie. (Terloops,  hier het ons ‘n bewys, gewere wen nie sommer vanselfsprekend teen assegaaie nie!)

~ Kort hierna was daar ’n verdere terugslag vir die Nataltrekkers toe Hendrik Potgieter Natal verlaat en sowat die helfte van die trekkers hom gevolg het. Dink aan die moedeloosheid van die groepie agtergeblewenes!

~ Verdere ellende is veroorsaak deurdat die oorlewendes in beknopte laers saamgetrek is uit vrees vir nog Zoeloe aanvalle. (wat inderdaad plaasgevind het) As gevolg van aanhoudende reën het siektes uitgebreek en tientalle kinders het aan masels en koors gesterf. Daar was ook ’n vreeslike haelstorm wat hulle watente en seile aan repe geslaan het. Dit moes seker vir sommige gelyk het asof die land vervloek was. 

~ Nog was dit het einde niet! Op 23 September het ’n nuwe laagtepunt aangebreek toe die laaste erkende groot leier Gerrit Maritz op die jong ouderdom van 41 jaar gesterf het na ’n kort siekbed. Die laaste van die bekende leiers was daarmee heen.

Die trekkers kon nie nog 'n nederlaag of ramp bekostig nie!

Teen hierdie agtergrond is dit duidelik waarom die oorwinning by Bloedrivier so deurslaggewend was. ’n Mens kan jou die vrae en vertwyfelinge in menige hart voorstel – “Wie sê dinge sou nou regloop nadat dit gelyk het asof alles teen ons was - miskien was God self teen ons?” Aan die anderkant, dis nogal verstaanbaar dat gelowige mense wat fyngemaal is deur soveel beproewinge in hulle nood hulle vertroue op God gestel het en selfs so ver gegaan het om ‘n plegtige gelofte aan Hom af te lê. Die oorlewing en voortbestaan van hierdie groepie dapper pioniers was op ’n mespunt gebalanseer. Laat diegene wat die aflê van die Gelofte aan God kritiseer, belaglik wil maak of maar sommer net wil vergeet, liewers weer mooi dink... 

God het inderdaad in hierdie uiterste toestande ’n wonderwerk bewerkstellig nadat die Voortrekkers hulle vertroue in Hom verwoord het deur die Gelofte onder leiding van Sarel Celliers. Dit gaan oor die Goddelike verhoring van gebed, en daarom kan ons weet dit gaan hier oor meer as net 'n stukkie Afrikanersgeskiedenis, ja dis wel gesiedenis, maar met 'n besondere geestelike dimensie. (Kliek op BETEKENIS VAN BLOEDRIVIER) Aan God alleen die eer en dank!






Sarel Celiers gedenkteken op Kroonstad.






*Die Gelofte word gekoppel aan 16 Desember, maar dit was natuurlik die datum van die slag van Bloedrivier. Die Gelofte self is op Sondag 9 Desember by die Wasbankspruit afgelê. (GDJ Duvenage, DIE GROOT TREK, DEEL 3, p144-149)

Sondag 27 April 2014

AFRIKANER BYGELOOF

-  wanpersepsies, mistastings, onkunde en naïwiteit met vernietigende gevolge...

Daar is ‘n tipe “volksgeloof” wat lewend onder Afrikaners is, maar wat baie ver verwyderd is van Bybelse geloof. (Natuurlik kom hierdie en ander mistastings onder ander groepe ook voor, maar ek het veral met Afrikaners te make... en ekself is mos ook een...) Hierdie bygeloof en blindheid is ‘n ernstige saak, want dit maak dat die behoefte aan ‘n Verlosser moeilik besef word. Die EVANGELIE bly dikwels versluier en word selde raak gehoor.



Kyk saam met my na ‘n paar voorbeelde van Afrikaner bygeloof en populêre opvattings (sommige het in die huidige tyd dalk effens gekwyn en ander het net nuwe baadjies aangetrek en vertoon hedendaagse variasies) :



# “Ek is ‘n Christen, want ek het teen die goddelose Kommuniste en terroriste op die grens geveg.” (dis ‘n bygeloof van veral die vorige geslag.) Die Afrikanersaak is dikwels outomaties en naatloos gelykgestel aan die Koninkryk van God... Die Woord leer ons egter dat slegs diegene wat aan Jesus behoort, deel is van God se volk. Hierdie volk het niks te make met etnisiteit of politieke strukture nie.

