BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Valse sekerheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Valse sekerheid. Wys alle plasings

Donderdag 13 Februarie 2020

HOENDER OF EEND?

- DIE NOODSAAKLIKHEID OM GELOOF DEUR DADE TE BEVESTIG 




Jy wil ‘n hoenderhaan koop… Die werf kort immers ‘n windmaker haan. Jy adverteer op Facebook en Whatsapp. Iemand reageer, julle kom op ‘n prys ooreen en hy bring vir jou jou splinternuwe hoender! Jy vat die gevoëlte by hom, maar dan is jy in vir die eerste verrassing! Die hoender se bek is plat, nes ‘n eend s’n. Kan dit wees? Jy kyk na die pote, weereens iets baie snaaks... dis sulke plat gewebde pote. Eienaardig. Jy sit vir “hoender” op die grond neer en hy begin loop met ‘n tipiese waggel-waggel eendestappie! Voorwaar vreemd! En dan kom die eerste geluide... nie ‘n gekraai nie, maar ‘n gekwaak. “Hoender” kry nou spoed en peil af op die naaste visdammetjie... Kaplonks, binne in die water en begin gemaklik swem. Wel, wat moet nou nog gebeur? Wanneer gaan jy die logiese gevolgtrekking maak? As iets ‘n eendebek, eendepote en eendestem het. As al die gedrag eendegedrag is... Dan is dit mos ‘n eend! Jy is mislei deur die hoenderverkoper! 

Hierdie is ‘n beeld van baie mense se geloof. Hulle woorde en geloofspraatjies kom nie ooreen met die sigbare werklikheid van hulle gedrag nie. Daar is geen korrelasie tussen geloof en die werke nie! Hulle beweer oom Christene te wees, maar die leefstyl skreeu iets anders...

Die verhaal raak byna oorbekend...“Ja, ek het my “hart” vir Jesus gegee toe ek twaalf was. Ja, ek het my geloof bely toe ek agtien was. Ja, ek het ‘n wonderlike ervaring by die mannekamp gehad... maar intussen flirt ek van die een verhouding na die ander, (tussendeur is daar dikwels ook nog ‘n buite-egtelike kind gevolg deur 'n stroom entoesiastiese gelukwensings op Facebook), my dronk pelle is vir my baie aangenamer as die ware kinders van God, vuil grappe is baie interessanter as Bybelstudie, dis baie makliker om Saterdagaand by een of ander drinkplek te kuier as om Sondagoggend kerk toe te kom, dis vir my baie meer natuurlik om die f-woord te gebruik as om te bid, ek maak orals skuld want my lewe het nie brieke nie….. maar ja ek is nog steeds ‘n Christen! Ek het mos lank terug vir Jesus gekies. Ek is seker van my saligheid...” Nee, vriend, hoor mooi! Jou Christenskap is ‘n illusie. Jou sekerheid is 'n valse sekerheid. Dis juis hierdie illusie en selfbedrog wat Jakobus in Jakobus 2:14-26 wil hokslaan en uitroei. 

Pasop vir selfbedrog. As jou dade deurlopend jou Christenskap weerspreek, is jy nie ‘n Christen nie! 

NUTTELOSE DEMONIESE GELOOF 

Geloof sonder sigbare en lewensveranderende effek is nuttelose geloof. “Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red?” (14) Nog erger dis duiwelse geloof! “Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs.” (19) Die demone glo ook God bestaan, maar dit beteken nie hulle is gered nie. As jou geloof nie iets anders is as die geloof wat die duiwels ook het nie, gaan jy in dieselfde plek brand as waar die duiwel brand. 

Nou wat dan? Is geloof dan nie absoluut belangrik en deurslaggewend nie? Ja, natuurlik as daar nou een saak is wat die Nuwe Testament duidelik stel is dit redding deur die geloof alleen. 

Die Skrif is absoluut duidelik oor die belangrikheid en genoegsaamheid van geloof. Dit was Jesus self wat dit onomwonde gestel het : “Hulle vra Hom toe: "Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?" En Jesus antwoord hulle: "Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het." (Johannes 6:28,29) Wat ‘n wonderlike vertroostende waarheid! 

Maar veral ook Paulus stel dit so duidelik o.a. Romeine 4:1-5, 5:1* en baie ander plekke. 

PAULUS EN JAKOBUS 

Maar wat nou van Jakobus? Weerspreek hy vir Paulus? Nee. Paulus en Jakobus skryf binne twee verskillende kontekste. 

Paulus praat met mense wat dink hulle kan gered word deur die wet van Moses te onderhou. Veral in Galasiers en Filippense praat hy met mense wat dink dis noodsaaklik om by die geloof ‘n Joodse praktyk van die Ou Verbond, naamlik die besnydenis by te voeg. Daarom beklemtoon hy, geloof alleen! Niks van ons eie verdienste kan ons red nie. Niks van ons goeie dade en wetsonderhouding kan vir ons verlossing verdien nie. Paulus praat dus met mense wat onsekerheid beleef omdat hulle nie weet of geloof in Christus voldoende is nie. Hulle wonder of hulle iets ekstra moet doen om gered te word. Paulus verseker ons, geloof in Jesus is genoegsaam vir redding! 

Jakobus praat met mense wat die gevaar loop om met ‘n teoretiese verstandelike geloof tevrede te wees. Hulle maak die regte geluide oor geloof, maar hulle lewens wys dat hulle nie kinders van God is nie. In terme van ons inleidingsbeeld : Hulle beweer hulle is hoenders, maar hulle karakter en optrede wys hulle is eende. 

Geloof alleen red ons, maar ware reddende geloof bly nie alleen nie! 

Ware geloof in Jesus dra vrug, dit het ‘n effek, dit lei tot goeie dade van heiligheid.. Dit bring lewensverandering. Jakobus gebruik twee voorbeelde om die belangrikheid van werke te onderstreep. Die van Abram (21) en Ragab (25). Beide se praktiese optrede het bewys dat hulle geloof eg was. Omdat Abram geglo het, was hy bereid om Isak te offer. Omdat Ragab geglo het, het sy die verspieders weggesteek, al was dit lewensgevaarlik! Hulle geloof was nie net 'n saak van die mond en die teorie nie, maar van dade!

Op verskeie plekke in die Skrif vind ons die onlosmaaklike verband tussen geloof en werke: 

Efesiërs 2:8-10 – Ons word net uit genade gered deur geloof, maar so word ons juis nuutgemaak om ons lewens te wy aan goeie dade. 

Handelinge 16:31ev -  Die tronkbewaarder word gered deur geloof in Jesus. Sy geloof het onmiddellike en drastiese effek gehad. Hy was Paulus en Silas se wonde! 

EGTE GELOOF SAL SIGBAAR WORD 

Jakobus wil ons herinner dat ware geloof radikaal en lewensvernuwend is. Dit word sigbaar in dade. Ook Jesus sê dat ‘n boom aan sy vrugte geken word. 

As jou boom aanmekaar dorings dra, hou op om jouself te probeer oortuig dat dit ‘n vyeboom is... 

Indien jou geloof nie jou lewe verander nie, is dit net so nutteloos soos die geloof van die duiwel. Volg jou belydenis van geloof op met sigbare dade van gehoorsaamheid, liefde, heiligmaking. Dit sal jou sekerheid versterk. Dit sal vir jouself en almal rondom jou ‘n bewys wees dat jy inderdaad reddende geloof het! 

En as jy nou skielik eerlik besef : "Ek het God nooit geken nie? WAT MOET EK DOEN?" Moenie by werke begin nie, kom kniel by die kruis van Jesus. Kyk op na Hom wat sy lewe vir jou gegee het! Vertrou Hom as Here en Verlosser en begin anders leef omdat jy vir Hom lief is!

BAIE GELUK EN WELKOM!!


