BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Eensaamheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Eensaamheid. Wys alle plasings

Woensdag 01 Januarie 2025

‘n Rowwe roete wat ek nog nooit gery het nie!


Die nuwe jaar lê soos ‘n onbekende pad voor ons, ‘n rowwe 4x4 roete wat ons nog nooit gery het nie... (En nie eens Nostradamus, Baba Vanga of Siener van Rensburg kan vir ons vertel wat gaan gebeur nie.) 




Die NUWE JAAR maak jou miskien baie opgewonde, maar dalk ook bang en vreesbevange....daar wag moontlik moeilike bulte, skerp draaie, vurk paaie wat my laat twyfel oor die regte rigting, vreugdes, verrassings, gevare, vol riviere van hartseer of teleurstellings, eensame vlaktes van worsteling en verlatenheid, maar gelukkig tog ook heerlike rusplekke en die aanmoediging van medereisigers... Maar bo alles, dis op hierdie pad wat die kind van God, uitroep – “Here, as U nie saamgaan nie, kan ek nie verder gaan nie!”  

Dit was natuurlik ook die hartskreet en versugting van Moses destyds op die trekpad na die beloofde land Kanaän geuiter het. (Eksodus 33:15 - jy kan gerus hierdie aangrypende hoofstuk biddend deurlees!) 




Vir Moses het dit egter oor baie meer gegaan dat God maar net ‘n veilige reis moes waarborg – Dit het gegaan oor die sin van die lewe self, die wese van ons bestaan as mense. Hoor wat sê Moses in vers 13 : “Daarom, as ek wel guns gevind het in u oë, maak tog aan my u paaie bekend, dat ek U kan ken, sodat ek guns bly vind in u oë, besef tog dat hierdie nasie u volk is.”
 

Miskien moet ons net vinnig terug gaan na die agtergrond van Moses se hartstogtelike gebed tot God. Op hierdie stadium het God reeds sy volk met ‘n kragtige hand uit die slawerny van Egipte verlos, die volk het reeds die wonders van God se beskerming en versorging ervaar... manna en kwartels. Hulle was nou by die berg Sinai waar God sy wet aan Moses bekend gemaak het- als so heerlik en wonderlik – maar daar is ook ‘n afgryslike donker kant – die volk met die kort geheue en die bose harte het ‘n goue kalf gemaak en afvallig geword. Ondankbaar, ongelowig, hardnekkig... 

Dit het God se toorn laat ontbrand, soveel so dat Hy die volk wou vernietig en ‘n nuwe volk uit Moses begin. (Eksodus 32:9,10) 




Dit het Moses diep ontstel en hy het vurig by God gepleit op grond van God se beloftes aan Abram, Isak en Jakob. En ja, God is ‘n Hoorder van gebed. Hy verhoor Moses se gebed en dan lees ons iets verbysterend – 32:14. Gebed het God se hart gedraai – moenie vir my vra om dit te probeer verduidelik nie, maar dis presies wat gebeur het! God besluit om nie meer die volk te vernietig nie! – in antwoord op gebed! 

Moet nooit ophou bid en smeek nie!

Maar dis nog nie die einde van die storie nie, God het wel besluit om nie die volk te vernietig nie – al het Hy hulle inderdaad swaar gestraf, maar Hy het gesê Hy gaan nie meer saam met hulle trek nie, Hy sal net ‘n engel saamstuur. En die rede waarom God nie saam  met hulle wou trek nie, was juis dat sy heiligheid hulle sou vernietig, want hulle was ‘n hardnekkige onheilige volk! En dis hier waar Moses opnuut weer by God gepleit het. (15) Moses weet dat hulle dit nie durf waag om verder te gaan as God se teenwoordigheid nie met hulle is nie!

Vriende, ek en jy kan nie, ons durf nie waag om sonder God ons lewensreis voltooi nie, ook nie die skof van hierdie jaar nie! En dit gaan nie bloot oor die Here se hulp en versorging in hierdie jaar nie – dit gaan oor die kern doel en sin van ons bestaan! Wat maak hierdie onbekende jaar sinvol en die moeite werd?  Waaroor gaan ons lewe hier op aarde?? 

Om God te ken! Dis die sin van my aardse bestaan! Als gaan oor Hom! 

Dit gaan daaroor om sy heerlikheid raak te sien. Dis die passievolle hartsbegeerte van Moses. (18!) Onthou, God alleen is oneindig, onuitputlik heerlik!



NUWEJAARSVOORNEMS? Jy weet, hier aan die begin van die jaar kan ons baie mooi doelwitte en ideale hê. Party is realisties, ander dalk naïef...maar daar is baie goeie dinge en doelwitte waarna mens kan streef. Ons het egter een, net een doelwit hier op aarde wat bo-alles belangrik is – om God te ken. Dis waarvoor ons op aarde geplaas is. Om God te ken en Hom te bewonder en ons in Hom te verlustig, ons vreugde en vrede in Hom te vind. Hy kan en sal jou nooit verveel nie... tot in alle ewigheid.

