BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Profesie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Profesie. Wys alle plasings

Donderdag 04 Januarie 2018

MY PLANNE WERK NIE UIT NIE...

WAT NOU? 



AS GOD ANDERS BESLUIT, KAN EK TEVREDE WEES DAT HY WEET WAT HY DOEN!

Ons kry soms van die kosbaarste boodskappe sommer so uit minder opvallende gedeeltes van die Bybel. Hier aan die einde van die beroemde Romeine brief nadat Paulus klaar die groot teologiese waarhede van sonde, verlossing en dankbaarheid uitgelê het , skryf hy oor sy reisplanne. (Sien ROMEINE 15:23-33) En juis hier as ons die hele konteks van die Nuwe Testament in ag neem kry ons ‘n baie belangrike en troosvolle boodskap!

Paulus vertel aan die gemeente in Rome van sy planne en begeerte om na Spanje* te reis. 

“As ek daarmee klaar is en die volle bedrag wat ingesamel is, veilig aan hulle besorg het, sal ek by julle langs na Spanje toe reis.” (Romeine 1:28)

Dit sou beteken dat hy deur Rome moes reis en dan sou hy ook uiteindelik die geleentheid kry om die kerk daar te besoek. Heel moontlik was sy gedagte ook dat Rome dan sommer as basis kon dien vir sy verdere uitreik na die weste. Voor dit was daar egter eers ‘n baie ‘n belangrike taak wat hy moes afhandel. Hy moes ‘n kollekte van die heiden Christen gemeentes wat hy ingesamel het afbring na die Joodse Christene in Jerusalem. Dit was ‘n barmhartigheidstaak en Paulus het dit as baie belangrik beskou en hy het dit dan ook gedoen… Dit het heel waarskynlik ook vir Paulus om meer as bloot liefdadigheid gegaan, dit was ‘n handeling wat die diepgaande eenheid van die kerk sigbaar sou demonstreer – die feit dat God se kerk, die ware Israel uit gelowiges van beide Joodse en heiden afkoms bestaan. 

Sommige sien in hierdie daad van Paulus die simboliese vervulling van ‘n profetiese teksgedeelte soos Jesaja 66:20. “Hulle (die heidene) sal al julle volksgenote uit al die nasies as ‘n geskenk vir die Here saambring op perde, op waens, op drastoele, op muile en op kamele. Hulle sal hulle bring na my heilige berg toe, na Jerusalem toe, sê die Here. Hulle sal hulle bring soos die Israeliete die graanoffers in rein skottels na die huis van die Here toe bring.” 

Die heidennasies se bydrae is ‘n simboliese verteenwoordiging van hulleself as offer aan God. Hierdie offer afkomstig van heiden christene sou ook ‘n bevestiging van Paulus se apostelskap wees, spesifiek van hom as apostel wat geroep was na die heidennasies. Hoe dit ook al sy, hierdie reis was vir Paulus van uiterste belang…

God besluit toe anders...

Die volle verhaal van Paulus se reis na Jerusalem word in Handelinge vertel. In Jerusalem het daar egter dramatiese verwikkelinge gekom. Paulus is gearresteer. Handelinge vertel al hierdie gebeure in detail – hoe Paulus voor die Joodse raad en daarna voor goewerneur Feliks, en daarna voor sy opvolger Festus en ook voor koning Agrippa verskyn en getuig het. So het meer as twee jaar verbygegaan. (Hand 24:27) Toe het Paulus hom einde ten laaste op die keiser beroep en daar is besluit dat hy na Rome gestuur moet word om voor die keiser te verskyn. En eers na ‘n baie lang en gevaarlike seereis, wat ‘n skipbreuk op die eiland Malta ingesluit het, het Paulus in Rome aangekom. Hy bereik Rome ja, maar nie as ‘n reisende sendeling op pad na Spanje nie, maar as ‘n gevangene van die keiser! 

Die mens wik, maar God beskik! Ja, God bereik sy doel dikwels met ‘n lang en moeisame ompad en nie sommer met maklike kortpaaie nie!

Het die verandering van planne vir Paulus ondergekry? Het hy tou opgegooi? Het hy vertroue in God se beskerming verloor? Nee! Hoekom nie? Hy het ‘n duidelike doel gehad, wat groter was as sy eie ambisie en begeertes. Reeds op reis na Jerusalem het dit begin duidelik word dat vervolging daar op hom wag in Jerusalem. 

Ons lees daarvan in sy afskeidswoorde aan die ouderlinge van Efese. 

“En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat dáár met my sal gebeur, weet ek nie.
Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag.
Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” (Handelinge 20:22-24.) 



Hoe kon Paulus ten spyte van terugslae en teleurstellings met BLYDSKAP volhard? Jy sien, Paulus se reisplanne en toekomsvisie het nooit oor sy eie eer of eie plesier of eie avontuurlus gegaan nie. Dit het gegaan oor sy gehoorsaamheid aan die opdrag en roeping wat die Here hom gegee het. En toe die Here dus sy reisplanne wysig en bepaal dat dit lyding en tronkstraf moet insluit het hy met blydskap daarby ingeval! Mens sien hierdie selfde gesindheid van oorgawe aan God se besluite en vergenoegdheid in alle omstandighede ook baie treffend in die Filippense brief. Daarin verklaar hy : “Of ek lewe en sterwe maak nie saak nie, solank ek net Christus verheerlik!” (Filippense 1:20,21) 

PRAKTIESE OPMERKINGS: 

  • Ons planne werk nie altyd uit nie, selfs al is ons getroue kinders van die Here, selfs al het ons die beste bedoelings, selfs al bid ons baie oor die planne. Ons moet dus nie moed verloor as als nie verloop soos ons dit voorsien het nie. Dit beteken nie die Here het ons afgeskryf nie. Ons moet net nooit ons passie vir sy eer en sy evangelie verloor nie. Dis wat tel!
  • God is soewerein, sy planne werk altyd uit en Hy bereik altyd sy doel, al is dit op ‘n ander manier as wat ons sou wens of verwag! Niks en niemand kan God keer om sy ewige doelwitte te gebruik nie.
  • Ons moet ons blymoedig onderwerp aan God se planne al behels dit ‘n ander opsie as wat ons vir onsself sou kies. Jy wou dalk graag ‘n reisende sendeling word, maar God het beskik dat jy ‘n siek familielid moet versorg of na jou klein kindertjies by die huis omsien. Of andersom, jy wou dalk graag ‘n ma van klein kindertjies wees, maar nou het God beskik dat jy enkellopend moet wees sodat jy vry is om ander mense te bereik. Jy wil dalk nou iets groots vir die Here doen,maar HY plaas jou eerste deur ‘n toets van lyding, siekte of opleiding. Jy het dalk beplan om die wêreld vol reis vir die evangelie, maar helaas nou is jy op ‘n siekbed... 
Wees geduldig, God het Sy tyd en Sy manier! 

Onthou : Paulus se belofte in Romeine 15:29** het waar geword, maar op ‘n ander manier as wat hy beplan het of seker graag sou wou sien... En beslis op ‘n ander datum as wat hy oorspronklik voorsien en gedink het. Hou dit ook in gedagte as jou planne vir 2018 ook nie altyd gaan uitwerk soos jy dit wou gehad het nie.

Die besondere verhaal van ds. A.A. Louw die pioniersendeling van Masjonaland (Zimbabwe/Rhodesië) is ‘n baie bemoedigende bevestiging van hierdie waarheid dat God SY TYD en SY PLAN het wat die beste is! (Kliek LOUW)


Andrew Louw en sy vrou Cinie

*Het Paulus ooit toe by Spanje uitgekom? Daar is interessante inligting wat moontlik daarop kan dui soos ‘n verwysing van Clemens in die eerste eeu en ook in die Muratoriese kanon. Daar is egter geen duidelike bewyse nie. Sien Morris, Epistle to the Romans, p518 voetnota 119.

** “Ek weet dat as ek na julle toe kom, dit met die volle seën van Christus sal wees.” Romeine 15:29

Maandag 11 Desember 2017

TRUMP EN JERUSALEM

- moet Christene hande klap?