Eugene Grobler, Carolyn Gous, Lieze Grove, Anri Muller, Zaanri Labuschagne, Monique Engelbrecht, Jonette de Koning, Anja Steenkamp, Nick Vosloo


* Wat moet ons nou sê was die geval met ons stamvader Abraham? 
As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy ‘n rede gehad om te roem. Maar nie by God nie! 
Wat sê die Skrif? "Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek." 
‘n Arbeider se loon word nie vir hom as ‘n guns gegee nie, maar as iets wat hom toekom. 
Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof. (Romeine 4:1-5) 

“God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo.” (Romeine 5:1)

Donderdag 14 November 2019

WIE?

WIE SE SAAK MET GOD IS REG? 

 Wie mag die Nagmaal gebruik en so sy verlossing vier? Met ander woorde, wie se saak is reg met God? Wie word deur God self as ‘n regverdige beskou? Jesus self gee ‘n duidelike en radikale antwoord in LUKAS 18:9-14. Dis ‘n pynlike, skokkende antwoord wat baie kerkmense en vroom godsdienstige siele aan hulle Paasbolletjies en Kersmaaltye sal laat verstik! Aan die anderkant is dit juis ‘n antwoord wat vir hopeloses, moedeloses en gebrokenes hoop gee. Vir hoogmoediges en selfversekerdes is dit ‘n wrede ontnugtering; maar vir geestelike bedelaars is dit inderdaad evangelie! 

Jesus het ‘n baie spesiale doel waarom Hy hierdie gelykenis vertel : Sy doel is om mense te ontmasker en te waarsku wat op hulleself vertrou dat hulle saak met God reg is! Dis nou almal wat op hulle eie geestelike en morele bates staatmaak om in die koninkryk in te gaan. Veral mense wat hulleself met ander vergelyk en daarom seker voel van hulle saligheid. 

“En Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel.” (Lukas 18:9 OAV) 

TWEE MANNIE IN DIE TEMPEL 

Daar is ‘n duidelike ooreenkoms tussen hierdie twee manne. Altwee gaan na die tempel om te bid. Altwee glo in God. Altwee (soos alle mense) is sondaars. Die een weet dit net nie! Maar dis waar die ooreenkoms ophou. 

Daar is inderdaad diepgaande verskille tussen die twee. Dit moet noodwendig tot twee uiteenlopende toestande lei. Uiteindelik twee verskillende ewigheidsbestemmings! 

HOE VERSKIL HULLE? 

Wat betref hulle opinie oor hulleself: 

Die fariseër het baie selfvertroue en voel goed oor homself.  Hy het 'n valse geloofsekerheid gehad! Hy was seker van die hemel, maar bestem vir die hel! Dit word duidelik dat sy geloof eerder in homself is as God! Sy goeie selfbeeld sou kon doen as ‘n handboekvoorbeeld vir elke plaaslike, Amerikaanse of Nigeriese welvaartsprediker! 'n Ware trofee vir die beste lifecoach!

Die tollenaar het geen goeie selfbeeld of selfvertroue nie. Hy voel bitterlik sleg oor wie hy is! In mooi taal – hy mishaag homself! 

Die fariseër vergelyk homself met ander en hoe meer hy dit doen hoe meer neem sy selfvertroue toe. Hy raak so liries oor homself, hy is eintlik besig om homself te aanbid! 

Die tollenaar probeer homself nie eers met ander vergelyk nie, Hy sien homself net as sondaar voor God en dit stroop hom van alle selfvertroue! Sy hele houding, lyftaal en woorde vertel net een ding : diep berou en hartgrondige sondebesef. (13) "Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’ 

Wat betref die basis van hulle vertroue: 

Die fariseër vertrou op homself. Dit lyk of hy inderdaad rede het...Hy het ‘n indrukwekkende geestelike batelys. (Baie soos Paulus voor sy bekering waarvan hy later in Filippense 3 vertel) Hy is volgens alle uiterlike standaarde ‘n vroom man wat God se wette ernstig opneem. (11) En dis reg, ons moenie hierdie verkeerde dinge doen nie. Verder....hy kom die regte godsdienstige pligte na... (12) Hy vas, gee tiendes... En dis inderdaad goeie en belangrike dinge! Onthou, Jesus veroordeel nie die fariseër omdat hy vroom is nie, maar omdat hy op sy vroomheid staatgemaak het! 

Die tollenaar is geestelik bankrot. Hy het niks goeds om oor homself te sê nie. Niks om op trots te wees nie. En hy probeer nie eens om verskonings vir sy verkeerde gedrag uit te dink nie. Hy noem homself eerlik net “‘n sondaar” sonder enige versagtende beskrywings... (LW – daar staan nie “arme” sondaar nie!) Onthou, Jesus prys die tollenaar nie omdat hy so vol sonde is nie, maar omdat hy op God se genade staat gemaak het. 

Altwee is sondaars. Die fariseër besef dit nie. Die tollenaar is diep daarvan bewus. Dis eintlik al wat hy oor homself kan sê!

Altwee is sondaars. Die fariseër dink egter dat sy goeie dade homself laat kwalifiseer vir die koninkryk. Volgens sy self opgestelde geestelike balansstaat oortref sy goeie dade sy slegtes! Die sondaar besef hy het geen kwalifikasies nie. Hy is bankrot voor God. Sy enigste hoop is op God se genade! 

EWIGHEIDSVERSKIL

Die belangrikste verskil is : Die tollenaar gaan daar weg as ‘n regverdige. Hy word deur God self vrygespreek! Die fariseër nie. Dis die allerbelangrikste verskil, dis ‘n ewigheidsverskil! Daar is eintlik maar net twee soorte mense. Daar is ‘n duidelik skeidslyn. Onwedergebore en wedergebore. Kind van die hel, kind van God. 

WEERGEBORE?

In die fariseër se houding en woorde sien mens die duidelike eienskappe van iemand wat nie weergebore is nie. Wat is dit? Hy bid wel tot God maar sy eintlike vertroue is op homself, sy moraliteit en sy godsdienstigheid! Hy vind troos in homself dat hy goed genoeg is om nie hel toe te gaan nie. 

 Die beroemde Amerikaanse teoloog, Jonathan Edwards* het gesê: “Almost every natural man that hears of hell, flatters himself that he shall escape it!” Dis so waar - onwedergebore godsdienstiges troos hulleself oor die algemeen– “Ek is darem nie so sleg dat ek hel toe sal gaan nie…” 

In die tollenaar se houding en woorde sien mens die duidelike tekens van wedergeboorte: Bewustheid van sonde en eie onwaardigheid. Vertroue op God! Hy weet hy verdien die hel. Daarom is sy vertroue alleenlik op die genade van God. Die genade wat God ons deur Jesus skenk. Voortdurende besef van sonde en hartseer erkenning van my onvolmaaktheid is duidelike tekens van die Gees se genadewerking in ‘n mens se lewe. Daarmee saam ‘n afhanklike vertroue op Jesus deur wie ek God se genade kry. 

Die tollenaar is ‘n geestelike bedelaar en volgens Jesus is dit die basiese vereiste om deel te kry aan die Koninkryk van God! (Matteus 5:3) 


DIE VEILIGSTE PLEK 

Die veiligste plek is om jouself plek as sondaar voor God se genadetroon in te neem! Om jouself te verneder. (14) Miskien is jy vol onsekerheid… Ja, jy weet jy het lank gelede jou lewe vir Jesus gegee… Maar jy het dalk baie afgedwaal, dalk lou geword, beleef baie twyfel, baie mislukkings agter die rug... Jy wonder dalk diep binne in jou hart of jy waardig is om die nagmaal te vier… Jy smag na die Here God se teenwoordigheid, maar jy weet nie hoe om by hom uit te kom nie... Wat staan jou te doen? 

Charles Spurgeon het ‘n baie kosbare verhaal in die verband vertel. (aangepas) Dis van die edelman wat ‘n baie goeie verhouding met die koning van die land gehad het. Maar iewers het dinge begin skeefloop. Hy wou so graag weer die koning sien, maar hy kon dit net nie regkry nie. Daar was altyd een of ander probleem of struikelblok. Toe kom hy te hore dat die koning ‘n reuse partytjie in die paleistuin vir al die stad se bedelaars en boemelaars gaan aanbied. Die uitnodiging was baie duidelik : “Almal is welkom!” En net daar kry die edelman ‘n plan! As ek dan nie my koning kan sien as edelman nie, gaan ek nou na die byeenkoms as bedelaar! Bedelaars, alle bedelaars is mos uitgenooi! So gaan ontmoet hy weer die koning as bedelaar in sy vodde en so word die verhouding herstel! 