Dalk wonder jy nou- hoe kan ek God leer ken, hoe kan ek sy heerlikheid sien? Dit was ook vir Moses ‘n probleem. (20) 



Hierdie dilemma bring ons by die evangelie van ons Here Jesus Christus. Johannes skryf in sy proloog oor Jesus – die Woord wat mens (vleis) geword het – 14, 18!  




Moses moes na die tent van samekoms gaan (sien Eksodus 33:7-11) om die heerlikheid van die Here te ervaar en Hom te raadpleeg. Jesus, die Woord wat vlees geword het het onder ons kom woon, skryf Johannes. Die Griekse woord wat ons met "woon" vertaal beteken letterlik, "tent opslaan." Heerlik nê? 

Die heerlikheid van God word nou in Jesus openbaar! As ek Jesus as my Here aanvaar het, begin ek die heerlikheid van God ken en sien. In Jesus se wonders en optredes begin ek leer wie God is en hoe God is – ek leer ken sy waarheid en genade persoonlik. Dis veral wanneer die kruis gebeure vir my sin begin maak dat ek begin besef – hoe oneindig heilig God is, maar ook hoe oneindig genadig en barmhartig is. Saam met hierdie wonderlike God sien ek kans vir die nuwe jaar met al sy bulte en draaie. Saan met Hom is dit ‘n avontuur. Saam met Hom is dit nog steeds nie altyd maklik nie, want Hy plaas ons in ‘n leerskool – dikwels ‘n baie harde leerskool net soos die woestyn reis van die Israeliete, maar saam met Hom weet ek, ek is vir seker op pad na my ewige Vaderland, waar ek vir altyd my sal verlustig in die heerlikheid van God. Waar ek vir altyd Hom wat op die troon is en die Lam sal aanbid!

Mag ek en jy in gehoorsaamheid aan Jesus, God ons Vader baie diep leer ken in hierdie jaar! Kom ons weet God gaan saam met ons. Hy gaan saam met ons nie omdat ons so oulik is nie, maar omdat Jesus ons Middelaar vir ons pleit. Moses het vir die volk gepleit en God het gehoor. Jesus pleit vir ons by die Vader!

Kliek : JESUS PLEIT VIR ONS BY DIE VADER

Saterdag 04 Junie 2022

EENSAAM?




Kind van God hier is vir jou 'n baie bevrydende waarheid!

Eensaamheid is ‘n baie ernstige en algemene probleem. Dit raak eintlik maar alle mense – ons dink dalk dadelik aan ongetroudes, maar dit raak baie beslis ook getroudes (dikwels is hulle die eensaamste van almal...), kinders, grootmense, bejaardes… ja, ook kinders van God. Die kind van God is in ‘n sekere sin meer uitgelewer aan alleenheid as ander mense. 

Ek bedoel, sedert jou bekering (en ek hoop werklik jy het al tot bekering gekom) ondervind jy teenstand van eie familie en naasbestaandes.  Jou vorige vriende  isoleer jou. (hulle wat voorheen saam met jou gedrink en vuil grappe vertel het.... Want jy is mos nou anders, jy neem ongewilde besluite, jy het nuwe belangstellings en jy swem teen die stroom van die wêreld in. Spesifiek na jou kom hierdie troosboodskap : 

Kind van God, jy is nie regtig alleen nie en jy hoef nooit eensaam te wees nie.

Regtig? Wel dis die duidelike implikasie van God se beloftes, maar spesifiek van Jesus se kragtige uitspraak in Johannes 14:23.




Die teenoorgestelde van eensaamheid is gemeenskap. LW- nie net saamwees nie. Gemeenskap (fellowship) ets baie meer as saamwees. ‘n Mens kan steeds eensaam wees tussen ‘n klomp mense, dalk juis… as daar nie ware en egte gemeenskap is nie. Saamwees verhoed nie noodwendig eensaamheid nie. Eensaamheid verdwyn eers as daar ware gemeenskap is. 



Wat is ware egte gemeenskap? Om die heerlikheid en diepte daarvan te begryp moet ons by God begin. Die Drie – enige God! Die diepste en mees verhewe vorm gemeenskap – ‘n diep innige egte verhouding van volmaakte liefde en wedersydse respek vind ons binne in God Drie-enig. Tussen Vader, Seun en Heilige Gees. God is in Homself in ‘n volmaakte gemeenskap. Volmaakte harmonie. Dis ‘n waarheid wat mens nie noodwendig in een teks kry nie, maar iets wat deurlopend in die Johannes evangelie na vore kom. Dit word duidelik geïllustreer deur die werkswyse en woorde van Jesus. Net ‘n paar voorbeelde : 



Jesus se woorde is die woorde van die Vader! Hy het nie sy eie onafhanklike agenda nie! Kyk ook na   Johannes 5:19-23,26-27; 8:54-55; 10:17,18; 11:41,42; 12:48-50; 14:8-10; 16:13-15 

Ons fokus nou op die werk van die Heilige Gees... Die Heilige Gees laat die volheid, die volle liefde en troos van die Vader en die Seun voelbaar/werklikheid word in ons harte. Die Heilige Gees binne ons is die bewys dat God in ons woon! – 1 Johannes 4:13. 



