- bou jou blydskap op die vaste feit dat God niks meer teen jou hou as
jy in sy Seun glo nie!
Ons het nou al gesien dat een rede vir ‘n gebrek aan Christen vreugde en
blydskap is dat baie mense in ‘n geestelike tussentoestand is – hulle het al
iets van die werking van God in hulle lewens ervaar, maar hulle kan nog nie met
sekerheid sê dat hulle aan God behoort nie. (Kliek op TOEGEWASEMDE WINDSCREEN) Sommige het
wel iewers ‘n opregte geloofskeuse vir Jesus gemaak, maar hulle is onseker of
hulle werklik vergewe is en deur God aanvaar is. Een groot rede is dat hulle
onkundig is oor die Bybelse begrip van vryspraak/regverdiging deur die geloof
alleen.
En dis juis ‘n kern Christelike waarheid – dis die waarheid wat vir
eeue onder die stof van Roomse tradisie weggesteek was en toe deur Martin
Luther en ander reformatore herontdek is. Is jy in jou gemoed helder oor die
vryspraak deur die geloof alleen?
Hoe lyk iemand wat onseker of onkundig oor hierdie waarheid is? Dis
iemand wat dink dat as ek goed is en oulike dinge doen hou God van my en as ek
struikel dan hou Hy minder van my. Iemand wat gedurig bekommerd is, "Sê nou maar
daar is een sonde wat ek vergeet het om te bely, sal ek dan hel toe gaan?" Dis
iemand wat gedurig deur skuldgevoelens geteister word en knaend wonder : "Bid ek genoeg, lees ek
genoeg Bybel, is ek heilig genoeg?"
Jy maak dus baie erns met allerhande pligte
(en dis goed), maar jy het nooit vrede nie en daarom ook nooit vreugde
nie.
Dis dikwels ook iemand wat gekwel
bly oor die verlede. Ja, miskien is ek vergewe, maar wat van daardie een
vreeslike ding? Hierdie mense sê in teorie ons word gered deur Jesus alleen,
maar eintlik is dit ‘n werke godsdiens gebou op
godsdienstige prestasie. Eintlik glo hulle in redding deur die wet en
omdat geen mens die wet volmaak kan hou nie, skiet hulle redding altyd te kort
en het hulle nie vreugde en vrede nie. Die oplossing is die ontdekking van
vryspraak deur die geloof in Jesus alleen. Vind vreugde in die vryspraak!
Kom ons kyk na ‘n paar
aspekte van die vryspraak soos Paulus dit in die Romeine brief verduidelik. “want almal
het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste
geregverdig (vrygespreek -NAB) deur die verlossing wat in Christus Jesus is.” (3:24,25) Kyk
na ‘n paar implikasies van hierdie uitspraak:
Almal
het gesondig. Almal is ewe skuldig. Heidene sowel as Jode. “Daarom sal
geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie;
inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is.” (3:20) Al jou mooi godsdienstige prestasies of jou bevoorregte
verbondsstatus kan nie vir jou vrede bewerk nie. Geregtigheid deur die wet is
‘n doodloopstraat, want nooit kan ek goed genoeg wees nie!
Soos ‘n hamster op
‘n trapwieletjie bring al my ernstige pogings my nêrens nie!
Nou hoe sal ek dan ooit vrede en vreugde kan vind? Ons word vrygespreek "uit genade, sonder verdienste!" Let op die
herhaling van dieselfde begrip en dus die sterk beklemtoning van God se vrye
guns oor sondaars. Geen menslike verdienste of meriete is ter sprake by die
redding van ‘n sondaar nie. Dis inderdaad heeltemal ‘n geskenk. Ek en jy kan
dit op geen manier verdien of aanhelp nie.
Vrygespreek. Vryspraak is in wese ‘n juridiese begrip. Dit gebeur
normaalweg in ‘n hof. Die regter of landdros het die mag om iemand onskuldig te
verklaar. In hierdie geval, wie word onskuldig verklaar? Romeine 4:5 gee ‘n
verbysterende antwoord : goddeloses! “Maar die
mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die
goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof.” Skuldiges wat
die hel verdien word onskuldig verklaar
deur God. Verstommende genade!
Hoe kan dit gebeur? Hoe is so iets dramaties moontlik? Vanweë die verlossing in Jesus. Dit gaan hier
oor die losprys* wat Hy betaal het. Die straf wat Hy in ons plek gedra
het. Die kruis is die basis waarop ons
vryspraak of kwytskelding berus! “Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot
niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.” (Kolossense
2:14) Hierdie vryspraak is volledig en beteken dat God niks meer teen my hou
nie! “Oor
hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink
nie." (Hebreërs 8:12)
Hoe kry ons die vryspraak? Hoe
word dit persoonlik myne? Deur ‘n
spesiale teks of openbaring of teken? Deur ‘n warm gevoel? Deur ‘n reeks stappe
te volg of ‘n voorgeskrewe rympie te prewel? Nee, deur geloof in Jesus. Romeine
5:1 laat geen onduidelikheid oor die
saak toe nie. “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou
vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” So het ons nou 'n hoop op deelhê aan God se heerlikheid en dit lei tot blydskap! Vryspraak deur geloof! Dwarsdeur die Nuwe Testament is die skakel wat ons aan
Jesus se weldade bind - geloof! Glo in Jesus, glo wat God oor Sy Seun
getuig. So kry ons vrede met God en dit
bring blydskap! LW – Geloof in Jesus, nie geloof in my geloof nie! (want my
geloof opsigself sal altyd maar gebrekkig bly)
Horatius Bonar se opmerking bly altyd baie waar – “What God demands
from us is not satisfaction with our faith but satisfaction with Christ and His
work!”
Glo in Jesus Christus. Ontvang so die vryspraak en verheug jou daarin
ongeag jou gevoelens, omstandighede of Satan se beskuldigings!
*Grieks - apolutrwsiV
Bauer – “buying back a slave or
captive making him free by payment of a ransom”