BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Jesus -genoegsaamheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jesus -genoegsaamheid. Wys alle plasings

Donderdag 02 Maart 2017

KYK NA DIE STERRE

en GLO!

Abram, soos ons almal weet, was ‘n man van geloof. Die vader van alle gelowiges. Maar dis baie belangrik om altyd te onthou dat God self die inisiatief geneem het met Abram op die geloofspad. In Genesis 12:1-4 lees ons van hoe God vir Abram ‘n gewone afgodsdienaar geroep het, ‘n opdrag aan hom gegee het en beloftes aan hom gemaak het. 

“Die Here het vir Abram gesê: "Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.
Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees.
Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees."
Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here...”

Dit was die begin van Abram se geloofspad – hy het die beloftes geglo en dus gehoorsaam weggetrek al het hy glad nie geweet presies waarnatoe als sou lei nie. Belangrik om nou reeds te sien : 

Geloof is geloof nie in wat ek wil glo of wens nie, maar geloof in God se duidelike beloftes! 

NIE MAKLIK NIE! 

Hierdie pad van geloof was natuurlik nie maanskyn en rose nie. Dit was ‘n pad vol bedreigings, vertwyfeling, aanvegtinge, herhaalde keuses en volharding. Dit was geen afdraende ontspanningspaadjie nie, maar ‘n opdraande stryd. Abram se geloof was voortdurend onder druk. Hoe so? Ons weet God het hom ‘n groot nageslag beloof, maar nou na jare was Abram steeds kinderloos. Abram word in sy geloofsbestaan bedreig. Dit was die harde feite en dis die agtergrond vir die merkwaardige gebeure in hoofstuk 15. Hier kom die Woord van die Here na Abram en sê vir hom : “Vrees nie, Abram, Ek is vir jou 'n skild en jou loon is baie groot.” (OAV) God gee ‘n versekering aan Abram. Hy wil Abram versterk en bemoedig. 

HY MAAK SY HART OOP 

Dit lyk of God se bemoedigende woorde van versekering Abram se hart raak, want hy maak sy hart oop en praat eerlik oor die wanhoop en frustrasie wat in sy hart is. (Genesis15:2,3) In effek kom dit daarop neer: “Ek is op pad om kinderloos te sterwe Here, so wat help al die beloftes van ‘n land en beskerming? Wat help die wonderlike belofte van ‘n land as daar geen nageslag is nie?” Geloof beteken nie ons kan nie eerlik met God wees nie. Geloof is immers ook ‘n leerproses en in die proses mag ons maar vrae vra. Abram suggereer dat hy maar ‘n plan B gemaak het en sy getroue dienskneg Eliëser aangeneem het as sy erfgenaam. Dis so ‘n tipies menslike aanpassing en mensgemaakte oplossing. Dis egter nie God se wil nie. God weier om deur ‘n surrogaat ‘n kwasievervulling van sy belofte te gee.* Die belofte was immers dat Abram se nageslag ‘n groot nasie sou word en die land erf. (Terloops, dit was ook nie Abram se laaste keer dat hy na ‘n menslike plan gegryp het nie... In Gen 16 luister hy na Sara en neem Hagar as vrou; dit lei tot Ismael se geboorte en eeue van geweld en ellende) Abram se plan is nie God se plan nie, want God vervul nie sy beloftes halfpad nie. Hy maak ook nie halwe beloftes nie – ook nie aan ons nie, Hy belowe nie halwe vergifnis, halwe redding en ‘n halwe hemel nie. Bo alles Hy het nie ‘n halwe Verlosser beloof nie, maar sy eniggebore Seun! 

BELOFTE HERNU 

God self kom Abram te hulp met ‘n hernuwing van sy oorspronklike belofte. Die Almagtige God hoef nooit terug te val op ‘n plan B nie. God maak seker dat daar geen misverstand kan wees nie – nie ‘n aangenome kind nie, maar een uit jou liggaam, Abraham! Jy het reg gehoor - JOU liggaam! Maar dit was juis ook die probleem. Abram se liggaam was oud! Verstorwe noem Paulus dit! “Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees. En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie.” (Romeine 4:18,19 OAV) 

“Abram wat jy nie kan doen nie kan EK doen!” 

