BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Vrouwees. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vrouwees. Wys alle plasings

Maandag 21 September 2015

DIS SO LEKKER OM TE GEE...

- dit was 'n vreugde vir die NGK Tsumeb se vroue om hulle susters in die geloof op Tsintsabis te bederf!

Hierdie groep vroue het handsakke gemaak en dit vol verrassings gestop. Saterdagmiddag 19 September is hulle toe met 'n bussie na die San vroue van Tsintsabis wat deel vorm van Wildevy gemeente om dit te gaan oorhandig. Trudie van Niekerk het die Woord uit die woordlose boekie gebring, daar is gesing, geëet en gedrink en sommer net die liefde van die Here gevier! Geloof in Jesus en liefde vir die heiliges, leer die Woord ons, is dinge wat saamgaan...





Lukas 6:38

"Gee, en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word."

Donderdag 07 Februarie 2013

SNEEUWITJIE SE STIEFMA

en die "nodigheid" van skoonheidskompetisies!

“Wie is die mooiste?”  Die bose stiefma se vraag klink nog steeds in ons ore... Daar is oraloor ‘n byna waansinnige beheptheid met hierdie ydelheidsvraag. Die oorweldigende magdom van skoonheidskompetisies is ‘n duidelike bewys van hoe baie hierop graag ‘n antwoord wil hê...  Weer en weer word  die towerspieëltjie uitgehaal, van ‘n gesofistikeerde Mejuffrou Wêreld skouspel tot dalk  ‘n effens meer besadigde Mejuffrou Groenmielie kompetisie. Natuurlik is dit die aspirerende skones se ideaal om te kan vorder van ‘n plaaslike Mejuffrou Sonskyn tot op ‘n internasionale vlak soos die van Miss Bikini International of dalk hopelik iets meer kuis, Miss Coffee International! 

Elke skou, skool (ook sogenaamde Christelike skole), sportklub, fees en fondsinsamelingsinisiatief (en ja, selfs kerke!) roep ons jong dames en meisies op om hulleself te kom uitstal! Die moontlikhede om met jou skoonheid te spog en met jou liggaam aandag te trek is net oneindig. Of dit nou is in die hoedanigheid as Nasionale Aartappelkoningin op Bethal, of dalk as draer van die kroon op Ficksburg se Kersiefees kompetisie, iewers word altyd ‘n verskoning gevind vir veral vroulik gebaseerde reklame. (en moenie Ficksburg onderskat nie, daar is ook nog ‘n mej. Kersiebloeisel en ja, die manne word ook betrek... ‘n mnr. Kersiepit!)  Aan bykans elke groente, vrugte of vleissoort is daar iewers  ‘n koningin of mejuffrou titel gekoppel. Selfs kleuters mag nie die dwase kompetisiegees (waardeur hulle ouers gedryf word) vryspring nie. Iewers sal wel ‘n tydjie ingeruim word vir ‘n Little Miss Tinker Bell en ‘n Little Mister Peter Pan om op ‘n verhoog te verskyn! So word hulle van kleinsaf voorberei vir groter dinge (en minder klere)!

Hierdie gekkerny is heeltemal in lyn met wat ons kan verwag van ‘n mensdom wat God nie ken nie en dus in hoogmoedige waansin sy eie god probeer wees. Die vraag is egter wat die gereinigde en geheiligde kinders van God van hierdie spulletjie moet dink?

Waarom behoort ‘n Christen weg te bly van skoonheidskompetisies?

Skoonheidskompetisies laat ons met ons oë sondig. Kant en klaar. Christus sê dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart egbreuk gepleeg het. (Matteus 5:28). En hoe kan ‘n mens vry bly van hierdie sonde in sulke wedstryde waar mooi geboude meisies met dikwels skraps klere aan uitlokkend heupswaaiend voor die toeskouers  paradeer? Het iemand hierdie versoeking nodig, is daar nie alreeds genoeg nie?  Organiseerders, deelnemers en toekouers is almal ewe skuldig!