Die punt is : 

As jy nie meer weet of jy as kind van God voor Hom kan verskyn nie, kom as sondaar! Eerlike gebroke sondaars vol berou is altyd welkom by God. 

Kom as sondaar na God op grond van Jesus se verdienste, sy volmaakte kruisdood… Sondaars wat berou het en uitroep om genade sal nie weggewys word nie! Dis die regte houding, maar ook die vertroue waarmee ons die Nagmaal gebruik! Dis ook ‘n drastiese keuse. KOM! KRY BEROU! VERTROU! Kom nou in kinderlike vertroue na Jesus. Hy nooi jou! “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17)

Dis met die gesindheid van die tollenaar waarmee ons na die Nagmaalstafel kom. Dis die regte gesindheid!

*Hierdie aanhaling sowel as heelwat ander gedagtes het ek by Nico van der Walt gekry.

Saterdag 08 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (1)


[Petrus se resep vir Christene wat onseker en wankelend is!] 



Ons oorkoepelende tema vir Pinkster vind ons in 2 Petrus 1:10 waar ons lees : “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.” (OAV) Ons gaan deeglik na die hele 2 Petrus hoofstuk 1 kyk, maar nou eers net so ‘n algemene inleiding tot die vraagstuk van sekerheid en volharding. 


Petrus wil graag hê sy lesers moet sekerheid en vastigheid beleef. Hy verlang dat hulle die einddoel van hemelse heerlikheid sal bereik en weet dat hulle dit sal bereik. Een van die redes is waarskynlik juis om hulle te beskerm teen die valse leringe van dwaalleraars. (sien hfst 2) Onsekere en onvaste Christene is oop en maklike teikens vir verdraaiings, kortpaaie en kitsoplossings. So word hulle mislei en verder van God af gelok en nog meer verwar en moedeloos gemaak. (Of dalk nog erger, ‘n vals fondasie en gerustheid gee!) 

KWELVRAE 

Word jy gekwel en geteister deur hierdie vrae : "Is ek regtig ‘n kind van God, is ek uitverkies, sal ek die eindpaal haal, sal ek kan volhard, kyk hoe maklik val ek vir sonde...?" Vir party pla hierdie onsekerheid, ander word nooit eens daardeur gepla nie en dis nog gevaarliker... Daar is natuurlik ook baie wat wel seker is, maar op verkeerde fondamente bou... Daar is iets soos valse sekerheid. Baie sal eendag hoor: “Ek het julle nooit geken nie...” (Matteus 7:21-23) Verbondsoutomatisme bly ‘n baie gevaarlike bedreiging in sekere kerklike kringe! (Dis die idee dat ek outomaties gered is aangesien ek gedoop is en in die verbond grootgeword het.) 

OORSAKE VIR ONSEKERHEID BY GOD SE KINDERS 

Daar is ‘n hele klomp moontlike oorsake waarom kinders van God onsekerheid beleef t.o.v. hulle ewige saligheid. (En terloops, ons moet dit duidelik sê : Dit is moontlik om ‘n kind van God te wees en onsekerheid te beleef. Alle kinders van God het nie altyd outomaties noodwendig sekerheid en vastigheid nie.) Dis juis waarmee die apostel Johannes wil help as hy vir kinders van God skryf : “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” (1 Joh 5:12,13) en waarom ook Petrus dit nodig vind om hieroor te skryf. Wat is die redes waarom opregte kinders van God onsekerheid beleef?* 

Eensydige introspeksie. Dit kan veroorsaak word deur ongebalanseerde prediking wat altyd net die erns van sonde onderstreep en nie die genoegsaamheid van Christus nie. (Dis skaars in ons dag, maar dit kan wel gebeur) Daar is ook sekere persoonlikheidstipes (veral introverte) wat gedurig geneig is tot introspeksie. Hier is balans belangrik. Ja, selfondersoek is noodsaaklik, goed en gesond, maar ware prediking wys mense op die genoegsaamheid van Christus se werk aan die kruis. Onthou : ”Deur te sien op die kruis is daar lewe en heil!” Vrede is nie in onsself te vind nie! Vrede en sekerheid begin by die besef wat God gedoen het! Ons sal sien dis ook hoe Petrus die saak aanpak. 

Onkunde oor die aard van redding. Baie Christene dink die deurslaggewende faktor is hulle eie geloof en eie bekering en besef nie dat redding eerstens van God af kom nie. Hulle dink hulle redding word deur hulle eie geloof en bekering bewerk i.p.v. die feit dat ons redding deur Jesus aan die kruis bewerk is. Onthou, geloof en bekering is bloot (onvolmaakte) reaksies op die (volmaakte) werk van Jesus aan die kruis. So dikwels kyk ons te veel na onsself en te min na die kruis! Jesus is die REDDER, nie ekself nie! My geloof is maar altyd onvolmaak. Die deurslaggewende faktor is egter Jesus die volmaakte OBJEK van my geloof! Horatius Bonar het dit so goed gestel : “What God demands from us is not satisfaction with our faith, but satisfaction with Christ and His work!” 

Ek weet nie wat die datum van my bekering is nie. Baie mense, veral diegene wat in Christelike huise grootgeword het, weet nie altyd presies wanneer hulle tot geloof in Jesus gekom het nie. Dit kan by hulle later twyfel laat ontstaan. Aan die anderkant is dit juis ‘n datum wat vir party mense valse sekerheid gee...Hulle leef in die verlede (daardie gebeurtenis by ‘n CSV kamp in 1972 of die Mannekamp te Okahandja, 1998) en hou vas aan ‘n ervaring van lank gelede, maar hulle huidige lewe wys hulle is ver van God. Onthou, die belangrikste datum is Golgota! Dis goed om te weet van datums van God se werkinge in my, maar my vertroue moet nie op ‘n datum wees nie, maar op Jesus self! Ons al sien hoe Petrus en die ander apostels nie die klem plaas op ‘n bekeringsdatum nie, maar op die werk van God deur Jesus aan die kruis. En in reaksie daarop die belangrikheid van volharding in 'n heilige wandel.

Skuldgevoelens en die aanklagte van die duiwel. Sommige mense sukkel om die verlede te vergeet en te aanvaar dat hulle volledig vergewe is. “Ek sukkel om myself te vergewe,” moet mens dikwels hoor. Partykeer gaan dit oor “daardie een sonde” wat soveel skade en skande veroorsaak het! God het my als vergewe, maar wat van daardie een ding...? Hierdie Christene wat so gekwel word verstaan nog nie regtig die vryspraak deur die geloof alleen nie of hulle hou nie rekening met die Satan as aanklaer en beskuldiger van God se kinders nie. Hy kla juis die broers aan! “Toe het ek ‘n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het: "Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.” (Openbaring 12:10) Ons moet leer om na God se beloftes te luister en nie na die verwyte en beskuldigings van die duiwel nie! William Bridge, een van die Puriteine het dit so gestel : “He that lacks assurance of God’s love converses too much with Satan...” Die kruisoffer van Jesus was algenoegsaam, sy vergifnis is volledig! 

Stryd teen versoekings en sonde wat verkeerd geïnterpreteer word.  “Kyk watse versoekings beleef ek, kyk hoe dikwels het ek al geval! Dis seker onmoontlik dat ek God se kind kan wees!” Wel, hulle vergeet die grootste deel van die Nuwe Testament is juis geskryf om raad te gee aan Christene hoe om sonde en versoeking te oorwin. Stryd teen versoeking is deel van die daaglikse Christelike lewe. Daarom is die kwessie van vergifnis en die beskerming teen versoekings en die Bose deel van die gebed wat Jesus vir sy dissipels geleer het. 

