BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Israel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Israel. Wys alle plasings

Dinsdag 10 November 2020

WIE IS GOD SE VOLK?

Is jy deel?

Dis beslis die grootste voorreg wat enige mens op aarde kan hê – om deel te wees van God se eie volk! Maar WIE is God se volk? Hierdie vraag is tans weer intens aktueel. Wat is die status en funksie of doel van hierdie volk! 

Die antwoorde op hierdie vrae is nie bloot van teoretiese belang nie. Dit ontbloot die kern van jou verstaan van die evangelie. En daarmee saam hoe jy die verskil tussen die Ou en die Nuwe verbond sien. Dit raak ook uiteindelik jou praktiese besluite as gelowige. Die apostel Petrus antwoord hierdie uiters belangrike vrae gelukkig baie duidelik. 

KOM ONS LEES 1 Petrus 2:9-10 

"Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. 
Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys." 

Petrus verwys amper woordeliks na ’n baie belangrike Ou Testamentiese gedeelte in Eksodus 19:4-6. ‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." 

Onthou die konteks van hierdie woorde van God. Dis God wat met sy volk Israel praat by die berg Sinai nadat Hy aan hulle genade bewys het deur hulle uit Egipte te bevry. Dis opvallend die hele volk word “priesters” genoem. Oor die algemeen in alle volke was priesters destyds ’n besondere groep mense wat direk in kontak kon kom met die godheid. 

Wonderlik! Israel as nasie is almal in hierdie sin priesters, hulle almal (ook die gewone mense) staan in ’n besondere verhouding tot die lewende God. Priesters was destyds normaalweg ’n afgesonderde groep met voorregte en pligte en so het die verloste Israel ook gedeel in spesiale voorregte maar ook verpligtinge om God se heilige volk te wees. Maar nou weet ons almal hulle het die verbond verbreek deur onheilige optrede. Dit het God se oordeel oor hulle gebring. Dit het uitgeloop op die ballingskap. 

Die profeet Hosea het hierdie oordeel van God oor sy volk in baie skerp taal beskryf. Nadat sy vrou Gomer swanger geraak het kom die opdrag aan die profeet : "Noem hom "Nie-my-volk-nie", want julle is nie my volk nie en Ek is nie julle God nie." (Hosea 1:9)

Skrikwekkend! Pynlik hartseer! Maar as mens na die hele profesie kyk is daar ‘n belofte van hoop! ‘n Belofte van herstel!

“...Tog sal die getal van die Israeliete in die toekoms wees soos die sand van die see wat nie getel of gemeet kan word nie. Waar nou vir hulle gesê word: "Julle is Nie-my-volk-nie," sal vir hulle gesê word: "Julle is kinders van die lewende God." (Hosea 1:9,10) Sien, God beloof herstel. 

Ook Jesaja 61:6 verwys na hierdie herstel! En let op die hele volk gaan priesters wees! “Julle sal genoem word: Priesters van die Here, Dienaars van ons God. Julle sal van die rykdom van die nasies geniet, die trotse eienaars word van hulle besittings.” 

OOK ANDER NASIES WORD INGESLUIT!

Hierdie herstel soos beloof in terme van die Nuwe Verbond het ook ‘n ander wonderlike faset. Iets wonderliks - ook ander nasies sal ingesluit word. Ons kry reeds 'n aanduiding daarvan in Jesaja 19:25. “Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê: Geseënd is my volk Egipte, geseënd is Assirië wat deur My geskep is, en geseënd is Israel, my eiendom.” 

God se verbondseën sal ook deur ander etniese volke gedeel word! 

En dis presies waarna Petrus hier verwys . Hy sê in effek vir hierdie voormalige heidene wat nou Christene geword het : “Julle, wat voorheen nie aan Israel behoort het nie, is nou deel van God se volk en dus ’n heilige priesterdom.” Petrus sê nie hier ‘n nuwe ding nie. Reeds by die apostelkonvent in Handelinge 15 lees ons hiervan. “Simon het verduidelik hoe dit God self is wat begin het om na die heidennasies om te sien deur vir Hom ‘n volk uit hulle te versamel. Die profete sê dieselfde. Daar staan geskrywe: Daarna sal Ek terugkom, en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou, en Ek sal sy bouvalle herstel en dit weer regmaak, sodat al die ander mense die Here kan soek, ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees, sê die Here wat hierdie dinge doen." (Handelinge 15:14-17) 

God se volk bestaan nou uit gelowiges wat Hy deur Jesus verlos het uit al die volke van die aarde! 

Nêrens word hierdie waarheid duideliker gestel as in die lied van die ouderlinge in Openbaring nie! “Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.” (Openbaring 5:9) 

So wie is God se volk? 




God se volk is nie die huidige staat Israel nie.





God se volk is nie die Boerevolk of die blanke volkere of enige spesifieke etniese groepering nie. 





God se volk is almal wat waarlik aan Jesus Christus behoort! 


Paulus laat ook geen twyfel hieroor nie : “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.” (Galasiërs 3:7) 

Net kortliks. Wat is die taak van God se volk hier op aarde? 

Petrus het reeds in 2: 5 verwys na geestelike offers. Wat word daarmee bedoel? Vers 9 verskaf die leidraad :“om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, ” (OAV), “verlossingsdade moet verkondig”, (NAB) Dit gaan terug na Jesaja 43:21! Daar lees ons - “Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig.” 

Nie meer bloedoffers nie, maar lofoffers! 

Ons doen dit deur geloofwaardige belydenis van Jesus se Naam, die verkondiging van die evangelie, die bring van lof wat fokus op God se dade en karakter soos geopenbaar deur Jesus. As jy die genade van Jesus beleef het, as jy deur Jesus se versoeningswerk deel van God se volk geword het, sal jy nie anders as spontane lof en dank aan God kan bring nie! 

Jy protesteer : "Ek kan nie goed praat nie, ek is skaam..." Gestel iemand help jou uit ’n groot verknorsing op die snelweg waar jy sonder petrol gaan staan het. Wat sal jy doen? Jy sal met verwondering daaroor praat teenoor ander mense al is jy nou nie juis ’n goeie spreker nie. Dit kom sommer net. Dit vloei voort uit jou dankbaarheid en blydskap... Die mense wat deur Jesus gered is, het as volk van God het ‘n wonderlike verlossing beleef. Vanuit duisternis tot lig! Net soos Israel destyds vanuit die duisternis van Egipte tot by die heerlikheid en lig van Sinai. Dis hoe die verlossingswerk ook in Jesaja 42:6-7 beskryf word. “Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep. Ek hou jou vas, Ek beskerm jou en Ek maak jou my verbond met my volk, my lig vir die nasies. Jy sal blindes laat sien, jy sal gevangenes uit die tronk bevry; wie in die donkerte van die gevangenis sit, sal jy laat uitgaan.” Hierdie beloftes is finaal vervul in Jesus! 

Kind van God, Hy het jou verlos uit die duisternis van sonde, Satan, dood en hel en gebring tot die ewige LIG van GOD! Hy is die lig, daarom sal daar op die nuwe aarde nie meer ‘n son wees nie! “Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ‘n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer." (Openbaring 22:5) 

Kan JY God vir jou verlossing en deelwees van sy volk LOOF? Verkondig jy God se deugde, sy goeie eienskappe en sy goeie dade! Mag HY ons help!

Vrydag 05 Oktober 2018

GOD KIES

Gelukkig nie soos ons sou kies nie! 

