- waar moet ek my verantwoordelikheid in die liggaam van Christus nakom?
Met ons onlangse vinnige kuiertjie op die skilderagtige kusdorpie Lüderitz het hierdie drie kerkgeboue by een kruising my nogal opgeval:
Roomse kerk, Lüderitz.
Charismatiese "sentrum", Lüderitz. (die woord "kerk" klink seker te outyds!)
NG Kerk, Lüderitz.
Juis omdat hierdie drie aanbiddingsplekke die drie hoofstrome in die kerklike wêreld verteenwoordig was dit nogal opmerklik. Wat bedoel ek met hoofstrome? Basies is daar drie uiteenlopende benaderings ten opsigte van normatiewe gesag. Normatiewe gesag gaan oor die vraag wat ons basis en norm is vir leer en lewe. Wat is die gesag wat bepaal wat ons glo en hoe ons lewe? Beide is immers van groot belang, soos Paulus vir Timoteus herinner : “Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.” (1 Timoteus 4:16)
Die drie hoofbeskouings* oor die bron en standaard van gesag is eenvoudig gestel :
Die Woord plus kerklike tradisie. Dit is breedweg gesien die Rooms Katolieke posisie. Hulle erken die Skrif as bron van gesag, maar daarmee saam ook kerklike tradisies wat oorgelewer is. Daarom onderskryf hulle leerstellings wat geensins vanuit die Bybel gefundeer kan word nie soos die sogenaamde onbevlekte ontvangenis en hemelvaart van Maria.
Die Woord plus subjektiewe ervarings. Breedweg (en in verskillende grade) word hierdie benadering geassosieer met die Pinkster en Charismatiese groeperings. Die Bybel word as bron van openbaring erken, maar in praktyk word baie leerstellings en gebruike gebou op ervarings soos visioene, drome, "besoeke aan die hemel" en profesieë. Hierdie subjektiewe fondasie skemer ook sterk deur in geykte frases soos : “Die Here het vir my gesê.” Bybeltekste word wel kwistig aangehaal, maar dikwels op die klank af en buite konteks.
Die Woord alleen. Dis breedweg die Gereformeerde sienswyse en kom van die Reformatoriese wekroep van Sola Scriptura. (die Woord alleen) Hiervolgens is slegs die Bybel, die finale skeidsregter in leerstellige sake (leer) en kerklike en persoonlike praktyk (lewe). Met Woord alleen word nie 'n rasionalistiese benadering bedoel nie. Die Woord is die instrument in die hand van die Heilige Gees. Sonder die verligting van die Gees kan ons nooit die Woord reg verstaan nie.
Jy sal oplet dat ek telkens die woord “breedweg” gebruik het. Dis omdat hierdie indeling wel nuttig is, maar tog ook mank gaan aan oorvereenvoudiging veral as mens na die verwarrende kerklike toneel rondom ons kyk. Hou daarom die volgende in gedagte :
Binne hierdie groepe is daar groot verskeidenheid en ons moet baie versigtig wees om andere oorhaastig te etiketteer (of te oordeel). Dis moontlik dat ‘n kerk met ‘n amptelike gereformeerde belydenis lankal nie meer in die praktyk erns met die Skrif maak nie. Ja, selfs die Heilige Skrif se betroubaarheid en gesag bevraagteken en dus net in naam nog die Bybel as bron van gesag beskou. Aan die ander kant kan lidmate van Roomse of Charismatiese gemeentes dalk baie groter erns maak met die boodskap van die Bybel. ‘n Mens kan lankal nie meer net volgens kerkname gaan om ‘n plaaslike gemeente te beoordeel nie. Veral in groot denominasies soos die NG Kerk word daar ‘n wye verskeidenheid van benaderings geduld en vind mens dus in een kerkgenootskap die volle spektrum van Skrifbeskouings (en verdraaiings). Omdat leertug iets is wat bykans uitgesterf het, beteken dit dat elke plaaslike gemeente maar sy eie benadering volg, wat in hoofsaak deur die dienende leraar van daardie gemeente bepaal word.
Ons moet ook erken dat selfs in gemeentes wat oënskynlik erns maak met die Woord as enigste norm, daar dikwels ‘n onvermoë en onwilligheid is om te buig voor die boodskap en eise van God se Woord. Die liefde vir geld en populariteit en die vrees om vir Jesus te ly, maak so maklik dat ons blind bly vir duidelike waarhede van die Woord! (Dink maar aan die vereiste van die heiligheid van die kerk en sake soos opsig en tug.) Dis inderdaad tyd vir elke gemeente wat die Woord as onfeilbare norm bely om die hand in eie boesem te steek en onsself af te vra of ons nog die Woord gehoorsaam.
Kerke wat duidelik die Roomse tradisie as bron van gesag verwerp, glo self dikwels in praktyk dinge wat nêrens in die Skrif staan nie, maar eerder gebou is op hulle eie “tradisies”. Beide Gereformeerde en Charismatiese kerke maak hulle hieraan skuldig! Dink aan sienings oor verbondsoutomatisme, geestelike oorlogvoering (gebiedsgeeste?), die ken van God se wil deur allerlei "divinasie praktyke"... en baie ander gebruike en "heilige koeie" wat nie eerlike Skrifondersoek kan slaag nie!
