BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Waarheidsonderskeiding. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Waarheidsonderskeiding. Wys alle plasings

Vrydag 08 Februarie 2019

VERWARRING

AS DIE ONDERSKEID TUSSEN LIG EN DUSTERNIS VERDWYN! 



Niks is so erg soos verwarring nie. Dink nou maar aan die frustrasie as ‘n skeidsregter nie konsekwent is in die toepassing van reëls nie of nog erger as daar glad nie meer reëls is nie! Hoe sal ‘n rugbywedstryd lyk sonder reëls? As niks verkeerd is nie… As jy maar ‘n drie onder jou eie pale ook mag druk? Chaos! En dis presies wat op geestelike gebied in die wêreld aan die gang is. Erger nog, dis wat in die kerk aan die gang is… Onder mense wat hulleself Christene noem. Daar is nie meer onderskeid tussen reg en verkeerd nie! 



Hier in Jesaja 5:8-25 vind ons ‘n hele lys van dinge wat God kwaad maak en wat tot die tragedie van die ballingskap sou lei. God waarsku onomwonde : “Ellende wag vir julle...” Ja, en vir sommige is dit dalk nuus, maar daar is inderdaad dinge waarvan God nie hou nie en wat sy toorn opwek. Een van die sake wat die profeet noem wat God kwaad maak en wat sy oordele oor die volk gebring het, word in vers 20 genoem. 



“Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter.” 



Die sonde van geen onderskeid. Van verdraaiing en vermenging. Van hiperverdraagsaamheid teenoor als wat afwyk van God se Woord. Ek gaan hierop fokus want dit is ‘n uitstaande kenmerk van ons postmoderne tyd! In ons huidige tydsgewrig is als mos reg. Elkeen maak soos hy voel. “Ek voel dis reg...” 

WAAR KOM DIE VERWARRING VANDAAN? 

Natuurlik van die Satan. Die vader van alle leuens. Reeds in die tuin het hy verwarring gesaai. “Het God regtig gesê?” Maar as ons spesifiek na hierdie gedeelte in Jesaja kyk, kom nog ‘n skokkende feit na vore. Die groot bron van verwarring is nie die bose wêreld daarbuite nie, maar mense wat veronderstel is om God se mense te wees. (Onthou met wie hier gepraat word – nie die heidense Egiptenaars of Babiloniërs nie, maar God se Verbondsvolk!) 

Christene wat nie meer wil onderskei tussen reg en verkeerd nie, is vandag die groot bron van verwarring en morele chaos! Dis hoekom ‘n “uitgesproke Christenmeisie” haarself halfkaal in ‘n manstydskrif kan uitstal! *

Die probleem van verwarring kom as Christelike kerke nie meer die moed het om te sê : Dis reg en dis verkeerd nie! (Die kerk is mos selfs bang om te sê wat ‘n huwelik is). As Christelike skole maar alles goedpraat en eintlik niks verskil van ander skole nie. (Dobbelary word gebruik om fondse in te samel!) As Christelike huise nie meer leiding gee aan kinders wat reg en verkeerd is nie. As “Christelike tydskrifte” (soos Finesse) in wese niks verskil van enige ander tydskrif nie! Sogenaamde Christen sangers en filmsterre, sporthelde en politici lewe openlik teen God se reëls, maar hulle verklaar dat hulle gelowiges is en word toegejuig deur almal wat net so min onderskeid het as hulleself! Hierdie vermenging en verdraaiing skreeu ten hemele.

'n Ongetroude paartjie leef saam as man en vrou en vertel ewe vroom dat hulle saambid en saam die Bybel lees. Mens wonder watse Bybel? Vertel hulle Bybel hulle niks van bekering en breek met 'n sondige leefstyl nie? Iemand is besig met 'n skelm onder die tafel deur transaksie en sal ewe vroom vertel van God se voorsiening in moeilike tye! Watter God is dit wat oneerlikheid goedkeur? Dis die probleem : Goed word sleg genoem en sleg word goed genoem! 