# “As ek as kind gedoop is, is my pad hemel toe mos geteer.” ‘n Al groter groep glo nou ‘n variasie van hierdie leuen, naamlik : “As ek iewers weer gedoop is, is ek ‘n ware Christen, ongeag in watter morele gemors my lewe verkeer!” Die tweede dwaling is net so erg as die eerste.

# “‘n Christelike begrafnis, sal al my sondes van die verlede uitwis en my ‘n kind van God maak. Die dominee het sulke mooi dinge op X se roudiens gesê, hy kan net op een plek wees...” Dit maak nie saak of iemand nooit enige tekens van ware geloof en bekering getoon het nie, dit maak nie saak as kerkbywoning en sakramentsgebruik heeltemal verontagsaam is nie, solank daar net ‘n roudiens of begrafnis vanuit ‘n kerk kan plaasvind, waar almal die versekering gegee word dat X nou veilig “op ‘n beter plek is...” (en ja, sulke people’s pleasers dominees en pastore, wat wil saamspeel is altyd te vinde.)

# “Ek is ‘n ingeskrewe lidmaat van die ... kerk en dus is my saak met God reg. My oupa was immers ‘n medestigter van hierdie gemeente, my ouma se neef was jare lank ‘n sendeling in Malawi...” Hierdie kerklikheidsbygeloof is nou vervang met ‘n nuwe onkerklike een : “My saak is reg, want Sondae oggende kyk ons vir Andries Enslin op TV!” Ek het natuurlik niks teen Andries nie, maar dis opvallend dat soveel kerklos mense wat dikwels in goddeloosheid en ongehoorsaamheid lewe, heel tevrede is met hulleself omdat hulle na Andries luister... Dis immers ‘n baie gerieflike tipe Christenskap. Die opperste vorm van gemakstoel dissipelskap. Ek hoef nie eens aan te trek en my motor uit die garage te trek nie... Ek hoef geen verantwoordelikheid vir die liggaam van Christus te neem nie, ek hoef my nie te steur aan die verbreking van my lidmaatsbeloftes voor God nie...

# “Dit staan tog immers geskrywe... in die HUISGENOOT...” Die HUISGENOOT is die ware bron vir die bepaling van baie Afrikaners se norme en waardes, nie meer die Bybel nie. Dit klink dalk vir sommige vergesog, maar luister maar... Vandat hierdie verderflike skindertydskrif euwels soos saambly en homoseksuele gedrag begin goedpraat het – deur hulle misplaaste heldeverering, is hierdie sondes nie meer ‘n taboe in “Christen Afrikanergeledere” nie.

# “‘n Goeie dominee, is ‘n lekker dominee en ‘n lekker dominee is een wat als saam doen, van saam vloek tot saam dans!” ‘n Lekker dominee sal dit ook nooit waag om enige sonde by die naam te noem nie, want die lekker dominee se hooftaak is om almal gelukkig te hou en so die kerk se bankrekening te probeer stabiliseer. “O, ja, die lekker dominee moet verkieslik ook nie langer as tien minute preek nie, want ek moet gou by die huis kom, want die Sondag is daar gestel om my siel te versadig met RAPPORT se voedsame vullis!” En as ‘n dominee nou regtig “upmarket” wil wees, dan vertel hy die mense daar is nie iets soos ‘n oordeel en hel nie...

# "Byna al ons helde is sulke pragtige Christene!" Die huidig geestelik arme Afrikaner raak naïef opgewonde oor elke celebrity (rugbyspeler, sanger, filmster, skoonheidskoningin...) wat hulle Christenskap in die media verklaar, op een of ander tydskrif se voorblad pronk en daarna voortgaan om soos heidene te leef. Hierdie celebrities se Christenskap mag nooit bevraagteken word nie, al verskyn hulle ook halfnaak op daai voorblaaie... (kliek op CELEBRITIES)

# Die een (soms seker die enigste) Bybelteks wat alle Afrikaners ken is die een wat sê : “Moenie oordeel nie.” Die verkeerde interpretasie van hierdie (uit konteks) aangehaalde teks beteken dat geen geestelike gebruik of morele gewoonte bevraagteken word en dat geen tugwaardige sonde aangespreek mag word nie. Die kerk het dus in normlose chaos verval en elkeen maak soos hy wil. (kliek op die DUIWEL SE BYBEL)

