BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Emigrasie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Emigrasie. Wys alle plasings

Donderdag 22 November 2018

DIT RAAK JOU KINDERS!

- HIERDIE IS ’N KEUSE WAT JOU NAGESLAG BESLISSEND BEÏNVLOED.



Baie van die keuses wat ons maak gaan vir altyd ook ‘n invloed hê op ons kinders se welsyn en toekoms... Dink nou maar aan die netelige kwessie van emigrasie. Moet ek bly of moet ek ry ter wille van ‘n beter (?) toekoms vir my kinders? 

Hier in Deuteronomium 30:15-20 word ’n uitdaging aan die volk Israel gerig om ’n keuse te maak. Opmerklik en veelseggend is dat die keuse nie net hulleself sal raak nie, maar ook hulle nageslag sal beïnvloed. “Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.” (19b!) 

Die belangrikheid om ‘n keuse te maak. 

Dis baie duidelik dat die volk Israel hier voor ‘n beslissing gestel word. Julle moet nou kies! Dikwels skram mense weg van hierdie verantwoordelikheid. Ander is baie gou by met die beskuldiging en skeldnaam METODISME as daar van ‘n keuse of eis tot bekering gepraat word! Daar is dikwels die verskoning, “Ag wat die Here het my paadjie uitgelê, wat sal gebeur sal gebeur.” Dis ’n verdraaiing van Bybelse waarhede om so te redeneer. Ja, natuurlik het God die inisiatief geneem. Hy het die verbond met Abram gesluit en beloftes gemaak. Dis alles sy genade! Ons kry hier weereens ’n duidelike verwysing daarna. “Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ‘n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee." (20) Dis inderdaad God wat toe Hy aan sy verbond gedink het, besluit het om hulle uit Egipte te verlos en na die beloofde land te lei. Maar nou moet hulle kies. Hulle is verbondsmense aan wie die heerlike beloftes behoort, maar hulle moet nou self KIES! Dis noodsaaklik, want alle verbondsmense (of as jy wil, kerkmense!) het nie noodwendig die lewe nie! JY moet kies, JY moet besluit! Hierdie uitdaging kom weer en weer ook tot ons. Jesus self het aan die verbondsvolk hierdie uitdaging gerig, reg aan die begin van sy bediening- “Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 1:14,15!) Het jy al duidelik gereageer? 

Die inhoud van die keuse. 

Waaroor het die keuse gegaan. Kies die LEWE! Wat is hierdie lewe? Hierdie keuse is ’n keuse om God lief te hê en sy gebooie te gehoorsaam. Dies lewe in God se teenwoordigheid. “As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem.” (16) Om God lief te hê is om sy gebooie, sy voorskrifte, sy bepalings te gehoorsaam! Dis ’n keuse vir gehoorsaamheid aan die wet van Moses as geheel. Die tora. 

Die tora het die pad aangedui. Die koers waarvolgens die mens moes loop. 
Die tora was die waarheid. Die duidelike suiwer waarheid te midde van al die valsheid en afgodery. 
Die tora was lewe teenoor dood. Godellike lewe in sy teenwoordigheid en onder sy seën!

Wat is die keuse waarvoor ons staan? Ons moet Jesus kies! Om Hom te glo en te gehoorsaam. 
Jesus self is nou die weg, die waarheid en die lewe! (Johannes 14:6) 

Dit wat die tora was in die konteks van die Ou Verbond, is Jesus self nou in die Nuwe Verbond. 

Jesus in Homself is die vervulling van die hele tora, die hele wet van Moses. Ons word uitgedaag nie net om ’n boek se voorskrifte na te volg nie, maar om ’n Lewende Persoon te volg! Om persoonlik my hele vertroue op Hom te plaas. 

Die langtermyngevolge van die keuse. 