Beproewings wat verkeerd verstaan word. “As ek ‘n kind van God is, hoekom kry ek so swaar?” Dis ‘n vraag wat ‘n beproefde kind van God onseker en mismoedig kan maak. Ons vergeet so maklik van die Bybelse lering oor beproewing, tugtiging en opvoeding. “Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: "My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem." Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie? As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie." (Hebreërs 12:5-8) Swaarkry is nie ‘n teken dat jy nie God se kind is nie. Inteendeel! Dis ‘n bewys dat Hy vir jou lief is en met jou besig is! 

‘n Ongedissiplineerde en ongehoorsame lewe wat die Heilige Gees bedroef. Miskien is dit die mees algemene rede in ons tyd. Dis die Heilige Gees wat vir ons sekerheid en blydskap gee, as ons Hom bedroef kan ons nie juis verwag om blydskap en sekerheid te beleef nie. “En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.” (Ef 4:30) Wie nie hartseer is oor sonde nie, sal ook nie die vreugde van verlossing beleef nie! Geen ware kind van God sal sekerheid en blydskap beleef terwyl hy bewustelik voortploeter in sonde nie. 

Angs of ek sal kan volhard. Miskien is jy nou redelik seker, maar daar is tog by jou ‘n vrees of onsekerheid oor die toekoms. Sal ek die eindpaal kan bereik, ek is so swak, wat as ek val, wat as daar ernstige toetse of vervolging kom? Dit dui op ‘n gebrekkige verstaan van hoe verlossing werk. Die kind van God se verlossing is van ewigheid deur God beplan en sal deur God in stand gehou word! Petrus gaan vir ons wys dat dit in die eerste plek gaan oor God se krag! 

Al hierdie redes het eintlik te maak met onkunde oor die Bybel of ongehoorsaamheid aan die Bybel! Die Woord van God moedig ons aan om seker te wees en ons roeping en verkiesing vas te maak! Ons gaan na die kosbare lering in 2 Petrus 1 kyk en hoe dit ons by vaste sekerheid wil uitbring.  Kliek op Maak vas;Maak seker (2)

*Met erkenning aan John MacArthur 







Donderdag 25 Januarie 2018

SKAAP OF VARK?

VALS EN WARE CHRISTENSKAP : Hoe kan dit onderskei word?



Wat is die verskil tussen ware en valse Christenskap? Dis baie belangrik en uiters noodsaaklik om dit te kan onderskei. Hoekom? 

Daar is baie mense wat ‘n valse sekerheid het. Hulle glo vas dat hulle kinders van God is, dat hulle deelgenote aan die ewige lewe is, maar hulle is nie. Hulle mislei hulleself. Wat ‘n aaklige verrassing wag daar eendag op diesulkes! 

Aan die anderkant is daar weer mense wat opregte kinders van God is, maar nog geteister word deur twyfel en onsekerheid. "Kyk, ek sondig nog, hoe kan ek dan 'n kind van God wees?" is die vretende bekommernis in hulle onrustige binneste.

Die 1 Johannes brief kan ons help om die onderskeid te kan tref. Die doel van die brief is juis ook om sekerheid aan God se kinders te gee:

"Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo." (5:13)

HOUDING OOR SONDE

Een duidelike verskil tussen vals en ware Christenskap kom na vore in ‘n persoon se houding teenoor sonde. Johannes verduidelik die duidelike verskil tussen valse en ware Christene aan die hand van die verskillende benaderings teenoor sonde. Ons gaan kyk na 1 Johannes 1:5-2:2 

Met betrekking tot die houding oor sonde is daar ‘n duidelike kontras tussen die vals en ware Christen. 

GOD IS LIG!

Johannes se vertrekpunt is baie duidelik : "God is lig en daar is geen duisternis in Hom nie." (1 Johannes 1:5) God self is nie neutraal teenoor sonde nie, God kan nie kompromie maak met sonde nie, God is met ander woorde nie ‘n post moderne relativis vir wie als maar reg is nie. God hou van party dinge en God haat party dinge! Onthou dit as ‘n basiese waarheid en fondasie. 

DUISTERNIS OF LIG?

Die valse Christen leef in duisternis en in ontkenning van sy sonde. Dis die een wat rustig voort leef in sonde. Hy is gemaklik en ongeërg oor sonde. So iemand leef in ‘n leuen. “As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie.” (6) Let mooi op – dit gaan nie hier oor mense wat openlik vir God of Jesus verwerp nie, nee hulle beweer dat hulle deel het aan God, maar dis vals en leuenagtig. Daar is nog ‘n verder kenmerk van valse Christenskap. Daar is geen eerlike erkenning van sonde nie. Daarom ook geen berou en opregte belydenis nie. “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.” (8) Daar is by die valse Christen geen sensitiwiteit oor sonde nie, sonde word ontken, afgemaak as iets ligtelik. Ja, natuurlik sal almal (dikwels met ‘n glimlag) erken : “ons is sondaars”, maar dit word sommer so op ‘n lighartige manier gesê. Dit word eintlik as ‘n verskoning bedoel. Valse Christene versag sonde met allerhande eufemismes. Ek word nooit dronk nie, maar ek het net “bietjie te veel gekuier”. Nee, ek is glad nie ‘n hoereerder nie, maar “ek knyp net die kat so af en toe in die donker.”

Die ware Christen se lewe word gekenmerk deur lig, maar juis ook 'n bewustheid van sonde. ‘n Lewe van gehoorsaamheid aan God. Dis die algemene koers, rigting en benadering van egte ware Christenskap. Geloof maak ‘n praktiese verskil in jou leefstyl. Beteken dit nou dit die ware Christen nooit sondig nie? Nee, die ware Christen is juis die een wat voortdurend bewus is van sy sonde, sensitief en jammer is daaroor en dit bely! Die ware Christen kan in sonde val, maar kan nooit daarmee gelukkig volhard nie. 



Dis soos die verskil tussen ‘n skaap en ‘n vark. ‘n Skaap kan ook met modder besmeer raak, maar anders as ‘n vark is hy nie ‘n dier wat van modder hou nie.

Ons kan dit so stel : 

Ware Christenskap word nie gekenmerk deur die totale afwesigheid van sonde nie, maar deur die voortdurende aanwesigheid van berou, belydenis en bekering. 


HEERLIKE BELOFTE

Dis juis die ware Christen wat troos vind in een van die wonderlikste beloftes in die Bybel. “Maar as ons ons sondes bely -Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (9) Dis ‘n belofte wat ons nooit moet vergeet nie. Die idee dat bekering en die belydenis van sonde net ‘n eenmalige stap is wat by die begin van jou Christelike lewe plaasvind is verkeerd. Johannes skryf sy brief juis aan mense wat alreeds kinders van God is, mens wat reeds deur die geloof en bekering deel het aan Jesus en die ewige lewe. Ons moet onderskei tussen aanvanklike bekering (conversion) en voortdurende berou en bekering (repentance)! Luther het die saak van bekering in die eerste van sy beroemde 95 stellings so gestel: “Ons Here en Meester, Jesus Christus het beveel: “Bekeer julle, want die Koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matteus 4:17). Die hele lewe van ‘n gelowige, moet een wees van bekering.”* 

Voortdurende berou en bekering is deel van die kind van God se daaglikse belewenis!

Dis ‘n belangrike waarheid. Daar is opregte kinders van God wat twyfel oor hulle Christenskap, want hulle val in sonde of hulle het ‘n stryd teen sonde en versoekings. Wees verseker, die Bybel is realisties en weet dat kinders van God nog steeds kan sondig. Ook Jesus self het dit geweet. Daarom is daar die vierde bede in die Onse Vader gebed. “Vergewe ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe.”