# Die Afrikaner is allerweë in die verlede beskou as baie tradisievaste mense. Dit was miskien so, maar dis beslis nie meer die geval nie. Die “tradisie” van die huwelik, inderdaad ‘n Goddelike instelling is vinnig besig om uit te sterf. “Ons het nie papiere nie, maar is voor God getroud,” is die flou verskoning vir ‘n lewe van seksuele losbandigheid. (kliek op MAAGD VOOR KANSEL)

# Daar is een saak wat die Afrikaner se toewyding, opoffering en blinde lojaliteit vra en wat sy identiteit definieer : RUGBY. Dis nie ‘n grap om dit die Afrikaner se werklike godsdiens te noem nie, dis die naakte werklikheid! Vir hierdie spel sal die Afrikaner sy tyd, geld en siel prysgee. Dis waar sy ware skat is en dis waar sy hart is! Gaan toets dit! Waaroor raak ons mense opgewonde? Rugby of evangelie? Waarvan dra hulle kennis? Meestal van rugby. Bybelkennis het amper heeltemal verdwyn ...

# Skriflesing en gebed by openbare geleenthede is die Afrikaner se aller sterkpunt en die openbare “badge” van toewyding. Hoor hier, daar is bykans niks onder die son wat nie met hierdie ritueel afgeskop word nie. Van die vetveeskou waar daar gesuip word tot die konsert waar daar met God gespot word. En toe ons nog in beheer van die “army” was is die Skrif aangehoor op dieselfde paradegronde waar daar blou were gevloek is... Misbruik van God se heilige Naam in ‘n opperste vorm!  Ja, laat ons na die Woord luister, orals en altyd, maar kom ons gehoorsaam dit en raak ontslae van die afgode in ons volksgeledere!

EN TOG IS DAAR HOOP...

‘n Mens wil amper soos die dissipels uitroep : "Wie kan dan gered word?" (Dit was nadat Jesus vir hulle vertel het hoe moeilik dit is vir ‘n ryk man om gered te word.) Ja, wie kyk na ons samelewing kan maklik begin wanhoop, maar tog bly Jesus se heerlike versekering van krag: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik." (Matteus 19:25,26) Inderdaad red God nog steeds Afrikaners uit genade en bewaar Hy ook sy kinders tot die einde toe!


Afrikaners. Nie die stomme beeste nie, maar die misleide volksgenote...!

Vrydag 01 Maart 2013

LIEWE LULU

- wat weet jy van Calvinisme? 

Dit lyk my as jy iemand wil slegsê en jy het nie feite nie, dan beskuldig jy hom van rassisme of Calvinisme. So het minister Lulu Xingwana* van Suid-Afrika onlangs in ‘n onderhoud gesê: "Jong Afrikanermans word grootgemaak in die Calvinistiese geloof en glo hulle besit 'n vrou, hulle besit 'n kind, hulle besit alles, en daarom kan hulle daardie lewe neem, want hulle besit dit." ‘n Groter vertoon van dwaasheid en oningeligtheid is moeilik denkbaar. Miskien moet mens Lulu tog nie te hard oordeel nie, want geestelike insig kan seker nie verwag word uit die geledere van die goddelose ANC met sy heidens sekulêre agenda nie. Die absolute onkunde oor wat Calvinisme is, is egter nie net beperk tot die ANC nie, maar floreer ook onder mense wat veronderstel is om die Bybel en die kerkgeskiedenis te ken. So iemand is Prof. Johan Malan (‘n mede evangeliese gelowige) wat op sy webwerf beweer : “Calvinisme is ‘n misleidende leerstelling waardeur ‘n valse geestelike fondament aan ongeredde mense gebied word.” Watter totale mistasting! Het Prof. Malan nog nie gehoor van die duisende mense wat onder die Calvinistiese prediking van ‘n George Whitefield, Charles Spurgeon, Robert Murray M’Cheyne, Martyn Lloyd-Jones... en ons eie Dr. Willie Marais om maar net enkele voorbeelde te noem, tot bekering gekom het nie? (Prof. Malan maak wel melding van Spurgeon en beweer dat hy nie regtig ‘n Calvinis was nie. Wil hy die man nou in sy graf laat omdraai?) Weet hy van Calviniste soos Howel Harris, Daniel Rowland en Jonathan Edwards se rol in die groot herlewings van die 18de eeu? Dra hy kennis van die pionier sendingwerk van William Carey, David Brainard, William Burns...? En wat van die Calvinistiese sendelinge van die NG Kerk wat die lig tot diep in donker Afrika ingedra het? Is Prof. Malan bewus van die kosbare nalatenskap van geestelike reuse soos Tyndale, Latimer, Knox, Wishart, Perkins, Rutherford, Bunyan (Pelgrim’s Progress), Owen, Goodwin, Watts, Newton (Amazing Grace)...en later Hodge, Warfield...? Het Prof. Malan moeite gedoen om uit te vind wat Calvinisme is of baseer hy sy insigte op iemand soos Dave Hunt se bewerings? 