Die gevolg van die regte keuse vir God en sy wet, sou ’n lang lewe wees in die beloofde land Kanaän. ’n Letterlik voorspoedige lewe in die land Kanaän. In die Nuwe Verbond gaan dit nou nie meer oor ’n letterlike Kanaän en aardse voorspoed nie. (Terloops, dis hier waar baie misverstande kom wat tot die Prosperity Gospel dwaling aanleiding gee. Mense maak so maklike die aardse beloftes van die Ou Verbond naatloos van toepassing op die Nuwe Verbond. Dit kan nie. Jesus die Middelaar van die Nuwe Verbond het nooit materiële voorspoed beloof aan sy volgelinge nie, maar wel ‘n ewige beloning hierna!) Ons wat die keuse doen om in Jesus te glo en Hom te gehoorsaam kry iets beter as Kanaän – die ewige lewe nou reeds en finaal in die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die ewige stad waarvan God self die Bouer is! EWIGE LEWE is om God en Jesus te ken en by Hom te wees! (Johannes 17:3) 

Die opvallende gedeelte van hierdie belofte in vers 19 is – “Jy en jou NAGESLAG” Die keuse raak nie net jouself nie, maar ook jou kinders! Nou is die groot vraag : Geld dit ook vir die Nuwe Verbond? Raak dit my kinders as ek tot bekering en geloof in Jesus kom? En die antwoord is ’n heerlike en besliste JA! Ons kry ’n treffende voorbeeld daarvan in Handelinge 16. Die bekering van die tronkbewaarder van Filippi. Lees gerus weer Handelinge 16:29-34. Let op na die antwoord wat die tronkbewaarder ontvang as hy vra wat hy moet doen om gered te word! "Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin." (31) Hierdie is ‘n belofte wat ons nie ligtelik moet opneem nie! 

Die punt is dit : 

Ouers se keuse speel ’n geweldige groot rol in die lotsgevalle en eindbestemming van hulle kinders. 

Beteken dit dat kinders van gelowige ouers outomaties gered word? Outomaties wedergebore is? Nee! Hulle moet self ook kies wanneer hulle die ouderdom van bevatlikheid en verantwoordelikheid bereik. En inderdaad gebeur die onbegryplik tragiese – sommige maak nooit die regte keuse nie en gaan vir ewig verlore! Die onbegryplike negatiewe wat kan gebeur mag egter nie veroorsaak dat ons die heerlike positiewe belofte hier verswak of ignoreer nie! 

Nou wat is die voordele dan vir kinders wie se ouers die Here Jesus ken en dien? 

-Hulle leef in die dampkring en die invloedsfeer van God se genadeverbond. God is hulle beskermer van kleins af. “U is my hulp van my geboorte af, reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm. U loof ek gedurigdeur.” (Psalm 73:6!) 

-God gebruik die Christen ouerhuis as die kanaal waardeur sy genade en beloftes ook na hulle kom. Hulle het ouers wat vir hulle bid en intree by God se genadetroon. Ons kan die Here herinner aan sy beloftes! Hierdie kinders hoor die Woord van kindsbeen af. Wat ‘n voorreg! “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus." (2 Timoteus 3:14,15) Ons kan positief vertrou dat die saad van die Woord wat natgemaak word deur die gebede van gelowige ouers uiteindelik sal vrugdra! 

-Kinders van gelowige ouers kry van kleins af die voorbeeld van geloof en van liefde vir die Here en liefde vir sy kerk! Ja, baie van hulle rebelleer, maar daar is baie getuienisse van verlore seuns en dogters wat na ‘n tydperk tussen die varke weer terugkeer... Ons as gelowige ouers kan die pad maar gelowig en hoopvol dophou... 

Oor wat jy as ouer oor emigrasie besluit, wil ek nie veel kommentaar lewer nie. Wat ek wel wil onderstreep is die Bybelse opdrag : Kies die lewe en jy en jou kinders sal lewe. Kies Jesus en jy en jou kinders lewe!

Naskrif : As jy dalk vanuit Bybelse vertrekpunte wil saamdink oor emigrasie, kliek op BLY OF GLY?