Kinders van God kan nog steeds in sonde val. Ons mag nie sondig nie, ons behoort nie te sondig nie, en tog is dit die hartseer en harde realiteit. Kinders van God se houding teenoor hierdie sonde verskil egter drasties van die houding van die wêreldling of valse Christen. Luister mooi (en dalk gaan dit jou skok) – dis moontlik dat pary onbekeerde mense se lewens minder sonde vertoon op die oppervlak as sommige ware Christen s’n. Kru gestel, party mense wat op pad hel toe is het oënskynlik mooier lewens as sommige wat op pad is hemel toe. Want onthou Christenskap word nie bepaal deur hoe baie of min sonde ek doen nie, maar of ek ‘n Middelaar het! Dit bring ons by die baie belangrike 1 Johannes 2:1! “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig -ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” 

Hier kry ons die pragtige suiwer Bybelse balans:

-Sonde is ‘n baie ernstige saak. Ons moet dit ten alle koste vermy. Ons moet selfs ten bloede toe daarteen weerstand bied soos ons in Hebreërs lees.** Sonde mag nooit ‘n ligtelike saak wees nie. Dis nie humoristies nie, dis nooit iets waaroor ons durf grappe maak nie. Nee, want dit pas nie by die lig nie, dit bring oneer aan God, dit bedroef die Heilige Gees. Dit versteur die gemeenskap met God en met mekaar. Daar’s niks positief aan sonde nie, aan geen sonde nie!

-Aan die anderkant is Johannes baie realisties. ‘n Kind van God kan wel nog sondig. “En as…” ‘n Kind van God kan val, maar dis nie dan die einde nie! Dit beteken nie ek behoort dan nie meer aan Jesus nie. Nee, as ons sondig kan ons weer net opnuut met berou en belydenis ons hoop stel op Jesus Christus ons voorspraak, ons advokaat, ons middelaar! Dis juis die kern verskil tussen die verlorene en die geredde mens : Die geredde mens maak nie staat nie op homself nie, maar op sy Middelaar en advokaat, Jesus Christus! Die ongeredde persoon dink hy is darem oraait genoeg om God tevrede te stel met sy eie pogings.

Om op te som:

  • Ware Christenskap maak altyd erns met die probleem van sonde. 
  • Valse Christenskap vat sonde ligtelik op.

  • Ware Christenskap word gekenmerk deur voortdurende opregte berou en bekering. 
  • Valse Christenskap maak verskonings en skram weg van berou en bekering.

Ware Christenskap soos iemand dit gestel het, is “not about perfection, its about direction.” Ons is nie perfek en volmaak nie, maar ons beur weg van die sonde met alle mag en groot ontsteltenis, terwyl ons verlangend uitreik na die arms en die vergifnis van Jesus! 


Notas
*In die Duits het hy dit so gestel : “ Da unser Herr und Meister Jesus Christus spricht „Tut Buße“ u.s.w. (Matth. 4,17), hat er gewollt, dass das ganze Leben der Gläubigen Buße sein soll.”

**Hebreërs 12:4 “Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.”

Dinsdag 12 Julie 2016

ONS IS VEILIG!

- Regtig? Ander mense het ook al so gedink en hulle is wreed ontnugter!

Die indrukwekkende tempel in Jerusalem was daar vir almal om te sien. Elke Jood was baie trots op die tempel. Met prag en praal, gebou deur die ryk en wyse Salomo. In hierdie tempel het die volk in Jeremia se tyd nog steeds die Here gedien. Die tempel en die tempeldiens het die volk van Juda ‘n gerustheid, ‘n gevoel van veiligheid gegee. Solank die tempel daar is sal God ons altyd beskerm! Hy sal tog nie toelaat dat sy tempel vernietig word nie!

Maar op ‘n dag gee God opdrag aan Jeremia om die mat onder die volk uit te ruk. Ons vind hierdie ontstellende van profeet in Jeremia hoofstuk 7. Die volk moes nou skielik hoor : “Julle vertrou op leuens. Julle troos julleself met bedrieglike woorde. Julle mislei julleself om te dink julle is veilig! Julle tempel en julle tempelgodsdiens gaan julle nie outomaties beskerm nie.” Dis die implikasie van Jeremia se snydende woorde : “Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: "Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!" Maak liewers julle lewe en julle dade reg. Doen aan mekaar wat reg is, moenie vreemdelinge, weeskinders en weduwees onreg aandoen nie, moenie mense onskuldig om die lewe bring in hierdie land nie en moenie ander gode dien nie. Dit sal onheil oor julle bring." (4-6) “Nee, wat nodig is, is bekering. Los julle verkeerde dinge! Julle leef ‘n dubbele valse lewe, julle gaan aan met julle verkeerde dinge, maar dan dien julle God ook nog. Julle maak ‘n fout as julle dink julle is veilig. Die enigste uitweg is ‘n besliste afstand doen van julle verkeerde gedrag.” Jeremia noem die verkeerde dinge by die naam... dis dinge wat mense gedoen het, terwyl hulle steeds die Here kom aanbid het. Sosiale onreg (verdrukking van ander mense), afgodery, immorele gedrag soos diefstal en egbreuk... (9) In effek sê die profeet : “Julle godsdiens is besmet.” Dit word skokkend gestel as die Here sê dat die tempel ‘n rowerspelonk geword het! (11) Dis hierdie einste woorde wat Jesus eeue later aangehaal het toe Hy die godsdiens van sy dag ook veroordeel het. (vgl. Markus 11:17) Kliek op ROWERSPELONKGODSDIENS

Die boodskap van Jeremia is baie duidelik :

Vertroue op die Here sonder bekering is ‘n vals vertroue wat tot teleurstelling en vernietiging gaan lei. 

Godsdiens sonder bekering is ‘n nuttelose tevergeefse godsdiens. Om die realiteit van so ‘n vals vertroue te onderstreep, herinner die Here hulle aan die heiligdom wat eens op ‘n tyd by Silo was. Silo was nou verlate, so julle kan nie redeneer net omdat daar ‘n tempel in Jerusalem was, sal God altyd vir Jerusalem bewaar nie. Die volk het ongelukkig nie na Jeremia se waarskuwings geluister nie. Te laat moes hulle uitvind dat hul vals vertroue op die tempel en hulle godsdiens  niks gehelp het nie. Nebukadnesar en sy leër het die stadsmure van Jerusalem oopgebreek en Jerusalem ingeneem. (39:1,2)

"EK HET DAN MY HART VIR JESUS GEGEE..."

Vals vertroue is vandag nog steeds ‘n probleem. Natuurlik vertrou niemand van ons meer op ‘n tempel nie, maar die vals vertroue neem net ‘n ander vorm aan. Ons is besig met 'n godsdiens sonder bekering...  So baie redeneer : “Ek is mos gedoop, so ek is veilig. Ek is mos ‘n lidmaat wat kerk toe kom so ek is veilig. Ek glo in Jesus so ek is veilig! Ek het my hart vir Jesus gegee so ek is veilig!”

Natuurlik word ons gered deur geloof in Jesus alleen. Maar ware geloof gaan altyd saam met bekering. Geloof in Jesus lei tot lewensverandering. (Dink aan die verandering in Saggeus se lewe) Bekering is die bewys van ware geloof. As ek mos regtig glo dat Jesus my bittere straf gedra het, as ek glo dat Hy my sondes vergewe het, kan ek mos nie onbekommerd lustig aangaan met my ou lewe nie.

Baie mense wat gedink het dat hulle glo gaan eendag agterkom hulle het nooit regtig in Jesus geglo nie. Jesus waarsku self daarteen in Matteus 7:21-23. 

"Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.

Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’

Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree."

Hier gaan dit oor mense wat oënskynlik in Jesus geglo het : Hulle het vir Hom gesê : “Here, Here.” Dit klink soos gelowiges of hoe? Hulle het selfs in sy naam gepreek,duiwels uitgedryf en wonderwerke gedoen. Hulle het gelyk en geklink soos gelowiges, maar dit was ‘n vals geloof, want dit het nooit tot bekering en lewensverandering gelei nie! Hierdie valse sekuriteit en vals vertroue sal eendag wreed ontnugter word as Jesus sê : “Gaan weg van My...” Net soos Jeremia het Jesus ook soortgelyke praktiese dinge aangespreek (in sy Bergrede) wat verkeerd is. Hy stel dit net baie dieper en skerper. Hy sê dat ons skuldig aan moord is as ons iemand uitskel vir ‘n idioot en dat ons skuldig aan egbreuk is, alreeds as ons gedagtes en oë die eerste tree in daardie rigting gee. Bekering is by Jesus dus ook ‘n dieper saak, dis hartsbekering wat nie net oor dade gaan nie, maar ook oor ons diepste motiewe en begeertes.

