BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Kalm vertroue. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kalm vertroue. Wys alle plasings

Woensdag 22 April 2020

BELOFTE IN BENOUDHEID

- Die Wuhanvirus wys dalk of ons regtig glo! 


Glo ek en jy regtig God se beloftes? Ek dink ons word deur ons huidige moeilike omstandighede getoets, spesifiek ook wat betref God se beloftes van finansiële versorging en materiële bystand. Sommige verloor hulle werk in hierdie tyd van paniekerige regeringsoptrede, ander se inkomste is drasties gesny... Glo jy wat hierdie moeilikheid in die gesig staar, die wonderlike belofte in Hebreërs 13:5? Dis waar God self belowe: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie." Jy sal sien dit word in ‘n finansiële konteks gesê! 

WYER KONTEKS 

Geen belofte staan natuurlik in isolasie nie. Kom ons kyk dus net eers na die groter konteks van die Hebreër brief. Mens sou kon sê dat die brief/preek aan die Hebreërs juis geskryf is vir Christene in moeilike en benoude tye. Daar was die gevaar van afvalligheid, van afdwaling en moedeloosheid. Gelowiges wat die handdoek wou ingooi. Daar was mense met die spreekwoordelike “slap hande en lam knieë”. Dit was moontlik die gevolg van ook fisiese swaarkry. Party is van hulle goed beroof en dit lyk ook asof sommige van hulle in die tronk gegooi is. 

Die sentrale boodskap van die Hebreërbrief skrywer aan hierdie Christene was : HOU VAS AAN GOD SE BELOFTE OOR JESUS DIE VOLMAAKTE HOËPRIESTER. Jesus is God se finale openbaring aan die mens. (Hebreërs 1:1) Jesus oortref die engele by verre in heerlikheid en majesteit. Hy is God! Jesus vervang al die offers, die tempeldiens en hoëpriesters van die Ou Verbond. Hy is die Middelaar van die Nuwe Verbond – ‘n beter verbond met beter beloftes! Hy het self die pad na God vir ons oopgemaak. Hyselfs is die nuwe lewende Weg! Ons kan weet Hy het medelye met ons, ons kan deur Hom met vrymoedigheid na God se genadetroon gaan. 

“Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 

Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 

Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” 

(Hebreërs 4:14-16) 

ONMIDDELIKE KONTEKS 

Hier aan die einde van die brief vind in hfst. 13 vind ons ‘n paar kort praktiese sake, OPDRAGTE wat eintlik verskeie aspekte van ons lewe as gelowiges dek en wat juis baie sin maak in die konteks van moeilike tye: 


Beoefen broederliefde. Dis so kosbaar in moeilike tye. Dis ‘n opdrag wat ons nie moet vergeet nie. Pasop dat hierdie uitmergelende tye van inperking en frustrasie jou nie in ‘n dop van selfsug en selfbejammering laat kruip nie. Reik uit na ander deur broederliefde. Dis nie bloot ‘n gevoel nie, maar om ander prakties te help… (vgl. 1 Johannes 3:16ev) Daar is positiewe krag en genesing in broederliefde, nie net vir die wat die ontvangers is nie, maar juis ook vir diegene wat dit gee… toets dit maar! 

Bewys gasvryheid. In moeilike tye moet jy juis jou hart en huis oopmaak vir ander. Ook wat vreemdelinge betref. Die skrywer gee ‘n spesiale aanmoediging tot gasvryheid deur te verwys na Abram wat niksvermoedend engele ontvang het. Die bedoeling van die skrywer is natuurlik nie om te spekuleer of die persoon voor jou deur ‘n engel is of nie. Die punt wat hy maak is, is dat sommige van jou gaste ware boodskappers van God gaan wees wat groter seën vir jou gaan gee as wat hulle van jou ontvang! 

Betoon opregte medelye met diegene wat swaarkry selfs ook die wat in die tronk gegooi is. Sien vriende, weereens, die fokus moet nie op onsself wees nie, maar op ander en hulle nood! 