Verlede Sondag het ons gekyk na die aangrypende beskrywing van God se liefde in Hosea 11. Dink veral vers aan 8 : “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.” Een van die katkisante het na die tyd in die klas toe ‘n baie slim en diep vraag gevra: “Hoekom het God vir Israel so lief? Hoekom vernietig Hy ander volke, maar nie vir Israel nie?” Anders gesê: “Hoekom is Israel so spesiaal, wat maak hulle nou juis so besonders?” 

Die antwoord kry ons onder andere baie duidelik in Deuteronomium 7. Een saak is duidelik : God self het Israel uitgekies. 

Nou is daar twee vrae wat ons kan vra:
1.Wat is God se doel met hierdie verkiesing? Waartoe? 
2. Wat is die grond, die rede waarom Hy juis Israel gekies het en nie ‘n ander volk nie? Waarom? 

WAARTOE? 

Die antwoord is baie duidelik in vers 6. “Jy is ‘n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees.” Hierdie volk moet afgesonder/heilig wees vir God. God het hulle spesiaal gekies om sy besondere eiendom te wees tussen al die volke van die wêreld. Dit was sy doel hoekom Hy hulle uit Egipte gered het. God het dit reeds vir hulle gesê by die berg Sinai waar die wet sou gee. “‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." (Eksodus 19:4-6) 

Hier in Deuteronomium word die volk nou net weer aan hierdie waarheid herinner, want hulle moet nou Kanaän binnegaan en Kanaän was vol van nasies wat die allervreeslikste afgodery en gruwels bedryf het! Nou wil God hulle as’t ware net weer herinner : Onthou wie julle is, julle is spesiaal afgesonder vir my, hou julle rein, moet niks met die gruwelike praktyke van die Kanaäniete te doen hê nie! Daarom die ernstige waarskuwings in vers 3-5. “Jy mag nie met hulle ondertrou nie: jou dogter mag jy nie aan een van hulle seuns gee nie en vir jou seun mag jy nie een van hulle dogters as vrou vat nie,want hulle sal jou kinders wegrokkel van die Here af en hulle sal ander gode dien. Dan sal die toorn van die Here teen jou ontvlam en Hy sal jou gou uitdelg. "Maar wat jy met die nasies moet doen, is dit: breek hulle altare af, breek hulle klippilare stukkend, kap hulle gewyde pale in stukkies en verbrand hulle afgodsbeelde.” (Terloops hierdie opdragte het niks met ras te doen nie, maar als met heiligheid!) 

WAAROM? 

Waarom het God nou juis Israel gekies? Vers 7. “Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal.” God het Israel uitgekies net omdat Hy wou en Hy hulle liefgehad het! Israel het geen spesiale prestasies of eienskappe gehad wat hulle aantreklik gemaak of vir spesiale behandeling laat kwalifiseer het nie. Dink maar aan die bekende antieke volke : Die Sumeriërs met hulle ou beskawing en skryfkuns, die Egiptenare met hulle bouwerk en piramides,  later die Grieke met hulle filosofie en wysheid, nog later die Romeine met hulle beskawing en militêre suksesse... En Israel? Wat het hulle bereik? ‘n Klein nomadiese stammetjie van veeherders wat toe in Egipte beland en slawe geword het vir 400 jaar! Dis duidelik : God kies nie soos mense kies nie. 

God kies nie volgens prestasie of menslike maatstawwe nie. God kies nie “die cream vir die team” nie!

EN NOU? 

Moet die Goddelike uitverkiesing vir Israel agteroor laat sit en laat redeneer : “Gelukkig die Here, het ons lief, so ons kan maar leef soos ons wil!” NEE! “"Weet dan nou: die Here jou God, Hy is God. Hy is die betroubare God wat sy verbond in stand hou en sy troue liefde betoon tot aan die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam, maar Hy straf elkeen wat Hom haat, Hy bring hom om, Hy laat nie na om elkeen wat Hom haat, te straf nie. Daarom moet jy die gebod, die voorskrifte en die bepalings wat ek jou vandag gegee het, gehoorsaam deur daarvolgens te lewe.” (Deut 7:9-11) 

Die liefde en uitverkiesing van God moet as aansporing dien tot heiligheid en gehoorsaamheid! 

Hoe raak dit alles nou vir ons? Eers moet ons vra : Wie is vandag se uitverkore volk? Dis nog steeds Israel. Maar wie is nou Israel? Almal wat aan Jesus Christus behoort! Galasiërs 3:7 is baie duidelik : “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.” Jode en nie-Jode wat aan Jesus glo is nou deel van God se uitverkore volk. 

Wat is die doel van ons uitverkiesing? Nog steeds om spesiaal, heilige en afgesonder te wees vir God! Luister bietjie hier : “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees." (Efesiërs 1:3-5) 

Hoe kies God in ons dag? Hy kies nog steeds nie volgens prestasie, afkoms of belangrikheid nie! Paulus herinner die Christene in Korinte daaraan. 

 “Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. 
En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie.” (1 Korintiërs 1:26-29) 

Kom ons sê dit weer. God kies dus nie noodwendig die goeies, mooi, sterkes, rykes, belangrikes, slimmes... nie! Hy kies volgens sy genade! Hy kies sondaars... alle soorte sondaars : dronkaards, diewe, egbrekers, homoseksuele, pedofiele, plaasmoordenaars en selfs skynheilige kerkmense! Hy kies diesulkes om nou heiliges te wees! (Kliek - Getuienis van ‘n homoseksuele pedofiel) 

Die leer van die Goddelike uitverkiesing onderstreep net dat ons redding heeltemal uit genade is, sonder enige verdienste van ons kant af. Daarom, alle eer aan HOM!   Wat ‘n groot troos! Want as Christenskap oor prestasie gegaan het, wie sou ‘n kans gestaan het? Dan was daar geen goeie nuus in die Bybel vir sondaars nie. 

Die waarheid van die Goddelike guns en uitverkiesing is nie ‘n stuk studeerkamer teorie nie. Dit behoort nie die onderwerp van lang debatte te wees nie, maar die stimulus tot toewyding. Dit maak ‘n verskil in die lewens van die uitverkorenes. Die leer van Goddelike uitverkiesing uit genade alleen moet dien as kragtige aansporing om heilig te leef! Is dit duidelik uit jou gewoontes, taalgebruik, leefstyl, ontspanning en toewyding dat jy ‘n afgesonderde uitverkorene van God is? Wys jou vergifnis aan ander en jou liefde vir die Here dat jy dankbaar is vir sy onverdiende guns oor jou lewe?

IS JY REGTIG DANKBAAR EN OPGEWONDE OOR GOD SE ONVERDIENDE GUNS? 



Woensdag 13 September 2017

HARVEY, IRMA EN DIE BRANDERS…

Wat wil Jesus in sy profetiese rede vir ons sê?



“…angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe.” (Lukas 21:25)







Met Harvey, Irma, Maria en soveel ander vloede, aardbewings   (Meksiko) en rampe vars in die geheue dink mens onwillekeurig aan hierdie waarskuwende woorde van Jesus wat deel is van sy beroemde profetiese rede. (Sien Lukas 21:5ev) 

Wat wil Jesus vir ons nou sê, wat beteken hierdie dinge vir ons vandag? Ons moet myns insiens pasop vir twee slaggate as ons hierdie stuk lering van Jesus vandag oordink. Die een slaggat is om op ‘n simplistiese wyse gevolgtrekkings en berekenings te maak oor Jesus se wederkoms. Die tipe van uitlatings...“Jong, kyk hierdie klomp rampe, die wederkoms gaan beslis in 2017/18 plaasvind...” Die onlangse geskiedenis van die kerk lê besaai met die skelette van teleurstellings en mislukkings in die verband. Maar daar is ook ‘n ander slaggat - om Jesus se woorde maar net te ignoreer of te reduseer tot ‘n stuk geskiedenis wat net vir die dissipels van destyds belangrik was! Al Jesus se woorde is gesaghebbend en aktueel, nog meer so as dit nie net ‘n enkele teks is nie, maar ‘n uitvoerige stuk lering wat in drie evangelies voorkom!