Baie Protestantse Christene wat staan by Sola Scriptura het prakties gesproke in skreiende individualistiese hoogmoed verval, waar daar weinig respek en ontsag is vir die kerk van alle eeue. Elke Christen interpreteer die Bybel heeltemal op sy eie en dit lei tot ‘n oneindige versplintering en reëlmatige stigting van nuwe “kerke” – nuwe denominasies, maar ook ‘n wye verskeidenheid van huiskerke, boskerke, selkerke... wat ‘n vrugbare teelaarde geword het vir ‘n menigte dwaalleringe en ‘n gerieflike wegkruipplek vir almal wat weier om onder gesag te staan en tot verantwoordbaarheid geroep te word. Hierdie toedrag van sake is beslis nie wat die reformatore in die oog gehad het toe hulle die Roomse tirannie verwerp en hulle op Sola Scriptura beroep het nie.
WEEREENS : WATTER KERK?
Alles in ag genome – die verwarring en skynheiligheid inkluis, is dit nog steeds van basiese belang dat elke kind van God by ‘n gemeente sal inskakel en homself aan daardie gemeente se gesag onderwerp. Die Nuwe Testament ken nie die hedendaagse tipe “Lone Ranger” Christenskap waarvolgens ek alleen op die perd van my eie ego en vroomheidsgevoel met ‘n Bybel in my “holster” die Wille Weste vir Jesus moet verower nie! Dis nog steeds God se bedoeling en plan dat mense wat gered word tot ‘n gemeente toegevoeg moet word! “En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.” (Handelinge 2:47)
Maar waar moet ek aansluit? Genadiglik is dit God wat Sy kinders by gemeentes byvoeg, maar soos in elke aspek van ons Christelike lewe het ons ‘n besliste verantwoordelikheid. Die basiese vereiste is dat die gemeente by wie ek my skaar die Woord van God as enigste norm vir leer en lewe sal (probeer) handhaaf! So ‘n gemeente sal noodwendig dus ‘n hoë premie plaas op deeglike, omvattende en suiwer Woordverkondiging. Die fokus sal op die prediking wees, prediking in die sin van uitleg en toepassing van die Skrif! (Daar is tans baie motiveringstoesprake wat deurgaan vir prediking, maar eintlik net egoïstiese retoriek of emosionele opsweping is wat vir die skyn aan ‘n Bybelteks buite konteks aangehaak word.) Natuurlik beteken dit nie dat as ‘n gemeente erns met Skrifuitleg en toepassing maak, als outomaties noodwendig reg is nie. Natuurlik moet die Woord gehoorsaam en geleef word.** Maar ten minste is daar darem ‘n basis. Wat ek wil sê is : Moenie oorkrities wees en na ‘n volmaakte gemeente gaan soek nie. Jy gaan nie een kry nie. Ook nie in die Nuwe Testamentiese kerk was daar sulke gemeentes nie. Moenie verval in eindelose “church hopping”*** nie, maar skaar jou by ’n gemeente waar die skape ten minste uit die Woord gevoed word, al is die prediker nie juis die beste spreker nie, al stel baie lidmate se lewens jou teleur... Ten minste kan jy met erns bid dat God sy Woord wat wel verkondig word, sal gebruik om harte en lewens aan te raak... Dis dalk jou vernaamste plig in jou gemeente, om met erns voorbidding te doen, want onthou jy behoort aan die liggaam van Christus nie om in die eerste plek bedien te word nie, maar andere te bedien met die gawes wat God vir jou gegee het...
Mag die Here ons lei deur sy Woord en Gees in hierdie tye van dwaling, chaos en verwarring. (Kliek ook op VASTE FONDASIE)
*Daar is ‘n al hoe meer opvallende groep wat mens sou kon tipeer as die MENS ALLEEN (vir ‘n norm). Dis mense wat geen Goddelike gesag aanvaar nie, die Bybel as ‘n outydse boek vol fabels beskou en die postmodernistiese siening handhaaf dat elkeen maar vir homself moet besluit. Ek is dus my eie bron van waarheid en gesag. Die Nuwe Hervormers en sogenaamde Renaissance gemeentes is goeie voorbeelde hiervan. Ek bespreek hulle egter nie hier nie aangesien hulle totaal buite die Christelike geloof val.
**Natuurlik is ek deeglik bewus van die feit dat die ware kerk ook uitgeken kan word aan die “suiwer bediening van die sakramente” en die toepassing van die “tug”. Hierdie sake is sonder twyfel van fundamentele belang en word skreiend afgeskeep in die kerk oor die algemeen. Die basis van waaruit dit reggestel kan word, bly egter die eerlike verkondiging van die Woord. Dis daar waar die broodnodige reformasie moet begin.
*** Mense wat in hierdie kategorie val en rondspring van een kerk na die ander se eintlike probleem is dikwels hulle eie rebelse onwilligheid om onder gesag te staan ten spyte van hulle aandoenlike verhale oor hoe hulle “seergekry het” in die een of ander kerk.