BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Tempel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Tempel. Wys alle plasings

Maandag 11 Desember 2017

TRUMP EN JERUSALEM

- moet Christene hande klap?



Trump se besluit oor Jerusalem het skokgolwe deur die wêreld gestuur. Groot toejuiging van sy kiesers en vanuit sekere elemente in Israel self. Die res van die wêreld en die Palestyne en Arabiere in die algemeen voel natuurlik baie anders oor die saak. Nou, almal wat iets van Amerikaanse politiek verstaan sal besef, Trump se aankondiging dat die VSA amptelik Jerusalem as die staat Israel se hoofstad erken, weinig met oortuiging te make het, maar wel baie met persoonlike populariteit en om die guns van sy groot Joodse casino baas donateur, Sheldon Adelson te behou. En so terloops : Trump se aankondiging is ook nie so dramaties en dapper soos baie van sy ondersteuners graag sou wou glo nie. In sy aankondiging oor die erkenning van Jerusalem was daar ‘n opvallende weglating – Hy het nie die Israelse terminologie oor Jerusalem gebruik nie. Israel verwys na Jerusalem as die “ewige onverdeelde” hoofstad van Israel.* Trump het net na “Jerusalem” verwys en dus die deur oopgelaat dat die grense van Jerusalem nog steeds onderhandelbaar is.



Ek wil egter nie op hierdie fasette konsentreer nie, maar net vra wat die geestelike en Bybelse dimensie van hierdie besluit behels?


JERUSALEM SE BETEKENIS VIR ONS


Hoe belangrik is die stad Jerusalem, spesifiek vir ons as Christene? En as dit belangrik is, in watter sin? Is God op ‘n manier meer daar teenwoordig as op ander plekke? Maak die status van Jerusalem hoegenaamd nog saak vir ons? Behoort evangeliese Christene, Trump se besluit toe te juig?



Histories gesproke in die ontvouing van God se verlossingsplan het Jerusalem natuurlik ‘n sleutelrol gespeel. Dis die stad van Dawid, die setel van die tempel, die plek waar God besluit het om op ‘n besondere manier teenwoordig te wees! As geografiese plek waar ons Here Jesus gekruisig is, het Jerusalem vir ons natuurlik ‘n geskiedkundige belangrikheid. Maar het Jerusalem (en of dit nou amptelik as Israel se hoofstad erken word of nie), enige geestelike betekenis vir ons?

DRAMATIESE VERSKUIWING

Met die koms van Jesus het daar dramatiese verwikkelinge gekom in die rol van Jerusalem. Die geografiese Jerusalem het geen geestelike betekenis meer vir ons nie! Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou by die put het dit vir altyd vir ons opgeklaar!

Die vrou het geredeneer : “Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ‘n mens God moet aanbid, is in Jerusalem."

Jesus sê toe vir haar: "Glo My, Mevrou, daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie.

Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode.

Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. (Johannes 4:20-23)

Ware aanbidding is gestel in Jesus Christus. Hy het immers die TEMPEL VAN GOD (kliek) vervang en by implikasie daardeur die belangrikheid van die stad Jerusalem gerelativeer! 

Ons moenie vergeet nie, Jerusalem het Jesus verwerp en Jesus het die oordeel oor hierdie stad en die tempel uitgespreek. 

"Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!

Kyk, nou word julle stad aan julleself oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!" (Lukas 13:34,35) 

Later spreek Hy ‘n nog duideliker oordeel uit oor Jerusalem!

"Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is." (Lukas 21:24)

En die geskiedenis leer ons dat die voorspelde oordele wel oor Jerusalem voltrek is...

JERUSALEM SE TOEKOMS?

Die groot vraag is natuurlik nou wat bedoel word as Jesus verwys na die vertrapping van Jerusalem wat ook tot ‘n einde gaan kom? Voorspel dit ‘n glorieryke aardse bedeling vir die geografiese stad Jerusalem? Dis natuurlik hoe die chiliasme, wat 'n duisendjarige aardse koninkryk van Jesus verwag, dit verstaan.**

In die breë Bybelse heilsgeskiedenis, dink ek moet ons nie hierdie uitspraak van Jesus verstaan as ‘n wonderlike toekoms vir die huidige stad Jerusalem nie. Ons moet Skrif met Skrif vergelyk. ‘n Uitstaande belangrike hoofstuk in die Ou Testament wat handel oor die toekoms van Jerusalem is Jesaja 60. (Lees dit gerus, maar onthou dit is geskryf in konkrete Ou Testamentiese taal, segswyse en denkraamwerk.) ‘n Baie belangrike insig word verkry as ons hierdie hoofstuk met Openbaring se beskrywing van die Nuwe Jerusalem (die Bruid van Christus) vergelyk. Die ooreenkomste is verstommend treffend!

“Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie: die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, en jy sal roem in jou God.

Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, jou dae van smart is verby.” (Jesaja 60:19,20)

Vergelyk dit nou met Openbaring.

“Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.” (Openbaring 21:23)

“Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ‘n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer.” (Openbaring 22:5)

Jesaja beskryf die Nuwe Jerusalem in profetiese taal! 