Opvallend, die Here verwyt nie die weifelende en wanhopige Abram nie, Hy kom hom helpend en bemoedigend tegemoet. Hy vat Abram na buite. Sien...Abram uitstap in die donker woestynnag, sy oë oplig na die helder sterrehemel... Hy hoor die opdrag : “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan!” Kyk na die almag van God! In gewyde stilte kyk hy, kyk hy... Dink vir ‘n oomblik hoe Abram in stilte na die sterrehemel staar en die oorweldigende almag en majesteit van God indrink... KYK NA DIE STERRE! ‘n Woordlose boodskap van God : “Abram wat jy nie kan doen nie kan EK doen!” Dalk is dit vir ons in ons swakheid nodig om letterlik weer na die sterre te gaan kyk... Ons kan die boodskap van die sterre dalk nog beter as Abram verstaan...ons weet mos daar is der miljoene galaksies met elk der miljoene sterre...oneindig, ontelbaar! Duiselingwekkend! So oneindig almagtig is God. Ja, wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik. Dis wat Maria moes hoor... “Niks is vir God onmoontlik nie." (Lukas 1:37) Dis wat die ontnugterde dissipels uit Jesus se mond hoor na die hartseer gebeurtenis met die ryk jongman... “Daarop antwoord Hy: "Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik." (Lukas 18:27) 



KYK NA DIE STERRE! AANSKOU GOD SE ALMAG! 

Die almag van God is die antwoord op ons wankelende geloof! KYK NA DIE STERRE! 

Twyfel jy? Wonder jy? Kan die Here my regtig vergewe? – KYK NA DIE STERRE! Kan die Here my veilig bewaar om in sy koninkryk in te gaan? KYK NA DIE STERRE! Kan God sy kerk in stand hou teen die vloedgolf van boosheid en goddeloosheid? KYK NA DIE STERRE! 

Daar onder die sterrehemel, waar God sy beloftes sigbaar onderstreep met sy almagswerke** daar glo Abram weer opnuut. “En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” (6) Geloof is die antwoord van die mens op God se beloftes. Sonder God se beloftes, sonder God se Woord is daar geen geloof nie. Weereens -Geloof is daarom nie gebou op wat ek graag wil hê of doen nie, maar op dit wat God belowe in sy Woord om te doen. 

Waartoe wil hierdie gedeelte ons oproep? Om opnuut ons geloof in die beloftes van God te stel. Spesifiek in die belofte aangaande sy Seun. Die afgehandelde genoegsaamheid van sy kruisoffer en sy opstanding. Paulus praat so heerlik hieroor... 

“Daarom is dit hom (Abraham) ook tot geregtigheid gereken. 
Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie, maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het, wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking." (Rom 4:22-25) 

Ja, die sigbare feite maak ons moedeloos en laat ons wanhoop. Die sigbare (en ongemaklike) feite oor ons sondigheid, gebrokenheid en vele geloofsmislukkings..., maar daar is iets groter - God se Almag. Sy ALMAG skyn feitelik, sigbaar duidelik in die naghemel bokant ons... Nog heerliker... God se beloftes wat waar geword het in Jesus. Abram se geloof was in God en sy beloftes. Ons geloof is in God wat Jesus oorgelewer het vir ons sondes – ons sondeskuld is betaal, en Hom opgewek het en so ons vryspraak/regverdigmaking verseker het! 

Gaan kyk na die sterre, glo in God wat sy Seun Jesus vir jou oorgelewer en opgewek het! Dank Hom met jou lewe! 




*A van Selms p222, De prediking van het Oude Testament, Genesis deel 1

** God se algemene openbaring naamlik sy openbaring deur die skepping versterk ons geloof in sy besondere openbaring, sy openbaring deur die Woord. Hierdie waarheid is die eerste keer onder my aandag gebring deur Nico van der Walt.

Donderdag 15 November 2012

MISLEIDING VAN DIE MAANKYKERS

- die duiwelse dwaasheid van die Hebrew Roots Movement (HRM) se Tora leraars.

Van alle dwaalleringe op die Satan se moderne spyskaart (New Age Gnostisisme, Prosperity Gospel, Mormone, Jehova Getuies, Nuwe Hervormers en noem maar op...) dra die Hebrew Roots leraars die twyfelagtige onderskeiding dat hulle dwaling die duidelikste in die Nuwe Testament self geïdentifiseer en ontmasker word. So lees ons baie duidelik oor hierdie mense en hulle onkunde in 1 Timoteus 1:7 (OAV) “hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beweer, nie verstaan nie.”  (NAV)  “hulle verstaan nie hulle eie woorde of die dinge waaroor hulle so selfversekerd praat nie.”

Die twee uitstaande kenmerke van die HRM se lering word hier uitgelig naamlik : Die objek van hulle lering. Die standaard van hulle kennis.