Trump se besluit oor Jerusalem het skokgolwe deur die wêreld gestuur. Groot toejuiging van sy kiesers en vanuit sekere elemente in Israel self. Die res van die wêreld en die Palestyne en Arabiere in die algemeen voel natuurlik baie anders oor die saak. Nou, almal wat iets van Amerikaanse politiek verstaan sal besef, Trump se aankondiging dat die VSA amptelik Jerusalem as die staat Israel se hoofstad erken, weinig met oortuiging te make het, maar wel baie met persoonlike populariteit en om die guns van sy groot Joodse casino baas donateur, Sheldon Adelson te behou. En so terloops : Trump se aankondiging is ook nie so dramaties en dapper soos baie van sy ondersteuners graag sou wou glo nie. In sy aankondiging oor die erkenning van Jerusalem was daar ‘n opvallende weglating – Hy het nie die Israelse terminologie oor Jerusalem gebruik nie. Israel verwys na Jerusalem as die “ewige onverdeelde” hoofstad van Israel.* Trump het net na “Jerusalem” verwys en dus die deur oopgelaat dat die grense van Jerusalem nog steeds onderhandelbaar is.



Ek wil egter nie op hierdie fasette konsentreer nie, maar net vra wat die geestelike en Bybelse dimensie van hierdie besluit behels?


JERUSALEM SE BETEKENIS VIR ONS


Hoe belangrik is die stad Jerusalem, spesifiek vir ons as Christene? En as dit belangrik is, in watter sin? Is God op ‘n manier meer daar teenwoordig as op ander plekke? Maak die status van Jerusalem hoegenaamd nog saak vir ons? Behoort evangeliese Christene, Trump se besluit toe te juig?



Histories gesproke in die ontvouing van God se verlossingsplan het Jerusalem natuurlik ‘n sleutelrol gespeel. Dis die stad van Dawid, die setel van die tempel, die plek waar God besluit het om op ‘n besondere manier teenwoordig te wees! As geografiese plek waar ons Here Jesus gekruisig is, het Jerusalem vir ons natuurlik ‘n geskiedkundige belangrikheid. Maar het Jerusalem (en of dit nou amptelik as Israel se hoofstad erken word of nie), enige geestelike betekenis vir ons?

DRAMATIESE VERSKUIWING

Met die koms van Jesus het daar dramatiese verwikkelinge gekom in die rol van Jerusalem. Die geografiese Jerusalem het geen geestelike betekenis meer vir ons nie! Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou by die put het dit vir altyd vir ons opgeklaar!

Die vrou het geredeneer : “Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ‘n mens God moet aanbid, is in Jerusalem."

Jesus sê toe vir haar: "Glo My, Mevrou, daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie.

Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode.

Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. (Johannes 4:20-23)

Ware aanbidding is gestel in Jesus Christus. Hy het immers die TEMPEL VAN GOD (kliek) vervang en by implikasie daardeur die belangrikheid van die stad Jerusalem gerelativeer! 

Ons moenie vergeet nie, Jerusalem het Jesus verwerp en Jesus het die oordeel oor hierdie stad en die tempel uitgespreek. 

"Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!

Kyk, nou word julle stad aan julleself oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!" (Lukas 13:34,35) 

Later spreek Hy ‘n nog duideliker oordeel uit oor Jerusalem!

"Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is." (Lukas 21:24)

En die geskiedenis leer ons dat die voorspelde oordele wel oor Jerusalem voltrek is...

JERUSALEM SE TOEKOMS?

Die groot vraag is natuurlik nou wat bedoel word as Jesus verwys na die vertrapping van Jerusalem wat ook tot ‘n einde gaan kom? Voorspel dit ‘n glorieryke aardse bedeling vir die geografiese stad Jerusalem? Dis natuurlik hoe die chiliasme, wat 'n duisendjarige aardse koninkryk van Jesus verwag, dit verstaan.**

In die breë Bybelse heilsgeskiedenis, dink ek moet ons nie hierdie uitspraak van Jesus verstaan as ‘n wonderlike toekoms vir die huidige stad Jerusalem nie. Ons moet Skrif met Skrif vergelyk. ‘n Uitstaande belangrike hoofstuk in die Ou Testament wat handel oor die toekoms van Jerusalem is Jesaja 60. (Lees dit gerus, maar onthou dit is geskryf in konkrete Ou Testamentiese taal, segswyse en denkraamwerk.) ‘n Baie belangrike insig word verkry as ons hierdie hoofstuk met Openbaring se beskrywing van die Nuwe Jerusalem (die Bruid van Christus) vergelyk. Die ooreenkomste is verstommend treffend!

“Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie: die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, en jy sal roem in jou God.

Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, jou dae van smart is verby.” (Jesaja 60:19,20)

Vergelyk dit nou met Openbaring.

“Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.” (Openbaring 21:23)

“Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ‘n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer.” (Openbaring 22:5)

Jesaja beskryf die Nuwe Jerusalem in profetiese taal! 

Dit word bevestig deur die Nuwe Testament self. Die klem in die Nuwe Testament verskuif van die fisiese stad Jerusalem na die Nuwe Jerusalem. Die teologiese belangrikheid van die aardse stad Jerusalem vind vervulling in die waarheid van die Nuwe Jerusalem! (Kliek op Nuwe Jerusalem) Trouens Openbaring verwys eintlik baie negatief na die aardse Jerusalem as die plek waar ons Here gekruisig is!

“Hulle lyke sal in die hoofstraat van die groot stad lê waar hulle Here ook gekruisig is. Die stad word sinnebeeldig Sodom en Egipte genoem.” (Openbaring 11:8)

Ook Paulus heg geen spesiale geestelike betekenis aan die geografiese Jerusalem nie. Trouens om die onversoenbaarheid tussen redding deur die wet en redding deur geloof uit te beeld verwys hy baie sterk negatief na die aardse Jerusalem. En dan maak hy terloops ‘n positiewe verwysing na die hemelse Jerusalem! “Hagar staan vir Sinaiberg in Arabië, en dit is ‘n beeld van die huidige Jerusalem, want Jerusalem en sy kinders is slawe. Maar die hemelse Jerusalem is vry, en dit is ons moeder.” (Galasiërs 4:25,26)

Donald Trump se besluit (ongeag die applous van baie Christene) is eintlik baie teenproduktief vir die Christelike evangelie se vooruitgang veral in die Moslem wêreld. Dit plaas Arabiese Christene in ‘n baie netelige posisie. (Dink ook sommer, wie is ons naaste broers en susters in die geloof - Arabiese Christene wat in Jesus glo of Sioniste wat Jesus verwerp?)  So het die hoof van Egipte se Koptiese Kerk, Pous Tawadros die Tweede reeds gesê hy weier om die Amerikaanse adjunkpresident, Mike Pence te ontmoet wanneer hy Kairo later die maand besoek. Dis ‘n verstaanbare reaksie. Trump sal dit egter nie verstaan nie. Natuurlik dis te veel verwag van hom wat nie eens die woord vergifnis verstaan nie om diepgaande teologiese insig te toon. Van evangeliese Christene verwag mens egter meer insig en sensitiwiteit... Kom ons lees meer die Bybel en kyk minder TBN...

*Hy het wel dié term in sy verkiesingsbeloftes gebruik.

** Meer spesifiek, pre-millenialisme.
Diana Butler Brass som dit baie goed op:
I doubt that President Trump could explain dispensational pre-millennialism. I doubt he knows the term. But his evangelical supporters know it. Some of his advisers are probably whispering these prophecies in his ears. Trump might not really care how they interpret the Bible, but he cares that white evangelicals continue to stand with him. Moving the embassy to Jerusalem is one way to affirm his commitment to these evangelicals -- reminding them that he, Donald J. Trump, is pressing biblical history forward to its conclusion and that he is God's man in the unfolding of these last days.

Donderdag 12 November 2015

‘N BAIE “LEKKER” TEKS

- maak beslis erns hiermee, dis baie belangriker as wat jy dalk besef...