NIE SO INGEWIKKELD!

Daar is min Skrifgedeeltes wat tot soveel uiteenlopende interpretasies aanleiding gegee het. Tog is die hoofboodskap eintlik baie duidelik en eenvoudig! (al sou mens bly verskil oor sommige van die detail)

Die agtergrond van Jesus se uitsprake is baie insiggewend. Die dissipels het ‘n onmiddellike koms van die koninkryk verwag!* Dinge gaan nou gebeur! Jesus het mos so pas triomfantelik as Koning, Jerusalem binnegery! (Lukas 19) 

VERWOESTING VAN JERUSALEM EN DIE WEDERKOMS

Jesus se hoofdoel met hierdie rede is om hulle verkeerde verwagtings reg te stel en hulle aandag te kanaliseer op wat belangrik is in hierdie tyd voor die finale koms van die koninkryk. Vir die korrekte verstaan van hierdie gedeelte is dit belangrik om raak te sien dat Jesus se woorde rofweg oor twee gebeurtenisse handel : Verwoesting van Jerusalem (wat gebeur het in 70 nC) en Sy wederkoms! Dis twee gebeurtenisse wat deur ‘n lang tydinterval geskei word, maar die dissipels en eerste Christene het dit natuurlik nie besef nie. So ‘n gemengde en verweefde tema is vir ons ‘n vreemde manier van praat, maar dit maak sin as mens iets verstaan van die manier waarop die Ou Testament en spesifiek die profete oor God se werkinge in die geskiedenis praat... Volgens hierdie manier van dink volg God se oordele en reddingsdade sekere patrone, want dis dieselfde God wat dwarsdeur die geskiedenis werk. Daarom byvoorbeeld word die verlossing uit Egipte, die eksodus ‘n model vir alle verlossingsdade van God, ja ook vir die verlossingswerk van Jesus! Ook in God se oordele is daar duidelike patrone sigbaar wat telkens weer herhaal word tot en met die finale oordeel.

Die eerste tema is dus die val van Jerusalem en verwoesting van die tempel. ‘n Gebeurtenis van ontsagwekkende ingrypende groot betekenis. Dit was God se oordeel oor Israel omdat hulle Jesus verwerp het. “Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: "As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie." (Lukas 19:41-44) 

Jesus wil verder nog iets belangriks sê : Die oordeel oor Jerusalem gaan ‘n skrikwekkende en dramatiese gebeurtenis wees, maar onthou dis nog nie die end nie! Pasop vir verkeerde voortydige gevolgtrekkings! Die stad en die tempel gaan wel verwoes word, maar die kerk en haar getuienis gaan voort. Dit gaan vervolging meebring en dit gaan volharding en waaksaamheid vra. Dit opsigself sou vir die eerste dissipels ‘n vreemde gedagte wees. Hulle sou dink :”Ons is mos die mense van die Messias, die Christus, ons gaan triomfeer en oorwinnaars wees! Maar wat nou, nou hoor ons van vervolging en verdrukking, hoe werk dit?” Hier kom ons dan by die verdere en groot doel van Jesus se rede. Om sy volgelinge voor te berei en te bemoedig vir die moeilike tye wat kom. Sy fokus is eintlik gerig op die tyd van wag vir die finale koms van die koninkryk.

GEEN TYDSROOSTER NIE

Jesus voorsien nie ‘n kalender met datums nie, maar ‘n wye omvattende prentjie. Die wederkoms word in terme van kosmiese tekens beskryf – son, maan, sterre. Die see word ook in besonder genoem, want in die antieke wêreld en veral vir Israel het die see geweldig vrees ingeboesem. Dit gaan dus oor meer as net letterlike tekens, eerder ‘n beskrywing van die geweldige katastrofale, verbysterende en aardskuddende karakter van Jesus se koms. Dit gaan iets wees sonder weerga. Gewone taal is nie genoeg nie. Die impak is bonatuurlik en angswekkend groots. Iets van die angs en verslaendheid waarmee Harvey en Irma gepaard gegaan het... maar nog baie meer! Daarom is gebeure soos Harvey en Irma inderdaad 'n aanmaning ("reminder") en wekroep om gereed te wees vir die laaste angswekkende GROOT DAG!

Jesus beklemtoon ook die dringendheid, sekerheid en nabyheid van die gebeure.  Hierdie dinge is nie teorie, bangmaakstories of studeerkamerpraatjies nie, maar werklikheid! Vers 32. “Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur.” Natuurlik het dit betrekking op die val van Jerusalem wat in die leeftyd van daardie geslag gebeur het. Maar daarmee saam word die werklikheid van sy wederkoms ook onderstreep. Een moontlike manier om hierdie teks te verstaan is dat dit wil sê : “In hierdie geslag nog sal hierdie dinge beslis begin gebeur, die geskiedenis het in beweging gekom en is onvermydelik op pad na die finale oordeel en wederkoms!***

PASOP!

In die lig van die werklikheid van sy koms, kom Jesus met ‘n dringende waarskuwing en oproep! Dit bring ons by die klimaks van sy boodskap! "Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos ‘n vangnet oorval nie. Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom. Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn." (34-36) 

Hoe uiters noodsaaklik vir die kerk van ons tyd om dit te hoor! 

Pasop, wees waaksaam, wees op julle hoede - veral vir twee dinge: Plesier en Bekommernis! 

Dit lei mens se aandag af, dit stomp mens af vir die werklikhede van die aanbreek van die koninkryk en gaan veroorsaak dat mense nie gereed gaan wees as Jesus kom nie! Want onthou niemand weet wanneer Hy gaan kom nie!**** Dis wat ons sien gebeur. Ons mense word meegesleur en geokkupeer deur so baie dinge... Daar is ‘n oorweldigende spyskaart van plesiere en oordadigheid! Daar is ‘n oordonderende las van bekommernisse en kwellings. Die gevolg is? Ons is altyd net té besig... met een of ander sport of vermaak...met ‘n eindelose gerondhardloop om finansiële sekuriteit te probeer verseker.

IN BIDDENDE AFWAGTING

Positief, is Jesus se opdrag – bid! Dis sy raad vir die eindtyd! 

Mense wat gereed wil wees vir Jesus se koms sal erns met gebed maak. Mense wat die wederkomsboodskap glo, gaan nie hulle lewe wy aan plesier, bekommernisse, berekenings (en stryery) nie , maar aan gebed!

Die kernboodskap en fokus van Jesus se profetiese woorde is baie duidelik : Nie berekenings nie, maar paraatheid. Nie ’n tydskema nie, maar ‘n benadrukking en onderstreping van die werklikheid van ‘n wêreldeinde, van ‘n oordeel, van ‘n dag van afrekening en beloning! Nie soseer ‘n toekomsprofesie nie, maar onderwys in Christelike gedrag tydens die tyd wat ons wag. Getrouheid in die interim tyd voor Sy koms! Hierdie getrouheid sal veral waaksaamheid en gebed behels!