Die objek van hulle lering, is die wet. (tora, Engels : torah) Dit plaas hulle onmiddellik reeds in opposisie teen die apostel Paulus en alle ander evangelie dienaars dwarsoor die eeue. Paulus (en elke ware gesant van Jesus Christus) se kernboodskap is die boodskap van die kruis. (1 Korintiërs 2:1-5) Geen HRM leraar kan dit sê nie. Luister maar waaroor praat hulle die graagste. Hulle kerm dat mense nie kreef en vark moet eet nie. Hulle sanik oor die Shabbat, en raak opgewonde oor Joodse feeste en mane, maar hulle swyg oor die genoegsaamheid van Jesus se kruis en opstanding. Hulle skryf lang stukke waarin hulle nou vir ons wil vertel of dit Yashua, Yeshua of YaHusha moet wees... Daarom is dit  dat hulle lering, oral waar dit posvat,  net twisvrae bevorder en nie tot stigting lei nie. (1 Timoteus 1:4) Ek vra julle, al julle skynslim HRM leraars, waarom verkondig julle die wet van Moses (tora) terwyl ons net vergifnis deur Jesus Christus kan ontvang, juis omdat die wet van Moses ons nie van sonde kon vrymaak nie? (Handelinge 13:38,39) Natuurlik,  sal julle sê dat julle ook  Jesus verkondig, maar die punt is julle verkondig Hom nie as algenoegsaam nie. Julle meng altyd die tora by in julle gevaarlike resep van dwaaldisse.

Die gebrekkige standaard van hulle kennis. As jy verby kan kyk by hulle tentoonstelling van hoogdrawende en irriterende transliterasies van Hebreeuse name dan kom jy gou agter dat daar min Skrif (en taal) kennis is. Dis nie deeglike Skrifstudie nie, maar ‘n naïewe najaag van visioene en ‘n meusleuring van op die klank af argumente wat hierdie arme mense op sleeptou geneem het.

Natuurlik is die tora deel van die Heilige Skrif en is daar ook vir die Nuwe Testamentiese kerk nut in, as ons dit reg gebruik. (1 Timoteus 1:8) Wat is hierdie regte gebruik?  Breedweg gestel : Ons verstaan die tora vanuit die vervulling deur Jesus. Ons kan nie meer die tora lees asof Jesus nie gekom het nie. Die besnydenis, offers, feeste en sabatte was heenwysings na Hom en nou dat Hy gekom het, kan ons nie meer daarby stilstaan nie. Die beskrywing van hierdie dinge in die tora help ons om die heerlikheid en genoegsaamheid van ons Here Jesus en sy werk te verstaan. En wat van die tora se morele voorskrifte?  Ons kyk daarna deur die vergrootglas van Jesus. Ons lees en verstaan die hele tora via Jesus. Hy vervul die tora (laat die tora sy ware bedoeling bereik deur sy koms as Verlosser), maar vernuwe en verfyn dit ook. Dit kan duidelik gesien word as Hy net soos Moses die berg bestyg en die nuwe standaard van die Koninkryk afkondig in Matteus 5-7.  Hyself oortref die tora, want Hy doen wat die tora nog nooit kon doen nie. Dit word treffend geïllustreer in Matteus 8 as Jesus ‘n melaatse genees! Die tora was gemik op die afsondering van melaatses, maar Jesus gaan verder, raak aan hom (in stryd met die tora) en maak hulle gesond! (En so vervul Jesus die diepste bedoeling van die tora, juis deur die tora te “oortree”) Jesus self is nou ons finale gesag. Jesus verklaar alle voedsel rein, omdat niks wat van buite die mens ingaan hom onrein kan maak nie. (Markus 7:15) Daarom handhaaf ons nie meer die tora se voedselvoorskrifte nie.

Die HRM se wetsleraars teister ons met Toeka se Tora, maar verloën Vandag se Verlosser, ons Here Jesus Christus. 

Jesus self is ons Tora binne die heerlike  Nuwe Verbond, die finale Openbaring van ons Hemelse Vader se wil. (Hebreërs 1:1-3) Jesus as finale Tora is ons Verlosser, maar ook die norm van ons lewe as verlostes!

Die HRM leraars is diewe, slawedrywers  en misleiers. (En ja, soms nog ‘n klomp narre ook!)

Geestelike diewe  wat ons vreugde en  vryheid in Jesus wil steel deur weer spesiale betekenis aan sekere dae, maande en jare te gee. (Galasiërs 4:8-11) Hulle is diewe wat groter ooreenkoms met Islam as met Christenskap vertoon. Net soos die Islam glo hulle ook in Jesus, maar  in praktyk is  Hy ‘n afgewaterde Jesus. Maar nog erger, die  tora leraars met hul voedselvoorskrifte  stel hulself  direk teen Jesus wat alle voedsel rein verklaar het.