Ons lees in 1 Tessalonisense 5:21 - “Beproef alle dinge...” (OAV) “toets dit alles...” (NAV)

Toets alle dinge! A!, hier is nou ‘n lekker teks vir ‘n sondaar! Hier is nou ‘n Bybelvers wat my pas en vir my vryheid gee om te doen net wat ek wil. Nou mag ek alles toets : ek kan nou alle vorme van losbandigheid uittoets, ek kan maar ongetroud saambly – ek is mos net besig om te toets of dit werk, ek kan maar alles uitprobeer van dagga tot dobbel! Als van leuens tot loterykaartjies! Hier gee die Bybel my mos die reg om dit te doen... Blykbaar is daar baie ouens wat in ons tyd so redeneer... en tog is hulle TRAGIES VERKEERD!

Hierdie teks (of dan nou net ‘n gedeelte van ‘n teks) “toets alle dinge” (OAV – “beproef alle dinge”) is baie bekend en baie gewild. Dis egter ‘n tipiese voorbeeld van hoe die duiwel die Bybel misbruik. Dis natuurlik nie ‘n nuwe taktiek van Satan nie. Hy het dit al met Jesus self gedoen. In Matteus 4 lees ons hoe Satan, Jesus in die woestyn versoek het en Bybeltekste uit konteks aanhaal om Hom te probeer mislei... Ja, die Bybel kan ‘n baie gevaarlike boek wees in die verkeerde hande, of as ons dit lees met ‘n verkeerde of moedswillige gesindheid!

Kom ons kyk na hierdie teksgedeelte self. Wat beteken dit nie en wat beteken dit wel? Kom ons lees dit binne konteks:

“Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie.
Moenie profesieë geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is.” (1Tessalonsense 5:19-22)

Dit beteken duidelik nie dat ek maar allerhande sondes kan uitprobeer nie. As mens na die wyer konteks van hierdie brief kyk is dit onmoontlik dat Paulus hoegenaamd so iets hier kan bedoel. Juis in hierdie brief waarsku hy baie ernstig teen sonde en veral seksuele sonde. (1 Tess 4 :1-8)* Die onmiddellike konteks maak dit eweneens duidelik dat hier geen wilde vrypas te vinde is om alles wat voorkom uit te toets nie. In dieselfde asem word ons duidelik gewaarsku – “bly weg van alles wat sleg is.”(22) Nêrens in die Bybel word ons ooit aangemoedig om met sonde te eksperimenteer nie! Inteendeel! Ons moenie eers praat oor die bose dinge wat mense in die donker doen nie...(vgl. Ef 5:10-12)

Maar kom ons vra positief wat beteken hierdie gedeelte wel? Die antwoord is nie so moeilik nie. Kyk net na die KONTEKS. (terloops dis ‘n goue reël vir die verstaan van die Bybel – kyk na die onmiddellike konteks en ook na die groter geheel van die betrokke brief of geskrif en ook na hoe dit in die geheelboodskap van die Bybel inpas)

PROFESIE

Die konteks is dat ons moet pasop om nie die werking van die Heilige Gees teen te staan of te verwerp nie. Ons moet nie die gawes wat van die Gees afkom verwerp of geringskat nie. Die een gawe wat Paulus hier uitsonder is die gawe van profesie. Nou oor profesie is daar baie verskillende sienings. Die belangrikste is net om raak te sien dat die doel van profesie is om mense geestelik op te bou, te bemoedig, te waarsku en te vertroos. Profesie het in hoofsaak nie gegaan oor die toekoms nie, maar om ander gelowiges te versorg deur die toepassing van die Woord. Iemand met ‘n profetiese gawe breek vir jou die Woord oop in jou situasie. (Handelinge 15:32; 1 Korintiërs 14:3) Dit sluit egter nie uit dat daar soms ‘n toekoms element in mag wees nie. Belangrik net - die hele klem in die NT is nie op persoonlike voorspellings nie, maar oor hoe ons as Christene hier en nou moet heilig leef tot God se eer! Profesie gaan dus oor die toepassing van die Bybel se boodskap in ons lewens.

Paulus sê dus : Maak erns met God se Woord in jou lewe! Luister na die prediking. Luister na mense wat jou bemoedig en vermaan uit die Woord. Moet dit nie verag of geringskat nie!** 

TOETS DIT AAN DIE WOORD VAN GOD – ONS ENIGSTE VASTE NORM!

Maar baie belangrik : Toets dit alles! Dit wat jy hoor, moet jy toets. Jy moet dit toets aan God se Woord. Toets dit ook saam met medegelowiges wie se lewens wys dat hulle getrou en volhardend tot eer van God leef. As die preek of vermaning wat jy gehoor het, in lyn met die Bybel is, is dit jou verantwoordelikheid om erns daarmee te maak. As die preek wat jy hoor teen die Bybelse boodskap in geheel indruis, dan moet jy dit verwerp. (Sien LUGFOTO VAN DIE BYBEL)

In ons dag is hierdie oproep so aktueel en uiters belangrik. Ons word toegegooi met opinies, preke en geskrifte, valse teologie (Sinodebesluite?) en wolhaarstories, veral op die TV en Internet. Allerhande wilde boodskappe en bewerings word per e-pos rondgeslinger. Geestelike onderskeidingsvermoë is uiters noodsaaklik. Moenie net enige ou glo wat ‘n goeie spreker is en ‘n klomp Bybeltekste inryg en aanhaal nie. (Losstaande Bybeltekste kan baie gevaarlik en misleidend wees– ons het dit mos so pas gesien!) 

Toets eers wat jy hoor en lees. Moenie weghardloop met elke nuwe idee en lering nie. 

Toets dit deur erns te maak met die geheelkonteks van die Bybelse boodskap. Meer as ooit is dit nodig om te besef dat die Woord van God die enigste vaste waarheid en norm is!

Toets dit saam met standvastige medegelowiges! 

Toets dit aan die boodskap en belydenis van die kerk van alle eeue! As iemand met 'n heel nuwe leerstelling of verstaan van die Bybel na vore kom, hoe oortuigend ook al kan jy maar weet daar is iewers 'n slang in die gras....

Dit alles onderstreep net die feit hoe belangrik dit is om saam as gemeente die Here te dien en nie elkeen op ons eie rond te ploeter nie!

Mag God aan ons insig en vastigheid gee in hierdie verwarrende tye! Hy sal dit doen - deur sy WOORD en die werk van die GEES!

*1 Tessalonisense 4:1-8

En nou het ons nog iets anders om van julle te vra, broers. Julle het van ons geleer hoe God wil hê julle moet lewe. Julle doen dit ook, maar in die Naam van die Here Jesus versoek ons julle dringend: Lê julle nog meer daarop toe.

Julle ken die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle oorgedra het.

Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.

Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe;

julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie.

Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys.

God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe.

Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ‘n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.

**Moontlik het sommige mense in die gemeente die Woorduitleg begin verag, omdat daar ‘n ongebalanseerde en oorentoesiastiese siening oor die wederkoms in hierdie gemeente was.

                                     ???????????????



Donderdag 01 Oktober 2015

WAAR IS DIE HEILIGE STAD?

- hou jy rekening met Sion, die heilige berg, Jerusalem die heilige stad?

Sion is die tempelberg, Jerusalem die heilige stad waar God besonderlik teenwoordig is! Lees maar gerus weer deur jou Ou Testament. Dis 'n duidelike plek wat fisies op 'n landkaart aangedui kan word, dis geleë in die huidige staat Israel. So dink baie Christene... 

Maar wag 'n bietjie! Jesus se koms het baie dinge verander : ons bring nie meer bloedoffers nie, ons beoefen nie meer die besnydenis nie, ons vier nie meer die Joodse Sabbat nie... So kan mens aangaan...

Jesus het ook 'n hele nuwe betekenis en inhoud aan Sion en Jerusalem gegee.

"Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is" (Hebreërs 12:22,23)

Dis tog so duidelik! In sy kragtige oproep tot heiligmaking (vgl. 12:14), wys die Hebreërskrywer vir Christene op die feit dat die stad van God, die hemelse Jerusalem is. Dis die ontsagwekkende werklikheid waarmee ons nou moet rekening hou.