Onthou - Vader, Seun en Heilige Gees is nie in kompetisie met mekaar nie, maar is ‘n diep innige eenheid en SAMEWERKING van ware gemeenskap. Ons sien dit in God se reddingswerk… Die Vader besluit om ons te red en stuur sy Seun, die Seun Jesus bewerk ons verlossing aan die kruis, die Heilige Gees maak dit ‘n werklikheid in ons harte deur geloof en bekering!

En nou is dit so wonderlik – ons as kinders van God word deel gemaak en ingetrek in hierdie binnekring van gemeenskap. God kom woon by ons! Heerliker kan dit nie gestel word nie. God Drie-enig kuier nie net af en toe by jou nie… Hy kom woon by jou! Dis die heerlike en verbysterende waarheid van Johannes 14:23 Beleef ek en jy dit prakties? Of is dit net mooi teorie?

VOORWAARDE

Hoe gaan ons hierdie gemeenskap prakties beleef? Daar is ‘n voorwaarde. Kyk weer na vers 23 – “om Jesus se woorde ter harte te neem” – om Jesus ernstig op te vat m.a.w. gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid bevorder gemeenskap. Ongehoorsaamheid verbreek gemeenskap. (ongehoorsame kinders van God beleef ongelukkigheid en eensaamheid) Gehoorsaamheid en geloof gaan onlosmaaklik saam. Alle sonde is ongehoorsaamheid! Dis hier waar die groot probleem kom – ons is blind, hardkoppig, bang... blind vir die feit van sonde in ons lewens, hardkoppig om afstand te doen daarvan..., bang om te erken en te bely...bang wat mense sal sê...

Dis 'n vaste waarheid - Waar ons erns maak met gehoorsaamheid, beleef ons gemeenskap – met God en met mekaar!


GEMEENSKAP VAN DIE GELOWIGES

Belangrik. Ons word ingetrek in hierdie heilige innige gemeenskap, nie net as enkelinge nie maar saam in gemeenskap en eenheid met ander gelowiges. Dit kom pragtig na vore in Jesus se aangrypende hoëpriesterlike gebed in Johannes hoofstuk 17.  Lees gerus 17:20-24 




Saam in God!!! Hoe gebeur dit prakties? Die Heilige Gees woon in elke kind van God. Dis hoe ons gemeenskap met die Vader en die Seun binne in ons beleef – en ook in ander in wie dieselfde Gees woon. Ja, ten spyte van al die woelinge en teenstand, vervolging, onreg in die wêreld. Dis die heerlike versekering wat elke kind van God kan glo...

Natuurlik is hierdie gemeenskap op aarde nog nie volmaak nie – dit word telkens deur sonde versteur, maar dit word ook weer en weer deur belydenis en vergifnis herstel! Volle gemeenskap met God is beskikbaar! Ons verbreek dit… Ons is verantwoordelik vir ons eie eensaamheid!

Maar eendag sal daar geen sonde en gebrokenheid wees nie. Daar wag nog ‘n volmaakte gemeenskap vir elke kind van God.




Kinders van God sal weens ‘n verskeidenheid van redes alleen voel… maar ons hoef nooit alleen nie en hoef nooit eensaam te wees nie! Hierdie troos vloei voort vanuit die waarheid van die Drie-eenheid van God. Dis trouens die kernwaarheid van die geloof. Ons praat van ‘n Trinitariese geloof. Mag ons groot vreugde en vervulling vind in die gemeenskap met die Drie-enige God saam met medegelowiges. 

Om na die boodskap te luister op YouTube kliek op EENSAAM?

Vrydag 27 Januarie 2012

GODDELIKE OORWINNING OP MUGABE SE BERG

“Waarom maak jou God jou siek?” Kaptein Mugabe (dis nou nie die Robert van vandag nie) het hierdie vraag aan die ernstige siek sendeling, ds. A.A. Louw gevra. Wat ’n ongemaklike vraag, veral as ’n heiden van jou hierop ’n antwoord verwag! Kom ons gaan haal die storie by sy begin.

Andries Adriaan (Andrew) Louw was ’n afstammeling uit die bekende Murray familie en gaan in 1883 na Stellenbosch om vir predikant te studeer. In sy derde jaar moes hy egter die verpletterende nuus verneem dat sy linkerlong aangetas is en dat hy nie nog ’n winter in die nat Boland sou kon deurbring nie. Hy moes maar sy boeke bêre en het op die plaas “Eenzaamheid” in die distrik Colesberg in die Karoo gaan werk. Later koop hy ’n buurplaas, “Achtertang” en begin met skape boer. Sy begeerte om in die sendingveld vir die Here te gaan werk, het egter nie verdwyn nie. Later sou hyself verklaar : “Achtertang het vir my ’n kweekskool vir die sendingveld geword.” Op ’n keer hoor hy ’n preek van ds. Helm wat die sendingsaak in Banjailand (tans deel van Zimbabwe) bepleit. Die teks van sy prediking was Jesaja 59:16 : “En Hy het gesien dat daar niemand was nie, en Hom verbaas dat niemand tussenbeide tree nie.” Vir Andrew word dit onder die preek duidelik dat hy homself moet beskikbaar stel vir die Here se werk in die noorde.