Skoonheidskompetisies skep ‘n valse maatstaf vir vroulike uitnemendheid en skoonheid.  Volgens die Bybelse siening van ‘n mooi vrou gaan dit nie oor meetbare en sigbare bates wat deur mense op ‘n verhoog beoordeel moet word nie, maar eienskappe soos “‘n blywende beskeidenheid en kalmte van gees.” “Dit”, sê die Woord "het by God groot waarde."  (1 Petrus 3:3,4) Ja, die mooi liggaam van die vrou is nie opsigself iets mee verkeerd nie, maar is bedoel om deur haar eie man bewonder te word. ‘n Vrou is nie ‘n skouperd nie! Ewe vroom sal sommige probeer keer dat intelligensie en persoonlikheid darem ook beoordeel word. Dit mag so wees, maar hoeveel slim mollige mejuffroue Wêreld ken jy?

Skoonheidskompetisies is ooglopend ‘n radikale vorm van Godonterende wêreldliefde.  Hierdie wedstryde is kweekplekke van die gesindheid waarteen 1 Johannes 2 :15-17 juis so duidelik waarsku. Bunyan se Eerste Adam en sy drie verleidelike dogters, Begeerlikheid van die vlees, Begeerlikheid van die oë, en Grootsheid van die lewe is flink en aktief op al wat “catwalk” is.

Daar is natuurlik  Christene wat skoonheidskompetisies probeer regverdig deur die volgende redenasies:

Dis ‘n talent wat die Here my gegee het.  Ja, inderdaad alles, ons gesondheid, ons verstand en beslis ook  ons liggame is geskenke van God af. Ons moet dit net gebruik soos Hy dit wil hê en nie volgens ons eie sondige behoeftes nie. Ons mag ook vir niemand ‘n struikelblok wees nie! As iemand  byvoorbeeld sy skerp verstand gebruik om ander mense te bedrieg is dit verkeerd, al is die goeie verstand opsigself  wel ‘n talent van God. Niemand mag haar mooi liggaam gebruik om ander in die versoeking te stel nie! ‘n Mens kan net maar hoop dat al die talentvolles die regte perspektief behou en besef : “Uiterlike skoonheid hou nie, ‘n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dan verdien ‘n vrou om geprys te word.” (Spreuke 31:30)

Dis ‘n geleentheid vir  ‘n Christelike getuienis.  Is daar dan nie baie uitgesproke Christene soos Melinda Bam of Carrie Prejean in hierdie liga nie? Ons as beperkte mense kan natuurlik in niemand se hart sien nie, maar mag ek bewaar word van ‘n “Christen” skoonheid soos Melinda Bam! Hoe so? Wel, ek vra jou of die manne wat met stokstywe oë na hierdie skoonhede in hulle eina swempakkies kyk aan Christelike getuienis of dalk eerder  aan iets anders dink?

Ester is tog ‘n vroom Bybelse voorbeeld van ‘n dame wat aan ‘n skoonheidswedstryd deelgeneem het. “As sy aan ‘n skoonheidskompetisie kon deelneem, kan ek as Christenmeisie dit mos ook doen”, is die vroom verontskuldiging.  As mens enigsins literêr geloofwaardig en tekskonsekwent wil wees moet jy liewers die boek Ester heeltemal uit die debat oor skoonheidskompetisies uitlos. Die boek Ester is nie ‘n voorskrif oor morele sake nie, maar ‘n beskrywing van hoe God agter die skerms werk in die geskiedenis. As jy Ester as voorbeeld wil neem, waarom nie eerder koningin Vasti  wat geweier het om haarself belaglik te maak voor ‘n klomp dronk mans nie? Vir die Christenvrou word daar tog immers duidelike waardes en direkte opdragte in die Nuwe Testament uitgespel. “Van die vroue wil ek hê dat hulle ook in hulle kleredrag waardig, beskeie en ingetoë moet wees.” (1 Timoteus 2:9)

Ons bedoel niks slegs of lelik nie, maar doen dit bloot vir die pret. Ook opregte en onskuldige bedoelings kan baie ernstige gevolge hê. Ek wil geensins beweer dat alle dames en meisies wat by skoonheidskompetisies betrokke is, verkeerde motiewe het nie. Ek dink wel hulle is uiters naïef as hulle dink dat hulle optrede nie ander in versoeking lei nie. Jesus self het ‘n ernstige waarskuwing gerig aan diegene wat ander laat struikel : “Wee, die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom. “  (Matteus 18:7)