Geestelike slawedrywers wat mense se gewete in knegskap wil plaas. Hulle wil ons veroordeel oor wat ons mag eet en nie. Hulle wil weer sabatte en nuwemane op ons afdwing. (Ja, regtig  nuwemane ook! Ek sien Elim Ministries adverteer ‘n new moon service. Praat van die maan gepla!) Dis mos nou woordeliks presies waarteen die apostel Paulus, die uitverkore werktuig van Jesus (Handelinge 9:15 )  ons so duidelik waarsku in Kolossense 2:16,17.* Hierdie HRM leraars wil weer ‘n juk op ons lê. (Handelinge 15:10)

Geestelike misleiers (en maankykers) wat die boodskap van bose geeste aan ons verkondig deur hulle verbod op sekere voedsel. Klink dit dalk bietjie rof? Wel, laat ons gerus kennis neem van die sterk uitsprake in 1 Timoteus  4:1-4.  "Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang...Hulle verbied mense...om bepaalde soorte kos te eet."  Hiervolgens is dit baie duidelik : Die boodskap van die HRM en sy tora tiranne is nie gegrond op nuwe insigte in die Woord nie, maar is die direkte gevolg van demoniese misleiding! Hulle haal graag Bybeltekste aan, maar in wese verwerp hulle die Nuwe Testamentiese kanon. Hulle wil probeer beter weet as die Nuwe Testament wat die name Here (Kurios), God (Theos) en Jesus (Iesous) gebruik. So tas hulle die Heilige Skrif aan!

‘n Mens behoort seker te huil oor al hierdie dwaling, maar partykeer sal mens seker ook nie anders kan as om te lag vir sommige van die geestelike entrepeneurs wat nou op die HRM wa van verwarring spring nie! Ek dink aan die bebaarde Mosesfiguur, ene Michael Rood, wat ‘n “Rood Awakening” propageer. (bemark?) Hy verteenwoordig die sensasionele en teatrale kant van die HRM.

Saam met Paulus wil ek en alle gelowiges van alle denominasies  roem in die genoegsaamheid van die kruis. Vir die kruisboodskap sal ons vervolg word, ook deur die tora kenners. Hier skei ons paaie onherroeplik.  Hulle wil “Torah observant” wees, ons wil “Christ observant” wees!  

Misleide broers en susters, ons roep julle op tot bekering. Kom terug na Jesus Christus. Sien raak wie Hy is. Hy is algenoegsaam, want die volheid van God woon in Hom. En elkeen wat aan Hom behoort het deel aan hierdie volheid.  (Kolossense 2:8-10)  Die kind van God hoef dus nie die volle belewenis, die volle blydskap of die volle waarheid in iets anders soos die tora  te gaan soek nie. Nee, ons oë moet net al meer geopen word om die volheid van Christus raak te sien, dit beter te verstaan en meer daaroor te juig!

My vriend, mag jy waarlik Jesus, die Gekruisigde leer ken!

Naskrif : Die HRM is nie maar net nog ‘n variasie van Christene wat effens anders dink oor sekere sake nie. Dis ‘n totaal ander geloof en ‘n gruwelike dwaling gelykstaande aan die Jehova getuies! Dis tyd dat hulle ontmasker word vir wie hulle is. John Wahl een van hulle ywerige woelgeeste in Vishoek (Elim Ministries) noem die lering oor die Drie-eenheid, wat die fondasie is van die historiese kerk van alle tye, die “magtigste misleiding waarmee die Christendom vorendag gekom het” Dis maar net ‘n bevestiging dat hulle bron nie God se Woord is nie, maar leringe van bose geeste.

*Sien verder oor hierdie saak - kliek op STILSTAAN BY DIE SKADUWEE

Dinsdag 18 September 2012

STILSTAAN BY DIE SKADUWEE?

- nee, want Jesus het gekom!

Die Hebrew Roots Movement (asook die Sewendedaagse Adventiste) met hulle aandrang dat ons weer die Sabbat moet onderhou en ons aan die Mosaïse voedselwette moet onderwerp vind sekere gedeeltes in die Nuwe Testament (veral in Paulus se briewe) uiters ongemaklik. Een so ‘n gedeelte is in Kolossense 2:16 - 17 wat sê :

“Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet of drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag (lett - Sabbatte) moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid  is Christus.”