Nou wat daarvan? Ons moet weet dis moontlik dat mense wat op pad hel toe is heeltemal onbekommerd en houtgerus is. Hulle het ‘n valse sekerheid en ‘n valse sekuriteit. As jou geloof nie die vrug dra van bekering nie, is dit ‘n vals geloof wat jou nie op die oordeelsdag gaan beskerm nie.

PASOP VIR VALSE SEKERHEID!



Saterdag 02 April 2016

BLY OP DIE BRUG!

- Waardeer en respekteer die grootste geskenk van God.

Genade vir helverdiende sondaars! Dis God se grootste geskenk aan ons. Die hele Bybel is ‘n dramatiese verhaal van God se genade. Dit klink alreeds helder in die tuin van Eden as die Here God in liefde na die sondegevalle mens uitreik en roep: “Adam waar is jy?” Ons sien dit in die velklere wat God vir die mens gemaak het om hulle uit te help na hulle powere poging om hulle naaktheid met vyeblare te bedek. Ons sien dit as God vir Noag en sy familie spaar. Ons hoor dit duidelik as God die afgodsdienaar Abram roep en heerlike beloftes maak aan hom maak. Ons sien dit as God Moses stuur om die slawevolk Israel uit Egipte te lei...die bloed van die paaslam aan die deurkosyne...manna, kwartels, water uit die rots... Natuurlik sien ons dit die heel duidelikste as God die finale Verlosser Jesus Christus stuur om ons straf in ons plek volledig aan die kruis te dra sodat elkeen wat in Hom glo kwytgeskel kan wees van sondeskuld en die ewige lewe kan geniet. God se genade vernietig sonde, Satan, dood en hel!


Genade bring vergifnis. Genade bring herstel. Genade bring veral eer aan God want dit wys God se rykdom van genade en dat Hy daarvoor maar net ewig geprys kan word. Dis dus verstaanbaar dat die duiwel nie baie gelukkig is oor genade nie. Genade bevry ons uit sy greep van verslawing en skuldgevoelens en hy hou nie daarvan dat ons gelukkig is en God loof en prys nie. Daarom het die duiwel ‘n dubbele taktiek om te probeer keer dat ons die genadegeskenk waardeer en aanvaar. Anders gesê, die duiwel vertel twee groot leuens oor genade om ons van die volle genadeseën te probeer beroof:

1.Hy probeer ons wysmaak dat God se genade nie genoeg is nie. Hy wil dus hê dat ons genade moet geringskat. Hoe so? Dis die wese van die probleem wat Paulus in die Galasiese gemeente moes aanspreek. Daar was Judaïseerders wat die mense geleer het dat die genade wat ons deur geloof in Jesus ontvang nie genoeg is nie. Hulle het mense probeer wysmaak dat die genade deur sekere wetsvoorskrifte aangevul moes word. Hulle het vir die mense geleer dat hulle besny moet word en sekere Joodse feeste moes vier. Paulus het sy kommer in geen onduidelik taal hieroor uitgespreek nie. “Daar was ‘n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees? Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk aan julle was dalk tevergeefs.” (Gal 4:8-11) 

En daarom het Paulus vroeg reeds in die brief bevestig dat die genade wat ons kry deur in Jesus te glo heeltemal genoegsaam is, en dat om die genoegsaamheid daarvan te betwyfel eintlik op die verwerping van genade neerkom. “Ek verwerp nie die genade van God nie. As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.” (Gal 2:21) Soveel mense leef daagliks in vrees, twyfel of skuldgevoelens omdat hulle nie regtig glo dat Jesus se genade vir ons (my) genoeg is nie! Hulle sal sê, ja ek glo in Jesus, maar ek het seker nie genoeg gehuil oor my sondes nie, ek voel nie reg nie, ek twyfel want ek kry party reëls nie reg nie, ek wonder of ek God se kind is want ek het nog nooit in tale gepraat nie, ek is bang ek is nie gered nie, want sê nou maar die name wat ek vir God en Jesus gebruik is nie reg nie... O, en daardie een verskriklike sonde wat ek nie kan vergeet nie... Sulke mense moet duidelik hoor: 

God se genade deur Jesus is genoeg! Moenie iets (hoe vroom ook al) as aanvulling by God se genade gebruik nie.  Moenie twyfel dat God se genade die grootste sonde uitwis nie!

2.Maar daar is ook ‘n ander leuen wat die Satan ons vertel om ons van genade te probeer beroof. Dis weer die anderste uiterste. Hy wil ons laat glo dat genade beteken dat ons maar lustig en houtgerus kan aangaan met sonde. Dit kom neer op ‘n minagting en misbruik van genade. Hy wil ons laat verstaan dat die vryheid wat genade bring, ‘n vryheid is om ons sondige luste te laat seëvier. Paulus waarsku ook duidelik hierteen. “Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie. Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie....Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie." (Gal 5:13-16, 19-21) 

Moenie kanse vat met genade nie. Moenie God se genade misbruik as ‘n verskoning om lustig aan te hou met sondig nie. 

Hierdie misbruik van genade is so oud soos die kerk self en 'n ernstige dwaling, wat deur valse leraars gepropageer word. (Kliek op Judas 3-4) Dit gaan hier oor mense wat redeneer : “Ag, wat God is mos genadig, ag Jesus het mos vir sondes gesterf, laat ek maak soos ek wil!” As jy so redeneer is jy in vir ‘n aaklige verrassing. Jy staan onder God se oordeel. Nie omdat God se genade te klein of te beperk is nie, maar omdat jou houding wys dat jy nog nooit sy genade aanvaar het nie. Want die kind van God wat sy genade aanvaar het, besef sy genade het die bloed en lyding van Jesus gekos, dis kosbaar, daarom kan ek dit nie misbruik nie, en wanneer ek dit wel doen sal ek diep berou hê daaroor.

Neem kennis van die duiwel se dubbele aanval op God se genadeboodskap:
Hy gaan jou wysmaak dis nie genoeg nie, sodat jy genade sal geringskat en wanhopig en vol twyfel raak en self die genade probeer aanvul deur wettisisme. 
Of hy gaan jou probeer vertel dat genade beteken dat jy hoegenaamd nie meer oor sonde bekommerd hoef te wees nie (minagting van genade), dat jy rustig met jou ou lewe kan aangaan en dat heiligmaking iets onnodig is. 
Geringskatting van genade lei tot twyfel, hardvogtigheid en wettisisme. 
Misbruik of minagting van genade, skep 'n valse sekerheid en valse gerustheid loop uit op 'n onheilige lewe van losbandigheid. Beide benaderings is dodelik gevaarlik en bring God se oordeel oor ons. 

Genade is soos ‘n stewige brug wat na God lei. 
Dis inderdaad 'n baie sterk brug wat die "gewig" van die grootste sondaar veilig kan dra, al was hy ook skuldig aan lastering, moord, owerspel....



Aan weerskante van die brug (bo-aansig) is twee gevaarlike afgronde. Die een afgrond is die geringskatting van genade (wettisisme) die ander is minagting/misbruik van genade (losbandigheid).

Hoe bly ek op die brug? Aanvaar die genade van God as ‘n volkome genoegsaam, glo dat Jesus die volle boete vir jou sonde betaal het. Ja, ook daardie een sonde wat jou so teister en jou lewe geskend het. En leef dan ‘n dankbare lewe in gehoorsaamheid aan die Heilige Gees! Roei alles uit wat die Gees vir jou deur die Woord wys wat nie reg is nie! (Gal 5:16) Jy sal baie goed weet wat hoort nie meer in jou lewe nie. En as jy inderdaad weggedwaal of geval het, roep God se genade jou weer terug en tel jou weer op...