Sy vader, soos mens kan verstaan, was nie baie positief oor hierdie voorneme nie. “Ek kan nie glo dat die Here sal wil dat jy op koste van die kerk na die geweste moet gaan om daar na ’n kort verblyf te sterf en begrawe te word nie”, was sy kommentaar. Andrew gaan toe vir ’n doktersondersoek na Stellenbosch. Die uitslag? Hy was gesond! Dit in ’n tyd toe tering as ongeneeslik beskou is. Hy slaag die eksamen vir godsdiensonderwyser en word dus aanvanklik in hierdie hoedanigheid uitgestuur.

Na ’n baie lang reis van vier maande het Andrew Louw op 9 September 1891 sy tent opgeslaan op die berg van Mugabe, naby die Zimbabwe ruïnes, waar die sendingstasie Morgenster sou verrys. Maar nou bevind Andrew hom weereens in ’n gesondheidskrisis as die malaria hom beetpak. Die vraag kom by hom op : “Het die Here my so ver laat kom om hier te sterwe?” Terwyl hy so hulpeloos in sy tentjie lê, ontvang hy besoek van kaptein Mugabe wat hom vra : “Waarom maak jou God jou siek? Laat ons die toordokter raadpleeg om uit te vind waarmee ons Hom tevrede kan stel. As Hy beeste eis, sal ek help betaal.” Wat ’n stryd moes hierdie woorde nie in die jong sendeling se gemoed ontketen het nie! God se eer was op die spel. Hy kon maar net bid en die Here het Hom inderdaad verhoor sodat hy kon getuig : “nie lank daarna nie het Mugabe my gesond aangetref. Die Here het my sonder ’n offer van beeste opgerig.”

Dis ’n wonderlike voorbeeld van Goddelike genesing tot God se eer!


Ook in ’n ander opsig sou Andrew, God se sorg beleef. Hy was reeds 29 jaar oud en sonder vooruitsig vir ’n lewensmaat daar in die verre eensaamheid. Dit is ook ’n saak wat hy voor die Here bring en God voorsien op ’n wonderlike wyse in die persoon van Cinie Malan van Riebeeck-Wes. (Suster van die latere Eerste Minister, dr. D.F. Malan) Sy pas wonderlik in by die bediening en lewer ’n groot bydra onder andere op taalkundige gebied.

Ds. A.A. Louw het uiteindelik die baanbreker sendeling in hierdie gebied geword. Op 16 September 1896, vyf jaar na die aanvang van die werk, kon die eerste bekeerlinge gedoop word. Andrew wy sy hele lewe lank aan die taak van die verkondiging van die evangelie. Dis merkwaardig dat hierdie sieklike sendeling so deur God begenadig word dat hy op die baie ryp ouderdom van 94 jaar op Morgenstersendingstasie sterf! Hy het diep spore getrap. Baie Engelssprekendes in die land het van hom as “Saint Andrew” gepraat en een van die Vakaranga se byname vir hom was “Mudavanhu” (die een wat mense liefhet)

Andrew Louw se lewe is ’n getuienis hoe dat God sy kinders soms deur diep teleurstellings en vertragings lei om Sy heerlike doelwitte te bereik! Mag dit elkeen van God se kinders wat nou deur ’n tydperk van teleurstelling en swaarkry gaan, bemoedig!

(Bron : J.M. Cronje, AAN GOD DIE DANK)




Sondag 11 Desember 2011

EENSAAMHEID Deel 2

PSALM 68:7;  HEBREËRS 4:16-16; FILIPPENSE 4:19

Jesus self is die diepste finale antwoord ook op ons eensaamheid in hierdie stukkende wêreld! Hoe so? Ons het nou gelees dat Jesus ons volmaakte Hoëpriester is. Hy is die Een wat volkome medelye met ons het, Hy verstaan al ons swakheid, sonde en ellende... ook ons eensaamheid! Jesus is juis besonder bevoeg om ons eensaamheid te begryp, want sy hele aardse lewe is gekenmerk deur lyding en eensaamheid. Die omstandighede rondom sy geboorte sou heelwaarskynlik aanleiding gee tot stories dat hy buite egtelik sou wees. Sy eie ouers kon Hom nooit heeltemal verstaan nie. (Dink maar aan die voorval toe Hy as 12 jarige in die tempel agtergebly het) Boonop was Jesus sonder sonde, maar moes tussen sondige mense woon, wat Hom nooit regtig sou kon begryp en waardeer nie. Sy eie dissipels het Hom nie na waarde geskat nie. Hulle het met sy gevangeneming Hom almal in die steek gelaat en gevlug. Voor dit moes Jesus in elk geval in Getsemane alleen sy bloedsweet stryd deurworstel. Sy ergste eensaamheid ondervind Hy natuurlik aan die kruis, toe Sy Vader sy aangesig van Hom wegdraai en Jesus uitroep : "My God, My God, waarom het U my verlaat?"