Christene word opgeroep om die hemelse Jerusalem in die oog te hou. Hierdie Jerusalem is die vervulling van al die Ou Testamentiese beloftes oor Jerusalem.

HOE MOET CHRISTENE DAN OOR DIE STAAT ISRAEL DINK?

Aan hierdie saak is heelwat direkte en indirekte vrae gekoppel : Moet Jode tot bekering kom en in Jesus glo om gered te word of dien hulle maar in elk geval dieselfde God as ons? Behoort Christene die staat Israel te ondersteun as ons geseënd wil wees? Hoe het die moderne staat Israel tot stand gekom, was dit God wat sy volk teruggebring het na die beloofde land of was daar ander rolspelers?  Hoe pas die Rothchilds in die prentjie? En wie is nou regtig God se uitverkore volk? Is die staat Israel 'n Godvresende land wat ons ondersteuning behoort te geniet?  Wat van die Palestynse Christene, is hulle nie dalk eerder ons broers en susters nie? Weet jy van die rol wat die Scoffield Bible gespeel het om baie Christene se denke rondom Israel te vorm? Waarom is Israel so 'n belangrike saak in 'n Amerikaanse presidentsverkiesing?

As jy weer oor hierdie dinge wil dink of antwoorde soek, kliek op MARCHING TO ZION  (maak jou reg vir 'n paar verrassings)*

Lees ook gerus weer UITVERKORE VOLK EN BELOOFDE LAND


NIE ANTI SEMITIES!

Moet ons die Jode liefhê? Ja, duisendmaal ja! Alle vorms van Jodehaat moet in die sterkste moontlike taal verwerp word. Ware liefde vir die Jode sal maak dat ons aan hulle die evangelie van Jesus sal verkondig (en ons moet!), maar dit vereis nie noodwendig dat ons ondersteuners van die staat Israel moet wees nie!


*Ek onderskryf nie noodwendig elke beklemtoning en nuanse in hierdie video nie, maar die geheelboodskap is m.i. Bybels.

Woensdag 02 September 2015

BLOEDMAAN

- is die einde van alle dinge naby?



Gaan daar iets vreesliks gedurende die nag van 27/28 September 2015 (of kort daarna) gebeur met ‘n besondere maansverduistering, die vierde in ‘n reeks van sogenaamde bloedmane? Hieroor word wyd berig in sekere godsdienskringe en selfs in die sekulêre media. (Kliek op CNN)



Ons word vertel : “Astronome het die tekens opgemerk. Geskiedkundiges het die betekenis daarvan erken. In 2014 en 2015 is daar die fenomeen in die hemelruim van vier bloedmane wat gedurende Joodse feesdae plaasvind. Dit het nog net drie maal in die geskiedenis plaasgevind: 1493-94, 1949-50 en 1967-68. Elkeen van hierdie datums het ’n buitengewone betekenis vir die volk Israel gehad. Vanaf die ontdekking van die Nuwe Wêreld tot die skepping van moderne Israel, is hierdie jare waarin die vier bloedmane verskyn het, ware keerpunte in die geskiedenis.” (Dit klink na iemand wat graag 'n boek wil verkoop...)

Bewerings oor die betekenis van die sogenaamde bloedmane is nou aan die orde van die dag. Wat moet ‘n Bybelgetroue Christen hiervan dink? Net 'n paar perspektiewe:

DIE EINDE IS BESLIS NABY!

In 1 Petrus 4:7 lees ons : “Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid.” Die Bybel sê dus duidelik dat die einde van alles naby is! God se Woord is genoegsaam en finaal en ons moet dit ernstig opneem. (of die wêreld nou saamstem of nie)  Die sogenaamde tekens van die bloedmane voeg dus niks nuuts by tot ons kennis nie! Die einde is beslis naby, maar wat beteken dit nou presies? "Naby" is natuurlik ‘n relatiewe begrip. Is dit nou dae, maande, jare, dekades of eeue? Dit hang alles af van mens se perspektief op die geskiedenis. “Naby” in die sin wat Petrus en ander Bybelskrywers dit in verband bring met die wederkoms is myns insiens nie ‘n bepaalde stuk tyd wat gemeet kan word nie, maar eerder ‘n uitdrukking dat die wederkoms ‘n naderende, onverwagse werklikheid en ontsagwekkende realiteit is wat al ons aandag en voorbereiding en waaksaamheid vereis! Met ander woorde : Wees gereed! Die res van Petrus se woorde bevestig hierdie siening. Die nabyheid van die einde (hetsy dit my eie dood of die wederkoms is) moet ons aanspoor tot selfbeheersing en nugterheid, juis sodat ons kan bid! Die erns van die tye, as ons dit reg verstaan sal ons gedurig op ons knieë bring! En enigiets wat ons aandag aflei van gebed of gebedsversteuring veroorsaak moet ons ten alle koste vermy. Elkeen wat erns maak met die Bybelse lering oor die wederkoms kan uitgeken word, nie aan sy spraaksaamheid oor wederkomsteorieë of spekulasies nie, maar aan sy gebedspassie!

PASOP VIR NOG ‘N FOEFIE

Het ons nie al genoeg gehad van bangmaakstories en wolhaarprofesieë wat op niks uitgeloop het en net die Christendom se naam skade aangedoen het nie? (Dis net jammer dat hulle propageerders en aanhangers so stil-stil van die toneel verdwyn sonder om verskoning te vra vir hulle onsinnuge verkondiging van misleiding)

Onthou jy nog die planete wat in 1982 in lyn met mekaar sou beweeg en groot aardbewings en dergelike katastrofes sou veroorsaak? Niks het gebeur nie. In 1997 was dit weer die Hale-Bop komeet wat ‘n groot angstigheid en afwagting meegebring het. Weer niks. En toe die groot Y2K rekenaarkrisis wat die einde van die wêreld sou inlui in die veelbesproke jaar 2000. Dit sou kwansuis chaos veroorsaak en mense is aangeraai om noodvoorrade bymekaar te maak. Weereens, die jaar 2000 het stil gekom en gegaan, niks snaaks het gebeur nie. Meer onlangs was dit die paniek in 2012 rondom die sogenaamde Maja kalender en ander wederkomsvoorspellings wat alles op niks uitgeloop het. Al wat gebeur is dat ‘n hele paar mense elke slag heelwat geld maak met hulle verkoop van sogenaamde profetiese inligting aan liggelowige en onkundige Christene. Die uitbuiting van dwases!

WEES VERSIGTIG

Die bron van die nuutste bloedmaan bewerings is nie baie suiwer nie en dit moet mens maar klaar ‘n bietjie versigtig maak. Mark Biltz, van El Shaddai Ministries buite Washington in Amerika, wat die ontdekkings oor die bloedmane sou gemaak het se teologie toon ooreenkomste met die dwalinge van die Hebrew Roots Movement. (alhoewel hy ontken dat hy een van hulle is) John Haggee wat ‘n groot propageerder van die bloedmaan fenomeen is, se lering oor spesifiek Israel laat ook ernstige vrae ontstaan.

Daar is ook baie vrae oor spesifieke aspekte rondom die bloedmaan teorie as sodanig. Dis nogal ironies dat slegs een van die vier maansverduisterings sigbaar sal wees in die staat Israel. Dit maak nie regtig sin as dit 'n verskynsel van betekenis vir die land/volk Israel sou wees soos beweer word nie.