VOETNOTAS

*Selfs na Jesus se opstanding het hulle nog steeds so ‘n onmiddellike verwagting van die koninkryk se koms gehad en Jesus moes hulle weer reghelp in hulle verkeerde verstaan van dinge. “Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: "Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?"Hy het hulle geantwoord: "Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld." (Handelinge 1:6-8)


** Psalm 46:2-4; 65:7; 89:9; 107:23-32 Sien die rol van kosmiese tekens in die Ou Testament in Jesaja 13:7-13; 24:18-20; 33:9; 34:1-15; Jeremia 4:23-26; Esegiël 32:7-8; Daniël 8:10; Joël 2:10, 30-31; 3:15; Amos 8:9; Nahum 1:4-5; Haggai 2:6, 21

*** Daar is natuurlik baie pogings om die term “hierdie geslag” op ‘n ander manier te verklaar, maar dis nie baie suksesvol nie. In die Nuwe Testament beteken “hierdie geslag” normaalweg die geslag van die skrywer of spreker. Die hoog aangeskrewe geleerde D.A. Carson stel dit so : “‘This generation’ . . . can only with the greatest difficulty be made to mean anything other than the generation living when Jesus spoke.” ‘n Interpretasie wat “hierdie geslag” so verstaan en ernstige oorweging behoort te geniet is as volg : It takes the verb γένηται as an ingressive aorist. The same verb is found in all three Synoptics and is translated “takes place” (Matt. 24:34; Mark 13:30; Luke 21:32). As an ingressive aorist it emphasizes the beginning of the action with the meaning “begin to take place.” All those things would begin in that generation and find their ultimate completion at the Second Advent. This fits with the idea of not being deceived by the events mentioned in Matthew 24:4-8. The Lord specifically referred to these as “the beginning of birth pangs” (v. 8). [Stanley D. Toussaint, BibSac 161:644 (Oct 2004) p. 483-86] Lukas 21:32 sou ook so vertaal kon word : “Amen/voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal beslis/glad nie tot ‘n einde kom voordat/totdat al hierdie dinge (begin) gebeur het nie.” My Gereformeerde broer Janré van Jaarsveld het met die vertaling gehelp.

**** Matteus 24:36 "Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” En die ironie is, ten spyte van hierdie duidelike uitspraak hou mense aan om die tyd te probeer bereken!


Donderdag 01 Oktober 2015

WAAR IS DIE HEILIGE STAD?

- hou jy rekening met Sion, die heilige berg, Jerusalem die heilige stad?

Sion is die tempelberg, Jerusalem die heilige stad waar God besonderlik teenwoordig is! Lees maar gerus weer deur jou Ou Testament. Dis 'n duidelike plek wat fisies op 'n landkaart aangedui kan word, dis geleë in die huidige staat Israel. So dink baie Christene... 

Maar wag 'n bietjie! Jesus se koms het baie dinge verander : ons bring nie meer bloedoffers nie, ons beoefen nie meer die besnydenis nie, ons vier nie meer die Joodse Sabbat nie... So kan mens aangaan...

Jesus het ook 'n hele nuwe betekenis en inhoud aan Sion en Jerusalem gegee.

"Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is" (Hebreërs 12:22,23)

Dis tog so duidelik! In sy kragtige oproep tot heiligmaking (vgl. 12:14), wys die Hebreërskrywer vir Christene op die feit dat die stad van God, die hemelse Jerusalem is. Dis die ontsagwekkende werklikheid waarmee ons nou moet rekening hou.

Christene word opgeroep om die hemelse Jerusalem in die oog te hou. Hierdie Jerusalem is die vervulling van al die Ou Testamentiese beloftes oor Jerusalem.

HOE MOET CHRISTENE DAN OOR DIE STAAT ISRAEL DINK?

Aan hierdie saak is heelwat direkte en indirekte vrae gekoppel : Moet Jode tot bekering kom en in Jesus glo om gered te word of dien hulle maar in elk geval dieselfde God as ons? Behoort Christene die staat Israel te ondersteun as ons geseënd wil wees? Hoe het die moderne staat Israel tot stand gekom, was dit God wat sy volk teruggebring het na die beloofde land of was daar ander rolspelers?  Hoe pas die Rothchilds in die prentjie? En wie is nou regtig God se uitverkore volk? Is die staat Israel 'n Godvresende land wat ons ondersteuning behoort te geniet?  Wat van die Palestynse Christene, is hulle nie dalk eerder ons broers en susters nie? Weet jy van die rol wat die Scoffield Bible gespeel het om baie Christene se denke rondom Israel te vorm? Waarom is Israel so 'n belangrike saak in 'n Amerikaanse presidentsverkiesing?

As jy weer oor hierdie dinge wil dink of antwoorde soek, kliek op MARCHING TO ZION  (maak jou reg vir 'n paar verrassings)*

Lees ook gerus weer UITVERKORE VOLK EN BELOOFDE LAND


NIE ANTI SEMITIES!

Moet ons die Jode liefhê? Ja, duisendmaal ja! Alle vorms van Jodehaat moet in die sterkste moontlike taal verwerp word. Ware liefde vir die Jode sal maak dat ons aan hulle die evangelie van Jesus sal verkondig (en ons moet!), maar dit vereis nie noodwendig dat ons ondersteuners van die staat Israel moet wees nie!


*Ek onderskryf nie noodwendig elke beklemtoning en nuanse in hierdie video nie, maar die geheelboodskap is m.i. Bybels.

Vrydag 15 Augustus 2014

UITVERKORE VOLK EN BELOOFDE LAND

- wie is hulle en waar is die plek?

Dis een van die opvallendste feite in die Heilige Skrif dat God ‘n uitverkore volk het. Om die identiteit van die volk vas te stel is eweneens baie maklik. Dis die volk Israel, die nageslag van Abram. “Die HERE het 'n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met 'n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.” (Deuteronomium 7:7,8)



Die volk Israel speel ‘n uiters belangrike rol in God se reddingsplan vir die wêreld en is daarom besonder bevoorreg. Paulus verwys hierna as hy sê : “Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes...” (Romeine 9:4) Israel se doel was egter altyd groter as Israel self. Dis reeds in God se belofte aan Abram, dat al die nasies in hom geseën sal word in die vooruitsig gestel.


Hierdie beloftes het in Jesus tot konkrete vervulling gekom.

Jesus het gekom om sy volk van hulle sondes te verlos soos dit duidelik in Matteus 1:21 gestel word. Hy bring dan ook die evangelie eerstens aan sy etniese stamgenote, maar in dieselfde Matteus evangelie maak Jesus dit duidelik dat sy verlossingswerk alle nasies omvat in die bekende sendingopdrag : “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Matteus 28:19)

Deur die sendingopdrag uit te voer waardeur die heidene tot bekering kom, gebeur dit dat mense buite Israel deel aan die seëninge kry wat aan Abram toegesê is!

TWEE VOLKE?