Kom ons juig oor die genade en dank God met liefde en gehoorsaamheid!


Vrydag 09 Oktober 2015

AS DIE HUIS VAL

- die dringende noodsaaklikheid van ‘n onwankelbare fondasie! 


Die fondasie van ‘n huis is lewensbelangrik! ‘n Onveilige fondasie is lewensgevaarlik en kan lei tot ‘n ontsettende ramp. ‘n Huis wat kraak en selfs heeltemal inmekaarval as daar ‘n storm is. So is baie mense se "Christenskap" op ‘n vals onveilige fondasie van sand gebou. Hulle dink hulle is kinders van God, hulle dink als is reg en dan sal hulle as dit te laat is tydens die storm van die oordeelsdag uitvind als was nie reg nie. Die oordeelsdag sal ‘n dag van onaangename verrassings, groot skok en verbasing wees! 

ROTS OF SAND?

"Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.

Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.

En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het.

Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes." (Matt 7:24-27)

Die metafoor van die fondasies (Matt 7:24-27) vorm die afsluiting van Jesus se Bergrede soos ons dit vind in Matteus 5-7. In die Bergrede gaan dit oor ingaan in die koninkryk. Wie sal eendag kan deel in die ewige heerlikheid van die koninkryk van God? Wie is in en wie is uit? Kyk na die Saligsprekinge in 5:3,10, ook na 5:20, 6:33, 7:13. As jy in die koninkryk van God wil ingaan, moet jy Jesus se lering in die Bergrede baie ernstig opneem!

VALSE SEKERHEID GEBOU OP VALS FONDASIES

Daar wag ‘n wrede ontnugtering vir diegene wat die lering van Jesus nie ernstig opneem nie:

"Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.

Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’

Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree." (7:21-23)

Die groot tragedie is dat baie sal dink hulle gaan in, maar uitgesluit gaan word. In hierdie gedeelte ontbloot Jesus verskeie valse fondasies:

~ Mense dink hulle is Christene want hulle was mos deel van die kerk. Hulle was gewoond om te sê: “Here, Here” (21)

~ Mense dink hulle is Christene , want het hulle lank gelede ‘n keuse gemaak vir Jesus, maar dit het nooit tot ‘n nuwe lewe gelei nie. (21) So baie wat hulle “harte vir Jesus gegee het” gaan uitvind dat hulle Hom nooit geken het nie!

~ Mense dink hulle is Christene, want hulle voel seker oor hulle Christenskap. Daarom die groot verbasing as hulle toegang geweier sal word. (22)

~ Mense dink hulle is Christene, want hulle het een of ander wonderwerk of gebedsverhoring beleef. (22) Dis wonderlik as die Here jou gebede verhoor het, jou in ‘n krisis gehelp het of jou genees het, maar dit beteken nog nie dat jy God se kind is nie. (Dink aan koning Saul wat verskeie gebedsverhorings en wonders beleef het, maar uiteindelik as ‘n godverlatene gesterf het of duisende wat in Jesus se tyd genees is of wonders soos die vermeerdering van die brood beleef het, maar nooit volgelinge van Jesus geword het nie.)

DOEN,DOEN,DOEN...

Ons het nou gesien wat is vals fondasies, maar wat is dan ‘n veilige vaste fondasie wat sal standhou in die storm van die oordeelsdag? Die klem val in hierdie gedeelte baie duidelik op DOEN, die doen van die Vader se wil, die doen van Jesus se woorde. Vgl. 21,24,26*

Die uitdaging van die Bergrede is : Dink en doen anders! Die groot vraag wat by mens opkom is : Word ons dan nou deur dade gered? Wat van die Bybelse lering dat ons deur geloof in Jesus gered word? Hoe werk dit dan nou?

Die Bergrede as geheeleenheid fokus op Jesus self. Als draai rondom Jesus. Die Bergrede is dus nie 'n klomp lostaande morele reëls nie. Dis alreeds duidelik in 5:11. “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.” Die klem is nie op een of ander neutrale moralisme nie, maar op Jesus! Jesus self is die nuwe Moses, die finale profeet**, die ware Middelaar tussen God en sy volk. Geloof in Jesus is dus die kern van die hele Bergrede. Redding word alleenlik verkry deur persoonlike geloof in Jesus! Maar die Bergrede wil ook vir ons sê, geloof in Jesus het drastiese gevolge. Geloof in Jesus word sigbaar in ‘n vernuwing van totale lewensingesteldheid en praktyk.*** Die Bergrede spel hierdie nuwe lewe prakties uit. Kyk na ’n paar voorbeelde. Die nuwe lewe van geloof in Jesus is ‘n lewe van :

  • Radikale vergifnis (gaan versoen jou eers met jou broer voor jy na die altaar kom) Het ek en jy al begin om dit toe te pas? Moeite gedoen om ‘n kwaaivriendskap uit die weg te ruim? “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.” (5:23,24)
  • Radikale reinheid (om te kyk na ‘n ander vrou, m.a.w. die eerste stap is al gelykstaande aan egbreuk) Het jy al begin om dit toe te pas en plekke (soos die dansbaan), flieks en tydskrifte te vermy wat daartoe lei? "Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. "As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland." (5:27-30)
  • Radikale liefde (jy moet selfs jou vyande liefhê) Het jy al begin om ontslae te raak van al jou wraakgedagtes? “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg,” (5:44)
  • Dis ‘n nuwe lewe voor die aangesig van God. Ek sal goeie dade doen, bid en vas, nie om deur mense gesien te word nie, maar net my beloning van God te verwag. “Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.” (6:1)
  • Dit behels ‘n nuwe siening oor geld. Om nie meer gedryf te word deur die bymekaarmaak van aardse skatte nie, maar om ‘n ewige visie te hê! “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees." (6:19-21)
  • Geloof in Jesus lei tot nuwe vertroue. Om te kies teen bekommernisse wat my tyd en kragte opvreet en my eerste te beywer vir sy koninkryk en wil. “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee." (6:31-33)
Hoe bou ek ‘n veilige fondasie? Glo in die Here Jesus en begin sy woorde toepas in praktiese situasies in jou lewe! Dan weet jy jou huis is op die rots gebou! Laat jou geloof in Jesus sigbaar wees in jou lewe. Dis ’n opwindende pad...ja, ons struikel, maak foute, maar ons staan op en gaan aan.

Die vaste fondasie wat sal staande bly in die oordeelsdag is geloof in Jesus die Seun van God, maar belangrik dis ‘n geloof wat jou anders sal laat begin doen! Ware geloof is lewensveranderende geloof! 

Die vaste veilige fondasie is met ander woorde Jesus self, wie Hom ernstig opneem sal duidelik anders begin lewe!


*In Grieks dieselfde woord poiew

** Van Bruggen, Matteȕs – Het evangelie voor Israël, p135

*** Vergelyk Deuteronomium 18:15-19 met Handelinge 3:22-26

Vrydag 24 Oktober 2014

SKOKWOORDE

- wat die valse hoop van kansvatters en verneukers gaan vernietig.

Op die laaste dag van afrekening gaan daar onaangename verrassings wees... Jesus stel dit baie skerp :



Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.


Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’

Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree."

(Matteus 7:21-23)

Mense wat baie seker was van hulle saligheid gaan die verdoemende woorde van Jesus moet aanhoor : “Gaan weg...!” Hierdie is van die ernstigste woorde en waarskuwings van Jesus. Dis skokwoorde en juis daarom moet ons onverdeelde aandag gee en probeer verstaan wat Hy bedoel.

GERED DEUR WERKE?

Onmiddellik kom ‘n vraag by mens op : “Hoe nou, leer Jesus redding deur werke? Moet ons dit regkry om God se wil te doen voor ons verlos kan word? Ons vier juis dan in Oktober* die Protestantse Reformasie van die 16de eeu wat ons weer geleer het dat ons nie redding vind deur werke en prestasies nie, maar net deur persoonlike geloof in Jesus.” 