Dit word bevestig deur die Nuwe Testament self. Die klem in die Nuwe Testament verskuif van die fisiese stad Jerusalem na die Nuwe Jerusalem. Die teologiese belangrikheid van die aardse stad Jerusalem vind vervulling in die waarheid van die Nuwe Jerusalem! (Kliek op Nuwe Jerusalem) Trouens Openbaring verwys eintlik baie negatief na die aardse Jerusalem as die plek waar ons Here gekruisig is!

“Hulle lyke sal in die hoofstraat van die groot stad lê waar hulle Here ook gekruisig is. Die stad word sinnebeeldig Sodom en Egipte genoem.” (Openbaring 11:8)

Ook Paulus heg geen spesiale geestelike betekenis aan die geografiese Jerusalem nie. Trouens om die onversoenbaarheid tussen redding deur die wet en redding deur geloof uit te beeld verwys hy baie sterk negatief na die aardse Jerusalem. En dan maak hy terloops ‘n positiewe verwysing na die hemelse Jerusalem! “Hagar staan vir Sinaiberg in Arabië, en dit is ‘n beeld van die huidige Jerusalem, want Jerusalem en sy kinders is slawe. Maar die hemelse Jerusalem is vry, en dit is ons moeder.” (Galasiërs 4:25,26)

Donald Trump se besluit (ongeag die applous van baie Christene) is eintlik baie teenproduktief vir die Christelike evangelie se vooruitgang veral in die Moslem wêreld. Dit plaas Arabiese Christene in ‘n baie netelige posisie. (Dink ook sommer, wie is ons naaste broers en susters in die geloof - Arabiese Christene wat in Jesus glo of Sioniste wat Jesus verwerp?)  So het die hoof van Egipte se Koptiese Kerk, Pous Tawadros die Tweede reeds gesê hy weier om die Amerikaanse adjunkpresident, Mike Pence te ontmoet wanneer hy Kairo later die maand besoek. Dis ‘n verstaanbare reaksie. Trump sal dit egter nie verstaan nie. Natuurlik dis te veel verwag van hom wat nie eens die woord vergifnis verstaan nie om diepgaande teologiese insig te toon. Van evangeliese Christene verwag mens egter meer insig en sensitiwiteit... Kom ons lees meer die Bybel en kyk minder TBN...

*Hy het wel dié term in sy verkiesingsbeloftes gebruik.

** Meer spesifiek, pre-millenialisme.
Diana Butler Brass som dit baie goed op:
I doubt that President Trump could explain dispensational pre-millennialism. I doubt he knows the term. But his evangelical supporters know it. Some of his advisers are probably whispering these prophecies in his ears. Trump might not really care how they interpret the Bible, but he cares that white evangelicals continue to stand with him. Moving the embassy to Jerusalem is one way to affirm his commitment to these evangelicals -- reminding them that he, Donald J. Trump, is pressing biblical history forward to its conclusion and that he is God's man in the unfolding of these last days.

Donderdag 06 November 2014

AL AQSA, DIE TEMPELBERG EN MARKUS 13

- JESUS SE PROFETIESE AANSPORING TOT PARAATHEID



Sal Israel ooit so ver gaan om een van Islam se heiligste plekke te verwoes en hulle eie Joodse tempel te herbou? Die onlangse gebeure by die Al Aqsa moskee en die tempelberg plaas opnuut die fokus op die rol van Jerusalem en die tempel in die eindtyd. Ongelukkig is dit ‘n rol wat deur baie verkeerd verstaan word en juis so misverstaan word dat dit die skerpkant van Jesus se duidelike profetiese boodskap in Markus 13 uitkanselleer of afstomp!


DIE TEMPEL

Dis duidelik dat Markus groot klem lê op Jesus se houding en boodskap ten opsigte van die tempel in Jerusalem. Na Jesus se intog in Jerusalem is sy stelling (Markus 11:11) baie opvallend en vol betekenis :  "En Jesus het in Jerusalem gekom en in die tempel. En nadat Hy alles rondom bekyk het, en omdat dit al aand was, het Hy met die twaalf uitgegaan na Betánië...” Jesus doen inspeksie van die tempel en dit lei tot sy oordeelshandelinge in die tempel, onderstreep deur die vervloeking van die vyeboom. Die boodskap (wat ook sterk deur die Johannes evangelie uitgelig word) is dat die Joodse tempel en tempelbedeling misluk het. JESUS SELF IS NOU GOD SE TEMPEL. In Hom beleef ons nou die heerlikheid van God. Hy gee ons toegang tot die ware aanbidding van God!

In antwoord op die dissipels se opmerking in Markus 13:1 maak Jesus dit verder baie duidelik dat die tempel totaal verwoes gaan word! “Daar sal sekerlik nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie!” (Markus 13:2) Dis seker ook nie om dowe neute dat Markus meld dat Jesus “regoor die tempel” gaan sit het nie. (Markus 13:3) 

JESUS SELF IS ONS TEMPEL, ONS EWIGE HOËPRIESTER EN ONS ALGENOEGSAME OFFER!

(Israel en die Moslems se gewoel by Al Aqsa raak dus nie God se tempel nie!)


