BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Kavango. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kavango. Wys alle plasings

Vrydag 01 Junie 2018

ONGEMAKLIKE GENADE

- die genade wat Jesus uitdeel pas nie altyd by ons eie idees van genade nie! 



Die heerlikheid van Jesus is ‘n heerlikheid vol genade en waarheid. (Johannes 1:14) Genade en waarheid word deur Jesus gedemonstreer soos in niemand anders se lewe nie. Trouens, sy lewe is ’n PLAKBOEK van genade .... dink aan sy genade teenoor die sedelose Samaritaanse vrou, die skelm Saggeus, die gevalle dissipel Petrus... almal het genade op genade ontvang! Reeds hier reg aan die begin van sy bediening (sien LUKAS 4:16-30) stel Jesus sy missie van genade. Hy doen dit in die sinagoge van Nasaret, sy tuisdorp toe Hy die geleentheid gekry het om die Skrifvoorlesing te doen. “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig." (18,19) Jesus het voorgelees uit die profesie van Jesaja.* 

Die heerlike genade van Jesus bring bevryding vir die grootste sondaars, maar andere word juis daardeur afgestoot! 

Genade, so heerlik! Maar pasop, genade is nie altyd presies wat ons verwag nie! Hier tydens die dramatiese gebeure in Nasaret sien ons ook ’n ander faset van genade... Die skerpheid, verrassing, gevaar, risiko en ongemaklikheid van genade is dwarsdeur Jesus se bediening baie opvallend. Jesus se genade is so anders heerlik en uniek dat sommige juis afgestoot word daardeur. 

Ons sien dit in die dramatiese ommeswaai in hoorders se houding - eers bewondering en instemming. “Almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond.” (22) Uiteindelik word hierdie einste hoorders, woedend en moorddadig! “Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor. Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom van die krans af te gooi.” (28,29) 

Hoekom? Jesus het teen hulle selfgesentreerde verwagtings ingegaan. Hulle hou net van genade volgens hulle idees en voorwaardes. Hy het nie ingepas by hulle denke nie. Hulle betwyfel Jesus se Messiasskap. “En hulle sê: "Is hy dan nie die seun van Josef nie?” (22b) Ja, dit was wonderlik om God se woorde van genade te hoor, maar dit was vir hulle onaanvaarbaar dat dit aan die persoon van Jesus gekoppel kon wees! "Hy is dan ‘n gewone dorpskind en timmerman se seun. Jesus, die beloofde Messias? So nimmer as te nooit!" 

Jesus reageer deur te impliseer dat Nasaret geen spesiale aanspraak op Hom kan maak nie. Hulle kon Hom nie dwing om wonders daar te doen nie. (En trouens, Hy het ook nie, weens hulle ongeloof!) Jesus verwys nou na twee Ou Testamentiese verhale, wat diep sny. Dit gaan oor God se genade vir totale buitestaanders, vyande van die volk, vreemdes… 

Die eerste handel oor die wondergenesing van Naäman, die heidense generaal, ‘n vyand van Israel wat groot skade n ellende aangedoen het. God het hom deur Elisa sy kneg genees van melaatsheid. Ja, hy ontvang ‘n wondergenesing, terwyl daar baie melaatses in die destydse Israel was wat nooit genees is nie. Onverdiende, onverklaarbare soewereine genade van God! 

Die ander verhaal handel oor die weduwee van Sarfat. God het die profeet Elia tydens die groot droogte na haar toe gestuur om deur haar versorg te word. Sy beleef verbysterende Goddelike genadewonders, die vermeerdering van die olie en meel, en nog heerliker die opwekking van haar seun wat gesterf het. Tog was sy ‘n heidense weduwee wat gewoon het in die landstreek van Israel se vyande. Weereens is die Goddelike genade uniek en onverstaanbaar, want daar was beslis in hierdie tyd baie weduwees in Israel, maar Elia is nie na een van hulle toe gestuur nie en hulle het ook nie wonders beleef nie! 

Hierdie verhale moes ‘n groot skok gewees het vir die sinagogegangers van Nasaret. Dit druis in teen hulle selfsugtige sienings en vooropgestelde idees! Natuurlik, hierdie voorbeelde kom uit die Skrifte en hulle het dit goed geken, maar dit trap op hulle tone en maak hulle eggo’s bitterlik seer. Dit laat hulle in woede en haat uitbars! Hulle verstik in hulle eie vooroordele! 