Dit laat mens met die vraag, het God dan nou twee volke? Is daar nou ‘n uitverkore Israel en los van hulle ‘n uitverkore kerk? (en is die een meer of minder uitverkore as die ander een?) Die antwoord wat die Nuwe Testament gee is ‘n duidelike nee! Wat kan duideliker wees as Paulus se dramatiese uitspraak in Efesiërs 2 - "Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word,
dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.
Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.
Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het.  (Efesiërs 2:11-14) Hierdie nuwe mensheid is die bloed gekoopte volk van Jesus, sy kerk! Voormalige heidene wat in Jesus glo is ten volle lid van God se een volk! Dis die groot verborgenheid wat nou geopenbaar is, “dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie.” (Efesiërs 3:6)

Hierdie een volk, die kerk, die Israel van God se eenheid word pragtig geïllustreer deur die beeld van die vyeboom wat Paulus in Romeine 11 gebruik. Die takke van die wilde olyf (heidene) is nou op die mak olyf ingeënt. Dis een boom! Iemand stel dit so:

Israel is nie vervang deur die kerk nie, Israel het ryp geword tot kerk! Of anders gestel, Israel is gesnoei en het gegroei tot kerk. *

Nie net Paulus nie, maar ook die apostel Petrus is baie duidelik oor wie God se volk is! Reg aan die begin van sy eerste brief word ‘n paar dramaties heerlike dinge oor hierdie kwessie kwytgeraak!

“Petrus, 'n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bithinië, uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word! Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons 'n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons...wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word....” (1 Petrus 1:1-5)

Hier word eintlik ingrypend belangrike dinge oor God se volk gesê. Onthou, Petrus skryf vir Christene wat hoofsaaklik uit ‘n heidense agtergrond kom. Hierdie heidene het geen deel gehad aan God se volk nie, totaal goddeloos en onkundig. Hulle het voorheen ‘n sinnelose lewenswandel gehandhaaf. Petrus verwys daarna in 1:18. Hulle was ten volle deel van heidense goddeloosheid en verdorwenheid soos ons kan aflei uit 4:3. Hierdie lesers was dus volbloed heidene, en nou word na hulle as God se pelgrimsvolk verwys. Hierdie voormalige heidene is nou uitverkorenes van God die Vader, geheilig deur die Heilige Gees en besprinkel met die bloed van Jesus Christus. Hulle is nou deel van Israel! En neem kennis : Jesus se koms en die redding van heidene en hulle deel word van God se volk was nie maar net ‘n nagedagte nie, maar van ewigheid af deel van God se plan en bedoeling! (“uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader”) Watter heerlike vertroostende gedagte gee Petrus sommer reg aan die begin hier aan die heiden Christene deur wat so baie vervolging moes verduur. Hulle is werklik deel van God se volk! Van ewigheid af was dit so bedoel. Hulle is wel nie fisiese afstammelinge van Abram nie, maar deur God gekies in Christus om sy volk te wees. Hierdie verloste volk is bedoel om God se spesiale mense, koninklike priesters te wees. Die parallel tussen dit wat God vir etniese Israel sê na die verlossing uit Egipte (sien Eksodus 19:3-6) en dit wat nou vir die kerk (uit alle nasies) gesê word in 1 Petr 2:9,10 is so opvallend dat net hardkoppiges dit kan miskyk!

EN DIE LAND?

God beloof aan sy volk ‘n erfenis. Hierdie belofte is reeds aan Abraham gemaak. Dit was die land Kanaän, maar die grens daarvan was so ver as die Eufraat. (in die huidige Irak) Op daardie dag het die Here ‘n verbond gesluit met Abram en vir hom gesê: "Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van Egiptespruit af tot by die Eufraat, die groot rivier;" (Genesis 15:18) Dit lyk inderdaad of Israel in die tyd van Dawid en Salomo beheer uitgeoefen het oor hierdie groot gebied. (byvoorbeeld 1 Kronieke 18:3; 1 Konings 4:21)

Die hartseer van die geskiedenis is egter dat Israel hulle erfenis verloor het weens God se oordele en selfs na die terugkeer uit die ballingskap kon hulle nooit weer die roemryke dae van Dawid en Salomo beleef nie. Die profete het egter iets heerliker en groter voorsien in terme van die Nuwe Verbond! Die beloftes wat oor die volk en die land gemaak is, het deur die koms van Jesus in vervulling gegaan. Daarom kon Jesus met gesag verkondig : “Die Koninkryk van God het naby gekom...” (Sien verder : LUGFOTO VAN DIE BYBEL)

Maar is die fisiese land Israel en die stad Jerusalem tog nie maar nog steeds baie spesiaal nie? Kyk na die feite van die Nuwe Testament. Jesus het in sy gesprek met die Samaritaanse vrou by die put dit vir eens en altyd duidelik gemaak dat ware aanbidding nie aan ‘n fisiese plek gekoppel is nie. Nie aan die berg Geresim soos die Samaritane gedink het nie, maar ook nie meer die berg Sion waar die tempel geleë was nie! Ware aanbidding is ‘n geestelike saak en geskied nou deur Jesus.

"Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ‘n mens God moet aanbid, is in Jerusalem."
Jesus sê toe vir haar: "Glo My, Mevrou, daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie.
Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode.
Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen." (Johannes 4:20-23)

Daar kan dus nooit meer iets soos ‘n fisiese tempel van die ware God op aarde wees nie! Reeds in Johannes 2 het Jesus dit duidelik gemaak dat Hyself die tempel vervang! Verbind aan Jesus is die lewende kerk nou die tempel. Dit en nie ‘n moontlike gebou in Jerusalem is die herstelde tempel waarvan die profete getuig het!

Ook Petrus het in die einste hoofstuk waarna ons reeds gekyk het (sien hierbo) uiters belangrike uitsprake oor die beloofde land (erfenis) van God se volk gemaak. Hy kontrasteer doelbewus die hemelse erfenis met die aardse Kanaän. Dit was juis die tragedie met Israel se erfdeel, Kanaän, dat dit weens hulle sonde en God se oordele, ‘n verganklike, besmette (deur hul afgodery) en verwelkte land geword het. Weens hulle ongehoorsaamheid het hulle dus hulle erfenis verloor! Nou verseker Petrus die Christene dat dieselfde nie met hulle erfenis gaan gebeur nie. Hulle erfenis, sowel as hulleself word in die krag van God bewaar en daarom is die finale hemelse Kanaän ONverganklik, ONbesmet en ONverwelklik! Dis duidelik nie ‘n plek iewers op aarde nie, maar ‘n finale heerlike bestemming, inderdaad die BELOOFDE LAND! Watter ander beloofde land kan daar dan wees, oor watter ander plek sou ons kon opgewonde raak?

Die uitverkore volk is nou die Israel van God (Jood en heiden wat aan Jesus behoort); die beloofde land is ons ewige tuiste en nie een of ander Midde Oosterse gebied nie!

(Vir 'n beter verstaan van Ou Testamentiese profesie, kliek op PADSKRAPERDRYWER?)

IMPLIKASIES?

As ons eerlik die Bybelse lering oor die uitverkore volk van God en hulle erfenis, die beloofde land aanvaar het dit wel praktiese implikasies oor hoe ons onder andere oor die magspel en konflik in die Midde Ooste sal dink. Ek noem net ‘n paar :

Huidige etniese Jode kan nie meer aanspraak maak daarop dat hulle God se uitverkore volk is nie. Jode kan wel deur geloof in Jesus weer ingeënt word by God se volk, die Israel van God, die kerk van Jesus. Die huidige Israel is in elk geval nie ‘n Godvresende land nie. Hulle verwerp nog steeds die Verlosser Jesus Christus. Baie Israeli’s is selfs ook nie eens meer getroue Judaïste nie! Trouens die vader van die Sionisme (die beweging wat die Jode se terugkeer na Israel bepleit het) Theodor Herzl was self nie godsdienstig nie. Hy het nie eers sy eie seun laat besny nie! Al hierdie feite maak egter nie dat ons etniese Jode minder moet liefhê nie - nee, ons behoort 'n sendingpassie en liefdesywer te openbaar om ook Jode van die ware Messias te vertel!

