BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Jona. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jona. Wys alle plasings

Sondag 01 Maart 2020

SOWAAR DEUR DIE OOG VAN DIE NAALD!

- DIE HEERLIKE GEVOLG VAN JESUS SE REDDINGSGENADE 

Ons ken almal die verhaal van Saggeus in LUKAS 19:1-10. Die verhaal van Saggeus, gaan in hoofsaak natuurlik nie oor Saggeus nie, maar oor Jesus. Jesus se reddingsgenade is verrassend en kragtig! Dis juis ook ’n doelgerigte soekende genade, gefokus op sondaars! Die ergste sondaars! Ja, daar is hoop vir ons...  Die hoofboodskap van hierdie gebeurtenis kry ons natuurlik in vers 10 as klimaksteks! “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is." 

VERRASSENDE GENADEKRAG! 

Jesus se genade is verrassend. Jesus verras vir Saggeus, maar hy verras ook die omstanders. 

Saggeus kruip weg in die wildevyeboom. Hy dink hy kan vanuit ‘n veilige afstand alles dophou. Hy dink hy kan anoniem bly. Maar dan verras Jesus hom. “Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: "Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan." (5) Hy roep hom by sy naam! (Luister mooi, Hy roep jou ook...) Die Seun van God doen persoonlik bemoeienis met ‘n onverdienstelike sondaar! Dink net hoe verbaas en verras Saggeus moes wees… Ja, Jesus konfronteer Saggeus. Maar dis ‘n liefdevolle konfrontasie. Dis ‘n genadige konfrontasie. Ds ‘n reddende konfrontasie. 

Wat in Saggeus se lewe gebeur is niks minder as ‘n wonderwerk nie! ‘n Gierige ryke wat vrywillig van die helfte van sy besittings afstand doen en belowe om sy verkeerde optrede teenoor ander mense reg te maak is nie sommer net ‘n klein veranderinkie nie. Dis gelykstaande aan ‘n drankverslaafde wat sy vol bottels in die toilet afspoel. Dis soortgelyk aan ‘n jongmens wat ‘n sondige seksuele verhouding verbreek al maak dit jou hart stukkend. Dis net Jesus wat hom so kon bevry van sy verknogtheid aan geld. Dis net Jesus wat hom so kon bevry van die heerskappy van sy beursie. Wie Jesus in sy huis (en hart) toelaat en ontvang sal noodwendig ‘n transformasie ondergaan. Die kettings waarmee die duiwel hom gebind het word verbreek.  Dis mos waarvoor Jesus gekom het - “En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.” (1 Johannes 3:8b) 

SAGGEUS EN DIE RYK JONGMAN 

Hierdie wonderwerk in Saggeus se lewe word nog meer vol betekenis as mens dit vergelyk met die geskiedenis van die Ryk Jongman in die vorige hoofstuk. (18:18ev) Daar is opvallende ooreenkomste en verskille. Beide is ryk. Beide het ‘n soeke in hulle lewens ervaar. Beide het ‘n sterk begeerte na Jesus op een of ander manier. (Die Ryk Jongman kom val voor Jesus neer, Saggeus maak ‘n plan om Jesus te kan sien.) 

Ook tragiese verskille: Die Ryk Jongman het op die ou end teleurgesteld weggegaan. Saggeus word opgeneem in die familie van gelowiges. Die Ryk Jongman se besittings tel vir hom meer as die koninkryk van God. Saggeus se hart raak los van oorheersing deur besittings en so lewer hy bewys dat hy nou ‘n kind van Abraham geword het. In beginsel doen Saggeus dit waarvoor die Ryk Jongman nie kans gesien het nie. Die merkwaardigste is dat hierdie geskiedenis van Saggeus inderdaad bewys dat God die “onmoontlike” kan doen en ‘n ryk man kan red. 

Die Ryk Jongman moes teleurgesteld omdraai omdat hy nie gehoor wou gegee aan Jesus se opdrag van bekering van sy materialisme nie. Die gesprek gaan toe verder tussen Jesus en sy dissipels - “Toe Jesus sien dat hy teleurgesteld is, sê Hy: "Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom." Dié wat dit gehoor het, sê toe: "Maar wie kan dan gered word? Daarop antwoord Hy: "Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik." (18:24-27 ) 

Ontsagwekkend en asemrowend heerlik! Geen sondaar is buite bereik van God se genade nie! Daar is hoop vir daardie goddelose eggenoot, kind, kollega wat deur mense afgeskryf word... 