Die groot gevaar egter in al hierdie bewerings en die entoesiasme wat dit veroorsaak lê daarin dat dit mense opsweep en opgewonde maak oor allerhande dinge, maar nie juis aanspoor tot heiligheid en hulle opgewonde maak oor die evangelie nie. Wat maak jou werklik opgewonde? Is jy opgewonde waaroor die engele opgewonde is naamlik die evangelie? (1 Petrus 1:12)

LEES DIE BYBEL IN SY GEHEEL EN IN KONTEKS

Sons en maansverduisterings, duisternis as sodanig is tipiese beskrywings om iets van die geweldige intensiteit van God se oordele aan te toon (Vergelyk Eksodus 10:22; Esegiël 32:7-8) Die bekende profesie van Joël val ook in hierdie kategorie. Dit gaan oor Goddelike ingrype in terme van oordeel sowel as verlossing. Joël 2:31 lui: “Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom.” Hierdie profesie van Joel word deur die apostel Petrus aangehaal tydens sy Pinksterdag preek en luister wat sê Petrus. “Maar Petrus het opgestaan met die elf en sy stem verhef en hulle toegespreek: Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde. 
Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre. 
Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: 
En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Handelinge 2:14-21)

Petrus haal die Joel profesie in geheel aan en veronderstel dat dit vervulling gevind het in die gebeure op Pinksterdag. Dit onderstreep die waarheid, erns en eskatologiese betekenis van die gebeurtenis. Die profesie word nêrens aangewend as ‘n model waarvolgens sekere tydsberekening gedoen moet word nie. Ons leef beslis in die LAASTE DAE! Dis die tydperk van Jesus se eerste koms tot by sy wederkoms. Dis die tyd van geleentheid en redding, maar dis ook die tyd van God se oordele, wat reeds aan die gang is, maar ‘n hoogtepunt met die finale verskyning van Jesus sal bereik. Die laaste dae is dus die groot draaipunt van die geskiedenis met betrekking tot die koms van die Koninkryk van God! En dis nou, dis vandag... dis 'n tyd van beslissing!

Hierdie beeld uit die Joël profesie word ook Openbaring 6 aangetref as beskrywing van God se oordele en nie as ‘n berekeningsformule nie. "En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was 'n groot aardbewing; en die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos 'n vyeboom wat deur 'n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos 'n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:12-17) God se oordele koms beslis, wees gewaarsku! Dis die Bybelse waarskuwing aan die goddelose, maar terselfdertyd die troosboodskap aan die verdrukte kinders van God.

Nêrens in die Skrif word ons aangemoedig om die tyd van Jesus se wederkoms te bereken nie, maar wel om altyd gereed te wees!


Vrydag 01 Augustus 2014

GAZA, ISRAEL EN DIE BYBEL

- hoe behoort evangeliese Christene op dié konflik te reageer?

AAN WIE SE KANT?



“Natuurlik moet Christene aan Israel se kant wees, dis mos God se volk en dis mos die land wat Hy aan die nageslag van Abram beloof het.” Tradisioneel is dit seker die meeste Christene se siening, maar is dit Bybels? Om sommer mee te begin, die nageslag van Abram is volgens die Nuwe Testament nie meer etniese Jode nie, maar almal wat in Jesus glo! “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.” (Galasiërs 3:7) Wat God vir die volk Israel gesê het na die bevryding uit Egipte, word nou in die Nuwe Testament direk net so van toepassing gemaak op die kerk. (Vergelyk Eksodus 19:4-6 met 1 Petrus 2:9-10)* As ons konsekwent Bybels wil wees, moet ons sê dat ons broers en susters (ook in die konteks van die Israeli – Palestynse konflik), nie die Jode is nie, maar die Christene! En nou mag dit dalk vir sommige nuus wees – nie alle Palestyne is Moslems nie, daar is ook Christene onder hulle. Weliswaar net so wat 'n duisend in Gaza, maar ongeveer 8% in die Wes Bank en byna 10% van Israel se Arabiese bevolking. Om outomaties altyd aan die staat Israel se kant te wees en als wat hulle doen blindelings goed te praat, hou nie rekening met hierdie feite nie. “Ja, maar die land is tog aan die Israeliete beloof en hulle het die reg om dit te vat! Volgens die beloftes van God gaan die tempel ook herbou word.” Kanaän, moet ons goed verstaan was ‘n tydelike fase in God se heilsopenbaring. God se volk, almal wat nou in Jesus glo sien nou uit na die ewige Kanaän! Die beloofde land kan dus nie sommer net klakloos gelykgestel word met die huidige staat Israel nie! Net so is die tempel van God binne die bedeling van die Nuwe Verbond, nie meer ‘n fisiese gebou nie, maar die kerk van Jesus, waarvan Hyself die hoeksteen is. Die ou tempel is vir altyd verwerp soos ons duidelik leer in Markus 11 waar Jesus dit gedemonstreer het met die vervloeking van die vyeboom. Die nuwe tempel waarna alle nasies gaan stroom volgens die profete, is die kerk, waarin daar redding deur Jesus te vind is vir alle volke! Dit het hoegenaamd niks te doen met ‘n gebou in Jerusalem nie. (Kliek ook op Ou Testamentiese profesie)

Wat moet ons as Christene se houding en boodskap wees in te midde van die skrikwekkende geweld?

Christene moet alle geweld veroordeel. Ja, die terroriste organisasie Hamas se vuurpylaanvalle teen Israel is beslis nie aanvaarbaar nie, maar net so kan Israel se oordrewe geweld teen burgerlikes allermins goedgepraat word. Elke kind van God sal ‘n vredemaker wees. Ook in hierdie konflik moet ons ‘n vredesboodskap laat hoor. Vrede wat slegs te vinde is in Jesus vir beide Jood en Palestyn.

Christene sal ‘n besondere liefde vir die Joodse volk hê, ons Verlosser was immers na die vlees ‘n Jood! Nooit sal Christene anti-Semities mag wees nie! Maar presies hoe moet hierdie liefde gestalte vind? Soos Paulus moet dit ons begeerte wees dat hulle tot redding deur Jesus Christus sal kom. “Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word...” (Romeine 10:1) Ons groot verpligting teenoor die Joodse volk is ‘n sendingplig! 

As Christene het ons egter ook ‘n sendingplig teenoor Moslems. As Christene altyd kant kies teen die Palestyne en selfs Palestynse Christene, hoe gaan ons die Moslems oortuig van God se liefde ook vir hulle? Is dit reg dat ons so blind is vir die nood van Palestyne?

As Christene het ons ‘n liefdesplig teenoor alle Christene. Moet ons nie dalk meer ondersteuning uitspreek en hulp betoon aan Palestynse broers en susters wat swaarkry nie?

Hierdie is maar net ‘n paar voorlopige basiese gedagtes. Maar dalk help dit ons om meer Skriftuurlik te dink oor ‘n baie aktuele saak.

*"Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." (Eksodus 19:4-6)

"Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys." (1 Petrus 2:9-10)

Vir meer inligting, kliek op PALESTYNSE CHRISTENE


 Gaza - PressTV

Vir 'n volledige bespreking van hierdie saak, kliek op UITVERKORE VOLK.





Donderdag 24 Januarie 2013

JOHANNES DIE PADSKRAPERDRYWER?

- hoe om Ou Testamentiese profesie reg te verstaan.

Het Johannes die Doper paaie gebou in Palestina en grondverskuiwingswerk langs die Jordaan behartig? Natuurlik nie! Maar as mens die Ou Testamentiese profesie in Jesaja 40:3,4 in die streng sin van die woord “letterlik” sou opneem sou dit dalk die gevolgtrekking kon wees. Dit sê : “ ‘n Stem van een wat roep : ‘Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God! Elke dal moet opgevul en  elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word.’” Almal sal saamstem dat ons uit ‘n gedeelte soos Lukas 3:3-5 weet dat hierdie profesie verwys na die geestelik voorbereidingswerk wat Johannes die Doper gedoen het. Deur sy bekeringsboodskappe het hy die aanvoringswerk gedoen vir Jesus se bediening. Hierdie Ou Testamentiese profesie is geestelike beeldspraak of ‘n metafoor wat ons in die lig van Johannes en Jesus se bedienings moet verstaan! Om dit tegnies letterlik te verstaan sou belaglik wees en teen die boodskap van die Skrif indruis.