Bewaar en respekteer die heiligheid van die huwelik. Moeilike tye plaas huwelike en sedes onder druk. Egskeidings kom al hoe meer voor. Internet pornografie is ‘n groter versoeking as ooit. Huishoudelike geweld word algemeen. Mense kan redeneer ons kan nou maar ons eie reëls maak. Hier word twee woorde gebruik naamlik ontugtiges (pornous) en egbrekers (moigous). Dit gaan dus oor meer as net owerspel of egbreuk in die eng tegniese betekenis, maar oor die hele spektrum van ongeoorloofde seksuele verhoudings. Die erns word onderstreep deur die spesifieke vermelding dat die oordeel van God oor hierdie mense sal kom! Dis iets wat die meeste mense (selfs binne die kerk) hulle weinig aan steur. 

Bekeer jou van gierigheid. Hoe groter die nood, hoe groter is die gevaar vir gierigheid en vertroue op geld. Paniek en selfsug neem so maklik oor! MAAR LUISTER NOU! Juis hier vind ons hierdie heerlike belofte van God se nabyheid en bystand binne die raamwerk van geldsake. Belangrik - die belofte kom saam met ‘n duidelike waarskuwing en opdrag. 

Hou jou lewe vry van geldgierigheid. Jesus se waarskuwing word in ander woorde herhaal : Julle kan nie God en Mammon dien nie! (baie probeer, maar dit bly vandag nog steeds onmoontlik) 

Die opdrag gaan oor tevredenheid, vergenoegdheid. Ook in moeilike tye wanneer die skoen druk, moet ons tevrede wees. TEL JOU SEËNINGE, DOEN DIT SOMMER NOU! Dink bietjie... Onthou ‘n slag... Tevredenheid gaan saam met vertroue op God. Ek vertrou Hom en ek is tevrede met dit wat Hy vir my gee op hierdie stadium van my lewe. Maar juis dan en net dan kan ek verseker wees van sy sorg en nabyheid en hulp. Hy sal my nooit as te nimmer verlaat nie. Nooit, ooit in die steek laat nie! 

DIE HERE IS MY HELPER! 

En wat is die heerlike gevolg as ek kies om hierdie belofte van God se versorging en bystand te glo? ‘n Triomfantelike sekerheid en vreesloosheid! Vers 6 - “Daarom kan ons met vertroue sê: "Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?" 

Ja, moeilike tye is inderdaad nooit maklik of lekker nie, maar ook in moeilike tye kan God se kind heilig wees en in dankbaarheid lewe sonder vrees! Die geheim is : GLO GOD SE BELOFTES! Maak erns met die beloftes en die hele konteks waarbinne dit staan! Gaan kyk weer met nuwe oë na God se beloftes en vind so vrede! 

NASKRIF Ek wil net sommer van hierdie geleentheid gebruik maak en aan alle broers en susters wat ook deur hulle gawes God se werk ondersteun en spesifiek ook ‘n helpende hand uitreik na diegene wat behoeftig is, Paulus se woorde aan die Christene in Filippi toebid : “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” (Filippense 4:19) AMEN

Saterdag 03 Oktober 2015

SUIWERING BY SARFAT

- voorberei vir die krisis van Karmel!


Ons het gesien hoe God vir Elia in die VELDSKOOL gesit het by die Spruit Krit. (1 Konings 17) Daar moes Hy vertroue, afhanklikheid van God en gehoorsaamheid leer. Dis nog steeds God se manier om elkeen van sy kinders te leer : God haal ons uit ons gemaksones en plaas ons in moeilike omstandighede om vir ons geloofslesse te leer.

Die spruit het nou opgedroog, so Elia kry nou sy volgende opdrag in sy veldskoolopleiding.

“Toe het die woord van die Here weer tot Elia gekom en gesê: "Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ‘n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg." (8,9)

PASOP VIR PANIEK!

Dis belangrik om raak te sien. Elia tree nie paniekerig op en maak sy eie halsoorkop planne toe die spruit opdroog nie. Hy beweeg eers toe God ‘n duidelike opdrag gee. Dis ‘n groot gevaar dat ons paniekerig en impulsief sal optree. Soveel het al in die verlede hier uit die bus geval. Dink maar aan : Abram (Hy val vir die plan om by Hagar ‘n kind te verwek toe dit lyk of God se belofte oor ‘n nageslag nie waar wil word nie), Moses (hy raak ongeduldig en slaan die rots), Saul (hy word paniekerig toe Saul nie betyds opdaag nie en doen die sonde om self ‘n offer te bring)

In ‘n krisis gryp mense graag na enige strooihalm en doen dan dinge wat teen God se wil is: Sommige val vas in finansiële moeilikheid en raak dan betrokke in oneerlike of twyfelagtige besigheid, ander beland in een of ander penarie en lieg en bedrieg om daaruit te kom, dit gebeur ook dat party mense tydens ernstige siekte of ‘n ander krisis so desperaat raak en dan selfs hulp gaan soek in okkultiese praktyke soos sangomas of spiritiste (kliek op DOF SOOS DIE DOOD), vir nog ander raak die eensaamheid so erg dat hulle hulself in ‘n vinnige huwelik of buite-egtelike verhouding begewe wat uiteindelik net tot nog groter smart en ellende lei! Wees waaksaam! Neem alle besluite volgens die beginsels van die Woord!