Aangesien hierdie teksgedeelte die HRM skuldig verklaar (want hulle wil weer voedselwette, feeste en Sabatte aan ons voorskryf) is dit te verstane dat hulle hierdie woorde van Paulus sal probeer verdraai. Dis dan ook wat Elim Ministries (Fish Hoek) probeer doen. Met langdradige verduidelikings probeer hulle die duidelik ooglopende bedoeling van Paulus omseil in wat genoem word “A new look at Col 2". (Terloops dit lyk asof hierdie dwaling nog verder gaan en hulle eie vertaling van die Skrif wil maak, genaamd “Woord en Getuienis” net soos hulle geestelike voorvaders, die Jehova Getuies met hulle New World Translation.)*

Kom ons kyk na Kolossense 2:16,17. Omdat hierdie teks nie in isolasie staan nie, maar deel is van ‘n brief, is dit eers belangrik om agter die hooftema en strekking van die Kolossense brief te kom. Vers 16 en 17 sal tog uiteraard daarby inpas.

Die hooftema van Kolossense kan as volg geformuleer word: 

Die algenoegsaamheid van Christus en sy oppermag oor beide die skepping en die herskepping (kerk) vorm die fondasie van ons beskerming teen die misleidinge van die dwaalleraars wat voorgee dat daar geheimsinnige maniere is waarop ons nader na God kan kom sowel as die vaste basis van ons praktiese Christenskap, ons verhoudinge met gelowiges en die wat buite staan. 

Die fokus in Kolossense val dus op Jesus as die genoegsame en volledige openbaring van die volheid van God.

Terug by ons teks. Die opvallende kontras in Kolossense 2:16,17 is tussen skia (skaduwee) en soma (liggaam/realiteit).  Die finaliteit en volheid van Jesus word gekontrasteer met die voorlopigheid van die skaduwee (voedselwette, feeste en Sabatte) Hierdie interpretasie word verder versterk deurdat ons ‘n soortgelyke kontras in Hebreërs 8:5 en veral ook baie duidelik in Hebreërs 10:1 aantref :

“Die wet van Moses (tora) is slegs ‘n skadubeeld van die weldade wat sou kom...” 

Hier is die kontras tussen die voorlopige diere offers en Jesus as finale en volkome offer.

Natuurlik kan soma ook die betekenis van “liggaam” hê, maar die onmiddelike konteks waarin dit teenoor skadu stel, maak dit baie logies om dit hier met “werklikheid”  te vertaal. Die vertaling van soma as “werklikheid/realiteit” in hierdie teks  word gesteun deur gesaghebbende Griekse woordeboeke wat die volgende verklarings gee : “the thing itself, the reality” in die “A Greek-English Lexicon” (Walter Bauer) en  “reality, corresponding reality - but the reality is Christ” in die “Greek-English Lexicon” (Louw en Nida)  

Die kontras tussen skaduwee en werklikheid pas ook pragtig in by Paulus se soortgelyke redenasie in Galasiërs 4:9. As ons Christus (die Werklikheid) leer ken het, is dit mos dwaas en ‘n terugwaartse stap om weer wettiese godsdienstige reëls te probeer nakom, waarvan die rakleeftyd verval het. En net in die volgende vers noem hy die dinge wat onder wettiese godsdienstige reëls tel : “besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare.” (Galasiërs  4:10) Dieselfde sake wat ook in Kolossense genoem word!

Wat sê dit nou als vir ons? In die Mosaïese wetsisteem was sekere voedselwette en die onderhouding van sekere dae en feeste verpligtend. Christene is bevry van hierdie verpligtinge. As ‘n Christen homself wil onthou van sekere voedsel of sekere dae wil gedenk is dit goed en wel, dis ‘n saak vir sy gewete tussen God en homself. (Paulus skryf hieroor in Romeine 14:5 ev.)

Maar baie belangrik : Diegene wat aan Christus behoort, moet hulle dus nie meer oor hierdie sake laat voorskryf, wanneer mense ons wil wysmaak dat ons so meer behaaglik vir God sal wees  nie. Waarom moet Christene weier om geïntimideer te word oor sake soos hierdie? 

Die wetlike voorskrifte van die verlede (Ou Verbond/Mosaïse Verbond) was slegs van verbygaande aard, dit het behoort tot ‘n tydelike oorgangstadium in die uitwerk van die heilsgeskiedenis. (Galasiërs 4:1-7 - “toe ons nog onvolwasse kinders was”) Nou dat die bedeling van Christus aangebreek het, geld hierdie dinge nie meer nie. Dit was maar net heenwysings, skaduwees wat op Hom gewys het. Jesus self is die werklikheid, die substansie. En dis die groot punt in Kolossense : 

Jesus Christus is die genoegsame werklikheid wat geen aanvulling van voedselwette, visioene en engele nodig het nie!