Genade is heerlik. Maar genade is nie iets wat ons kan voorskryf en manipuleer nie. God se genade is soewereine genade, Hy bepaal hoe dit uitgedeel word... Ons is ontvangers, ons kan nie die bepalings en voorwaardes opstel nie... So maklik vergeet ons dit nes die mense van Nasaret. 

Kom ons dink net bietjie oor nog twee aspekte van Jesus se genade wat die ongemak en skerp kant daarvan uitlig: 

JESUS SE GENADE HET HOM NOOIT ONEERLIK GEMAAK NIE. 

Nooit was Jesus skuldig aan vleitaal nie! Nie eens vir die mense van sy tuisdorp het Hy die heuningkwas uitgehaal nie. Jesus sê ’n ding soos Hy is. Ja, vol van genade en WAARHEID! Dwarsdeur die Nuwe Testament word mens getref deur Sy absolute skokkende eerlikheid! Die toestand van die wêreld wat Jesus se koms noodsaaklik gemaak het, was so sleg, dat Jesus van brutale taal moes gebruik maak om die werklikheid daarvan beskryf. Toe mense Hom vra vir ’n teken was sy reaksie : “ ’n Slegte en afvallige geslag wil ’n teken hê” (Matteus 16:4) Hy ruk die selftevrede godsdienstiges in die bek met hierdie snydende beskuldiging: “Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerhede is.” 

Jesus het die vroom godsdienstige ongelowiges die harnas ingejaag met hierdie beskuldiging : “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen.” (Johannes 8:44) En selfs toe Jesus se eie toegewyde dissipel Petrus heldhaftig geprotesteer het teen Sy lydensweg, het Jesus omgedraai en Hom streng bestraf : “Moenie in my pad staan nie Satan! Jy is vir my ’n struikelblok....” (Matteus 16:23) Hoekom reageer Jesus so skerp? Vir die mens se geestelike dood was daar net een oplossing : Jesus se plaasvervangende sterwe aan die kruis. Enige poging om dit te verhinder was inderdaad demonies. Petrus is hier die Satan se agent en Jesus sê dit duidelik. Jesus se eerlikheid het niemand gespaar nie! Genade praat reguit, en dis mense ongemaklik maak... 

GENADE HET 'N BITTER SKERP SNYKANT VIR DIE WAT DIT VERWERP. 

Ons sien in hierdie gedeelte hoe Jesus se genade mense in opstand bring. Nie almal was bly oor sy boodskap van wye genade nie, nie almal het dit met dankbaarheid aanvaar nie. Daarom het Jesus dikwels gewaarsku teen die gevolg van die verwerping van sy genade! Dis die hel! Hy het geen kwesbare gevoelens gespaar om mense teen die ewige straf in die poel van vuur te waarsku nie. Terwyl die onderwerp van “hel” ‘n taboe kwessie geword het in die meeste kerke is dit ‘n feit dat niemand in die Bybel meer dikwels en meer skrikwekkend oor die hel gepraat het as Jesus nie! “Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.” (Matteus 13:49) Hel is volgens Jesus ’n plek waar “die wurm nie sterf nie en die vuur nie geblus word nie” (Markus 9:4) Jesus gebruik kliniese logika om aan te toon dat blote aardse gevare - soos om doodgemaak te word - niks in vergelyking is met die bedreiging van die hel nie. “Aan julle My vriende, sê Ek : Moenie bang wees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. Ek sal vir julle sê vir wie julle moet bang wees : vir Hom wat mag het om, na die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hom moet julle vrees.” (Lukas 12:4-5) 

As Jesus vandag weer op aarde moes wees, sou die meeste kerke Hom nie toelaat om daar te preek nie! 

Hoekom is Jesus so ontsettend eerlik? Hy het meer as enigiemand die mens regtig lief! Hy wil bitter graag dat ons die oordele van God gespaar bly! Jesus sal vir ons die weg na die koninkryk aanwys, of ons daarna wil luister of nie. “As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gewerp word.” (Matteus 5:29) Eerder verminking as veroordeling! 