WAT IS CALVINISME? 



Om mee te begin is dit belangrik om te weet dat Johannes Calvyn self nooit so ‘n beskrywing van sy leerstellings sou goedgekeur het nie. Hy het geglo dat wat hy geleer het, bloot die waarhede van die Ou en Nuwe Testament was. Tog het hierdie briljante teoloog se uitleg van die Skrif inderdaad ‘n groot invloed gehad op wat later as Calvinisme bekend sou staan. 

Die term, Calvinisme kom hoofsaaklik uit die 17 de eeu vanuit opposisie teen die dwalinge van Arminius, wat uiteindelik by die Sinode van Dordt in 1618 veroordeel is. Hierdie kosbare waarhede vind neerslag in die Dordtse Leerreëls. 

Die kernbeginsel van die Calvinisme is die eer van die soewereine God. Soli Deo Gloria. Skepping en selfs verlossing is nie primêr gerig op die mens se vervulling en plesier nie, maar gebeur alles ter wille van God. Alles is uit God, deur God en tot God, soos Paulus in Romeine 11:36 sê. Die bron van Calvinistiese leerstellings is die Bybel. Die Bybel is die enigste bron van kennis oor God en sy wil, want vanweë ons sonde is ons blind vir God se heerlikheid wat uit sy werke uitstraal. God openbaar Homself aan die mens deur sy Woord en die werk van die Heilige Gees. 



Ook vind ons in die Bybel alleen insig in die ware (verlore) toestand van die mens. Hiervan is die leerstuk van die TOTALE VERDORWENHEID van die mens ‘n baie realistiese verduideliking. Dis ‘n Bybelse waarheid soos duidelik gevind in Romeine 3:10-12 wat lees : “soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” Dit beteken nie soos sommige probeer voorgee dat die mens nie ‘n wil het of bloot ‘n robot is nie, dit gaan daaroor dat die mens se wil ook deur die sondeval bedorwe is, tot so ‘n mate dat niemand vanself God wil ken of homself wil bekeer nie. Calvinisme maak erns met die verwoesting van die sondeval. (en die praktyk van boosheid en gebrokenheid wat ons elke dag rondom ons sien, bevestig dit) Dit het die implikasie dat ons as mense volkome afhanklik is van God se genade! Sonder werklike genade sal niemand gered word nie, want selfs ons geregtighede is soos “vuil klere” voor God. (Jesaja 64:6) 



Omdat ons so boos is dat niemand van ons eerste God sal kies nie, maar daar tog baie mense gered word, is dit vanselfsprekend dat God ons eerste kies deur sy genadige ONVOORWAARDELIKE UITVERKIESING. Die beginsel van onverdienstelikheid word alreeds gesien in God se verkiesing van Israel soos beskryf in Deuteronomium 7:7-8 “Die HERE het 'n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met 'n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos." Hierdie waarheid geld vir almal wat God se kinders is binne die Nuwe Verbond en word besonder helder in die Nuwe Testament gestel o.a. in Romeine 8:29,30 -  “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.”  Die totale verlossing van die mens, van oorsprong tot by die eindpunt van finale verheerliking is in die eerste instansie 'n werk van God!