Donderdag 01 November 2012

EIENDOM IN ANATOT


- bobaas belegging in ‘n ramp scenario.


Lonmin. Marikana. Malema. Moody’s. Zuma. Zimbabwe scenario... Praatjies oor bloed en grond. Dalende Rand... dit plus die “normale”  korrupsie, stakings en nimmereindigende renosterstropery (waarin wildbewaarders ook hulle deel het om dit tot dusver ‘n rekordjaar te maak)... en natuurlik die daaglikse moorde... plaasmoorde, stadsmoorde, gesinsmoorde, kapingsmoorde met die onlangse moord op die matriekmeisie, Minke Aucamp as nog ‘n hartseer voorbeeld wat mens aan die hart ruk.  Die wêreldbekende blad “The Economist” in ‘n artikel, “Sad South-Africa : Cry, the beloved country”* sê dit wat ons almal lankal reeds weet: “South-Africa is sliding downhill...” Genoeg vertrouevreters om die mees patriotiese Suid-Afrikaanse optimis te laat steier en te laat wonder : “Waar belê ek in sulke omstandighede?” of   “Watter ekomomiese besluite neem ek nou as denkende Christen?” Hoe nou en waarheen?

Die Bybelse argief van eiendomstransaksies gee ons ‘n insiggewende vars perspektief op ‘n tyd soos hierdie. Ons lees hiervan in Jeremia 32.  Kaart en transport : Grond in Anatot. Koopsom : Sewentien sikkels silwer. Geregistreer in die naam van die profeet Jeremia. Gekoop van sy neef Ganamel volgens die lossingsreg. Datum: tiende regeringsjaar van Sedekia...

In Jeremia 32:10 vertel die profeet verder :

“Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op ‘n skaal.”

Wat die transaksie verbysterend merkwaardig en onbegryplik maak is die datum en die gepaardgaande omstandighede waartydens dit plaasvind. Sedekia se bewind en die  koninkryk van Juda is besig om te wankel. Jeremia self is onder huisarres, want hy word van dislojaliteit verdink, juis weens sy negatiewe boodskappe rakende die toekoms van sy land. Geen slim Clem Sunter van sy dag met jakkalswysheid en al, sou Jeremia kon oortuig van ‘n moontlike positiewe scenario vir Koning Sedekia en sy land Juda nie!  Nebukadneser se weermag het reeds rondom Jerusalem stelling ingeneem. (2) Belangriker : God het immers self met die profeet gepraat en die oordele wat oor Juda wag aan hom geopenbaar. Daar was geen moontlikheid dat Sedekia die bedreiging van die Galdeërs sou vryspring nie. Allerhande planne van die optimiste om op Egipte te probeer steun, ten spyt. Want ons moet onthou, hierdie donker scenario  was nie maar ‘n toeval van die geskiedenis  nie, maar God se aangekondigde straf oor sy afgedwaalde volk. (3,4) 

Die oordeel oor Juda was  ‘n uitgemaakte saak. Nou waarom maak Jeremia dan ‘n belegging in vaste eiendom in ‘n gedoemde land? Is hy dalk mal? Finansieël onverantwoordelik? Koop ‘n denkende mens tans wildsplase in Zimbabwe???

Nee. God het Jeremia  dit beveel en hy gehoorsaam maar net. Trouens, die verloop van die geskiedenis maak dit baie duidelik dat die arme Jeremia geen persoonlike voordeel ooit uit die transaksie sou trek nie. Hy sou nie ‘n enkele koringkorrel op sy grond plant of oes nie!

God verskaf self die rede vir hierdie uitsonderlike, oënskynlik dwase transaksie. In Jeremia 32:15 lees ons: “want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel : Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.” Jeremia koop die grond in Anatot (naby Jerusalem) as ‘n sigbare getuienis teenoor koning Sedekia en sy landgenote. Dit dien as ‘n bewys dat Jeremia nie maar net bloot ‘n swartgallige pessimis was, soos Sedekia dalk gedink het nie. Hy was maar net die eerlike aankondiger van God se oordeelsboodskap. Maar, hy wat Jeremia is het ook eerlik geglo in God se goeie beloftes van vergifnis en herstel.