Inderdaad het die kameel toe deur die oog van die naald geglip! Die heerlike kragtige genade van God vir wie niks onmoontlik is nie, was in aksie...


BESWAAR TEEN GENADE 

In die proses verras Jesus ook al die omstanders. Hoe so? Wel, hulle het Saggeus almal baie goed geken. Hy was die berugte en gehate tollenaar wat hulle afgepers en besteel het. Die ongewilde en korrupte "ontvanger van inkomste!" Daarom maak hulle ten sterkste beswaar teen Jesus se toenadering! “Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: "Hy gaan by ‘n sondige man tuis!" (7) Jesus se radikale genade vir die slegste sondaars laat baie mense deur al die eeue en vandag nog ongemaklik en kwaad voel. Dink aan hoe kwaad en teleurgesteld Jona was toe die mense van Nineve hulle op grond van sy boodskap bekeer het en God hulle genadig was! (Jona wou nie genade sien vir hierdie vyande van sy volk nie - gelukkig is God se genade groter as die genade van sy boodskappers s'n!) Gaan jy opgewonde wees as Jesus vir Zuma of die Fishrot bende vergewe! Sal ons hulle in die kerk verwelkom? Gaan jy ook daardie plaaswerker of besigheidsman wat jou soveel skade aangedoen het as broer verwelkom as hy in Jesus glo? 

GEVOLGE VIR DIE HELE HUIS 

Die verrassende en kragtige genade van Jesus het heerlike gevolge. Saggeus word nou deel van God se volk. ‘n Ware kind van Abram. “Daarop sê Jesus: "Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham.” (9) Etnies was hy dit alreeds, maar nou word hy ook geestelik ‘n kind van Abram, want hy glo nou ook waarlik in Jesus. (Vgl. Gal 3:7 “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.”) 

Maar ons moet ook mooi kyk na wat Jesus hier sê. (9) “redding vir hierdie huis” Die reddende genade wat Saggeus ontvang het raak sy hele gesin, sy huishouding! Dit klink dalk vir ons as westerse individualiste vreemd, maar dis ‘n tema wat ons deurgaan in die Skrif kry. Noag (en sy hele familie word gered), Abram (God se beloftes vir hom en sy nageslag), Josua ("ek en my huis sal die Here dien"), Ragab (saam het haar hele familie opgeneem in die verbondsvolk)… En ons vind dit ook in die Nuwe Testament. Lidia, die tronkbewaarder van Filippi… Natuurlik gaan dit nie hier oor outomatiese redding van ‘n kind as een van die ouers gered word nie. Dit gaan daaroor dat die hele huisgesin ‘n werksveld van God se verbondsgenade word. Christen ouers se kinders word groot in die dampkring en onder die invloed van die Woord en die Woord is die instrument van die Heilige Gees. Vir God is huisgesinne belangrik. Hier sien ons dit duidelik. Saggeus se redding is groter as net ‘n persoonlike saak! 

As jy op Jesus se uitnodiging reageer, as jy jou huis en hart vir Hom oopmaak, as jy jou bekeer van jou afgode gaan dit heerlike gevolge vir jouself en jou nageslag hê! 
Kameel in die Swakoprivier.

*Hierdie en ander gedagtes met erkenning aan Nico van der Walt

Sondag 28 Augustus 2016

DIT HOORT NIE SO NIE!

- ONTVANGERS VAN GENADE WAT GENADELOOS WORD.



Ons hoor en gebruik so dikwels die word GENADE. Maar verstaan ons wat is genade? Besef ons proefondervindelik hoe kosbaar dit is? Is ons regtig dankbaar daarvoor? En veral, wys ons houding teenoor ander mense dat ons genade waardeer?


JONA EN DIE HARTSEER IRONIE VAN GENADELOOSHEID

Kom (vergeet eers van die debat oor die vis) ons lees  in Jona 4 hoe Jona gereageer het nadat Nineve gehoor gegee het aan sy prediking en God die stad gespaar het :

Jona 4:1 Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword.