GOD HET JOU NIE VERGEET NIE

God het nie sy kneg by die spruit vergeet nie, al sou dit so kon lyk. (en al het dit dalk al vir ons ook so gevoel)  Onthou Hy is besig met Elia in sy veldskool. Hy stuur Elia na Sarfat. Die naam hou verband met suiwering en inderdaad sou dit die plek wees waar Elia gesuiwer sou word!

Dis opvallend, hierdie dorpie is juis geleë in die gebied waar Elia se grootste vyand, Isebel vandaan kom. Hierdie is Baäl se hartland. ‘n Stukkie ironie - God gee aan Sy kneg ‘n wegkruipplek juis binne die vyand se gebied. Hierdeur word God se mag en oppergesag bo Baäl nou reeds aangetoon. 

Net so merkwaardig is die spesifieke persoon na wie God besluit om Elia te stuur. Nie ‘n ryk sakeman nie, maar ‘n brandarm weduwee! God werk en dink op ‘n totaal ander manier as die mens. By wyse van spreke - God stuur Elia weer nie na ‘n rivier nie, maar na ‘n “spruit” - ‘n weduwee met baie beperkte vermoëns, ‘n baie onsekere, prekêre situasie.

GEEN TOEVAL

Onthou Elia weet nie na watter weduwee om te gaan nie. Hy het nie haar adres nie en daar was moontlik baie weduwees in Sarfat. God reël egter self die ontmoeting! Ons kry in die gedeelte ‘n duidelike voorbeeld van hoe God se voorsienigheid werk. Daar is nie iets soos toeval nie! Let op die “juis”. “Daarop het hy hom gereedgemaak en na Sarfat gegaan; en toe hy by die ingang van die stad kom, was 'n weduwee juis besig om daar houtjies bymekaar te maak. “En hy roep haar en sê: Gaan haal tog vir my 'n bietjie water in die kan, dat ek kan drink.” (vers 10 OAV) God werk van beide kante af - Elia kry ‘n opdrag en ‘n weduwee soek hout. Daar is nie iets soos die noodlot nie, God bestuur die “noodlot”en daarom is dit nie noodlot nie. Ons kan baie voorbeelde uit die Skrif noem : Josef beland juis saam met die skinker in die tronk. Dink aan Ester se geskiedenis. Koning Ahasveros kan nie slaap nie en daar word juis van Mordegai se heldedaad vir hom gelees op ‘n tydstip toe Haman Mordegai se dood beplan! In Handelinge 8 word Filippus gestuur na die man op die wa en hy is juis besig om uit Jesaja te lees! Kornelius stuur mense na Petrus en God berei hom voor deur ‘n droom juis net voor hulle kom! Kyk terug op jou lewe en sien raak en dank God vir Sy Voorsienigheid in jou lewe!

DIEP GETOETS

Hierdie opdrag is weereens ‘n groot toets vir Elia.

‘n Groot toets vir sy gehoorsaamheid. Hierdie bevel van die Here druis in teen Elia se geestelike ingesteldheid en sy natuurlike gevoelens as Israeliet. Hy moet sy vaderland verlaat en in ‘n heidense land gaan skuil - die sentrum van Baälaanbidding. 

Dis ook ‘n toets vir sy nederigheid. Hy, die groot profeet moet ‘n arm weduwee in die oë gaan kyk, afhanklik van ‘n vrou word. Om alles te kroon, hierdie arme vrou het self nie eers kos nie! Kan jy jou indink watse verleentheid moes dit vir die profeet gewees het? Elke stukkie ego wat Elia sou kon hê, is nou aan flarde geskiet! Hierdie is egter weereens ‘n klassieke bewys dat God die grootste verleentheid kan omskep in ‘n wonderlike geleentheid.