Jeremia 32:42 : “So sê die Here: Soos Ek hierdie  groot ramp oor hierdie volk gebring het, so sal Ek ook al die goeie wat Ek hulle beloof het, na hulle toe bring.” 

ENIGSTE SEKURITEIT : GOD SE BELOFTES!

Jeremia gehoorsaam God se beleggingsopdrag omdat hy geglo het in die sekuriteit wat God bied, die God wat die toekoms bepaal. Ons wat ook glo in God se beloftes, se toekoms lê nie in ‘n bepaalde geografiese gebied of ‘n  spesifieke politieke bestel op aarde nie, maar in die waarborge wat die onfeilbare God bied.  Ja, die lewe by God self. Hoe so?

Die essensie van God se beloftes aan Jeremia is die Nuwe Verbond. Ja, daar was ‘n tydelike voorlopige vervulling met die terugkeer van die ballinge uit Babel en die heropbou van die verwoeste Jerusalem. (Iewers sou ‘n verlangse familielid van Jeremia dalk dus voordeel uit sy geloofsdaad getrek het) Maar, die Nuwe Verbond vind egter eers volledige  vervulling in Jesus Christus wat ‘n ewige koninkryk kom vestig, eers in ons harte, maar ‘n koninkryk wat uiteindelik sigbaar gestalte sal vind in die nuwe hemel en nuwe aarde. Jeremia 31:33 stel dit so : “Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here : Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”  Ons word so mooi in Openbaring 21:3 vertel hoe die Nuwe Verbond tot finale vervulling kom as daar oor die voleinding gepraat word in  verbondstaal : “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” Dis in wese die vervulling van die ewige genadeverbond wat God reeds met Abraham gesluit het! (vergelyk Genesis 17:7)

Alleenlik God se beloftes verskaf ewige beleggingssekuriteit! Dit wat geen aardse regering kan waarborg nie. Maar juis ook dit wat geen Malema, Mugabe of Zuma kan beskadig nie!  Ons vertroue is gebou op die Middelaar van die Nuwe Verbond, ons Here Jesus Christus! In sy koninkryk moet ons belê en ons vertroue in Hom demonstreer deur “grond  in Anatot” te koop! Die Nuwe Testamentiese ekwivalent hiervan is nie luukse  beleggings aan die Weskus of in die Tuinroete se Gholflandgoedere nie. (Bied daardie plekke  hoegenaamd meer sekuriteit as  geweldadige Gauteng?) Ook nie soos sommige dink ‘n plaas in Kanada, ‘n loopbaan in Brittanje of ‘n nuwe toekoms in Australië nie, maar die duidelike opdrag : “Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie.”

Is jy ‘n ewigheidsbelegger deur geloof in Jesus, gehoorsaamheid, goeie werke en dankbaarheidsdiens? Weerspieël hierdie beleggings jou vertroue op God se beloftes en ‘n Goddelike toekoms?

Wie weet dat sy vaste eiendom in die koninkryk onaantasbaar veilig is, sal ook met groter gerustheid hier en nou kan leef... ten spyte van die Malemas en Zumas... en dalk selfs iewers ‘n grondjie aanskaf (welwetende  ons is net pelgrims hier op aarde en nie permanente inwoners nie)... ja, moontlik ook  in  onstuimige Suid-Afrika, as die Here jou daartoe lei en instaatstel.

Die punt is maar net : Wie skatte in die hemel het, kan met groot vreugde en vertroue ook op aarde voluit leef, in alle omstandighede! As my skat in die hemel is kan ek met vreugde my aardse roeping uitleef, waar ookal  God my in sy voorsienigheid plaas,  hier in Afrika of iewers oorsee! Maak net seker waar jou skat is...