Wees gerus : Redding kom net deur geloof in Jesus. Keer op keer het Jesus self hierdie waarheid bevestig.

Nee, Jesus leer nie redding deur verdienste nie, Hy wil wel ons oë open vir die groot gevaar van selfmisleiding, van valse vrede, valse geloof, valse sekerheid, vals belydenis! In die voorafgaande gaan dit oor misleiding deur vals profete (15-22), hier val die klem op selfmisleiding. In ‘n sekere sin is dit net ‘n bevestiging van dieselfde beginsel. ‘n Boom word aan sy vrugte geken. ‘n Christen sal aan sy dade geken word. ‘n Christen word nie deur sy dade gered nie, maar deur geloof. Geloof bly nie alleen nie, dra goeie vrugte.

Die boodskap van die Reformasie was : Redding deur geloof alleen. Baie kerklidmate het dit verander na : Reddig deur skyngeloof.

Net so min as wat die Bybel (en Reformatore) redding deur werke leer, net so min leer hulle redding deur vals geloof!

Kom ons kyk na twee gevare wat in Jesus se waarskuwing onderstreep word:

1.Om uiterlik die regte feite oor Jesus te glo en te bely beteken nie noodwendig ek is ‘n Christen nie.

Verstaan goed, Jesus kritiseer nie mense wat sê : “Here, Here” nie. Jesus is nie daarteen dat ons sy naam bely nie. Inderdaad moet ons kan sê : “Jesus is die Here, my Here.” Ons moet sonder skaamte sy naam voor mense bely. Die punt is egter moenie jou sekerheid bou op ‘n belydenis wat jy lank gelede afgelê het of ‘n rympie wat ek agter iemand aan gebid het nie. Vra jouself of jy daardie belydenis uitleef? Maak dit ‘n verskil in jou lewe? As jou geloof eg was sal dit tot sigbare verandering lei.

Uiterlike belydenis van die waarheid alleen is nie genoeg nie, dit moet gevolg word deur ‘n veranderde lewe volgens God se wil. Spesifiek God se wil van heiligheid soos uitgespel in die res van die bergrede. God se wil wat dieper gaan as net ‘n oppervlakkige kyk na byvoorbeeld die sesde of sewende gebod. God se wil deur vrugte te dra van lewensheiliging en gehoorsaamheid. Anders gestel ‘n belydenis wat nie opgevolg word deur dade nie, is ‘n vals belydenis. Reeds in die Ou Testament verwyt God sy volk in Maleagi en vra : Julle noem my Here, maar waar is die respek vir my?" Duie Nuwe Testament maak dit duidelik dat nie alle geloof, egte geloof is nie! Geloof wat nie tot werke lei nie, is volgens Jakobus, 'n dooie geloof! Dis tog ‘n algemene logiese beginsel. ‘n Man wat vir ‘n dame sê : "Ek het jou lief, jy is my enigste liefde", maar nooit tot trou wil kom nie, se belydenis van sy liefde is mos vals... Dis die enigste logiese afleiding.

2.Om vol ywer en sukses te wees vir die Christelike saak beteken nie noodwendig ek is ‘n Christen nie.

Jesus kritiseer nie mense vir hulle ywer en entoesiasme nie. Hy sê net nie almal wat sulke ywer openbaar sal noodwendig ingaan in die Koninkryk nie. Daar is iets soos valse en misplaaste ywer! Jesus noem voorbeelde van sulke ywer. (22) Om te kan preek (profeteer) bewys nie dat jy ‘n noodwendig ‘n Christen is nie. Dink maar aan die Ou Testamentiese voorbeelde van Bileam en koning Saul. Hulle kon profeteer, maar dis duidelik dat hulle nie ware dienaars van God was nie!

Ook selfs die mag om duiwels uit te dryf bewys nie ek is noodwendig ‘n kind van God nie. (Selfs Judas Iskariot kon dit doen soos ons kan aflei.) Ons moenie uiterlike gawes en wonderwerke met genade verwar nie! Almal wat gawes het, het nie noodwendig egte genade ontvang nie, want daar is valse gawes. Die Egiptiese towenaars was sonder God se genade, maar kon dieselfde wonders doen wat Moses en Aäron gedoen het. Wonderwerke opsigself sê niks! In alle godsdienste vind daar beweerde wonders plaas!

DIE PROBLEEM

Jesus sê baie duidelik wat hierdie valse gelowiges se probleem is. Hulle verwerp en oortree God se wet.** (23) Hulle verset hulle teen God se opdragte. Dis baie duidelik, ook in die Nuwe Testament gee God opdragte. Daar is dinge waarvan Hy hou en dinge waarvan Hy nie hou nie. Paulus,wat absoluut klem geplaas het op redding deur geloof alleen gee ‘n soortgelyke waarskuwing as Jesus in Galasiërs 5:19-21. "En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie." En opvallend, dis juis in hirdie brief wat Paulus dit die sterkste onderstreep dat redding alleenlik deur geloof geskied!  (Sien ook 1 Korintiërs 6:9,10. “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.”) Dit beteken nie ‘n kind van God kan nooit in sondes, ook dié sondes val nie. ‘n Kind van God kan inderdaad struikel, maar nie sorgeloos in hierdie sonde bly lê en volhard nie... Wie God se genade as denkmantel en verskoning gebruik om aan te hou sondig speel met vuur... Hieroor is die brief van Judas baie eksplisiet duidelik... (kliek op GOGGAS)

EN NOU?

Wat staan ons te doen? Ondersoek jouself of jou geloof in Jesus eg is. Vra jouself of jy jou belydenis ernstig bedoel. Die Bybel roep ons voortdurend op tot selfondersoek. Vra jouself of daar egte vrugte van heiligheid, toewyding en oorwinning oor sonde in jou lewe is. Dit sal die spontane reaksie wees van elke kind van God, ook nou! Trouens, as hierdie woorde van Jesus jou nie onrustig maak nie, is daar fout. Juis die opregte gelowige sal dit ter harte neem, opnuut sy sonde besef en na Jesus vlug as enigste hoop. "Leeg met my sondelas, hou ek U verdienste vas..."

Positief gestel : Wie Jesus liefhet en in Hom glo, sal erns met sy opdragte maak! Dit word saamgevat in die opdrag van die liefde. Die liefde tot God en my medemens. (Johannes 14:15,21)

Gryp Jesus se offer vas en dank Hom deur die wil van God te soek en te doen!

Om 'n dankbare erfgenaam van die Reformasie se herontdekking van die evangelie te wees, behels meer as net intellektuele instemming tot die belydenisskrifte.  Dit behels persoonlike, egte geloof, 'n geloof wat sigbaar word in 'n heilige lewe volgens God se wil.

*Hervormingssondag word op die naaste Sondag aan 31 Oktober gevier, omdat Martin Luther op 31 Oktober 1517 sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het en dit as die begin van die Protestantse Reformasie beskou word.

**Wat word hier met “wet” bedoel? Die tien gebooie? Die hele tora, insluitende die voedselwette oor rein en onrein diere? En wat dan van die besnydenis? Om dit kort te stel : Dit gaan oor die hele tora (wet van Moses) soos dit deur Jesus verklaar, verskerp en geherinterpreteer word, spesifiek in die Bergrede, maar ook in die res van die evangelies en die neerslag daarvan in die Nuwe Testament as geheel. Jesus as die ware Moses, die Seun van God het die volmag om dit te doen. Dit lei immers nie tot ‘n afgewaterde etiek en standaard van lewensheiliging nie, maar tot ‘n baie hoër norm van heiligheid. Vanuit hierdie perspektief weet ons : ons hoef ons nie meer aan voedselwette te hou (Markus 7) of die besnydenis te beoefen nie. (Handelinge 15 en die Galasiërs brief) Ons verstaan nou die tora (wet) deur die VERGROOTGLAS van Jesus se lewe, woorde en afgehandelde offer! (Vir meer oor die Joodse Sabbat en voedselwette, kliek op SKADUWEE)


Die groot Hervormers : Luther, Calvyn, Zwingli.