Elia het nou al geleer om nie meer na die sigbare te kyk nie, maar vir God raak te sien en in ag te neem. Deur praktiese ondervinding het Elia geleer dat God onder alle omstandighede getrou is en daarom kan hy hierdie vrou gerus stel. 

Elia se geloof in God word nie beskaam nie. God doen wonders. Die meel en die olie word nie minder nie! (Corrie ten Boom vertel van hoe hulle ‘n bottel vitamine druppels gehad het wat nooit opgeraak het nie totdat een van die gevangenes ‘n bietjie suurdeeg uit die kamphospitaal geneem het en toe gee die bottel in) 

KAN DIT NOG ERGER GAAN?

En nou gaan alles weer goed. Daar is genoeg kos en daar is rus en vrede. Maar dan gebeur hierdie ontsettende ramp! Die weduwee se seun sterf! Sou daar iets erger kon gebeur? Kan jy ‘n patroon begin raaksien? Kan jy agterkom hoe God se veldskool werk? Jy word uitgevat uit jou gemaksone en binne-in ‘n krisis geplaas. Dan moet jy glo en gehoorsaam. Dan word die krisis opgelos. Maar net sodra als weer rustig is, kom daar ‘n nuwe krisis wat jou weer uit jou gemaksone uitskud!

Hierdie is nou ‘n vreeslike krisis en verskriklike verleentheid. Kan jy dink hoe moes Elia voel? “Wat moet ek vir hierdie arme vrou sê? Is dit nou hoe God haar vir haar gasvryheid beloon?” Alles het so goed gegaan. Vanuit die oogpunt van die vrou het sy waarskynlik gedink dis die einde van al haar probleme en nou dit, die ergste moontlik wat kon gebeur het gebeur. Juis vir haar as weduwee was dit ‘n vernietigende slag. Dit lei tot ‘n verwytende uitbarsting van die vrou. Elia self kry die skuld! “Toe sê sy vir Elia: "Kyk wat het u my aangedoen, man van God! Het u na my toe gekom om my sonde aan die lig te bring en my seuntjie daarom te laat doodgaan?" (18) Dit moes diep gesny het in die arme Elia se siel!

KALM VERTROUE OP GOD

Wat staan Elia nou te doen? Hy reageer kalm op die uitbarsting van die vrou. Hy verdedig nie homself nie, argumenteer nie met haar nie, maar neem sy toevlug tot God. Hy bid ‘n hartstogtelike vurige gebed. God doen die wonder. (Terloops Elia het hom nooit uitgegee en geadverteer as ‘n wonderwerker en opwekker van dooies nie! Dis ‘n unieke pad van uiterste selfvernedering waarop God self hom gelei het.) Elia moes op ‘n besondere manier prakties beleef dat God die God is wat lewe gee, nie Baäl nie. Die wonderwerk gee aanleiding tot ‘n belydenis van hierdie vrou. Sy erken die Here en Sy ware profeet. Haar woorde bring eer van God se Naam nie, maar dis nie al nie, dis ‘n bevestiging van Elia se roeping. “Die vrou sê toe vir Elia: "Nou weet ek dat u ‘n man van God is, en dat wat die Here deur u sê, die waarheid is." ( 24) Elia ontvang as’t ware sy legitimasie uit die mond van hierdie vrou! Dis ongetwyfeld die klimaks in hierdie gedeelte van die verhaal. Elia is nou gereed vir die groot uitdaging van Karmel! 

NIKS IS VIR GOD ONMOONTLIK NIE!

God was besig om Elia in die veldskool van “Sarfat” te reinig van selftrots, hoogmoed, vooroordele. Meer nog. Hy moes ook prakties leer dat God alleen oor lewe en dood beskik en dat niks, maar niks vir Hom onmoontlik is nie! Dat gebed waarlik 'n verskil kan maak. Hierdie oortuiging sou hy baie nodig kry op Karmel, waar hy teen die duister magte van die Bose sou moes kragte meet!

Kind van God, Hy is besig met jou in sy veldskool. Gaan jy Hom vertrou, gaan jy gehoorsaam, gaan jy jou hart voor God uitstort, of gaan jy paniekerig raak en dwase dinge doen?

Kom ons buig voor God se wil, al maak dit nie sin nie, al verstaan ons nie, dis ons liefdevolle Vader wat besig is met ons!

[erkenning aan AW Pink, Elijah]