Die uitverkorenes is sondaars soos alle ander mense en onder die toorn van God. Jesus moes dus kom en spesifiek en genoegsaam hulle sondeskuld aan die kruis deur sy plaasvervangende sterwe kom dra en die straf daarvoor op Hom neem. Die PARTIKULIERE VERSOENING beteken positief dat Christus sy mense werklik effektief met God versoen het deur hulle spesifieke straf vir hulle sondes te vat. Ja, Hy het die “gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee” (Efesiërs 1:4) Hierdie toegespitse versoeningswerk ter wille van die uitverkorenes, beteken nie dat God suinig is met sy genade nie.**  Christus het inderdaad ‘n versoening bewerk wat genoegsaam is vir die sondes van die hele wêreld, soos die Dordtse Leerreëls dit self stel.*** Dis egter net effektief ten opsigte van die uitverkorenes. Aan hulle gee Jesus die ewige lewe. Dis hulle  wat deur Jesus se Vader aan Hom gegee is (Johannes 17:2) en deur die Vader na Hom getrek word. “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” (Johannes 6:44) Let op hoe die onvermoë van die sondegevalle mens weer hier deur Jesus self bevestig word. 

Hierdie onvermoë beteken dat elkeen van ons afhanklik is van God se ONWEERSTAANBARE GENADE, anders sal niemand gered word nie. Dit word so pragtig bevestig in die bekering van Lidia in Handelinge 16. Dis die Here wat haar hart geopen het om ag te gee op Paulus se woorde. Niemand is outomaties gered nie. Sondaars moet ‘n defnitiewe wilskeuse vir Jesus Christus maak. Dis egter slegs God wat die verdorwe wil van die sondaar so kan aanraak dat hy tot ‘n besluit kan kom. Calviniste glo daarom, anders as wat hulle vyande dikwels beweer, nie dat mense willose robotte is nie. Die Dordtse Leerreëls is hieroor baie duidelik as dit verklaar dat God nie met ons werk asof ons “stokke en blokke” is nie. (Sien verder hieroor by DIE SOEWEREINE STEM WAT TOT LEWE ROEP) Calviniste glo daarom ook dat alle mense opgeroep moet word tot geloof en bekering. God se beloftes en uitnodigings kom inderdaad werklik en opreg tot alle mense. God bedoel mos wat Hy sê! Net soos die apostels moet ons daarom die evangelie aan almal verkondig, alhoewel slegs diegene wat bestem is vir die ewige lewe gehoor sal gee. “...en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (Handelinge 13:48) Diegene wat gehoor gee aan die oproep tot bekering en vir Christus kies moet egter weet dat dat nie hulle eie goedheid is wat hulle daartoe gebring het nie, maar alleenlik die uitverkiesende en onweerstaanbare genade van God. "Dat ons in Christus glo, dat ons van ons kant ook vir God kies, is nie die vrug van ons eie goedheid nie, maar is as sodanig reeds ‘n geskenk van sy genade. Die verlossing is van voor tot agter die vrug van Gods liefdevolle en genadige inisiatief. Alles, alles is genade, onverdiende vrye guns alleen!"****  Diegene aan die anderkant, wat verlore gaan, kan nie God daarvoor blameer nie, want hulle het self die genade aanbod van die evangelie verwerp.

As God dan self so ‘n bonatuurlike wonderwerk in iemand gedoen het, nie op grond van enige verdienste aan ons kant nie, maar weens sy ewige besluit, sal God hierdie werk einduit volvoer. In Filippense 1:16 stel Paulus dit duidelik dat God die werk wat Hy in mens begin het, sal voltooi. Dis die waarheid van die VOLHARDING VAN DIE HEILIGES. Natuurlik kan mense met valse mensgemaakte bekerings nie aanspraak op hierdie belofte maak nie. Natuurlik misbruik baie hierdie belofte terwyl hulle lustig voortgaan met sonde. Dis direk teen wat die Calvinisme leer. God se bewaring vind plaas via die weg van volhardende geloof, die voortdurende stryd teen sonde en die positiewe najaging van heiligmaking. Die troos is dat Hy in sy groot genade ons hiertoe instaatstel en dat Hy die mag het om ons vlekkeloos te bewaar tot die einde! (Judas vers 24) 

Hierdie kosbare waarhede sal, as ons dit werklik glo ‘n verskil in die alledaagse lewe van die kind van God maak. Calvyn se uitverkiesingsleer gaan allermins oor metafisiese spekulasie. “Dit het ‘n praktiese doel, naamlik om die gelowige op te wek om alle eer aan God te gee, homself voor God te verootmoedig, en al sy troos en sekerheid in God se beloftes te soek.” (Jonker) Die erkenning van God se heerskappy oor sy hele skepping en alle fasette van menswees sal die gevolg wees in die lewe van alle mense wat eerlik voor hierdie Bybelse waarhede buig. 