2 Hy het tot die Here gebid en gesê: "Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is ‘n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.

3 "Laat ek nou maar sterf, Here, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe."

4 Toe vra die Here vir hom: "Het jy rede om kwaad te word?"

5 Jona is toe uit die stad uit. Hy het oos van die stad gaan sit en vir hom ‘n skerm gebou. Hy het daaronder in die skaduwee gaan sit om te sien wat in die stad gebeur.

6 Toe laat die Here God ‘n komkommerplant opkom, en dit het bo-oor Jona gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona was baie bly oor die komkommerplant.

7 Die volgende môre met dagbreek laat God toe ‘n wurm kom, en dit het aan die komkommerplant gevreet, sodat dit verdroog het.

8 Toe die son opkom, het God ‘n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword en gewens om maar liewer te sterf. Hy het gesê: "Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe."

9 Toe vra God vir Jona: "Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant?" en Jona antwoord: "Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!"

10 Die Here het vir Jona gesê: "Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood.

11 Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ‘n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?"

Sien in jou geestesoog ‘n dikbek Jona. Eintlik totaal depressief! Die rede is verbasend. Die mense van Nineve het hulle bekeer nadat hy gepreek het. Mens sou kon dink dat ‘n profeet tog dankbaar en opgewonde sou wees as mense ag slaan op sy boodskap. Maar nie Jona nie. Hy was kwaad dat Nineve se mense hulle bekeer het en dat God hulle genadig was en afgesien het van sy straf om hulle te verwoes. Waarom was Jona nie bly oor God se genade oor Nineve nie? Jona kon nie aanvaar dat God se genade ook Nineve, die vyand van sy volk Israel insluit nie! Dit het nie ingepas by sy persoonlike agenda en gevoelens nie!  Hier kom die ware rede uit waarom Jona aanvanklik weggevlug het van God se opdrag om na Nineve toe te gaan. Vers 2! Jy sien, Jona het geglo in God se genade, maar hy wou God voorskryf oor wie genade mag kry en wie nie. Die ironie is dat Jona self ‘n ontvanger van God se genade is (God het hom wonderbaarlik gered van ‘n gewisse verdrinkingsdood), maar hy gun nie genade vir ander mense nie. Klink dit nie dalk bekend in my en jou lewe nie?

Met die wonder van die komkommerplant wat vir Jona skadu gebied het en toe deur ‘n wurm laat verdroog is, het God vir Jona ‘n les probeer leer. God wys vir Jona hoe inkonsekwent hy dink. Hy is net besorg oor sy eie gerief, hy is kwaad oor ‘n enkele plant wat verdroog het. Maar hoekom mag God nie besorg wees oor 120 000 mense nie? En ook nog baie diere nie? (God is immers Skepper en Onderhouer van sy hele skepping!) Die boek Jona eindig met ‘n vraag, want ek en jy moet hierdie vraag beantwoord. Hoe dink ons oor genade? Hoekom is ons wat ontvangers is van genade, wat afhanklik is van genade so dikwels genadeloos?

VUUR OOR DIE SAMARITANE

In die Nuwe Testament kry ons nog ‘n voorbeeld van genadeloosheid by God se mense wat van beter behoort te geweet het. (Lees dit in Lukas 9:51-56) Jesus en sy dissipels reis deur ‘n Samaritaanse dorp op pad na Jerusalem. Die Samaritane wou nie vir Jesus ontvang en verblyf gee nie. Dit het heftige reaksie by Jakobus en Johannes ontlok. Vers 54! “Toe die twee dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: "Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?" Op die oog aflyk dit of Jakobus en Johannes wou opkom ter wille van Jesus se eer. Dit klink asof hulle vreeslik lojaal is teenoor Jesus. Miskien het hulle ‘n klop op die skouer van Jesus se kant af verwag. Maar nee! Jesus het hulle skerp berispe! Jesus laat Hom nie flous nie, Hy sien dwarsdeur hulle motiewe. Hulle optrede gaan nie regtig oor lojaliteit teenoor Jesus nie, maar hulle diepgewortelde veragting en haat vir die Samaritane. Hulle gedagtes was eerder : “A, hier is ons kans om wraak te neem op die ellendige Samaritane wat ons so irriteer en ons land besmet!”