Jesus verstaan dus ons eensaamheid!
Ons kan dus maar ons harte eerlik voor Hom uitstort!

Maar gelukkig, Jesus doen iets meer as om maar net ons eensaamheid te verstaan! Jesus het totale Godverlatenheid en eensaamheid namens ons deurgegaan en verduur, sodat ek en jy wat aan Hom behoort nooit weer van God verlaat en absoluut eensaam hoef te wees nie! Die eensame straf wat Jesus daar op Golgota in ons plek gevat het, maak juis die pad oop vir 'n intieme verhouding met ons liefdevolle Hemelse Vader. Jesus, ons volmaakte Hoëpriester maak hierdie innige verhouding 'n werklikheid. 'n Verhouding wat vervulling en vreugde behels. Ons woon in 'n gebroke wêreld, maar die goeie nuus is juis dat ons binne hierdie aaklige omstandighede van 'n gebroke bestaan, God se vervullende nabye Vaderliefde kan beleef! Ja, die gebroke bestaan word eers finaal by die wederkoms verander, maar nou reeds kan die kind van God 'n innige gemeenskap met die Vader en met sy ander kinders ervaar.

JY KAN NOU REEDS DIE VERVULLENDE LIEFDE
VAN GOD BELEEF!

Kom ons bekyk die saak bietjie van 'n ander kant af. (met erkenning aan Grantley Morris)  Dink mooi : Eensaamheid is eintlik net 'n diep onvervulde behoefte aan liefde!
Kyk 'n bietjie diep in jou eie hart :
Jy het 'n diep behoefte aan iemand : Op wie jy altyd trots kan wees, vir wie jy altyd volkome kan vertrou, met wie jy altyd sonder vrees heeltemal eerlik kan wees.
Jy het 'n opregte begeerte na iemand : Wie se krag en skoonheid nooit sal vergaan nie, wat volmaakte begrip vir jou kan hê, wat jou in totaliteit verstaan.
Jy smag na iemand : Wat altyd daar sal wees vir jou, wat elke geheim van jou ken, maar jou nog steeds liefhet en aanvaar. Wie se liefde jou nooit sal verveel nie, maar jou altyd opgewonde sal maak. Iemand wat jou nooit sal afkraak nie, maar altyd sal inspireer om die hoogste sport te bereik!
Jy verlang na iemand : Wat jou altyd sal help en altyd daar sal wees vir jou. Iemand vir wie jy nooit moeg sal word nie, iemand wat altyd vars en nuut sal bly! En die onmoontlikste van als : Hierdie iemand, hierdie wonderlike iemand wil jy nooit verloor nie, hierdie iemand moet dus nie siek word en kan sterf nie!
Dit vriende is ons diepste onuitgesproke verwagting en verlange! Dis ons versugting!

Jy sal onmiddellik sê : "Dis onmoontlik om so iemand op aarde te vind!" Jy is natuurlik heeltemal reg! So 'n Iemand wat hier beskryf word kan net God wees! Juis! Dis die punt. Net God self kan ons diepste behoeftes vervul!

Miskien is jy skepties. "Ons is mense van vlees en bloed. Hoe kan God ons behoeftes vervul? So 'n intieme vriendskap met God is tog ondenkbaar, of hoe?"

Dink bietjie mooi! Wie het ons gemaak? Wie het hierdie diep innige behoefte en verlange na liefde in ons harte geplaas? Hierdie begeerte na opregte vriendskap en innige gemeenskap? Dis tog God! As Hy ons met hierdie behoefte en verlange geskape het, wil Hy en kan Hy dit vervul!

Vriend/vriendin, besef tog dat jou diepste behoefte en verlange, 'n verlange is na God self! En Jesus, ons Hoëpriester het juis deur sy dood en genoegsame offer dit vir ons moontlik gemaak om God van naby te ken! Trouens, om God te ken is die EWIGE LEWE!

Deur Jesus, vervul God ons diepste behoeftes!

Bedink die troos van Fil 4:19. Deur Jesus vul God daardie gat wat die eensaamheid in jou lewe veroorsaak. Deur Jesus het God baie naby gekom. Deur Hom het jy vrye toegang tot sy troon - en dis 'n genadetroon! Daardie gemis in jou lewe, daardie eensaamheid kan net deur God gevul word. Wat die groot kerkvader Augustinus eeue terug gesê het bly steeds waar : "Omdat God ons vir Homself gemaak het, bly ons harte rusteloos totdat ons rus gevind het in Hom." Ons diepste behoefte is 'n behoefte aan God self. Of ons dit besef of nie, dit is so!

Opsommend : God belowe dat Hy die eensame in 'n huisgesin sal laat woon. Sy belofte is WAAR! Hy maak dit waar op verskeie maniere:
Deur my deel te maak van 'n aardse huisgesin, soos Hy in sy alwysheid besluit, volgens sy wil en sy tyd! Die stukkende werklikheid van ons aardse bestaan, maak egter dat dit nie altyd so uitwerk nie. Alle mense verhoudings sal eers eendag in die voleinding herstel word. Maar God maak ook hierdie belofte waar, nou reeds in gemeentewees! Sluit aan by 'n ware gemeente van die Here en raak voluit en gehoorsaam betrokke! Maar bo-alles, maak God hierdie heerlike belofte waar deur Jesus Christus, deurdat Hy ons nou reeds laat deel in 'n innige verhouding met ons Hemelse Vader!