Maar dis presies wat so baie studente van die Ou Testamentiese profesieë doen. Hulle roem hulle daarop dat hulle die Bybel letterlik glo en toepas.  Nou natuurlik is daar baie Bybelse gedeeltes wat ons nie anders as letterlik mag verstaan nie, spesifiek die historiese gedeeltes in die Skrif. Bybelgetroue Christene is heeltemal reg om in die letterlike kruisdood en die histories liggaamlike opstanding van Jesus te glo. Maar aan die anderkant daar is daar wel baie gedeeltes in die Skrif wat ‘n metaforiese verpakking het, soos die voorbeeld van die profesie oor Johannes hierbo duidelik bewys. *

Dis baie duidelik dat ons in ons uitleg van die Ou Testament profesieë erns moet maak met die verstaan van beeldspraak en probeer verstaan wat dit sê oor die evangeliegebeure.

Kom ons kyk na nog ’n voorbeeld. In Jesaja 32:15 word gesê: “Dan word die woestyn ’n vrugteboord en word die vrugteboord so dig dat dit vir ’n bos aangesien word” Iemand wat streng letterlik na hierdie uitspraak kyk, sou kon beweer dat dit ’n voorspelling is van ’n produktiewe vrugtebedryf in die land van Israel. (En sou so ’n uitleg kon ondersteun deur die feit dat die moderne Israeli staat inderdaad ’n groot produsent van vrugte is.) Maar is dit die regte uitleg? Die teks self gee duidelik te kenne dat dit hier gaan oor die oorvloedige werking van die  Heilige Gees. Wie die heilsgeskiedenis ken sal onmiddelik besef dat dit met Pinkster in vervulling gegaan het. Die ontwikkeling van woestyn tot vrugteboord en vrugteboord tot bos vertel maar net vir ons van die oorvloedige werk van die Heilige Gees en die heerlike gevolge daarvan veral nadat Hy aan die kerk geskenk is! Uiteindellik lei dit tot 'n nuwe bedeling van reg en geregtigheid!

 ‘n Paar riglyne om in gedagte te hou vir die verstaan van Ou Testamentiese profesie :

~ Hou rekening met die ontwikkeling van die  groot Bybelse storielyn. Die heilsgeskiedenis soos dit in Jesus Christus ’n hoogtepunt bereik. (Sien LUGFOTO VAN DIE BYBEL op hierdie webjoernaal) Sien raak hoe die temas van land en volk, ’n ontwikkeling deurgaan en groter en dieper betekenis kry vanuit Jesus as die klimaksopenbaring van God.

~ Hou rekening met die figuurlike taal en metaforiese aard van die profesieë. Veral in Bybel boeke soos Sagaria, Daniël en Openbaring word apokaliptiese beelde (perde, koppe, horings ens.) gebruik. Om dit letterlik te verstaan sal net tot nagmerries ly.

~ Hou rekening met die feit dat die profete woordeskat en gebeure wat vir hulle eerste lesers bekend was gebruik om toekomstige gebeure en geestelike warhede te beskryf. Destyds is daar oorlog gemaak met perde. Dit beteken nie dat orals wanneer die profete van perde praat, dat hulle daarmee sê dat toekomstige oorloë ook met perde gevoer sal word nie.

~ Hou rekening met die herhaling van Bybelse temas en gebeure wat aangewend word om toekomstige gebeure te beskryf soos die Skepping, Paradys, Sondvloed, die Uittog (Eksodusgebeure).  Daar kom ‘n nuwe skepping, die paradys word herstel, daar word weer ‘n verwoestende oordeel verwag (hierdie keer deur vuur), Jesus bewerk ‘n nuwe Eksodus ens. Nie net gebeure nie, maar ook historiese persone word gebruik om persone van die toekoms te beskryf. Elia word gebruik as ’n beskrywing vir Johannes die Doper. Josua, Dawid en Serubabel help ons om Jesus se persoon en werk beter te verstaan.

Wat van ‘n toekomstige tempel in Jerusalem?

Ook Ou Testamentiese instellings soos die hoëpriesterskap, offers en die tempel vind in Jesus hulle vervulling. ‘n Toekomstige tempel speel ‘n belangrike rol in die Ou Testamentiese profesieë soos byvoorbeeld in Jesaja 2:2 wat lees: “En aan die einde van die dae sal die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom.” Vind ons nie hier ‘n letterlike voorspelling of vereiste dat mense na die hedendaagse land van Israel moet reis om God te leer ken? Nee, ons leer God alleen ken deur Jesus, wat alle offers, alle priesters en ja die tempel self vervang het!  (Dis so duidelik uit die Johannes evangelie) Nooit weer sal die vrygekooptes deur die Bloed van die Lam behoefte hê aan ‘n fisieke tempel nie – ook nie die sogenaamde vierde tempel waarvan sommige praat nie! Daar skort mos niks met Jesus se werk nie! Watter bydra kan enige tempel nou lewer om ons nader aan God te bring?  Geen toekomstige tempel kan ons ook Jesus se werk beter laat verstaan nie, want dis die werk van die Heilige Gees om ons van die waarheid en genoegsaamheid van Jesus te oortuig! 

Die volle heerlikheid van God is sigbaar in Jesus Christus – ‘n aardse tempel sal dus nooit meer nodig wees nie!

Daarom meld Openbaring 21:22 uitdruklik ten opsigte van die nuwe Jerusalem : “ ‘n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige en die Lam.”

Mag niks ooit ons fokus wegneem van die volle genoegsaamheid van ons Verlosser, Jesus Christus nie!

*Om net te sê dat ons die Skrif "letterlik" moet verstaan is 'n oorvereenvoudiging. Daar is verskeie literatuursoorte in die Bybel (genres) en dit bepaal die wyse van interpretasie. So is dit logies dat ons nie 'n gelykenis letterlik moet verstaan nie (om te wonder wat was die barmhartige Samaritaan se naam of ouderdom is sinneloos), maar daar is wel baie dele wat inderdaad letterlik moet verstaan word omdat dit aanspraak maak om byvoorbeeld ooggetuie verslae  of geskiedskrywing te wees. 





Oppad na Tsintsabis

Vrydag 18 Januarie 2013

TOERTYD NA ISRAEL

- hoe belangrik is ‘n besoek aan Jerusalem?

Ek luister nou die dag in die motor oppad terug van Windhoek na ‘n Kanaal 7 onderhoud met die sanger Hessel van der Walt waarin ‘n komende toer na Israel gepromoveer word. Om na enige land, ook na Israel te toer is sekerlik ‘n groot voorreg, waaruit ‘n mens baie kan leer en verryk kan word.  So as jy in Israel gaan toer, geniet dit! Maar die onderhoud het my tog gehinder.  Die spreker beweer : “Soos elke Moslem een reis na Mekka in sy leeftyd moet onderneem behoort elke Christen ook Jerusalem/Israel te besoek.”* Verder word ‘n toer na Israel ook gekoppel aan die Ou Testamentiese beloftes wat voorspel dat die nasies na Jerusalem sal toestroom.

Kom ons kyk bietjie na ‘n Bybelse perspektief op hierdie twee sake wat aangeroer is:

1.Hoe belangrik is dit vir ‘n Christen om die land Israel te besoek? Dis natuurlik beslis nie verkeerd nie. Die agtergrondskennis wat tydens so besoek opgedoen word, sal waarskynlik help om gedeeltes van die Bybel vir mens op te helder en in perspektief te plaas. ‘n Toer saam met medegelowiges na die land waar Jesus geleef het, sou beslis geestelik verdiepend kon wees. En tog moet ons waak teen die oorbeklemtoning van die rol wat ‘n bepaalde plek, stad of land in ons geloof kan speel. Daar is ‘n goeie rede waarom die Nuwe Testament nêrens Christene oproep om ‘n besoek aan Jerusalem te bring nie.

 In die bedeling van die Nuwe Verbond is die vereiste vir ware aanbidding nie meer ‘n plek  nie, maar ‘n PERSOON, Jesus Christus. 

Hieroor is Johannes 4:23 waar Jesus in gesprek met die Samaritaanse vrou is, baie duidelik. Jesus verklaar plegtig : “Maar daar kom ‘n tyd en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in Gees en waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.” Jesus gee hierdie kommentaar na aanleiding van ‘n diskussie of aanbidding in Jerusalem of by die berg Geresim van die Samaritane moet geskied.