Beide Jona en die twee dissipels is voorbeelde van begenadigde mense wat min genade oorgehad het vir ander mense. Hulle was ontvangers van genade, maar onwillig en suinig om dit aan ander uit te deel.

BLIND VIR GOD SE PLAN EN BEDOELING

Waar kom hierdie hardheid vandaan? Ons vergeet God se genade wanneer ander beginsels en nie God se eer en God se koninkryk die deurslag gee in ons denke en optrede nie. Jona het ‘n diepgewortelde haat vir die vyande van Israel, die Nineviete gehad. Sy eie hoogmoedige nasionalistiese gevoelens was vir hom belangriker as God se eer. Hy staar homself blind teen sy eie vooroordele en kan nie God se plan raaksien nie. God se plan is juis dat alle nasies hulle moet bekeer en Hom moet eer. Die dissipels sit met dieselfde probleem. Hulle kyk ook vas teen hulle eie negatiewe gevoelens oor die Samaritane dat hulle weereens nie God se plan raaksien nie. Hulle dink aards volgens hulle sondige natuur. Hulle lewens is nie onder beheer van die Heilige Gees nie. Maar wat gebeur na Pinkster, na die uitstorting van die Gees? Dis interessant, in Handelinge 8 lees ons hoe Filippus die evangelie aan die Samaritane verkondig het en hoe baie tot bekering gekom het. Die apostels (en ons kan seker aanneem Jakobus en Johannes was ook by) het ook aan hierdie evangelieverkondiging deelgeneem. “So het die apostels dan kragtig getuienis gelewer en die woord van die Here verkondig. Hulle het na Jerusalem toe teruggegaan en onderweg die evangelie in baie dorpe van die Samaritane verkondig.” (Handelinge 8:25) Dis baie moontlik dat van die Samaritane in hierdie dorpie wat ongasvry teen Jesus opgetree het ook nou die evangelie gehoor het en tot bekering gekom het.

WAT SKUIL IN JOU HART?

Ek wil glo dat jy ook ‘n ontvanger van genade is! Dat jy weet dat deur die geloof in Jesus al jou skuld uitgedelg is en dat jy sonder vrees voor God se troon kan staan. Maar sê my : Waarom is daar mense teenoor wie jy verbitter is? Waarom is daar mense vir wie jy afskryf (dalk jou eie man of vrou?) en sê: “Ag hulle sal nooit tot bekering kom nie. Ek gaan nie vir hulle bid nie, ek gaan hulle nie besoek en uitnooi kerk toe nie...” Waarom verlustig jy jou dalk in die leed van ander mense : “Lekker laat julle voel, julle wil mos nie hoor nie! Hoe voel die Westerse Christene oor die derduisende  Moslem (en nie-Moslem) Siriese vlugtelinge?  Toets onsself: Kyk ons na mense soos God hulle sien? Kry ons nog mense innig jammer soos Jesus omdat hulle soos skape sonder herder is? Sien ons die potensiaal in dat sondaars hulle kan bekeer, genade kan ontvang en God so geëer kan word? Gun jy God se genade vir jou grootste vyand? Sal jy bly wees as God jou vyande seën en die blydskap van vergifnis aan hulle skenk? Watter wrok, vooroordeel of diep verskuilde bitterheid maak jou ondankbaar en ongevoelig vir die genade van God oor ander sondaars? Ja, ons steek hierdie verkeerde motiewe weg onder kastige vroomheid en godsdienstige frases, maar as ons eerlik is sal ons erken dit gaan nie regtig oor God se eer nie, maar oor ons eie kleinlikhede. Of ons persoonlike agendas van wraak en selfsug. Bekeer jou daarvan want genadeloosheid pas glad nie by ontvangers van genade nie! Meer nog, dit wys dalk dat jyself nog nie die heerlikheid van genade besef het nie. En watter hoop het ek en jy as dit nie vir genade was nie?



Moenie God se soewereine genade en onmeetlike almag deur jou eie vooroordele probeer beperk nie. Onthou Hy kan uit klippe kinders van Abram verwek! (noord van Swakopmund)