Ons kan nou reeds blydskap en vervulling vind te midde van 'n gebroke bestaan, terwyl ons uitsien na die heerlike dag, wanneer daar geen sonde, hartseer, trane... en ook eensaamheid sal wees nie! Amen

Mag ons harte uitgaan na ons broers en susters, veral diegene wat weens omstandighede buite hulle beheer, 'n daaglikse stryd teen eensaamheid voer.  (Jy is welkom om my oor hierdie saak of enigiets anders te kontak, vir gebed of bemoediging)

Vrydag 09 Desember 2011

EENSAAMHEID Deel 1

PSALM 68:1-8



Eensaamheid is ’n pynlike werklikheid. Ons kan dit nie wegredeneer nie, dis deel van die gebroke aardse menslike bestaan. Daar is baie redes daarvoor. Daar is baie vorme van eensaamheid. Heelwaarskynlik, ervaar jy wat hier lees eensaamheid of het dit een of ander tyd ervaar!

Daar is baie oorsake vir eensaamheid :
Baie mense is sonder ’n lewensmaat en dit maak hulle eensaam: hulle is geskei, hul lewensmaat is oorlede, of hulle het nooit getrou nie. Veral egskeiding het enorme afmetings aangeneem - dit verwoes ons samelewing. Ek wil nie oor die verkeerd of reg daarvan praat nie - dis net bloot ’n feit, baie mense bevind hulle op ’n moeilike eensame pad weens ’n huwelik wat verbrokkel het. Maar eensaamheid kom ook selfs binne in huwelike voor (dalk is dit een van die ergste vorme van eensaamheid - man en vrou bly onder een dak, maar hulle leef elkeen sy/haar eie eensame lewe.) Daar is ook eensaamheid weens ouderdom. Eensaamheid as gevolg van ’n gebrek...Eensaamheid weens ’n persoonlikheidsprobleem. Daar is ook mense wat eensaam is juis omdat hulle Jesus getrou wil volg... Hulle word uitgestoot weens hulle beginsels! Selfs deur hul eie huisgenote. Ten diepste is die kernoorsaak van eensaamheid, die sondeval wat ons van God vervreem het en wat alle menseverhoudings en harmonie kom versteur het.

Wat sê die Woord vir eensames en vir die gemeente oor eensames? Psalm 68 het beslis iets belangriks om te sê.

Die basiese waarheid waarvan ek en jy nou moet kennis neem is : God is bewus van en besorg oor alles aspekte van ons lewens. In Ps 68 is dit duidelik dat God as ons Vader ook bewus is van hierdie probleem van eensaamheid. Ons wantrou God dikwels in hierdie verband, ons dink God is net besorg oor ons siele! Dis iets wat mens sommer hier reg aan die begin moet bely. God het jou lief, werklik lief... as hele mens en nie net as ’n siel nie! God wat jou gemaak het ken al jou menslike behoeftes, pyne en sorge! God wil ook iets daaraan doen... Hier word ’n stelling gemaak dat God eensames in ’n huisgesin sal laat woon. (Vers 7) Hy wil iets aan ons eensaamheid doen. Wat beteken dit prakties?

Op watter maniere spreek God ons ensaamheid aan? Hoe maak Hy sy beloftes in hierie verband waar?

Op verskeie maniere:

1. God kan as dit sy wil is vir jou die regte lewensmaat gee op die regte tyd. Hy is inderdaad 'n Hoorder van gebed, wat ook hierdie versugting al telkemale gehoor het en op wonderlike maniere beantwoord het! (LW - as dit Sy wil is - Hy weet die beste) Wees geduldig en hou by God se reëls. Pasop vir vinnige verhoudings! Soek raad en bevestiging by ervare en betroubare medegelowiges.

2. Die Nuwe Testament noem die gemeente die huisgesin van God en Hy wil jou hier 'n rusplek gee. (1 Tim 3:15) Die punt is : ’n Gemeente wat funksioneer volgens God se wil kan oneindig baie doen om eensaamheid te verlig! Binne die gemeente moet die probleem van eensaamheid aangespreek word. Iemand sê : “It is a good thing to know that Jesus Christ sees and understands. But its good to have someone with skin on. Someone you can see and touch. That's precisely why we have the Church. People who believe and touch each other deeply, helping each other up. Loneliness does not do very well in the Body of Christ.” Hoe werk dit?

’n Gemeente moet sensitief wees vir die probleem van eensaamheid. Ek en jy moet bewus raak van die dilemma van eensames. Liefde vir eensames moet die vooroordele verdryf. Raak ontslae van jou negatiewe of afsydige houding teenoor eensame mense. “Hy wil net by my vrou aanlê, of sy wil net my man afvat...” Skep veilige hawens (as jyself ’n gelukkige huwelik het), betrek hulle, nooi hulle, deel met hulle...