Die totstandkoming van die moderne staat Israel is soos alle gebeure van die geskiedenis deel van God se raadsplanne, maar dis nie in die lig van die Skrif die vervulling van God se beloftes oor die koms van die Koninkryk nie. (Dis wel soos die onkundige dissipels in Handelinge 1 gedink het voor Jesus hulle reg gehelp het) Hierdie beloftes is vervul deur Jesus se koms en kom daagliks tot vervulling deur die uitvoering van die sendingopdrag (ja, ook met groot liefde en passie teenoor die Jode) en groei van die kerk.

Het die Jode reg op die hele Palestina of groot dele daarvan? Dis ‘n ingewikkelde vraag, soortgelyk aan ander kwessies en strydpunte in die wêreld rondom verowering en kolonisasie. Dit kan myns insiens nie sommer simplisties beantwoord word met “Kanaän is die beloofde land” nie. Is daar regtig mense wat dink Israel moet beheer gegee word oor die uitgestrekte Midde Ooste van Egipte tot aan die Eufraat in Irak?

Die geskiedenis van Palestina is hoogs ingewikkeld. Net so ‘n paar feite. In die tyd van Jesus was Palestina onder Romeinse beheer en dit was baie duidelik dat Hy nie rewolusie en opstand aangeblaas het om weer die gebied onder Joodse bewind te kry nie. Hoekom nie? Jesus se Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie sos Hy dit duidelik aan Pilatus gestel het - “Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” (Johannes 18:36) Maar ironies dink baie Christene blykbaar vandag so en beywer hulle vir ‘n Joodse staat! Ons burgerskap is mos nie meer van hierdie wêreld nie, ons sien net uit na die koms van Jesus ons Koning as heerser op die nuwe aarde!

In 70 nC is Jerusalem deur die Romeinse generaal Titus met die grond gelyk gemaak net soos Jesus in sy oordele oor die stad gesê het. Christene se verwagting is nou gefokus op die hemelse Jerusalem. Die aardse Jerusalem het sy betekenis verloor! Daar was in die jare hierna nog steeds Joodse pogings om weer beheer oor die land te verkry, maar alles tevergeefs. ‘n Nuwe wending kom in 636 met die slag van Yarmouk. Van nou af is Palestina onder beheer van die Moslems. Die katastrofiese Kruistogte verander nie veel aan die langtermyn scenario nie, behalwe om aan "Christene" tot vandag toe 'n slegte naam in die Moslemwêreld te besorg. Die Ottomaanse ryk (Turke) verower die gebied in 1516. Die gebied kom eers na die Eerste Wêreldoorlog onder Westerse gesag en word amptelik ‘n Britse Mandaatgebied in 1922.

PASOP VIR OORVEREENVOUDIGING. Wie was in al hierdie jare die inwoners van Palestina? Voor 1850 was daar slegs ‘n handvol Jode tussen die meerderheid van Moslem inwoners. Vir die volgende paar dekades het daar wel ’n paar honderd Jode na die gebied geïmmigreer. Teen 1914 was die bevolking as volg saamgestel : Moslem Arabiere – 657 000, Christen Arabiere – 81 000, Jode – 59 000. Nou waar kom al die Jode wat vandag daar is vandaan? Hulle is immigrante wat op groot skaal uit Europa en ander Midde Oosterse lande geïmmigreer het. Die groot stimulus van hierdie beweging was die Sionisme. Hierin het Theodor Herzl ‘n sleutelrol gespeel. Hy is veral bekend vir twee boeke in die verband wat hy die lig laat sien het, naamlik Der Judenstaat en Altneuland. Hy het geglo dat die Jode hulleself uit Europa moet verwyder en hulle eie staat stig. (Interessant, Argentinië is op ‘n stadium as so ‘n moontlike plek oorweeg en later ook Uganda!) ‘n Belangrike deurbraak ten gunste van die Jode was Brittanje se ondersteuning in die Balfour verklaring van 1917. Die Tweede Wêreldoorlog en die gepaardgaande “Holocaust” het verdere stimulus aan die gedagte van ‘n Joodse staat gegee. Die VN het ‘n partisie van Palestina in ‘n Joodse en Arabiese deel voorgestaan. In 1948 het die staat Israel tot stand gekom. In die gepaardgaande oorlog het die Jode meer grond verower as wat die oorspronklike bedoeling met die partisie was. Honderde Palestynse dorpies is verwoes in wat bekend geword het as die “Nakba” (katastrofe). Hierna sou nog baie konflikte volg in 1956, 1967, 1973 ens. tot en met ons dag. ‘n Eenvoudige oplossing is daar nie. Natuurlik word als meer ingewikkeld gemaak deur Islamitiese ekstremisme soos byvoorbeeld verteenwoordig in Hamas. Die uitdaging vir Christene is myns insiens om soos in alle konflik situasies die evangelie van Jesus te bring as die enigste blywende oplossing. ‘n Eensydige en blinde ondersteuning van Israel op grond van verkeerde Bybelse interpetasies gaan nie die saak van die koninkryk onder beide Moslems en Jode bevorder nie! Christene vir wie die sendingopdrag 'n erns is sal hulle dus van beide anti-Semitisme en Arabiere haat moet weerhou! Sentimente rondom die staat Israel** en die lot van die Palestyne sal wissel na gelang van mens se eie perspektief op die ingewikkelde geskiedenis (en ons kan mekaar daardie vryheid gun), maar as Christene dink ek behoort ons konsekwent Bybels te probeer dink en die saak nie te vereenwoudig tot ‘n kwessie van ‘n “uitverkore volk” wat ten alle koste reg het op ‘n “beloofde land” nie. 

Die Bybelse boodskap is immers so duidelik - die uitverkore volk van God is nie die etniese Jode nie, (ja, ook nie Afrikaners nie), maar almal wat gewas is in die bloed van die Lam!

 Theodor Herzl (1860-1904)

*Ek kan nie meer die bron onthou nie.
** Ons Afrikaners is weens 'n verskeidenheid van redes nogal sterk pro Israelies. Een rede is omdat ons in die verlede ook die hele wêreld teen ons gehad het!

Vrydag 01 Augustus 2014

GAZA, ISRAEL EN DIE BYBEL

- hoe behoort evangeliese Christene op dié konflik te reageer?

AAN WIE SE KANT?



