BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Plaasvervangende sterwe. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Plaasvervangende sterwe. Wys alle plasings

Donderdag 09 Januarie 2020

NOU!

- DIE KRAG VAN VANDAG 



Jesus is nooit laat nie! (Kliek NOOIT LAAT) Hy is presies betyds vir die wat Hom soek, die wat na Hom roep. En tog gaan baie mense verlore. Anders gestel – dit blyk dat sommige die genade by hulle laat verbygaan, dat hulle geen baat vind by die genade nie al is Jesus altyd betyds. Wat is die rede? Waarom gebeur so ‘n vreeslike tragedie? 



Daar is net een duidelike rede. Hulle weier om die versoening te aanvaar wat God deur Jesus bewerk het. Dalk is jy een van hulle? Die meeste mense se verweer is: “Nee, ek weier nie, ek is darem nie so erg nie, ek stel net nog ‘n bietjie uit om die versoening te aanvaar.” Weier of uitstel (al klink laasgenoemde dalk meer ordentlik) – die gevolg is maar dieselfde skrikwekkende uiteinde… ‘n Christuslose en uitsiglose ewigheid! HEL!


Ons gaan kortliks na twee sake kyk wat Paulus in hierdie verband in 2 Korintiërs 5:20-6:2 aanroer. 

1) Die heerlike vaste feit van die versoening en hoe dit gebeur het. 

2) Die dringende oproep om dit vandag te aanvaar. 

1) DIE VASTE FEIT Paulus vertel hier van die wonderlike verlossingswerk van God. God self het hierdie versoening met ’n vyandige sondige mensdom bewerk. God het ‘n nuwe begin gemaak. Trouens, Hy is besig om deur Jesus ‘n nuwe skepping tot stand te bring. As ek aan Jesus behoort is ek deel van hierdie nuwe skepping. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel (skepping); die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (5:17) Paulus is ambassadeur van hierdie besondere boodskap. Nou weet ons uit die res van die brief dat daar teenstand was teen Paulus se boodskap in die gemeente van Korinte. Daar was vals apostels wat twyfel gesaai het oor Paulus se apostelskap en boodskap. Paulus sê : “Kom terug na hierdie boodskap” en “Laat julleself met God versoen”
Hoor die dringende pleitrede : "Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!" (5:20) Hy sê dit hier vir mense wat alreeds deel van die kerk was maar klaarblyklik afvallig of twyfelagtig begin word het. 

Binne die konteks van Paulus se kragtige oproep vind ons ‘n geweldige uitspraak in vers 21. “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.” (NAB) Heel moontlik vind ons hier ‘n tipe van ‘n vroeg Christelike belydenis. Hier kry ons die helder antwoord op vraag : 

Hoe word 'n sondige mens herstel tot guns van God? 

Hoe word ‘n skuldige weer beskou as onskuldig? Hoe word die vuil sondaar deel van God se koninkryk? Hoe werk vergifnis? Kom ons kyk stuk vir stuk na die uitleg.  Die OAV vertaal dit baie letterlik en ons gebruik dit as basis. “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” (OAV) 

"Hom wat geen sonde geken het nie" – dis Jesus. Hy was sonder sonde. Die ware volmaakte Israeliet. (Dink aan die subtiele versoekings in die woestyn wat Hy meesterlik geslaag het.) Die vlekkelose Lam van God! 

God het vir Jesus sonde gemaak vir ons – Dit gaan hier oor die straf op sonde. NAB- “as sondaar behandel” God het Hom gestraf as sondaar wat die dood verdien! Dit steun duidelik op uitsprake van die profeet in Jesaja 53:5,6,10.* In Galasiers 3:13 kry ons ook ‘n soortgelyke uitspraak. “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word” 

Jesus kry die straf en die vloek. Wat kry ons? Wat is die effek op ons wat glo? Ons kry die geregtigheid van God in Hom. Met ander woorde deur ons verbondenheid aan Jesus staan ons in ‘n nuwe verhouding met God. Ons is nou vergewe, vrygespreek. Dit is duidelik dat deur die aksie van God in Jesus daar ‘n nuwe verhouding met God tot stand kom. Al drie hoof terme in die gedeelte : nuwe skepping, versoening, geregtigheid van God saam, beskryf die nuwe verhouding wat tot stand gekom het en radikaal ons verhouding met God en al ons aardse verhoudings beïnvloed. 