GOD MAAK DUIDELIKE ONDERSKEID 

Nou wat leer die Woord ons? God maak deurgaans ‘n duidelike onderskeid tussen goed en sleg, lig en duisternis, soet en bitter! Ons durf nie sy reëls probeer verander nie. Blaai so vinnig deur die Skrif, 

Skepping. ‘n Duidelike onderskeid tussen lig en duisternis. God is lig!

Adam en Eva. Daar was ‘n duidelike reël. Oortree dit en julle sal sterwe! Geen vaagheid. 

Noag. Hierdie geskiedenis wys God maak weereens ‘n duidelike onderskeid. Sommige word gered, ander (die groot meerderheid word gestraf). Slegs binne die ark is redding te vind, daarbuite net oordeel en vernietiging. 

Dwarsdeur die geskiedenis sien ons duidelike skeidslyne. God maak die reëls en Hy is ernstig daarmee. Dink maar aan die voorbeelde van Akan (wat die bangoed gaan begrawe het) en Ussa (wat aan die verbondsark gevat het). Beide het God se opdragte nie ernstig opgevat nie! Beide het die vreeslike wraak van die heilige God gevoel! 

EN JESUS? 

“Ja, maar dis die Ou Testament. In die Nuwe Testament is Jesus mos nie so ernstig nie!”, sal mense beweer. Dis ‘n groot fout,, my vriend. Jesus het die lyne tussen reg en verkeerd net baie dieper getrek. Hy kyk verby die uiterlike na die diepste bedoeling van die hart. Dink aan sy verklaring van die sesde en sewende gebod. Jy is al skuldig aan moord as jy iemand uitskel, jy is skuldig aan egbreuk as jy net die eerste stap tot seksuele onreinheid oorweeg. (Matteus 5) Dis alles behalwe ‘n verslapping van die onderskeid tussen reg en verkeerd. Alles behalwe 'n relativering van morele waardes. 

Jesus se radikale lering oor die twee weë, maak dit duidelik dat daar nie ‘n derde middelpad is nie. 

Daar is ‘n duidelike onderskeid tussen die smal pad en die breë pad! Ja, Jesus het radikale vergifnis aan die grootste sondaar gegee, maar sy opdragte aan hierdie sondaars was eweneens duidelik : Moenie aangaan op die verkeerde pad nie! (Dink aan die vrou in Johannes 8) Maar is hierdie boodskap van ellende, darem nie tog te negatief nie? Pas dit by Jesus en sy mense? Ja, Jesus self het oor seën én ellende gepraat. (Vgl. die veldrede in Lukas 6) 

Die duidelikste bewys dat God onderskeid maak tussen reg en verkeerd, tussen lig en duisternis kry ons by die kruis. As alles maar reg was, waarom moes Jesus so bitterlik ly? As alle mense in elk geval die straf sal vryspring en daar nie ‘n hel is nie, waarom het God dit nodig gevind dat Jesus helse straf deurgaan? 

In 1 Johannes 1:5ev word hierdie saak van verwarring tussen reg en verkeerd ook aangespreek. 

“Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. 
As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 
Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 
As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 
Maar as ons ons sondes bely- Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 
As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie. God maak nie kompromie met duisternis nie. Hy maak ‘n duidelike onderskeid.” 

Moenie God se reëls, bepalings, ordes en norme probeer verander, verdraai en omseil nie. Moenie verskonings uitdink nie. Nee, erken eerder dat jy verkeerd is, dat jy sy heilige wil en gebooie oortree het, kom in berou en belydenis na Jesus Christus, dan is daar beslis vergifnis en reiniging! 
Mag God ons help om in 'n wêreld van verwarring, duidelike onderskeid te maak tussen lig en duisternis!

* Vir 'n bespreking en voorbeelde van skokkende mengelgodsdiens kliek op MELINDA


                                                          Die lig verdryf die duisternis....




Vrydag 28 Desember 2012

KASTREER JULLESELF

-  “snydende” sarkasme van ‘n liefdevolle apostel.