Daar was niks fout met die wet nie, maar dit was net die skadu, nou dat ons by die werklikheid gekom het, is ons aandag en ons saak by die werklikheid en nie meer by  die skaduwee nie.  Dink aan die  program van ‘n konsert. Die program is in ‘n sekere sin baie nuttig, maar net tot op ‘n punt. Dit berei jou voor vir die konsert, maar as die lees van die program jou verhoed om by die werklike konsert uit te kom is daar tog fout.  Die wet het ‘n belangrike heenwysende  funksie gehad, maar dis nou verby, want Jesus na wie dit gewys het, is nou hier!  Paulus sluit heel waarskynlik aan by dit wat hy as Joodse rabbi geleer het.  Baie Jode het die Joodse feeste as voorlopers van die Messiaanse tyd gesien. Volgens sekere rabbynse tekste was die  sabbat byvoorbeeld  ‘n voorsmaak van die tyd wat sou kom. Hierdie heerlike tyd het nou in Christus aangebreek. Die rus waarvan die sabbat gepraat het, het nou in Christus ‘n werklikheid geword. (Vgl. Matteus 11:28ev)  Dit maak tog nie sin om die voorteken te vier as die werklikheid aangebreek het nie. Jesus self is die ware vervulling van die Sabbat, en met sy teenwoordigheid verdwyn die belangrikheid van die afbeeldings. Wie in Jesus glo is besig om die ware Sabbat te onderhou. Prakties - ons hoef nie meer die (Saterdag) Sabbat te vier nie, maar ons moet ook nie die Sabbat na ‘n ander dag verskuif  nie. Die Sondag, terloops  is nie maar net ‘n verskuifde Sabbat nie, dis iets heeltemal anders. ‘n Dag vir die bymekaarkom van gelowiges en feesviering oor die opstanding.

Ons as gelowiges uit die heidendom staan nie meer onder die Mosaïse wetgewing rakende dae en kos nie.  Ons word nie ingeënt in die Judaïsme van die Mosaïse Verbond (Ou Verbond) nie, maar ons is wel kinders van Abram. (Galasiërs 3:7) Ons is in die geloofsfamilie van Abram en bou op die beloftes wat aan hom gemaak is, eeue voordat die wet van Moses bestaan het. Die wet was ‘n latere en tydelike byvoeging.  (Galasiërs 3:17-18) Dit was net bedoel totdat Christus, die Saad sou kom. Ons was net tydelik onder die toesig van die wet, maar staan nou nie meer daaronder nie. (Galasiërs 3:23-25)

Kom ons verheug ons in die vryheid wat ons Volmaakte Verlosser vir ons verwerf het! Kom ons vier die vryheid met heiligheid onder leiding van die Heilige Gees!


* Daar is ook ‘n vertaling genaamd,  “The Word of Yah – the King’s Covenant” waaroor die samestellers die belaglike en leuengtige aanspraak maak dat dit teruggaan op oorspronklike manuskripte wat in 2002 by die Eufraat ontdek is. Alhoewel nie alle HRM aanhangers hierdie vertaling aanvaar nie, is dit net weereens ‘n bewys tot watter uiterstes dwaalleraars sal gaan om hulle onwaarhede te versprei. 


Maandag 21 Mei 2012

RAAKVAT REGTE RAAD

- wat “stukkende” stene weer deel maak van ‘n Goddelike tempel!

Ons bevind ons almal dikwels in ’n situasie waar ons moet raad gee. Spesifiek ook vir mense wat geestelik in die nood is. Berading is egter ’n uiters moeilike en gevaarlike saak. Dis moeilik, want mense se probleme  is so kompleks. Daar is ‘n spesifieke agtergrond, daar is omstandighede, daar is ’n verskeidenheid van persoonlikhede, daar is moontlik ook die menslike element van valsheid aanwesig. (Mense wat raad soek  is dikwels nie eerlik oor die presiese aard van hulle probleem nie, en wil eintlik net hoor wat hulle pas)  Dan is dit ook nie altyd duidelik of die betrokke persoon werklik  ’n Christen is of nie. Dit alles maak berading uiters riskant. Verkeerde raad  kan inderdaad gevaarlik wees. Dit kan iemand nog dieper in geestelike ellende laat beland. Verkeerde raad kan valse gerustheid gee of aan die anderkant iemand onnodig bekommerd maak.

So watter raad is die beste? (Maak asseblief jou Bybel oop by 1 Petrus 2:4-6.)

Petrus gee  raad in 1 Petrus 2:4 waarmee mens nooit verkeerd kan gaan nie. 

“Kom na Hom  (Christus) toe!”

Nou sal die vraag by jou opkom : Is dit regtig sinvolle en genoegsame  raad? Kan dit ’n daadwerklike verskil in mense se lewens maak? Is dit nie maar eintlik ’n niksseggende en oppervlakkige cliché om vir mense te sê : “Kom na Christus” nie?  Is dit nie ‘n oorvereenvoudiging nie?  Bied Jesus werklik ’n omvattende en realistiese oplossing vir die mens in nood?