Christen, is jy besig om jouself aan God as lewende offer aan te bied, deur te soek wat vir Hom goed, aanneemlik en volmaak is, of paradeer jy op die verhoog van wêreldgelykvormigheid? (Romeine 12:1,2)

Nakouseltjie. Vir diegene wat nie meer die Bybel as norm ernstig opneem nie, maar darem nog ‘n goeie sprokie kan waardeer wil ek net daaraan herinner dat dit Sneeuwitjie se hoogmoedige en afgunstige stiefma was wat gedurig wou uitvind : “Wie is die mooiste in die land”? Die pragtige Sneeuwitjie se skoonheid het sommer in haar alledaagse werk en wandel uitgestraal! Sy het geen skoonheidskompetisie nodig gehad nie... Christenmeisie, met 'n rein hart, jy het ook nie!

Dinsdag 02 Oktober 2012

DIE MAG VAN 'N MOOI VROU!

- om haar man vir Christus te wen.

Dis ‘n opsigtelike tragedie : Huisgesinne en huwelike is in groot chaos. Die ergste  is dat baie Christene se huise en huwelike nie juis altyd  beter lyk as die van die wêreld daarbuite nie. Dit doen soveel oneindige skade aan die beeld van die evangelie. Dis nie God se bedoeling nie! As God mense red, wil Hy ons totale lewe vernuwe. Dit sluit die huwelik in. Daarom kry ons baie spesifieke opdragte oor die verhouding tussen man en vrou in die Skrif.

Petrus gee onder leiding van die Heilige Gees praktiese opdragte aan mans en vroue in 1 Petrus 3:1-7. Ons kyk vandag wat hy vir die vrou sê:

“NET so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het.
Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie,
maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.
Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig,
soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie." (OAV)

Kom ons herinner ons net eers aan die wyer konteks  waarbinne hierdie opdragte aan die vrou (en later ook man) kom. Dit hang nie in die lug nie. Twee sake is van belang:  

Dis deel van die groot opdrag in 1 Petrus 2:11,12.  Hier  gaan dit  oor ‘n skoon lewenswandel, ‘n voorbeeldige en aantreklike lewensstyl te midde van ‘n bose en vyandige wêreld. Kinders van God  is in hierdie wêreld, maar ons is geroep om anders te wees. Ook wat betref ons huwelike en gesinne, moet ons opvallend anders wees! Ons moet deur ons voorbeeld die Christelike boodskap “versier” sodat ons die ongelowiges daardeur kan wen vir die waarheid! Mense moet vra : “Hi, hoekom is julle gesin so gelukkig?” Ons huwelike moet modelle wees wat buitestaanders se onregverdige kritiek teen die kerk tot swye sal bring!
Tweedens is hierdie opdragte ook ‘n onderdeel van die deurlopende belangrike beginsel van onderdanigheid in 1 Petrus 2:13 (dit word herhaal in 18,3:1)

Die saak wat Petrus aanspreek is spesifiek die verhouding van die vrou met haar eie man in die huwelik.   

Hierdie opdragte van Petrus ontspring natuurlik uit ‘n spesifieke situasie in die werklike lewe as agtergrond, wat heelwaarskynlik algemeen voorgekom het. Dikwels het net een lid van ‘n egpaar uit die heidendom tot bekering gekom. Dit skep besondere probleme en uitdagings. Hoe leef ‘n vrou in ‘n huwelik saam met ‘n ongelowige man, wat dus ongehoorsaam is aan die Woord? Dis vandag nog steeds ‘n aktuele krisis.  Gewoonlik hanteer die meeste Christen  vroue dit ongelukkig verkeerd. (Julle weet mos wat hulle doen :  hulle kry boekies en blaadjies en DVDs, bel die dominee om te kom praat ens. Die gevolg : pappie word net al kwaaier en bestee al meer tyd weg van die huis om te vlug vir sy vroutjie se gepreek!) Petrus maak dit baie duidelik wat die vrou se werkswyse moet wees. Hy gee ‘n heder antwoord. (al is dit nie die lekker en maklike antwoord wat ons wil hoor nie)