Samevattend: 

Dit gaan hier oor ’n ongelooflike wonderbaarlike OMRUILING - die sondelose Christus is as sondaar behandel, Hy word belaai met ons sonde, Hy is veroordeel as sondaar, behandel as ’n vervloekte wetsoortreder. Hy kry die doodstraf. Ons kry die lewe. 

Hy is ons plaasvervanger, Hy het plekke met ons omgeruil. Ons kry die status van sy geregtigheid. As ek in Jesus is staan ek sonder skuld, sonder straf, sonder veroordeling voor God, nie op grond van iets wat ek gedoen het nie, maar van Christus se werk aan die kruis! Daar bestaan geen beter nuus as dit vir helbestemde sondaars nie! Wat maak jy met hierdie nuus? 

2) DIE DRINGENDE OPROEP Paulus waarsku hulle dat hulle nie die genade wat deur Jesus na ons kom deur hulle vingers moet laat glip nie. “As medewerkers van God doen ons ‘n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie.” (6:2) Hy pleit met ander woorde: “Moenie hierdie heerlike verlossing misloop nie! Moenie God se genade in Jesus verwerp nie!” Hy wil as’t ware waarsku : “Die genadeboodskap het dan geen uitwerking op julle nie, pasop dis gevaarlik!” Jy sien, genade moet mos ‘n verskil in jou lewe maak! Ook in ons verhoudings met mekaar. Genade moet mos lei tot groei in heiligheid, liefde vir God, liefde vir mekaar. Genade moet tog die gevolg hê – dat ons begin leef vir die Een wat sy lewe vir ons gegee het. ‘n Lewe vir Hom, nie meer vir geld, aansien en wellus nie! “Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.” (5:14,15) 

Paulus onderstreep die dringendheid met ‘n aanhaling wat kom uit Jesaja 49:8. “Hy sê: "Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp." Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.” (6:2) Met Jesus se koms het die regte tyd, die unieke geleentheid vir redding nou aangebreek! Moenie uitstel nie, moenie laat dit verbygaan nie. Daar sal nooit ‘n beter tyd en geleentheid vir redding wees as nou nie! Moenie nog wag vir ‘n wonderwerk of ‘n teken nie. Die trein het gestop, nou moet jy opklim! Moenie uitstel nie! Hoe lank stel jy al uit om die reddingsgenade van Jesus te aanvaar? Hoe lank haak jy vas by daardie een sonde wat hinder dat jy dankbaar kan wees vir God se genade? Jy besef al vir baie jare daar is gewoontes, gesindhede of verhoudinge in jou lewe wat ‘n gruwel is vir God! Kom vir hulp na Jesus. Kom met erns. Kom met bereidheid om te breek met daardie verkeerde gewoonte of sondige verhouding... Vergeet van alle ander nuwejaarsvoornemens. Hierdie is die een saak bo alles! 

Die tyd van redding is NOU. 

Die verlede is in elk geval onherroeplik verby. Die toekoms, selfs die volgende uur, wat nog te praat van môre is onbekend en buite ons beheer. Jy het net NOU, NOU om die grootste besluit van jou lewe te neem... 

Die veld is groen. Dit het positief gereageer op die genadereën! (Tsintsabis, Januarie 2020)


* Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom. Jesaja 53:5,6

Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy ‘n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik. Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en hy sal die Here ken. My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra. 

Jeasaja 53:10,11

Vrydag 23 Februarie 2018

AANGEDRYF DEUR DIE LIEFDE!

(WAT MOTIVEER JOU?) 