* In die uitgawe van 20 Oktober 2012

Woensdag 01 Februarie 2012

BLY OF GLY? DIE CHRISTEN EN EMIGRASIE

- gelowig nagedink vanuit die Skrif oor ‘n sensitiewe saak.

Die Woord van God is die riglyn vir God se kinders in alle sake wat ons raak. Ook wat betref die baie aktuele (en dikwels emosionele) kwessie van emigrasie. Dis nie so ’n ligte en eenvoudige saak nie. Vinnige maklike antwoorde is daar beslis nie.

Laat ek eers duidelik sê: Ek is ontsettend gelukkig waar ek nou op Tsumeb in Namibië woon, en op hierdie oomblik kan ek aan geen ander plek ter wêreld dink waar ek eerder sou wou gaan bly al sou ek ’n keuse gehad het nie. Maar natuurlik, ’n liefhebber van geskiedenis soos ek weet dat lands en wêreldsomstandighede oornag kan verander... Net God ken die toekoms...

Soos met baie ander lewensvrae gee die Bybel nie vir ons oor hierdie saak ’n pasklaar antwoord in ’n enkele teks nie. God behandel ons as volwasse kinders en ons moet self vanuit die beginsels in die Skrif onder die leiding van die Heilige Gees besluite neem. Kom ons kyk nugter na ’n paar sodanige Bybelse beginsels:

1. Al God se kinders behoort aan sy een unieke uitverkore volk. (1 Petrus 1:1; 2:10) Almal wat aan Jesus Christus behoort is nou kinders van Abram. (Galasiërs 3:7) Dit impliseer ’n verbintenis en lojaliteit wat die belangrikheid van alle ander verbintenisse relativeer. Ek is dus eerstens ’n Christen voordat ek ’n Afrikaner, Duitser of Herero is.

2. Hierdie een volk van God is verspreid oor die wêreld heen. Hulle word aangetref in alle lande en kulture (1 Petrus 1:1; Jakobus 1:1) Dis ’n gegewe en die Bybel gee ook nêrens opdrag dat Christene moet saamtrek op een of meer plekke nie. Daar is ook nie plekke op aarde wat heiliger is as ander plekke nie! Jerusalem is niks heiliger as Pretoria, Windhoek of Perth nie!

3. Alle Christene in alle lande moet weet (en sal beleef) dat ons in hierdie wêreld vreemdelinge en bywoners is. (1 Petrus 1:1;2:11) Dit het verskeie implikasies : Ons is oppadwees mense, op reis na ons finale permanente tuiste. Of ons omstandighede nou betreklik gerieflik of dalk onseker en gevaarlik is, kinders van God is soos Abram, mense wat verlang na die stad met vaste fondamente waarvan God self die ontwerper en bouer is! ( Hebreërs 11:10) Ons status as vreemdelinge beteken ook dat ons swaarkry en verwerping sal ervaar, ongeag die plek waar ons woon. Ons sal noodwendig in konflik wees met die sondige aard van die kultuur waarin ons ons bevind, omdat ons Koninkrykswaardes en ambisies het. (Sien : MAAK OOP BY OPENBARING (3) )

4. Die belangrikste is nie waar ons bly nie, maar hoe ons lewe! Vir alle Christene orals, geld die opdrag om heilig d.w.s. afgesonder vir die Here te leef! (1 Petrus 1:16) Hierdie heiligheid beteken egter nie dat ons eenkant handegevou moet staan en die booshede en onbekwaamhede van ons gemeenskappe moet kritiseer nie. Ons moet ten volle betrokke wees in die samelewings waarin ons ons tans bevind! Jeremia 29 wat ’n brief bevat aan die Joodse bannelinge in die verre Babilonië is besonder insiggewend. Kyk veral na vers 4 tot 7. Wat ’n geweldig positiewe benadering!