2. Is dit nodig vir die vervulling van profesie dat mense van alle nasies ‘n vliegtuig moet vat na Israel en in Jerusalem gaan aanbid? Dis so belangrik om die Ou Testamentiese profesieë se vervulling in Christus reg te verstaan. Die patrone in Israel se geskiedenis word op ‘n dieper manier herhaal.  Die profete voorspel ‘n nuwe eksodus, maar die verlossing is nou nie meer uit ‘n letterlike Egipte of Babel nie, maar dis nou die verlossing uit die slawerny van sonde. (Jeremia 16:15,16, Jesaja 40:3-4; 41:17-20; 43:1-2 ens.) Die ou Sinaï Verbond maak plek vir ‘n Nuwe Verbond, waar die klem nie val op uiterlike handelinge nie, maar op God wat sy wette in ons harte skrywe. (Jeremia 31:31-34) Daar gaan ‘n nuwe “Dawid” wees wat oor die geredde oorblyfsel van God se volk as Herder-Koning sal regeer. (Jesaja 11:1; Esegiël 34:11-13, 23-25) Dis tog Jesus, wat oor ons regeer deur sy Woord en sy Gees!  Nou wat beteken dit dan as ons lees Sion gaan herstel word en baie volke sal na Jerusalem kom om die wil van God te ken? (Sagaria 8:20-23) Hier is die gebeure aan die begin van Handelinge ontsettend belangrik en insiggewend. Jesus se eie disippels het na sy opstanding ook so ‘n letterlike herstel van ‘n aardse Koninkryk verwag. Hulle vra daarom vir Hom : “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” Jesus se antwoord is uiters veelseggend : “Dis nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Handelinge 1:6-8) Kyk wat gebeur hier. Die Ou Testamentiese beloftes van die nasies wat geseën word en na Jerusalem sal stroom, word juis vervul as Jesus se dissipels die hele wêreld deurgaan (weg van Jerusalem af!) en die evangelie verkondig! Hoe so? Deur die evangelieverkondiging kry gelowiges uit alle nasies deel aan die verlossing en word so deel van God se volk! “Aanbidding in Jerusalem” is nie ‘n erediens of lofprysingsgeleentheid by een of ander toeriste aantreklikheid nie, ware aanbidding vind plaas in Jesus Christus, die ware Tempel van God, in wie die heerlikheid van God woon! (Johannes 1:14) Jesus is gelukkig orals te vinde vir die wat Hom waarlik soek, ook hier in ons eie Namibië en daar waar jy jou nou op hierdie oomblik bevind! Wanneer mense uit alle nasies Jesus as Verlosser aanvaar word die wonderlike profesieë in Sagaria en baie ander Ou Testamentiese gedeeltes vervul – trouens dit gebeur oral oor die wêreld heen, daagliks, ook tussen ons!

Gelukkig hoef ons nie duur vliegtuigkaartjies na Jerusalem te koop om die volle seën te ontvang wat die profete van ouds beloof het nie! (Buitendien dan sou net ryk Westerse Christene in hierdie seën kon deel) Die volle seën van God is te vinde in Jesus Christus en word deur die kragtige vernuwende en oortuigende werk van die Heilige Gees aan ons bevestig en openbaar!

Jesus vereis nie van ons om na Jerusalem te toer nie, Hy roep ons wel om die wêreld te deurkruis met sy evangelie – begin hierdie evangelie sommer vandag nog te verkondig en te leef, daar waar jy is...en waar Hy jou ookal lei!

*Dalk nie presies verbatim nie, maar tog die strekking.

Sondag 24 Junie 2012

PARADYS & PARASIET

- shalom gaan sondesmart en skade vervang!

In Jesaja 11:9 vind ons ‘n sielsverkwikkende profesie waar God beloof :

“Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie...”

Om die heerlike boodskap en belofte van Jesaja 11 ten volle te begryp moet ons eers weer praat oor die paradys.

Hoe het die paradys gelyk? ’n Pragtige tuin, met die lieflikste bome en vrugte, voëls wat sing...maar sulke tonele kan ons tog vandag nog  vind op aarde, terwyl mens baie beslis nie meer die ware  paradys op ons planeet sal  kry nie nie. Die vraag is dan :  Wat is uniek aan die paradys? 


(Op aarde is daar mooi plekke, maar nie meer 'n paradys nie, want orals is sonde, swaarkry siekte en sterflikheid aanwesig.)

In die paradys heers daar ’n toestand van volmaakte vrede soos God dit bedoel het om te wees. Die paradys is die toestand waar alles en almal in die verhouding staan wat God  behaag... volmaakte harmonie tussen God en mens, mens en mens, mens en natuur. Dis die toestand en omgewing waarvan God kan sê : “dit is baie goed” (Gen 1:31) Goed, dit wil sê volmaak in die absolute sin. Dis die toestand van dinge waarin God genot in vind. As ons in Genesis lees,  God het “gerus”, word hiermee die hele doel van die skepping aangedui. Dis God se vryheid, God se rus en vreugde, waartoe die mens ook opgeroep word om in deel te hê. Dis ware vrede, SHALOM - ’n saambestaan van God en mens en die ganse skepping in ’n toestand van geregtigheid, vervulling en verlustiging. ’n Toestand wat net vreugdevolle bewondering by die mens kan wek oor die heerlikheid van sy Skepper. ’n Volmaakte omgewing in perfekte balans -

In die paradys, daar waar shalom is, sal jy nie vrate kry nie, maar ook geen anorexia gevalle nie!  

In moderne konteks, sal paradys ’n plek wees waar besigheidsmanne hulle sal verheug in mekaar se suksesse, waar rondwaai plastieksakke en rommel nooit gesien word nie, waar verdoemende kankerdiagnoses nooit gehoor sal word nie, (en spesiaal vir die Suid-Afrikaners!) die plek waar motoriste en taxibestuurders  mekaar nooit irriteer nie, maar slegs vriendelik groet, en ja, waar diefwering ‘n stuk onbekende tegnologie sal wees...

Weereens, paradys is dinge soos God dit bedoel het om te wees. Paradys is dit wat ons tans nie beleef nie, want dinge rondom ons, ja, ook onsself is nie soos God bedoel het dat dit met wees nie. God het  nie bedoel dat mense in vrees en angs moet leef en hulleself met behulp van pille deur die lewe moet voortsleep nie, God het nie bedoel dat huwelike ‘n nes van jaloesie en ontrou moet word nie, God het nie bedoel dat huisgesinne broeiplekke van geweld en ongelukkigheid moet wees nie, dis nie God se wens  dat die werkplek  spanning, bedrog, uitbuiting, verveling, slawerny of  naywerige kompetisie moet voortbring nie ...so kan mens aangaan.

Wat ons hier in Jesaja 11 kry is niks anders as ’n beskrywing van paradysvrede nie. Die nuwe Eden, die herstelde paradys.

GOD GAAN DIE PARADYS HERSTEL! 

Natuurlik word dit in die taal en terme van destyds se leefwyse beskryf. Uiteraard dink ek nie Vers 6-9 gee vir ons detail inligting oor die fauna op die nuwe aarde nie. (om hieruit af te lei dat daar slange op die nuwe aarde sal wees mis die punt!) Dis ’n konkrete beeldryke beskrywing van ’n toestand van volkome harmonie en vrede.

Kom ons gee aandag aan twee praktiese vrae:
Wat het die paradysvrede oorspronklik verwoes?
Hoe gaan die paradys herstel word?