VOORTEKENS 

Jesus se verdere lering in Markus 13:4-23 gaan spesifiek oor wanneer “hierdie dinge” sou plaasvind. Jesus wil duidelik maak dat hierdie dinge in vers 4-23 voorlopige gebeure is wat nie verkeerd verstaan moet word asof die wederkoms al aangebreek het nie! Jesus se hoofpunt hier is om die dissipels te waarsku dat hulle nie ontstel moet word deur die voorlopige tekens nie en dit ook nie moet verstaan as die aanbreek van die wederkoms self nie! 

Moenie voorlopige tekens met wederkoms verwar nie! (as ons dit so verstaan is daar geen konflik met die “tekens” en die uitspraak van Jesus in vers 32 nie!) Die voortekens bepaal nie die tyd van die wederkoms nie, daar moet dus nie afleidings rondom die tyd van die wederkoms vanuit hulle gemaak word nie. Hierdie voortekens word in Markus 13:8 met geboortepyne (Grieks - wdin)) vergelyk. In die Ou Testament verwys “geboortepyne” herhaaldelik na Goddelike oordeel (byv. Jesaja 13:8, 26:17, Miga 4:9ev) Die klem wat gelê word op “begin” suggereer dat die tydperk voor die verskyning van die Messias lank kan wees. God se kinders moet voorbereid wees vir ‘n lang tyd van verdrukking.

VERVOLGING EN EVANGELISASIE

Jesus beklemtoon dat as die dissipels hoor van onrus en rampe, moet hulle nie ontstel word nie. Hulle mag ook nie toelaat dat hulle mislei word en hulle aandag van hulle werk afgelei word nie. Hulle hooftaak bly die verkondiging van die evangelie aan alle nasies! (Markus 13:10) Hierdie werk gaan tot strawwe vervolging aanleiding gee. Jesus berei sy dissipels voor vir vervolging, soortgelyk aan sy eie. (Let op die herhaling van die woord “oorlewer” in vers 9,11,12.) Jesus se oorlewering en lyding is die proto-tipe van dit wat sy volgelinge te wagte kan wees. “Almal sal julle haat. Maar onthou : Wie volhard tot die einde sal gered word!” (Markus 13:13) Jesus se hoofboodskap is : GAAN AAN, VOLHARD, DIS NOG NIE DIE EINDE NIE! 

Dink aan die groot troos van hierdie gedeelte vir vervolgde Christene (toe en nou). Ons vervolging is nie iets abnormaal of vreemd nie, Jesus het dit voorsien, en boonop : ons verduur dit wat Hy ter wille van ons verduur het!

VERVOLGING IS DIE VOORLAND VAN ELKE VRUGBARE GELOWIGE!

VLUG

In Markus 13:14-23 fokus Jesus baie spesifiek op die plaaslike situasie in Judea en Jerusalem wat sou uitloop op die groot verwoesting van die tempel in 70nC deur die Romeine. (Die geskiedskrywer Flavius Josephus het hieroor uitgewei en baie inligting nagelaat.)

Jesus gebruik terminologie uit die boek Daniel. (Daniël 9:27,11:31, 12:11) Hy waarsku dat die “gruwel van die verwoesting” naby is en dat die vlug vanaf Jerusalem en Judea noodsaaklik is. Hierdie uitdrukking in Daniel beskryf ‘n afstootlike gruwel wat so erg is dat die mense die tempel sal agterlaat. Hierdie profesie van Daniel is alreeds vervul in 168vC toe Antiochus Epifanus die tempel ontheilig het deur ‘n altaar vir Zeus daar op te rig, waarop varke geoffer is. Jesus se gebruik van die uitdrukking dui daarop dat iets soortgelyks sou gebeur en dat daar weer ‘n ontheiliging van die tempel sou plaasvind. (Die herhaling van geykte profetiese temas om nuwe situasies te beskryf, is algemeen in die Skrif. Dit kom gereeld in Openbaring voor.) Die presiese aard van die ontheiliging word nie aangedui nie.

Die hoofklem in hierdie gedeelte is die opdrag om te vlug. Dis die praktiese raad wat Jesus aan die mense gee van sy eie geslag/tydgenote.

Die opdrag om te vlug veronderstel ‘n krisistyd in die geskiedenis, maar nie die finale einde nie! In Openbaring word “vlug” juis as futiel en nutteloos beskryf! (Openb. 6:15-17) Hierdie gebeure is beslis nie op die wederkoms van Jesus van toepassing nie (dan hoef God se kinders hoegenaamd nie te vlug nie), maar op die historiese situasie van oorlog wat sou uitloop op die verwoesting van Jerusalem en die tempel.

Jesus se boodskap hier is : “Daar wag vreeslike dinge op julle, vlug betyds as julle kans kry, maar moenie julle laat mislei nie, dis nog nie die finale einde nie!”

Ons is nie direk deel van hierdie historiese gebeure nie. Dis lankal verby. In ons dag is dit egter ook so dat vals profete floreer in tye van rampe en onrus. Moenie jou deur hulle praatjies laat vang nie!

PASOP VIR VALS PROFETE WAT IN MOEILIKE TYE OP HULLE PROOI TOESAK!



WEDERKOMS

Vanaf vers 24 is daar ‘n duidelike wending in die rede van Jesus. Hy bespreek nou sy wederkoms.Teenoor die valse hoop wat baie mense sal mislei is die ware hoop op die koms van Jesus! Fokus op Jesus self en moenie julle deur hierdie tussentydse dinge van koers af laat bring nie!