Ons weet ons as kinders van God is veronderstel om voluit vir die Here te leef. Die Here verwag van ons ’n lewe van radikale oorgawe, opoffering en gehoorsaamheid. Vreugdevolle diens. Om voortdurend te kies teen sonde. Om Hom eerste te stel bo materiële dinge, afstand doen van wêreld se skatte, ’n najaging van Koninkryksbelange. Maar hoe kry mens dit reg? Hoe bly mens entoesiasties? So dikwels kla ons – “ek weet ek leef laks, ek doen nie wat ek moet doen nie....my liefde vir die Here is so gebrekkig...” 

Wat inspireer die kind van God? Kom ons vra die vraag vir Paulus. Paulus het die pad van toewyding en entoesiasme gestap. Wat was sy geheim? In 2 Korintiërs 5:9-15  kry ons ’n duidelike aanduiding. Ons vind drie faktore wat Paulus motiveer: 

~Die werklikheid van die oordeel. “Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil. Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.” (9,10) Hier gaan dit oor die feit dat ook die kinders van God se dade beoordeel gaan word. Dit gaan nie hier oor redding nie. Die mense wat op Jesus vertrou het, is mos reeds gered en vrygespreek. Dit gaan hier oor verantwoording doen, dit gaan oor beloning! Wat maak jy met die genade en geleenthede wat vir jou gegee is? Is ons gedurig bewus daarvan dat ons elkeen voor Jesus sal verskyn en rekenskap moet gee? Dit gaan nie oor wat mense van ons sien en wat mense van ons dink nie, maar oor die Here wat die verborge dieptes van ons harte ken.*

Hierdie afspraak bly ons by en motiveer ons, maar daar is nog iets baie groter...

~Die werklikheid van Christus se liefde. “Die liefde van Christus dring ons,...” (14) Dit gaan oor die heerlike ontdekking wat Paulus gemaak het van Jesus se liefde. Ook vir Hom persoonlik. Watter groter motivering as liefde kan daar wees? Ons weet vanuit die alledaagse lewe watter groot aansporing die liefde kan wees...’n persoon los sy taal, geboorteland, eie ambisies, selfs jou familie...ter wille van die een wat vir jou so ontsettend lief is. Die besef dat iemand my werklik liefhet spoor mense aan tot uiterste opofferings. “Die liefde van Christus dring...”- dit gaan hier oor die liefde wat Christus vir ons het. As gevolg van hierdie liefde van Christus vir hom, het Paulus ‘n nuwe visie en doelwit gehad. Radikale toewyding aan God en diens aan ander om vir hulle die evangelie te bring. 

~Insig in die betekenis van Christus se dood. “Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.” (14,15) Die liefde van Christus, die liefde wat Hy vir ons het is ‘n baie duidelike , konkrete liefde. Dit was nie net woorde wat Hy vir ons gesê of ‘n gevoel wat Hy vir ons gehad het nie. Dis ‘n liefde wat sy dood gekos het. Dis ‘n liefde wat gemaak het dat Hy aan die kruis gaan sterf het vir ons. Hierdie sterwe was vir almal. “vir almal” beteken in die plek van almal. Die frase “dit beteken dat almal gesterf het” maak dit baie duidelik. Christus se sterwe was ’n plaasvervangende sterwe. Sy sterwe vir ons beteken dat God dit sien, beskou asof ons self gesterf het en die straf vir ons sonde gekry het. Christus se dood was die dood van almal in die sin dat hy die dood gesterf het wat hulle eintlik moes sterf. Hy het hulle straf gedra. Hy het in hulle plek gesterf. Die doodstraf vir sonde , my sonde is op Jesus voltrek. Jesus het die straf van die hel verduur wat sondaars moes deurgaan. Christus se dood het ons dus bevry van die skuld en straf wat ons na regte moes dra as gevolg van ons sonde. Hierdie “almal” is almal wat die boodskap van versoening deur die geloof in Christus aanvaar. Dis die grootste heerlikste nuus wat daar ooit vir ‘n helverdiende sondaar kan wees! 