Wat het die paradysvrede oorspronklik verwoes? Ons ken natuurlik die antwoord : SONDE. En tog weerspieël ons houding teenoor sonde nie ’n werklike besef van die aaklige, sieklike verwoestende aard daarvan nie. (en daarom het ons ook  nie altyd  ’n opregte verlange na verlossing daarvan nie) Om hierdie rede kan dit goed wees as ons net weer ’n bietjie nadink oor die saak van sonde. Sonde kom neer op vandalisme van die paradys. Sonde is skending en inderdaad strafbare skending van God se skepping. Sonde is ’n dodelike parasiet. Sonde is baie algemeen, maar dis abnormaal, dis iets vreemds, dit hoort nie in die skepping nie. Sonde kan nie op sy eie bestaan nie - net soos ’n parasiet of ’n siekte.  Sonde kan nie iets bereik of skep nie - sonde teer bloot op die heerlike skepping van God.  Byvoorbeeld, die sonde van egskeiding kan net bestaan omdat daar iets heerliks is soos die huwelik wat God ingestel het!  Die sonde van diefstal teer op die feit dat ons die gawe van besit gegee is. Sonde kan nie iets positief bou nie, dit breek net af wat mooi is. Sonde is “badness” - maar “badness” sê C.S. Lewis is net  “spoiled goodness. And there must be something good before it can be spoiled”  Hoe dwaas dus om sonde te doen.  ’n Sondige, sonde besmette menslike lewe is ’n karikatuur, ’n verwringing van wat God bedoel het ons moet wees. Sonde is ‘n bosluisplaag wat sy gasheer verinneweer tot die status van ‘n geraamte en uiteindelik die dood.  Dit teer op mense totdat daar net ’n mismaakte skepsel oorbly en uiteindelik lei dit tot die ewige dood as daar nie ’n plan met hierdie parasiet gemaak word nie.

Hoe gaan die paradys herstel word? Wel die profeet maak dit duidelik dat daar Iemand gaan kom wat alles gaan verander en vernuwe.  Weet jy Wie dit is? Ken jy Hom? Net kortliks die volgende feite wat ons hier in Jesaja 11 oor Hom kry : 
1) Sy oorsprong en identiteit.  (Vers 1) Dis ’n spesifieke individu uit die nageslag van Isaï. Dit wil sê iemand uit Dawid se nageslag. Ons weet hierdie persoon het gekom. Hy is die Seun van Dawid, Jesus Christus.
2) Sy toerusting.  (Vers 2,3a) Die Gees van die Here rus op Hom. Van God ontvang Hy dus al die kwaliteite om ’n volmaakte koning te wees. Dit het sigbaar gebeur toe die Heilige Gees soos ‘n duif op Jesus neergedaal het.
3) Die manier waarop Hy sy werk sal doen. Sy werk kan saamgevat word as regverdige regering (Vers 5), ’n  heerskappy van geregtigheid. (Dankie tog - daar kom ‘n einde aan die mag van dwase despote!)  Hy sal reg en geregtigheid laat geskied - hulpeloses word versorg, maar goddeloses word geoordeel. Onreg word aangespreek en reggestel. 

Die paradys word herstel deur koning Jesus, die volmaakte finale Dawid! 

Aan die kruis het Hy verlossing bewerk vir sy mense, maar Hy het juis ook daar die oorwinning behaal oor alle bose magte. Kolossense 2:13-15 Hy ring 'n nuwe bedeling van volmaaktheid totstand.

GELIEFDE, SIEN TOG TWEE DINGE RAAK!
  • Sien sonde vir wat dit is - ‘n afbrekende, negatiewe, verwoestende parasiet.  Sonde is nie al daardie lekker dinge wat ons graag wil doen nie, nee dis ‘n gevaarlike parasiet wat ons uitmergel en laat sterf!  Sonde is iets om gehaat en vermy te word. Dit wek God se toorn! Dis tog  logies. Kan God verdraagsaam en sag wees teenoor die parasiet wat soveel skade aan sy handewerk aanrig? Dis opstand teen God. 'n Opstand met angswekkende gevolge vir mens en skepping. Sonde is  verwoestend vir almal rondom jou - dink hoeveel skade en hartseer het jou sonde al aan jou ouers, broers en susters, familie, mense rondom jou...berokken.. Maar sonde is ook vernietigend vir die beoefenaar daarvan - my koppigheid, my hoogmoed, my selfbejammering, my  afguns, my seksuele losbandigheid, my verkeerde gewoontes, my wraaksug.... verwoes my menseverhoudinge, bederf my geluk, is skadelik vir my  gesondheid...maar die ergste : dit beroof my van gemeenskap met God, dit keer dat ek God se heerlikheid kan geniet, dit maak my  bestaan doelloos....

  • Sien die Verlosser raak. Ons hoop vir paradysvrede moet net op een Persoon (beslis nie Obama of die VN nie) gefokus wees - Jesus, die Koning uit Dawid se nageslag. Die skade van die sondeparasiet is onberekenbaar groot, dis menslik gesproke onherstelbaar erg. Menslike wysheid en filosofie, menslike godsdiens en moraliteit, strafmaatreëls...kan niks vermag nie. Eweneens is toleransie van sonde, ‘n ontkenning of ‘n toesmeerdery daarvan magteloos om die parasiet hok te slaan.  Kyk maar net na al die gesanik en vrugtelose pogings om geweld teen vroue en kinders stop te sit. Al die moeite, praatjies en optogte en plakkate, wat help dit? Niks! Die “takkie” uit die stomp van Isaï is die antwoord. Sy regering, sy en heerskappy wat ware kennis van God bring - dit verander harte en optrede van mense. Die bevrydende evangelie van Jesus moet verkondig  en geglo word. Om na die praktiese voorbeeld terug te keer : dis eers wanneer ‘n man tot bekering kom en homself onderwerp aan die heerskappy van Jesus Christus dat hy sy vrou en kinders anders sal begin behandel...

Ons leef reeds in die herstelfase van die paradys.  Ons beleef Jesaja 11! Jesus het gekom en Hy is nou besig om mense te bevry van die besmetting deur die parasiet.  Ons sonde word nou reeds vergewe, ons word nou reeds bevry van die verslawende mag daarvan. (al val ons nog dikwels) Ons word nou reeds instaatgestel om tekens van die Koninkryk op te rig - goeie werke van vrede, genesing, heling...die doen van reg en geregtigheid aan verdruktes en vernieldes. Ons kan nou reeds vrede beleef met God en met mekaar deur die geloof in Jesus.  Dis ’n praktiese werklikheid en ons kan ons daarin verheug - dis sigbaar en heerlik. Sondaars word uit die modder getrek en nuutgemaak, vyande word met mekaar versoen, die barmhartigheid wat God se kinders aan die ellendiges bewys is ’n heerlike voorreg en ’n duidelike voorsmaak van die heelheid in die Koninkryk ....Sien dit raak, dank Jesus daarvoor, neem deel, verlustig jou daarin!  

Maar ons is  ook realistiese oopkop en oop oë mense. Ons weet ook dat alles wat Jesaja 11 in die vooruitsig stel het, nog nie ’n werklikheid geword nie. Daarom kyk ons ook uit met hoopvolle verwagting na die voleinding,  die finale voltooiing van Jesus se herskeppingswerk.  Saam met die skepping verlang ons na die bevryding van alle sonde en die gevolge daarvan : siekte, ellende, verganklikheid en dood.  (Romeine 8:18-25) Hierdie is ’n blye verwagting, dis ’n vaste hoop en dit laat ons juis met blymoedigheid daagliks in die stryd volhard. Hoe wonderlik om die versekering te hoor : “Niks en niemand sal meer kwaad doen op God  se heilige berg nie, daar sal niks verniel word nie. Geen vandalisme nie!”   Sonde sal vir ewig en altyd van die toneel verdwyn. Geregtigheid (God se volmaakte wil) word die kenmerk van die nuwe bedeling. (2 Petrus 3:13!) Wat ’n heerlike toekoms om na uit te sien. Dit sê vir ons : Ons moenie moed verloor nie!  Ons moenie moed verloor as ons ons eie sonde raaksien en met alle mag daarteen stry nie, as ons die ellende van die wêreld aanskou nie, as ons saam ly - geestelik, sowel as fisies - in hierdie vernielde wêreld nie! 

Daar is hoop : 

Die parasiet gaan ’n uitgestorwe spesie word!

Het jy  die Verlosser uit die nageslag van Isaï al persoonlik vertrou om jou van die parasiet te bevry?

(erkenning aan Cornelius Plantinga, "A Breviary of Sin.")