Die apostel Paulus het seker die wêreld se bekendste lofrede op die liefde geskryf. Ons almal ken die aangrypend wonderskone 1 Korintiërs 13 en het altyd maar weer nodig om daarna terug te keer en onsself opnuut met hierdie tydlose waarhede te verfris!  En nou is dit juis hierdie apostel, ‘n kenner van die liefde wat met amper ‘n skurwe en  skokkende stuk sarkasme die Galasiese dwaalleraars bykom.   Die Judaïseerder  valse leraars wat gemeentelede wou omhaal om weer die tora voorskrifte oor die besnydenis te onderhou,  kry ‘n bitsige teregwysing van Paulus se kant af : “Ek wens die mense wat díe verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!” (Galasiërs 5:12)  Dis asof Paulus byna in desperaatheid oor hierdie vernietigende onkunde smalend raak en sê : “Laat julle misleiers dan nou maar hulle waansin tot die uiterste volhou en hulle dan nou maar sommer self kastreer!” * Harde woorde!

Waarom haal ek nou hierdie sterk woorde van Paulus op? Dit gebeur so dikwels dat iemand  wat vir die waarheid opkom van liefdeloosheid en onverdraagsaamheid beskuldig word. Dis ‘n beskuldiging wat vir elkeen na wie dit kom tot ernstige nadenke en selfondersoek behoort te stem. Ja, want ons weet mos dat die liefde die grootste gebod is, maar juis ook die een wat ons as selfgesentreerde mense die maklikste oortree. (en wie van ons is nooit hieraan skuldig nie?)

En tog moet ons ook met nugterheid  kennis neem van ‘n  buite  konteks verabsolutering van ‘n normlose liefde wat kwistig deur die media gepropageer en selfs deur teoloë nagepraat  word. Liefde sonder die konteks en merkers van die waarheid  verval maklik in ‘n sentimentele onsinnigheid. Kom ek probeer verduidelik : Ons moet God liefhê, maar hierdie God is nie sommer enige god nie! Hy is byvoorbeeld  nie Boeddha nie, en Hy is ook nie die innerlike self-mensgod of kosmiese energie van die New Age nie! Die punt is : om God te kan liefhê is waarheidsonderskeiding gegrond op die Bybel  nodig! Want daar is sekere gode wat ek juis nie mag liefhê nie. Dieselfde geld die gebod om ons medemens lief te hê. Slegs die Woord van God kan vir ons inhoud aan hierdie liefde gee. Van Zuma (wat ons daarin herinner om nie honde bo mense te stel nie!!!) tot goddelose Hollywood sterre  gebruik  die begrippe ubuntu, liefde en verdraagsaamheid... maar  hulle is heel gemaklik as dit selfgesentreerde losbandigheid en sedeloosheid insluit.  Hierteenoor het Bybelse liefde duidelike norme. Liefde is nie maar net om  altyd te probeer “nice” wees nie, liefde is harde werk en ‘n duidelik uitgestippelde leefstyl volgens die opdragte en grense van die Skrif.

Bybelse liefde beteken nie om ten alle koste “nice” te wees nie, veral nie met dwaalleraars wat Bybelse waarhede ondergrawe nie.

Die groot drie van 1 Korintiërs 13 (Geloof, Hoop en Liefde) kan nie van die evangelie waarheid losgemaak word nie.  Alleenlik omdat Jesus Christus histories ligaamlik gesterf  en weer opgestaan het, kan ek geloof, hoop en liefde beoefen.  My geloof het ‘n inhoud : Jesus die enigste Middelaar met sy saligmakende sterwe en opstanding. My hoop het ‘n vaste grond en waarborg : sy genoegsame heilswerk wat vir my ‘n ewige  toekoms verseker.  Die liefde wat my dring om liefde te bewys is juis die liefde wat histories aan die kruis gestalte gevind het – die enigste norm vir ware liefde!