“Natuurlik moet Christene aan Israel se kant wees, dis mos God se volk en dis mos die land wat Hy aan die nageslag van Abram beloof het.” Tradisioneel is dit seker die meeste Christene se siening, maar is dit Bybels? Om sommer mee te begin, die nageslag van Abram is volgens die Nuwe Testament nie meer etniese Jode nie, maar almal wat in Jesus glo! “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.” (Galasiërs 3:7) Wat God vir die volk Israel gesê het na die bevryding uit Egipte, word nou in die Nuwe Testament direk net so van toepassing gemaak op die kerk. (Vergelyk Eksodus 19:4-6 met 1 Petrus 2:9-10)* As ons konsekwent Bybels wil wees, moet ons sê dat ons broers en susters (ook in die konteks van die Israeli – Palestynse konflik), nie die Jode is nie, maar die Christene! En nou mag dit dalk vir sommige nuus wees – nie alle Palestyne is Moslems nie, daar is ook Christene onder hulle. Weliswaar net so wat 'n duisend in Gaza, maar ongeveer 8% in die Wes Bank en byna 10% van Israel se Arabiese bevolking. Om outomaties altyd aan die staat Israel se kant te wees en als wat hulle doen blindelings goed te praat, hou nie rekening met hierdie feite nie. “Ja, maar die land is tog aan die Israeliete beloof en hulle het die reg om dit te vat! Volgens die beloftes van God gaan die tempel ook herbou word.” Kanaän, moet ons goed verstaan was ‘n tydelike fase in God se heilsopenbaring. God se volk, almal wat nou in Jesus glo sien nou uit na die ewige Kanaän! Die beloofde land kan dus nie sommer net klakloos gelykgestel word met die huidige staat Israel nie! Net so is die tempel van God binne die bedeling van die Nuwe Verbond, nie meer ‘n fisiese gebou nie, maar die kerk van Jesus, waarvan Hyself die hoeksteen is. Die ou tempel is vir altyd verwerp soos ons duidelik leer in Markus 11 waar Jesus dit gedemonstreer het met die vervloeking van die vyeboom. Die nuwe tempel waarna alle nasies gaan stroom volgens die profete, is die kerk, waarin daar redding deur Jesus te vind is vir alle volke! Dit het hoegenaamd niks te doen met ‘n gebou in Jerusalem nie. (Kliek ook op Ou Testamentiese profesie)

Wat moet ons as Christene se houding en boodskap wees in te midde van die skrikwekkende geweld?

Christene moet alle geweld veroordeel. Ja, die terroriste organisasie Hamas se vuurpylaanvalle teen Israel is beslis nie aanvaarbaar nie, maar net so kan Israel se oordrewe geweld teen burgerlikes allermins goedgepraat word. Elke kind van God sal ‘n vredemaker wees. Ook in hierdie konflik moet ons ‘n vredesboodskap laat hoor. Vrede wat slegs te vinde is in Jesus vir beide Jood en Palestyn.

Christene sal ‘n besondere liefde vir die Joodse volk hê, ons Verlosser was immers na die vlees ‘n Jood! Nooit sal Christene anti-Semities mag wees nie! Maar presies hoe moet hierdie liefde gestalte vind? Soos Paulus moet dit ons begeerte wees dat hulle tot redding deur Jesus Christus sal kom. “Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word...” (Romeine 10:1) Ons groot verpligting teenoor die Joodse volk is ‘n sendingplig! 

As Christene het ons egter ook ‘n sendingplig teenoor Moslems. As Christene altyd kant kies teen die Palestyne en selfs Palestynse Christene, hoe gaan ons die Moslems oortuig van God se liefde ook vir hulle? Is dit reg dat ons so blind is vir die nood van Palestyne?

As Christene het ons ‘n liefdesplig teenoor alle Christene. Moet ons nie dalk meer ondersteuning uitspreek en hulp betoon aan Palestynse broers en susters wat swaarkry nie?

Hierdie is maar net ‘n paar voorlopige basiese gedagtes. Maar dalk help dit ons om meer Skriftuurlik te dink oor ‘n baie aktuele saak.

*"Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." (Eksodus 19:4-6)

"Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys." (1 Petrus 2:9-10)

Vir meer inligting, kliek op PALESTYNSE CHRISTENE


 Gaza - PressTV

Vir 'n volledige bespreking van hierdie saak, kliek op UITVERKORE VOLK.





Donderdag 25 Julie 2013

AS GOD OOR MY JUIG!

- het ek darem seker ook rede om te glimlag en Hom met toewyding te dank.


Ons is gewoond daaraan dat God praat. Reeds by die Skepping het Hy dit gedoen...telkens in die Woord hoor ons : “En die woord van die Here het gekom tot...” God praat egter nie net nie; Hy juig ook! 

Dit staan onmiskenbaar in Sefanja 3:17. “Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.” Nou is die vraag natuurlik : “Sluit dit my in?” (hieroor moet ons groot duidelikheid kry) Kom blaai saam met my deur die profeet Sefanja.

Wat kan God so opgewonde maak dat Hy tot jubeling oorgaan? Die glans van sy eie majesteit, die heerlikheid van sy skepping, die gehoorsame engeleskaar? Wel, miskien ook, maar hier in Sefanja juig God oor sy volk. Dit klink amper ’n bietjie snaaks. Om die waarheid te sê, dit lyk eintlik heeltemal uit plek uit en vreemd as ons in ag neem hoe kwaad het hierdie volk God gemaak, hoeveel teleurstelling en droefheid het hulle goddelose optrede veroorsaak. Ja, dit laat geen twyfel nie, Juda se sonde het God diep gegrief en veroorsaak dat Hy sy toorn op sy volk uitgiet. Die profeet Sefanja praat baie duidelik hieroor. Hoor bietjie: “Ek gaan my hand uitsteek teen Juda en teen al die inwoners van Jerusalem, Ek gaan uit hierdie plek uitroei wat daar nog van Baäl oor is: die naam van die afgodspriesters, van alle priesters: dié wat op die dakke die hemelliggame aanbid, dié wat die Here aanbid en aan Hom trou sweer maar terselfdertyd ook aan Milkom, dié wat die rug vir die Here draai, na sy wil nie vra nie en Hom nie raadpleeg nie.” (1:4-6.) God het dit veral teen dubbelhartigheid! God se toorn raak nie net sy volk nie, maar gaan ook die nasies tref. “Daarom, wag vir My in vrees, sê die Here, wag vir die dag wanneer Ek opstaan en my buit kom vat. Ek het besluit om nasies bymekaar te maak, koninkryke saam te roep en op hulle my gramskap uit te stort, die volle gloed van my toorn: die hele aarde sal verteer word in die vuur van my woede." (3:8) 

’n Donker prentjie van oordeel oor Juda en die nasies! Maar God laat dit nie daar nie - Hy is toegewyd aan en verbind tot sy volk Israel. Sy verbond vergeet Hy nooit nie. En via sy verbond met Abraham is Hy ook toegewy om die nasies van die wêreld te seën. Die donker oordeelsuitsprake in die eerste dele van Sefanja vorm ’n duidelik kontrasterende agtergrond met die heerlike wending wat in 3:9 kom. “Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak, sodat hulle almal My sal aanroep en soos een man My sal dien.” Te midde van die oordeel doen God ’n genadewerk, Hy verander mense sodat hulle Hom sal dien. Hierdie begenadigdes is die ootmoediges/nederiges - destyds en ook vandag. Die wat hulle onder God se hand verneder. Die wat die oproep in 2:1-3 ernstig opneem. “Ruk julle reg, onbeskaamde nasie, voordat die besluit voltrek word, voordat die dag kom en julle soos kaf word voor die gloed van die toorn van die Here, voordat die dag van die toorn van die Here oor julle kom.Vra na die wil van die Here, alle nederiges in die land, almal wat doen wat die Here wil. Streef na geregtigheid, na nederigheid! Miskien bly julle die straf gespaar op die dag van die toorn van die Here.” Dis duidelik wat besig is om te gebeur deur die verkondiging van die evangelie. Die heerlike evangelie boodskap smelt mense se harte en lei tot bekering en geloof. Die gesuiwerde volk van God is inderdaad die wat in nederigheid en ootmoed op die Here vertrou en ook lewensverandering toon... “Dié wat van Israel oorgebly het, sal nie onreg doen nie en nie lieg nie; daar sal uit hulle mond nie valsheid kom nie. Hulle sal ‘n kudde wees wat wei en gaan lê en rus sonder dat iemand hulle skrikmaak.” (3:13) In hierdie proses word die nasies van die wêreld  ook begenadig sodat hulle God met rein lippe kan dien. (3:9) Dis hierdie skare mense wat ’n nuwe lied tot lof van die Lam sal sing. (Openbaring 5:9,10) Sefanja se profesieë gee nie spesifieke tydsaanduidings van die oordeel van God en die redding van die nasies nie. Moontlik dek sy profesieë ’n hele tydperk van oordeel en katastrofes, maar ook van God se genadewerk. Redding en oordeel vind gelyktydig plaas. Dis opmerklik hoe hierdie twee sake saamloop in die heilsgeskiedenis. God verdelg die goddelose mensdom deur die sondvloed en terselfdertyd word Noag en sy familie gered. Net so, terwyl die oordele van God vir Egipte tref in die vorm van die plae, word sy volk verlos. Dis in ’n sekere sin ook waar van hierdie bedeling van evangelieverkondiging waarin ons nou is - vir sommige is dit ’n doodsreuk -  met ander woorde, oordeel, vir die wat glo is dit ’n lewensgeur – vreugdevolle redding! Met die koms van Christus sal oordeel en verlossing ook saamgaan... Terwyl sommige sal hoor : “Gaan weg van my julle vervloektes”, sal ander vreugdevol uitgenooi word : “Kom  julle geseëndes..!”