Jesus het ook eerlik gesê dat die evangelie skeiding tussen mense en onmin op aarde gaan veroorsaak! “Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid” (Lukas 12:51) “Ek het gekom om tweedrag te bring ‘tussen ‘n man en sy vader en tussen ‘n dogter en haar moeder, tussen ‘n skoondogter en haar skoonmoeder.” (Matteus 10:35) 

Sjoe, pas hierdie woorde by die Prins van Vrede? Onthou net, sy doel is nie vrede met ongeloof, ongehoorsaamheid en sonde nie. Dis vyande wat vernietig moet word, anders vernietig hulle ons. Waar die radikale boodskap van Jesus se vergifnis verkondig word, kry mens tweeledige reaksie - aanvaarding of verwerping. Die evangelie van genade veroorsaak onrus en opstand op aarde! “Ek het gekom om vuur op die aarde aan die brand te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is!” (Lukas 12:49) Ons moenie dink ons kan vir Jesus “makmaak” om by ons sienings en voorwaardes te pas nie... 

Genade is onbeskryflik heerlik, maar ook gevaarlik as jy dit misbruik of verwerp! 

Harde dinge uit Jesus se mond! Wie kan dit verdra om na hierdie dinge te luister? Wie kan so ’n Jesus volg? Die gelese gedeelte impliseer dit eintlik reeds. (Vers 18) Die behoeftiges, nederiges, leerbares, gebrokenes, diegene wat hulle nood en afhanklikheid van Jesus besef en erken... Hulle sal in sy woorde die stem van krag en waarheid en geregtigheid en liefde hoor. Die mens wat werklik sy sondenood besef sal nie aanstoot neem nie, maar Jesus se vergewende genade aangryp! Hulle sal juis moed skep uit die feit dat ten minste iemand die erns van die menslike toestand raaksien, die vyand ken, eerlik is, nie kompromie maak nie en praat soos ’n oorwinnende Koning en ’n groot Verlosser.** Dit kom hierop neer - genade is verniet, maar dis vir die dorstiges - die wat dit regtig wil hê - meer as enigiets anders! “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17) Is jy in opstand teen Jesus se genade of is jy ‘n dorstige wat dit blymoedig aanvaar? 

(Om verder te lees oor die misbruik van genade waarteen die Nuwe Testament waarsku, kliek op  HEILIGE BALANS) 

*Jesaja 61:1 

** John Piper, “Seeing and Savouring, Jesus Christ”




Genade vir gebrokenes! ( 'n foto wat baie jare gelde deur my Pa, Johan de Koning in die Kavango geneem is.)

Vrydag 24 Januarie 2014

PLOEG ‘N BRAAKLAND

- bekering as ‘n radikaal nuwe begin. 

"Ploeg vir julle ‘n braakland!"* Dis ‘n opdrag aan die volk Israel, dis ‘n opdrag aan ons. Dis iets wat óns moet doen. Ons verantwoordelikheid! In Esegiël 26 het ons gesien wat God doen... Kliek op NUWE VERBOND. God se aksie kom altyd eerste, want selfs bekering is ‘n uitwerking in ons van sy genadewerk. En tog kan ons nooit daarby verbykom nie – bekering bly ‘n opdrag aan die mens om te gehoorsaam! 



"Ploeg vir julle ‘n braakland en moenie in die doring saai nie!" ‘n Braakland is ‘n onbenutte, onbewerkte stuk grond, gewoonlik oortrek van dorings en ander onkruid. “Ploeg vir julle ‘n braakland!” is ‘n kragtige metafoor...

Dinsdag 17 Julie 2012

ROLTRAPPE EN RUÏNES

- Rip van Winkel op Rundu.

Dit was my heerlike voorreg om verlede maand 'n reeks Pinksterdienste op Rundu in die Kavango waar te neem. Rundu was my eerste gemeente (1991-98) en die dorp en sy mense langs die pragtige Kavango rivier sal altyd ‘n spesiale plekkie in my hart hê. Dit was aangenaam om weer daar te kom, die Woord te deel, ou kennisse te sien en Vic en Milly Basson se gasvryheid te geniet. 

Maar dit was ook weer ‘n tyd van nadink, besin en herkou... Toe ek Rundu binnery in kruipende verkeersdrukte (ja, glo my!), het ek so ‘n amperse Rip van Winkel gevoel beleef. Rundu is nie meer ‘n veraf voorpos van die beskawing langs ‘n rustige rivier nie. Dis nou ‘n polsende stad. Rundu het ingrypend verander! 