Jesus gee hoegenaamd nie nou ‘n tydsaanduiding van wederkoms nie. Hy het die dinge wat in sy dissipels in die onmiddellike toekoms te wagte kan wees uitgelig en dit duidelik gemaak dat sy koms nie sal plaasvind voor hierdie voorlopige gebeure nie.

Om die onbeskryfbare omvang en effek, heerlikheid en katastrofale aard van die wederkoms te teken, gebruik Jesus (Markus 13:24-26) terminologie uit Joël 2:10, 3:15; Jesaja 13:10;34:4; Esegiël 32:7-8; Amos 8:9. Die inmekaarval van kosmiese strukture wys op God se radikale ingrype en gepaardgaande katastrofes in die geskiedenis. Die lot van die heelal en die mens is ineengevleg. Met die sondeval is die hele skepping aan nietigheid onderwerp, met die mens se finale verlossing sal die hele skepping weer bevry word! (Vergelyk Romeine 8)

In Markus 13:26-27 gaan als oor aksies van die Seun van die mens. HY kom. HY maak die uitverkorenes bymekaar deur die engele. SY triomf word beskryf in terme van die Seun van die mens, die misterieuse figuur in Daniel 7:13ev. Jesus beklemtoon hier wat Hy reeds vir sy dissipels geleer het. Hy word verneder en ly, maar Hy kom weer in heerlikheid! (Markus 8:31,38)

Jesus maak sy verstrooides deur die engele bymekaar. “En dan sal Hy sy engele uitstuur, en Hy sal sy uitverkorenes uit die vier windstreke versamel, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel.” (Markus 13:27) Die parallel met Deuteronomium 30:4 is uiters opvallend : “Al was jou verstrooides aan die einde van die hemel, daarvandaan sal die HERE jou God jou versamel, en daarvandaan sal Hy jou gaan haal.” Jesus herinterpreteer Israel se verwagtinge! Die onderliggende waarheid is dieselfde maar daar is diepgaande verskille. Die fisiese tempel en Jerusalem was die versamelplek van die verstrooides van Israel. Die tempel gaan nou finaal verdwyn (onthou die verdroogde vyeboom), maar die gevolg is ‘n nuwe hergroepering rondom Jesus self, die ware tempel!

As die vyeboom begin bot is mens seker dat die somer kom en dat dit naby is. Die beeld van vyeboom wat bot beklemtoon beslistheid van die gebeure en die nabyheid daarvan. Maar onthou om te weet iets is naby beteken nog nie ons weet wanneer nie!

WAAKSAAM EN NOGMAALS WAAKSAAM!

Markus 13:30 is ‘n baie omstrede vers wat uiteenlopende verklarings tot gevolg gehad het. “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.”

“Al hierdie dinge” verwys na “hierdie dinge” in vers 29. “Hierdie dinge” moet verstaan word in terme van die dissipels se vraag in vers 4 na aanleiding van Jesus se uitspraak oor die verwoesting van die tempel. “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken wanneer al hierdie dinge volbring word?” “Hierdie geslag” verwys na die tydgenote van Jesus. Inderdaad is die verwoesting van Jerusalem binne die leeftyd van Jesus se geslag voltrek. Sluit “hierdie dinge” nie ook die wederkoms self in nie? Het Jesus dan nie ‘n fout gemaak nie? NEE, vers 30 word gerelativeer deur vers 32. “Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader.” Vers 30 en 32 moet saam in balans verstaan word. Vers 30 verwys dus streng gesproke na die verwoesting van die tempel en die ander voorlopige tekens en vers 32 na die wederkoms self. Dit maak absoluut sin as mens in gedagte hou dat Jesus se hoofdoel met hierdie rede van Hom, die aansporing tot paraatheid en waaksaamheid is. Hieroor kan niemand twyfel nie... al sou jy met van die detail uitleg verskil. Jesus se waarskuwings staan voorop: 

Vers 5 "En Jesus antwoord hulle en begin te sê: Pas op dat niemand julle mislei nie."

Vers 9 "Maar wees julle vir julleself op die hoede, want hulle sal julle oorlewer aan regbanke, en in sinagoges sal julle geslaan word en voor goewerneurs en konings gebring word om My ontwil, vir hulle tot 'n getuienis".

Vers 23 "Maar julle moet op jul hoede wees. Kyk, Ek het alles vir julle vooruit gesê

En wanneer dit spesifiek gaan oor die tema van Jesus se wederkoms op ‘n ONBEKENDE tyd word die kwessie van waaksaamheid verder onderstreep :

Vers 33 "Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie."

Vers 35 "Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie;"

Vers 37 "En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!"


BEREKENINGS EN BESPIEGELINGS

Dis tragies dat sommige (baie aktiewe) verklaarders Jesus se profetiese rede in Markus 13 juis gebruik om rondom tydsbepalings oor die wederkoms te bespiegel. Jesus se uitspraak rakende “hierdie geslag” is al min of meer as volg geïnterpreteer : Die vyeboom is ‘n simbool vir Israel. Israel het in 1948 ‘n onafhanklike staat geword. Binne daardie geslag sou die wederkoms plaasvind. ‘n Geslag in die Skrif is 40 jaar. Jesus se wederkoms sou in die laat tagtigerjare geskied. Natuurlik het dit nie gebeur nie en nou word daar gekyk na ‘n tydperk van 70 jaar, want ‘n leeftyd volgens die Bybel duur normaalweg 70 jaar!