Is dit dan liefdeloos om hierdie evangelie waarhede kompromisloos te verkondig en kragtig te stry vir  die  geloof wat vir eens en altyd aan die heiliges oorgelwer is? (Judas vers 3) Die term liefde word so maklik rondgegooi, maar is dit nie juis ‘n bewys van gebrekkige liefde as ons toelaat dat  teologiese professore kosbare geroepenes aan ons fakulteite vergiftig met twyfel oor die opstanding en dat hulle daardie gif oordra aan getroue lidmate wat Sondag na Sondag opkom om te hoor wat sê God se Woord nie?  Is dit nie juis ‘n gebrek aan liefde wat maak dat ons hande gevou sit en toekyk hoe opregte gelowiges wat aan God se Woord getrou wil wees verwar word, deur leringe wat ons vertel dat ons God al die jare met ‘n verkeerde Naam en op ‘n verkeerde dag aanbid het nie? Moet ons stilbly as daar verkondig word dat God alle mense ryk en gesond wil maak, hier en nou?

Om terug te kom na Paulus se kras uitspraak. Ek dink ons kan vanuit die konteks van die Galasiër brief, baie hieruit leer.  Paulus maak ‘n duidelike onderskeid in hoe hy die dwalende (reeds of in die proses) gemeentelede aan die eenkant en die  dwaallerende ketters aan die anderkant hanteer en aanspreek. Paulus se hart gaan uit na die misleide gemeentelede. Hy smeek hulle met ‘n moederlike besorgdheid om terug te keer na die vryheid van die evangelie en die volheid in Christus alleen. “My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle  totdat Christus in julle gestalte kry.” (Galasiërs 4:19) Ja, hy vertel die waarheid aan hulle onbeskroomd en vra hulle mooi om dit tog nie as vyandskap te sien nie. (Galasiërs 4:16) Maar vir die gewetenlose  leraars wat die gemeente van die waarheid probeer weglok, het Paulus geen sagte woordjies nie, inteendeel...  Die rede is duidelik : dwaalleer (en hier praat ons nie van bloot verskillende interpretasies rondom byvoorbeeld die doop en die manier van Jesus se wederkoms nie, maar kernsake soos die ontkenning van die Godheid van Jesus Christus, sy genoegsame offer aan die kruis, sy  ligaamlike opstanding...) ondergrawe  mense se geloof!  Dit het Paulus goed besef en daarom verklaar hy : “daarmee vernietig hulle die geloof van sommige” (sien 2 Timoteus 2:16-18)

Wat wil ek met bogenoemde probeer sê? Met kinders van God wat onder die invloed van dwaalleer gekom het, moet ons reguit volgens die waarheid, maar in groot liefde, nederigheid, geduld en wysheid werk.  Maar valse profete moet nie verwag om met mooi woordjies gepamperlang te word nie! ( 2 Petrus 2  handel hieroor en is ‘n hoofstuk wat ons almal moet laat sidder) Nog minder moet hulle dink dat ons hulle gaan vlei met : "ons kan so baie by julle leer!"

Ten slotte net twee praktiese opmerkings waaraan elkeen wat vir die waarheid teen valse leringe opstaan gedurig herinner moet word:

1. Verkondig die waarheid op ‘n positiewe manier en met blydskap. (Ouers, dit geld natuurlik ook vir die manier waarop ons huisgodsdiens hanteer!) Die waarheid van die evangelie is immers ‘n blye boodskap wat bevryding bring! Ja, spesifieke dwalinge moet soms by die naam aangespreek word, maar  laat die klem val op die waarheid self. Dit voed en bou die gelowiges en stel hulle instaat om self te kan onderskei.

2. Pasop vir ‘n siniese bitterbek ingesteldheid. Daar is so ‘n magdom van valse leringe rondom ons dat mens maklik perspektief (en jou vreugde in Jesus) kan verloor.  Daar  bestaan die gevaar van ‘n oorpessimisme, wat vergeet dat Christus self sy Kerk instand sal hou.  Daar is ‘n slaggat van  kleinsielige foutvindery en haarklowery. Dit dreig om elkeen wat daarin val, nutteloos te maak vir die saak van die Koninkryk!

 Mag God ons ‘n gesonde balans gee om ons te bewaar van passiwiteit in die aangesig van dwaling, maar ook van ‘n mensgedrewe en eiesinnige aktivisme! Mag die norm van God se liefde ons hierin rig!


*Die Franse, La Sainte Bible gebruik inderdaad hierdie term. “qu’ils se châtrent!”