Die Christen vrou moet haar onbekeerde man vir Christus wen, deur wandel sonder woorde! Sy moet ‘n woordlose evangelie bring! Haar lewe moet ‘n getuienis wees met groot oortuigingskrag! Natuurlik, kom ons erken,  dis veel gevra en beslis nie maklik nie. Kom ons wees eerlik : dit vereis opregte toewyding, onselfsugtige Christenskap, eindelose geduld en selfs die bereidheid om te ly! Dit vra bonatuurlike deursettingsvermoë! Gedryf deur ‘n passie vir God se eer en ‘n werklike liefde vir die man.  Ondersoek die motief van jou hart. Is dit nie dalk :  “ek wil tog hê hierdie ou moet ‘n Christen word sodat die lewe vir my makliker kan wees” nie? (LW - dit gaan hier oor mense wat reeds getroud was, toe die vrou tot bekering gekom het. Baie gelowige vroue sit met die pyn van ongelowige mans omdat hulle direk teen God se opdragte met onbekeerde mans getrou het. En dit  terwyl die Bybel dit verbied.)

As die vrou die man so met haar leefstyl  kan wen is al die moeite en opoffering dit werd. Hoe lyk hierdie lewenswandel? Dis ‘n lewe volgens die beginsels van : Onderdanigheid, Reinheid en Godvresendheid.

OPGEMAAK OF NUUTGEMAAK?

Petrus maak hierdie beginsels op ‘n praktiese saak wat vir vroue belangrik is van toepassing. Hoe maak ‘n vrou haarself aantreklik? ‘n Vrou kan op een van twee kante konsentreer : Uiterlike of innerlike. Waar gaan sy al haar energie (en geld) insit?  Klere of karakter? Gesig of gees? Petrus is duidelik, die klem moet nie op die uiterlike val nie! (Natuurlik propageer Petrus nie onversorgdheid nie.) Hy spreek wel ‘n baie teer saak aan in die sensuele en oppervlakkige kultuur waarin ons ons bevind. Maar hierdie probleem is nie iets nuuts nie.  Petrus se vermaning herinner sterk aan die van Jesaja 3:16-24 Luister bietjie!

"Die Here het ook gesê:
Die vroue in Jerusalem is hoogmoedig.
Hulle loop neus in die lug en swaai hulle heupe.
Hulle kyk vir die mans en knip hulle oë,
hulle skud die ringe om hulle enkels.
Maar die Here sal hulle koppe vol sere maak,
en hulle hare sal uitval.
Daardie dag sal Hy hulle mooi goed wegvat:
die ringe om hulle enkels en die juwele
wat lyk soos die son en die maan,
die oor-ringe en die armbande en sluiers,
die kop-ringe en die kettings om hulle enkels,
die mooi gordels om hulle lyf, die reukwater,
die juwele om hulle nekke,
die ringe aan hulle vingers en die neusringe,
die mooi rokke, die doeke om hulle skouers, die handsakkies,
die spieëls, die lang rokke, die kopdoeke en die kort jassies.
Wanneer die Here
al die mooi goed weggevat het,
dan sal die vroue nie meer
lekker ruik nie, hulle sal stink.
Hulle sal nie meer mooi gordels dra nie,
hulle sal toue om hulle lyf dra.
Hulle sal nie hulle hare kan vleg nie,
want hulle sal kaalkop wees,
hulle sal nie meer mooi klere dra nie,
hulle sal rouklere dra.
Hulle sal nie meer mooi wees nie,
daar sal brandmerke op hulle lywe wees,
want hulle sal slawe wees."

Sjoe!!! Klink amper of Jesaja deur die Huisgenoot geblaai of een van ons winkelsentrums besoek het!

Waaroor gaan dit? Die profeet Jesaja veroordeel die ryk hooghartige dames van Jerusalem wat hulle slegs oor hulle uiterlike voorkoms bekommer, terwyl die samelewing innerlik verrot is. Dis gewoonlik die tendens, hoe groter die geestelike armoede, hoe meer word daar op uiterlike vertoon en uitspattigheid gefokus om te probeer kompenseer! 