Maar, mense wat alleen is moet self ook die gemeente en sy aktiwiteite sien as ’n geleentheid. Reik uit na ander en sien hoe help dit om die eensaamheid te verdryf. Natuurlik eensaamheid is swaar, om alleen te wees is nie lekker nie, maar dit bied ook geleenthede om dinge te doen waarvoor ander nie tyd het nie. Benut jou alleenwees positief!

3. Die belangrikste oplossing vir eensaamheid, is dit wat God in jou wil doen deur Jesus Christus.

God wil  jou eers verander, nie noodwendig jou omstandighede nie!

God wil jou bring by ’n nuwe manier van leef, en ’n nuwe manier van reageer op jou moeilike omstandighede.

Dit begin as jy Jesus as Verlosser aanvaar, maar dit stop nie daar nie. Jy moet toelaat dat Jesus deur die inwoning van die Heilige Gees jou so verander dat jy ’n nuwe patroon ontwikkel van hoe om eensaamheid en al die ander krisisse in jou lewe te hanteer. Die punt is dit : kinders van God beleef dieselfde ellendes as ander mense, soos siektes, gebreke en hartsere, ook eensaamheid, maar die kind van God hanteer hierdie dinge op ’n ander manier as die wêreldling, want ons het die Heilige Gees in ons. Die Heilige Gees stel jou instaat om anders te reageer en dis wat nodig is!

Die oorwinning oor eensaamheid begin nie noodwendig deur ’n verhouding, of baie vriende of baie bedrywighede nie.

Sonder om verwytend te klink : Eensaamheid is eintlik ’n probleem binne in jouself! Sien raak :

Eensaamheid is tot 'n groot mate eerder 'n krisis in myself as wat dit in my omstandighede lê.

Iemand kan alleen in die woestyn stap en glad nie eensaamheid ervaar nie, aan die anderkant kan jy jou geliefde in jou arms vashou en tog ’n diep eensaamheid ervaar! Alleenwees is nie noodwendig eensaamwees nie! Om eensaamheid te oorwin begin in jouself en dis ’n proses wat tyd en harde werk vereis! Deur die krag van die Heilige Gees moet daar ’n nuwe patroon in my lewe gevestig word. Ek moet die kwelpunte identifiseer en in die lig van die Woord besluit hoe ek op hierdie verskillende situasies in my lewe wat eensaamheid veroorsaak gaan reageer. Deur die krag van die Heilige Gees moet ek uitbreek uit hierdie vaste groewe en patrone, en nuut begin dink en nuwe patrone vestig. Prakties : Miskien voel jy elke Vrydagaand eensaam - nou het jy verval om tot laataand flieks te kyk op TV - dis nie goeie flieks nie, dit besoedel jou hart, maar jou eensaamheid dryf jou daartoe... Deur die krag van die Heilige Gees kan jy daardie patroon breek en iets anders opwindends doen (daar is so baie moontlikhede!) Of iemand anders probeer die eensaamheid verdryf deur aanmekaar te eet. Deur die krag van die Heilige Gees kan jy daardie gewoonte breek. Kom uit jou groewe! ’n Groef is ’n vlak graf! God wil jou oë open vir nuwe geleenthede. Saam met die gemeente, saam met ander kinders van God kan jy ontdek watter spesiale plek en diens God vir jou in die oog het...

Die heel belangrikste : ’n Voortdurende volle oorgawe aan Jesus, ’n raaksien van sy genoegsaamheid en om jou te verheug in Hom is die diepste en blywendste oplossing vir eensaamheid! (Onthou Fil 4:4) Vind vervulling in Jesus se heerlikheid!

Eensame : Skep moed, God beloof om die eensames te help! Vat Psalm 68:7 as 'n persoonlike belofte vir jouself!

(Volgende keer meer oor hoe Jesus self die diepste antwoord op ons eensaamheid is)





























MISSIE VAN 'N MELAATSE

- SOLOMON DE KONING.

Ek en my broer Jacobus is op ’n ontdekkingstog. Ons soek na die graf van my oupa se broer, Solomon de Koning hier aan die westekant van Pretoria. Vir ons is dit onbekende leeuwêreld. Ons het deur die Daspoorttonnel gekom en maar so soek-soek en vra-vra probeer uitvind waar die ou Westfort Melaatse Hospitaal is. Of liewers was, want dis blykbaar nou ‘n plakkerskamp. Ons ry op ’n ’n stil afgeleë teerpad, omsoom deur bloekombome. Jacobus bestuur. Ek mimiek ’n geweer in my hand. Grappies om die effense bekommernis te verwerk, want Pretoria is deesdae meer bekend vir misdaad as vir kultuur en rugby.

Ek weet nie baie van oom Solomon nie. Pa het al van hom gepraat. Die oom van hom wat aan melaatsheid gely  en hier in Westfort beland het. Pa self het hom nooit geken nie, want hy is jonk oorlede. As jongman, na sy bekering, het Pa hier kom kerk hou vir die melaatses en ook na oom Solomon se graf kom kyk. By ’n verpleegsuster het hy gehoor dat  hierdie oom van hom 'n kind van God  was. Sy ouma het dit op navraag bevestig. “Solomon was waarlik ’n Christen.”