5. Die soewereine God gebruik ook emigrasie (soos ander gebeure in die geskiedenis) om sy Woord te versprei. Hiervan kry ons die klassieke voorbeeld in Handelinge 8:2,4. En natuurlik moet ons nooit vergeet nie : die Afrikanervolk self is gebou uit emigrante! Emigrasie is dus beslis nie inherent iets boos of verkeerd nie! Die hatige manier waarop sommige Afrikaners ons volksgenote in die buiteland veroordeel, is beslis nie Christelik nie. Aan die anderkant, diegene in die buiteland, moet ook nie Afrikaners wat voel dat hulle ’n Godgegewe roeping in Afrika het, probeer demoraliseer deur altyd net die negatiewe gebeure op ons kontinent uit te lig nie. Alle Christene se roeping word mos nie noodwendig op dieselfde plek uitgeleef nie.

6. Alle Christene (nie net dié wat emigreer nie) moet altyd hulle harte en motiewe ondersoek. Hoe vry is ons van selfsug en materialisme? Maar daar is ook ander motiewe wat nie pas by diegene wat bely dat God ons Almagtige Vader is nie. Paniekerige vrees en swartgallige pessimisme lyk volgens die Skrif ook nie vir my na dryfvere wat kinders van God se besluite moet beïnvloed nie. Aan die ander kant is beide die materiële en geestelike versorging van ons kinders, ’n Godgegewe ouerlike plig en verantwoordelikheid, wat beslis in die keuses van waar ons bly ’n rol sal speel. Maar selfs dit is ook relatief. As die veiligheid van sy kinders vir die Finse pioniersendeling in Owamboland, Martti Rautanen die hoofprioriteit was, sou daar nooit ’n kerk geplant gewees het nie. Net drie van hulle nege kinders het volwassenheid bereik! Rautanen het juis vanuit Finland na die gevaarlike malaria wêreld geëmigreer ter wille van God se Koninkryk!

Die belofte van Jesus in Johannes 12:25 word te maklik in ons eeu van gerief en gemaksug vergeet!

7. Ons geestelike band met God se een volk op aarde beteken nie die uitkansellering van ander aardse verbande soos huwelik, gesin en etniese bande nie. (Die nuwe lojaliteit aan Christus en sy kerk is wel die eerste prioriteit - sien punt 1) Dit beteken myns insiens wel dat ’n mens die gevolge vir huwelik, gesin, wyer familie en ook volk sensitief in berekening moet bring in ’n besluit oor emigrasie. In sekere gevalle sou dit ’n versterkende motief wees om te emigreer, in ander gevalle sou dit dalk lei tot ’n herbesinning.

8. God se kinders kan groot vrede en vreugde put uit die feit van Sy soewereine bestuur van ons lewens. Voorspoed en teëspoed, lewe en dood is alleen in God se hande! Ons glo nie soos die wêreldling in noodlot of toeval nie, ons weet ook dat selfs die foute en verkeerde keuses wat ons maak, nie die einde van ons bruikbaarheid beteken nie. God se soewereiniteit oorheers alles! Wanneer ons onseker is kan ons altyd nog bid : “Vader, laat U wil geskied!” Dit moet ons ook daarvan weerhou om ander wat volgens ons verkeerde besluite geneem het te veroordeel of te beswadder.


Bogenoemde lyk my na ’n paar belangrike Bybelse riglyne waarna mens nugter moet kyk indien emigrasie oorweeg word. Natuurlik maak dit my as trotse Afrikaner hartseer om my volksgenote oor die see te sien verdwyn, want ek weet dat die verlies van volksidentiteit op die lange duur onvermydelik is! En vir die voortbestaan van ons pragtige taal is dit ’n doodsteek! Maar as Christen moet ek verder kyk na die groter prentjie en dit is dat alle instellings op aarde tydelik is, ook tale, nasies en volke kom en gaan soos God dit beskik. Net God se Koninkryk is permanent en onwankelbaar! Dis vir hierdie ewige Koninkryk waarvoor ons ons moet beywer... orals en altyd!


Geniet vandag God se teenwoordigheid oral oor die wêreld heen!