Hierdie is ‘n voorbeeld van hoe mense die Skrif kan verkeerd interpreteer en juis teen die bedoelings van ‘n bepaalde Skrifgedeelte gaan. Jesus gaan uit sy pad om in Markus 13:32-37 te beklemtoon dat die tyd van die wederkoms ONBEKEND is. Die onbekendheid onderstreep juis die dringende noodsaaklikheid van waaksaamheid. Jesus sê dus : “Julle weet nie wanneer ek kom nie, jus daarom moet julle getrou op julle pos wees, besig met die werk (Vgl. Vers 34) wat julle gekry het!”

Let op die herhaling van “nie weet nie” :

Vers 32 “weet niemand nie”

Vers 33 “want julle weet nie”

Vers 35 ”want julle weet nie”

Die tyd van Jesus se koms is onbekend, die feit van sy koms is seker. Hierdie vooraftyd sal gekenmerk word deur vervolging, misleiding en rampe, maar dit moet ons nie ons fokus op volharding, waaksaamheid en die doen van ons werk laat verloor nie. 

REG VERSTAAN?

Wie verstaan Markus 13 dan nou reg? Die eenvoudige gelowige wat daagliks biddend en waaksaam besig is met die werk wat sy Verlosser hom gegee het en nie sy ore aan valse profete uitleen nie!

WAAK JY?

[Ons beleef groter wordende boosheid en afvalligheid. Die volgende uit 2 Timoteus het my juis vanoggend weer aangespreek- 
"Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.  Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus." (2 Timoteus 3:13-15)  Bly by die basiese waarhede van die WOORD!]

Vir 'n bespreking van Ou Testamentiese profesie, kliek op PADSKRAPERDRYWER?

Vrydag 01 Augustus 2014

GAZA, ISRAEL EN DIE BYBEL

- hoe behoort evangeliese Christene op dié konflik te reageer?

AAN WIE SE KANT?



“Natuurlik moet Christene aan Israel se kant wees, dis mos God se volk en dis mos die land wat Hy aan die nageslag van Abram beloof het.” Tradisioneel is dit seker die meeste Christene se siening, maar is dit Bybels? Om sommer mee te begin, die nageslag van Abram is volgens die Nuwe Testament nie meer etniese Jode nie, maar almal wat in Jesus glo! “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.” (Galasiërs 3:7) Wat God vir die volk Israel gesê het na die bevryding uit Egipte, word nou in die Nuwe Testament direk net so van toepassing gemaak op die kerk. (Vergelyk Eksodus 19:4-6 met 1 Petrus 2:9-10)* As ons konsekwent Bybels wil wees, moet ons sê dat ons broers en susters (ook in die konteks van die Israeli – Palestynse konflik), nie die Jode is nie, maar die Christene! En nou mag dit dalk vir sommige nuus wees – nie alle Palestyne is Moslems nie, daar is ook Christene onder hulle. Weliswaar net so wat 'n duisend in Gaza, maar ongeveer 8% in die Wes Bank en byna 10% van Israel se Arabiese bevolking. Om outomaties altyd aan die staat Israel se kant te wees en als wat hulle doen blindelings goed te praat, hou nie rekening met hierdie feite nie. “Ja, maar die land is tog aan die Israeliete beloof en hulle het die reg om dit te vat! Volgens die beloftes van God gaan die tempel ook herbou word.” Kanaän, moet ons goed verstaan was ‘n tydelike fase in God se heilsopenbaring. God se volk, almal wat nou in Jesus glo sien nou uit na die ewige Kanaän! Die beloofde land kan dus nie sommer net klakloos gelykgestel word met die huidige staat Israel nie! Net so is die tempel van God binne die bedeling van die Nuwe Verbond, nie meer ‘n fisiese gebou nie, maar die kerk van Jesus, waarvan Hyself die hoeksteen is. Die ou tempel is vir altyd verwerp soos ons duidelik leer in Markus 11 waar Jesus dit gedemonstreer het met die vervloeking van die vyeboom. Die nuwe tempel waarna alle nasies gaan stroom volgens die profete, is die kerk, waarin daar redding deur Jesus te vind is vir alle volke! Dit het hoegenaamd niks te doen met ‘n gebou in Jerusalem nie. (Kliek ook op Ou Testamentiese profesie)

Wat moet ons as Christene se houding en boodskap wees in te midde van die skrikwekkende geweld?

Christene moet alle geweld veroordeel. Ja, die terroriste organisasie Hamas se vuurpylaanvalle teen Israel is beslis nie aanvaarbaar nie, maar net so kan Israel se oordrewe geweld teen burgerlikes allermins goedgepraat word. Elke kind van God sal ‘n vredemaker wees. Ook in hierdie konflik moet ons ‘n vredesboodskap laat hoor. Vrede wat slegs te vinde is in Jesus vir beide Jood en Palestyn.