God red heidene om Hom te loof, maar Hy suiwer ook sy eie volk. (3:13) Vanuit die Nuwe Testament weet ons baie duidelik dat die heidennasies en die oorblyfsel van Israel uiteindellik een volk vorm - ’n gesuiwerde ware Israel, die Israel van God. (Galasiërs 6:16)* Die middelmuur van skeiding is afgebreek deur Jesus Christus. (Efesiërs 2:11-16) Let op : “tot een liggaam verenig” Alle gelowiges uit die heidennasies is nou deel van God se een volk Israel! 

Dit bring mens by ’n wonderlike gevolgtrekking : 

As God juig oor sy volk in vers 17 dan sluit dit ons in wat vandag deel is van die kerk van Jesus Christus! Ja, God juig oor jou!

Kind van God, God juig oor jou, Hy is opgewonde en bly oor jou. Hy is tevrede met jou. Hy is gevul met liefde vir jou... Ja, want in Jesus het Hy jou heeltemal vergewe, en volledig aangeneem as sy eie kind. Die engele juig oor elke sondaar wat hom bekeer, dit is ’n baie bekende feit - maar hier leer ons: God juig ook! Kom luister weer hoe God oor jou voel, glo dit, want dis sy Woord. God sing, juig oor jou! Ja, jy! 

Dalk klink dit vir jou vergesog - God is tog volmaak en algenoegsaam in Homself, kan Hy regtig so opgewonde en bly raak oor mense dat Hy juig oor hulle? Wel, dis wat hier staan. Ook op ander plekke word dit bevestig dat God positief emosioneel betrokke is by die welsyn sy volk. (Sien Jeremia 32:41 - God geniet dit om goed te doen aan Sy volk; Jesaja 65:19 - God sal jubel oor Jerusalem!)

Jy dink dis wonderlik, maar miskien is daar tog nog vrae wat pla. Kom ons bekyk hulle:

~ Miskien is jy nog steeds skepties. Jy wonder : “Ja, in beginsel is dit seker moontlik dat God oor sy mense juig, maar hoe kan God bly wees oor my, wat van al my skuld en sondes en mislukkings? Ek verdien net straf en oordeel..."
Wel, wil jy nie glo wat God in vers 15 sê nie? “Die Here het ’n einde gemaak aan jou straf” Ons weet Jesus het ’n vervloekte geword in ons plek sodat ons geseën kan wees! Hy het sy verlosdes se straf volledig gedra, daar is niks oor om te straf nie! Moet ons nie maar God se Woord glo nie?

~ “Ja, maar hoe kan God oor my bly wees, ek voel asof Hy so ver is?” Sê wie? God is nie vêr van jou nie. In vers 15 lees ons : “Die Koning van Israel, die Here, is by jou; jy hoef geen ramp meer te vrees nie.” Ook vers 17a! “by jou” Dit laat mens dink aan Jesus wat sê : “Ek is met julle.......” Moet ons Hom nie glo nie? HY is by ons!

~ “Ja, maar hoe kan ek dit glo dat God oor my bly is, ek beleef soveel hartseer, swaarkry, teenstand van vyande...” Hoor God se beloftes in vers 18. “Ek maak dié bymekaar wat treur, ver van die feestelikheid af, dié wat uit jou uit kom en ter wille van jou die smaad gedra het.” Is dit nie die waarheid wat Paulus ook bevestig as hy sê : “Niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie...” Het jy al die vergifnis in Jesus aanvaar? Weet dan : God juig oor ons, Hy het ons skuld weggeneem en berei ’n nuwe toekoms vir ons. Dis waar ongeag ons huidige omstandighede. Dit gee vir ons rede om ook te juig. Trouens dis eintlik ’n opdrag. “Sing, Sion! Juig, Israel! Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem!” (3 :14)

Nog ‘n paar praktiese gevolgtrekkings :

God, met respek gesê is nie ’n koue gevoellose rekenaar nie. Ja, God is selfgenoegsaam in Homself, Hy het ons nie nodig om iets in sy persoon aan te vul nie, maar dit beteken nie dat Hy onbetrokke is by mense nie. Ons verlossing is nie vir Hom bloot ’n koue kliniese saak nie. Ons redding is nie maar ’n meganiese afloop van sy besluite nie. Die verlossing van elke mens is ’n persoonlike genadedaad en liefdeshandeling van God Drie-enig en dit maak Hom bly! Hy is ’n persoonlike God wat in ’n verhouding staan met sy volk. Op verskillende maniere vind hierdie heerlike waarheid uitdrukking : God is ons Vader, ons is deel van die huisgesin van God, ons is die bruid van Jesus…

God laat ons ook nie half teësinnig in sy Koninkryk toe nie. Dis nie kwessie van: “Ja toe, kom maar in, ek het julle oorgesien” nie. Hy juig oor ons! Ons bring vreugde in sy hart. Uit die gelykenis van die Verlore seun kan ons iets agterkom oor hoe God voel oor sondaars wat huis toe kom : ons kry ’n ring, die vetgemaakte kalf word geslag en daar word partytjie gehou! Dit alles is natuurlik moontlik omdat Jesus die volle prys betaal het. Ja, God kan juig want daar bly nie sonde oor wat nog gestraf moet word ten opsigte van Sy kinders nie. Daarom kan Paulus so triomfantelik wees in Romeine 8:31ev. Daar is ’n tipe van ’n valse nederigheid wat te veel fokus op my eie sonde en te min bly is oor die volle vergifnis en dus die volle aanvaarding en versoening wat Jesus bewerk het. Ons moet pasop vir ’n geringskatting van Jesus se werk aan die kruis of dink dat Jesus ast’ware toelating tot die koninkryk uit God gepers het. Onthou, God self het die versoening bewerk deur Jesus Christus! Dis Sy, die Vader se inisiatief!

Ons gevoelens en emosies moet nie afhanklik wees van ons omstandighede nie, maar van hierdie waarhede wat ons verneem uit Sefanja se mond : God se vergifnis wat Hy skenk, God se teenwoordigheid, God se reddende heldekrag, God se beloftes van ’n nuwe toekoms. Hoor weer ‘n slag hoe voel God oor sy mense wat Hy verlos. Wees verseker, die God wat oor jou juig en bly is gaan jou nie in die steek laat nie.

Gaan jy glo en bly wees?

* “En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!”