Petrus gee vir ons antwoorde op hierdie vrae as hy vir ons die heerlikheid van Jesus Christus uiteensit deur ‘n baie treffende beeld.  Christus word  beskryf as die “lewende steen”. Wat bedoel hy met die lewende steen? Met "lewende" bedoel Petrus nie maar bloot dat Christus leef nie - dit gaan spesifiek hier oor die diepere implikasie van die opstanding. Dis juis deur die opwekking uit die dood wat God, Jesus tot hoeksteen gemaak het.  Die merkwaardige is dat hierdie Steen, Jesus Christus deur die Joodse volk, maar ook deur die mensdom in die algemeen verwerp is. (Weggegooi daar eenkant op die “site”) Jesus is geminag, afgekeur en verstoot tydens sy hele lewe op aarde. Dit was die duidelikste toe Hy veroordeel is om as ’n misdadiger te sterf. Die mensdom skreeu dit as’t ware uit : “Jesus is niks vir ons werd nie!" (dis vandag nog so) God dink egter radikaal  anders oor Jesus. Hy beskou Hom as waardevol en uiters kosbaar en bruikbaar. Die steen wat daar eenkant weggegooi lê, word as’t ware deur God opgeraap.  God verklaar deur die opwekking van Jesus uit die dood : “Hierdie Steen is presies wat ek nodig het vir my bouplan.” Wat ’n kontras - verwerp deur mense, maar uitgekies deur God! Dit plaas die opdrag om na Jesus te kom in ’n gans ander lig. "Kom na Jesus" beteken dus: “Volg God se keuse en nie mense s’n nie!” Om na Jesus te kom is die regte ding in God se oë, want Hy, Jesus is God se keuse! (vir mense wat konkrete verwerping en lyding ervaar het soos Petrus se lesers, sou hierdie woorde van Petrus nog soveel meer vertroosting gebied het. Ons troos en redding lê in Hom wat ook nes ons deur die wêreld verwerp is! God kies Hom wat deur die wêreld verwerp is, net so kan ons as verworpenes ter wille van Jesus seker wees van God se ewige guns!)

Petrus haal aan uit Jesaja 28:16 “So sê die Here my God : Ek gaan in Sion ‘n klip neersit, ‘n uitgesoekte klip, ‘n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit. Wie op Hom vertrou hoef nie te vlug nie.”  Hierdie profesie van Jesaja is oorspronklik gerig aan die leiers van Jerusalem wat dwaaslik geglo het dat hulle veilig was. (sien verse 14 en 15) Hulle het gedink hulle is onaantasbaar teen die dreigende inval. God verklaar dat hulle hoogmoed geen skuiling sal bied nie. Net een gebou sal bestand wees teen die komende verwoesting, naamlik God se gebou, gebou op die uitgesoekte klip. Slegs die skuilplek wat God self sal voorsien, bied veiligheid.  En dis presies wat Jesus vir ons is! In Jesus is daar skuiling en sekuriteit teen God se oordele. In verbintenis aan Hom word ek deel van God se onverwoesbare gebou. Ja, die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Wat gebeur dus  as ek na Jesus kom? As ek aan Hom vas gemessel word?  Ek word ook deel van God se bouwerk, deel van God se argitektuur!  Deur my te voeg by die hoeksteen (Christus) word ek deel van die gebou. Petrus beskryf hier wat gebeur met iemand wat homself blywend aansluit by Christus. So ’n persoon word deur God as ’n lewende steen in sy huis ingevoeg.
Die geestelike huis is God se tempel, met ander woorde die kerk op aarde. Dis waar God woon. (1 Korintiërs  3:16) Petrus verskuif dan die beeld effens.  Die lewende stene, dit wil sê mense wat verbind is aan die lewende Steen, Christus is terselfdertyd ook priesters in die tempel. Mense wat toegewy is aan God, in diens van God. Hierdie priesters, (almal wat in geloof aan  Christus verbind is)  bring offers waarvan God hou. Aanneemlike offers beteken ’n lewe voor God wat Hom welbehaaglik is! (Van Houwelingen)* So word daar eer aan God gebring, so word daar aan die hoogste doelwit van menslike bestaan beantwoord. Al hierdie heerlikheid gebeur wanneer ek na Christus kom, as ek aan Hom verbind is.

My lewe is eers sinvol as ek aan Jesus verbind is!