Christene sal ‘n besondere liefde vir die Joodse volk hê, ons Verlosser was immers na die vlees ‘n Jood! Nooit sal Christene anti-Semities mag wees nie! Maar presies hoe moet hierdie liefde gestalte vind? Soos Paulus moet dit ons begeerte wees dat hulle tot redding deur Jesus Christus sal kom. “Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word...” (Romeine 10:1) Ons groot verpligting teenoor die Joodse volk is ‘n sendingplig! 

As Christene het ons egter ook ‘n sendingplig teenoor Moslems. As Christene altyd kant kies teen die Palestyne en selfs Palestynse Christene, hoe gaan ons die Moslems oortuig van God se liefde ook vir hulle? Is dit reg dat ons so blind is vir die nood van Palestyne?

As Christene het ons ‘n liefdesplig teenoor alle Christene. Moet ons nie dalk meer ondersteuning uitspreek en hulp betoon aan Palestynse broers en susters wat swaarkry nie?

Hierdie is maar net ‘n paar voorlopige basiese gedagtes. Maar dalk help dit ons om meer Skriftuurlik te dink oor ‘n baie aktuele saak.

*"Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." (Eksodus 19:4-6)

"Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys." (1 Petrus 2:9-10)

Vir meer inligting, kliek op PALESTYNSE CHRISTENE


 Gaza - PressTV

Vir 'n volledige bespreking van hierdie saak, kliek op UITVERKORE VOLK.





Donderdag 24 Januarie 2013

JOHANNES DIE PADSKRAPERDRYWER?

- hoe om Ou Testamentiese profesie reg te verstaan.

Het Johannes die Doper paaie gebou in Palestina en grondverskuiwingswerk langs die Jordaan behartig? Natuurlik nie! Maar as mens die Ou Testamentiese profesie in Jesaja 40:3,4 in die streng sin van die woord “letterlik” sou opneem sou dit dalk die gevolgtrekking kon wees. Dit sê : “ ‘n Stem van een wat roep : ‘Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God! Elke dal moet opgevul en  elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word.’” Almal sal saamstem dat ons uit ‘n gedeelte soos Lukas 3:3-5 weet dat hierdie profesie verwys na die geestelik voorbereidingswerk wat Johannes die Doper gedoen het. Deur sy bekeringsboodskappe het hy die aanvoringswerk gedoen vir Jesus se bediening. Hierdie Ou Testamentiese profesie is geestelike beeldspraak of ‘n metafoor wat ons in die lig van Johannes en Jesus se bedienings moet verstaan! Om dit tegnies letterlik te verstaan sou belaglik wees en teen die boodskap van die Skrif indruis.

Maar dis presies wat so baie studente van die Ou Testamentiese profesieë doen. Hulle roem hulle daarop dat hulle die Bybel letterlik glo en toepas.  Nou natuurlik is daar baie Bybelse gedeeltes wat ons nie anders as letterlik mag verstaan nie, spesifiek die historiese gedeeltes in die Skrif. Bybelgetroue Christene is heeltemal reg om in die letterlike kruisdood en die histories liggaamlike opstanding van Jesus te glo. Maar aan die anderkant daar is daar wel baie gedeeltes in die Skrif wat ‘n metaforiese verpakking het, soos die voorbeeld van die profesie oor Johannes hierbo duidelik bewys. *

Dis baie duidelik dat ons in ons uitleg van die Ou Testament profesieë erns moet maak met die verstaan van beeldspraak en probeer verstaan wat dit sê oor die evangeliegebeure.

Kom ons kyk na nog ’n voorbeeld. In Jesaja 32:15 word gesê: “Dan word die woestyn ’n vrugteboord en word die vrugteboord so dig dat dit vir ’n bos aangesien word” Iemand wat streng letterlik na hierdie uitspraak kyk, sou kon beweer dat dit ’n voorspelling is van ’n produktiewe vrugtebedryf in die land van Israel. (En sou so ’n uitleg kon ondersteun deur die feit dat die moderne Israeli staat inderdaad ’n groot produsent van vrugte is.) Maar is dit die regte uitleg? Die teks self gee duidelik te kenne dat dit hier gaan oor die oorvloedige werking van die  Heilige Gees. Wie die heilsgeskiedenis ken sal onmiddelik besef dat dit met Pinkster in vervulling gegaan het. Die ontwikkeling van woestyn tot vrugteboord en vrugteboord tot bos vertel maar net vir ons van die oorvloedige werk van die Heilige Gees en die heerlike gevolge daarvan veral nadat Hy aan die kerk geskenk is! Uiteindellik lei dit tot 'n nuwe bedeling van reg en geregtigheid!

 ‘n Paar riglyne om in gedagte te hou vir die verstaan van Ou Testamentiese profesie :

~ Hou rekening met die ontwikkeling van die  groot Bybelse storielyn. Die heilsgeskiedenis soos dit in Jesus Christus ’n hoogtepunt bereik. (Sien LUGFOTO VAN DIE BYBEL op hierdie webjoernaal) Sien raak hoe die temas van land en volk, ’n ontwikkeling deurgaan en groter en dieper betekenis kry vanuit Jesus as die klimaksopenbaring van God.