As Calviniste, maak ons in ons prediking erns met die volle Skrifopenbaring. Ons neem Goddelike soewereiniteit en menslike verantwoordelikheid beide ewe ernstig op. As die Skrif verklaar dat God mense uitkies, dan verkondig ons dit. (Romeine 9:11-13) En dis inderdaad 'n heerlike waarheid, want God kies nie volgens status of verdienste of ras nie! Dit gee juis hoop aan die slegste sondaars! Uitverkiesing het in die Bybel nie met 'n donker swartlys te make nie, maar is 'n genadewoord wat in die konteks van lofprysing en dankbaarheid gebruik  word. (Efesiërs 1:3-14)***** Aan die anderkant, as die Skrif ons as mense uitdaag tot 'n keuse of uitnooi om na Christus te kom, dan pleit ons met vrymoedigheid en erns by alle mense om hierop te reageer! (Matteus 11:28-30)

Liewe Lulu, die probleme in die Suid-Afrikaanse gemeenskap is nie te wyte aan die Calvinisme nie, maar juis onder andere vanweë die hartseer feit dat baie hoofstroomkerke in ons dag hulle kosbare Calvinistiese erfenis verruil het vir postmodernisme (‘n lewe en teologie sonder waarheid en norme), teologiese liberalisme (verwerping van die Bybelse gesag) en ‘n eensydige horisontale sosiale evangelie (wat ontken dat die mens ‘n helverdiende sondaar is wat vergifnis by God nodig het om gered te word) en baie ander derglike goggas! Ongelukkig kry baie min Afrikaners (en ander volke) in ons land die geleentheid om die Calvinistiese (Bybelse) evangelie te hoor... die rugstreel en goedvoelboodskappies vanaf baie kansels lei nie juis tot bekering en lewensverandering nie. 

Calvinisme is eintlik maar niks anders as die waarhede wat Paulus en die ander apostels, ja, Jesus self verkondig het nie. Die humanistiese selfgenoegsame mens van ons dag hou egter nie van ‘n God wat “Hom ontferm oor wie Hy wil, en verhard wie Hy wil” nie. (Romeine 9:18) Vir elkeen wie se hart wel uit genade deur die Gees sag en nederig gemaak is, is dit ‘n vreugde om in blydskap te buig voor die God wat waarlik God en soewereine heerser van die heelal is! Soli Deo Gloria!

(Vir 'n deeglike bespreking van die Calvinisme deur 'n Baptistiese Calvinis, John Piper, kliek hier : Five Points of Calvinism  Jy sal dalk verbaas wees om te lees dat die bekende George Müller wat die weeshuis in Engeland gehad het, ook 'n Calvinis was.)

* Sy het darem blykbaar om verskoning gevra, maar dis te betwyfel of dit weens nuwe insig was. 

** Vir die wat dalk nie weet nie, nie alle kerke wat hulleself as Calvinisties beskryf, glo en leef ongelukkig meer vandag die waarhede uit waarvoor die Reformasie gestaan het nie. Daar moet dus ‘n duidelike onderskeid gemaak word tussen die beoordeling van Calvinisme as sodanig en die beoordeling van die stand van kerke wat hierdie naam dra. Prof. Malan wys tereg op euwels wat deesdae in tradisioneel Calvinistiese kerke geduld word. Ek deel sy afgryse hieroor, maar dis egter nie die Calvinisme se skuld nie, maar juis die gevolg van ‘n wegdraai van Reformatoriese beginsels. 

*** Jonker en DL II,3-4. Die begrip Limited Atonement, wat in die bekende akroniem TULIP gebruik word is vatbaar vir hierdie misverstand van suinigheid en moet liefs vermy word. 

**** en ***** Willie Jonker in “UIT VRYE GUNS ALLEEN” Meer as een gedagte in hierdie stuk is van hom geleen. Ander bronne sluit in THE FIVE POINTS OF CALVINISM (WJ Seaton) en THE NEW INTERNATIONAL DICTIONARY OF THE CHRISTIAN CHURCH (artikel deur WS Read)