DIE REGTE RAAD

Ons  het gepraat oor raadgee aan mense in nood. Dis eerstens belangrik om te verstaan : Waaroor gaan mense se diepste nood?  Die basisprobleem is : Ons voldoen nie aan ons skeppingsdoel nie, omdat ons sondaars is!  Ons leef nie werklik tot eer van God nie, ons kry dit nie reg nie, vanweë my eie sondigheid. (die mens dink natuurlik altyd dat die probleem elders is, soos by my agtergrond, ouers, huweliksmaat...Nee, die fout skuil in my eie bose hart!)  Dit kom daarop neer, ek is nie die mens wat ek moet wees en wat God wil hê ek moet wees nie.  By wyse van spreke, ek het ‘n nuttelose steen geword. Goed vir niks!

Nou wat is dan die regte raad vir diegene wat sê : “Ek is nie goed genoeg nie, ek is nie nuttig nie, ek het ‘n swak selfbeeld, ek word geteister deur al my mislukkings, ek voel so skuldig oor als wat al verkeerd geloop het....”   Die regte raad is : “Kom na Christus!” Hoekom? In Christus alleen is ek vir God aanvaarbaar en bruikbaar. Onthou Christus is deur God gekies om die hoeksteen van sy tempel te wees. God kies almal wat saam met (in) Christus is om ook deel van sy tempel te wees. Die status van Christene is afhanklik van die status van Christus, want hulle is aan Hom verbind. Verbind aan Jesus, word ek die weggegooide, stukkende steen, God se spesiale steen wat Hy op ‘n spesifieke plek in sy gebou wil gebruik! Dit verander als!

Die oplossing vir stukkende mense (stene) is dus : Volkome vertroue op Jesus en sy genoegsame offer aan die kruis,  ’n vasgryp van Hom, nadere kontak met Hom. Roep sy Naam aan! (Rom 10:13) Gehoorsaamheid aan Hom. Verdere groei in kennis van Hom, binne die konteks van ‘n gemeente waar Hy in waarheid gedien word! Ons as mense se diepste primêre behoefte is aan Jesus Christus self. Dis baie belangrik dat ons nie bloot simptome (uiterlike probleme) aanspreek nie, maar mens se werklike nood  en dis die behoefte aan vrede met God deur Jesus Christus!

As ek sê dat  “Kom na Jesus” die regte raad is, bedoel ek dis die basiese en wesentlike raad, wat die wesentlike nood van mense aanspreek. Ek bedoel nie dis verkeerd om ander praktiese riglyne uit die Woord aan mense te gee (oor huwelik, gesin, kinders, finansies ens.) nie. Alle praktiese riglyne sal egter eintlik op een of ander manier juis aansluit by hierdie basiese opdrag. Dis tog eers as ek werklik by Jesus vrede gevind het en my aan Hom onderwerp het, dat ek kan begin werk aan my huwelik, sal weet hoe om my kinders te hanteer,  leer hoe om ook my finansies volgens sy wil te bestuur ens.


POSITIEWE RAAD

Kom ons benader berading uit ‘n baie positiewe hoek. Nie “wat is jou probleem?” nie, eerder 'n positiewe uitdaging: “Wil jy graag dat jou lewe ’n sinvolle offer van dankbaarheid sal wees, wat aangenaam voor God is?”  Dis slegs moontlik deur te skuil by Jesus Christus, die vlekkelose offerlam van God wat al ons onvolmaakthede bedek. Verder : “Wil jy deel wees van die imposante tempel van God wat verlig word met sy teenwoordigheid  en weerklink van lofsange tot sy eer?” Die antwoord is  : “Kom na Jesus.” As jy verbind is aan Jesus die lewende Steen, gebruik God jou tot sy eer.  As jy vas aan Jesus is, is jy God se keuse vir Sy gebou, want Hy het Christus gekies.  My waarde en bruikbaarheid lê nie in myself nie, maar in Jesus Christus aan wie ek verbind is. Hoe wonderlik om te besef - ons as “sondige stene” het baie growwe kante, onafgewerk, vol krake, eintlik onbruikbaar,  maar as ons in Christus is, word al ons defekte uitgekanselleer deur sy soendood en is ons geskik, meer nog, uitgekies vir sy gebou tot sy eer!  Aan die ander kant.  As jy op jou eie bene wil staan, op jou eie goedheid, godsdiens of mooi hoedanighede wil staatmaak, is jy sommer net ’n gebarste steen, deel van die ontsierende hoop bourommel en bestem vir die ashoop! Niemand kan bekostig om nie verbind te wees aan Jesus die lewende hoeksteen nie!

Weereens. Wie jy ook al mag wees. Die beste raad wat ek jou kan gee, is duidelik en eenvoudig: “KOM NA JESUS”

Hoor dan die belofte in vers 6 : “Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.”  Kom jy?

* Daar is gebruik gemaak van Clowney en Van Houwelingen se kommentare