So ’n tyd terug kry ek dit in my kop om bietjie meer uit te probeer vind oor oom Solomon. Ek google sy naam. En sowaar sy naam duik op in ‘n artikel in die Sunday Times van 26 Oktober 2008. Sean O’Toole beween die haglike toestand van Suid-Afrika se rusplekke vir die dooies, en ja, hy het sowaar ook by Westfort se verlate grafte ’n draai gemaak!

“First on my list of places to look, partly because it was just around the corner, was the scurvy little suburb of Danville, behind which lies the forgotten settlement of Westfort. A former leper colony, Westfort is equal parts ghost town and vibrant set for an apocalyptic B-grade horror. The tenuously healthy - squatters to you and me - now occupy the former hospital wards. The abandoned Catholic church is slowly being dismantled, brick by brick, for scrap.
I ask the local firewood salesman, a genuine Afrikaner hillbilly wearing a felt hat, unwashed face and blackened teeth, where Westfort's cemetery is. He quizzically sizes me up then points me in the direction of a thicket of blue-gum trees.
The headstones for Louis Henry Killian, died 1924, and Solomon de Koning, died 1934, lie forgotten amongst four or five dozen other abandoned graves, overgrown by grass and trees.”

Kan jy nou meer! Die spreekwoordelike toeval! Tussen al die grafstene kies hierdie onbekende Engelse joernalis twee om by die naam te noem, en een is my eie bloedfamilie, oom Solomon! Toe ek dus vir ’n kursus Pretoria toe moes gaan, besluit ek : “Ek moet oom Solomon se graf opspoor!”

Ons kom by die rooi baksteengeboue van Westfort en gaan die terrein binne. Vir hoeveel melaatses het hierdie hek en hierdie geboue eensaamheid, afsondering, doodloopstraat, verdoemenis gespel? Watter vrae het in hulle binneste gebrand by die eerste aanskouing van hulle nuwe tuiste? Hoe het hulle oor hulleself gedink? ’n Gemeenskap van gekwestes? Uitgesonder vir God se oordele? Wrede toevalligheid? Het oom Solomon hoegenaamd gewonder oor God se doel met hom? Was hy opstandig, hartseer, berustend? Het hy geweet hy sou hierdie plek nooit weer verlaat nie of het hy dalk gehoop op ’n wonderwerk? Dis tragies, maar blykbaar het hy nooit eens melaatsheid gehad nie. As beter diagnose destyds beskikbaar was, sou hy waarskynlik nooit hier beland het nie.

Ons doen navraag by van die nuwe gesonde inwoners van Westfort. Die grafte is hier buite. Ons stap so effens senuagtig tussen die bloekombome in. In hierdie boskasie is skuilplek vir baie skurke. Verwaarlosing en agteruitgang het oorgeneem. Die grafte lê verspreid tussen die bome en onkruid. Swygend vertel hulle van ’n eensame verloorstryd teen ’n wrede siekte. Dit vat ’n hele rukkie voor Jacobus die voorreg het om op oom Solomon se graf af te kom. Ons ekspedisie was suksesvol! Nuuskierig loop ek vinnig nader.

Dis met ’n mengsel van eerbied, hartseer maar ook ’n goeie stuk ontdekkersvreugde dat jy lees :

HIER RUS
ONS GELIEFDE
SOLOMON DE KONING
GEB . 21 MEI 1897
OORL. 30 JAN 1934
GESANG 182 VERS 2

Oom Solomon se graf is een van die eenvoudiges. ’n Grys leiklip kopsteen sonder tierlantyntjies. Net die basiese inligting. Sê dit iets van sy persoonlikheid, van sy eenvoudsbestaan? Dit maak in elk geval, die “toeval” nog net meer interessant. Sy graf is nie een van die mooistes nie, dis ook nie opvallend of aan die kant van die grafte waar mens dit maklik sou kon opmerk nie. Hoekom sou die joernalis se oog nou juis sy naam opvang?

Wat was oom Solomon se missie in die lewe? Dalk het hyself nie geweet en verstaan nie. Maar die Almagtige soewereine God het ook vir hom ’n plek gehad in sy groot Raadsplanne en die ontvouing van sy voorsienigheid. Het hy dalk gebid vir sy familie en hulle nageslag dat hulle die Here sou dien? Is die genadewerking van God in my eie lewe dalk ’n verhoring van daardie gebede?  Die ewigheid sal seker baie interessante antwoorde oplewer. Vir nou eers is God se Woord voldoende! Uit God se Woord kry ons die vertroostende versekering, dat ook vir Solomon de Koning, God alles ten goede laat meewerk het. (Romeine 8:28)

In God se woordeskat is daar nie ’n woord soos “toeval” nie! Die ontdekking van Oom Solomon se graf en sy lewe opsigself is ’n bevestiging van hierdie waarheid uit God se Woord! Mag hierdie waarheid ons troos en rigting gee in alle omstandighede!