Die vooruitgang op Rundu die afgelope dekade of wat is baie opsigtelik : nuwe moderne geboue, roltrappe en robotte.  Dit woel en werskaf, ‘n reuse nuwe mark word opgerig...  Die stofstraat voor die voormalige ENOK woonstelle waar ek gebly het, het onlangs ‘n splinternuwe teerstraat geword. 

Maar daar is ook minder aangename veranderings : die skrikwekkende uitroei van pragtige inheemse bome (selfs teen die skuins walle langs die vloedvlakte word dit ontbos), die verspreiding van uitheemse indringerplante, verwaarloosde tuine (mense wat die dorp nog van “army” dae geken het, sal in hulle wortels geskok wees), die hope vullis  in die strate...


Ek gooi ‘n draai by die ROK  van ouds. (Vir die wat Rundu nie ken nie, dit was die bekende Rundu Ontspanningsklub) Almal in Rundu het dié kuierplek geken, geleë op ‘n pragtige hoogte wat uitkyk oor die rivier. Vir party was dit eintlik iets baie meer as net ‘n kuierplek... amper ‘n bestaanswyse of dalk ‘n ontvlugtingsoord. Nou is dit onooglik en verwaarloos. In die proses om 'n volwaardige ruïne te word. Eintlik pateties, tragies... Ek kyk binne in. Die kroegtoonbank is nog daar, ‘n leë stilte klink in jou ore. Die plafon val inmekaar. Louw Potgieter se pragtige skildery op die muur by die ingang is swart bekrap. Rommel en nogmaals rommel... Die vergane glorie van die ROK is vir my simbolies van die mens se tydelikheid en gebrokenheid. Van verkeerde keuses en geleenthede wat vir altyd verby is. Dis hartseer om te sê, maar sommige van die gereelde ROK besoekers het destyds toe ek hier in die bediening was, hulle eie praatjies bo die Woord gekies. Nou is die ROK stil, uitgedien... en  van sy voormalige besoekers is nie meer met ons nie.

“Here, alles vergaan, maar U Woord bly ewig staan.”

Gelukkig kon ek die vreugde beleef dat daar nou nog op Rundu mense is wat begerig die Woord van God indrink en selfs op weeksaande moeite gedoen het om te kom luister. Dit was vir my heerlik om die kosbare Woord van God aan julle te bedien. Mag ons weet, dat elkeen wat na Jesus en sy Woorde luister en dit doen, sal wees soos die man wie se huis op die rots gebou is. So ‘n huis sal die storms van die tyd, verganklikheid, vervolging en die Laaste Oordeel deurstaan en permanensie kry in God se ewige Koninkryk. Wie bou op die valse sekuriteit van rykdom, losbandigheid en die najaag van selfgesentreerde ambisies se lewenshuis sal verkrummel tot ‘n bouval soos die ROK. Dis ‘n skrikwekkende werklikheid, wat selfs in hierdie lewe al in sommige gevalle  met die blote oog sigbaar is...

Rundu en omgewing het baie blyplek van goeie gehalte: Kavango River Lodge, Omashare River Lodge, Sarasungu River Lodge, Ngandu Safari Lodge, Kaisosi River Lodge...  Maar enige aardse verblyf en menslike akkommodasie is net tydelik. Maak seker van jou ewige blyplek. Dis die huis van die Vader waar Jesus vir ons woonplek gereed gemaak het deur sy genoegsame versoenende sterwe. Weet jy hoe om daar te kom? Wel, dis eenvoudig, Jesus self is die pad daarheen, Hyself is die volledige waarheid, Hy in Homself  is die lewe. (Johannes 14:6) Wie Jesus aangeneem het, deel in die volle pakket van ewige vreugdevolle verblyf.  Die woonplek waarheen Hy ons gaan neem as Hy sy mense kom haal is ‘n  onverganklike woonplek, volmaak in die heerlike teenwoordigheid van God. Anders as die ROK kan dit nooit ‘n ruïne raak nie...

Naskrif

Die tydelikheid van ons bestaan is nog verder onderstreep, toe die jarelange en getroue tuinwerker van die kerk, Irenaeus juis in die tyd van Pinkster, oorlede is.


Kroegtoonbank ROK


Muurskildery by die ROK



Die Kavango het die pragtigste inheemse boomsoorte. 
Een van my gunstelinge is die Baster Mopanie.
(Guibourtia coleosperma)


Van kosbare bome word pale gekap en met vragmotors weggery.



Moderne geboue op Rundu