Probeer jou indink aan ‘n situasie waar jou lewe aan ‘n draadjie gehang het, waar daar geen hoop was nie... iemand anders waag sy lewe...Om jou te red uit ‘n veldbrand, seestroom... Wat gaan jou reaksie wees? Intense dankbaarheid en liefde teenoor daardie persoon. Nou dink daaraan, Jesus het nie net sy lewe gewaag nie, Hy het inderdaad sy lewe gegee, opgeoffer. 

Vir ons wat bevry is van God se oordeel deur die marteldood van Jesus is daar net een logiese redelike opsie - ons kan nie meer vir onsself leef nie, maar vir Christus. 

 Ja, dis ’n uiters radikale ding, dit maak net sin in die lig van die radikale dood van Christus in my as goddelose se plek. As ek weet ek is van die hel verlos deur Jesus se kruis en opstanding is daar net een keuse wat ek in integriteit kan maak - leef vir die Een wat my verlos het. “Nie meer vir onsself nie, maar vir Hom” .... Natuurlik dis nie so eenvoudig en maklik nie! Om vir myself te leef is die mees natuurlikste ding vir elke mens om te doen. Elke mens op aarde leef outomaties vir homself, al doen hy watse goeie dinge, dis eintlik maar vir homself. Ook diegene wat donasies of borge gee aan al wat organisasie is, doen dit mos maar dikwels vir advertensie of om hulle gewetens te sus, eintlik dus maar vir hulleself. Daarom is dit ’n lewensingrypende besluit om nie meer vir myself te leef nie, dis ’n besluit wat daagliks hernu moet word - dis ’n besluit wat net geneem kan word as ek werklik die implikasie van Jesus se dood en opstanding vir my (en vir ander) besef. 


DIE GEHEIM DUS...

Die geheim van toewyding, die groot motivering is : verstaan die evangelie naamlik die goeie nuus oor die feit en implikasie van Jesus se sterwe aan die kruis, glo die evangelie, absorbeer die evangelie boodskap. Luister na die evangelie, weer en weer, dit wek geloof en dit bring ook toewyding. 

Verstaan ons die evangelie? Geliefde - sien raak die toorn/wraak van ’n heilige God. Sien die ewige hel wat wag vir sondaars. Sien God se regverdige wraak wat vir my en jou wag omdat ons elkeen van sy wette oortree het en sy eer geskend het.....kyk na die film van jou lewe...al die ongehoorsaamheid, al die valsheid, al die selfsug en bedrog, al die geniepsigheid, die rebelsheid....Maar kyk dan op... En sien dan die kruis, daar hang Iemand, stukkend, vol pyn, totaal van God en mens verworpe en verlaat, maar Hy roep uit - “Dit is volbring!” Al die dors, die dorings, die spykers, die géselslae, die Godsverlatenheid en die dood het Hy verduur was omdat Hy vir jou lief is. Ja, God se volle toorn en wraak word op Jesus uitgegiet omdat hy ons sondes dra uit liefde. Aan die kruis is hy as ’n sondaar behandel - Hy is met die dood gestraf sodat ons vrygespreek kan wees. “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.” (21) My aaklige sondes is in Hom gestraf! Klaar en finaal! My sonde kan nie meer teen my gehou word nie, dis regverdiglik gestraf! Hierdie besef is die aansporing om voluit vir Hom en nie meer vir jouself te leef nie! 

Hierdie evangelie sien ons ook hier voor ons oë op die nagmaalstafel en ons gryp dit weer persoonlik vas deur in geloof te eet en te drink! 



*Sien 1 Korintiërs 4:3-5. “Maar vir my is dit nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur ‘n menslike regbank beoordeel word nie. Trouens, ek beoordeel dit self nie eens nie. Daar is ook niks waaroor my gewete my aankla nie, maar dit beteken nog nie dat ek vrygespreek is nie. Dit is die Here wat my beoordeel. Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, ‘n oordeel uitspreek nie. Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom.”