~ Hou rekening met die figuurlike taal en metaforiese aard van die profesieë. Veral in Bybel boeke soos Sagaria, Daniël en Openbaring word apokaliptiese beelde (perde, koppe, horings ens.) gebruik. Om dit letterlik te verstaan sal net tot nagmerries ly.

~ Hou rekening met die feit dat die profete woordeskat en gebeure wat vir hulle eerste lesers bekend was gebruik om toekomstige gebeure en geestelike warhede te beskryf. Destyds is daar oorlog gemaak met perde. Dit beteken nie dat orals wanneer die profete van perde praat, dat hulle daarmee sê dat toekomstige oorloë ook met perde gevoer sal word nie.

~ Hou rekening met die herhaling van Bybelse temas en gebeure wat aangewend word om toekomstige gebeure te beskryf soos die Skepping, Paradys, Sondvloed, die Uittog (Eksodusgebeure).  Daar kom ‘n nuwe skepping, die paradys word herstel, daar word weer ‘n verwoestende oordeel verwag (hierdie keer deur vuur), Jesus bewerk ‘n nuwe Eksodus ens. Nie net gebeure nie, maar ook historiese persone word gebruik om persone van die toekoms te beskryf. Elia word gebruik as ’n beskrywing vir Johannes die Doper. Josua, Dawid en Serubabel help ons om Jesus se persoon en werk beter te verstaan.

Wat van ‘n toekomstige tempel in Jerusalem?

Ook Ou Testamentiese instellings soos die hoëpriesterskap, offers en die tempel vind in Jesus hulle vervulling. ‘n Toekomstige tempel speel ‘n belangrike rol in die Ou Testamentiese profesieë soos byvoorbeeld in Jesaja 2:2 wat lees: “En aan die einde van die dae sal die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom.” Vind ons nie hier ‘n letterlike voorspelling of vereiste dat mense na die hedendaagse land van Israel moet reis om God te leer ken? Nee, ons leer God alleen ken deur Jesus, wat alle offers, alle priesters en ja die tempel self vervang het!  (Dis so duidelik uit die Johannes evangelie) Nooit weer sal die vrygekooptes deur die Bloed van die Lam behoefte hê aan ‘n fisieke tempel nie – ook nie die sogenaamde vierde tempel waarvan sommige praat nie! Daar skort mos niks met Jesus se werk nie! Watter bydra kan enige tempel nou lewer om ons nader aan God te bring?  Geen toekomstige tempel kan ons ook Jesus se werk beter laat verstaan nie, want dis die werk van die Heilige Gees om ons van die waarheid en genoegsaamheid van Jesus te oortuig! 

Die volle heerlikheid van God is sigbaar in Jesus Christus – ‘n aardse tempel sal dus nooit meer nodig wees nie!

Daarom meld Openbaring 21:22 uitdruklik ten opsigte van die nuwe Jerusalem : “ ‘n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige en die Lam.”

Mag niks ooit ons fokus wegneem van die volle genoegsaamheid van ons Verlosser, Jesus Christus nie!

*Om net te sê dat ons die Skrif "letterlik" moet verstaan is 'n oorvereenvoudiging. Daar is verskeie literatuursoorte in die Bybel (genres) en dit bepaal die wyse van interpretasie. So is dit logies dat ons nie 'n gelykenis letterlik moet verstaan nie (om te wonder wat was die barmhartige Samaritaan se naam of ouderdom is sinneloos), maar daar is wel baie dele wat inderdaad letterlik moet verstaan word omdat dit aanspraak maak om byvoorbeeld ooggetuie verslae  of geskiedskrywing te wees. 





Oppad na Tsintsabis

Dinsdag 21 Augustus 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (14)

- die bruilofsmaal van die Lam.

Die Bybel maak dikwels gebruik van die huweliks en bruilofmetafoor om iets van die heerlikheid van die verhouding tussen God en sy verlosde mense te beskryf.
Die huwelik word alreeds in die Ou Testament  gebruik om die verbintenis tussen God en sy volk te beskryf. Kyk na Esegiël 16:8! (Aangrypend : ’n weggooikind word uiteindelik ’n koningin bruid!) Sien ook Hosea 2:18,19! In die Nuwe Testament  word dit nog duideliker gestel as Paulus die verhouding tussen man en vrou direk van toepassing maak op die verhouding tussen Jesus en sy kerk. (Ef 5:31,32)

Jesus self gebruik ook die feesmaal (al is dit nie eksplisiet ’n bruilofsmaal nie) as ’n tema om die feesviering in die Koninkryk aan te dui. (Matt 9:14, 15; 22:1-14, 25:1-13) Hier lê die klem op die gaste, wat uitgenooi en begenadig is om te mag deelneem.
Die beeld van die maaltyd en die huwelik word dus  gevarieerd in die Skrif gebruik en in elke situasie is daar ’n verskillende klem. Dis wel duidelik dat God se mense (die kerk van Jesus ) beide bruid en gaste aan die bruilofsmaal is!* Een beeld is nie genoeg en voldoende om die heerlikheid te beskryf waarin God se kinders gaan deel nie! Die bruid self is ook nie ’n enkelvoudige beeld nie! 

Hier in Openbaring  21:9,10 kry ons ‘n verrassing. Johannes hoor: “Ek wys jou die bruid...” en dan sien hy ’n stad!