Ook Paulus maak soortgelyke opmerkings as Petrus in 1 Timoteus 2:9-10 (lees) Die Bybelse siening staan  in skerp  kontras met die algemene opvattings van die wêreld. Ons hoor dit mos : van kleins af word kinders aangemoedig om “sexy” te wees! Pasop: Ouers voer hulle kinders verkeerde waardes op subtiele maniere, sonder dat hulle dalk self daarvan bewus is!

Petrus se punt is nie ‘n  legalistiese verbod op alle mooi klere of grimering nie. (waar sou mens in elk geval die streep trek?)  Nou wat wil hy dan  tuisbring? Die punt wat hy wel maak  is tweeledig : 
1) Die oorweldigende waarde van innerlike skoonheid bo uiterlike versiering. 
2) Die groot gevaar van uitspattige sensuele versiering.

Weereens durf ons geen kleinlike wettiese reëls hieroor maak nie.  Elke Christen vrou moet onder leiding van die Heilige Gees, volgens die beginsels van die Woord en binne die konteks van bepaalde kultuuromstandighede, eerlik voor die Here keuses maak. Dit gaan eerstens natuurlik oor jou eie diepste motiewe, maar vir die Christen vrou wat ander se geestelike welsyn op die hart dra, ook  oor die vraag of my kleredrag en grimering ander in versoeking kan lei.

Positief : 

Die geheim van die Christen vrou se standhoudende skoonheid lê nie in  hoe sy haarself opmaak nie, maar hoe die Heilige Gees van God haar nuutmaak! 

MAGTIGE MOOI VROUE

Die innerlike mooi Christen vrou het ‘n magtiger wapen om haar man mee te beïndruk as bloot uiterlike aantreklikheid.  Konsentreer daarop!  Die uiterlike  het slegs ‘n kortstondige duur : die hare moet telkens teen groot koste weer oorgedoen  word, die duur klere is volgende seisoen weer uit die mode... Daarteenoor word  ‘n sagmoedige, bedagsame karakter net al mooier. Dis die gees wat daagliks deur die Gees vernuwe word!  Dis wat God sien en hoog ag!

SARA OF ISEBEL?

Petrus verwys na die verlede en merk op dat dit altyd so was dat heilige vroue hulle versiering in die innerlike gevind het.
Hulle geheim? Hulle het op God gehoop! Sara was so ‘n voorbeeld. Sy het nie ‘n maklike lewe gehad nie... op die trekpad, vol onsekerheid, baie noue ontkominge... Tog het sy getrou aan Abram gebly en hom gerespekteer. Petrus haal aan uit Gen 18:12 . Dit gaan oor respek. Hoop op God sal lei tot respek vir die man. Pasop hoe jy oor jou man praat of na hom verwys as jy saam met vriendinne is!  Respek te alle tye!  Volg Sara se  voorbeeld na.  

So baie vroue is eerder dogters en nabootsers van Isebel....Die listige koningin met agterbakse planne wat haar  swakkeling man  Agab totaal oorheers het. Hierdie bose koningin kon nie God se oordele vryspring nie, haar oogverf en mooigemaakte hare ten spyt! (2 Konings 9:30)

 ‘n Innerlike mooi vrou is ook ‘n dapper vrou. Hulle "vrees geen verskrikking nie" Dit gaan nie hier oor ‘n aanmoediging om die Comrades te hardloop of Kilimandjaro te klim nie. Maar om dapper, standvastig, vol geloof in moeilike omstandighede, veral huislike omstandighede te wees! Om onder ‘n onbekeerde man ‘n stille blymoedige Christelike getuienis te handhaaf verg veel meer as om Kilimandjaro te bestyg!

Ek hoop jy sien raak dat hierdie gedeelte nie bloot ‘n polemiek is oor grimering en kleredrag nie. Hoor die positiewe noot in hierdie vermanings : die innerlike skoonheid van ‘n vrou is ‘n magtige instrument om ‘n verskil te maak in haar man se lewe en in haar huis, maar bo alles is hierdie innerlike skoonheid kosbaar voor God! 

My liewe vriendin, moenie die klem laat val op opmaak nie, maar laat toe dat die Heilige Gees jou nuutmaak! Dan is jy mooi... en magtig! Magtig in God se diens!