Die nuwe Jerusalem is hier duidelik nie ’n letterlike stad nie, maar ’n personifikasie van die kerk, die bruid van Jesus, die Lam. (Hier sien ons vir die soveelste keer in Openbaring hoe Johannes drastiese gedagtespronge maak om ‘n boodskap deur simbole oor te dra. Hy verf as’t ware sulke lang hale met sy kwas om die heerlike boodskap met sy skildery uit te beeld. Hierdie boodskap wat so onbeskryflik groot en wonderbaarlik is dat gewone taal dit moeilik kan oordra.) 

Die nuwe Jerusalem, die ewige stad van God  is nie ’n stad van bakstene en geboue nie, maar wel begenadigde mense! 

God woon by sy mense! Vgl Openbaring 21:3.  Dis belangrik om raak te sien : Die bruid, Jerusalem is in skrille kontras met die prostituut, Babilon! Twee simboliese stede wat reëlreguit teenoor mekaar en vir radikaal opponerende waardes staan. Babilon versinnebeeld ‘n onrein HOER en Jerusalem ‘n heilige BRUID! Babilon is die simbool van verset en verleiding, Jerusalem, die verlosde vrou van die Lam!
Vergelyk die volgende gedeeltes in Openbaring met mekaar: 18:5 en 21:2 (sonde teenoor heiligheid); 17:1 en 21:9 (sedelose vrou teenoor bruid van die Lam);  17:4 en 21:27 (sedeloos teenoor niks onreins); 18:23 en  21:23,25 (geen lig teenoor God wat die Lig is in Jerusalem); 17:6 en 21:4 (Stad van die dood teenoor geen dood) ens.

Nogmaals 12

In die beskrywing van die stad kry ons telkens  weer die simboliese getal 12 (en veelvoude daarvan) wat ons reeds by die 144000 as simbolies die volle getal van die kerk teengekom het! Lees Openbaring 21:12-21 (12 poorte, 12 engele, 12 fondamente, 12 name, 12 000 km, 144m ens.)  Dit sê so duidelik : die bruid van die Lam is volledig, nie een uitverkorene sal kort nie! 

Kubus

Opvallend, die nuwe Jerusalem is ’n kubus! Vers 16!  (Weereens is hier nie sprake van letterlike afmetings van ’n letterlike stad nie! ‘n Stad met sulkie fisiese proporsies, sou maar ‘n ongemaklike plek gewees het) Waarom dan die kubusvorm?  Dit gaan oor die volmaakte teenwoordigheid van God soos in die kubusvormige binneste heiligdom - vgl. die heiligdom van Salomo se tempel in 1 Konings 6:20! Ook kubusvormig!**  God is volmaak alomteenwoordig by sy mense! Daar is niks meer wat skeiding en vrees kan veroorsaak nie. Deur Jesus se bloed (sy genoegsame offer) is ons nou in sy binneste heiligdom! Die finale heerlike gevolg van die voorhangsel wat geskeur het!

Edelstene en goud

Die edelstene se agtergrond kom  waarskynlik uit Eksodus se voorskrifte met betrekking tot die Hoëpriester se klere - (8) Edelstene was deel van die borssak van die priester, wat simbool was van die hele Israel wat deur die hoëpriester verteenwoordig is. (Moenie te detail vra vrae en in tegniese besonderhede vasval nie - sien die groot prentjie raak!)
Pêrels was in die antieke wêreld die kosbaarste juweel! God ag sy volk baie kosbaar! Die strate  van goud weerkaats God se heerlikheid! Ja, die heerlikheid van God sal sigbaar wees in Sy verlosdes! (Dis iets wat nou reeds merkbaar is in die heiliges op aarde ten spyte van soveel gebrokenheid!)

Maar geen tempel nie!

Verder vind ons hier ‘n heerlike lyn van Eden via die tempel tot by Jesus die ware tempel van God tot by die Voleinding!!  (Vers 22) Die tempel (eers die tabernakel) was altyd die fokusput van God se plek, waar Hy besonder teenwoordig is en waar sy heerlikheid beleef word. Die funksie van die aardse tempel in Palestina is vir altyd verby, want ons sien en beleef die heerlikheid van God nou in Jesus. (Johannes 1:14 - letterlik - Jesus het by ons "getabernakel, tent opgeslaan") Ons deel in Jesus en vorm so saam met Hom die ware tempel, die sentrum van die  stad die woonplek van God.  ‘n Fisieke tempel is nou nie meer nodig nie! Gereinig deur Jesus se offer gaan ons by God wees en sy volle heerlikheid vir ewig beleef! Voor die sondeval het Adam en Eva God se teenwoordigheid in Eden beleef, dis nou weer herstel, maar dis baie beter en blywend!

Openbaring gebruik komplekse beelde vanuit verskillende hoeke om vir ons die onbeskryflike heerlikhede (bo ons verstand en taalvermoë) wat wag vir God se kinders te beskryf. Die bruid as die nuwe Jerusalem beteken dat die volle getal van God se kinders ’n ewige volmaakte saamwees met God en die Lam sal beleef!

Kan daar iets heerliker wees om na uit te sien?


* Goldsworthy
** Du Rand